Markus 9:30-50

30 September 2012 – Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Kliek hier om Markus 9 te lees

Agtergrond

Twee weke gelede het ons Markus 8: 27-38 gelees. Daar waar die wending in Markus se verhaal kom. Jesus is van nou af op die pad (op weg) na Jerusalem – ‘n frase wat nou herhaaldelik gebruik sal word om Jesus se eindbestemming aan te dui: sy aktiewe “op pad wees na” Jerusalem en sy kruisiging.

Petrus het bely dat Jesus die Messias, die Koning, is, maar Jesus het hom stilgemaak en eerder na Homself as die Seun van die mens verwys, omdat Petrus nie geweet het waarvan hy praat wanneer hy die titel Messias gebruik nie. Natuurlik is Jesus die Messias, maar nie die tipe wat die mense verwag het nie. Hy het nie gekom om die Romeinse heerser te onttroon en self daar te gaan sit nie. Sy doel voor oë was om van die kruis sy troon te maak. Hy het gekom om te ly en doodgemaak te word en drie dae later op te staan. Vir die eerste keer kondig Jesus toe ook hierdie vooruitsig aan. En die dissipels was so ontsteld dat Petrus op sy beurt vir Jesus probeer stilmaak. Maar Jesus spreek hom so sterk aan dat Hy hom “Satan” noem.
Jesus gaan toe voort deur die mense te leer dat elkeen wat Hom wil volg ook bereid moet wees om hierdie pad te loop, ‘n pad wat letterlik jou dood kan veroorsaak in jou strewe en jou stryd om standpunt in te neem vir God en sy koninkryk, vir reg en geregtigheid.

Vandag se teks begin waar Jesus die tweede keer sy dood en opstanding aankondig. En hoedat dit blyk dat die dissipels stééds nie verstaan wat Hy vir hulle probeer sê nie…

Lees Markus 9: 30-50

Boodskap

Na Jesus se tweede aankondiging van sy doel op aarde het hulle by die huis in Kapernaum aangekom. Daar waar Jesus destyds sy aktiewe bediening begin het nadat Hy sy eerste dissipels geroep het. Dit sal sy laaste besoek wees aan hierdie omgewing, die laaste keer dat Hy gaan vertoef by die begin terwyl Hy reeds doelgerig oppad is na die einde toe.

Omdat Jesus gehoor het dat die dissipels oppad onderlangs met mekaar gepraat het, het Hy daar by die huis in Kapernaum vir hulle uitgevra daarna: “Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?” Let op, hier is dit weer: “langs die pad > op weg na Jerusalem, na My einde”. “Waaroor het julle geloop en praat terwyl ons oppad is na my lyding en my dood toe?” Die dissipels was egter te verleë om te antwoord, want hulle het langs (hier)die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is… En Jesus het dit geweet. Hy het hulle gehoor. Hy gaan sit toe en roep die twaalf nader om ernstig met hulle te praat. Wat Hy hier te sê het is nie iets wat mens sommer so in die verbygaan bespreek nie. Hy sê toe vir hulle: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.” Toe trek Hy ‘n kindjie nader om tussen hulle te kom staan, en Hy sit sy arm om die kind, en Hy verduidelik verder: “ Elkeen wat so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het.”

Die ironie in hierdie gebeurtenis is skryend. In hulle onderlangse gestryery oor wie van hulle nou eintlik die belangriskte is, oor wie naas Jesus die meeste mag sal hê wanneer Hy eers as koning op aarde heers, wie sal aan sy regterhand en wie sal aan sy linkerhand sit, dws wie van hulle sal tweede in bevel wees – in hierdie onderonsie ontmasker Jesus sy dissipels se selfsugtige strewe tot mag. Dit is dus nie bloot dat hulle nie verstaan waarheen Hy hulle lei nie. Hulle is volstoom oppad in die teenoorgestelde rigting! Op weg na Jerúsalem begin stry hulle met mekaar oor wie die belangrikste is.

Met die dat Jesus toe gaan sit om hulle te leer wat eerste en laaste beteken, en dat Hy ‘n kindjie nadertrek om te illustreer wat Hy bedoel. Kinders was baie onbelangrik in die NT. Hulle was heel onder op die sosiale en ekonomiese skaal in terme van status en regte. Kinders is eers werklik as mense geag wanneer hulle jong volwassenes geword het. Dit is daarom skokkend dat Jesus die kinders nie net verdra nie, maar dat Hy hulle bevorder tot die belangrikstes in sy sosiale aksie in die samelewing. En Hy doen dit nie net een maal nie, maar twee maal. Wanneer die dissipels, tot hulle skande, baie kort na hierdie gebeurtenis in hfst 10 weereens met die mense raas omdat hulle hul kindertjies na Jesus toe bring sodat Hy aan hulle moet raak. Die mense begin al iets verstaan, maar steeds ag die dissipels die kinders nie belangrik genoeg om vir Jesus te kom pla nie. Maar hulle sit die pot heeltmal mis. Want in die koninkryk van God word status omgekeer. Die wat gedurigdeur baklei vir hulle “geregmatige” plek om eerste te wees, hulle sal laaste wees. En die wat laaste is, die onbelangrikes wat deur niemand raakgesien word nie, hulle sal eerste wees.

