Psalm 126

28 Oktober 2012 – Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

PinelandsLiturgie-28-10-12

Kliek hier om Psalm 126 te lees

Psalm 126 is ‘n klaaglied. Dit begin met drie verse waarin die digter terugdink aan die wonderbare verandering van die lot van Israel met hulle terugkeer uit die ballingskap. Vir 70 jaar is die volk ontwortel en moes hulle in Babilonië, die land van die vyand, oorleef te midde van onderdrukking en ‘n verlies aan identiteit. En dan die skielike onverwagse ingrype van God, die werkinge van sy genade: die onderdrukking kry end en die volk mag teruggaan. Wat presies die historiese agtergrond van hierdie wending was, weet ons nie. Moontlik het ‘n nuwe koning in Babel aan bewind gekom en het hy besluit om die volk te laat gaan. Maar hy het geen rede gehad om dit te doen nie. En tog gebeur dit! Dáárom was Israel soos dromendes, soos laggendes en singendes – nie net omdat hulle politiese vryheid kry en weer hul land mag terugneem nie, maar omdat hulle identiteit as volk van God herstel is. Met die ballingskap het die nasies, die heidene, geglo dat Israel se God hulle verlaat het. In Ps 79:10 lees ons hoedat die heidene spottenderwys en neerhalend vir hulle vra: “Waar is jou God nou?” Die heidene wat eens so gevra het, het na die Israeliete se vrylating ‘n ander deuntjie gesing: “Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen,” moes hulle erken. “Die Here het inderdaad groot dinge aan ons gedoen; ons was bly”. Drie verse van herinnering aan die wonderbare ingrype van God.

Hierna volg die middelpunt van Psalm 126 – die klag van vs 4. Na die droomverlore ontsnapping na die herinnering aan die verlede, word die digter teruggebring na die harde werklikheid van die hede. Die werklikheid van hul heraanpassing in ‘n land waarvan daar niks meer oor is nie. Die geboue is vervalle. Die grond is bar. Selfs die tempel in Jerusalem, die plek van ontmoeting met die Here, die plek van aanbidding, is tot niet. Sommige Israeliete het aangepas in die vreemde land en daar agtergebly. Baie van die oorspronklike ballinge het daar ver weg gesterf. Die groep wat terugkom en moet oor begin is ontnugter. Van hulle is in ballingskap gebore – hulle het nog nooit eens hul vaderland gesien nie. En nou kom hulle terug na hierdie land? Na niks? Daarom die diepe klag: “Verander tog ook nou ons lot, Here, soos u droë spruite in die Suidland in waterstrome verander.”

Geografies was die Suidland die droogste gebied in Palestina. Die spruite in hierdie omgewing het op reënerige dae water vanaf verskeie gebiede vergader. Die reën het skielik gekom, en vir kort tye swaar geval. Dit het veroorsaak dat daar elke nou en dan vir ‘n dag of twee, maar meestal net vir ‘n paar uur, vloede was wat baie gevaarlike strome veroorsaak het. Die digter vergelyk die volk se huidige situasie van uitsigloosheid met hulle ervaring van die droogte wat vir hulle so bekend is. Met hulle tuiskoms in die land het hulle ‘n droë seisoen beleef, ‘n tyd van ontnugtering na die tyd van vorige seën toe hulle hul vryheid ontvang het. En hulle bid hier vir ‘n vloedgolf van God se hernude seën. Hulle wil nogmaals sy skielike verrassende seën ervaar, wat soos reën die droë rivierbeddings laat opswel, seën wat swaar en diep val en met die krag van vloedwaters beweeg en lewegewende verandering bring.

Normaalweg sou ons klag assosieer met uitsigloosheid en selfbejammering. Dit spreek van situasies waarbinne mense vasgeloop is en geen uitkoms sien nie. Dit impliseer ‘n tipe oorgawe, om handdoek in te gooi, moed op te gee, oorgegee aan die lot. Maar nie in dié psalm nie. Hierdie is nie ‘n wanhopige klag nie. Die klag is hier eerder ingebed in die vaste vertroue dat dinge weer beter sál gaan. Daarom kan die digter selfs in die middelpunt van die klag steeds bid en smeek om verandering. En dan met hoop en vertroue en sekerheid al uitsien na wanneer God sy gebed sál verhoor: “Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra.”

Die digter weet dat hulle nie oorgegee is aan hul lot nie, maar aan hulle God. Daarom word die klag van vs 4 ingebed tussen herinnering aan die een kant en hoop aan die ander kant. Uit die herinnering aan die groot dinge wat die Here aan hulle gedoen het, word die hoop op sy toekomstige ingrype gebore. Die Here hét, dws die Here sál weer… Die klagpsalm is dus tegelykertyd ‘n vertrouenspsalm. Die boere was afhanklik van reën vir hulle saad. Maar die feit dat hulle uitgelewer was aan die elemente het hulle weerloos gelaat. Hulle was onseker oor die tydsberekening en die hoeveelheid van die reën. En hulle het jaar na jaar die gevaar van mislukte oeste in die gesig gestaar. Dit het veroorsaak dat hulle meestal met gedempte gemoedere hul saad gesaai het, onseker oor wat gaan word, bewus van die gevare wat dreig, met trane wat drup terwyl die sade val. Soos ‘n boer wat op die manier sy saad saai, so ervaar die verbondsgemeenskap swaar tye terwyl hulle wag op die uitstorting van goddelike seën. Nietemin is hulle vol vertroue dat die tyd van seën sal aanbreek, dat hulle genesing en herstel sal ontvang, en dat hulle angs sal verdwyn – net soos wat die oes verligting en vreugde vir die boer bring.

