Efesiers 2:11-22

22 Julie 2012 – Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Bulletin-22-07-12 | PinelandsLiturgie-22-07-12

Kliek hier om Efesiers 2:11-22 te lees

In die jare 40-90 nC is feitlik alle Christelike gemeentes in die gebied van die Middellandse See met dieselfde groot probleem gekonfronteer, naamlik die verhouding tussen die Joodse en die nie-Joodse christene. Hierdie probleem was so algemeen omdat meeste gemeentes uit beide groepe christene bestaan het.

Wanneer ons die OT lees, sien ons dat God sy verlossing wou bring deur die Joodse volk. Hy wou in ‘n besonderse verhouding tot hulle staan, hulle seën en beskerm, en van die volk het Hy gevra dat hulle hulself aan Hom sal toewy en dat hulle, te midde van ander volke met hulle talle gode, Hom alleen sal dien. Die plan was dat die ander volke dan sou sien hoedat die Jode geseën word, dat die Jode se verhouding met God ‘n unieke getuienis sou wees, en dat die ander volke dan ook tot geloof in hierdie God sou kom. Die plan was dus om die ganse wêreld in die verlossing in te sluit, maar eerste die Jode, en dan deur hulle ook alle ander volke. Die uitverkore volk was keer op keer ongehoorsaam, die profete is deur God geroep om die volk te waarsku, hulle kom nie tot inkeer nie, hulle verloor alles – hulle land, hul tempel, hul groepsidentiteit, en hulle word verstrooi. In die jare na die ballingskap het die Jode hulle in al die dorpe en stede in die Middellandse See gevestig.

God maak weer ‘n plan en in sy Seun word Hy mens om die keer self, persóónlik onder die volk te kom leef en beweeg en vir hulle te leer. Jesus kom dus in die eerste plek vir die Jode, weereens sodat die ander volke daarna deur die getuienis van die Jode tot inkeer kan kom. Maar nogmaals is die volk hardkoppig – die Fariseërs en die Skrifgeleerdes (die eersteklas Jode en teoloë van hul tyd) maak sy boodskap verdenklik en smee planne om Hom vas te trek en om die lewe te bring. Wat dan op die ou-end gebeur. Jesus word gekruisig. En ná sy opstanding verander sy sendingtaak wat Hy sy dissipels oplê. Nie meer “Verkondig die evangelie aan die Jode sodat die ander volke dan ook tot inkeer kan kom nie,” maar nou “Gaan na ál die nasies toe en maak die mense my dissipels” (Mat 28); “Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as (maar óók in) Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand 1).

Na Jesus se hemelvaart was diegene wat die evangelie oor die grense van Palestina verkondig het steeds feitlik net Jode, bv Paulus. In elke stad waar hulle gekom het het hulle eerste die evangelie in die Joodse sinagoge verkondig. Sommige Jode het daar die boodskap van Jesus as die Messias aanvaar en hulle het Joodse christene geword. Nadat die apostels vir ‘n dag of drie die mense by die sinagoge geleer het, het hulle onder die res van die mense in die stad inbeweeg en ook daar van die Here getuig. En ook daar het van die heidene (die mense van die ander volke) dan tot bekering gekom. Na hul bekering kan mens hierdie heidene nie meer “heidene” noem nie, vandaar die naam “nie-Joodse christene”. Elders, veral in Handelinge, word hierdie groep gelowiges die “godvresendes” genoem. Vir lank is die Joodse christene (Messiaanse Jode) en die nie-Joodse christene (of godvresendes) steeds in die sinagoge toegelaat om daar te kom aanbid en byeenkomste te hou, maar mettertyd het huiskerke ook ontstaan. Hierdie huiskerke het bestaan uit Joodse sowel as nie-Joodse christene, maar dit is tog vanselfsprekend dat die Joodse christene die toon sou aangee tydens die byeenkomste.

Weens die kulturele verskille het daar spanning onstaan onder die christene. Die Joodse christene het steeds vasgehou aan hul kulturele nalatenskap wat oor geslagte en geslagte heen strek – naamlik die besnydenis en die onderhouding van die Sabbatswette en spesifieke reëls rondom hulle dieët. Alles dinge wat in die OT deur God ingestel is om die Jode daaraan te herinner dat hulle anders is en anders moet leef as die ander volke, maar ook alles dinge wat in Christus se kruisiging opgehef is, omdat Hy met sy dood en sy opstanding versoening bewerkstellig het, Hy het die muur tussen die mense en God kom afbreek, maar ook die mure wat tussen verskillende groepe mense onderling bestaan. Maar veral die Joodse christene het dit nie verstaan nie. Hulle het kategorieë van christene gehad. Hulle natuurlik was die eersteklas christene. Die heidene wat tot bekering gekom het, die nie-Jode, was tweedeklas christene. Eintlik was daar drie groepe christene:

