Psalm 148

30 Desember 2012 – Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Inleiding

Die Psalmboek vervul ‘n unieke funksie in die Bybel, veral in die Ou Testament. Waar die narratiewe boeke soos Genesis deur tot by Ester vertel van wat God gedoen het in die geskiedenis en die profetiese boeke vanaf Jesaja tot by Maleagi fokus op wat God gesê het, verwoord die Psalmboek die volk se reaksie op God se dade en woorde. Ons weet dat die Psalmboek ‘n samestelling is van altesaam 150 psalms. Die hele boek word in vyf kleiner boeke of groeperinge van psalms verdeel. Die laaste boek, Boek 5 sluit af met ‘n versameling van vyf “Prys die Here”of “Halleluja” psalms. “Halleluja” beteken letterlik “prys die Here”. Hierdie psalms vorm die slot van die vyfde boek, en daarom ook die slot van hele Psalmdigbundel – al 150 psalms bou op tot ‘n klimaks in die laaste 5 “Halleluja” gedigte, naamlik Psalms 146-150. As middelste van die vyf laaste psalms vervul Psalm 148 ‘n sentrale plek binne hierdie groep van uitbundige en ongeëwenaarde lof.

Wat vorm en styl betref, is Psalm 148 in sy oorspronklike Hebreeuse skrif ryk aan ritme, herhalings en rym. Die blote lees van die Hebreeuse lied bring byna mens se voete in beweging om spontaan saam te begin dans. Keer op keer op keer, in totaal 12 maal in die 14 verse, word die volk opgeroep om die Here te prys! Die psalm het ‘n sirkel samestelling. Dit beteken dat dit met presies dieselfde frase begin en eindig (“Halleluja”), om sodoende ‘n raamwerk te vorm waarbinne die res van die gedig gegiet word. Hierdie loflied word dus saamgebind en omsluit deur lof.

Om vir julle ‘n gevoel te gee van die Hebreeuse gedig of lied, het ek die belangrikste woorde, frases en patrone van die Hebreeus naas die Afrikaans gesit, in die hoop dat dit wel bietjie sin sal maak en dat julle die rym en ritme sal kan aanvoel en die patrone sal raaksien:

ps148

ps148b

 

Verklaring:
Inleiding en slot: Prys die Here (Yah)
Inhoud: 2 hoofdele: vs 1-6 (Prys die Here in die hemele … want Hy is die Skepper) en 7-14 (Prys die Here van die aarde af … want sy majesteit strek oor aarde en hemel, dws Hy is Koning van die aarde en die hemel)
Hooftemas vir die oproep tot lofprysing word telkens deur “want” ingewy. Die Here as Skepper en Koning staan dus sentraal.
Eerste lees ons van die hemel en dan die aarde. Maar in vs 13 word die volgorde omgekeer: eerste die aarde en dan die hemel.)

Boodskap
In die eerste gedeelte van Psalm 148 (vss 1-6) word die hemele en alles daarin opgeroep om die Here te prys, ook die boodskappers en die dienaars van die Here in die hemel. Die rede vir hierdie oproep tot lofprysing is omdat dit die Here is deur wie se skeppingswoord hulle almal tot stand gekom het, die Een wat orde en vaste grense geskep het waar daar eens chaos was.

In die tweede gedeelte van die psalm (vss 7-14) word alles wat op die aarde is uitgenooi om die Here te prys. Teenoor die “waters in die hemelruim”(vs 4) word die “seediere” (moontlik ‘n verwysing na “seemonsters” binne die verstaan van die OT wêreldbeeld) en “oseane” of “oerwaters” (vs 7) nou gelys. Ook die meteorologiese verskynsels van “weerlig”, “hael”, “sneeu”, “miswolke” en “stormwinde”. En die “berge”, die “heuwels” en die “bome” en al die soorte diere. Laastens kom groepe mense aan die orde, vanaf die “konings” tot die “volke”, “alle regeerders”, “jong manne” sowel as “meisies”, en verskillende generasies. Alles op aarde moet die “Naam van die Here” prys want “sy Naam is hoog verhewe, sy majesteit strek oor die aarde en die hemel”. Die Here is koning in die hemel en op die aarde. Aanvanklik word alles (en almal) wat in die hemel is opgeroep om die Here te prys, daarna alles (en almal) wat op die aarde is. En aan die einde word die volgorde van hemel en aarde omgeswaai na aarde en hemel toe. Dit beklemtoon die omvattendheid van die oproep tot lof. Alles in die heelal, in die hemel en op die aarde, op die aarde en in die hemel, bo en onder, onder en bo, word opgeroep om die Here te prys!

