Markus 8:27-38

16 September 2012 – Koninkrykstyd (3de Skeppingsondag)
Prediker: Dr Tiana Bosman

Pinelands Liturgie-16-09-12

Kliek hier om Markus 8:27-38 te lees

Agtergrond

Ons het nou al ‘n redelike pad deur Markus gestap die afgelope maande. Vanaf hfst 1 waar Jesus begin preek, sy dissipels roep en wondergenesings begin verrig. In hfst 3 het ons gesien hoedat Hy sy weerstandsbeweging op die been bring met die amptelike aanstelling van die twaalf en deur sy eie familie verwerp word – omdat hulle hulle geskaam het vir sy optrede en sy woorde. Daarna fokus Hy in hfst 4 daarop om die mense dmv gelykenisse te leer. Toe Hy en sy dissipels op die meer na die oorkant vaar het ‘n geweldige storm losgebars, maar Jesus het die wind bestraf en die see tot bedaring gebring. Sy dissipels was met groot ontsag vervul (4:41) en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” En van nou af leef hierdie vraag heeltyd in hulle “Wie is hierdie man regtig? Die Een vir wie ons alles laat staan het? Hoe kan Hy hierdie dinge doen?”

Jesus genees nog mense en gaan daarna na sy tuisdorp, Nasaret, net om daar deur sy eie mense verwerp te word. Hulle het gereken hulle ken Hom, maar met sy besoek het Hy besef dat hulle inderwaarheid niks van Hom weet nie. Hulle eie vooroordele het hulle verblind. Hy onderrig die twaalf en stuur hulle uit om die evangelie te verkondig, duiwels uit te dryf en mense te genees. Sy Naam loop Hom vooruit en mense het begin praat (6:14-16). Koning Herodes verneem na hierdie Jesus, waarop sommige sê dat Hy Johannes is wat uit die dood opgewek is, ander sê Hy is Elia, en nog ander sê Hy is ‘n profeet soos een van die ou profete.
Intussen verrig Jesus steeds wonderwerke en gaan Hy voort om die skare te leer. In hfst 7 gaan rus Hy in die heidense gebied Tirus, soos ons laasweek gehoor het, net om daar deur ‘n opdringerige Griekse vrou lastig geval te word wat vir Hóm ‘n lessie in inklusiwiteit gee. Na nog ‘n paar wonderwerke – en midde in dit ‘n teregwysing vanaf Jesus omdat sy dissipels “steeds so traag is van begrip? Julle het oë, sien julle dan nie? Julle het ore, hoor julle dan nie?” (7:17-18) – kom ons by die laaste gedeelte van hfst 8, ons teksgedeelte vir vandag. ‘n Teks waarin dit blyk dat Petrus intussen “bygekom” het, nie meer so traag is van begrip nie, maar die lig gesien het oor wie Jesus dan nou éíntlik is…

Die gedeelte begin waar Jesus en sy dissipels na die dorpies naby Sesarea-Filippi gaan. Dit was ‘n heidense gebied waarbinne die Romeinse keiser geëer is, en name soos Seun van God, Verlosser en selfs God is aan hom toegeken. Diegene wat hulself in die gebied bevind het en nie aan die keiser die eer gegee het wat hom toekom nie, was met die dood strafbaar. Jy moes dus jou woorde tel, want jy weet nooit wie jou sou kon hoor nie.

Lees Markus 8:27-38
Vs 27: “Langs die pad” > “op die weg” na Jerusalem. Hierdie frase kom van nou af dikwels voor om Jesus se “op-weg-wees-na-Jerusalem”, sy eindbestemming, aan te dui. Hy beweeg nie nou meer net amper lukraak van plek tot plek om mense te leer en te genees nie. Daar is ‘n wending in sy bewegings, Hy het nou ‘n spesifieke doel voor oë, en daarvoor moet Hy na Jerusalem toe gaan. Hy wil graag sy dissipels met Hom saamneem op hierdie weg, vandaar dan sy vraag…
29: Petrus antwoord Hom baie gewaagd, inaggenome die gebied waarbinne hulle hul bevind…

Boodskap
Wat gaan hier aan? Hoekom lok Jesus die dissipels uit om te sê wie hulle dink Hy is, en wanneer Petrus dan letterlik sy eie lewe in gevaar stel deur vir die eerste keer ‘n bietjie insig te toon en reg te bely dat Jesus die Christus is, dan maak Jesus hom onmiddellik stil? Plaas dat Hy dankbaar is omdat iemand uiteindelik iets begin verstaan van wie Hy is en waarom Hy gekom het.

