Markus 6:1-6

15 Julie 2012 – Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Liturgie-15-07-12 | Bulletin-15-07-12

Kliek hier om Markus 6:1-6 te lees

Inleiding: Die prentjie op die muur

optiese beeld - prent in publieke domein

Wat sien julle? Dit lyk eintlik na niks besonders nie. Bietjie abstrak miskien. Ons kan twee hartjies uitmaak, vier kolletjies, onder lyk dit soos ‘n outydse skrif. Dit lyk amper soos kinderkuns, iets alledaags, een van Herman se werkies wat ons teen die yskas sal opplak vir ‘n paar weke en dan later afhaal om plek te maak vir die volgende een. Dis wat ek met die eerste oogopslag sien.

Maar kom ons staan ‘n bietjie stil by die prentjie en kyk meer intens. Ek wil vra dat julle vir sowat 40 sekondes net sal fokus op die 4 kolletjies wat in die middel onder mekaar lê. Kyk stip daarna. Daarna gaan die prentjie verdwyn en JP sal die muur wit maak. Bly kyk na die wit muur terwyl jy jou oë knip…

Wat sien julle nou? … Op die oog af ‘n doodgewone prentjie, heeltemal niksseggend, kleuterkuns – maar wanneer ons ‘n bietjie meer intens kyk, dieper as die oppervlak, dan ontmoet ons as’t ware die Here daarin…

Drie weke gelede het ons gelees hoedat Jesus die onbelangrike vrou wat aan bloedvloeiing gely het gesondgemaak het en die belangrike man Jaïrus se dogtertjie, wat skynbaar dood was, wakkergemaak het. In beide hierdie genesings loop die pad van genesing deur geloof. In die eerste geval word die siek vrou deur haar eie waaghalsige, eintlik lastige, geloof genees. In die tweede geval word die dogtertjie deur haar pa se geloof genees. En wanneer die pa op ‘n punt begin twyfel, dan moet hy by die verstote vrou wat pas genees is gaan leer wat ware geloof is. Dit was eintlik ‘n verhaal van verstommende geloof. Vandag lees ons wat direk daarna gebeur het – ‘n verhaal van verstommende ONgeloof…

Lees: Markus 6: 1- 6
Boodskap
Na sy aankoms in sy tuisdorp Nasaret, toe Jesus die mense in die sinagoge begin leer het Hy aanvanklik ‘n groot indruk op hulle gemaak en baie het na Hom geluister en is deur sy woorde aangegryp. Maar die verwondering het gou plek gemaak vir skeptisisme en neerhalende opmerkings. Sy bure lig hul wenkbroue oor die feit dat Hy so beroemd geword het. Hulle is agterdogtig en bevraagteken sy wysheid en die “kragtige dade wat deur sy hande plaasvind”. Vir hulle is Jesus steeds maar net ‘n timmerman, ‘n seun van Maria, iemand wat veronderstel is om gewone wêreldse dinge soos meubels met sy hande te maak, nie wonderwerke daardeur te verrig nie! Hulle ken immers hierdie man – hierdie mededorpeling, ‘n gewone ou, nie eens van hoë aansien nie. Sy plek was aan die onderste punt van die sosiale leer. En hier staan Hy nou en leer hulle in die sinagoge terwyl Hy nie eens opgelei was as ‘n rabbi of ‘n priester nie. Jesus het nooit by ‘n kweekskool studeer nie. En aangesien ongeveer 95% van die Joodse bevolking nie kon lees of skryf nie, is dit baie waarskynlik dat Jesus ook ongeletterd was. Wie dink hy nogals is hy dat hý vir óns wil kom leer?!

Dan hang die grootste denkbare skande natuurlik ook nog soos ‘n swaard oor sy kop – Die dorpenaars verwys na Jesus as “’n seun van Maria”. Normaalweg sou daar na Hom verwys word as “die seun van Josef”. Die feit dat Hy eerder as “die seun van Maria” bekend staan, het in daardie tyd beteken dat Hy ‘n buite-egtelike kind is waarop almal wat daarvan geweet het, neergesien het. Hierdie verwysing is dus bedoel as ‘n klad teen sy naam. En die skinderstories het geloop.

Meer nog: selfs al sou Jesus kon lees en skryf, selfs al het Hy wonderwerke gedoen, het dit nie so gehoort nie. In daardie tyd was ‘n mens se status, jou posisie in die samelewing vasgestel, en die dorpelinge het diegene wat hulself wou verbeter, die wat wou uitstyg bo hulle omstandighede, verwerp. Want jy moes jou plek ken. En Jesus se plek was onder die mense wat nie uitgestaan het nie. Hy moet darem onthou waar Hy vandaan kom – Hy het anderkant die spoorweg grootgeword, Hy kom van die onderdorp af…daar waar die armes, die eenvoudiges, die buite-egtelikes, die ongeletterdes woon. Selfs al hét Hy wonderwerke gedoen (soos die voorafgaande gedeelte vertel) het die mense van sy tuisdorp van beter geweet. Hulle het geweet dat dit nie so hoort nie, dat Hy Hom nie met sulke “hoër dinge” mag besig hou nie. Want hulle het Hom voor hulle oë sien grootword en hulle weet daarom van watter stoffasie Hy gemaak is, wie Hy “regtig” is…Of so het hulle gedink.

