Psalm 23

29 April 2012 – 4de Sondag in Paastyd
Prediker: Bianca Botha

Kliek hier om Psalm 23 te lees

Meeste van ons, indien nie almal wat hier sit nie, ken Psalm 23 baie goed. Dit is daardie teks wat baie van ons op ‘n jong ouderdom al uit ons koppe kon opsê en ek is seker dat baie van julle dalk een of ander persoonlike ervaring daaraan kan koppel. Baie mense ken die teks ook as die begrafnis-teks. ‘n Ds het op ‘n keer vertel dat hy by ‘n begrafnis oor dié teks gepreek het en dat die meerderheid mense daar nie die Onse Vader geken het nie, maar wel gedeeltes van dié Psalm kon saam sê.
Toe ek, met ander woorde, besef dat dit vandag se leesrooster teks is, was ek nie heeltemal so opgewonde soos wat ‘n mens sou verwag nie, want wat sê mens nou oor die bekendste Psalm in die Bybel, wat almal nie reeds gehoor het nie.
Tog, is dit ‘n uiters gepaste teks vanoggend, nie net omdat dit Herder-Sondag is nie, maar ook in die lig van klein Mark se doop wat hier plaasgevind het. Ek wil julle dus uitnooi om vanoggend opnuut saam met my na Psalm 23 te kyk en ek bid dat dié teks elkeen van julle sal verras.

Lees teks.

Hierdie Psalm, met sy ryk beelde en metafore, is in die eerste plek ‘n uitdrukking en beskrywing van die verhouding wat daar bestaan tussen God en die digter – wat heel moontlik Dawid was. Dit is beide ‘n belydenis van geloof, waarin die karakter van God beskryf word, én ‘n getuienis van die digter se ervaring van sy verhouding met God en die effek daarvan op sy lewe. Daardie verhouding tussen God en mens waaraan die doop ons vanoggend ook weer kom herinner het. Die twee metafore wat gebruik word om hierdie verhouding uit te beeld is die verhoudinge tussen ‘n Herder en sy skaap/skape en ‘n Gasheer en sy eregas.

Reeds in die eerste vers word daar ‘n bepaalde atmosfeer geskep wat in die hele Psalm teenwoordig is. “Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie.” In daardie eerste vers word die vertrouensverhouding tussen God en die digter reeds uitgedruk en die gebruik van die voornaamwoord “my,” die enkelvoud, wys op die persoonlike en intieme aard van daardie verhouding. Die Here is die God van Israel, van sy volk, maar Hy is ook die God van die individu: van Dawid en van Bianca en van Mark. Dit spreek dus ook tot die verhouding waarbinne God met elkeen van ons staan, as ons Herder.

Maar om die herder-beeld werklik te verstaan soos dit hier gebruik word, moet ons verstaan wie en wat ‘n herder was in die plek en tyd waarbinne die gedig geskryf is. Hoewel daar selfs enkele konings in die Bybel is wat as herders beskryf is, is ‘n herder die absolute teenoorgestelde van ‘n koninklike. Nog minder was dit iets soortgelyk aan ‘n ryk skaapboer daar iewers in die Karoo. Om ‘n herder te wees was ‘n harde en gevaarlike taak waarvoor niemand eer ontvang het nie. Dit was gewoonlik die jongste seun se taak of dié van ‘n slaaf, om die skape op te pas. Omdat hulle vir lang tye in die veld was en saam met hul kudde geslaap het, om diewe of roofdiere af te weer, kon hulle ook nie aan die gebruiklike reinigingsrituele deelneem nie en was hulle tot ‘n baie groot mate die uitgeworpenes in die samelewing. Om ‘n herder te wees was alles behalwe ‘n “glamorous” beroep. Die herder se eerste en enigste prioriteit was sy kudde en om te sorg dat hulle veilig en gevoed is, dat hulle niks kortkom nie.

