Genesis 21:9-21

2 September 2012 – Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Liturgie-02-09-12 | Bulletin-02-09-12

Kliek hier om Genesis 21:9-21 te lees

Teks
Vs 8: Kinders is gespeen rondom die ouderdom van 2 of 3. In die lig van die hoë sterftesyfer in daardie tyd het babas dikwels nie oorleef nie. Wanneer ‘n baba dan in sy 2e of 3e jaar gespeen is, is dit as ‘n groot mylpaal beskou. Die eerste lewensfase is agter die rug en die kanse vir oorlewing is van nou af veel groter. Die familie het met die geleentheid ‘n groot fees gehou as ‘n tipe oorgangsrite vir die kindjie.
Vs 11: “Dit was boos/baie sleg in Abraham se oë”
Die naam “Ismael” kom nie in die teks voor nie. Die hele verhaal gaan oor Ismael maar hy word gedegradeer tot die “kind van die slavin”.
Vs 14 lett: “Hy het kos en water geneem en dit aan Hagar gegee daar op haar skouers, en hy het die seun (vir haar) gegee en hulle laat gaan (ontslaan)”; dws teks noem nie werklik dat hy die seun op haar rug getel het nie. Ismael was elk geval al so 16 jaar oud en dus te groot om deur sy ma ge-abba te word.
Vs 15: “neergesit” = “sy het hom oorgegee/alleen gelaat (abandon) om te sterf”
Vs 16: “sy het onbedaarlik begin huil”
Vs 18: “staan op, tel (>help) die kind op en hou jou hand in syne (>hou sy hand vas)…”

Boodskap
Hierdie verhaal begin eintlik al in Genesis 15 waar God ‘n verbond met Abram sluit en aan hom ‘n groot nageslag belowe. Die tyd het aangestap en Sarai het nie swanger geword nie. Sy het ‘n Egiptiese slavin gehad, Hagar, en Sarai het vir Abram aangemoedig om by Hagar te slaap, want, het sy gesê, “Die Here het my nou eenmaal daarvan weerhou om kinders te kan hê. Miskien bring sy ‘n kind in die wêreld wat my eie kan word” (16:2). Abram het met Sarai saamgestem en Hagar het toe wel swanger geword en ‘n seuntjie is gebore, wat Abram Ismael genoem het. Abram was 86 jaar oud toe Ismael gebore is. Hagar het vir Sarai verag omdat sy swanger geword het en die verhouding tussen die twee vrouens het vertroebel.

Toe Abram 99 jaar oud was het die Here weer aan hom verskyn, en sy naam verander na Abraham en Sarai se naam verander na Sara, want, het God gesê, “ek sal haar seën en vir jou ‘n seun uit haar gee” (17:16). Abraham het gelag en gedink: Hoe kan ‘n man van 100 en ‘n vrou van 90 ‘n kind in die wêreld bring? Later sou Sara ook lag oor hierdie belaglike belofte (18:15). Maar soos die Here beloof het, het Sara toe wel swanger geword en in hul rype ouderdom het sy en Abraham ‘n seuntjie gekry, Isak (wat beteken “lag”). En die kind van haar slavin Hagar, die kind Ismael wat sy as haar eie wou grootmaak, is skielik nie meer vir Sara so belangrik nie.

Op die dag van die fees het Sara toegekyk hoedat die seun van die slavin lag. Die kommentatore voer aan dat Ismael by die geleentheid besig was om met sy halfboetie Isak te speel. Dit is ‘n rustige prentjie wat voor Sara se oë afspeel, maar presies daar begin sy die gevaar vir haar eie seun aanvoel. En die oorsaak vir haar onrus lê in wat sy sien. Sy sien nie meer die seun wat sy so graag deur haar slavin Hagar as haar eie wou “aanneem” nie. Noudat sy haar eie seun het sien sy vir Ismael in ‘n nuwe lig – as die seun wat Hagar die Egiptiese slavin vir Abraham in die wêreld gebring het. As die seun wat as eersgeborene van sy pa haar eie seun se toekoms gedreig. En as sulks ook haar toekoms bedreig. Want die toekoms van ‘n vrou het by haar seun gelê. Die eersgeborene is die primêre erfgenaam, en dit kan Sara nie toelaat nie. Ismael, die kind van die slavin, mag nie as eersgeborene erf nie. Nie noudat sy haar eie seun uit haar eie liggaam gekry het nie. Vandaar haar harde opdrag aan Abraham dat hy die slavin en haar seun moet wegjaag. Sara praat so neerhalend oor hulle dat sy hulle nie eens by die naam noem nie. Dit is haar onversetlike ingrype ter wille van haar seun se toekoms wat haar dryf om so onverbiddellik op te tree.

