Johannes 20:1-31

8 April 2012 – Paassondag
Prediker: Dr Tiana Bosman
Liturgie | Bulletin

Kliek hier om Johannes 20 te lees

Vrydag het ons saam begrafnis gehou, ter nagedagtenis aan die lewe, lyding en dood van Jesus Christus, die Seun van God. Ons het gehoor dat sy dood reeds genoeg was om ons vry te maak van ons sonde. Maar ons het ook gehoor dat die  vergifnis vandag oortref gaan word met sy deurbraak deur die dood en die belofte van nuwe lewe. Jesus is opgewek uit die dood. God, wat ons straf op Hom laat afkom het, het op die derde dag die Seun uit die graf laat opstaan. Al is dit so dat ons deur die kruis vergifnis van sonde ontvang het, staan of val ons geloof by die opstanding. Daar is baie mense wat glo aan Jesus, ook baie ongelowiges, wat glo dat Hy geleef het, dat Hy ‘n besonderse persoon was, selfs ‘n groot profeet, dat hy gekruisig is…maar dis hoe ver hulle bereid is om te gaan. Wat die Christelike geloof uniek maak is dat ons verder glo in die ongelooflike gebeurtenis van die opstanding. Glo ons dit regtig? Daar is selfs predikante wat te verleë is om oor hierdie aspek van die evangelie te preek…want dit kan tog nie régtig waar wees nie, kan dit?

Ons weet van die opgrawings in Jerusalem en omgewing en die ontdekkings wat van tyd tot tyd daar gemaak word. So het ‘n groep argeloë eendag op ‘n oeroue graf afgekom. Tussen die beendere was daar ‘n kennisgewing gevind, op hout uitgebrand: Hier lê Jesus van Nasaret. Twee geleerde teoloë kom toe hiervan te hore. “Ek het dit mos altyd vermoed – Jesus het nooit opgestaan nie,” sê die een. Waarop die ander opmerk: “Wat, wil jy vir my sê die man het werklik gelééf?”

Al hoe meer mense vind dit moelik om veral ook in die opstanding van Jesus te glo. Om alles te kroon het niemand Jesus ooit síén opstaan nie. Ons kan ons alleen maar verlaat op die getuienisse van ‘n klompie mense aan wie Hy na sy opstanding verskyn het.

Skriflesing: Johannes 20
Ek kry soms die indruk dat ons lewens al meer resepmatig word. Vir letterlik alles onder die son is daar deesdae ‘n resep. Vir die gewone bak en brou in die kombuis byvoorbeeld. So is dit ook met ander dinge in die lewe. Die boeke wat meestal op die rak van Top 10 verkopers staan is boeke wat “resepte”bied vir ‘n suksesvolle lewe, bv: The seven habits of highly effective people/leaders/christians/churches! So asof alle kerke en geloofsgroepe en omgewings onder dieselfde kam geskeer kan word en gemeentes net, waar hulle hulle ookal bevind hierdie 7 stappe moet volg sodat hulle ‘n “suksesvolle”(!) kerk of gemeente kan wees. Op Kweekskool leer ons ook so paar resepte. Onder andere die baie belangrike resep vir ‘n goeie preek. Die resep se naam is VDM, wat beteken “Voor Donderdag Middag”. Dit is wanneer Sondag se preek klaar geskryf moet wees. En dan natuurlik die evangelisasie kursusse wat resepmatig voorskryf watter Bybelversies gelees en watter gebed gebid (of afgelees) moet word ten einde jou hart vir die Here te gee en verseker te wees van ‘n plek in die ewige lewe.

Die interessante is dat Jesus self Hom juis nie te veel aan resepte gesteur het nie. Hy is dikwels deur die Fariseërs en die Skrifgeleerdes oor die kole gehaal omdat Hy godsdientige wette oortree het, omdat hy die destydse reëls en regulasies verontagsaam het en nie binne die voorskrifte, die resepte, van ‘n goeie godsdientige lewe geleer en opgetree het nie. Die vraag onststaan nou: Wat het Jesus se opstanding en ons geloof daarin met resepte te doen? Absoluut niks.

