Johannes 15:1-8

6 Mei 2012 – Paastyd
Prediker: Dr Tiana Bosman
Liturgie | Bulletin

Kliek hier om Johannes 15:1-8 te lees

Agtergrond
Johannes 15 vorm deel van Jesus se afskeidsgesprek. Hy praat hier van die identiteit en die wese van die kerk na sy hemelvaart, en oor die vraag na wie ware dissipels van Hom is, en wie nie.

Lees Joh 15: 1- 8 (tot 17)

Boodskap
Daar word vertel hoedat Alexander die Grote, koning van Griekeland, oraloor bekend en gevrees was as ‘n baie dapper soldaat. Anders as ander veggeneraals het hy die gewoonte gehad om nie net maar vanuit sy veilige posisie bevele te skree nie, maar hy het self in die hitte van die stryd getree en geveg. Dikwels het hierdie brawe optrede van hom sy leërmag aangespoor om te oorwin, selfs al het die situasie droewig gelyk.
Alexander het ook hoë eise aan sy manskappe gestel. Nes hy moes hulle vreesloos teenoor hul vyande optree. Dapperheid was hul grootste deug en lafhartigheid kon die doodstraf meebring.
Op ‘n dag, na een van sy groot veldslaë het sy offisiere ‘n jong soldaat voor hom gebring om gestraf te word. Want hierdie soldaat het, ten aanskoue van die gevaar, bang geword en weggehardloop. Alexander sit vorstelik en streng op sy stoel, arms gevou. Die soldaat bewe uit vrees. Alexander sien toe dat dié soldaat eintlik besonder jonk is, nog nie werklik ‘n man nie maar bloot maar ‘n opgeskote seun, en sy hart vermurwe so bietjie, hy leun vooroor en hy vra vriendelik: “Wat is jou naam, my seun?”
Die seun staan koponderstebo, baie skaam en mompel iets.
“Ek kon nie hoor wat jy sê nie. Praat duideliker. Wat is jou naam?”
Die seun kyk op, sluk-sluk, en antwoord toe: “Alexander, my heer.”
By die aanhoor hiervan verstar Alexander die Grote en sy simpatieke houding is onmiddellik daarmee heen. Hy spring in woede van sy stoel af, loop na die seun toe, gryp hom aan die bors en sê uitdruklik: “Alexander? Alexander? Het jy sowaar my naam? Ek sê vir jou – verander jou optrede, of verander jou naam!” (J Cilliers; 1997)

Ons het ook ‘n naam: Christen. Afgelei van die naam van ons Heer, Christus. Meeste van ons kry hierdie naam as ‘n vanselfsprekendheid, omdat ons in gelowige huise, christenhuise, grootword. Verlede Sondag het ons vir Marc gedoop, en weens sy ouers se geloof en sy behoort tot ‘n geloofsgemeenskap, het hy ook die naam “christen” gekry – ingelyf in die familie van Christus. Aan die een kant is ons geweldig bevoorreg om hierdie naam te mag dra.  Aan die ander kant plaas dié naam ons onder ‘n baie groot verantwoordelikheid. Dit is van hierdie voorreg en van hierdie verantwoordelikheid wat ons in Johannes 15 lees.

“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer” (1). Hoekom noem Jesus homself die wáre wingerdstok? Omdat dit nie die eerste keer is dat God wingerd plant met die hoop dat dit goeie druiwe sou lewer nie. Telkemale in die OT lees ons hoedat God sy wingerd plant en versorg, maar die wingerd lewer keer-op-keer ‘n misoes, of geen oes nie. Jesaja praat in hfst 5:7 in geen onduidelike terme nie: “Die wingerd van die Here die Almagtige, die wingerd wat Hy geplant het en waarin Hy Hom wou verlustig, is die Israeliete, die volk van Juda. Die Here het verwag dat daar reg sou wees, maar daar was net onreg, dat daar geregtigheid sou wees, maar daar was net die hulpgeroep van verontregtes”. Dit het duidelik geword dat Israel nie die ware wingerd van God kon wees nie, hulle het suur druiwe gelewer en is deur hulle vyande vertrap en uitgeroei.

Maar God begin van voor af. Hy plant weer ‘n keer. Die keer die wáre wingerdstok, in die Persoon en lewe van Jesus Christus. Die genadewoord is dat die NT kerk, dat christene, so opgeneem word in Christus dat ons deel vorm van hierdie ware wingerdstok. Israel het misluk, maar God gee in sy Seun vir ons ‘n nuwe kans geskenk.

“Ek is die wingerdstok, julle die lote” (5). “Bly in My”. Vyf keer sê Jesus in die ag verse dat ons in Hom moet bly, en drie keer dat Hy (of sy woorde) in ons bly. “ ’n Loot kan (immers) nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie” (4). Hoekom hammer Jesus so op die “bly in My”? Want, alhoewel ons reeds lote aan die wingerdstok van Christus is (ons hoef dit nie nog te word nie) bestaan die onmoontlike moontlikheid dat ons nie vrug dra nie, of ten minste nie gesonde vrugte nie. Ons is deel van hierdie lewegewende stok, maar ons stel onsself nie oop dat die lewe van die Bron deur ons takke vloei nie. En wat gebeur met lote wat nie deur die wortels en die stok gevoed word nie? Sulke lote verdroog, val af, word deur die mense bymekaargemaak, en dit verbrand. Of, lees ons baie prakties in vs 2, elke loot wat nie vrug dra nie, word afgesny; maar elkeen wat vrugte dra word reggesnoei sodat hy nog meer vrugte kan dra.

