Johannes 21:1-19

5 Mei 2019

3rde Sondag van Pase
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Eers ’n paar opmerkings oor die gedeelte wat ons so pas gehoor het:

Die eerste ding wat ons opmerk is dat hierdie verskyning van die opgestane Jesus by die see van Tiberius in Galilea plaasvind, en nie in en rondom Jerusalem nie.

Met ander woorde, hierdie groep van die dissipels was Galileërs en het teruggekeer na waar hulle oorspronklik vandaan gekom en waar hulle reis met Jesus begin het.

Die tweede ding wat ons opmerk, is dat hierdie vertelling baie dieselfde klink as die ’n verhaal in Lukas 5:4-7 – daar was Jesus langs die see besig om die skares te onderrig. Daar was egter so veel mense dat Jesus in een van die vissermanne se bootjie moes klim sodat hy nie deur die skares vertrap sou word nie. Daardie visserman was Petrus. Na sy preek sê Jesus vir Petrus om sy net uit te gooi en hulle trek ’n massiewe vangs in wat amper die nette breek. Petrus sê toe vir Jesus: “bly weg van my af; ek is ’n sondige mens.” Maar Jesus antwoord: “Moenie bang wees, van nou af sal jy mense vang.” En so begin Petrus se volgelingskap.

Die derde ding waarop ek julle aandag wil let is vers 9: “En toe hulle aan land kom, sien hulle daar ’n koolvuur gereed en vis wat daarop lê, en ook brood.”

Johannes gebruik hier ’n baie spesifieke woord om die vuur te beskryf wat die dissipels daar op die strand gesien het. Die Griekse woord is anthrakian. Dit beteken “vuur wat van kole gemaak is” (m.a.w. dis die tiepe vuur wat Transvalers maak, met charcoal).

Hierdie woord word net hiér en op één ander plek in die Nuwe Testament gebruik. Die ander plek is in Johannes 18. Dit is op die nag waarop Jesus gearresteer is. Terwyl Jesus in die Joodse hof voor die hoëpriester verskyn, staan Petrus in die voorhof van dieselfde gebou. Die slawe en tempelwagte het hulle gestaan en warm maak by ’n koolvuur wat hulle gemaak het, omdat dit koud was. En dan word daar op ’n dramatiese manier vertel hoe Petrus, terwyl hy hom ook om daai koolvuur gestaan en warm maak het, vir Jesus drie maal verloën.

Deur juis na daardie koolvuur langs die see van Galilea te verwys, wil Johannes hê dat ons hierdie verbande tussen Petrus se roeping, sy verloëning van Jesus, en hierdie ontmoeting met die opgestane Here raaksien.

As die klem by Jesus se vorige verskyning op Tomas en sy twyfel geval het, val dit nou op Petrus en sy skaamte.

***

Voordat ons weer teruggaan na die teks toe, wil ek ’n oomblik lank vertoef by hierdie emosie, hierdie gevoel wat ons ‘skaamte’ noem. Dit is nie iets waaroor ons baie praat nie, maar skaamte is ’n kragtige emosie en hoe ons daarmee omgaan kan bepalend wees vir ons lewens – vir hoe ons na onsself kyk en hoe ons in verhouding tree met God en met ander mense.

Iemand wat my gehelp het om iets te verstaan van skaamte en die houvas – die negatiewe effekte wat dit op ’n mens kan hê – is die navorser, Brené Brown. Daar is ’n baie gewilde Ted-talk van haar op YouTube, wat ek sterk aanbeveel.

Brown is ’n maatskaplike werker wat navorsing wou doen oor menslike verbintenis – oor connection. Want dit is uiteindelik waaroor maatskaplike werk en die lewe as sodanig gaan – oor die herstel van verbintenis tussen mense, die versorging van die menslike verhoudings waarsonder ons nie kan bestaan nie.

Sy het egter baie gou op iets afgekom wat hierdie verbintenis tussen mense laat ontrafel. En dit was skaamte. Wat is skaamte?

Volgens haar is skaamte is ten diepste die vrees wat ons het vir die breek van ’n verhouding, die vrees dat ek nie waardig is om in verbintenis met jou te bly nie, die vrees vir verwerping. Dit is om te glo dat daar iets fout is met my wat my onwaardig maak vir liefde en aanvaarding.

Is daar iets in my wat, as mense dít van my sien of weet, sal beteken dat ek nie hulle liefde en aanvaarding waardig is nie?

Almal beleef skaamte – dit is deel van ons menswees – maar niemand praat daaroor nie. En die ironie is, hoe minder jy daaroor praat, hoe meer het jy dit; want skaamte floreer in die donker, in die geheim waar niemand die moed het om daaroor te praat nie.

