Markus 7:24-30

9 September 2012 – Koninkrykstyd (Skepping Sondag)
Prediker: Bianca Botha

Liturgie-09-09-12 | Bulletin-09-09-12

Kliek hier om Markus 7:24-30 te lees

Ons bevind onsself tans in Koninkrykstyd – dié tyd van die jaar wanneer ons veral nadink oor wat die koninkryk van God behels, wat dit vir ons beteken, en tot ‘n sekere mate wat dit van ons vra.

Om enigsins iets van die koninkryk te kan begryp, moet ons egter ook iets begryp van wie Jesus is en wat Hy kom doen het. In Markus 7 skets die skrywer vir ons ‘n interessante en uitdagende beeld van Jesus Christus; een wat nie noodwendig klop met meeste van ons se idees oor wie Hy is nie.
En tog is hierdie teks in sy kern, ‘n teks wat boekdele spreek nie net oor wie Jesus is nie maar ook oor wat en waar Sy koninkryk is en behoort te wees.

Lees Markus 7: 24-30

Ons almal het al op een of ander tyd, op een of ander plek gevoel, hier hoort ek nie/hier pas ek net eenvoudig nie in nie. Jy stap in ‘n vertrek in en jy voel asof ALMAL vir jou kyk – en dis nie die goeie tipe kyke nie. “Hierdie mense hou nie van my nie,” dink jy. “Ek staan uit soos ‘n seer toon.” “O, ons moes toe nie volgens tema aantrek vir hierdie partytjie nie.” “Ek kan nie saam praat nie.” Dis asof daar ‘n groot rooi kennisgewing oor jou kop hang wat sê: “INDRINGER.”
Of miskien, aan die ander kant, het ons al na iemand gekyk en gedink: “Hoekom is hý hier?” of “Dis nie dat ek ‘n probleem het met hulle nie, maar hulle pas net nie in nie…”

Die verhaal oor die Siro-Fenisiese vrou begin kort na nog een van Jesus se vele intense konfrontasies met die Farisieers. In die gedeelte vooraf (Markus 7:1-23) het Hy in ‘n redenasie met hulle betrokke geraak oor die reinheidswette en aan hulle probeer verduidelik dat hulle verhouding tot God nie afhanklik is van hul reinheid volgens die wet nie, maar van dit wat in hulle harte aangaan.
Dit is te verstane dat Jesus teen hierdie tyd waarskynlik ‘n blaaskans nodig gehad het – soos meeste van ons sou na so ‘n konfrontasie. Ek lees nou die dag ‘n stuk oor Markus waar iemand skryf dat die eerste paar hoofstukke van dié Evangelie mens byna uitasem laat, want Jesus beweeg van die een mens na die ander; van een skare na die volgende, en hy kry skaars kans om te eet of te rus.

Met die oog daarop om dan wel ‘n bietjie te gaan rus en batterye te herlaai vertrek Hy dan na die gebied van Tirus, en steek Hy sodoende die grens oor tussen Palestina – wat grootliks uit Jode bestaan het – en die oorwegend heidens/Griekse gebied van Tirus (wat ons vandag as Libanon ken). Die inwoners van hierdie gebied staan histories bekend as die Jode se grootste vyande en daar het dus ‘n baie sterk spanning geheers tussen die Jode in Palestina en die nie-Jode in hierdie area.

Anders as wat ons sou dink wanneer ons hoor Jesus reis na ‘n heidense gebied, is sy motivering egter nie om sending te doen onder die heidene nie. Hy wou bloot uit die publieke oog kom, en reis daarom na die een plek waar niemand Hom sou soek of verwag Hy sou wees nie. Waarskynlik nie net om te rus nie, maar ook sy dissipels te gaan onderrig. Hoewel dit nie pertinent hier genoem word nie, was sy dissipels waarskynlik saam met hom. Die frase “Hy het in die huis ingegaan” word dikwels in Markus gebruik om aan te dui dat Jesus hulle gaan onderrig of insigte met hulle gaan deel. Hoe dit ook al sy, Hy wou bietjie wegkom.
MAAR ten spyte van Sy voorneme en behoeftes het die goeie nuus oor hierdie Jesus van Nasaret en sy wonderdade selfs die heidense gebied bereik en kon Hy selfs daar nie ongemerk bly nie.

En dan kom ons by die eerste van 2 (wat ek sommer gaan noem) wonderwerke in hierdie verhaal.
“’n Vrou wie se dogtertjie van ‘n bose gees besete was… het voor sy voete neergeval”
En voordat die verhaal verder kan gaan, word ons eers ingelig sy was boonop
“’n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is”
En sy, dié Siro-Fenisiese vrou, vra dan vir Jesus om haar dogtertjie te genees.