Jesus se woorde is skaars koud, toe wil die belangrike Johannes al stories aandra van iemand anders wat nie sy plek ken nie: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam duiwels uitdrywe. Ons het hom probeer keer, omdat hy ons nie volg nie.” Wat hier aan die gebeur is, is so skokkend dat mens eintlik vir Johannes aan die skouers wil gryp en wil skud. Hoor hy dan niks van wat Jesus sê nie! Jesus is besig om die dissipels se mure van eksklusiwiteit af te breek sodat daar vir almal plek kan wees binne sy kring, sélfs vir die kinders. Eintlik nog meer radikaal: heel eerste vir die kinders. “Die van julle wat ‘n kindjie ontvang, ontvang My, en ontvang ook vir Hom wat My gestuur het.” Die van julle wie se deure oopstaan vir almal, ook vir die onbelangrikes – by daardie deure sal Ek en my Vader ook ingaan. En hier wil Johannes alreeds weer die deur toemaak. In sy arrogansie kan hy dit nie verdra dat daar iemand anders is, ‘n vreemdeling, nie een van die twaalf nie, wat dit waag om in Jesus se naam duiwels uit te dryf. En dit boon-op nog regkry ook! Wat waarskynlik ‘n bietjie sout in die dissipels se wonde vryf, want net voor hierdie teks het hulle ook probeer om duiwels uit ‘n seun te dryf, maar hulle kon dit nie regkry nie. Nou kom hier ‘n totale vreemdeling, ‘n ongewone duiweluitdrywer, en hy verrig sy werk in die Naam van Jesus, en hy behaal nog sukses ook. Wie dink hy is hy nogals!?

Ons moet dit eintlik omgooi: Wie dink Johannes en die dissipels is hulle nogals!? Want om alles te kroon is hulle afkeur van die duiweluitdrywer gebaseer op die feit dat hy “ons nie volg nie”. Ons? Die dissipels wil klaarblyklik gevolg word, hulle wil nie volgelinge wees nie. Nog nooit was ‘n koninklike “ons” so onvanpas nie, merk iemand baie raak op.

Ek wil niks inlees nie, maar ek kan my tog indink dat Jesus moontlik sy kop in ongeloof en uit absolute moedeloosheid laat sak het. Hy val nie vir Johannes direk aan nie. Hy gee eerder drie redes waarom die dissipels die onbekende duiweluitdrywer nie moet verhinder nie. In die eerste plek, sê Hy, is “daar niemand wat ‘n kragtige daad in my Naam sal doen en net daarna minagtend van my sal kan praat nie.” (Ironies dat Petrus dit wel aan die einde gedoen het, nê?) In die tweede plek herinner Jesus hulle daaraan dat “wie nie téén ons is nie, is vír ons.” (Nogmaals hartseer, want selfs die dissipels wat na bewering nou nog vír Jesus is, is geleidelik besig om téén Hom te draai.) Maar die derde rede is die heel belangrikste. Daarom dat Jesus om die rede in die Grieks kan sê “Amen”: “Elkeen wat vir julle ‘n beker water te drinke sal gee omdat julle aan Christus behoort (lett: omdat julle die naam van Christus dra), hy sal beslis die beloning daarvoor kry.”

Jesus keur dus nie net die bevrydende werk van buitestaanders goed nie, maar ook die eenvoudigste gebaar van gasvryheid (‘n beker water) wat teenoor iemand getoon word wat aan Christus behoort. Johannes is bekommerd oor die buitestaanders met hulle kompeterende mag, maar Jesus verwelkom almal wat goeie werke verrig. Johannes het “holier than thou” illusies, maar Jesus leer hulle dat ook sy volgelinge, ja, ook die dissipels, dikwels aan die ontvangkant van “buitestaanders” se goedgesindheid sal staan. Die dissipels het dus geen reg tot alleenmandaat op die terrein van die bediening van genesing en bevryding nie. Hulle moet sonder vooroordele skouer-aan-skouer met alle ander mense saamwerk wat ook dade van bevryding en heling in die samelewing verrig. Meer nog – almal wat op enige manier vir Christene help en bedien – selfs al is die diens so gering soos om ‘n glas water aan te dra – hulle sal die nodige erkenning daarvoor ontvang.

Hoor ons regtig wat Jesus hier sê? Karl Rahner praat van “anonieme Christenskap”. Dit is DADE en nie die “regte naam” nie wat in die koninkryk tel. Jesus verbied Christene om eksklusiewe grense rondom die geloofsgemeenskap op te rig. Die definisie van “behoort tot” hierdie gemeenskap moet altyd vloeibaar en inklusief wees. Oop. Dit is die enigste manier waarop ons sosiale magstrukture en Christelike grootheidswaan kan teenstaan. Daarom verduidelik Jesus vir die dissipels dat goeie dinge van buitekant af kan kom. Die onbekende duiweldrywer wat goeie werke verrig, en so ook die mense wat vir Christene met ‘n glas water bedien.

