Jesaja 52:13 – 53:12 en Markus 10:32-45

21 Oktober 2012 – Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

PinelandsLiturgie-21-10-12

Kliek hier om Jesaja 52 te lees | Kliek hier om Markus 10 te lees

Vanuit die evangelie van Markus weet ons dat Jesus op pad na Jerusalem drie maal eksplisiet sy naderende lyding en sy dood aan die dissipels kommunikeer. Sodat hulle weet waarheen Hy oppad is, en sodat hulle weet waarheen hulle Hom volg. Maar dit maak nie saak hoe reguit Jesus met hulle praat nie, hulle verstaan nie wat Hy sê nie. Die eerste keer toe Jesus hieroor praat was net nadat Petrus bely het dat Hy die Messias is, en Jesus hom toe stilmaak en eerder na Homself verwys as die “seun van die mens”, omdat Hy nie gekom het om in lyn met hulle Messiaanse verwagting die Romeinse koning te onttroon en self op die troon aanspraak te maak nie, maar om Homself oor te gee en in gehoorsaamheid die lydensweg te stap. Petrus was so ontsteld deur Jesus se uitsprake dat hy Hom berispe en probeer stilmaak het.

Die tweede keer toe Jesus oor sy lyding en sy dood praat het die dissipels weereens nie verstaan nie, maar hulle was te bang om Hom uit te vra. Toe stry hulle eerder onderlangs met mekaar oor wie van hulle die belangrikste is; en blyk dit dat hulle reken dat hulle saam as groep baie spesiaal is, en dat die mense “daar buite” nie die reg het om ook aanspraak op Jesus te maak nie.

Vandag kom ons by Jesus se derde aankondiging van sy dood, en die keer hoort die dissipels se reaksie nie meer vir ons te verbaas nie…

Lees Markus 10: 32-37

Ek lees onlangs ‘n boek met die titel “Status Anxiety” (De Botton). Daarin word Status Angs gedefinieer as “’n bekommernis dat die gevaar bestaan dat ons nie daarin sal slaag om in te pas by die ideale van sukses wat deur die samelewing daargestel word nie, en dat ons derhalwe gestroop sal wees van waardigheid en respek; ‘n bekommernis dat ons tans ‘n te nederige plek in die samelewing beklee, en dat die moontlikheid bestaan dat ons na nog ‘n laër sport op die leer kan skuif; ‘n bekommernis wat so skadelik is dat dit in staat is om lang uitgestrekte periodes van ons lewens te ruineer.”

Almal wil ‘n wenner wees. Jy is ‘n wenner, of jy is niks. Dit laat my dink aan die Gospel liedjie van Danie Botha “Wenners wenners wenners, wenners wil ons wees”. Het julle geweet dat mens die liedjie as luitoon vir jou selfoon kan aflaai? Om jou heeldag te herinner aan jou identiteit, in Jesus nogals, as ‘n wénner, en hoe meer jy gebel word hoe meer is dit ‘n bevestiging daarvan dat jy wel ‘n suksesvolle wenner is – want mense soek jou aandag! Dit gaan natuurlik nie net oor wie jy is nie, maar ook met wie jy geassosieer wil word. In watter kringe beweeg jy en hoe ernstig ly jy dalk aan “namedropping”? Ons wil graag in die kringe van die suksesvolles beweeg, en ons wil hê dat mense dit moet weet.

Naas hulle onvermoë om werklik te luister en te verstaan wat Jesus sê, het die dissipels ook aan Status Angs gely. Jesus vertel dat Hy deur sy eie mense aan die heidene uitgelewer gaan word, dat hulle Hom sal spot en op Hom sal spoeg, Hom sal slaan en doodmaak, maar dit gaan by die dissipels se een oor in en by die ander uit. En Jakobus en Johannes nader Hom met ‘n spesiale versoek (‘n spesiale versoek vir spesiale mense):

Lees Markus 10: 37-45

39 – antwoord ewe heel selfversekerd
41 – verontwaardig, waarskynlik omdat hulle self ook aan Status Angs ly

“Die regeerders speel baas en die groot manne misbruik hulle mag. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees… Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” Om hierdie gedeelte te verstaan moet ons ook die kneglied in Jes 52-53 lees. Hierdie kneglied is nie in die eerste plek geskryf met Jesus in gedagte nie, maar dat Jesus die ideale voorbeeld van so ‘n dienaarstyl is, kan ons nie betwis nie. Jesus se lewe is dus die perfekte vergestalting van Jes 52-53.