Net nadat Jesus dan vir Petrus vermaan het om ‘n wag voor sy mond te sit, begin Hy die dissipels leer met die mees onvanpaste en verregaande lering waarvan hulle nog ooit gehoor het. Hy praat van Homself as die Seun van die mens wat baie moet ly, wat deur die leiers verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan. Hy het ook nie doekies omgedraai nie, maar reguit met hulle gepraat. Dit is die eerste van drie kere dat Jesus sy dood en opstanding aankondig. Nou is Petrus die een wat Jesus eenkant neem (nogals heel pastoraal!) en vir Hóm berispe en probeer stilmaak. Maar Jesus draai kom, kyk vir die dissipels, en berispe op sy beurt vir Petrus en maak hom kwaai stil met ‘n aanklag waarin Hy vir Petrus “Satan” noem!

So: Eerste vra Jesus vir die dissipels wie sê hulle is Hy. Toe Petrus, op die hoogtepunt van sy geestelike lewe, bely dat Jesus die Christus is – dit is die eerste keer dat hierdie belydenis in Markus gemaak word behalwe vir 1:1 wat as opskrif van die boek dien – toe maak Jesus hom stil en belet Hy die dissipels om vir enigiemand te vertel wat Petrus pas kwytgeraak het. Hierna noem Jesus Homself ook nie weer die Christus nie, maar Hy verwys na Homself as die Seun van die mens, en sê boon-op dat Hy baie moet ly en selfs doodgemaak moet word. Petrus is ontsteld dat Jesus so oor Homself praat en probeer Hom daarom stilkry. Maar Jesus vererg Hom en noem vir Petrus “Satan”. Hy maak hom met dieselfde woorde stil as wat Hy twee maal vantevore die demone stilgemaak het! Petrus wat met die beste bedoelings op aarde probeer om eenkant vir Jesus van hierdie “vreeslike dwaling” af te kry om ‘n lydende persoon te word. Inderdaad: Wat gaan hier aan?

Ons het hier te make met een van die grootste misverstande, indien nie die heel grootste nie, van die Christelike geloof. ‘n Geloof wat voortvloei uit die Joodse geloof van die OT. Daar waar die volk twee maal in ballingskap weggevoer is, waar hulle alles verloor het – hulle mense, hul besittings asook hul identiteit – waar hulle onderdruk is deur die heersers en die magstrukture van die Babiloniese en die Persiese Ryk. Daar waar die profete opstaan uit die puin en die boodskap van hoop en bevryding begin verkondig. “Hou moed, hou uit, byt vas, in die lyn van Koning Dawid sal daar ‘n nuwe Koning kom, die Messias. Hy sal die verlossing bring. Hy sal ons vry maak. Hy sal op die troon sit en regeer. Hy sal ons volk herstel, en ons sal weer met hoop en vreugde kan leef.” Sedert die tyd van geweldige verliese en intense onderdrukking in die OT sien die volk met reikhalsende verlange uit na die dag waarop die belofte van die profete in vervulling sal gaan, die dag waarop die nuwe koning na vore sal tree, sy volk sal lei, en met militêre strategieë en geweld die Romeinse mag sal onttroon.

Die Hebr woord wat in die OT gebruik is vir die koning wat sal kom is “Messias”. In die Grieks van die NT is dit “Christus”. Dit beteken “Gesalfde” of “Koning”. Wanneer Petrus dus bely dat Jesus die Christus is, spreek hy hiermee sy verstaan uit van Jesus as die langverwagte Messias, die Christus wat op glorieryke wyse gekom het om die volk deur middel van ‘n politieke opstand te lei en te bevry. Petrus wil met sy belydenis sê dat die rewolusie op hande is.

