Openbaring 2:1-7

20 Mei 2012 – Pinkster
Prediker: Dr Tiana Bosman

Kliek hier om Openbaring 2:1-7 te lees

Inleiding
Tydens hierdie jaar se Pinksterreeks lees ons saam die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring 2-3. Die konteks waarbinne die sewe briewe gegee word is die van ‘n visioen. ‘n Visioen van die gekruisigde Lam wat opgewek is en opgevaar het en in heerlikheid regeer. Dis asof Johannes sukkel om dit wat hy sien in woorde om te sit. Sy taal is geweldig gelade en hy ryg die ongelooflikste beskrywings in.

In die visoen verskyn die verheerlikte Here aan Johannes in priesterlike gewaad in die tempel. Die Here staan tussen sewe goue staanlampe – verteenwoordigend van die sewe gemeentes in Klein-Asië (vandag in die ooste van Turkye).
Die hare op sy kop is spierwit, soos die hare van God self in Daniël se visioen, en sy oë het soos vuur gevlam – simbool van oordeel.
Sy voete was soos geelkoper wat in ‘n smeltoond gloei, en sy stem soos die gedruis van ‘n groot watermassa. In sy regterhand – die hand wat sy krag simboliseer – het hy sewe sterre vasgehou – dit is die sewe leraars van die gemeentes. Hiermee wil die visoen sê dat Jesus vir die sewe gemeentes omgee, dat Hy hulle vashou.
Daar het ‘n skerp swaard met twee snykante uit sy mond uitgekom – nog ‘n simbool van oordeel waaroor ons Dinsdagoggend meer sal hoor.
Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn.

Johannes word so oorval deur wat hy sien en hoor dat hy voor die Here se voete neerval en soos ‘n dooie bly lê. En met dieselfde regterhand waarmee die Here die sewe sterre, dws die gemeentes vashou, vat Hy aan Johannes, hou hom ook vas en troos hom: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood, en kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk. Skrywe nou op wat jy sien…”
En dan dikteer die Here binne hierdie visioen die sewe briewe aan die sewe gemeentes wat Johannes moet gaan neerskyf. In elke brief stel Johannes vir Jesus bekend onder een of meer van die beelde wat hy van Hom gesien het in die visoen. Die brief aan die gemeente in Efese lui dan soos volg…

Skriflesing: Openb 2: 1-7
Boodskap
In die tyd toe Johannes die brief geskryf het, was Efese ‘n groot stad met ongeveer 250 000 inwoners. Groot handelsroetes het deur Efese gegaan, dit was ‘n belangrike en onafhanklike politieke mag, en dit was ‘n baie belangrike godsdienstige sentrum. Daar was twee tempels vir Augustus gebou, een elk vir die drie keisers Nero, Hadrianus en Severus, en natuurlik die tempel van Armetis – wat bekend gestaan het as een van die sewe wonders van die antieke wêreld. Ter ere van nog ‘n keiser, Domitianus, wat die Christene ook baie vyandiggesind was, is die Olimpiese Spele een jaar in Efese gehou.

Die gemeente in Efese het ontstaan tydens Paulus se sendingreise en ons lees daarvan in Handelinge. Timoteus het later daar onder die gelowiges gewerk en volgens tradisie het Johannes self ook later ‘n sterk band met Efese opgebou.

“Ek weet alles wat julle doen”, begin die Here sy brief aan die gemeente. So begin vyf van die sewe briewe. “Ek weet alles wat julle doen” – dus: Ek kyk na julle handel en wandel; nie na julle geloof nie, maar na julle goeie werke. Hoe kan dit wees? Komende van die Een wat leer dat ons juis nie deur goeie werke gered word nie, maar deur geloof alleen?! Natuurlik word ons net deur ons geloof gered. Immers: “Al wat van belang is, is geloof,” sê Gal 5:6, maar dan staan daar tóg verder “geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.” Ons dade ís baie belangrik, ook omdat die wêreld nie ons geloof kan sien nie, maar wel ons dade…

Hier gaan dit nie oor individuele dingetjies wat ons darem af-en-toe reg doen nie, dit gaan om ‘n lewenswyse. Jesus praat daarvan waneer Hy sê: “Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding.” Die gelowiges in Efese is moeg gemaak en uitgeput deur hulle harde werk vir die evangelie. Hulle kon slegte mense nie verdra nie, en hulle het ondersoek ingestel na mense wat voorgegee het dat hulle apostels (leiers in die gemeente) is, maar nie so geleef het nie. Interessant – hulle het nie oor die mense geskinder nie, maar ondersoek ingestel en uitgevind dat hulle leuenaars is. Lank terug reeds in Hand 20:29-31 het Paulus al die gemeente gewaarsku teen die “wrede wolwe (wat) onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei. Wees waaksaam.” Dws moenie dat individue of groepe binne ‘n gemeente “oorneem” as hulle nie optree volgens wat in die Woord staan nie, maar volgens hul eie belange.

