Deuteronomium 6

23 September 2012 – Koninkrykstyd (Dankfees)
Prediker: Dr Tiana Bosman

PinelandsLiturgie-04-11-12

Kliek hier om Deuteronomium 6 te lees

Agtergrond

Moses het pas vir die tweede keer die 10 Gebooie aan die Israeliete voorgehou (Deut 5).

Notas

Vs 4: Shema Israel, Luister Israel. Die naam van die Joodse oggend- en aandgebede. Inhoud daarvan: Die Here is die enigste Here –dws Hy alleen is Here OF Hy is uniek. Dit is die belangrikste deel van die Joodse gebede. Tradisie-vaste Jode resiteer die Shema as hulle laaste woorde voor hul sterf, en ouers leer hulle kinders om dit te bid voordat hulle in die aand gaan slaap.
Vs 5: Liefhê – gaan nie hier om emosionele liefde nie, maar eerder om lojaliteit en toewyding aan die Here.
Hart: die setel van mens se denke
Siel: jou hele lewe/wese
Dws jy moet aan die Here lojaal en toegewyd wees met jou verstand en met jou lewe en met al jou krag.
Vs 6: Lett: Moet in jou hart, dws jou gedagtes bly.
Vs 7: Jy moet dit weer en weer herhaal (resiteer) vir jou kinders
Vs 8: vasbind aan jou voorarm… Latere Joodse tradisie het na die klein leerhouertjies wat aan die voorarms en voorkoppe vasgebind was, verwys as tefillin. Hulle het die vlg gedeeltes uit die torah bevat Eks 13:1-10, 11-16; Deut 6:5-9; 11:13-21. Die doel: om te dien as ‘n teken van die verbondsverhouding en gehoorsaamheid.
Die skynheilige praktyk om hierdie “boksie-tipe”houers voor die voorkop te dra sonder opregtheid van hart het gemaak dat Jesus baie sarkasties daaroor gepraat het (Mat 23:5)

Boodskap

Julle onthou seker almal die Afrikaanse liefdesliedjie “Onthou om te onthou … vergeet om te vergeet”. Hierdie lied kon net sowel ‘n christelike lied gewees het, ‘n psalm. Want die Christelike geloof is ‘n onthou-religie. Ons het dit laasweek ook gehoor met die lees van Psalm 126. Ons leef tussen herinnering en hoop. Ons het ‘n gemeenskaplike boek met geskiedenis en stories en getuienisse in wat ons aan mekaar saambind. Ons lees die boek saam, ons praat daaroor, ons leer ons kinders daarvan. In die boek leer ons vir God ken, en vir Jesus. Hierdie boek is identiteitsvormend, want ons leer ook onsself ken.

Dit is hoekom daar ‘n Sondag is, en ‘n kerklike jaar met verskillende seisoene, en hoekom ons kerk toe kom, hoekom daar verskillende elemente en rituele in die erediens is. Lofprysing, gebede, vredesgroet, skuldbelydenis, geloofsbelydenis, Skriflesing, die prediking, nagmaal, offergawes, danksegging, seëninge – alles maniere waardeur ons herinner word aan wie God is, aan wie onsself is, en waar ons vandaan kom, die pad wat God met ons kom loop het, en hoedat Hy telkens weer met ons oor begin en aan ons ‘n identiteit gee wat ons nie verdien nie, maar wat aan ons toegesê word omdat Hy nie bereid is om ons te laat gaan nie. ‘n Dik boek vol verhale wat hiervan getuig. En waarby ons nog ons eie persoonlike verhale ook kan voeg.

Om te onthou, sê Dirkie Smit, is die mees basiese Christelike deug wat mens kry. Dit is dan ook waartoe Deut 6 ons oproep. Om te onthou – vandag hier by die kerk in die diens, maar ook elke ander dag, ook by ons huise waar ons met ons kinders en kleinkinders daaroor praat, en wanneer ons oppad is, by die werk, by die skool, by die winkel, wanneer jy gaan slaap en wanneer jy opstaan.

In die eerste plek moet ons onthou wie God is. Ons moet onthou hoedat Hy Hom van die begin af met die mensdom bemoei het. En toe dinge skeefgeloop het, hoedat Hy oor begin het. En hoedat Hy ‘n klein nietige ou volkie raakgesien het wat as slawe in Egipte gewerk het, en Hy het hulle bevry en aan hulle ‘n goeie land gegee, ‘n land van melk en heuning, met huise en landerye en voorrade en vrugteboorde en kos waarvoor hulle nie gewerk nie. Die Here het hulle geseën.

Ons moet ook die ongehoorsaamheid van die volk onthou. Keer op keer. Hoedat hulle die Here begin vergeet en ander gode aanhang, hoedat hulle die geduld van die Here op die proef stel en sy gebooie verontagsaam. Die verskriklike gevolge van hulle dade en hoedat God maar elke keer weer oor begin.