Dis Sondagoggend vroeg en Maria Magdalena kom by die graf aan en sien dat die klip weggerol is. Oortuig daarvan dat iemand sy liggaam gesteel het hardloop sy ontsteld na Petrus en Johannes toe om die nuus aan hulle oor te dra. Die twee manne hardloop na die graf om dit met hulle eie oë te sien. Johannes kom eerste by oop graf aan, buk vooroor en die sien die doeke daar lê, maar gaan nie in nie. Toe Petrus daar aankom het hy ingegaan en ook die doeke sien lê – die doek waarin Jesus se liggaam was en die een wat om sy kop was om sy kakebeen vas te hou. Díé doek was opgerol en eenkant neergesit. Vir Petrus gebeur niks meer as dat hy sien nie – hy neem die situasie in die graf waar. Hierna kom Johannes in, en hy sien presies dieselfde as wat Petrus sien, maar die gevolg is dat hy besef dat Jesus opgestaan het – hy glo! Johannes, die een vir wie Jesus baie lief was, kom tot geloof sonder dat hy Jesus fisies sien. Die leë graf en die opgevoude doeke is vir hom duidelike tekens dat iets bo-natuurliks hier gebeur het – mens wil amper byvoeg “nes hy verwag het”. Hy besef dat daar nie vuilspel aan die gang is nie. Indien mense die liggaam wou steel, sou hulle nie die doeke afgehaal en so netjies neergesit het nie.

Die ironie in die verhaal verdiep wanneer Petrus en Johannes dan huistoegaan en Maria daar buite die graf bly staan en huil. Eerste praat die engele met haar en toe verskyn Jesus self. Sy síén Hom voor haar staan, maar sy herken Hom nie. Sy dink Hy is die tuinier wat moontlik die liggaam weggevat het. Maar dan kom sy tot geloof – ironies genoeg nie wanneer sy vir Jesus sien nie, maar wanneer sy Hom haar náám hoor sê! En Jesus stuur haar om vir die ander te gaan vertel, te gaan getuig daaroor dat sy Hom gesien het.
Ons weet nie wat die dissipels se reaksie was op Maria se getuienis nie, maar daardie Sondagaand was hulle bymekaar, agter slot en grendel omdat hulle bang was vir die Joodse leiers. En wat gebeur? Die volgende oomblik staan Jesus tussen hulle: “Vrede vir julle!” En Hy wys vir hulle sy hande en sy sy. Die dissipels was baie bly toe hulle Hom sien, en hulle het geglo.

Van die twaalf was net Tomas nie daar nie. Alhoewel die ander dissipels vir hom vertel het dat hulle die Here gesien het, het hy krities opgemerk: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie”. Agt dae later was die dissipels weer bymekaar, die keer was Tomas by hulle, en nog ‘n maal verskyn Jesus tussen hulle: “Vrede vir julle!” En Jesus nooi vir Tomas om nader te kom, sy vinger te bring en te kyk na sy hande, en met sy hand in sy sy te steek, en dan nie langer ongelowig te wees nie, maar gelowig. Of Tomas toe werklik fisies aan Jesus se wonde gevat het weet ons nie. Maar hy sou kon. Volgens die teks lyk dit egter asof hy, bloot op die aanskoue van Jesus en die uitnodiging om te kom kyk en te voel, tot geloof gekom het. En die mees kritiese een van die groep spreek heel eerste die oudste belydenis van die kerk aangaande die opgestane Jesus uit: “My Here en my God!”

Terug by resepte. Die manier waarop Jesus mense ontmoet na sy opstanding en waarop hulle tot geloof kom, is baie uiteenlopend. Ons sien in hierdie verhaal dat daar juis nie een reseppie is wat vir almal werk nie. Jesus doen moeite om die getuienis van sy opstanding tuis te bring by die dissipels en die kring ná aan Hom. Hy buig agteroor om mense te ontmoet daar waar dit vir hulle moontlik sal wees om tot geloof te kom. Vir Johannes was die teken van die opgevoude doeke genoeg om te glo. Hy hoef Jesus nie fisies te gesien het nie. Maria het wel gesien, maar sy moes eers hoor hoedat Jesus haar naam noem. Aan die res van die dissipels het Hy verskyn en Hy het sy wonde vir hulle gewys. Tomas wou nie net sien nie, vir hom moes dit moontlik wees om ook te vat aan die wonde.

