Markus 3:20-35

10 Junie 2012 – Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Bulletin-10-06-12 | Liturgie-10-06-12

Kliek hier om Markus 3:20-35 te lees

Hierdie is oor die algemeen ‘n moeilike gedeelte in die evangelie om te lees. Dit praat van Satan, die uitdryf van duiwels, die vasbind van die sterk man en die lastering teen die Heilige Gees – alles dinge wat ons ongemaklik laat rondskuif en maak dat ons liewer die teks vermy as om dit aan te spreek. Dit terwyl wat hier afspeel een van die mees opspraakwekkende gebeurtenisse was in Jesus se ganse bediening. Naas die godsdientige uitsprake het die teks ‘n sterk politiese ondertoon en word ook die heersende sosiale orde heeltemal omvergewerp. Jesus daag al wat ‘n sisteem was uit, keer die samelewing op sy kop en die leiers in die godsdienskringe (die wat ook nou saamgewerk het met die regering) is besig om komplotte te smee om Hom om die lewe te bring.

Dit alles begin by Mark 1:15 wanneer Jesus reg aan die begin van sy bediening die rewolusionêre uitspraak maak: “Die tyd het aangebreek en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” Ons sou dit sy intreerede tot die bediening kon noem. Hy het pas die versoekinge van die duiwel in die woestyn weerstaan en daardeur gewys dat daar nou ‘n Persoon in die wêreld is wat sterker is as Satan, ‘n nuwe orde het aangebreek, die koninkryk het naby gekom.

Onmiddellik na die uitspraak voeg Jesus daad by woord om te wys wat die nuwe tyd in die geskiedenis behels, hoe lyk die aanbreek van die koninkryk, waartoe moet mense hulle bekeer en wat is die evangelie wat hulle moet glo. Nadat Hy sy eerste dissipels geroep het, begin sy nie-geweldadige aksieveldtog teen die Joodse sosiale orde in Kapernaum – ‘n veldtog wat ‘n klimaks bereik en ook eindig by ons gedeelte van vandag.
Die hooflyn van Jesus se veldtog lyk soos volg: Van die eerste oomblik af dat Hy by die sinagoge in Kapernaum instap is dit duidelik dat sy koninkrykstaak onversoenbaar is met die plaaslike gesagsfigure en die sosiale orde wat hulle daar stel. Jesus begin om mense te leer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie. Dit is van meet af aan duidelik dat Jesus nie aan die kant van die skrifgeleerdes staan nie. ‘n Bose gees ruik lont en begin om op Hom te skree. Jesus spreek die bose gees aan, en stuur hom uit die man uit, en Hy begin met sy bediening om mense te genees.

Sy fokus is die armes en die verstotenes. Hy maak hulle gesond en herstel of verleen so aan hulle ‘n sosiale status wat hulle nie gehad het nie. Hulle word deur Hom raakgesien en kry weer ‘n geregmatige plek in die samelewing. Hy aanvaar die gasvryheid van die mense wat uitgestoot word en Hy gaan by hulle aan huis. Alhoewel Hy weet dat die leiersfigure in die samelewing en die kerk Hom al meer vyandiggesind sal raak, kritiseer Hy die sosiale orde wat bepaal wie ‘n plek in die samelewing en die kerk mag hê, en wie nie. Jesus oortree selfs die wet deur iemand op die Sabbatdag te genees. Hy sou die genesing net so maklik op die Sabbat agter ‘n toe deur kon doen en so kritiek vryspring, maar doelbewus genees Hy waar almal kan sien – en daag Hy weereens die sosiale strukture en wette van sy tyd uit.

Na ‘n baie besige tyd van mense genees, bose geeste uitdryf en koppe stamp met die gereg, onttrek Jesus (in hfst 4) en gaan na die see – om daar te reflekteer en te praat oor sy bediening in die vorm van gelykenisse. Maar voordat Hy see toe gaan, speel ‘n baie belangrike gebeurtenis af. Jesus het pas sy twaalf dissipels “amptelik” aangestel – ons sou kon sê dat Hy met die aanstelling sy weerstandsbeweging op die been gebring het. ‘n Rewolusie is aan die broei – Hy het tog aan die begin al gewaarsku – die tyd het aangebreek en die koninkryk van God het naby gekom. Jesus gaan hierna na die veiligheid van die huis toe om te rus en te eet, maar die mense is lastig en daar is nie geleentheid vir eet nie. Erger egter as die oorslaan van ‘n maaltyd is dat Jesus vind dat Hy nie meer by die huis welkom is nie. Hy gaan om asem te skep, maar Hy moet die gevolge van sy veldtog in die gesig staar. ‘n Nuwe konflik het ontstaan – Jesus se eie familie is daarvan oortuig dat Hy te ver gegaan het, hulle gaan om Hom te gaan haal (lett “gryp, arresteer”) , en hulle dring daarop aan dat Hy sy sending moet staak. “Hy het van sy kop af geraak,” het hulle onder mekaar gesê.