Nou, om die volle omvang hierdie gebeurtenis te verstaan moet ons die “eer en skaamte” kultuur van die tyd verstaan. In daardie tyd het jou waarde, en dus ook dit wat ons vandag as “regte” beskou, afgehang van jou posisie op die sosiale leer. Aan die bokant van hierdie leer was die mans, die base/leiers en die mense van jou eie kultuur (die Jode). Aan die onderkant was die vroue, kinders, slawe en heidene. Vir ‘n vrou, en dan boonop ‘n onverwante vrou, uit ‘n ander kultuurgroep, ‘n heiden om ‘n direkte versoek te rig aan ‘n Joodse Rabbi, was totaal en al onvanpas. (Baie meer onvanpas as om in ‘n cowboy-uitrusting by ‘n formele geleentheid op te daag.)

Tot ‘n mate herinner hierdie verhaal ons aan die genesing van Jaïrus se dogtertjie, maar daar is ook ‘n paar verskille: Jaïrus was in die eerste plek ‘n man. In die tweede plek ‘n Jood. En in die derde plek ‘n leier in die sinagoge. ‘n Joodse man met hoë aansien. Heel bo aan die leer. Daarteenoor lees ons in hierdie verhaal van ‘n Griekse, heidense, vrou, wat boonop gebore is in die gebied van die vyand.

As ons dan ingedagte hou dat Jesus grootgeword het binne die Joodse kultuur, en Hy dus onlosmaaklik daaraan verbind was – soos wat ons elkeen ook maar aan ons kultuur verbind is – is sy reaksie op haar versoek nie eintlik so vreemd nie. Dink maar hoe jou eie kulturele invloede jou en jou identiteit gevorm het; hoe dit jou optrede en denkraamwerke beïnvloed.
Jesus reageer bloot soos enige Joodse man sou: deur die eer van sy volk te beskerm. En ons kan dan natuurlik sê, maar Jesus is nie sommer net enige Joodse man nie… Die punt bly staan, Hy was ‘n Jood. En Hy, as Joodse Rabbi, sê dan vir haar:
“Wag dat die kinders (soos wat die Jode dikwels beskryf is – dws as die kinders van God) eers klaar eet, want dis nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies (‘n term wat algemeen gebruik is om heidene te beskryf) te gooi nie.”

Hierdie teks se gelyke kom in Matt.15 voor en hoewel dit lyk asof die vrou nie so straf behandel word in hierdie teks soos in Matt, waar Jesus haar aanvanklik totaal ignoreer nie, is hierdie steeds ‘n baie gelaaide stelling van Jesus se kant af. Hoewel heidene in daardie tyd algemeen as honde beskryf is, is dit nie minder van ‘n belediging as om iemand vandag ‘n hond te noem nie.
Honde was oor die algemeen (en veral in die Joodse kultuur) nie jou tipiese goed-versorgde labrador of worshondjie nie, maar vuil, onreine, straatbrakke wat maar geeet het wat ook al hulle in die strate kon kry. Die tipe waarvan jy so ver as moontlik wil wegbly en waarom jy wye draaie stap.
Die vrou word dus soos ‘n vuil hond afgejak.
Jesus maak dit duidelik aan haar dat Hy gekom het vir die kinders – dws vir SY volk, die Jode – om hulle te genees en te verlos.

Maar anders as in Matt. 15 (waarna julle gerus by die huis kan gaan kyk) voeg Hy hier die woord (“prooton”) “eers” in. In hierdie teks word die versoek van die vrou dus nie totaal van die hand gewys, soos in Matt. nie. Jesus laat haar bloot verstaan dat sy eerste prioriteit die uitverkore volk is; dat sy roeping eintlik is om die vervulling van God se beloftes aan hulle te wees. Vir die heidene sal daar wel genesing en verlossing wees, maar eers nadat die Jode dit ontvang het.

Nou kyk, asof dit nie erg genoeg is dat hierdie vreemde vrou so ‘n direkte versoek aan Jesus rig nie, durf sy dit dan nog om met Hom te redeneer ook. En dít deur Sy eie metafoor te gebruik. Interessant egter, is dat sy nie haar status as “hond” probeer bestry nie, maar wel praat van die hondjies wat die krummels onder die tafel eet en die metafoor sodoende verander van straatbrakke na die tipe honde wat wel in die huis mag kom en heel moontlik die aandag van die huisbewoners geniet.
Die aanhou van huishonde was nie ‘n algemene gebruik nie, maar wel een wat onder sommige Grieke voorgekom het.
Sy aanvaar dus steeds die voorrang van die Jode bo die heidene en maak geen aanspraak op hulle deel nie, maar stel dat selfs die krummels van dit wat die Jode ontvang (‘n handjievol in vergelyking met bakke vol) genoegsaam sal wees. God se dade van liefde, genesing en verlossing is so oorvloedig, dat selfs die krummels daarvan oorgenoeg is.
Deur dan te praat van die hondjies wat die krummels onder die tafel eet, maak sy ook die punt dat dit nie eers die een en dan die ander hoef te wees nie, maar dat die hondjies die krummels kan eet TERWYL die kinders aan tafel sit. Dat die Jode en die heidene se honger na genesing en verlossing terselfdetyd versadig kan word.