Die gemeente het nie slegte mense verdra nie, maar hul het wel sekere vorme van swaarkry verdra ter wille van die Here. Ook daarin het hulle volhard en nie moeg geword nie. Ook dit kan die Here ten gunste van hulle sê. Wat is dit wat ons vandag moeg maak? Is dit ook ons werk vir en volharding ter wille van die evangelie? Of is dit dalk eerder ander dinge? Is ons nog so entoesiasties oor ons programme en ons projekte en ons voornemens en ons besluite en ja, ook ons opofferinge, of het dit al so bietjie begin afwater?

Soos ons, of in elk geval sommige van ons, het die gelowiges in Efese ook maar gesukkel om end-uit vol te hou. Nadat die Here waardering uitspreek vir hulle harde werk en volharding, selfs met die hantering van valse apostels in hulle midde en swaarkry wat hulle moes verduur, sê Hy roerend in vers 4: “Maar dit het Ek teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.” Letterlik staan dit baie sterker: “Julle het julle eerste liefde versaak.” Dws hulle het nie net afgekoel in hulle eerste liefde nie, hulle het dit glád nie meer nie. Adrio König sê dat dit dikwels die gevolg is van stryd tussen gelowiges. Waar groepe binne kerke of gemeentes begin stry weens hul honger na mag of gesag, kan ‘n kerk of gemeente skeur en in die proses verloor mense die Een uit die oog om wie dit tog eintlik moet gaan. Maar wie die liefde verloor het, verloor alles. Al het ek alles, selfs al doen ek nog die regte dinge, en al hardloop die regte programme nog in my gemeente, maar daar is nie liefde nie … dan baat dit my niks (1 Kor 13). Al het ek hoe hard geveg teen mense wat wou oorneem, en al het ek wat ookal verduur vir die naam van die Here, en ek het die liefde verloor, dan het ek niks meer nie.

Die bestaan van die gemeente sal beëindig word as hulle nie terugkeer na hul eerste liefde nie. Die Here waarsku “Ek sal julle lamp (wat staan vir die gemeente) van sy plek af wegvat, as julle julle nie bekeer nie!” Daarom die dringende oproep om drie dinge te doen: DINK, BEKEER en DOEN: “Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het.”

DINK: Ons moet by tye gaan nadink oor ons lewe. Waarmee is jy besig? Waarheen is jy oppad? Waantoe neem die pad jou waarop jy op die oomblik loop? Waar gaan jy beland as jy so aangaan? Hoe het jou verhoudinge vroeër gelyk – met die Here, met diegene na aan jou, met mede-gelowiges, met mense wat jou hulp nodig het? Lyk hierdie verhoudinge nog dieselfde? Het dit nog dieselfde vuur en ywer en toewyding? Ons moet by tye hieroor gaan nadink – as individuele gelowiges en ook saam as gemeente. En as ons dan klaar gedink het en bestek opgeneem het?…

BEKEER: Verander, draai om, begin oor, soos aan die begin toe jy jou vir die eerste keer verbind het… En hoe weet ons dan dat ons verander het?…

DOEN: Doen weer wat julle lank terug gedoen het. Hê My weer lief. Hê mekaar en ander weer lief. Stry en word moeg en volhard – nie vir eie gewin of om op jou eie seepkissie te bly staan ten alle koste nie, maar ter wille van die evangelie, ter wille van My. Dit bring ons terug by die begin van die brief: “Ek weet alles wat julle doen.” Doen is die teken van ware geloof. Calvyn wat uitdruklik geleer het dat ons níe deur ons goeie werke gered word nie, is ook die man wat gesê het dat ons nie sonder goeie werke gered word nie. Ook Jakobus sê in sy brief: “Ek sal jou my geloof wys uit my dade” (Jak 2:18).

Dink, bekeer en doen. God is nie ‘n veraf wese iewers daar bo in die hemel wat Hom nie veel steur aan wat op aarde aangaan nie. Hy is betrokke by ons. Jare na Jesus se hemelvaart kry Johannes die visioen van Hom wat steeds tussen die gemeentes beweeg, wat hulle in sy regterhand vashou en so vir hulle omgee, wat kyk wat onder hulle aangaan, oplet na wat hulle doen. ‘n Here wat met sterk emosie praat in sy briewe aan die gemeentes. Hy spreek waardering uit vir wat hulle reg doen, maar Hy word diep geraak deur hulle gebrek aan ware liefde wat oorgaan in dade.

Die brief aan Efese word geskryf aan ‘n gemeente wat afvallig geraak het in hulle liefde. Nie net as aanmaning nie, maar juis ook as uitnodiging. Die gemeente kry ‘n tweede kans. “Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê.” Al die briewe sluit met hierdie woorde af. Elkeen wat kan hoor, moet deur wat hulle hoor gedryf word tot bekering en goeie werke, tot ‘n nuwe lewenswyse – gedryf deur ons liefde vir die Here.

Al die briewe eindig met die belofte van die ewige lewe aan elkeen wat die oorwinning behaal. God sal alles herstel wat aan die begin van Genesis verlore geraak het, maar meer as dit, Hy sal dit by verre oortref. As ons maar tog net tot inkeer sal kom, sal bestek opneem, ons weereens bekeer, en die regte dinge uit liefde sal doen.

Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.