Om in verbintenis te wees met ander, om verhoudings aan te gaan, vra altyd ’n mate van weerloosheid. Dit vra dat jy jouself blootstel, sodat jy in jou diepste menswees gesien en geken kan word.

Skaamte verhoed dit. Met skaamte kan ons ons vrees vir verwerping so groot raak dat ons nie die moed bymekaar kan skraap om in daardie weerloosheid in te tree nie.

“Ek is nie goed genoeg nie,” “ek is ’n slegte mens, ’n slegte vriend, ’n slegte ouer,” “ek is nie maar genoeg nie, ryk genoeg nie, slim genoeg nie, wit genoeg nie, swart genoeg nie.”

Ons probeer om ons eer te bewaar: ons onttrek, steek weg, ons bou skanse om onsself te beskerm.

***

Dit is waar ons vanoggend vir Petrus bevind. Hy is op ’n vissersboot op die see van Tiberius, besig om met sy skaamte te worstel.

Simon vir wie Jesus die naam Petrus, die rots, gegee het.
Petrus, die visser van mense.
Petrus, die eerste van die dissipels wat Jesus die Seun van God genoem het.
Petrus, wie se skoonmoeder Jesus genees het.
Petrus, wie op die water geloop het.
Petrus wie vir Jesus verheerlik op ’n bergpiek gesien het.
Petrus wie vir Jesus belowe het dat hy hom nooit sal verlaat nie, selfs tot die dood.

Petrus, wie se moed hom, op die nag van Jesus se inhegtenisneming, so tragies in die steek gelaat het, terwyl hy homself by ’n koolvuur staan en warm maak het.

Hy was veronderstel om die perfekte dissipel te wees. Nou lyk dit of hy vir die res van sy lewe van daardie pynlike herinnering gaan moet weghardloop.

“Ek het jou mos saam met Jesus gesien. Jy moet een van sy dissipels wees!”

“Nee, ek is nie! Ek ken nie eers die man nie!”

Dalk verduidelik dit hoekom ons hom op ’n vissersboot op die see van Galilea bevind. Petrus doen wat ons almal geneig is om te doen met ons skaamte. Ons hol, ons trek terug. Ons probeer maak asof daar ’n deel van ons lewens is waar die skaamte nie is nie. Ons hou ons besig met afleidings wat ons kan laat voel asof ons nog waardigheid het.

Petrus gaan terug na sy boot en sy nette toe, na ’n plek en ’n tyd vóórdat Jesus hom geroep het. En vir een lang nag, probeer Petrus om sonder Jesus vis te vang; “maar daardie nag,” sê die teks, “het hulle niks gevang nie.”

En dan breek die dag, God se nuwe dag wat met Jesus se opstanding begin. Die nag was te vergeefs, maar soos die son opkom, is Jesus daar. Op Jesus se bevel gooi hulle die net weer uit en die keer is die vangs is so groot dat die net amper skeer.

In sy skaamte wil Petrus sy naaktheid nog met sy bokleed bedek, maar eintlik is hy besig om te leer dat daar nie ’n plek of ’n tyd in sy storie is waar Jesus nie teenwoordig is nie. Jesus is net so genadig in ons mislukkings as in ons stories van sukses. Sy liefde is net so getrou in ons skaamte as in ons eer.

Skielik bevind Petrus hom weer langs ’n koolvuur en warm word – dié keer is hy nie net koud nie, maar ook honger en papsopnat. By hom sit die Here wat hy drie maal verloën het. Maar Jesus is nie daar vir vergelding nie. Hy het nie gekom om vir Petrus te verneder nie – om hom te shame nie. Óns mag dalk ’n ander se skaamte sien as ’n geleentheid om ons eie eer te bewaar, maar Jesús se agenda is versoening.

***

Daar is baie wat ons by hierdie visbraai tussen Jesus en Petrus kan leer – oor God, maar ook oor ons eie skaamte, en hoe die Here ons van ons skaamte red.

Die eerste ding wat ons opmerk is dat Jesus vir Petrus red deur hom na die plek van sy skaamte toe terug te neem.

Jesus pak nie vir Petrus in watte toe om hom van sy vernedering te beskerm nie. Jesus vermy nie die moeilike gesprek nie. Hy maak nie asof Petrus hom nooit verloën het nie, of asof sy verloëning nie pynlike gevolge gehad het nie. Maar ons sien ook nie dat Jesus vir Petrus preek of hom beskuldig of veroordeel nie.

En hoe doen Jesus dit? Hy voed. Hy voed vir Petrus – eers liggaamlik en dan geestelik.

Jesus skep ’n veilige ruimte – sonder oordeel – waarin Petrus sy vrees vir verwerping kan oortref en na die bron van sy skaamte toe kan terugkeer. Nie om verneder te word nie, maar om genees te word, sodat hy sy waardigheid kan herwin en weer in verbinding kan tree.

