Openbaring 3:14-22

27 Mei 2012 – Pinkster
Prediker: Dr Tiana Bosman

Liturgie

Kliek hier om Openbaring 3:14-22 te lees

Inleiding
Die stad Laodisea is 250 vC deur Antiochus II gestig en dit is vernoem na sy vrou Laodike. Laodisea was die rykste stad in die omgewing. Die rykdom is opgebou uit veeteelt en handel. Daar was groot skaapboerderye en hulle het ‘n sagte swart glanswol geproduseer wat baie gewild was in die klerebedryf. Die trimita, ‘n vroue tuniek, is onder andere van hierdie spesiale wol gemaak. Laodisea was verder ook bekend vir hulle beroemde mediese skool. Frigiese poeier, wat ‘n oogsalf was, is in Laodisea vervaardig en uitgevoer na ander gebiede.
Laodisea het een groot probleem gehad. Alhoewel die stad perfek geleë was op die destydse handelsroetes, was daar geen waterbronne in die omgewing nie. Water is 10 kilometer ver deur pype vervoer na die stad toe.
Die gemeente in Laodisea is waarskynlik gestig in die tyd toe Paulus in Efese gebly het. Paulus self het ook ‘n brief aan die gemeente geskryf, alhoewel ons nie weet wat daarvan geword het nie. Ons lees van die brief in Kol 4:16.
Skriflesing: Openbaring 3: 14-22
In die briewe aan die sewe gemeentes is daar twee gemeentes van wie die Here net goeie dinge sê, drie gemeentes vir wie Hy prys maar dan ook teregwys en waarsku, en twee gemeentes waarvan die Here net slegte dinge te sê het. Sardis en Laodisea val in die laaste groep. Die Here vind niks prysenswaardig aan hulle nie. Interessant genoeg dat dit dan ook juis die twee gemeentes is waar daar geen sprake van vervolging is nie. Dalk omdat die duiwel dit nie die moeite werd ag nie? Omdat hulle elk geval geen bedreiging vir hom inhou nie? Julle het moontlik al die storie gehoor van die man wat tydens ‘n erediens by ‘n kerkgebou verbygeloop het en gesien het hoedat die duiwel rustig op die dak sit en slaap. Toe die man navraag doen het die duiwel geantwoord: “Nee wat, alles is rustig hierbinne.” So was dit in Sardis en Laodisea. In Sardis was die gemeentelede vas aan die slaap, en in Laodisea, was hulle lou.
Daarom begin die Here sommer vroeg in die brief reeds met hierdie kritiek: “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.” Die meeste vertalings is so bietjie versigtig vir die Grieks hier. Letterlik staan daar iets soos: “Julle maak My naar en daarom sal Ek julle uitspoeg.” Hierdie twee verse is waarskynlik die bekendste en mees aangehaalde twee verse in die hele Bybel onder Evangeliese Christene. Hulle verstaan dat die Here christelike ywer hier aanspreek. Gelowiges moet “aan die brand wees” vir Jesus en Hom met ywer dien. As jy nie “aan die brand is” nie baat dit jou niks – dan kan jy maar net sowel na die teenoorgestelde kant oorhel, heeltemal koud wees en darem nog die wêreldse vreugdes ten volle smaak. Dws: As dan nie warm nie, eerder koud – dit verskaf ten minste tydelike genot. Maar lou-wees baat jou niks.
Hierdie metafor sit die pot natuurlik heeltemal mis. Dis eers wanneer ons die waterprobleem in Laodisea goed verstaan, dat ons die metafoor ook reg kan interpreteer. Ek het vroeër genoem dat daar nie waterbronne in die onmiddellike omgewing was nie. Noord van Laodisea was daar egter warmwater bronne wat by Hiërapolis ontspring het. Die bronne was in besonder bekend vir hulle medisinale kwaliteite – mense het daarheen gegaan om verligting of genesing te kry van hulle siektetoestande. Ons weet dat Laodisea water deur pype aangevoer het. Hierdie warm water het naby Laodisea oor ‘n stroomversnelling gevloei en teen dit tyd dat dit by die stad aangekom het, was dit louwarm en aaklig.
Terwyl daar warmwater bronne ‘n end noord van Laodisea was, was daar in die suide, by Kolosse, weer die heerlikste rein kouewater bronne. Maar ook hierdie water het so deur die pype heen geleidelik al warmer geword en dan lou by Laodisea aangekom. Alhoewel die stad se watersisteem dus heel suksesvol was, het hulle nooit vars water gehad nie. Die warm water met die genesende krag het sy krag deur die pype heen verloor, en die koue water met die verfrissende krag het ook sy krag deur die pype heen verloor.
Wanneer ons hierdie konteks in ag neem, sien ons dat beide warm en koue water hulle eie besondere positiewe waarde het. Die een bring genesing en die ander verfrissing. Daarenteen het lou water geen besonderse kwaliteit nie, dit maak mens net naar. Jesus vergelyk die gelowiges met die louwarm water in hulle pype. Hulle beteken nie meer vir enigiemand iets nie. Hulle beteken niks vir die siekes nie – die genesende krag van die warm water. Dis nogals ironies, in die lig van die feit dat die mediese geriewe daar so gevorderd was. Hulle beteken ook niks vir die moeës nie – die koue water wat verfrissend was. Dit gaan dus nie in die eerste plek oor hulle gesindheid teenoor die Here nie, maar oor die feit dat hulle nutteloos is vir ander mense. Ons liefde en ywer vir die Here is natuurlik ook uiters belangrik, en dit word wél later aangespreek wanneer ons lees hoedat die Here klop en klop, maar as hierdie liefde nie uitgeleef word in ons betrokkenheid by mense in nood nie, dan baat dit niemand niks. Dan smaak ons soos lou water en gaan die Here ons uitspoeg.