Om sy argument verder te versterk wys Jesus nou dat die teendeel ongelukkig ook waar is. Daar kan ook slegte dinge van binnekant die geloofsgemeenskap af kom. Dinge so sleg soos verraad. “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig laat word, vir hom is dit baie beter as ‘n groot meulsteen aan sy nek vasgemaak en hy in die see gegooi word.” Die volgelinge van Jesus het die verbrokkeling van eenheid in die gesig gestaar as gevolg van politieke en godsdienstige vervolging. Die spanning van ‘n dreigende opstand het veroorsaak dat sommige lede afvallig kon word en weggeloop. Erger nog: daar was mense wat nie net gedros het nie, hulle het ook die ander lede (“die kleintjies/die geringes/die onbelangrikes? wat glo”) verraai. “Dit is beter om jou hand of jou voet af te kap, of jou oog uit te pluk, as dit jou van My afvallig laat word,” sê Jesus, “as om ongeskonde met al jou ledemate in die hel gegooi te word.”

Sterk beelde. Ons weet dat daar vandag nog gemeenskappe is waar strawwe so werk. Die ledemaat wat die oortreding begaan het word geamputeer. In Jesus se konteks is dit egter meer waarskynlik dat Hy ‘n beeld gebruik om sy punt oor te bring. Dit lyk asof die liggaamsmetafoor (soos Paulus dit gebruik) al in algemene omloop was in die se tyd. Die geloofsgemeenskap het na hulself verwys as ‘n liggaam met baie lede. Indien dit blyk dat daar afvallige lede is, of verraaiers, veral in daardie tyd van politieke en godsdienstige opstande en geweld, dan moet daardie lede uitgedryf word. Nie doodgemaak word nie, maar geskors, ter wille van die hele liggaam. Want afvalligheid en verraad bring verdeeldheid. En ‘n verdeelde groep is ‘n gevaar vir hulself en vir die samelewing.

Almal in die gemeenskap, in die liggaam van Christus, moet gegeur word met sout en met vuur. Beide vuur en sout was gebruik om amputasie wonde mee toe te brand. Beide het seer gemaak. Maar beide was noodsaaklik vir die oorlewing en die voortgang van die liggaam. ‘n Liggaam waar die dele wat oorbly met mekaar saamwerk, vir mekaar ruimte maak, vir ander lede ruimte maak, en nie baklei oor watter lid die belangrikste is en watter lede die onbelangrikste nie, maar waar alle lede vir mekaar terugstaan, en tersefdertyd mekaar respekteer en opbou, ‘n liggaam waar lede in harmonie en vrede saamleef.

“Om sout te hê” word in die laaste vers (50) gelykgestel daaraan om in vrede met mekaar te lewe. In die OT was sout ‘n simbool van die verbond. In Numeri 18:19 noem God bv sy ewige verbond met die Israeliete ‘n “verbond van sout” (net jammer ons vertalings vertaal dit weg). Dieselfde tipe verwysing vind ons in Levitikus en Kronieke. Dit gaan hier om die gebruik om sout te deel tydens ‘n maaltyd. Wanneer mens sout met iemand deel, dan deel jy gemeenskap (fellowship) met hom, dan is jy in ‘n verbond met hom. Dit is soos wat ons vandag vir mekaar sal sê: Ek en hy het al ‘n klomp sakke sout saam opgeëet. As mens sout saam eet, dan bind daai sout julle saam in ‘n ewige verbond van trou en liefde en vrede.

Vandag se verhaal het begin waar die dissipels onder mekaar stry oor wie die belangrikste is. Hulle kry ‘n duur les by Jesus wat ‘n snuiter nadertrek en verduidelik dat die kinders en diegene soos hulle die eintlike belangrikstes is. Johannes hoor nie wat Jesus sê nie en praat minagtend van die vreemde duiweldrywer wat “óns nie volg nie maar dit wraggies waag om in u Naam duiwels uit te dryf.” Nogmaals leer Jesus hulle dat daar nie ‘n ding mag bestaan soos “ons” teenoor “hulle” nie, dat die ware geloofsgemeenskap nie mure het nie, en dat dit dikwels blyk dat diegene wat volgens die dissipels se standaarde “buite” hoort die mense is wat die goeie werke doen, en diegene wat “binne” hoort die afvalliges en die verraaiers is. En dat dit dan beter is om die afvalliges uit te dryf – nie dood te maak nie, want soos ons later sal sien staan vergifnis en heropname in die liggaam altyd eerste en laaste (11:25). Maar om hulle tog eerder vir eers uit te dryf as om toe te laat dat hulle die eenheid van die liggaam versteur en die “kleintjies wat glo (ook) afvallig laat word”. En dan sluit Jesus af deur vir die dissipels te sê hoe belangrik vuur en sout in die geloofsgemeenskap is. Hoe noodsaaklik dit is vir die onderlinge vrede. ‘n Vrede wat nie net na binne gekoester word nie, maar wat te alle tye mure afbreek en na buite versprei.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.