Markus 4:26-34

17 Junie 2012 – Koninkrykstyd
Prediker: Bianca Botha

Liturgie-17-06-12 | Bulletin-17-06-12

Kliek hier om Markus 4:26-34 te lees

Ek was onlangs op ‘n klas toer. Tydens die toer het ons eendag van Oudtshoorn af Prins Albert toe gery oor die Swartbergpas. Ek weet nie of u het al die voorreg gehad om daar te ry nie, maar dis regtig die moeite werd. Ons het dan natuurlik ook ‘n paar keer langs die pad gestop om die uitsig te geniet. Almal van hulle was besonders, maar daar was een spesifieke uitsig wat my totaal en al verstom gelaat het. Dit was werklik, wat een van my vriendinne se oupa noem, “‘n asembenemende oomblik.”
Maar hoe sal ek daardie ervaring, daardie uitsig aan enigiemand kan beskryf?
Ek sou kon vertel  van die diep, diep klowe en hoë berge wat strek so ver soos die oog kan sien. Ek sou die kleure kon beskryf, die groen wat oral groei teen die oranje rotse en die blou, blou lug. Of ek kan vertel van, die stilte die oopte, die son wat bak teen jou rug terwyl die wind jou hoendervleis gee. Maar geen van hierdie beskrywings kan daardie ervaring vasvang nie. Ek sou foto’s kon wys, maar selfs daardie foto’s is nie voldoende om die volle omvang van daardie ervaring oor te dra nie. Woorde en beelde kan dit net eenvoudig nie beskryf nie. Dit is werklik “onbeskryflik.” Slegs as jy self daar kan staan, dit self ervaar sal jy iets kan begryp van wat ek probeer verduidelik.

Toe ek verlede week so deur die foto’s kyk, besef ek dat Jesus dieselfde probleem in die gesig moes staar. Hoe verduidelik Hy aan mense, aan sy dissipels met hulle beperkte lewensuitkyk, die koninkryk van God. Die magiese, misterieuse, onbeskryflike koninkryk van God. En in ‘n poging om hulle – om ons – te help om iets te snap van daardie koninkryk vertel Hy die twee gelykenisse wat ons Markus 4: 26-34 lees.

Wanneer Jesus die koninkryk beskryf, is dit anders as wat ons sou dink – anders as wat die skare en selfs die dissipels sou dink. Hy gebruik nie groot woorde en uitspattige beelde nie. Hy rig ons oë nie na die hemele of die sterre, na die ‘koninklike’ nie, maar na die grond, die aarde; na iets so eenvoudig soos ‘n saadjie wat ontkiem en groei en geoes word. Die koninkryk wat Hy hier beskryf is nie een met goue strate en ‘n magtige leër nie. Dis organies; dit groei vanself; dit is gereed op ‘n spesifieke tydstip; dit het ‘n lewenssiklus; dit voed mense en bring lewe.

Dan gaan Hy verder, en gebruik weereens ‘n eenvoudige voorbeeld wanneer hy dit vergelyk met ‘n mosterdsaadjie. Iets baie klein wat groei tot ‘n tuinplant so groot dat die voëls in die skadu van sy takke kan nesmaak. Dis amper soos om te sê dinamiet kom in ‘n klein pakkie. Die koninkryk is misterieus en verrassend. Want wie kan dink dat daar uit so ‘n klein saadjie so ‘n groot plant kan groei. Dit gaan teen alle verwagtinge in.

