Efesiers 3:14-21

29 Julie 2012 – Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Bulletin-29-07-12 | PinelandsLiturgie-29-07-12

Kliek hier om Efesiers 3:14-21 te lees

Agtergrond
Verlede week het ons Ef 2 gelees. Ons het gehoor dat die brief geskryf is aan die nie-Joodse christene om hulle minderwaardigheidskompleks aan te spreek en af te breek. Hulle was heidene wat tydens die apostels se sendingreise tot geloof in Christus gekom het. Maar ten spyte van hulle geloof het die Joodse christene op hulle neergesien, hulself beskou as eersteklas christene en die nie-Joodse gelowiges as tweede- of selfs derdeklas christene. Gered, maar nie ewe goed nie. En dit vanweë geen sonde of fout deur hulle eie toedoen nie. Net maar oor hulle afkoms, oor die feit dat hulle nie gebore is binne die Joodse volk nie. Die elite Joodse christene het neerhalende etikette aan die nie-Joodse christene toegeken, bv “onbesnedenes”, en hulle so op hulle plek gehou.

Dit is ongelukkig so dat ons as christene vandag steeds mense, en ander christene(!), in kategorieë plaas. Ons skeer nie almal oor dieselfde kam nie. Meeste van ons stam nie eens af van die Joodse volk nie (eintlik sou ons deel gewees het van die nie-Joodse christen groep as ons 60nC geleef het), maar steeds dink ons dikwels dat ons beter is as ander mense, beter as ander christene. Dalk vanweë ons velkleur, ons geslag, ons inkomste, ons ouderdom, ons intellek, ons seksualiteit, ons voorkoms, noem maar op… Uit ons gedrag raak dit duidelik, ons gebruik ook graag etikette, en ons skep minderwaardigheidskomplekse by christene wat nie soos ons is nie.

In Ef 3 bid Paulus vir gelowiges wat altyd wysgemaak is dat hulle nie goed genoeg is nie, gelowiges met minderwaardigheidskomplekse. Die gebruik van die Jode was om te staan wanneer hulle bid, maar Paulus, ‘n Jood, vereenselwig hom met die nie-Joodse christene, hy kniel soos hulle, en dan bid hy vir hulle. Hierdie gebaar van hom is aangrypend.

Gebed: Ef 3: 14-21
Boodskap
Paulus was nie net ‘n deurleefde teoloog nie. Uit die gebed blyk duidelik dat hy ook ‘n ervare sielkundige was. Hy bid vir die geestelike gesondheid van gelowiges wat glo dat hulle nie goed genoeg is nie. Hy bid dat hulle deur die Gees krag sal ontvang:
– om innerlik sterk te word
– dat Christus deur die geloof in hulle harte sal woon, en
– dat hulle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.