In vs 14 staan letterlik: “Hy (die Here) lig op/sal oplig ‘n horing vir sy volk (werkwoord dui op teenswoordige of toekomstige handeling), ‘n pryslied vir sy getroue volgelinge, vir die Israeliete, die volk wat naby aan Hom is. Prys die Here!” (Teenoor NAV se [swak] vertaling: “Hy het aan sy volk mag gegee. Dit is die roem van al sy troue dienaars, die Israeliete, die volk naby wie Hy is. Prys die Here!”) In die OT was die horing ‘n simbool van krag – God se krag wat enersyds geopenbaar word in sy skeppingswoord waaruit orde vanuit chaos geskep word (vs 5-6) en andersyds in sy koninklike majesteit en heerskappy oor die hemel en die aarde (vs 13). Naas simbool van krag kan die horing ook dien as simbool vir die Dawidiese koning.

Wat maak ons vandag met hierdie psalm? Wie van julle wat hier sit kan rondom julle kyk en ‘n loflied oor julle lippe laat bars? Wie van julle ervaar dat God orde uit die chaos om ons skep? En dat Hy as Koning heersend teenwoordig is oor die hele aarde, en oor die hemel? Wie van julle sien die krag van sy horing in die manier waarop Hy regeer? Ons leef vandag in ‘n tyd waar baie mense, óók gelowiges, moedeloos is of hoop verloor het. Die reënboognasie is nog glad nie wat dit moet of kan wees nie (en hier word geensins bloot na grense oor velkleur heen verwys nie). Korrupsie, leë beloftes en politieke geheimhouding is aan die orde van die dag. Misdaad en geweld, moord en dood. Kinders en kleinkinders vlug (ons noem dit meer diskreet “emigreer”). Die onderrigstelsel stel teleur. Vele sit sonder werk. En deur dit alles lê die vraag: wat is die rol van die kerk? Boonop loop die kerk, of kerke, leeg vanweë die hedendaagse neiging tot desentralisasie. Die kerk is inderdaad nie meer alles vir almal nie. Baie gelowiges sou tereg redeneer dat ons álles verloor het. Ons het níks om oor te sing nie, wat nog te sê jodel en dans.

Kom ons gaan kyk bietjie na die lewens van die koor wat hierdie lied geskryf en gesing het. Die psalm was bedoel as publieke lofprysing waaraan die hele volk deelgeneem het, dws ons praat hier van ‘n massakoor. Of miskien nie heeltemal so baie nie. Want sien, die psalm, soos ook die ander 4 uitbundige lofpsalms aan die einde van die Psalmboek, dateer uit die tyd ná die ballingskap. Die koor wat opgeroep word om te sing is aansienlik uitgedun. Diegene met die beste en die sterkste stemme sit in boeie in ‘n vyandige land. Die groepie wat oorbly het alles verloor – hulle mense, hulle leiers, hulle huise, hulle tempel, hulle land, hulle vryheid, hulle ganse identiteit. Die Beloofde Land lê in puin. Daar is niks van oor nie. Geen werk vir die mans nie, geen lande om van te oes nie, geen vee om mee te boer nie, geen toekoms vir die kinders nie. Deur en deur ‘n wanhopige prentjie. Maar tog, as ons nie net kyk nie, maar ook luister, dan hoor ons hoedat hierdie uitgedunde groepie mense vanuit die puin hulle stemme verhef en ‘n loflied met oorgawe sing: Hallelu Yah! Hoe is dit moontlik?