Ons leef tussen die tye – tye van herinnering aan die een kant, en tye waarop ons hoop aan die ander kant. En mettertyd, soos wat God se seëninge op ons neerreën, skuif ons tye van hoop oor na die herinneringskant. Die fotoalbum waardeur ons blaai word al dikker. En dis goeie nuus! Dit wys hoe God werk, dit wys hoe God seën. Ons oudste album is die vergeelde bladsye van die Bybel, en die verhale van God se omgang met ons voorouers van toentertyd af al. Verhale van ingrype en redding. Uittogte en deurtogte. ‘n Kierie wat water uit ‘n klip laat vloei, en kos wat uit die hemel val. ‘n Kruik wat nie leeg word nie. Donkies wat praat en leeus wat vir mense bang is. ‘n Land van melk en heuning. ‘n Kind wat ‘n reus met ‘n kettie doodskiet. ‘n Vis wat ‘n man insluk en na drie dae weer uitspoeg. Onthou jy daardie dae? ‘n Ster in die hemel en engele in ‘n veld. ‘n Kind in ‘n krip en ‘n kind aan ‘n kruis. Onthou jy nog? ‘n Opstanding uit die dood en ‘n oorwinning oor die bose. ‘n Nuwe Koning en ‘n ewige troon. Die begin van die kerk en die uitbreiding daarvan. Onthoutye, tye van trane gemeng met vreugde. Meer onlangse albums ook. My ouma en oupa het altyd vertel van daai keer… My ouers kan nooit uitgepraat raak oor toe dit gebeur het nie… Persoonlike seëninge: onthou jy die dag en daai dag. Die Here was vir my goed… Die Here ís vir my goed. Hy is getrou, Hy sal ons nooit laat gaan nie, ons nie vergeet nie. Want Hy kyk self ook oor ons skouers na die fotos van ouds, en deur ons gebede van klag laat Hy Homself herinner aan wat Hy al alles gedoen het en hoedat Hy beloof het om dit weer te doen, en weer, en weer, en weer…

Daarom móét ons ons lot bekla! Ons het ‘n verantwoordelikheid om dit te doen. Ons mag nooit tevrede wees met die status quo nie. As gelowiges mag ons nooit sê: “Niks om oor te kla nie,” en daarmee bedoel dat dit met ons min of meer goed gaan nie. Selfs wanneer dit met ons goed gaan en ons in ‘n tyd is dat ons in die seëninge verdrink, selfs dan moet ons voortgaan om te kla – as nie vir onsself nie, dan ter wille van ander. Die wet waarvolgens christene altyd moet lag en vrolik wees, is vals. Ons het so báie om oor te kla, soveel om oor te treur. Soms bestaan die gevaar selfs dat ons gebrek aan klag toe te skryf is aan ons vermyding van die werklikheid. Ons is bang om te kla. Ons wíl nie in die album blaai nie, ons wíl nie onthou nie, want die korrekte herinneringe aan die verlede gooi ons hede in ‘n krisis. Maar ons moet onthou. Ons mag nie vergeet nie. Maar ons moet voor God onthou. Daarin lê die verskil. Ons stuur nie ons klagtes die niet in nie. Ons lê hulle voor God. En dan lag ons deur ons trane heen. Nie sonder ons trane nie. “Egte trane,” sê iemand, “is ‘n geneesmiddel teen valse religieuse middelmatigheid! Egte trane laat ons hoop, al spreek ál die feite daarteen, laat ons vas glo dat ons die beloofde heerlikheid sal smaak, só seker as wat Israel se aanvanklike ‘droom’ … ‘n feit was.”

Ek het twee gedigte van Sheila Cussons (2006) gevind wat vir my aansluit hierby. Die een, Saai dag, gaan ek net gedeeltelik lees. Dit dra die gedagte oor van die harde natuurelemente op saaidag, maar dat daar darem ‘n bietjie vastigheid en vertroudheid in dit alles is. En dan die vertroue dat God ook deur die ongenaakbare omstandighede uitkoms sal gee:

Die lug is vaal soos harsings,
sal met sononder net blekies bloei.
Daar gáán ten minste ‘n sononder wees.
En die berg is nog daar…

Goddank vir duur, die hele ou
afgeleefde vertroudheid van als,
vas in sy hande en ek vas. Hy gaan ons
nie los nie! Hy gaan ons nie los nie!

En dan sluit sy af met:

…dankie virrie wals.

Ten spyte van die dorre saaidag, kan die digter dit verwoord met ‘n wals…

En dan haar gedig Klag, waaroor ek niks verder hoef te sê nie:

Hoor die gedruis, hoor die gedruis, hoor die gedruis
van die wit wit reën.
Die reën sak uit, die reën sak uit, die reën sak uit
stromend omheen.
Diep in die grond, die ondergrond, my ondergrond
dring die water, dring sy genade,
swel die sade…
O God, U alleen is al my krag,
leer my dan, leer my dan
leer my bomenslik dadeloos geduldig wag.

Verwysings

Cussons, S 2006. Versamelde gedigte. Kaapstad: Tafelberg.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.