Nadat hulle saamgeëet het, vra Jesus, soos wat Petrus vir Jesus drie maal verloën het, drie vrae wat reguit na Petrus se hart toe sny: “Het jy my werklik lief? Meer as hulle? Het jy my werklik lief? Het jy my lief?”

Daar is ’n progressie in die vrae wat Jesus stel. In die eerste vraag, gebruik Jesus die sterk woord vir troue liefde, agape en vra ook of Petrus hom meer lief het as die ander. Daarna gebruik Jesus weer agape, maar sonder om ’n vergelyking te trek. Die derde keer gebruik Jesus die meer gematigde woord vir broederlike liefde, die woord wat Petrus al drie kere in sy antwoord gebruik het, philia.

Daar is al baie gewonder oor die betekenis hiervan, maar een moontlikheid is dat Jesus vir Petrus uitnooi om nie net getrou aan Jesus te wees nie, maar ook aan homself. Jesus wil nie by Petrus hoor hoe lief hy dink hy vir Jesus behoort te hê nie – maar of hý, Simon seun van Johannes, op ’n outentieke manier vir Jesus liefhet?

“Here, u weet alles. U weet dat ek u liefhet.” Uiteindelik is dit wat Jesus weet, wat saak maak. In Jesus se oë is Petrus méér as sy mislukkings, en lê sy waardigheid dieper as sy skaamte en self-haat. So word Petrus, wie altyd die model-dissipel probeer wees het, daarvan verlos. In die aangesig van ’n liefdevolle en genadige God is Petrus nie meer wie hy dink hy moet wees nie, maar wie hy in werklikheid is.

En dan, nadat Jesus Petrus se waardigheid herstel het, roep hy vir Petrus om dieselfde te doen: “Laat my lammers wei. Pas my skape op. Laat my skape wei.” “Volg my!” sê Jesus. Wat Petrus gedink het is die einde van sy verhouding met Jesus, is vir Jesus ’n nuwe begin. Net wanneer ons dink ons paadjie het vir die laaste keer van die Here s’n geskei, roep Jesus ons om hom te volg.

So vêr as wat ons weet het Petrus nooit weer vir Jesus verloën nie. Deur die boek van Handelinge leer ons baie oor hoe Petrus sy dissipelskap voortgesit het en uiteindelik ter wille van die evangelie, soos Jesus, ook doodgemaak is.

Petrus se storie is nie ’n perfekte storie nie. Dis nie asof hy skielik die wêreld se wysheid gehad het, of dat hy nie nog baie gehad het om te leer nie. Maar dalk was sy storie meer eg, en hoewel hy weer skaamte sou beleef het, kon hy, eerder as om daarvan te vlug, sy eer in sy sak steek in die wete dat sy waardigheid vasstaan in di liefdevolle God wat hom twee keer op sy vissersboot kom soek het, en dit nog ’n duisend keer sou doen indien dit nodig was.

***

Ek sluit af met ’n aanhaling van die teoloog, Debbie Thomas:

As I meditate on Peter’s story, I wonder what our failures would feel like if we offered each other the safety Jesus offers his disciple.  The safety to return to the heart of our wrongdoing and despair.  The safety to wrap fresh language around our failure. The safety to experience unconditional love in the midst of our shame.  The safety to try again. 

What would our witness look like if the Church epitomized Jesus’s version of reconciliation?  What would the world be like if Christians were known as the people to run to in times of humiliation?  Can we, like Jesus, become sanctuary for the shamed?

Debbie Thomas, www.journeywithjesus.net

Johannes 20:1-18

21 April 2019

Paasfees
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Vrydag is ons herinner aan wat die kruis in Jesus se wêreld vir mense beteken het. ’n Kruisdood was bedoel vir kriminele, veral politiese kriminele wat ’n bedreiging ingehou het vir die orde.

Dit was ’n manier om iemand stil te maak, om húlle en hulle gedagtenis, van die gesig van die aarde af te vee. Daarom was begrafnisrituele en rou vir gekruisigde persone ook verbied gewees.

En tog was daar ’n sekere Josef van Arimatea, ’n lid van die Joodse raad wat nie saamgestem het met die raad se besluit om Jesus te laat kruisig nie. Volgens Lukas was hy iemand wat uitgesien het na die koninkryk van God. Omdat hy in die geheim ook ’n volgeling van Jesus was, het hy die risiko aanvaar om vir Pilatus na Jesus se liggaam te vra. So het hy vir Jesus begrawe, in ’n graf wat in ’n tuin geleë was.