Hiermee kan Jesus Homself egter nie vereenselwig nie. Dat Hy die Christus is, is waar, maar dat Hy die Christus is wat mense verwag het, dit is nie waar nie. En solank mense sy titel verkeerd gaan verstaan, kies Hy dat hulle hulle moet weerhou daarvan om dit te gebruik. Daarom doen Hy weg met die titel “Christus” en noem Hy Homself eerder die “Seun van die mens”. Jesus is die enigste een wat herhaaldelik so na Homself verwys. En Hy begin dan die dissipels leer wat die titel “Seun van die mens” beteken. In híérdie titel lê sy roeping opgesluit, sy taak, die rede waarom Hy op weg is na Jerusalem: Hy sal baie moet ly, Hy sal verwerp word en Hy sal doodgemaak word. Niks sê dit beter as “Seun van die mens” nie – Seun van God wat volledig mens geword het, wat afsien van die beeld van heerlikheid en glorie wat mense vir Hom in gedagte het, wat nie gekom het om ander te laat ly en om die lewe te bring nie, maar om self te ly en te sterf. Hierdie roeping van Jesus is wel ook ‘n politieke roeping, dit is ‘n rewolusie, maar nie een wat gedryf word deur mag en geweld nie.

As Petrus Hom dan probeer stilmaak sien Jesus die werke van die duiwel in Petrus se gedagtes. Net voor Jesus sy openbare bediening begin het, het die duiwel Hom reeds in die woestyn versoek om van sy rol as lydende Messias af te sien. Die volgende aanval is deur Jesus se grootste vertroueling – Petrus. En die duiwel gebruik hom op die hoogtepunt van sy insig oor wie Jesus is! (Dis dalk ‘n goeie waarskuwing – mens se geestelike hoogtepunte is nie altyd die veiligste tye in jou lewe nie!)  Die verskriklike is juis dat Petrus die regte belydenis oor Jesus kan uitspreek, maar steeds die perspektief van die Satan verteenwoordig! Jesus ontmasker die Satan wat nie dink aan wat God wil hê nie (‘n lydende Messias), maar aan wat die mense wil hê (‘n grote triomfantlike Messias!) Petrus se fantasieë van mag moet afgebreek word deur duidelike en helder realisme.

En toe roep Jesus die ander mense wat daar was nader, en Hy leer hulle saam met die dissipels wat dit hulle sal kos as hulle kies om agter Hom aan te stap as die Seun van die mens, en nie as die Messias soos hulle dit wil verstaan nie.

“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.”

Om jouself te verloën – Dit gaan nie hier om die ontkenning van persoonlike ervaringe of jou eie unieke menswees of jou menslike regte nie. Dit gaan wel om ‘n roepe weg van ‘n selfgesentreerde lewe waar jy vir jouself die belangrikste persoon in die wêreld is, na ‘n lewe wat gerig word deur die liefde van God. ‘n Liefde wat in opstand kom teen onderdrukkende magstrukture en dit uitdaag, selfs (of juis omdat) al is jy nie die een wat onderdruk word nie.

Dit vra ‘n bereidwilligheid om agv hierdie radikale liefde jou kruis op te neem. En dan nie in die vorm van ‘n hangertjie om jou nek of as metafoor vir persoonlike lyding, soos bv die slagspreuk van “elke huis het sy kruis” en daaronder gaan ons gebuk, maar dit moet jy maar gelate aanvaar en voortstrompel onder die las daarvan en in die hoop van ‘n hemelse beloning eendag nie. Dit gaan nie om ‘n passiewe aanvaarding van jou lot nie. Hierdie verstaan van kruisdra het nie in Markus se tyd bestaan nie. Toe hy sy evangelie geskryf het was daar ‘n Joodse opstand aan die broei, met die gevolg dat fisiese houtkruise algemeen voorgekom het. Dit was die wrede vorm van doodstraf wat deur die keiser opgelê is vir almal wat polities andersdenkend was – dus ook vir almal wat nie meer die keiser as God aanbid het nie, maar wat bereid is om te bely dat hierdie Jesus man die ware Messias is. Indien iemand tydens hul ondervraging deur die regering se veiligheidsmagte sou erken dat hulle hul vereenselwig met die heerskappy van God, sou dit klagtes van opruiendheid meebring in ‘n wêreld waar Caesar alleen as heer erken mag word. Selfverloëning gaan dus om baie duur politieke keuses. Jesus roep ons tot ‘n bereidheid om tereggestel te word as dit is wat dit vra om sy heerskappy te bely in ‘n land of ‘n gebied waar ander heersers (skynbaar) die hef in die hand het. In die aanloop tot die opstand het die Joodse nasionaliste die volk aangemoedig om die swaard op te neem teen Rome. Hierteenoor kom Jesus met die radikale andersoortige roeping om die kruis op te neem. Om aktief bereid te wees daartoe, om aktief gereed te maak vir hierdie pad, op weg na Jerusalem, op weg na Golgota.