Maar dit is tóg moontlik. Want slegs mense wat egte verlies ken, weet wat ware lof beteken. Hierdie lof het nie maklik oor die volk se lippe gerol nie. Hulle het alles verloor. Maar deur hierdie swaarkry heen het die volk geleer wat dit beteken om op God te vertrou en om Hom te loof as hulle Skepper en hul Koning ongeag die lyding wat hulle deurgemaak het en die geweldige verliese en onsekerhede wat hulle in die gesig staar. Hierdie is deurleefde mense, hulle het geleer dat ware lof nie alte maklik kom nie, en wanneer dit die dag kom dan is dit lof ten spyte van… Dit is om die Here te loof ten spyte van die situasie waarbinne jy jouself bevind. Dit is om die Here te loof wanneer dit goed gaan, maar dit is ook om die Here met net soveel oorgawe te loof wanneer dit die dag nie goed gaan nie, selfs te midde van tye van erge swaarkry en lyding. Ons het hier te make met lof wat gebore is vanuit lyding en swaarkry, aanvegtinge en vrae, nood en dood, trane van verlies en trane van vreugde. Die volk wat álles verloor het, word in Psalm 148 (om die waarheid te sê in Pss 146-150) uitgenooi om sonder inhibisies die Here voluit te loof. Dit is ook nie sonder rede dat die Psalmboek kulmineer in 5 laaste psalms van uiterste lof nie. Alleen diegene wat die vorige 145 psalms ken, die inhoud van lyding en kwellinge, vrae en vrese, worstelinge en vreugdes gesmaak en gebid het, kan uiteindelik Psalms 146-150 met oorgawe sing.

Soos die volk van destyds sit baie van ons ook in ballingskap. Wat sekere situasies betref deel ons dalk die swaarkry van ‘n gemeenskaplike ballingskap, ander het hul eie persoonlike situasies van swaarkry wat uitsigloosheid meebring. Mense wat in die jaar iemand verloor het, mense wat slegte nuus gekry het aangaande hulle gesondheid, ander wat hul werk verloor het, of vervreemd is van geliefdes, of kosbare vriendskappe wat doodgeloop het. Nogtans, of eerder juis ómdat lof nie meer onnadenkend oor ons lippe kan kom nie, is die tyd juis nou ryp om die Here te loof. Om opnuut en alleenlik maar op Hóm te fokus, weg te kyk van onsself en ons omstandighede en vir God te loof…omdat Hy God is, omdat sy Naam Skepper is, omdat sy Naam Koning is. Ook omdat Hy binne ballingskapsituasies as Skepper en Koning intree en herskep, nuut maak, oor begin, en regeer. Hy laat nooit die werke van sy hande vaar nie.

Die deurleefde gelowige kan tot hierdie lofprysing beweeg word selfs in die donkerste omstandighede. Hoeveel te meer nie op die Sondag na Kersfees nie? Ons het pas die grootste daad van God se herskepping en nuwe heerskappy gevier. In die menswording van sy Seun het Hy ‘n nuwe begin kom maak met sy skepping, en in hierdie Seun het die Koninkryk (die heerskappy!) van God op aarde sigbaar geword. Die “horing van God”(vs 14), die eintlike Dawidiese koning, het mens geword; die Een wat verlossing vir die mensdom, inderdaad vir die ganse skepping, bring. Wel nie deur militêre geweldvoering en die omverwerping van politieke magte nie, maar deur die weg van die kruis. Toe die volk nie meer naby aan Hom was nie, het Hy naby aan die mense gekom in hulle ballingskap (sy naam is immers Immanuel – God bý ons), Hy het hoop gebring, en ‘n toekoms.

Aan die een kant is daar niks prysenswaardig aan die koms van Jesus nie. Hy kom wel in die volheid van die tyd, maar dit is die volheid van die ballingskapstyd. Die mensdom, die skepping was vasgeloop. Die koms van die Seun is op geen manier romanties nie. Soos wat Psalm 146-150 slegs gesing kan word deur mense wat die keersy daarvan beleef en deurleef het, so word die Seun in gebroke omstandighede gebore – sy wiegie is ‘n krip, sy militêre troon is ‘n kruis. En tog, juis omdat Hy so kom, juis omdat Hy so ís, kan en mag en moet ons Hom prys. In die Seun het God opnuut kom skep, deur die Seun het Hy sy heerskappy (sy koninkryk!) nuut laat deurbreek. Ons staan op die vooraand van ‘n nuwe jaar. Van ons ervaar al die Here se herskepping. Onder ons is daar mense wat goeie nuus gekry het oor hul toekoms, hetsy oor werk of oor suksesvolle mediese behandelinge, of verhoudinge wat groei of herstel of wat ookal. Daar is ook ander onder ons wat nog niks van hierdie herskepping beleef of raaksien nie – mense diep in ballingskap. Almal van ons, nee álles, word opgeroep om hulle stemme by die kore van hemel en aarde te voeg en die Naam van hierdie Here – Skepper (Hérskepper!) en Koning – te prys. Hallelu Yah!

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.