Nog ’n persoon wat hulle eie lewe in gevaar gestel het om Jesus te eer, was Maria Magdalena, wat vroegoggend op die eerste dag van die week na Jesus se graf toe gegaan om by die graf te rou. Dit was ’n uiters gevaarlike ding om te doen. Daar is aangetekende gevalle waarop persone wat getreur het by die dood van ’n gekruisigde, self ook gekruisig was. Dit is waarskynlik hoekom sy in die donkerte gegaan het, eerder as in die helder daglig.

Maria op die graf af en sien dat die klip voor die graf verwyder is. Sy stel nie eers verder ondersoek in nie; sy neem dadelik aan dat iemand die graf beroof het en Jesus se liggaam daaruit weggeneem het. Daarop gaan roep sy vir Petrus, asook die dissipel wie Jesus baie lief gehad het.

Hoewel, die resies tussen die twee dissipels na die graf toe uitstekende preek-materiaal is, fokus ons vanoggend op die verskyning van Jesus en Maria Magdalena.

Nadat die dissipels self die oop en leë graf met net die linne daarin gesien het, is hulle weer huis toe. Volgens die verteller, het hulle “nog nie die skrif verstaan dat Hy uit die dood moes opstaan nie.”

Ons neem aan dat Maria, nadat sy die dissipels gaan roep het, haar weg weer teruggevind het tot by die graf, want die storie vervolg met haar wat weer buite die graf staan en huil.

Sy is desperaat om Jesus te vind. Sy buk vooroor om in die graf in te kyk en daar sien sy twee engele wat sit waar die liggaam van Jesus gelê het – een waar sy kop was en een waar sy voete was.

“Mevrou,” sê hulle toe vir haar, “waarom huil jy?”

Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggevat en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Nadat sy dit gesê het het sy omgedraai en Hom daar sien staan, maar nie besef dat dit Jesus was nie.

Toe Jesus ook vir haar vra “waarom sy huil, verwar sy hom met die tuinier. “Wie soek jy?” vra hy vir haar. “Meneer,” sê sy vir hom, “as u Hom verwyder het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.”

En dan, vir die eerste keer in die hele Johannes-evangelie spreek Jesus ’n vrou op haar naam aan. Nie meer “mevrou” nie, maar “Maria!” sê hy vir haar.

Rabboeni!” is haar antwoord onmiddellik. Dit was ’n meer intieme vorm van die aanspreekvorm Rabbi.

Met die dat Jesus haar op haar naam roep en sy die stem van haar geliefde leermeester herken, word die raaisel van die leë graf, en waar Jesus is, uiteindelik opgelos.

Dit het my laat dink aan iets wat ek eenkeer oorgekom het. Vertel die storie van vrou wat voor my kar ingehardloop het.

Sy wou dat ’n kar, enige kar wat verbykom, haar teen spoed raak ry om ’n einde aan haar lewe te maak.

Ek het langs die pad gestop en na haar toe gegaan. Ek kon haar uiteindelik uit die pad uitkry, maar sy was nog vasbeslote om in die pad in te hardloop. Sy was in ’n absolute toestand: sy het verskriklik gehuil en heeltemal onsamehangende goed geskreeu. Ek het haar vasgehou, maar sy het in ’n bondeltjie ingetrek. Dit was onmoontlik om haar te kalmeer.

Wat is jou naam? vra ek uiteindelik. Skielik raak sy stil. “Fransie,” sê sy toe. Dit was die eerste dat daar suksesvolle kommunikasie tussen ons plaasgevind het.

Ek roep haar toe op haar naam en vir die eerste keer het sy haar gesig opgelig en kon ons oogkontak gemaak. Ek kan nie onthou wat ek verder vir haar gesê het nie, maar sy het daarna al hoe rustiger geraak. Uiteindelik het ’n vriendin van haar daar opgedaag en kon sy haar vriend terugneem huis toe.

Ek sal nooit vergeet hoe dit met die hoor van haar naam was dat daar ’n kalmte oor haar gekom het. Dit was amper asof die aanhoor van haar naam haar letterlik uit haar hel uitgeroep het.

Op ’n soortgelyke manier, was dit asof Jesus, deur Maria op haar naam te roep, haar uit haar plek van verdriet en verlies uitgeroep het. Toe eers kon sy sien wat reg voor haar staan, maar waarvoor sy in haar hartseer blind was.

Só word Jesus onthul as die goeie herder en Maria as een van sy skape. Ons lees in Johannes 10, hoe die goeie herder die een is wat sy skape op hul naam roep en wie se skape na sy stem luister.

Hierna maak Jesus, uiteindelik, die betekenis van sy opstanding aan Maria bekend. Dit kom in die vorm van ’n verbod en ’n opdrag. Eers die verbod: Maria moenie aan Jesus vashou nie, omdat hy eers na sy Vader toe moet opvaar. En dan kry sy die opdrag: “gaan na my broers en susters en sê vir hulle, ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.’”