1) Die Joodse christene – die elite, nie net suiwer in geloof nie, maar ook suiwer in ras en kultuur. Die manne was besny en die spesiale Joodse wette en voorskrifte was tweede natuur. Volbloed christene.
2) Dan was daar die proseliete. Dit is heidene wat tot bekering gekom het, en dan sover moontlik die Joodse kultuur aangeneem het. Die mans het hulle laat besny, en hulle het die wette van die Jode, die Sabbat en die kosreëls onderhou. Alhoewel hulle dit nie gelyk het nie, het hulle geleef asof hulle Jode was. Van hulle kant af het hulle dus alles moontlik gedoen om opgeneem te word in die Joodse christen kultuur. Die woord “proseliet”beteken letterlik “hy wat oorgekom het”. Tweedeklas christene, amper daar, maar ongelukkig, vanweë hul afkoms, nie heeltemal in dieselfde klas as die volbloed Jode nie.
3) Die derde groep christene is die heidene of nie-Jode wat tot bekering gekom het, teologies geglo het soos die Joodse christene, maar hulle nie laat besny het nie en ook nie die ou wette aangaande Sabbat en kos vir hulself aanvaar het nie. Derdeklas christene, geduld maar nie verwelkom nie. Die gate-crashers, die agterbankers. Diegene wat nie saam met die eerste- en tweedeklas christenmans binne die tempel, aan die ander kant van die muur, mag aanbid het nie. Want daar was ‘n kennisgewing teen die muur aangebring: “Nie-Jode wat hier oortree is met die dood starfbaar.” Nee, hulle moes buite aanbid, in die plein, saam met die vroue (wat ook mos nie eersteklas christene kom wees nie, vanweë hul geslag…). Sommige kommentatore meen dat Paulus in die tronk was juis omdat hy hierdie nie-Joodse christene saam met hom in die tempel ingeneem het.

Onder die christene het “onbesnedene” ‘n neerhalende etiket geword, ‘n tipe skelwoord, waarmee die Jode die nie-Jode toegesnou het. Die Joodse christene het hulleself beter gedink en beter gehou as die nie-Joodse christene (alhoewel hulle hulle dikwels nie beter gedra het nie…) en die nie-Joodse christene het ‘n minderwaardigheidskompleks ontwikkel. Want hulle moes altyd hoor dat hulle geduld word, maar nie moet dink dat hulle net so goed soos die Jode is nie. Hulle kan die Here aanbid, maar hulle moet onthou waar hulle vandaan kom en hul plek ken, buite by die vroue. En beslis nie as leiers in huiskerke nie.

En nou kom Paulus in sy brief aan die gemeente in Efese, en ons sou verwag dat hy die “volbloed christene” oor die vingers tik oordat hulle neersien op ander christene wat volgens hulle menslike standaarde nie so goed is nie – en hy doen dit ook dikwels in sy briewe. Soms skryf hy oor die irrelevansie van die liggaamlike besnydenis na Jesus se koms, ander kere voer hy lang argumente met Petrus oordat Petrus nog die kosher reëls so streng wil toepas. Maar hier in Efesieërs skryf Paulus vir die derdeklas christene, en herinner hy hulle daaraan dat hulle op geen manier afsteek nie, hulle is nie minderwaardig teenoor die Joodse christene nie! “Onthou hoe dit vroeër was, sê Paulus, ons die Jode het gesê dat julle heidene is, “onbesnedenes”. Julle was sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, dws maar net bywoners, tweedeklas, minderwaardig, ver van God af, en sonder om te deel aan die verbonde en die beloftes, julle was sonder hoop en sonder God in die wêreld.”

“Maar,” gaan Paulus dan aan, “dis nie waar nie! Moenie dit van julleself glo nie! Julle is nou een met Christus. Julle het nou naby gekom deur die bloed van Christus. Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur (inderdaad soos die tempel se muur) skeiding gemaak het. Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. Deur sy dood aan die kruis het Hy ‘n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een ligaam verenig….” (2: 13-22; veral ook 21-22).

Die geskiedenis het deur die eeue gewys hoe daar altyd groepe christene is wat hulleself gelangriker ag, ‘n trappie hoër, as ander christene. Kyk maar net na ons eie geskiedenis – die NGK wat ‘n paar dekades gelede nog Apartheid vanuit die Bybel regverdig het, om maar een onderskeid te noem… Christus het duur betaal om versoening tussen God en mense, en tussen mense onderling, tussen christene onderling, te koop. Hy is ons vrede. Met sy sterwe het die tempel se voorhangsel geskeur en ons het álmal deur die een Gees vrye toegang tot God. Met sy dood het Hy ook figuurlik die muur van die tempel kom afbreek sodat almal sáám kan aanbid, gelykwaardig voor God, ewe belangrik, ewe nodig as stene waarmee die nuwe heilige tempel vir die Here gebou word, ‘n tempel gebou deur mensestene, verskillende stene, maar met Christus as hoeksteen. Saam, as Jode én nie-Jode, as mans én vroue, as heteroseksueel én homoseksueel, as witboordjies én blouboordjies, as oud én jonk, saam word ons opgebou tot ‘n geestelike huis waarin God self woon.

Mag ons, as christene, nie mure bou waar Christus dit met sy lewe (sy dood!) afgebreek het nie. Mag ons nooit aan onsself dink as minderwaardig teenoor ander christene nie, ongeag die rede. Voor Christus, vir Christus, is almal van ons een, ons is gelyk. En mag die van ons wat dalk aan onsself dink as volbloed Jode, in alle nederigheid besef waar ons ook vandaan kom, en mag ons weerhou word daarvan om neer te kyk op ander christene wat volgens ons standaarde nie so heeltemal voldoen aan die regte “voorskrifte” nie. Christus is ons vrede. Hy is ons hoeksteen. Saam, alleen wanneer ons hande kan vat, versoen kan wees met mekaar, gebonde aan mekaar, saamgesmee deur die band van vrede, saam is ons die geestelike huis waarin God woon. Mag dit ons getuienis wees – ons wat almal saam geroepenes is, die nuwe Israel, die kerk in die wêreld en vir die wêreld.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.