Eksodus 16:2-15

14 Oktober 2012 – Koninkrykstyd
Prediker: Bianca Botha

PinelandsLiturgie-14-10-12

Kliek hier om Eksodus 16 te lees

In dié verhaal kry ons te doen met ‘n groep mense wat weggetrek het van die plek waar hulle hulle lewe lank gewoon het; wat op dié stadium ver buite hulle gemaksone beweeg en nou begin paniekerig raak. Ek’s seker almal van ons was al iewers in ons lewe gedwing om buite ons gemaksone te tree en wou dan met alle mag en geweld teruggaan. En maak nie saak hoeveel beter die situasie/plek buite daardie gemaksone vroeer gelyk het of die belofte wat dit ingehou het nie, ons verlange na dit wat bekend is, vind ‘n manier om ons blind te maak vir die potensiaal wat reg voor ons, eintlik reeds in ons hande, is.

Die volk is ongeveer ‘n maand en ‘n half gelede uit Egipte bevry. Net voor dit, in hoofstuk 15, het hulle gekla oor die water wat bitter is; en in hoofstuk 14 was hulle oortuig dat hulle aan die hand van die faroa sou omkom, totdat die Rietsee voor hulle oopgekloof het. Dit is hier nie lank na hulle bevryding nie en reeds het die opgewondenheid en dankbaarheid van die volk – en daarmeesaam hul vertroue in God en die leiers wat Hy aangestel het – begin afneem.

Tog moet ons sekerlik ‘n mate van simpatie vir die volk hê. Hulle het grootgeword in Egipte. Dit is al wat hulle hulle lewe lank geken het. Daar was hulle lewe voorspelbaar en het hulle geweet wat elke dag inhou; daar het hulle hulle omgewing geken en geweet iemand is in beheer van dit wat gebeur – al was dit dan nou ook onder vreemde heerskappy. Nou bevind hulle hulself in ‘n onbekende plek vol onsekerheid en allerlei gevare. Dit is tog menslik om vas te hou aan dit wat ons ken…

Vir die eerste 13 jaar van my lewe het ons in Vanderbijlpark gewoon. Ek weet nie of u daardie omgewing ken nie, maar dis nou nie juis die mooiste deel van Suid-Afrika nie. Dis vaal, dis plat en meeste van die tyd kan jy sien wat jy inasem. As kind het ons vakansies vir my tannie in die Kaap kom kuier (Kaap het natuurlik alles van George, tot Oudtshoorn, tot Kaapstad ingesluit) en dit was vir my die wonderlikste plek op aarde.

Mens sou dan natuurlik dink dat ek dolgelukkig sou wees toe ons uiteindelik “Kaap” (dis nou Heidelberg) toe trek en ek in Stellenbosch kon skoolgaan, maar heellaas. Die skoon lug; die bome; die berge; en die see het skielik hul prag verloor en vir die eerste 2-3 jaar het ek in elke telefoon gesprek aan my ma belowe dat ek teruggaan Vanderbijlpark toe sodra ek klaar is met skool. Nou ja, noodeloos om te sê het dit toe nie gebeur nie, maar ek dink dis tot ‘n mate dieselfde gevoel wat die volk ervaar het, en wat baie van ons ervaar wanneer ons ontwortel word, of wanneer ons buite ons gemaksone beweeg – selfs al was daardie gemaksone nie noogwendig goed of gesond nie. Ons wil vashou aan die verlede, aan dit wat bekend is, en vergeet in die proses waar ons nou is en hoe ons tot hier gekom het.

Dis interessant hoe vinnig die volk vergeet dat hulle as slawe in Egipte geleef het; en nog meer hoe hulle dan die verlede in hierdie gedeelte idealiseer. Hulle kla so ewe dat hulle in Egipte eerder langs die vleispotte sou kon sit.