Abraham wou nie aan Sara se versoek toegee nie. Hy het gedink dat dit heeltemal verkeerd, selfs wreed is om hierdie Ismael seun van hom weg te jaag. Maar God het vir hom gesê om nie sleg te voel oor die kind en sy slavin-byvrou nie, maar om te doen wat Sara vir hom sê. “Want,” herinner God hom, “uit Isak sal jou nageslag gebore word.” Maar dan voeg God die trooswoorde by, ‘n belofte: “Tog sal Ek die seun van die slavin ‘n nasie laat word, want hy is jou kind.”

Die volgende oggend het Abraham toe vir Hagar en die kind weggestuur, die Bersebawoestyn in. Die manier waarop hy die kos en water op Hagar se skouers sit en die kind vir haar gee, spreek diep. In hierdie gebare sit alles wat hy nie kan verwoord nie. Liefde en die begeerte om vir oulaas te versorg, maar terselfdertyd oorgawe, hartseer en afskeid.

Hagar en die kind het doelloos in die woestyn rondgeswerf, sonder heenkome. Die kos en water was nie genoeg om hulle deur te dra tot in Egipte, haar land van herkoms nie. Toe die water opraak het die uitsigloosheid Hagar oorval. Sy het gevoel dat sy nie kan toekyk hoe haar seun doodgaan nie. Daarom het sy hom onder ‘n doringbos agtergelaat, eintlik verwerp. Met die laaste bietjie menslikheid wat in haar oor was het sy haar seun die skadu van die doringbos gegun. En sy het ‘n ent daarvandaan gaan sit, omtrent so 90 meter, en onbedaarlik begin huil.

Hierdie verhaal is opgebou uit soveel onreg en wreedhede. ‘n Kind wat waarskynlik nooit daar moes wees nie word gebore omdat Sara en Abraham nie vir God vertrou in sy belofte van ‘n nageslag nie en konkel met hulle eie plannetjies om deur die slavin Hagar tog ‘n nageslag te verseker. Hulle wil God se belofte in eie krag tot vervulling bring. Sowat 13/14 jaar later vervul God wel sy aanvanklike belofte en Isak word uit Sara gebore. Na 2 of 3 jaar het Isak sy eerste kritiese lewensfase oorleef en die familie vier fees omdat ‘n toekoms inderdaad vir hom wink – hy sal na alle waarskynlikheid oorleef en ‘n volwassene word. En tydens die fees trek die oudste seun Ismael Sara se aandag. Die seun wat in die eerste plek die produk van haar slim plannetjies was, speel en lag saam met haar eie seun Isak, en Sara sien skielik met kommer die toekoms vooruit – ‘n toekomsblik waarin Ismael nou in die weg staan van Isak se erfporsie. Die bedreiging wat sy aanvoel maak dat sy drasties optree en daarop aandring dat Abraham die slavin en haar seun Ismael moet wegjaag. Sy moes geweet het dat hul kanse op oorlewing in die woestyn feitlik nul is – maar hoeveel te beter. Dan is die probleem heeltemal uit die weg geruim. Abraham skop teë. Hy kan nie dink dat hy sy seun Ismael en die se ma Hagar moet wegjaag nie. Maar God maak nogmaals ‘n belofte dat Abraham tog moet doen soos Sara sê, want dit ís uit Isak wat sy nageslag gebore sal word, maar dat Hy wat God is ook vir Ismael ‘n groot nasie sal laat word, want ook hy is Abraham se kind. En met hierdie belofte van God in sy hart laat Abraham dan die volgende oggend vroeg vir Hagar en Ismael gaan. Sara gooi haar aanneemkind weg. En Abraham stuur hom weg. Nie omdat hy iets verkeerds gedoen het nie. Bloot maar omdat hy nou in die pad is, hy is oorbodig, nie meer nodig nie. En dan in die woestyn gooi sy eie ma hom eintlik ook weg; nie omdat sy wil nie, maar omdat sy nie anders kan nie. Sy sien nie kans om saam met hom onder dieselfde bos te sit en toe te kyk hoe hy sterf nie. En sy begin onbedaarlik huil. ‘n Wrede verhaal vol ongeregtigheid.