Ek gebruik met opset die woord “plant”  en nie “boom” soos wat ‘n mens dalk sou verwag nie. Anders as in Matt en Luk, waar die mosterdsaad ‘n groot boom word, bly dit in Markus bloot ‘n tuinplant, ‘n bos – steeds groot; groter as al die tuinplante staan daar, maar nietemin ‘n bos. In die Ou Testament is daar ‘n hele paar beelde waar koninkryke beskryf word as groot en magtige bome, soos bv. die hoë seder waarvan ons lees in Esegiël 17. ‘n Mens sou dus verwag dat die mosterdsaad in Markus ook ‘n boom sou word. Maar dis juis die punt. Die koninkryk van God is nié soos al die ander koninkryke waarmee die volk tot dusver te doen gehad het nie. Dit groei nie, soos vorige koninkryke, dmv mag en geweld nie. Anders as wat sy navolgers geglo het, het Jesus nie gekom om die Roomse Ryk omver te werp en as heerser in te tree nie, en dis iets wat hulle gesukkel het om te begryp. Die woord ‘koninkryk’ het vir hulle ‘n fisiese betekenis gedra en hulle kon nie verstaan hoekom hulle nog nie tekens van daardie koninkryk sien kom nie.

Tog verseker Jesus hulle hier dat hoewel hulle dit nie kan sien nie; hoewel hulle dit nie kan verstaan nie en nie weet hoe dit gebeur nie; alhoewel dit nie gebeur soos wat hulle sou verwag nie, die koninkryk steeds besig is om te groei. Deur hierdie gelykenisse kom sê Jesus in die eerste plek dus vir hulle (en vir ons) dat die koninkryk van God totaal anders is as wat hulle verwag. En dan beskryf hy hierdie andersheid van die koninkryk aan hulle op drie maniere.

In die eerste plek is die koninkryk dikwels onsigbaar:
Hoeveel keer vra ons, soos Jesus se navolgelinge, onsself nie af hoekom ons nie die tekens van God se koninkryk in hierdie wêreld raaksien nie? Ons weet egter ‘n saadjie wat geplant is dra nie dadelik vrug nie. Dit groei dikwels sonder dat ons eers bewus is daarvan. En so sê Jesus is die koninkryk.
Die feit dat ons dit nie sien nie beteken nie dat dit nie daar is nie. Dit beteken dalk net dat ons uitsig beperk is, dat ons nie die volle prentjie kan sien nie.
Ons weet dat ons nou in die tussentyd is. Teoloë praat graag van die “alreeds” en die “nog nie.” En wat dit beteken is dat ons weet dat die koninkryk sy volheid eers sal bereik  met die wederkoms, maar ook dat dit te danke aan Jesus se koms, kruisdood en opstanding, reeds deel is van ons werklikheid. Hoewel ons dit soms nie sien nie, en dikwels nie verstaan hoe die wêreld kan lyk soos dit lyk as ons sê dat dit reeds hier is nie; hoewel ons nog nie die halm of die aar of die volkoringaar kan sien nie, kom verseker Jesus ons in hierdie gelykenis dat die saad reeds ontkiem het en groei daar waar ons dit nog nie kan sien nie.

In die tweede plek is die koninkryk onbeheerbaar:
In beide die gelykenisse word ons gekonfronteer met die feit dat die koninkryk en die groei van die koninkryk totaal buite ons beheer is. Die saad word gesaai, maar daarna is dit buite die saaier se hande. Hy gaan slaap en staan op, dag na dag en die saad groei vanself. Anders as in die gelykenis van die saaier word daar hier niks gesê van enige positiewe of negatiewe elemente van buite, wat die groei van die saad beïnvloed nie. Die saad en dws die koninkryk groei, soos daar letterlik in die Grieks staan, outomaties.

Ons vind hierdie selfde gedagte, die idee van onbeheerbaarheid, ook in die gelykenis van die mosterdsaadjie.
Interessant, is dat ‘n mens baie verskillende soorte mosterd kry en dat die soort wat mees algemeen voorgekom het in daardie tyd – “wilde mosterd” – byna soos onkruid, baie moeilik is om te beheer en ‘n hele veld kan oorneem as dit eers wortel geskiet het. Hierdie tipe mosterd dring in daar waar dit nie hoort nie; waar mense dit wil uithou. Dit bring ook voëls na die land – voëls wat boere dikwels veel eerder van wil ontslae raak.