Hoekom is dit so dat die gelowigs in Laodisea vir niemand meer iets beteken nie? Want hulle dink net aan hulleself. Hulle leef in die waan dat hulle alles het en niks meer nodig het nie. “Julle sê: ‘Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie, maar julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal.” Hier is ‘n stad waar mense, ook die gelowiges, rol in die geld, hulle gee die toon aan vir die modegiere van die dag, en die mediese wetenskap daar is so gevorderd dat hulle onder die waan leef van ewige jeug en gesondheid. “Life is good!” Klink dit nie miskien so bietjie soos ons samelewing van vandag nie? Eet, drink, lyk mooi, bly jonk, en wees vrolik. Wat meer wil ‘n mens nou hê? Dit laat mens dink aan Karl Barth, die Switserse teoloog, wat op ‘n slag by vriende se huis in die Alpe vakansie gaan hou het. Dit was asemrowend mooi daar, absoluut idillies, en toe Barth dit alles inneem roep hy uit: “Dis so mooi hier! Hier is nie meer plek vir ‘n toekomsverwagting nie!” Menende: mens kan so maklik onder die indruk kom dat jy nou alles het wat nodig is om gelukkig te wees, dat jy gearriveer het, dat jy niks skort nie. Dit is veral waar van mense wat leef vanuit hulle baie geld en hulle groot suksesse. Soos diegene in Laodisea.
Maar teenoor hulle arrogante selfverheffing lê die Here dan juis sy vinger op die plekke waar dit die seerste sal maak:
– Ten spyte van julle baie gesofistikeerde bankwese, is julle arm.
– Ten spyte van julle luukse tekstiel-industrie met die spesiale wol, is julle kaal.
– Ten spyte van julle beroemde Frigiese oogsalf, is julle blind.
Juis op die gebiede waar julle meen dat julle so ryk is, juis daar skiet julle ver tekort! Koop julle goud by My – dit is goud wat deur vuur gelouter is en op die koop toe dalk vir jou ‘n bietjie vervolging ook kan bring, maar dis suiwer. Koop julle klere by My – teenoor die swart wolklere wat julle dra is die klere wat Ek gee skoon en wit. Koop julle oogsalf by My – sodat julle oë gesond kan word en julle die siekes en die moeës, die behoeftiges rondom julle kan raaksien en kan help. Dis nogals erg – hoe rykdom mense kan verblind. Om ryk te wees en nog steeds werklik op die Here te vertrou en vir mense om te gee, is nie maklik nie. Dit vra ekstra genade.
Maar van die genade is daar genoeg. Daarom sê die Here: “Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle.” Tug is ‘n vorm van liefhê. Soms bring die Here slegte ervaringe oor ons pad om ons tot beter insigte te bring. Ons beweeg nou op gevaarlike terrein en ons moet versigtig wees as ons hieroor praat, want mens kan nie alles wat gebeur – ook al die slegte – op God se rekening plaas nie. König sê: “As ons al die seer en smart in die lewe aan God toeskryf, staan die duiwel later heeltemal werkloos op die mark, en God doen behalwe sy eie werk sommer die duiwel s’n ook.” Maar dat daar wel soms situasies is waar die Here deur lyding en swaarkry ons wil louter en vorm – dit is ook waar. Daarvan het Petrus ons mos vertel in sy brief. Die Here tug die wat Hy liefhet, en Hy het ook die gelowiges in Laodisea lief – al is hulle hóé op hulself aangewese, en al sien hulle hóé min die nood van ander raak, en het hulle hóé min behoefte aan ‘n toekomsverwagting wat anders is as die hede. Daarom die brief. Daarom nog ‘n kans, nog ‘n oproep, nog ‘n klop: “Luister, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.”
Hierdie vers word meestal gebruik om ongelowiges tot bekering te roep en die deure van hul harte oop te maak sodat Jesus kan inkom. Alhoewel die Here natuurlik ook aan ongelowiges se lewens klop, is dit egter nie hier die geval nie. Hy klop aan die gelowiges van Laodisea se lewens. Hy was eens binne, maar iewers het Hy buite beland. Dalk sit die duiwel so rustig op die dak van die kerk omdat die gemeente iewers, dalk heel subtiel, vir die Here die deur gewys het…? Hom uitgewerk het… Hy Hom nie meer kon vereenselwig met hulle rykdom, hulle swart klere en hulle blindheid vir ander in nood nie…
Maar Hy kom terug, en probeer weer ‘n keer. Die verheerlikte Here wat alle mag en gesag van sy Vader gekry het en oor die wêreld regeer, kom klop in nederigheid aan sy kinders se deur, en vra of Hy dalk ook ‘n plekkie aan die rykmanstafel kan kry. Juis omdat Hy so groot is, kan Hy Homself so verneder. So was Hy altyd. Gebore in ‘n krip. Saam met sondaars geëet. Mense se voete gewas.
En wanneer ons Hom hoor klop, en ons maak die deur weer oop – dan verwag Hy nie dat ons Hom moet bedien nie, Hy wil nie by ons fees kom aansit nie. Hy nooi ons na sý fees toe. Hy kom uiteindelik nie om te straf nie, maar om te red, en om fees te vier. Sy tafel is gedek en die stoele is uitgepak. Vir armes ja, maar selfs ook vir die rykes; vir siekes, maar selfs ook vir die gesondes; vir moeës, maar selfs ook vir die sterkes – As ons maar net wil luister na wat die Gees vir die gemeentes sê, en ons deure vir die Here se klop sal oopmaak.

Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.