Hierin sien ons die hart van wat Jesus se opstanding beteken.

Met die opstanding het die nuwe dag van God se koninkryk aangebreek. Jesus is nou by die Vader, en die Vader is by Jesus. Jesús se God is óns God.

Die opstanding sê vir ons dat die aard van God, die wese van God, die hart van God van nou af bepaal sal word deur God se verhouding met Jesus Christus. En dit is Gód se besluit dat dit so is, want niemand behalwe die Skepper van hemel en aarde kan die dood oorwin nie.

Van nou af is die belangrikste ding wat ons van God weet, die mees bepalende eienskap van God, dit wat vir ons sê wie God ten diepste is, die feit dat God vir Jesus opgewek het. Van nou af is dit onmoontlik om die identiteit van God van die identiteit van Jesus te skei.

Wie is my Vader en jou Vader? Wie is my God en jou God?

Dit is die Een wat geweier het om die politiese en godsdienstige leiers se uitspraak oor Jesus te aanvaar. God verwerp die wêreld se oordeel. Toe die wêreld, toe óns, vir Jesus ‘nee’ gesê het, het God ‘NEE’ gesê vir ons ‘nee’. So is die opstanding God se onweerspreekbare JA vir Jesus. Deur vir Jesus uit die dood uit op te wek, onderskryf God alles wat Jesus gesê en gedoen het.

So sê die opstanding vir ons wie Gód is. Maar dit sê ook vir ons wie Jesús is.

Jesus is nie iets van die verlede nie. Met sy opstanding het God se toekoms aangebreek en daardie toekoms is in Jesus se hande. Jesus lewe en sy passie – dit waaroor hy passievol was, dit waarvoor hy gely en gesterf het – dit het nie tot ’n einde gekom aan die kruis nie. Inteendeel, Jesus se lewe gaan voort. Soos iemand dit stel: “He is alive and at large in the world.”

Dit is hoekom Maria nie aan hom moes vashou nie. Sy kan hom nie meer hê op die ou bekende manier nie. Geloof kyk nie terug na ’n Rabbi wat ’n goeie voorbeeld gestel het nie, dit kyk vorentoe na waar Jesus ons lei, na waar Jesus ’n nuwe weg vir ons baan. Dit beteken dat ons, om getrou te bly aan Jesus, soms moet afskeid neem van ons eie sekerhede; nie net kan vashou aan wat bekend is nie; beskikbaar moet wees om ’n radikaal nuwe wêreld te betree. Moenie aan my vashou nie, sê Jesus, van nou af baan ek vir julle ’n nuwe weg; gaan en bring ander om saam met jou op hierdie nuwe reis te gaan.

So word Maria, die vrou van Magdala, die eerste persoon wat die goeie nuus van Jesus se opstanding verkondig.

Soos ek vroeër genoem het, toe die opgestane Jesus sê, “Maria!” was dit die enigste geval waar Jesus ’n vrou op haar naam aanspreek in die Johannes-evangelie. Hierdie ‘Maria’ was nie getroud gewees nie. In die patriargale wêreld van daai tyd was sy daarom, so te sê, naamloos. Daarom word sy maar genoem na die plek waar sy vandaan kom: Maria Magdalena, Maria van Magdala. Jesus se opstanding was sowel die belangrikste as die mees aanvegbare ding wat die vroeë Christene geglo het, en Jesus kies dat Maria, die vrou van Magdala, die vrou met ’n naam, dat sy die eerste gesant van daardie boodskap moet wees. Sy word die apostel aan die apostels, die een deur wie die dissipels die eerste keer die goeie nuus van die opstanding gehoor het.

Ek het vroeër genoem dat die opstanding vir ons sê wie God is – dat God ten diepste die een is wie vir Jesus opgewek het – en dat dit daarom vir ons sê wie Jesus is – dat Jesus se versoenende, bevrydende, lewegewende werk voortgaan, onbegrens deur die dood, onbegrens deur ons sonde.

In hierdie ontmoeting tussen Jesus en Maria sien ons egter dat die opstanding ook iets besonders vir ons sê oor wie ons nie, oor die mens, oor mense.

Mense maak saak. Elke liewe mens maak vir God saak. Daar is iets wat ononderhandelbaar is aan elke enkele mens. Elke persoon het ’n waardigheid wat gesetel is in die troue liefde van God, wie vir Jesus uit die graf uit geroep het, wie vir Maria op haar naam geroep het.

Ek het ook Vrydag genoem hoe daar volgens oorlewering duisende kruise langs die paaie van Galilea gestaan het in die tyd toe Jesus ’n klein seuntjie was. Jesus sou waarskynlik daardie kruise gesien het.