Hierdieie woorde, “ek kom niks kort nie,” word dikwels verstaan as ‘n verwysing na die oorvloedige luuksheid van die Here se voorsiening. Dit, tesame met die “feesmaal” en beker wat oorloop word baie maklik  gesien as ‘n bevestiging van die feit dat God aan ons alles sal gee wat ons hart begeer: daardie nuwe kar/televisie, ‘n vakansiehuis erens langs die see… ons kan baie voorbeelde opnoem van dinge wat ons graag wil hê. Maar is dit werklik wat hier bedoel word? Die herder maak seker dat sy skape niks kortkom nie, dat daar aan hulle behoeftes voorsien word. Maar wat is daardie behoeftes? Water, weiding, die regte pad…

Die situasie waarbinne die gedig geskryf word blyk ook nie een van oorvloed te wees nie. As ons lees van donker dieptes en teënstanders, en daarmeesaam die roofdiere en ander gevare in die veld in ag neem, is dit eintlik die teenoorgestelde. Wat die digter dus hier sê is nie dat hy alles sal hê wat sy hart begeer en in luuksheid sal leef nie, maar dat hy te midde van sy omstandighede seker is van die Here se helpende en sorgende teenwordigheid; dat hy op grond van die verhouding tussen Hom en God seker is daarvan dat daar aan sy basiese behoeftes voorsien sal word.

Die Psalm probeer dus ook nie die idee skep dat daar altyd net groen weivelde sal wees en waters waar vrede is nie. Nee. Want in hierdie wêreld is daar ook vele donker dieptes. Plekke of situasies waar onheil wag. Die donker dieptes (of te wel dal van doodskaduwee) is waarskynlik ‘n beskrywing van die diep klowe in die tipiese Palestynse berglandskap, waardeur herders soms met hul skape moes deurgaan, en waar diewe, bendes of roofdiere dikwels gewag het. Dit is amper asof die digter in hierdie vers sy vertroue in God wil bevestig. Skielik beskryf hy nie meer die karakter van God nie, maar spreek hy Hom direk aan: “want U is by my.” En waar ons dan lees “in U hande is ek veilig” staan daar letterlik: “U stok en staf vetroos my” wat ‘n verwysing is na die herder se beskerming – dmv die stok – en sy leiding – dmv die staf.

Uit sy ervaringe en met sterk verwysings na God se reddingsdade in die verlede – toe Hy die volk met die Eksodus deur die Woestyn gelei het – getuig die digter dus nie dat dit altyd sal goed gaan nie, maar dat God vir hom (en vir ons) sal beskerm en lei ook wanneer dit nie goed gaan nie, wanneer ons onsself in die duisternis bevind. En tot ‘n groot mate is dit wat God ook met die doop vir ons kom sê: dat Hy ons sal lei en beskerm; dat Hy altyd teenwoordig sal wees en ons soos ‘n Herder op sy skouers sal dra as dit nodig is.

Die verhouding tussen die skaapwagter en sy kudde is egter nie eensydig nie. Dit is bekend dat herders in die Bybelse tyd nie hul kudde van agter af aangejaag het nie, maar dat hulle vooruit geloop het om seker te maak dat daar geen gevare is nie, en dat die kudde hulle agterna gevolg het. As die kudde dan nie die herder volg nie is die hele oefening mos nutteloos, en om dit te kon doen moes hulle hul herder se roepstem ken. Verskillende herders se skape sou dikwels in een kraal slaap, of by een put water drink en dan deurmekaar raak. Dié gedagte sou my beheer-obsessiewe brein heeltemal omkrap, maar dit het die skaapwagters nie veel gepla nie. Hulle het geweet, as hulle net ‘n entjie daarvandaan sou gaan en hul kudde roep, al hul skape na hulle toe aangehardloop sou kom. Dis hoe goed hul hulle herder se stem geken het.

Op dieselfde manier is dit belanglik dat ons binne ons persoonlike, individuele verhouding met God, asook in ons kollektiewe verhouding met Hom, as geloofsgemeenskap, sy roepstem sal ken. Dat ons instaat sal wees om sy wil vir onsself en vir die gemeente te onderskei; en dat ons Hom sal volg, waarheen ook al Hy ons roep. Tog beteken dit nie dat wanneer ons van sy paaie afdwaal, ons nooit uit die dal van doodskaduwee sal uitkom of die groen weivelde sal bereik nie. Die skaapwagter los (gelukkig) nie ‘n enkele skaap wat afdwaal agter nie.

