Markus 5:21-43

24 Junie 2012 – Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Liturgie-24-06-12 | Bulletin-24-06-12

Kliek hier om Markus 5:21-43 te lees

Vertel Markus 5:21-43.

Jesus het pas ‘n klomp bose geeste in ‘n trop varke ingejaag. Hy het toe met ‘n skuit teruggevaar na die oorkant toe en daar het klomp mense om Hom saamgedrom. Een van die raadslede van die sinagoge, dus ‘n ryk man met baie aansien, kom toe daar aan. Sy naam was Jaïrus. Sy dogtertjie was tot die dood toe siek. Op ‘n gepastelike wyse toon hierdie belangrik man sy respek: hy val op sy knieë voor Jesus neer en soebat Hom om sy hande op sy dogtertjie te kom lê sodat sy gesond kan word en lewe. En onmiddellik gaan Jesus saam met Jaïrus na sy huis toe. Net om op weg daarheen deur ‘n baie onbelangrike en vuil persoon opgehou te word. Een van wie ons nie eens die naam ken nie.

Dit was ‘n vrou in die skare wat al twaalf jaar aan bloedvloeiing gely het. Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters wat haar uitgebuit maar nie genees het nie. In die proses het sy alles wat sy gehad het verloor, maar steeds net sieker geword. Hierdie vrou was desperaat. Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en aan sy klere geraak, want, het sy gedink, “as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word”. Sy hét toe dadelik gesond geword, en Jesus het ook onmiddellik geweet dat daar van sy krag uitgegaan het. Hy het omgedraai in die gedrang en gevra: “Wie het aan my klere geraak?” Sy dissipels beskou dit as ‘n baie dom vraag, aangesien almal in die bondel teen mekaar stamp en stoot. Maar Jesus het bly kyk rondom Hom om te sien wie dit was. Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. En toe het sy voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel – die twaalf jaar van siek wees, die verstotenheid, die dokters wat haar uitgebuit het, alles… En nadat sy klaar gepraat is, sê Jesus vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

Intussen staan Jaïrus waarskynlik en trippel op sy tone want Jesus is besig om baie kosbare tyd te mors. Onthou, sy dogtertjie lê op haar uiterste, en Jesus genees nie net hierdie onbelangrike vrou wat elk geval nie daar tussen die mense hoort nie, Hy knoop nog geselsies ook met haar aan. En toe gebeur waarvoor Jaïrus gevrees het. Daar kom mense van sy huis af en sê vir hom: “U dogter het gesterwe. Waarom val u nog ons Leermeester lastig?” Jesus het egter met een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir Jaïrus: “Moet jou nie ontstel nie”. Lett: “Moenie bang wees nie. Bly maar net glo!”

Jesus het niemand anders behalwe Petrus, Jakobus en Johannes die broer van Jakobus toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie. Hy kom toe by Jaïrus se huis aan en sien die hele gedoente van mense wat verskriklik huil en tekere gaan. Daar was waarskynlik ook professionele roubeklaers onder die groep gewees. Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.” Maar hulle het Hom uitgelag. In die Grieks staan skerp dat Jesus hulle toe uitgegooi het. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die dogtertjie was. Hy vat toe haar hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: “Dogtertjie, Ek sê vir jou , staan op!”

Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop, sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing. Jesus het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee. Die rede vir die geheimenis is dat die tyd om Homself bekend te maak nog nie aangebreek het nie. Mense weet nog nie wat die aard van Jesus se Messiasskap beteken nie. Hy wil voortydelike misverstand voorkom, aangesien dit in die weg kan staan van sy aardse bediening wat nog moet voortgaan.

Boodskap

Ons bevind ons hier midde-in ‘n verhaal van uiterstes en skreiende kontraste. Die verhaal van twee siek vroue – die een ‘n vrou wat al twaalf jaar aan ‘n siekte ly waar sy heeltyd menstrueer, die ander ‘n dogtertjie van twaalf jaar oud wat baie ernstig siek is. Die vrou is onvrugbaar, die dogtertjie staan op die rand van puberteit. Die dogtertjie se pa is ‘n belangrike man in die samelewing, gerespekteerd, raadslid van die sinagoge, die bekende Jaïrus. Hy ken die etiket van sy dag en onderskryf dit deur in die openbaar na Jesus te gaan, voor Hom neer te val en Hom aan te spreek en sy versoek te rig. Hy doen alles reg. Hierteenoor is daar die vrou sonder naam, onbelangrik, onder aan die sosiale leer, lastig, en sy oortree al wat reël en regulasie is. In die eerste plek hoort sy nie tussen die mense nie, want sy is onrein. Binne die Indiese kaste-sisteem sou sy een van die “untouchables” wees. As vrou en erger nog as untouchable mag sy nie sonder toestemming met ‘n man in gesprek tree nie. Sy weet dit en daarom praat sy bloot maar met haarself: “As ek maar net aan sy klere kan raak…” Sy weet ook dat sy nie aan Jesus se klere mag raak nie, want deur aan Hom te raak sou sy Hom aansteek met haar onreinheid, maar in die geheim skraap sy alle moed bymekaar en sy doen dit tog.