Vandag besef ons dat die dorpelinge ‘n groot fout gemaak het. Hulle het hulself heeltemal misgis. Gedink hulle ken hierdie jong man wat voor hulle oë grootgeword het. Maar op die ou-end het hulle beperkte en misplaaste kennis van Hom, vooroordele by hulle wakker gemaak. Dit het veroorsaak dat hulle net gesien het wat hulle wou en blind was vir dit wat onder die oppervlak van Jesus se uiterlike voorkoms en status en familiegeskiedenis gelê het. Hulle het gedink die vere maak die voël.

Terloops: Maak ons nie ook soms so nie. Ons dink ons ken iemand so vreeslik goed (dalk ‘n ma of ‘n pa, ‘n kind, broer of suster of ‘n vriend, dalk ons man of vrou), dat ons nie oop is om nuwe sye van die persoon te ontdek nie, om dalk ‘n gawe of talent raak te sien waarvan ons nie geweet het nie, want ons weet mos wat die persoon kan en nie kan doen nie. Ons weet mos waar hy of sy vandaan kom. Ons ken mos sy beperkinge…

Die dorpelinge het geweet, of liewer gedink, dat Jesus té gewoon is om buitengewoon te wees. En so het Hy teruggekeer na sy tuisdorp om ook daar God se genade te verkondig en God se wonderdade bekend te maak, en die mense wat Hom die beste ken, het sy boodskap bevraagteken en Hom verwerp. Verstommende ongeloof! Hulle het geweier om Hom te aanvaar vir wie Hy REGTIG was, naamlik die Seun van God wat gekom het om sy Vader se werke bekend te maak. Die dorpelinge het die moontlikheid opsy gestoot dat God vir Jesus op ‘n baie besondere manier gebruik. Die dat Jesus dan teenoor hulle opmerk: “’n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en gesin”.

Is ons nie maar dikwels net soos die mense van Jesus se tuisdorp nie? As gelowiges wat die Bybel gereeld lees en gereeld kerk toe gaan, as broers en susters van die Here, begin ons ‘n sekere prentjie van Hom vorm. Anders as die mense van sy tuisdorp is ons prentjie gewoonlik nie een van eenvoud nie, maar eerder een van heerlikheid. Wanneer ons aan Jesus dink is die fokus van ons gedagtes meermale op die wonderwerke wat Hy verrig het. Ons soek vuurwerke wanneer Hy aan ons verskyn. Maar hierdie eensydige fokus kan maak dat ons Hom dalk in die alledaagse gang van ons lewens miskyk. Die Here beweeg tussen ons rond op verskillende maniere. Dalk kom Hy na ons toe in die vorm van ‘n persoon wat na ons mening darem net té eenvoudig of té ongeletterd is om iets van Jesus te vergestalt. Daardie dominee preek darem net té vervelig om werklik iets van die evangelie van Jesus oor te dra. Ek het die natuurskoon of die sonsondergang nou al soveel keer gesien dat dit my nie meer aanspreek as ‘n natuurwonder uit die hand van die Here wat my geloof kan versterk nie.

Die voetspore van die Here is oral in ons dorpe en in ons kerke en in ons huise. Die grond skree dikwels uit dat God pas by ons verbybeweeg het, maar ons sien Hom nie meer raak nie. Ons het die voetspore al te veel gesien om ons daaraan te steur. Ons wat vir Jesus so goed ken. Die Profeet in ons midde het onsigbaar geraak, want ons het verleer om dieper as die oppervlak te kyk. Ons eie vooroordele, gewoontes en oortuigings het die norm geword waaraan God moet voldoen voordat ons Hom herken vir wie Hy is.

Die uiteinde van Jesus se eie mense se verstommende ongeloof is radikaal. Omdat hulle nie van hulle vooroordele ontslae kon raak nie, omdat hulle Hom nie die eer en erkenning kon gee wat Hom toekom nie, omdat hulle Hom verwerp het, kon Hy nie meer wonderwerke onder hulle verrig nie. Hier en daar het Hy nog iemand die hande opgelê en genees, maar niks meer nie. Hulle ongeloof het sy vermoë om wonderwerke onder hulle te doen gesmoor. En toe is Hy daar weg. Verwerp deur sy eie mense het Jesus Homself onttrek en ‘n reisiger geword wat mense in die ander dorpies in die omgewing gaan leer het. Net hierna stuur Hy die twaalf dissipels uit en Hy gee vir hulle dieselfde raad – “As ‘n plek julle nie wil ontvang en die mense nie na julle luister nie, gaan dan daarvandaan weg en skud selfs die stof onderaan julle voete af as aanklag teen hulle.”

Mag ons as gelowiges, as familie van die Here, as mense wat Hom goed ken, nie so blind raak vir sy teenwoordigheid en werke in ons lewens dat dit later vir Hom onmoontlik raak om vir ons te doen wat Hy graag wil en kan nie. Mag ons Hom nooit so misken dat Hy eerder elders gaan om daar mense te seën nie. Mag ons Hom raaksien in die alledaagsheid, die gewone normale gang van ons lewens – en besef dat Hy juis gekom het om die gewone buitengewoon te maak. As ons maar net dieper wil kyk.

Gebed
Here Jesus, ons wil nie toe oë deur die lewe gaan nie. Help ons om U elke dag te soek en raak te sien, sodat ons geloof in hierdie herontmoetings versterk kan word.

Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.