Maar hulle waarskuwing en gesoebat is te laat, want die regering het reeds skrifgeleerdes vanuit die hoofkwartiere in Jerusalem gestuur om ondersoek in te stel en klagtes te lê. “Hy is van Beëlsebul besete!,” het hulle gesê (Beëlsebul was ‘n ander naam vir Satan). “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die duiwels dat hy duiwels uitdrywe.” Die skrifgeleerdes is daarop uit om Jesus se werk verdag te maak. Hulle sien Hy wen veld onder die “gewone (/gewonde) mense” en hulle wil alles in hulle vermoë doen om sy aansien onder die “skares” te smoor.

Daar lê ‘n groot stuk ironie agter hierdie aantuigings. Diegene wat mens sou dink vir Jesus sou ondersteun, naamlik sy eie bloedfamilie en die leiers in die kerk, is juis die mense wat Hom teenstaan. In daardie tyd het die leiers in die kerk gewoonlik ook in die regering se kabinet gedien – dis mense wat groot verskille kon maak, maar hulle grootste gerigtheid was om die status quo te beskerm. Vir hulle het die samelewing van die dag gewerk, en goed gewerk. In die samelewing is daar mense met mag en mense sonder mag, daar is wette wat bepaal wie waar hoort, wie waar woon, wie in die kerk mag ingaan en wie buite moet bly, wie kwalifiseer vir mediese behandeling en wie nie, wie aangeraak mag word en wie nie, wie mal is en wie siek is. Alles en almal het hulle plek, en solank mense hulle plek ken is daar nie probleme nie. En baie belangrik – die met mag, die skrifgeleerdes, is teen alle koste nie bereid om hulle mag af te staan aan iemand wat moontlik groter is as hulle nie. Hulle is nie eens bereid om hulle magsposisie met so ‘n persoon te deel nie. Hulle sal Hom eerder uitkryt as ‘n gesant van die duiwel as om te toe te kyk hoedat Hy die samelewing verander deur aan die magteloses en die siekes ‘n plek te gee.

Jesus antwood die skrifgeleerdes op hulle toesnouings met voorbeelde: “Hoe kan die Satan die Satan uitdrywe? As ‘n koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; en as ‘n huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin nie kan bly staan nie. As die Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar is dit sy einde.” Wat Jesus dus hier sê is: Satan kan nie teen homself in opstand kom nie. Dit is onmoontlik. Hulle beskuldigings is absurd. Jesus het juis gekom om die “opstand” teen die magte te lei en om die bose se heerskappy tot ‘n einde te bring.

En dan kom Jesus met ‘n gelykenis wat so skokkend is dat dit nie net die politieke spanning vererger nie, dit veroorsaak ook ‘n breuk met sy familie en sy vriende. Hy vergelyk Homself met ‘n dief wat sukkel om by die huis van die “sterk man” in te breek, hierdie sterk man wat Hy wil vasbind en wie se gevangenes Hy wil bevry. En Hy gaan sover as om te sê dat die Heilige Gees sy helper is, sy medepligtige. Ons sou kon sê dat, binne Markus se verstaan, die huis waarvan Jesus praat die wêreld tot op hede was, en die sterk man is Satan. Die wêreld was sy domein en hy het dit “besit” en “beheer”. Maar Jesus het gekom, Hy het reeds met die versoekings in die woestyn gewys dat Hy die stérker man is, en dat Hy daarom in staat is om die sterk man vas te bind en sy gevangenes te bevry. ‘n Nuwe era het immers aangebreek, ‘n nuwe heerskappy, die koninkryk van God het gekom.

Om hierdie ommekeer, hierdie bevrydingswerk van die Here doelbewus te misken, om te sien hoedat Hy lewens verander, die duiwel en al sy magte besweer en oorwin, om te sien hoedat Hy mense genees en vry maak om heel mense te wees wat ‘n plek het in die samelewing waar hulle behoort en waar hulle waarde het, om hierdie werk van die Here te misken en toe te skryf aan die bewegings van Satan eerder as aan die vernuwing van die Gees – dit is om te laster teen die Heilige Gees. En hiervoor sal die skrifgeleerdes eendag verantwoording moet doen.