So is die koninkryk wat Jesus verkondig ook iets wat ons nie kan beheer nie. Ons kan dit nie maak groei nie, dit groei vanself. Dis ook nie soos ‘n boom wat ons plant waar ons hom wil hê nie, maar eerder soos die wilde mosterd wat onbeheersd groei, dikwels daar waar ons dit nie sou verwag nie.

In die prestasie gedrewe samelewing waarbinne ons leef wil ons altyd in beheer van sake wees en resultate sien. Jesus kom sê egter dat dit in die koninkryk nie so werk nie en dat ons moet aanvaar dat dinge, veral in die koninkryk, dikwels buite ons beheer is. Die feit dat ons nie in beheer is nie, behoort ons egter nie angstig te maak nie, maar vir ons hoop te gee.
Ons hoop lê juis in die feit dat dit nie van ons afhang nie, dat God besig is om te werk, te midde en dikwels selfs ten spyte van, ons planne en projekte.

Hierdie hoop beteken egter nie dat ons net moet terugsit en toekyk; dat ons nie deel is van, of moet deelneem aan, God se plan vir hierdie wêreld nie. Want ware hoop dryf ‘n mens tot aksie. As ons werklik glo dat die koninkryk van God onbeheersd besig is om te groei, dan kan ons nie anders as om deel te wil wees van daardie beweging nie.

Coenie Burger skryf in sy boek “Waar is Jesus nou?” dat ons – die kerk – die teken, voorsmaak en instrument van God se koninkryk behoort te wees.
As teken moet ons die beeld en getuienis van Jesus dra, moet ons lewe volgens Sy voorbeeld.
As voorsmaak moet mense iets van die komende ryk, dws die teenwoordigheid van God, by ons ervaar.
En as instrument gebruik Hy ons, mense wat probeer leef volgens sy wil, dan in sy koninkryk.

Dit gaan dus nie oor die dinge wat ons doen nie, maar hoe ons leef en wie ons is en wat God dan deur ons kan doen. Ons het geen beheer oor die groei van die koninkryk nie, maar ons het die wonderlike geleentheid om daarvan deel te wees.

En dan is die koninkryk, in die derde plek, ‘n tuiste vir almal:
Soos in Esegiël 17, lees ons in Markus ook, dat die voëls in die skaduwee van die takke sal kom nes maak. Die Ou Testamentiese beeld van die voëls verwys na al die nasies wat deel sal word van God se koninkryk en met die gebruik van daardie beeld sê Jesus dat daardie koninkryk almal insluit. Ook dié voëls waarvan die boere soms ontslae wil raak en wat hulle voel hoort nie op die landerye nie. Dankie tog dat ons, die mens, nie kan kies of beheer wie deel het en deel word van die koninkryk van God nie.

En as ons dan werklik die teken, voorsmaak en instrument van daardie koninkryk wil wees, dan moet ons die takke wees wat skadu bied waarin die voëls kan kom nes maak, selfs die wat ons dalk voel hoort nie daar nie.

Wanneer woorde nie genoeg is om die koninkryk aan ons te verduidelik nie; wanneer ons die woorde hoor en die beelde sien, maar nie die volle omvang daarvan kan verstaan nie, is dit dalk nodig vir ons om dit self te ervaar. En ek vermoed dis juis wanneer ons in die skadukolle van die takke begin inbeweeg – daar waar ons sop gee vir mense wat honger is; daar waar ons kinders help wat nie veel van ‘n kans in die lewe het nie, om skoolgereed te raak of om skool toe te kan gaan; daar waar ons ‘n vriend of vriendin ondersteun in ‘n tyd van swaarkry of waar ons iemand help wat ons dalk voel dit nie verdien nie – ek vermoed dat ons juis daar iets sal kan begryp van dit wat Jesus probeer verduidelik wanneer Hy praat oor die koninkryk van God.

Mag die Here aan julle skadu gee
En van julle takke maak wat skadu bied vir ander

Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur Bianca Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.