Die mag van Rome, die mag van die kruis was dat dit mense kon uitwis. Sonder ’n behoorlike begrafnis was die hoop dat so iemand ook uit menseheugenis verwyder kon word. Die atmosfeer waarin mense geleef het, en waarin Jesus grootgeword het, was een waarin die lewe van ’n mens sonder waarde en sonder waardigheid was.

Soos Rowan Williams sê:

“Ancient empires grew and survived by assuming that enormous quantities of human lives were expendable and unimportant; those who fell victim to the system simply disappeared.

But what if they didn’t? Here was ’n message that might well cause alarm: an executed political criminal, instead of disappearing into oblivion, is brought back into the world and his friends are told to speak in his name to his killers, telling them that for their life and health they must trust that he has made peace for them with God.”

In ’n wêreld waarin daar geen waarde geheg was aan die lewe van vrouens, slawe, vreemdelinge en kriminele nie, verkondig die opstanding dat elke lewe waarde het in God se oë. Die God van Jesus is die God wat op ’n besondere manier vashou aan die lewens van elke mens wie se stem stilgemaak is, insluitend persone wie se lewens vermors is, wie se lewens deur geweld kortgeknip is, wie se name en wie se storie uitgewis of vergeet is.

Alhoewel ons nie meer in ’n totalitaristiese samelewing lewe nie, hoef ’n mens net na die 20ste eeu te kyk om talle voorbeelde te sien van hoe maklik van die mees ontwikkelde samelewings die ononderhandelbare waardigheid van mense se lewens kan prysgee.

Daarom moet die opstanding ons waaksaam maak sodat ons ook meer subtiele vorme van uitbuiting en miskenning van mense raak te sien en opstandig te raak daaroor.

Die hoop en die vreugde van Paasfees is dat niemand van ons ooit deur God vergeet word nie, dat ons elkeen op ons naam geroep word om God se toekoms te betree. Ons word geroep om daardie Paasboodskap uit te dra; in woord en in daad. Daartoe word ons elkeen geroep en in staat gestel. Dit kan begin met iets so eenvoudig soos om iemand op hul naam te noem; waar dit sal eindig is dalk te wild vir ons wildste drome.

Johannes 19:16-30 & Psalm 22:1-20

19 April 2019

Goeie Vrydag
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Ons is almal die afgelope geskok gewees om te sien hoe die Notre Dame, die pragtige ou Gotiese Katedraal wat sedert die 13de eeu so onwrikbaar in die hart van Parys staan, afgebrand het.

Gelukkig was daar baie van die katedraal wat nie beskadig was nie. Baie mense was byvoorbeeld opgewonde oor die feit dat die kruis wat by die altaar gestaan het die brand blykbaar skotvry oorleef het.

Vir baie Christene het dit simboliese betekenis gehad omdat die kruis natuurlik vir ons ’n teken is van ons versoening met God; ’n simbool van God se oorwinning oor die dood en oor sonde. Daarom is daar ’n kruis in amper elke plek van Christelike aanbidding.

In die wêreld waarin die Christelike geloof begin het, sou ’n aanbiddingsplek egter die laaste plek gewees het waar jy ’n kruis sou verwag het, of waar jy enigsins ’n kruis wou gesien het.

Al manier waarop ons ’n gevoel kan begin kry van wat die kruis in daai wêreld vir iemand sou gesimboliseer het, is om te verbeel dat jy in ’n kerk instap en voor by die altaar ’n groot afbeelding van ’n elektriese stoel of ’n guillotine gesien het.

Die kruis was ’n teken van lyding, vernedering en skaamte.

Ons voorlesings vanoggend illustreer dit duidelik vir ons.

Die teks uit Johannes laat sien vir ons een lang spektakel waardeer iemand ont-mens word.

Mens kan verstaan waarom die woorde van Psalm 22 by Jesus opgekom het toe hy gestroop van alle waardigheid aan die kruis hang. Dit is ’n tiepe marteling wat jou helemaal verwyder van God en mens laat voel:

“My God, my God, waarom het u my verlaat?”

“Maar ek is ’n wurm en nie ’n mens nie,
bespot deur mense, verag deur die volk.”

Toe Jesus ’n klein seuntjie was, was daar glo ’n opstand in Galilea gewees wat op ’n brutale manier deur die Romeine stilgemaak was. Daar was glo duisende kruise langs die paaie in Galilea. Die kruis was ’n simbool van ’n magtige wêreld-ryk en ’n kragtige herinnering aan almal dat hulle lewens in die hande van die Romeinse ryk was. In daardie dae sou jy gereeld kruise langs die pad of buite ’n dorp of stad gewaar het, maar verseker nie in ’n plek van aanbidding, soos in ’n kerk nie.