Lees Jes 52:13 – 53:12

Die gedeelte begin en eindig met die versekering vanaf God dat sy dienaar, wat eens verneder en aangerand is, verhoog sal word; dat die een wat eens onder die misdadigers gereken is, in die toekoms in die geselskap van grotes en magtiges sal verkeer. Tussen hierdie bevestiginge van God af is daar dan die gedig van ‘n mede-gelowige wat mettertyd begin glo het in die dienaar se roeping en sy boodskap, een wat ‘n dissipel van die dienaar geword het, een wat hier vertel van die voorkoms van die dienaar, die geweldige lydinge wat hy moes verduur, en sy stille onderwerping tot in die dood.

Telkens hoor ons dat die dienaar die sonde van die hele gemeenskap gedra het. Volgens die OT verstaan van morele oorsaak-en-gevolg sou die normale verwikkelinge wees dat die gemeenskap self vir hulle sondes moes boet. In die lig van hierdie verstaan het almal aanvanklik gedink dat die dienaar gestraf word, deur siekte en swaarkry, vir sondes wat hy self gepleeg het. Dws die straf kom hom toe. Dit het eers maar later tot hulle deurgedring dat hy deur God gestraf en geslaan en gepynig is omdat God besluit het om die straf teen die gemeenskap weg te keer van hulle af en op een, onskuldige dienaar te laat afkom. Inderdaad, “wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?” (53:1).

Die sleutel tot die verstaan van Jesaja se kneglied, asook Jesus se woorde in Markus 10, lê in die verstaan van die Hebreeuse woord “dienaar”. In die Hebreeuse taal was die woord “dienaar” doelbewus bepaald of onbepaald gebruik – dws die mense het gepraat van “’n dienaar” of van “die dienaar”, en tussen die twee was daar ‘n radikale verskil. Die konings van die onderskeie volke het almal klomp dienaars gehad. Hierdie dienaars was eintlik slawe, mense sonder identiteit, onder op die sosiale leer, “verloorders”,’n klomp wat in diens van die koning en sy amptenare gestaan het. Van hulle sou mense sê: “Daar loop ou Watsenaam alweer. Hy is maar net ‘n dienaar aan die koninklike hof.” Maar wanneer die bepaalde lidwoord “die” vooraan die woord “dienaar” gevoeg is, het die persoon se status heeltemal verskil van die watsename onder op die leer. Die dienaar was ‘n baie belangrike amptenaar, hy was die koning se regterhand – amper soos vandag se eerste mininster in sommige lande. En soos aan die koning, moes die volk ook aan die dienaar die nodige respek betoon. Hy was immers ‘n man van aansien. Josef het in die paleis van die farao hierdie tipe rol vervul.

Wat die volk Israel uniek gemaak het, was dat hulle, naas hul aardse koning, vir God as hul eintlike koning beskou het. Saul, Dawid, Salomo en al die res was veronderstel om as aardse konings bloot God se verteenwoordigers te wees. Wanneer ons dus sien hoedat God bepaald praat oor sy dienaar in die kneglied, dan verwag ons dat Hy praat van ‘n baie belangrike man, iemand wat sy regterhand is, iemand met status. ‘n Persoon met wie ander graag geassosieer en gesien wil word. Die lied begin ook heel belowend: “My dienaar sal voorspoedig wees. Hy sal hoog in aansien wees, hy sal baie eer ontvang.” Maar so vinnige soos wat hierdie status simbole toegedeel word, nog vinniger word die dienaar dan gestroop daarvan: “Hy was misvormd, lyk nie meer soos ‘n mens nie, is soos ‘n plant in droë grond, het nie skoonheid of prag dat ons na hom sou kyk of van hom sou hou nie, was verag en verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie mense die gesig wegdraai, ons het hom nie gereken nie, ons het hom beskou as een wat deur God gestraf word…” ‘n Dienaar, ja, maar díe dienaar! Dit kan tog nie wees nie! G’n wonder die skrywer vra: “Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin raaksien?” Dis tog totaal ongehoord dat díe dienaar so veragtelik kan wees. En tóg is dit wat met hom sal gebeur. Meer nog – dit is die pad wat God, die Koning, self vir sy regterhand dienaar bestem het.