1. Aan gelowiges wat swak voel in en oor hulself bid Paulus die krag toe dat hulle innerlik sterk sal word. Die innerlike mens verwys na ons intellek, ons emosies en ons geestelike samestelling, alles wat binne-in hierdie dop aangaan. Dit is eintlik al die dinge wat ons maak wat ons is – ons diepste persoonlikheid, die “egte jy”. Ons wys mos nie ons hele “pakkie” vir ander mense nie.
Sielkundiges verduidelik dit goed wanneer hulle sê dat ons eintlik uit drie dele bestaan – ons ego, ons innerlike egte mens, en ons skadukant. Die ego, die kant van ons wat ons vir ander wys, is net omtrent 30% van wie ons is. Dit is wat na die oppervlak kom in ons ontmoetings met mense. Meestal is dit ook hoe ons graag wil lyk, wat ons graag wil wys, dws die aspekte van onsself waarmee ons gemaklik voel. Soms is dit eg, soms is dit vals. Soms is dit gesond, soms nie. Alle mense het ego’s. Alle mense het ‘n spesifieke beeld wat hulle graag wil uitstraal.
Onder of agter die ego lê die innerlike egte mens, die ware jy. Dit is die persoon wie jy is wanneer jy die ego-maskers wat jy vir die wêreld opsit, kan afhaal. Dit is wie jy is wanneer jy veilig voel, aanvaar word vir wie jy is, en wanneer jy gemaklik is met die mense rondom jou. Dit is gewoonlik die ontspanne persoon wat ons is tussen mense wat vir ons lief is. Dis die gevoel wat ons het wanneer ons vir mense sê “by jou kan ek net myself wees”. Dit beteken nie dat die innerlike mens ‘n perfekte persoon sonder foute is nie. Maar wanneer jy dit kan wees voor mense, is jy gebalanseerd, gebroke soos almal, maar gemaklik met jouself.
Agter ons innerlike egte mens lê dan die derde, diepste, donkerste vlak van ons menswees – ons skadukante. Dit is dikwels in ons onderbewuste, maar is dit dinge wat later op ongesonde maniere deursuur na ons selfbeeld en ons gedrag. Ons skadukante is die dele van onsself wat ons vir almal wil wegsteek – hiervan mag mense nie weet nie, niemand moet daarvan uitvind nie… Ongelukkig is dit so dat hierdie kante geskep word deur die negatiewe terugvoer wat ons as kinders kry vanaf ons ouers, onderwysers en ander mense, die terugvoer wat ons later leer om vir onsself te gee – bv: jy is nie goed genoeg nie, nie mooi genoeg nie, eet altyd te veel, kan nie vinnig hardloop nie, sal nooit ‘n sukses wees nie, ens.
Naas die skadukante wat ander vir ons skep of wat ons vir onsself skep, is daar natuurlik ook nog die skadukant van sonde wat elkeen van ons se lewens bedreig; ons inherente, eintlik ingebore neiging om toe te gee aan sonde, die versoekings waarteen ons so doelbewus moet veg anders kry dit ons onder.

Paulus bid dat die gelowiges wat heeltyd dink en hoor dat hulle nie goed genoeg is nie – dat hulle innerlik sterk sal word; dat hulle sal besef dat hulle ware, egte mens goed genoeg is – want elkeen het hulle bestaan aan die Vader te danke, elkeen is deur Hom geskep, en elkeen ís daarom goed genoeg. Dit is dus nie nodig om ego’s aan te neem waaragter die egte mens wegkruip nie. In die destydse konteks sou dit heel prakties beteken dat dit nie nodig is vir die nie-Joodse christene om hulle te laat besny en die rituele en kosreëls van die Jode na te kom ten einde as “volbloed” christene aanvaar te word nie. Hulle mag maar hulleself wees en nog steeds weet dat hulle volledig opgeneem word in die familie van God.