Hierdie is die enigste verhaal in Markus waar die siek persoon na Jesus uitreik en nie andersom nie. Moontlik het sy gehoop op ‘n stille genesing. Dat sy in die verbygaan aan Jesus kon raak en genees word, terwyl Hy self niks-vermoedend voortgaan op sy weg na die huis van Jaïrus om na sy dogtertjie om te sien. Haar gedagte sou iedergeval nie wees om aandag te trek nie. Maar Jesus voel onmiddellik hoedat die krag uit Hom uitgaan en Hy stop in sy spore. Ten spyte van haar vrees en bewing val die vrou toe voor Hom neer en vertel Hom alles. En Hy luister na haar. Waarskynlik vir die eerste keer in jare luister iemand werklik na haar, is haar storie vir Hom belangrik, staan Hy kosbare tyd aan haar af, herstel Hy haar posisie in die samelewing, en noem Hy haar “Dogter”, en prys Hy haar geloof. Inderdaad ‘n verhaal van kontraste. Op weg na die huis van ‘n baie belangrike man om sy dogtertjie te genees, word Jesus in sy missie onderbreek deur ‘n baie onbelangrike vrou, en die gevolg is tragies. Want terwyl Hy so tyd mors by die onbelangrike vrou, sterf die dogtertjie van die belangrike man. Toe Jesus dit hoor vermaan hy vir Jaïrus om die voorbeeld van die onbelangrike vrou te volg: “Moenie bang wees nie, glo net!” En Hy gaan na die huis en Hy vat die dogterjie aan die hand en genees ook vir haar.

Vier dinge staan uit in hierdie verhaal:

1) Jesus genees ALLE TIPES MENSE. Oppad na die huis om die dogtertjie van die baie belangrike Jaïrus te genees, stop Jesus om eers ‘n vrou aan die ander kant, die onderpunt van die sosiale leer te genees. Die nommer twaalf is baie belangrik in die verhaal. Dit simboliseer die twaalf stamme van Israel en sê iets van die inklusiwiteit van Jesus se bediening. Hy het inderdaad vir almal gekom. Die twee “dogters” verteenwoordig daarom onderskeidelik die bevoorregte mense en die randfigure. Jesus genees beide groepe se siektes. In die geval éérste die vrou met geen aansien nie, en daarna die dogtertjie van die raadslid. Hy sou dit ook andersom kon doen. Hy sou eers by die vrou kon verbyhou en nadat Hy die dogtertjie genees het, terugkom en met haar gesels. Maar Hy kies om eers sy volle aandag aan die onbelangrike vrou te gee. Want vir Hom is sy belangrik.

2) Die pad van genesing loop deur GELOOF. Dit beteken egter nie dat geloof ‘n eenvormige resep word vir genesing nie. Binne hierdie verhaal alleen sien ons al hoe die aard van geloof verskil. Die vrou word genees vanweë haar eie waaghalsige geloof. Die dogtertjie word genees vanweë haar pa se geloof. En wanneer sy geloof begin wankel en Jesus merk hoedat hy bang word, vermaan Hy hom om steeds te bly glo. Wat hier gebeur is verstommend: Jesus beveel die leier van die sinagoge om by die verstote vrou te leer wat egte geloof is! Om die waarheid te sê – die vrou aan die onderpunt van die sosiale leer word eerste genees as teken van Jesus se mag sodat diegene aan die bopunt van die leer ook kan glo.

Elders in Markus word geloof steeds anders ook geteken. In hfst 9 sien ons hoedat die pa van die siek seun sy gebrek aan geloof eerlik erken, met ‘n intense begeerte om wel te glo: “Ek glo Here, kom tog my ongeloof te hulp!” (24) “Ek weet nie hoe om te glo nie Here, maar ek wil graag, en in my onvermoë om reg of groot genoeg te glo is dit u Naam wat oor my lippe kom.” En in die eerlike erkentenis van die pa se gebrek aan geloof maar sy begeerte om wel te kan glo, genees Jesus sy seun. Want dit gaan immers nie oor hoe groot ons geloof is nie, maar oor die Een in wie ons glo, die Een na wie ons ons wend, ook wanneer ons nie meer weet wat om te glo nie. Daar is tye wanneer ons geloof ons in die steek sal laat, maar om in daardie tye te weet dat die Een in wie ons glo ons nooit in die steek sal laat nie – dis reeds genoeg.