Dus: Bly in My. Heel konkreet gaan dit hier om ‘n persoonlike verbintenis tot en verhouding met die Here. Dit gaan daaroor om in gemeenskap te wees met Hom. ‘n Verhouding wat sy duidelikste vergestalting kry in gebed (7). Om te bid is om in gesprek te tree met die Here, omdat ons in ‘n intieme verhouding met Hom staan. En hoe meer intiem die verhouding, hoe beter leer ons Hom ken, en hoe beter weet ons hoe om te praat en waaroor om te praat wanneer ons bid.

Ons almal staan in een of meer belangrike verhouding met iemand waarsonder ons glo dat ons nie kan of wil klaarkom nie. Mense van wie ons sal sê: Ons is deel van mekaar, of hy of sy is deel van my. So deel van my dat iets binne my wegskeur of doodgaan wanneer daardie persoon nie meer daar is nie. Mense wat so deel is van ons dat ons mekaar se taal begin praat en dat ons, wanneer ons onseker is in ‘n situasie, dalk wonder wat sou so-en-so nou gedoen het. Ons laat ons deur die ander lei. Ons praat selfs met die ander persoon wanneer hulle nie daar is nie. So, maar nog dieper as dit, word ons deur die Here self gesmeek, ter wille van onsself en die verheerliking van sy Vader, om in Hom te bly.

Hierdie persoonlik verhouding met Christus is vir baie van ons nie ‘n natuurlike of ‘n maklike saak nie. Hoe is dit immers moontlik om ‘n persoonlike verhouding te hê met iemand wat jy nie kan sien nie? Die Teoloog Bösinger vat dit vas raak wanneer hy verwys na die sogenaamde “afskeid van die Christendom” – juis ook onder die sogenaamde christene. Hy merk dat kerkmense in hulle hart vir Christus opgee, dat hulle hulle verhouding met Hom verbreek, dat hulle ophou om oor Hom te dink, ophou om Hom mee te neem op hulle lewenspad, ophou om in gesprek met Hom te tree. Dit gaan ten diepste om die vraag: Wat beteken geloof nog vir jou? Is Christen-wees vir jou bloot iets uiterliks, soos kerklidmaatskap en bekostigbare basaarpoeding en pannekoeke? Of beteken geloof vir jou ‘n persoonlike verhouding met Jesus?

Johannes 15 gee ‘n antwoord op hierdie vraag. Op ‘n goddelike wyse bly Christus teenwoordig in sy gemeente, ook na die hemelvaart. Ons weet nie hoe dit werk of moontlik is nie. Die wind waai waar hy wil (hfst 3), maar ons weet dat dit deur die werkinge van die Gees wel so is. Chistus gee sy woord daarvoor. Hy belowe. Hy is die wingerdstok, ons die lote. Vir sy gemeente is Hy die lewende en immerteenwoordige krag en lewe – die Een wat aan ons lewe en vitaliteit gee. Die Een wat ín ons blý. Op so ‘n manier in ons bly dat ons lewens daardeur herskep word.

Dit bring ons by die laaste beweging van die teks waarna ek eintlik alreeds verwys het. Wanneer ons in Christus bly, dws wanneer ons in ‘n lewende verhouding tot Hom staan, ‘n verhouding wat vir ons belangrik en noodsaaklik is, dan raak vrugdra ‘n natuurlike uitvloeisel. Die hoeveelheid en die kwaliteit van die vrugte wat ons dra getuig van die prioriteit en die kwaliteit van ons verhouding met Christus. Hoe sal ons en ander dus weet dat ons in Christus bly? Ons weet dit aan die vrugte wat ons dra. Immers: ‘n Boom word aan sy vrugte geken … of nie geken nie…

Ons word voor ‘n geweldige keuse gestel. Kies ons om te wees wat ons geskenk gekry het – naamlik lote wat spruit uit Christus as ons wingerstok, lote wat deur Hom gevoed word en deur die Vader gesnoei word en wat vrugte dra wat pas by die kwaliteit van die stok in wie ons geanker is? Of kies ons die byna onmoontlike – om ons af te sny of te laat afsny omdat ons nie in die stok geanker wíl wees nie en omdat ons nie hierdie kwaliteit van vrugte wil dra nie? Omdat ons kies téén ‘n verhouding met die Here. Voordat ons voor hierdie keuse gestel is het Christus reeds gekies: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om … vrugte te dra” (16). Alleen as jy dit weet kan jy die keuse maak – in die geloof en vertroue dat ons keuse eintlik maar net ‘n eggo is van die keuse van Christus (Burger). Ons kán kies, want ons ís reeds gekies.

Die beeld van die ware wingerdstok is nie ‘n dreigement nie. Jesus dreig ons nie soos Alexander die Grote om ons gedrag reg te ruk of ons sakke te pak nie. Die beeld is eerder ‘n uitnodiging. Dit sê: Kan jy dan anders as vrugdra? Die Vader word daardeur verheerlik dat ons baie vrugte dra (8). En vir ons is daar die belofte van gebedsverhoring (7), blydskap (11) en die status as Christus se vriende (14).

Ek ken twee mense persoonlik en weet van nog ‘n derde een – almal wat gekies het om hulle doopname te laat verander later in hulle lewens. Hoe heet jy? Wat noem jy jouself? Christen? Leef jy dan in ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus? Bly jy in Hom? Dra jy die vrugte wat pas by die wingerdstok? Indien nie, moet jy dalk liewer oorweeg om jou naam te verander…

Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.