Die opstanding van Christus is die grootste wonderwerk wat nog plaasgevind het. Dit is ook die gebeurtenis in die geskiedenis van die Christendom waaraan ons geloof hang. Rasioneel is dit onverklaarbaar. Ons kan dit nie deur logiese of wetenskaplike argumente verduidelik nie. Dit is ook nie wat die Here van ons vra nie. In Johannes 20 moedig Hy bloot diegene wat tot geloof in Hom kom aan om te getuig daarvan dat Hy opgestaan het, dat Hy leef. Ons, as mense wat glo in die Opgestane Here, word nie geroep om mense te probeer óórtuig dat die opstanding waar is nie. Indien ons dit doen sal ons onsself vasloop. Ons moet bloot maar getuig daarvan, vertel – ja, van ons eie geloofsverhale en ontmoetings met die Here, maar belangriker nog, van die verhale wat in die Woord geskryf staan. Verhale wat nie elkeen vir een en almal gaan aangryp nie, maar genoeg verhale dat daar vir ons elkeen ‘n plekkie te vinde is. In Jesus se omgang met mense is daar plek vir álmal.

Ons moet daarom nie mekaar se geloofservaringe, mekaar se getuienisse afskiet of beoordeel nie. Is daar vandag nog mense wat die Here fisies sien of hoor of Hom in ‘n droom ontmoet wat so goed soos daglig voel? Ja, daar is, en waarom nie? As God vir Jesus uit die dood kon laat opstaan is daar mos niks wat Hom verhoed om vandag steeds mense te ontmoet soos direk na sy opstanding nie. Gebeur dit met elkeen van ons so? Nee. Dit het ook nie destyds nie. Immers, die een wat heel eerste tot geloof gekom het, die dissipel vir wie Jesus baie lief was, het geglo sonder dat hy Hom gesien het. Vir hom was die teken van die doeke genoeg. En nadat Tomas vir Jesus sien en mag vat en glo, dan sê Jesus: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” Ook die wat Hom nie sien nie het alles en nog meer wat nodig is om tot geloof te kom – in vs 30-31 lees ons dat ons die Woord het wat vol is van uiteenlopende(!) getuienisse. Verder het ons ook die Gees wat ons oortuig. En ons het die tekens van brood en wyn.

Ons almal se getuienisse verskil. Het ek ‘n dag en datum toe ek tot geloof gekom het? Nee. Het ek ‘n persoonlike Bybelversie? Nee. Het ek die Here gesien? Nog ‘n maal: nee. Het ek hard en duidelik gehoor hoedat Hy my naam noem? Ook nie. Maar glo ek in die Opgestane Here? Ja! Kan ek my geloof verklaar? Meestal nie. Dis bokant my begrip en verstand. Kan ek daarsonder leef, siende dat daar so min fisiese “bewyse” is om aan vas te hou? Nee, ek kan nie. My lewe hang daaraan. Dalk het ek iewers ‘n teken op my pad gesien – iets so eenvoudig soos ‘n opgerolde doek, maar daai teken getuig dat Jesus lewe! Eintlik is daar vir die oplettende geloofsoog baie tekens van sy opstanding, sy leiding, sy versorging en sy seën in ons lewens. En deur die krag van sy opstanding beleef ons reeds ons eie opstandinkies in hierdie lewe – ons staan op uit ons gebroke verhoudinge, uit ons ernstige siektes, uit ons vasgeloopte situasies…

Jesus leef en ons met Hom. Mag elkeen van ons dit moontlik vind om Hom te sien, of te hoor, of te voel, of sommer net plein te glo al sien en hoor en voel ons nie so duidelik nie. En mag ons dit moontlik vind om nederig te getuig van ons eie pad saam met Hom, sonder om ander te probeer oortuig; en om nooit ons eie ervaring normatief te maak en as dié resep voor te hou nie, maar om te onthou dat die Here mense ontmoet daar waar hulle is, dat Hy geduldig is en moeite doen om ons tot geloof te bring, dat Hy agteroorbuig vir elkeen van ons, en dat Hy in hierdie proses niemand wat Hom soek agterweë laat nie.

Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur  Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.