3) Jesus genees mense op VERSKILLENDE MANIERE en op VERSKILLENDE VLAKKE. Die vrou is wel van haar fisiese siektetoestand genees, maar belangriker nog is dat haar plek in die samelewing herstel is. Deur haar van haar bloedvloeiing te genees het Jesus haar posisie herstel, Hy het weer vir haar ‘n regmatige plek gegee, sy was nie meer ‘n “untouchable” nie, maar mag weer tussen mense beweeg en in verhouding tree met ander. Vir twaalf jaar was sy ‘n Niemand en Hy maak van haar weer ‘n Iemand. Hierteenoor is die fokus van die dogtertjie se genesing wel dat sy fisies gesond word.

Genesing kan op soveel verskillende maniere gebeur. Op fisiese vlak, of deur die herstel van verhoudinge of jou plek in die samelewing, of deur ‘n proses van aanvaarding heen, selfs deur die dood. ‘n Vriend van my is die week oorlede aan hartversaking. Ek was Dinsdagaand by hom. Sy kragte was maar min, maar hy het so stadigaan sy sinne uitgekry. Dat hy so begeer om by God te wees. Dit is sy enigste wens. Hy het reeds van almal afskeid geneem. Al probleem is nou dat God te lank neem om hom te kom haal, vertel hy. Hy sê as hy maar net die krag bymekaar kan skraap om nog een groot gaap te gee, dan sal sy hart stil skok. Maar God sal daai krag vir hom moet gee. Twee dae later het hy sy krag vir die laaste gaap gekry en genesing ontvang. Vir hom het die dood genesing gebring.

4) In die meeste gevalle genees Jesus mense deur fisiese kontak, deur AANRAKING. Die vrou raak aan Hom. Hy vat die dogtertjie se hand. Hy vat aan melaatses en hulle word gesond. Hy vat aan iemand se ore en hy kan weer hoor. Hy smeer ‘n mengsel van spoeg en grond aan blindes se oë en hulle kan weer sien. Hy vat aan die onreines, en in plaas daarvan dat Hy hulle onreinheid aansteek, steek hulle sy reinheid aan. Hy vat aan die “untouchables” en hulle word “touchable”.

‘n Klompie jare terug het ‘n vriend van my aangrypend vertel hoedat die dogtertjie van so 6 jaar oud in die middel van die nag haar ma geroep het omdat sy bang was. Haar ma kom toe by die kamer in, hou haar kindjie vas en troos haar met die woorde: “My kind, jy hoef mos nie bang te wees nie. Jy weet tog God is by jou en Hy het jou lief en Hy pas jou op terwyl jy slaap. Niks sal gebeur nie.” “Ja,” antwoord die dogtertjie, “ek weet dit, maar Mamma, partykeer het God ‘n vel nodig.”

Die Here genees ons van ons siektes, en ons vrese, en ons onsekerhede, en ook ons sekerhede, en ons statusse en ons arrogansie. Hy genees ons op soveel maniere. Maar Hy beweeg nie meer hier in sy eie vel soos destyds nie. Ons, sy dissipels, word geroep om God se vel in die wêreld te wees. Ons is die mense wat Hom sigbaar en tasbaar moet maak vir die siekes en die gebrokenes en die verstotenes onder ons en rondom ons. Sodat hulle deur ons aanraking en ons belangstelling en ons aanvaarding genesing kan ervaar.

Om saam te vat:
Die Here is die groot Geneesheer.
Sy genesing is gratis.
Hy genees alle tipes mense, ook vir elkeen van ons.
Hy maak tyd vir elkeen van ons. Selfs die van ons wat reken dat ons onbelangrik is. Hy skuif belangrike mense opsy om na ons te luister.
Dit kom na ons deur geloof. Soms ons eie geloof, soms iemand wat namens ons glo, soms net die opregte worsteling en begeerte om te glo, al voel ons so ontoereikend daarin.
Die Here genees mense op verskillende maniere. Party ontvang fisiese genesing, ander se posisie word herstel, of gebroke verhoudinge herstel, ander vind vrede en aanvaarding, ander word genees van hul arrogansie of hul minderwaardigheid, ander vind genesing in die dood.
Die Here genees mense meestal deur fisiese aanraking. Ons word geroep om God se vel in die wêreld te wees en die siekes en die banges en die eensames aan te raak en te aanvaar en te bemoedig.

Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.