Psalm 8

23 September 2012 – Koninkrykstyd (4de en laaste Skeppingsondag)
Prediker: Dr Tiana Bosman

 Pinelands Liturgie-23-09-12

Kliek hier om Psalm 8 te lees

Agtergrond

Opskrif: Vele psalms wat aan Dawid toegeskryf word, is nie werklik deur hom persoonlik geskryf nie. Soos byvoorbeeld hierdie een. Die gedagte was nie om te jok oor die outeurskap nie, maar eerder om ‘n mate van gesag aan die psalm te verleen deur dit te koppel aan die naam van Koning Dawid. Hierdie opskrifte was dus nie altyd oorspronklik deel van die psalm nie, maar is later toegevoeg wanneer die psalm bekend genoeg geword het dat dit deur die volksmond gesing of gebid is en as sulks nie net die belydenis van ‘n individu gebly het nie, maar opgeneem is in die geloofsboek en identiteitsboek van die volk.

Boodskap

Hier vind ons die eerste lofpsalm in die Psalmboek, gesing deur ‘n persoon, waarskynlik waar hy laat in die aand op die plat dak van sy nederige huisie in Palestina sit, of iewers in die veld waar hy as skaapwagter op sy rug lê terwyl die skape om hom slaap. Hy kyk op na die nagtelike hemelruim en ‘n loflied bars oor sy lippe: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!” So begin hy sy lied, en nadat hy hierdie belydenis op sy eenvoudige manier probeer uitpak, sluit hy die lied af soos wat hy begin het: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!” Hierdie is een van die min psalms waar daar nie bloot óór God gepraat word nie, maar deurentyd mét Hom.

In die OT tyd was die gebruik van die volk om oor God se Naam te praat wanneer hulle eintlik na sy teenwoordigheid verwys. So die digter besing hier die wonderbare teenwoordigheid van God oor die ganse aarde. En hierdie teenwoordigheid blyk nêrens duideliker as in die manier waarop Hy geskep het nie: Hoe glansryk is alles wat U in die hemelruim geplaas het! Kinders en suigelinge, dws die kleintjies en die eenvoudiges onder ons, sien raak wat U geskep het, en deur die lof wat húlle bring, word u vyande en die wraakgieriges tot swye gebring, moet hulle hul monde toemaak in skaamte.

Dis merkwaardig dat die eerlike en eenvoudige lof van kinders op die ou-end die oorsaak is dat God se vyande oor hul woorde begin struikel en nie meer sulke klinkklare antwoorde op al die maniere het hoe hulle God buite rekening laat nie. Die slimmes en die geleerdes onder ons tel die swaard van wetenskaplike kennis en debatvoering op, ons verstrengel onsself in teorieë oor die skepping, en evolusie, en die omvang van die biljoene jare se ontwikkeling, en die hoeveelheid ligjare wat die afstand tussen die aarde en die son en die maan en planete en sterre (selfs die wat nie meer bestaan nie, al sien ons hulle nog!) van mekaar af is. En ons word so vasgevang in hierdie redenasies dat nie ons of ons opponente aan die einde van die gesprek weet waar ons onsself nou weer midde dit alles bevind nie. Ons gryp die teleskoop en skiet ons feite soos met ‘n haelgeweer die ongelowige wêreld in. Ons doen dieselfde met die mikroskoop – beskou onsself en die plante en die diere in die fynste besonderhede, sodat ons ons geloof in die wonderbare Skepper met wetenskaplike feite kan begrond. Kyk hoe wonderlik, kyk hoe kompleks is alles gemaak – daar móét tog ‘n Skepper wees! En tóg – vir elke argument is daar ‘n teenargument, vir elke siening dat God bestaan is daar ‘n siening dat Hy nie bestaan nie, vir elke bewys dat God skep, is daar ‘n bewys dat die aarde, en die heelal, uit die niet bestaan het en binne bepaalde ritmes haarself skep en onderhou. Feite skep skeptisisme. En die punt van Psalm 8 is nie skeptisisme nie, maar verwondering; dit is nie detail nie, maar eenvoud. Daarin is die oorredingskrag wat in die monde van kinders lê. In die fliek Die Wonderwerker praat Eugené Marais daarvan om “gemesmerise” te word , om betower te word deur dinge so eenvoudig soos mierneste en termiete en bobbejane.

Omdat die digter by kinders geleer het hoe om oortuigend oor God en sy skepping te praat, gaan hy dan op dieselfde trant voort: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U (lett) daar vasgemaak het…” Is God ‘n mens dat Hy vingers kan hê waarmee Hy kan werk? Nee. Het Hy die maan en die sterre so in die heelal vasgemaak soos wat ‘n naaldwerkster knope op ‘n hemp vaswerk? Nee. Maar as ‘n kind vir jou sê hy of sy kyk na bo en, en sowaar!, dit is wat hulle sien? Is die kind dan verkeerd? Nee! Wie kan nou ‘n beter beskrywing gee van wat daar bo in die hemelruim aangaan as dit! Dis ‘n ander manier van praat, maar dit maak dit nie verkeerd nie. Dit maak dit net soveel meer verstaanbaar. Veral wanneer dit dinge aangaan wat eintlik so groot en so wonderlik is dat ons in elk geval nie in staat is om dit “reg” te beskryf nie, want ons soeke na die “regte” beskrywings ontbreek altyd aan nog feite en bestaan altyd uit nog onbeantwoorde vrae – soos bv oor God, en sy skepping.