Waarom sit ons met as die kern van ons verbeelding?

Hoe kan ons dan, as Christene, so ’n instrument van marteling en vrees en moord gebruik as ’n teken van ons verlossing van die dood en van sonde; ’n simbool van God se nuwe skepping?

Hoe kan ons op ’n sekere Vrydag elke jaar Jesus se kruisdood onthou en daardie dag dan ‘goed’ noem?

Hoekom is vandag Goeie Vrydag?

***

Dit is nie so maklik om ’n antwoord op hierdie vrae te gee nie.

Een rede hoekom dit moeilik is, is omdat Jesus se kruisdood en die Christelike verkondiging daaroor, ten diepste ’n geheimenis bly. Dit bly ’n misterie dat God se oorwinning bereik word deur wat vanuit ’n menslike perspektief net as ’n verskriklike nederlaag gesien kan word.

Om te sê dat die betekenis van die kruis ’n misterie is, is om te sê dat dit meer is as ’n probleem. Om ’n probleem te verstaan – soos, byvoorbeeld, ’n wiskundige probleem – moet ’n mens dit oplos. ’n Misterie kan ’n mens egter nie oplos nie. Om ’n misterie te verstaan moet ’n mens daaraan deelneem, moet ’n mens in die geheimenis intree.

Goeie Vrydag is ’n misterie waaraan ons jaar na jaar deelneem, ’n verhaal waarvan ons deel raak, waarin ons self ook van die hoof karakters moet word. Soos wat ons daardie pad stap, en toelaat dat ons in daardie verhaal opgeneem word, begin die betekenis daarvan stadig maar seker in ons lewens ontvou.

Jaar na jaar kom ons, al hoe nader aan Paasfees, en dan ontdek ons – tot ons ontsteltenis – jaar na jaar, dat ons nie by Sondag se viering kan uitkom, sonder om eers deur die donker nag van Jesus se lyding en die eensaamheid en verlatenheid van die kruis deur te gaan nie.

Dis een rede hoekom dit nie maklik is om te sê hoekom Goeie Vrydag ‘goed’ is nie. Soos enige verhaal, soos enige geheimenis is dit so ryk aan betekenis dat dit moeilik is om dit te verduidelik. Mens moet eenvoudig daaraan deelneem, in navolging van Jesus, in gehoorsaamheid en in geloof.

As jy dus vanoggend hier sit en worstel met die betekenis van Goeie Vrydag . . . as die kruis jou ontstel . . . moenie besorg wees oor jou besorgdheid nie, dit is deel van die reis, dit is deel van die geheimenis. Om daaraan deel te neem, dit is God se belofte, is lewegewend; dit maak mens vry.

Daar is egter ’n tweede rede hoekom dit nie maklik is nie.

Die oudste uitbeelding van Jesus se kruisdood waarvan ons weet is te vinde in Rome, in wat eens ’n keiserlike paleis was. Daar teen ’n muur is daar ’n merkwaardige prent uitgekrap teen ’n muur. Dit is van die 2de eeu na Christus.

’n Esel hang – soos ’n mens – oopgespalk aan ’n kruis, met ’n groot esel-kop eenkant toe gedraai. Skuins voor die gekruisigde esel staan iemand daarna en opkyk. Sy linkerarm en -hand gelig in ’n groet of gebed. Dwarsoor die uitbeelding is in groot letters uitgekrap: Aleksomenos aanbid sy God.

Niemand weet presies wie dit geteken het, of hoekom nie, maar een moontlike verklaring is dat Aleksamenos ’n slaaf was wat in die paleis gewerk het. Aleksamenos was ’n Christen; en hierdie feit het duidelik groot afsku en irritasie by een van sy mede slawe verwek. Genoeg vir hom om die moeite te doen om hierdie spotprent teen die muur uit te krap.

Dirkie Smit som die houding op wat die graffiti-kunstenaar waarskynlik teenoor sy ‘vriend’ Aleksamenos gekoester het:

“Om voor ’n kruis te staan en aanbid is dwaas en aanstootlik. Sulke mense aanbid ’n esel. Want net ’n stomme, redelose, magtelose esel sal hom laat uitklee aan ’n kruis. Nie ’n god nie. Want ’n god – net die naam sê dit tog al – het te make met grootheid, met mag en heerskappy, met prag en praal. In ‘god’ hoor ’n mens tog genot, voorspoed en sukses, welvaart en seën, heerlikheid en eer. Wie voor ’n kruis staan en aanbid, aanbid ’n stomme esel, en is daarom self ook esels. Bespotlik. Gek. Soos Aleksamenos, die dwaas. Kyk net!”

Die tweede rede waarom dit moeilik is om die ‘goeie’ in Goeie Vrydag te sien, het te make met die menslike hart. Dit het te make met my eie hart. Ek wil nie aan ’n gekruisigde god glo nie.