Die dienaar van God lyk anders as die dienaar van mense. Kyk maar na die geskiedenis. Moses is eindeloos geteister. Toe hy ‘n Egiptenaar doodgeslaan het het hy misluk, maar toe hy bereid was om sy eie lewe te gee sodat die volk verder kon trek, toe was hy die dienaar wat God in gedagte gehad het. Dawid was ‘n dienaar toe hy sy lewe teen Goliat gewaag het, maar toe hy ‘n ander man se vrou vat en sorg dat die man in die oorlog omkom, toe het hy sy koninklike mag misbruik en was hy nie ‘n dienaar nie. Jeremia was ‘n dienaar wat tevergeefs gebid en gepleit en gestry het. Amos moes vlug. Die apostels was dienaars wat meermale in die tronk was as tussen die mense – dienaars wat vervolg is en dikwels tereggestel is. Ware dienaars van God is volgelinge wat bereid is om afstand te doen van hul beheptheid met status en hul begeerte om op die regte plekke raakgesien te word.

Nie so lank gelede nie het die NGK, en ook ander kerke, naas die regering baie mag in Suid-Afrika gehad. Waarskynlik heeltemal te veel mag. Ons het onsself by die groot name geskaar. Ons was self ‘n groot naam. In die dae toe mans nog op hul CV kon aandui dat hulle ‘n diaken of ‘n ouderling op hul kerkraad is. Toe ‘n getuigskrif vanaf jou dominee swaar geweeg het. Vandag gaan dit nie meer vir jou tel as jy vir ‘n sekulêre werk aansoek doen nie. Die kerk se naam het klein geword. En gelowiges kla daaroor. Dis miskien nie so slegte ding nie, hierdie geringe naam wat ons deesdae het. Ons moet dit dalk eerder sien as ‘n geleentheid om oor te begin met ons betrokkenheid in die land en die samelewing en die wêreld. ‘n Geleentheid om onder te begin – daar waar ons hoort. Denise Ackermann vertel dat sy eenmaal by die Lambert Konferensie van die Anglikaanse Kerk was, waar sy gesien het hoe al die biskoppe en ander afgevaardigdes van regoor die wêreld in hul ampsdrag paradeer. Dit het haar laat afvra: “Waar, in al hierdie dinge, is die man op die donkie?” Ons sou ook kon vra: “Waar, in al hierdie dinge, waar, in al óns dinge, is die dienaar wat gekom het om voete te was?”

“Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees.” Dws as julle My wil volg moet julle bereid wees om af te sien van die gedagte dat julle belangrik is, en ekstra spesiaal, julle moet vergeet daarvan om my regterhand dienaars te wil wees wat saam met my wil regeer en wil hiet en gebied. Julle moet bereid wees om dienaars van almal te wees, dienaars sonder ‘n lidwoord, onbepaald. Ek het immers nie gekom om te hiet en te gebied nie, maar om te ly en te sterf. In die wêreld van wenners staan die oorwinnaars op die podium, die beste een heel bo in die middel, en aan sy of haar regter- en linkerhand die tweede en derde plekke. Mense met medaljes om hul nekke, trofees in die hand. In die wêreld van dienaars word die podium vervang met ‘n koppie. Die dienaars troon dus ook uit vir almal om te sien. ‘n Kruis in die middel vir die “Koning van die Jode”, en in stede van ‘n medalje en trofee ‘n kroon van dorings op sy kop, en aan sy regter- en sy linkerhand ook twee spesiale plekke – die keer nie vir naaswenners nie, maar vir verloorders. Jakobus en Johannes het toe nie gekry wat hulle gevra het nie. Daardie plekke was vir twee moordenaars beskore. Jesus het Hom by die misdadigers geskaar. “Daarom,” sê God in Jes 53:12, “gee Ek hom ‘n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat hy die sondes van baie op hom geneem het en vir oortreders gebid het.” Dáárin lê sy eer en sy aansien, sy status – in sy onaantreklike diensbaarheid tot die dood toe.

Waarin lê jou status? In die simbole wat vir die wêreld belangrik is? Titel, beroep, geld, prestasie, die kringe waarin jy beweeg?
In watter kringe beweeg jy? En wie is jy in daai kringe? Wie wil jy graag wees?

Waar was Jesus? Wie was hy?

Hy was die Messias, maar self het Hy nie die titel gebruik nie. Hy het van Homself gepraat as die seun van die mens.

Hy was Die Dienaar, maar Hy het gekies om as ‘n dienaar te leef, en te sterf … ter wille van mense wat nie hulle plek ken nie en graag op trone wil sit of minstens aan die regter- of die linkerhand van die troon. Mense wat nie weet wat hulle vra nie. En ter wille van álle ander mense. Ook diegene wat dink dat daar nie vir hulle ou watsename ‘n plek is nie.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.