Daarom: “As ek na u hemel kyk, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat u daar vasgemaak het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U hom versorg?” Wie is ek nou eintlik, mensekind onder hierdie geweldige uitspansel van die hemelgewelf? Wie is ek dat U met mý bemoeienis maak, dat U aan mý dink, en mý versorg? Want binne die groter prentjie raak ons in alle nederigheid bewus van ons eie plek, raak ons bewus van ons broosheid, ons nietigheid, ons níks.

Die vraag “Wat is die mens?” is ‘n wesensvraag waarmee ons keer op keer deur alle eeue gekonfronteer word. Die volk het reeds in die OT daarmee geworstel. Die Franse filosoof René Descartes het gesê: “Ek dink, daarom is ek.” Die kerkvader Augustinus het baie gedink en nog steeds nie geweet wie hy is nie. Uiteindelik het hy sy hande in die lug gegooi en uitgeroep: “Ek het vir myself tot raaisel geword!” Die Franse christen filosoof Blaisse Pascal het op sy beurt weer oor sy denke rondom die mens opgemerk: “Wat ‘n nuutheid, wat ‘n monster, wat ‘n chaos vol teenstrydighede, wat ‘n merkwaardige produk!”  Verlede jaar het ‘n boek deur die Duitse joernalis en filosoof Richard Precht verskyn met die titel: “Who am I? And if so, how many?”  Hierdie kernvraag van Psalm 8 is inderdaad ‘n kernvraag deur die geskiedenis heen.

Nadat die digter eerste bewus word van sy nietigheid as brose mens binne die grootse skepping, en dan tóg verwonderd kan wees oor die feit dat God met hóm bemoeienis maak, hy wat eintlik maar gelyk is aan niks; dan swaai die psalm om en besef die digter dat die feit dat God met hom bemoeienis maak, van hom ‘n iets maak en nie ‘n niks nie. Om die waarheid te sê – God se betrokkenheid by die mens maak van hom baie meer as ‘n iets. Daarom kan die digter bely dat God ons net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese, letterlik net ‘n bietjie minder as ‘n god self, gemaak het! Dat Hy ons met aansien en eer gekroon het – ja, Hy sit selfs ‘n kroon op ons koppe – en Hy laat ons heers oor die werke van sy hande, Hy het letterlik “alles onder ons voete gestel” (vs 7) – álles, sy ganse skepping: die skape en die beeste, die wilde diere in die veld, die voëls in die lug en die visse in die see, en alles wat die oseane deurkruis, ja, selfs die seemonsters en die chaosmagte in die see wat in daardie tyd groot vrees by die volke ingeboesem het!

“As ek bo my na die nagtelike uitspansel kyk, wie is ek, nietige mensekind, dat ek oor dit wat onder my voete is mag heers?” (vs 4a, 5, 7b). Die digter is vertroud met die skeppingsverhaal van Genesis 1 – daar waar hy al geleer het dat die mens na die beeld van God geskep is (1:26-27), dat God aan hom die opdrag gee om te heers oor die skepping (28), en dat God na alles gekyk het wat Hy gemaak het, en dit was baie goed (31). Ons is na die beeld van God geskape. As Hy ons, in die beskrywing van kinders, met sy vingers aanmekaargesit het, dan beteken beelddraers dat sy vingerafdrukke op ons is. Dáárin lê ons grootsheid, dáárin lê ons waardigheid, dáárin lê ons opdrag en ons roeping om te heers – nie soos magtige regeerders wat op oorlogsperde alles voor ons en onder ons voete uitwis nie, maar soos begenadigde mense wat onverdiende krone op ons koppe gekry het sodat ons soos mense kan heers wat kies om op donkies te ry en versorgend en dienend na die aarde en die geringes op die aarde om te sien.

Augustinus kon later in sy lewe veel meer positief oor die mens praat toe hy sê: “Iets groots het ons geword, laat niemand homself verag nie: ons was niks, ons is iets. Ons het aan die Here gesê: ‘Dink daaraan dat ons stof is.’ Maar Hy het van die stof ‘n mens gemaak en aan die stof die lewe gegee en in Christus ons Here, die stof na die hemele gevoer. Wat is die wonderlikste: Dat Hy wat God is, mens word, of dat hy wat mens is, ‘n mens van God [genoem] word.”

God het geskep. Psalm 8 besing in die eerste plek die Skepper, nie die skepping nie. Dit is met lof aan die Skepper dat die psalm begin en ook eindig. Sy Naam is oor die hele aarde – Hy is teenwoordig. Die aarde is deurdrenk van God self. Hy het ons na sy beeld geskep, om as sy medewerkers saam met Hom te heers oor hierdie aarde. Toe sy godheid nie vir ons sigbaar was nie en toe ons ons identiteit en roeping as beelddraers nie verstaan het nie, toe herskep Hy Homself as mens, om as Mens te kom wys hoe ons die beeld van God moet weerspieël, sodat ons vingerdrukke as’t ware sy vingerafdrukke kan word. Die mens is so klein, en God maak ons só gróót. Ons kan eintlik net ons hande op ons monde sit en oopmond staar … totdat ons nie anders kan as om in lof uit te breek nie: Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!”

 

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.