Ja, ek is Aleksamenos, die dwaas wat 2000 jaar later nog voor ’n kruis staan en aanbid, maar iewers in my hart hoor ek ook sy vriend se stem. Ek wil eerder in ’n sterk en groot en voorspoedige god glo. My lewe getuig daarvan. My keuses en prioriteite sê dit, al bely ek iets anders op ‘n Sondag. My aanbidding is halfhartig. My geloof is wankelend. Ek is nie altyd daarvan oortuig dat wat ons hierdie Vrydag herdenk en vier ‘goed’ is nie.

Daarom is Goeie Vrydag, hoewel ons dit ‘goed’ noem, ’n dag van verootmoediging en skuldbelydenis, ’n dag waarop ons met die gekruisigde God worstel en ons harte voor God blootlê.

Dit is deel van wat dit beteken om voor ’n kruis te staan en aanbid. Soos ons vroeër gesing het:

O Liefde, ek aanskou in al u wonde
die vloek van sonde!

U lyding breek my trotse hart en rede;
dit buig my neer, en skep in my u vrede;

Die kruis ontbloot die diepte van ons vaskleef aan mag eerder as liefde, aan welvaart eerder as barmhartigheid, aan sekuriteit eerder as vryheid. Die vrede van die kruis kom eers nadat dit my trotse hart en rede gebreek het. Dan eers begin ek sien hoe die kruis ’n teken is van God se liefde.

***

Hoe is die kruis ’n teken van God se liefde?

Ons het iets hiervan gesien toe ons gisteraand Lukas se weergawe van die kruisiging gelees het. Soos Jesus gekruisig word, sê hy: “Vader, vergewe hulle.”

Ons Johannes-teks gee vir ons nog ’n voorbeeld hiervan. Ons sien hoe Jesus in sy oomblik van verlatenheid, reeds besig is om sy belofte na te kom. Hy het mos belowe dat hy gaan om ’n plek gereed te maak, en hier, waar dit lyk of die dood besig is om te seëvier, kom hy sy belofte steeds na:

“Toe Jesus sy moeder sien, asook die dissipel vir wie Hy lief was wat by haar staan, sê Hy vir sy moeder: “Vrou, kyk, daar is u seun!” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, daar is jou moeder!” En van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.”

Die Jesus wat aan ’n kruis sterf is absoluut konsekwent met die Jesus wat ons leer ken het in die evangelies.

Jesus vertoon vir ons ’n goddelike liefde wat nie deur geweld oorwin kan word nie. Ons doen ons ergste, en selfs dit kan nie vir God afsit nie. Ons verraai, verloën, veroordeel en vermoor die een wat die liefde van God in woord en daad vergestalt; maar daardie liefde hou aan om te doen wat dit nog altyd gedoen het: dit versoen, dit genees, dit bevry, dit vergewe, dit verwelkom.

Soos Jesus in Johannes 12 gesê het, wanneer ek verhoog gaan word, sal ek alle mense na my toe trek. Jesus se kruisiging is ook sy verhoging, sy verheerliking, want daardeur vertoon hy die heerlikheid van God. God se versoenende liefde wat alle mense, selfs in ons vyandigheid, na hom te trek.

So is die kruis ’n simbool van die vryheid van God se liefde. ’n Liefde wat vry is van sonde en vrees en die dood. Hier is ’n God wie se houding teenoor ons nie verander kan word deur wat ons doen nie. As God wil liefhê en vergewe, gaan God dit doen, of ons daarvan hou of nie.

Dit is nie hoe ons is nie. Ons liefde is gebonde aan ’n tiepe emosionele ekonomie waarin ons sê: Ek sal jou vriend wees, as jy my vriend is. As jy my sleg behandel, sal ek jou sleg behandel. Anders as óns liefde, wat gebonde is aan sulke eindelose, dodelike, tit-for-tat siklusse, is God se liefde vry van geweld en vergelding.

Daarom lyk dit, vanuit ’n wêreldse perspektief, na ’n nederlaag. Tog is dit God se oorwinning, want die liefde wyer om te dwing, dit wyer om te oorheers en te manipuleer nie. Dit bly doen wat dit doen, al doen ons ons beste om dit te stil. Dít is die krag van God. Dit is die aantrekkingskrag van God se liefde wat alle mense na Jesus toe trek.

Sy liefde is altyd sterker as ons gruwelikste pogings om dit stil te maak. Ook in ons eie harte. Sy liefde oorstyg my ongeloof, dit oorstyg my twyfel, dit oorstyg my vrees; dit is dieper as my haat, wyer as my selfsug, dit omvou my moedeloosheid, dit hou my vas in my verdriet.