Ons moet versigtig wees om die kruise wat ons dra te vinnig te vergeestelik. Dit het eintlik niks met die geestelike te doen nie, maar alles met die werklike lewe – daar waar mense uitgebuit word, onderdruk word, verneder word, daar waar hulle van hul regte ontneem word, daar waar kinders se regte op veilige huise en opvoeding en onderrig hulle ontneem word, daar waar weerlose mense in vrees lewe omdat moordenaars en verkragters in die strate loop,  en omdat mense nie meer weet of hulle hul kinders kan leer om die polisie of die dominee of die onderwyser te vertrou of nie. Dit is om in opstand te kom teen alle magte wat in die weg staan van die heerskappy van God op aarde. Dit is om strukture wat ongeregtigheid in stand hou, aktief teen te staan en om nuwe strukture op te rig wat gebou is op geregtigheid en vrede en integriteit. Daar waar jy jou kruis opneem omdat jy glo in wat reg is, en omdat jy doen wat reg is, nie ter wille van jouself nie, maar ter wille van ander wat jou nodig het, ter wille van die koms van die koninkryk. Dit kan selfs beteken dat jy jou lewe verloor, maar dan nie omdat ander dit neem nie, maar omdat jy bewustelik bereid was om dit te gee. Soos Bonhoeffer, wie se gebed ons netnou gelees het. As vooraanstaande Duitse akademikus was hy in die posisie om veilig en gemaklik te leef, maar omdat hy opgestaan het vir wat reg is was hy lank in die tronk, is hy enkele dae voor die einde van WO2 aan die galg tereggestel, en is sy liggaam op ‘n hoop saam met ‘n klomp Joodse lyke brandgesteek. En voordat hy die trappies na die galg geklim het het hy gekniel en bewustelik rustig vir die laaste maal tot God gebid. Hy kon dit doen want hy het vooraf geweet wat hy kies en waantoe dit hom kon neem. Die bekendste boek wat hy geskryf het, het immers die titel The Cost of Discipleship.

Elkeen wat op die wyse homself verloën, sy kruis opneem en vir Jesus volg, diegene wat bereid is om hul lewens vir Christus en die evangelie te verloor, dít is die mense wat op die ou-end hul lewe sal behou. Daarom kon Bonhoeffer voor sy teregstelling in sy laaste afskeidwoorde aan sy vriende sê: “This is the end, for me the beginning of life”. Daarom kon Jesus, die lydende Christus, aan die kruis net voordat hy sy laaste asemteug uitblaas, sy volvoering van sy roeping aankondig, die klimaks van sy aktiewe taak op aarde, die oorwinning in die oomblik van sy sterwe: “Dit is volbring.” Hy wás die Messias, die langverwagte Christus, die Koning wat sou kom. Hy was dit net gans anders as wat die mense verwag het. Hy het gekies om op aarde van die kruis sy troon te maak.

Practice what you preach. As jy vir Jesus as Christus bely, maak seker dat jy wéét wat jy sê. Hy het as die lydende Christus gekom. Dáárin lê sy aktiewe roeping. Ons wil onsself mos christene noem, afgelei van Christus. As jy nie werklik ‘n christen kan of wil wees nie, moet jouself nie so noem nie. Moet ook nie dan oor Christus praat asof jy Hom ken nie. So doen jy meer skade as goed.

Petrus, wat die dissipelkring verteenwoordig, het reg bely, maar verkeerd verstaan. En nadat Jesus hulle drie maal reguit geleer het van sy lyding het Petrus wel by die punt gekom waar hy in woord bereid was om homself te verloën (14:31). Maar toe die oomblik van waarheid aanbreek het sy moed hom begewe en ontken hy enige assosiasies met hierdie Jesus man.Die heel laaste woorde wat Petrus in die evangelie sê, is nie ‘n belydenis nie, maar ‘n eed van ontkenning en verwerping.

Wat wil jy glo oor Jesus? Want dit gaan bepaal hoe jy leef; waarvoor jy leef en vir W/wie jy leef … of sterf.
Wie, sê jy, is Hy?
 

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.