Ons, as Nuwe Testamentiese gelowiges, het veel meer om te onthou as die Israeliete van ouds. Ons moet onthou van Jesus, wie Hy is en waarom Hy mens geword het. Ons gaan juis nou die Adventstyd in en oor twee weke gaan die kinders in die diens vir ons die storie van sy geboorte vertel. Ons moet onthou van sy bediening aan die Jode. Maar ons moet ook onthou hoedat Hy die mure tussen mense en groepe kom afbreek het, en hoedat Hy die eerste gebod van liefde vir God eksplisiet kom uitbou het om liefde vir die naaste in te sluit. En hoedat Hy deur sy lewe en gelykenisse kom wys het dat ons naastes dikwels mense is wat anderkant ons eie grense lê. Na Jesus se dood en sy opstanding is daar nie meer een spesiale volk wat voorrang geniet nie. Almal is op gelyke voet voor God en sy kinders is almal wat bereid is om sy naam te bely. Geen mens of groep het meer die reg om ander mense of groepe uit te sluit nie. Die goeie nuus van die evangelie, van Jesus se koms en sy oorwinning, is vir die hele wêreld bedoel. Ons moet ook dit onthou. En dankbaar wees daaroor. Want daar is waarskynlik nie een van ons hier wat Joodse bloed in ons are het nie. Meeste van ons se voorouers was heidene wat van Europa af oorgekom het na Suid-Afrika toe. Juis omdat Jesus die grense kom afbreek het tussen Jode en heidene kan ook ons vanoggend hier sit. En word die kerk die nuwe Israel. In die proses moet ons verder onthou dat ons ‘n algemene christelike katolieke kerk bely – ‘n kerk sonder grense.

Dan moet ons ook ons eie verhale nie vergeet nie. Ons geskiedenis. Die afgelope honderd jaar en wat alles in die wêreld gebeur het. Die holocaust in Europa, rassisme in Amerika, apartheid in Suid-Afrika, die oorlog tussen China en Japan in die Ooste, ons eie grensoorloë, die geweld in Sirië op die oomblik. Dit kan tog nie wees wat God in gedagte gehad het nie? Iewers langs die pad het mense en volke wat hulleself christene noem, van God vergeet, en van sy gebooie. Dit terwyl ons opgeroep word om asb tog net nie te vergeet nie! Ter wille van die toekoms moet ons die verlede onthou, sodat ons daaruit kan leer, sodat ons die foute dalk in die toekoms kan vermy.

En ons moenie ons eie verhale vergeet nie. Veral ook nie ons persoonlike skuld en ons skandes, ons verkeerdhede nie. Ons moet dit ook nie probeer wegsteek nie. Ons moet bereid wees om ons geskiedenis in die oë te kyk en om daarvan te vertel. Ons moet bereid wees om dit te bely – voor God en ook voor mense. Ook voor onsself. Almal van ons het al afdraaipaaie geneem, of is dalk tans op een. Ons moet dit nie probeer goedpraat nie. Ons moet dit erken en bely.

En dan moet ons onthou dat dit vergewe is. Nie net die sondes van die volk Israel nie, nie net die onvermoë van die dissipels om te verstaan nie, nie net die groot misdade wat al in die geskiedenis gepleeg is nie, maar ook ons eie persoonlike skulde en skandes, ook die bloedbevlekte bladsye van ons eie stories – ook dit is vergewe. As ons nie naas alles ook onthou dat ons vergewe is nie, dan word ons gevangenisse van ons verlede. Dit terwyl die Here reeds die tronkdeure oopgesluit het sodat ons buite, in die sonskyn, ‘n vry toekoms tegemoet kan gaan. As ons nie onthou dat ons vergewe is nie, dan is dit asof ons steeds as slawe in Egipte klippe kap, dit terwyl ons boeie al lankal afgehaal is.

En wanneer ons as vry mense buitentoe stap, die sonskyn tegemoet, en ons sien die mense wat ons kwaad aangedoen het daar staan, dan moet ons ook onthou om hulle te vergewe. Om te onthou is die mees basiese christelike deug. En om te vergeet kan sonde wees – omdat ons dikwels so doelbewus vergeet, so doelbewus nie herinner wil word nie. Daarom lees ons liewer nie meer die koerant nie, en kyk ons nie meer nuus nie – want ons wíl nie weet nie. Om nie te wíl weet wat om jou aangaan nie, is sonde. Maar soms kan onthou ook sonde wees. Want die dinge wat vergewe is, kan en moet vergeet word. Om iemand se sonde heeltyd te onthou, om onsself heeltyd daaraan te herinner, om ou koeie uit die sloot te grawe en dieselfde dinge oor en oor op te haal – dit is sonde, sê Jesus in Matt 18. Christene wat onthou dat hulleself vrygekoop is uit hulle slawerny en ook uit hulle sonde, is mense wat kan onthou om ander hul vryheid te gun.

Wanneer ons onthou om hierdie boek te lees en daaroor te praat – nie net Sondae in die kerk nie, maar daagliks en oral – en wanneer ons dit weer en weer vir ons kinders vertel, en hulle daaraan herinner met tekens en rituele en ons lewens, dan kan ons nie anders as om uit dankbaarheid te leef nie, want onthou: “Ons was in Egipte die farao se slawe, en die Here het ons daar deur sy magtige dade bevry…” En ons was verlore in ons sonde en van God vervreem, maar Jesus het ons vrygekoop en ons verhouding met God is herstel. Hy maak ons sy kinders. Hy noem ons sy kinders. Onthou om te onthou…

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.