Nog is dit nie die einde van die verhaal nie. Die spanning onder Jesus se familielede by die huis bou op. Sy uitsprake ontstel hulle net meer en meer. Hulle wil nie eens in die huis ingaan nie. Van buite af stuur hulle ‘n boodskap om Hom te roep. Hulle probeer nogmaals om Hom stil te maak. Dis immers malligheid vir ‘n gemerkte man om voort te gaan om die hoogste gesagspersone uit te daag. Hy speel met sy eie lewe en hulle wil Hom beskerm.

Hulle wil natuurlik ook hulle eie familiereputasie beskerm, en dit is waarskynlik die grootste motivering vir hulle pogings om Jesus stil en uit die openbare oog te kry. ‘n persoon se sosiale identiteit was integraal verbind aan die familie aan wie jy behoort het. Jesus het sy familie in die skande gesteek en ‘n klad op hulle naam gebring. Die vervreemding tussen hulle kom egter nie net van die familie se kant af nie. Dit is wedersyds. Jesus weier om sy familie te sien. “Wie is my moeder en my broers?,” vra Hy, verwysende na sy bloedfamilie wat, ironies genoeg, besluit om BUITE te bly staan. Toe kyk Hy rondom Hom na die mense wat in die kring om Hom sit, diegene wat BINNE is,en Hy sê: “Hier is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

As Jesus se familie nie sy roeping kan aanvaar nie, dan kan Hy nie meer hulle familiebande erken nie. Dan gooi Hy weereens die gevestigde sosiale strukture omver – die heersende struktuur van die Palentynse gemeenskap, en Hy skep vir Hom ‘n nuwe familie – die gemeenskap van dissipelskap. Van nou af is die mense wat sy roeping aanvaar, wat sy visie van ‘n nuwe bedeling deel, wat met Hom saamloop en meewerk, van nou af is hierdie mense sy nuwe familie.

Waar sou jy jouself plaas in die verhaal? Ons almal wat vandag hier is, is kerkmense. Dit lyk vir my asof dit nie altyd iets is om op te roem nie.

Watter tipe kerkmens is jy?

Is jy ‘n kerkmens wat aan die skrifgeleerdes se lippe hang en ten alle koste jouself blindstaar teen wette en voorskrifte wat verskillende mense se plekke en waarde in die samelewing en die kerk bepaal?
Of is jy ‘n kerkmens wat oop is vir vernuwing – veral as daardie vernuwing gerig is daarop om mense te genees of hulle posisies te herstel en hulle in te sluit en deel te maak van ‘n gemeenskap?

Is jy ‘n kerkmens omdat jy binne die kerk se sisteem gebore is?
Of is jy een van die mense wat deur die Here aangeraak is, genees is, bevry is van die bose magte in jou eie lewe?

Het jy al die krag van die koninkryk aan jou lyf en in jou hart gevoel?

Is jy ‘n kerkmens wat soms wens dat jy die Here kon wegsleep daar waar Hy kies om te wees en te werk, ‘n kerkmens wat soms wens dat die Here sy plek beter geken het, ‘n kerkmens wat jouself dalk soms skaam vir die Here – vir dit wat Hy doen en vir dit wat Hy van jou vra?
Of is jy ‘n kerkmens wat kies om by Hom te wees, saam met Hom te stap, jou kop hoog te hou en sy naam op jou lippe te hou, maak nie saam waar jy kom of tussen wie jy verkeer nie?

Is jy ‘n kerkmens wat bereid is om te erken dat die Here werk, dat Hy besig is, dikwels op maniere wat ons nie verstaan nie, maar met die vaste oortuiging dat Hy die sterker man is, die een wat die sterk man, die duiwel en sy magte, vasbind, sodat Hy sy huis – die wêreld, en die mense kan bevry.
Wil jy deel wees van die radikale, rewolusionêre beweging van die Here, of nie? Wil jy vrygemaak maak word of nie?

Om nie die werk van die Here in die wêreld en in ander se lewens en in ons eie lewens te erken as die werk van die Here nie, is sonde. Dit is om onsself blind te hou vir die bevryding en die genesing en die herstel van verhoudinge wat voor ons eie oë plaasvind. Om sulke werk toe te skryf aan die duiwel – dit is lastering teen die Gees. Mag ons dit eerder altyd raaksien, en die Here daarvoor dank, en die Gees daarvoor eer. Mag ons deel wees van die beweging van die koninkryk van God – al sê mense dalk ons is mal, of van die duiwel besete. Hulle het dit van Jesus ook gesê.

Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.