Maar in wese is hierdie nie ‘n verhaal oor menslike wreedheid en afguns nie, maar oor die trou van God. Want die kind het ook gehuil, daar op sy eie onder die bos – wees en verstote, waar sy ouers hom nie meer wou hê nie. En Gód het die kind hoor huil, en ‘n engel het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: “Wat is dit Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy gelê gehóór” (17). Wanneer mense, en ouers, hulle koppe wegdraai en hulle ore sluit vir die nood van hul kinders, dan hoor God. “’Staan op (Hagar), help die kind op en hou sy hand vas, want Ek sal hom ‘n groot nasie laat word.’ Toe het God haar oë oopgemaak en sy het ‘n put met water gesien … God was by die kind en hy het grootgeword …”

Hierdie verhaal gaan oor Ismael. Dit is opvallend dat ons nooit sy naam in die storie lees nie. Daar word deurgaans na hom verwys as “die kind van die slavin” of bloot maar “die kind”. So asof die storieverteller al hierdeur wil wys hoe onbelangrik die kind nou regtig was. Hy is nie eens werd om by die naam genoem te word nie, verál nie noudat Isak – die kind van die belofte – uiteindelik gebore is nie. Maar op ‘n indirekte manier word Ismael se naam wel genoem, aan die begin en dan weer aan die einde van die belangrikste vers 17; en dan nie in die vorm van ‘n eienaam nie, maar as ‘n werkwoord: “Isma Elohim”. “Isma” beteken “hoor”. “Elohim” is die langer vorm van “El”, wat “God” beteken. “Isma El”, God het die kind gehoor – Ismael. Sy naam kry betekenis wanneer God betrokke raak. En dan het hy nie net ‘n noemnaam nie. Hy het ‘n werkwoord vir ‘n naam. Want God verander sy lot – Ismael, God hóor en God gryp in en God bring uitkoms. Die weggooikind van mense word die optelkind van God.

God is getrou aan sy beloftes. Hy het wel vir Isak, en nie vir Ismael nie, uitverkies om deur hom aan Abraham die groot nageslag te gee. Maar God se verkiesing van Isak beteken nie die verwerping van Ismael nie. Ook hy kry ‘n groot nageslag, ook aan hom toon God sy genade. In die Moslemwêreld word Ismael onthou as die eersgeborene van Abraham, en as hulle eie voorvader. God dink nie net aan die kind van die belofte nie. Hy dink aan al sy kinders. Hy dink met besondere deernis aan die kinders wat deur ander uitgesluit of weggegooi word. God hoor mense wat nie deur ander gehoor word nie. Hy hoor mense wat hoor nodig het.

“Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur,” sê die Here in Jes 49:15, “Ek sal jou nie vergeet nie.” ‘n Ma kan haar kind nie vergeet nie, sy kan nie haar rug draai op haar kind nie. Maar selfs al sou hierdie onmoontlike ding ‘n moontlikheid kon word – en dit gebeur tóg soms: Ouers wat sterf of oud word en daarom hul kinders vergeet, ma’s wat hul babas weggee, ma’s wat hul babas weggooi. Dit kan gebeur onder mense. Maar nooit by God nie. God hoor die gehuil van weses en weduwees, van mense wat verwerp is en nie ‘n tuiste het nie. En ‘n God wat hoor is ‘n God wat doen. Hy het Hagar se oë oopgemaak en sy het ‘n put met water gesien. Sy het die velsak vol water gemaak en vir die kind gegee. God was by die kind en hy het grootgeword. Hy het twaalf seuns gehad en ‘n groot nageslag (Gen 25).

God hoor ook vir ons, elkeen op ons eie manier soms ‘n weeskind. En Hy tel ons op, en Hy voorsien water. Hy gaan met ons op ons pad, Hy is altyd by ons, al het ander ons verlaat of vergeet of weggegooi. Jesus was self ook verlaat deur sy familie, en later deur sy Vader. God het sy kop weggedraai omdat hy nie wou toekyk hoe sy Seun sterf nie, Hy kon nie by wees nie. Dit het eenmaal gebeur – hierdie keer met die eersgebore Seun en die enigste wat self ook God was, sodat dit nooit weer hoef te gebeur met al sy ander kinders nie. En voordat die Seun gesterf het, het Hy op ‘n keer water vir ‘n Samaritaanse vrou by ‘n put aangebied – ‘n vrou wat al deur vyf mans is en op daardie stadium saam met ‘n sesde man was met wie sy nie getroud was nie. ‘n Verstote vrou, uitgeworpe, met ‘n klad teen haar naam, en nie in die bloedlyn van Isak nie. Een wat onder ‘n bos in die woestyn hoort. Vir haar het Hy gesê dat elkeen wat van die water drink wat Hy gee, nooit weer dors sal kry nie. Dat hierdie water ‘n fontein sal wees wat opborrel en vir ons die ewige lewe gee (Joh 4:13-14).

Mag jy ervaar dat God jou hoor wanneer jy huil, wanneer jy heeltemal alleen en verstote voel. Mag jy drink van die water Hy jou bied, en mag dit jou dors vir ewig les. En mag jy, as God se oor in hierdie wêreld, ook hóor wanneer ander kinders van Hom huil en uitroep om hulp.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.