Die feit van die saak is egter dat vleis nie werklik ‘n algemene deel was van die mense se dieet in die Ou Nabye Ooste nie. En minder as enigiemand sou hulle, wat slawe was, veel vleis gehad het om te eet. Maar hier bevind hulle hulself in ‘n onbekende, onvoorspelbare situasie; en soos dikwels in ons lewens ook, lyk die hede dood eenvoudig moeiliker/slegter as die verlede. Ons praat so graag van “goeie ou dae” of vra mekaar af “waar is die dae toe dit nog so was?”

Ons romantiseer die verlede. Ons kan lyste en lyste opstel van dinge wat toe beter was, maar ons vergeet, soos die volk, te maklik van die slawerny; van die dinge wat ons terug gehou het; van dit wat sleg en moeilik was. Ons vergeet dat dit waarna ons nou hunker eintlik die dinge is waarvan ons wou wegkom. En skielik is ons blind vir dit wat voor ons is en waardeer ons nie meer die goeie dinge wat ons nou het nie.

Ek lees onlangs van ‘n populêre Wildernisgebied met talle staproetes, waarheen mense gaan om van die stad se geraas en hul besige lewens te ontsnap. Die akkomodasie is eenvoudig en die hele opset is van so aard dat mens “in voeling met die natuur” kan kom.

Hulle het ‘n opsomming gemaak van die kommentaar wat stappers op terugvoerkaarte gelewer het en die mense het o.a die volgende gesê:
• Die wandelroetes moet wyer gemaak word sodat mense hande kan vashou terwyl hulle stap;
• Roetes moet herontwerp word. Vermy asb. paadjies teen steiltes uit.
• Daar is te veel goggas, veral spinnekoppe en spinnewebbe. Roei asb. hierdie peste uit.
• Plavei asb. die wandelroetes sodat mense makliker kan stap.
• Jakkalse het laasnag te veel geraas gemaak en my wakker gehou. Raak asb. van dié aanstootlike diere ontslae.
• ‘n Klein diertjie het laas nag by my kampplek ingesluip en my suuruitjies gesteel. Waar doen ek aansoek, sodat julle my vergoed?
• Daar moet hysers/hyskrane met bankies op strategiese punte geïnstalleer word, sodat mens die wonderlike uitsig kan geniet sonder om daarheen te moet stap.
• Roltrappe moet op die steil gedeeltes van die wandelroetes geïnstalleer word.
• ‘n McDonald’s aan die einde van die langer staproetes sal wonderlik wees.
• Daar is te veel rotse in die berge. Maak dit asb minder.

En dis wat gebeur. Ons verkies veel eerder die bekende as die onbekende. Ons is so gewoond daaraan om gemaklik te wees dat ons, wanneer ons uit ons gemaksone beweeg, die goeie dinge voor ons miskyk. Soos die stappers sukkel ons om die waarde van die nuwe omgewing raak te sien; om die wonderlike natuurskoon te geniet. Selfs ‘n bietjie oefening in die vars lug was te veel moeite. Hulle wou eerder die bekende met hul saamvat die wildernis in.

Die probleem in hierdie gedeelte is egter nie net dat die Israeliete die slegte vergeet of verkeerd onthou nie. Deur hulle gekla en gebrek aan vertroue in God se leiding, verset hulle hulleself nie net teen Moses en Aaron nie, maar teen God self. Hulle bevraagteken of dit in die eerste plek wys was om God te volg; dieselfde God wat teen die tyd reeds keer op keer tot hul redding gekom het en telke maal gewys het dat Hy vir hulle sorg.

‘n Mens verwag eintlik op hierdie punt dat God teenoor die volk gaan optree; dat hy hulle wantroue en ongehoorsaamheid skerper sal aanspreek. Hulle verset teen die leiers en teen God is immers duidelik. Tog, is die wonderlike boodskap van hierdie gedeelte dat God, ten spyte van hul sonde, steeds aan hul behoeftes voorsien. Want God ken sy volk en Hy weet wat hulle nodig het. Op daardie stadium het hulle nodig gehad om te sien dat Hy nog met hulle is, dat Hy saam met hulle reis en dat Hy aan hulle sal voorsien.