En dan gebeur, volgens my, die tweede wonderwerk in hierdie teksgedeelte.
Nie net is hierdie heidense vrou besig om te redeneer met Jesus, die Joodse Rabbi nie, maar Hy laat haar toe om die argument te wen!
“Ter wille van hierdie woord kan jy gaan,” sê Hy vir haar “die duiwel het uit jou dogter uitgevaar.”

Die enigste persoon in al vier Evangelies om ‘n argument met Jesus te wen is ‘n heiden en ‘n vrou; die persoon met die laagste status in die gemeenskap; die persoon met wie geen Jood hulle sou wou assosieer nie.
Ek is seker daarvan as Jesus wou sou hy haar argument kon kelder, maar Hy kies om die redenasie te verloor en hy laat haar toe om te wen.

Jesus verneder Homself.
Want binne die Joodse kultuur is dit wat Hy hier toelaat om te gebeur absolute vernedering. Maar Hy is bereid om teen sy eie kultuur en sy eie volk, en sy eie Joodse identiteit en sy eie argumente in te gaan, ter wille van inklusiwiteit. Ter wille daarvan om hierdie vrou toe te laat om deel te hê aan die koninkryk van God, is Christus, die Messias, bereid om Sy eer prys te gee. Hoewel sy kultuur en sy volk vir Hom belangrik is, is inklusiwiteit en menswaardigheid vir Hom veel belangriker.
Hierdie is dan ook die punt in Markus waar die insluiting van die heidene by God se verlossingsplan vir die Jode, begin. Hier, waar Jesus teen alle kulturele gebruike en wette ingaan.

Die feit van die saak is dat ons vandag nog tot ‘n groot mate binne ‘n eer en skaamte kultuur leef. Dis wel anders: vroue het regte en kinders word beskerm en slawehandel is onwettig, maar in realiteit is daar in meeste van ons gedagtes steeds mense wat ons verdra en wat ons selfs bereid is om te help, maar om wie ons, indien moontlik, wye draaie loop. Daar is steeds mense met wie ons tog net nie geassosieer wil word nie; mense wat uitgesluit word op grond van hul sosiale status, hul reinheidstatus, hul kultuur, hul seksualiteit, hul taal… die lys kan aangaan. Soms staan ons so vas in ons eie kultuur, of op ons eie standpunte, op dit wat ons glo reg is, dat ons mense verstoot en uitsluit; dat ons inklusiwiteit prysgee… Ons gebruik maklik verskonings soos “hulle dink anders as ons” of “hulle doen dinge op ‘n ander manier,” “hulle laat my ongemaklik voel,” “wat hulle doen is nie reg nie” maar Jesus het homself kom verneder om te wys dat dit nie is wat die koninkryk beteken nie.

Wanneer hy toelaat dat hierdie vrou die argument teen Hom wen, swaai Hy die deure van die koninkryk oop vir elkeen wat nog ooit gevoel het hulle hoort nie daar nie; wys hy vir sy dissipels en vir ons dat inklusiwiteit en menswaardigheid prioriteit geniet bo enige kulturele vooroordele, bo enige morele of ander standpunte, bo dit wat ons dink reg of goed is en veral bo ons eie eer en aansien. En veral vir ons, vir Pinelands NGK, moet hierdie boodskap na aan ons harte lê, want dit is tog die leuse van ons gemeente: “’n tuiste vir almal: inklusief, vol vergifnis, onvoorwaardelike aanvaarding van ander.”

Ek weet nie met wie jy vandag jouself assosieer nie. Miskien staan jy in die skoene van die dogtertjie en voel jy hulpeloos, buite beheer en oorgelewer aan die genade van die mense rondom jou.
Miskien staan jy aan die kant van die Siro-Fenisiese vrou en voel jy desperaat en noodgedwonge om in te tree en ‘n stem te wees vir die hulpeloses en oorgelewerdes in jou gemeenskap.
En miskien staan jy aan die kant van Jesus en die Jode en is dit nodig vir jou om jou eie eer prys te gee ter wille van inklusiwiteit en ter wille van jou naaste.

Jesus het die grense kom oorsteek en afgebreek, en maak nie saak aan watter kant van die lyn ons staan nie, ons behoort dieselfde te doen.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Bianca Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.