Op grond van die verbond, van die belofte wat vanoggend hier bevestig is met Mark se doop, weet ons dat God, soos die herder, ons keer op keer weer sal kom haal en homself nooit van ons losmaak nie. Ook in die lig van die Paastyd, en die Kruisdood en Opstanding van Christus, wat ons onlangs gevier het, weet ons
dat ons, te danke aan God se groot genade en liefde vir ons, nie in die duisternis sal agterbly nie.

Jesus gebruik dan ook die metafoor van ‘n herder en sy kudde, wanneer hy Homself in Johannes 10 as die Goeie Herder beskryf. Daar lees ons…

Lees Joh 10:11-18

Deur sy kruisdood en opstanding is dit vir ons moontlik om deel te word, en vir ewig deel te wees, van Sy kudde.

En juis omdat ons skape is wat afdwaal, omdat ons dit nie eintlik verdien om deel van hierdie kudde te wees nie, maar (dankie tog) ‘n Goeie Herder het, kan ons by ‘n feesmaal aansit. In vers 5 van Psalm 23 verander die metafoor van die herder na dié van ‘n gasheer wat die digter soos ‘n eregas ontvang. In die teenwoordigheid van sy teenstanders word die digter onthaal as ‘n eregas en word hy volgens die gebruik van daardie tyd versorg met olyf olie voordat hy by die tafel aansit. Hierdie handeling sou die gas welkom laat voel en hul vel, wat deur die skroeiende woestyn son uitgedroog is, versorg. Volgens die tradisie van die tyd was dit ook die gasheer se plig om sy gaste se veiligheid te verseker en hulle teen enige moontlike gevare te beskerm. Weereens is dit nie die geval dat alles maanskyn en rose (oftewel groenweivelde) is nie, maar ten spyte van die teenwoordigheid van sy teenstanders weet die digter dat hy, in die teenwoordigheid van sy gasheer, veilig is.

In die lig van Johannes 10 en Jesus Christus se kruisdood en opstanding, word hierdie feesmaal dan ook ‘n dankseggingsmaaltyd. Ten spyte van die feit dat ons almal soos skape is wat afdwaal van die pad waarop die Herder ons lei, en dus nie die goedheid en guns wat ons ontvang verdien nie, is ons steeds die eregaste by die feesmaal. Ons weet dat dit sonder die Goeie Herder nie vir ons moontlik sou wees om die dal van doodskaduwee te oorleef nie of om uit te kom by waters waar daae vrede is nie. Die verhouding tussen God en mens, waarvan hierdie Psalm so poëties getuig, word versterk deur dit wat Christus aan die kruis vir ons kom doen het. Sonder Hom sou daardie verhouding, weens ons onvermoë om op die regte paaie te bly, nie kon voortbestaan nie. En daarom is ons dankbaar; daarom kan ons waarlik feesvier in hierdie tyd; en daarom kan ons die tipe vrede ervaar wat in Psalm 23 geskets word.

Die enigste manier waarop ons dan werklik kan reageer op die genade en barmhartigheid wat God aan ons bewys het, en steeds bewys deur sy leiding, beskerming en teenwoordigheid in ons lewens, is om Hom in dankbaarheid te aanbid. Hierdie reaksie van aanbidding sien ons ook in die Psalm wanneer die digter verklaar dat hy “in die huis van die Here (sal) bly tot in lengte van dae;” dat hy in die teenwoordigheid van die Here sal leef.

En die doop is presies dit. ‘n Bevestiging en belofte dat Mark, en ook elkeen van ons, ons lewe lank in die teenwoordigheid van die Here sal leef. Dat ons, soos die digter, binne ‘n bepaalde verhouding met God staan – een wat gekenmerk word deur sy liefde, sorg, beskerming, leiding en getrouheid en deur die feit dat ons antwoord op Sy roepstem.

‘n Rede om fees te vier as daar ooit een was!

Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur Bianca Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.