2. In die tweede plek bid Paulus dat God deur sy Gees aan die gelowiges krag sal gee “dat Christus deur geloof in julle harte sal woon.” Ons weet dat die NT gedagte van Christus wat in ons harte woon baie breër verwys na sy heerskappy oor ons ganse lewe, en nie ons fisiese hart nie. (As kinders het my ma soms vir ons vertel dat Liewe Jesus in ons hartjies woon, altyd meervoud gepraat omdat sy met ons al 3 saam gepraat het. Eendag toe ek en my suster so 3 jaar oud was het my ma die oggend my lang hare geborsel. Sy het so bietjie geruk en pluk en ek wou toe by haar weet of sy dan nou nie besig is om vir Liewe Jesus uit my haartjies uit te borsel nie?) Die Here woon nie net in ons hart nie. Hy is Here van ons hele lewe. Ons hele liggaam is immers die tempel van die Heilige Gees.
Die hartseer ding is egter dat ons nie vir die Here oral in ons lewens wil inlaat nie. Soos wat ons dele van onsself vir ander (en selfs soms vir onsself) wegsteek, so wil ons dit ook vir Here wegsteek. Ons wil hê dat Hy slegs ons blink christelike ego’s moet sien, maar ons is nie gemaklik om ons egte self vir Hom te wys nie, nog minder ons skadukante.
Om die Here in geloof in ons harte, dws ons lewens te laat woon, vra nie dat ons goed genoeg moet wees volgens menslike standaarde of moet verdien om Hom in ons lewens te kry nie. Geloof vra alleen dat ons Hom sal ontvang. Dit beteken ook nie hier dat ons Hom vir die eerste keer in ons lewens moet innooi nie. Hy woon immers reeds in die harte van die Efesiërs vir wie Paulus hier skryf. Maar sy inwoning by hulle is nog nie volledig nie. Dit is moontlik om in ‘n huis te woon, maar om nie al die kamers te gebruik nie. So het Christus dikwels nie vrye toegang en volle beheer oor ons lewens nie. Daar is deure wat ons toehou. Ons is ongemaklik om Hom in al ons kamers in te nooi. In die voorkamer is Hy natuurlik welkom – daar waar ons ego so ‘n mooi beeld na buite uitstraal. Ons binnekamers raak so bietjie persoonlik, in sommige kan Hy dalk kom, maar by ander hou ons eerder die deure toe. En wat ons agterste kamers betref, en ons solders, daar waar die stof van jare terug vergader en die rotte baljaar – daai deure hou ons dig toe gesluit. Ons wil nie hê dat die Here die sleutels van al die deure van ons lewens moet hê nie. Maar dit is geloof – geloof is ‘n proses waar onsself ten volle vir Hom oopmaak en aan Hom oorgee, in die vertroue dat Hy ons nooit sal verwerp nie, maar dat Hy veel eerder orals wil inkom sodat Hy kan kom skoonmaak en heelmaak en oopmaak sodat al die kamers van ons lewens lig en son kan kry.

3. In die derde plek bid Paulus dat God deur sy Gees aan die gelowiges krag sal gee om in liefde gewortel en gegrondves te wees. Hier word die woord agape gebruik, wat verwys na onvoorwaardelike liefde wat uitdrukking vind in ‘n nuwe, ‘n andersoortige manier van lewe. Dit is die opofferende liefde van Christus waarmee Hy die hele wêreld liefhet. Dit is die liefde wat ruimte maak vir mense – al verskil hulle van ons, al lyk en leef en doen hulle anders as ons, al dink hulle anders, ook al glo hulle anders as ons. Dit is die liefde wat maak dat ander mense, gebroke mense, mense wat nie baie van hulself dink nie, dat daardie mense by ons tuis en veilig voel – so tuis en veilig dat hulle gemaklik genoeg raak om ons in hul lewens in te nooi en deur hulle kamers te neem. Dit is die liefde wat maak dat ander hulself begin aanvaar, besef dat hulle waarde het, dat hulle uniek geskape is deur die Vader, dat hulle familie is van alle ander gelowiges, dat hulle tuishoort in ‘n gemeenskap van gelowiges wat mekaar aanvaar en bemoedig en ondersteun, en wat so ‘n helende beeld na die wêreld uitstraal.

Alleen wanneer ons die omvang van die liefde van Christus self ontdek en ervaar 1) word ons bevry om onsself te wees, en 2) kan iets van hierdie liefde van Hom in ons lewens gestalte vind. “Mag julle in staat wees, letterlik: mag julle sterk genoeg wees (Paulus bid mos vir krag!) om te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.”
– So wyd dat dit alle mense insluit, ongeag kleur, ras, taal, ryk, arm, sondaar …
– So ver dat dit strek van ewigheid tot ewigheid, voor die bestaan van die aarde tot verby sy einde
– So hoog tot in die hoogste hemele (1:3)
– So diep tot in die dieptes van die hel – ook daar het Christus sy liefde vir ons gaan plant

Mag julle die krag ontvang om innerlik sterk te word, om Christus deur die geloof in julle harte (lewens) te laat woon, en om gewortel en gegrondves te wees in die liefde. Mag julle hierdie liefde ken, mag dit julle verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal, in al julle kamers, gevul word met die volheid van God self. Ons identiteit lê nie in onsself nie, Goddank!, dit lê in Hom en in sy inwoning in ons lewens. Hy maak van ons nuwe mense.

“Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid.”
Amen.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.