Elke besondere gebeurtenis in die geskiedenis van Israel tot dusver – die bevryding uit Egipte, die deurtog deur die see, die leiding deur die woestyn en hierdie gebeurtenis in hfstk 16 – het een doel: dat Israel eerstehands sal ervaar dat die Here hulle God en hulle sy volk is. Deur hierdie gebeurtenis en deur die verrassende verskyning van sy teenwoordigheid, wat in die wolk sigbaar gemaak word, ontdek hulle dat God saam met hulle in die woestyn is. Hy is nie afwesig nie en hy het hulle ook nie as ‘n verlore saak afgeskryf nie. Hy gee letterlik aan hulle hul daaglikse brood, sodat hulle kan weet dat Hy teenwoordig is; dat Hy vir hulle sorg en dat Hy hulle God is.

Wat dié teks oor mense sê, is nie vreemd of nuut nie. Ons ken dit, want ons is ook so. Ons is dikwels geneig om die negatiewe dinge in die hede raak te sien en nie die waarde van dit wat reg voor ons is te waardeer nie. Daarmeesaam, vergeet ons al te dikwels die reddingsdade van God in ons eie verlede en van dit wat Hy besig is om in ons lewens, ons gesin of ons gemeente te doen. Maar uit hierdie verhaal blyk dit dat God sensitief is vir die reaksies en behoeftes van sy mense. Hy ignoreer en bestraf nie ons negatiewe reaksies/wantroue nie. Hy tree verrassend op; hy gee brood en vleis in oorvloed.

En hy gee daardie vleis en brood as bewys, as tekens van sy teenwoordigheid, want Hy weet dat dit is wat die volk nodig het om te weet Hy is daar saam met hulle. As mense het ons dikwels sigbare tekens nodig om ons aan sekere dinge te herinner.

(Jitte, selfs met ‘n kalender, ‘n dagboek en ‘n reminder op my foon het ek steeds my suster ‘n dag laat gebel vir haar verjaarsdag.)
En juis daarom, omdat ons so maklik vergeet, het ons daardie tekens nodig.

In die Nuwe Testament word Jesus Christus die sigbare teken van God se teenwoordigheid; van sy genade en sy sorg vir ons. Soos wat God die volk in die woestyn gered het deur aan hulle manna en kwartels te gee, stuur Hy Jesus as redding vir elkeen van ons.
In Johannes 6: 30-40 lees ons:
Hulle sê toe vir Hom: “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo?
Wat gaan u doen?
Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet. ”
Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee.
Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”
Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.”
Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.
Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie.
“Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.
Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.
En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan.

En selfs dit, het die Here geweet, sal ons nie onthou as ons nie tekens gehad het om ons daaraan te herinner nie. Daarom gee Hy dan ook aan ons die nagmaal, wat ons vandag gaan vier, as ‘n sigbare teken van ons verlossing in Christus.

God gee aan ons tekens om ons te verseker van Sy teenwoordigheid en sorg – van die verhouding waarbinne Hy met elkeen van ons staan – juis sodat ons op Hom kan vertrou; sodat ons nie hoef vas te klou aan die “goeie ou dae” of dit wat bekend is nie, maar eerder saam met Hom die wildernis kan ingaan. En ja, alles in die wildernis was verseker nie maanskyn en rose nie. Die wildernis is vol gevare en onsekerheid. Daar is geen hysers nie en baie rotse, spinnekoppe en nou paaie, maar dit is ook die weg na ware vryheid en verlossing. En wanneer mens dit besef raak dit moontlik om die natuurskoon, die manna en elke nuwe dag raak te sien as gawes van God – as gawes van die God wat sy Seun as die ware brood, as ewige verlossing, vir ons kom gee het. Die nagmaal is tekens van hierdie verlossing wat ons reeds besit, selfs al is ons nog besig om deur die woetyn te reis. Die tekens herinner ons vandag steeds dat ons nie alleen reis nie, maar dat God elke tree saam met ons gee.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Bianca Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.