Jesaja 43:1-7

13 Januarie 2013 – Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Wat is die twee mees basiese emosies wat binne ons leef, die twee waaruit alle ander emosies hulle oorsprong het? Die een is waarskynlik heel maklik om reg te raai – liefde. Die ander een nie so voor-die-handliggend nie – angs. Sielkundiges is dit eens dat ons lewens en ons besluite gestuur word deur liefde en deur angs. Kom ons praat ‘n bietjie hieroor. Ons is aan die begin van ‘n nuwe jaar. Voel jy oorwegend dankbaar oor die jaar wat voorlê, opgewonde oor ‘n nuwe begin en bly oor nuwe geleenthede en uitdagings? Dan is jou jaar gebou op die emosionele fondament van liefde. Of voel jy onseker oor wat die jaar inhou, bang vir wat wag, angstig oor die doktorsafsprake of die politieke verkiesing of wat ookal wat voorlê, bevrees vir jou en jou mense se veiligheid en toekoms? Dan is jou jaar gebou op die emosionele fondament van angs.

As ons moet eerlik wees dan leef almal van ons met angs in ons. Ons is miskien angstig omdat ons onseker is, en ons hou nie van onsekerhede nie. Of ons is angstig omdat ons voel dat ons nie beheer het oor ons lewens of oor verskeie aspekte daarvan nie. Daar is net eenvoudig soveel dinge wat skeefloop en waaraan ons niks kan doen nie. Ons kan natuurlik ook angstig wees omdat daar juis soveel dinge was wat ons kón doen, maar wat ons nie gedoen het nie of wat ons verkeerd gedoen het, sodat ons angs verder aangevuur word deur skuldgevoelens.

Hoe dit ookal sy, almal van ons worstel met angs, of die situasie waarin ons ons bevind nou deur ons eie toedoen is of nie. Nou is ‘n mate van angs gesond, want dit bring ons in beweging. Ons het dit nodig ter wille van oorlewing. Die heel binneste deel van ons brein, teen die breinstam, is die setel vir emosies en dit beheer ons veg-of-vlug reaksies. Angs hou ons dus op ons tone en maak ons paraat en kreatief om oplossings te vind en deur te voer. Maar te veel angs of aanhoudende angs is ongesond. Te veel angs veroorsaak letterlik dat daardie gedeelte van ons brein, die emosionele setel, uitsny, en wanneer dit gebeur, dan gaan ons grysstof in skok, met die gevolg dat ons nie reg kan dink nie, nie goeie besluite kan neem nie, emosionele uitbarstings het omdat ons beheer verloor het, en in die langtermyn lê dit ons lam en beroof dit ons van alle moontlike vooruitsigte en toekomsdrome. ‘n Oormaat angs tref ons met uitsigloosheid.

Dit is wat gebeur het met die volk Israel toe hulle in ballingskap was. Boonop was dit hulle eie skuld dat hulle hulle daar bevind het. Hulle het dit oor hulleself gebring – weens hulle opstandigheid, hardkoppigheid en ongehoorsaamheid teenoor God, en ten spyte van vele waarskuwings en tweede kanse en nuwe beginne. Al die volksgenote was ook nie ewe skuldig nie. Die kinders, byvoorbeeld, was onskuldig gewees. So was daar ook individue en dalk families wat nie saamgegaan het met die wandade van die volk nie. En natuurlik die profete wat waarskuwing op waarskuwing uitgeskree het op die stadspleine en by die hekke van die stede, profete wat gepleit het dat die volk tot inkeer moet kom. Maar almal, ook die onskuldiges, het die prys betaal vir die gemeenskaplike sondes van die volk.

En toe die waarskuwings werklikhede word, toe het die skuldiges waarskynlik nog meer angstig gevoel as die onskuldiges. Dink net – om te besef jy het dit oor jouself gebring. En nie net oor jouself nie, maar ook oor ander! Wat ‘n verskriklike besef, wat ‘n geweldige angs! Om te weet dat alles wat nou met jou gebeur, al die slegte dinge, jou toekom, dat jy of ons dit dubbel en dwars verdien. Soos die volk in Jesaja 42: 24 bely: “Ons wou nie sy wil doen nie, ons wou nie na sy woord luister nie.” Mens wil amper in goeie Afrikaanse selfverwytende taal sê: “Ons wou mos! En kyk waar sit ons nou.”

As mens so ‘n slegte situasie oor jouself gebring het, het jy eintlik geen reg om te vra vir amnestie nie. Vandaar die uiterste graad van die volk se angs. Hulle weet hulle het niks om hulle op te beroep nie, en dat hulle geen reg het om enige vorm van uitkoms te verwag nie. Daarom lees ons op plekke hoedat die volk opgehou het om te bid vir herstel – hulle het hulle vrymoedigheid teenoor God verloor.

Maar wanneer die volk dan die diepte van hulle nood besef en die angs aan hulle vreet, wanneer hulle nie meer weet hoe om tot God te bid en of hulle enigstens nog die reg het om met Hom te praat nie, dan kom daar ‘n totale onverwagse wending in hulle situasie, dan raak God aan die praat, en dit wat Hy sê is so radikaal anders as wat hulle verwag…

Lees Jesaja 43: 1-7…
Soos met Psalm 148 twee weke gelede help dit baie om iets van die uiteensetting van die Hebreeuse teks te verstaan wanneer ons die gedeelte lees. Die Afrikaans is eintlik baie goed vertaal, behalwe dat twee belangrike voegwoorde nie vertaal is nie (vs 1 en 5 “Moenie bang wees nie, WANT”), asook ‘n herhaling van “Ek” in vs 4 waar God na sy liefde verwys, en ‘n woord wat wil beklemtoon in vs 7 (“ja!” of “inderdaad”). Ons het weereens te make met ‘n sirkelstruktuur wat opbou na die klimaks van die boodskap in die middel (vs 3 en 4): PowerPoint:

jes43a

jes43b

Sirkelstruktuur (chiasme) wat opbou tot ‘n klimaks in die middel:
a Ek is jou Skepper.
b Moenie bang wees nie want jy behoort aan My en daarom is Ek (in jou moeilike tye) by jou.
c Die rede hiervoor het twee kante, naamlik wie Ek is en wie jy vir My is: 1) Ek is die Here jou God en 2) Jy is vir my kosbaar en Ek het jou lief.
b Moet dus nie bang wees nie want Ek is by jou omdat jy aan My behoort.
a Ek is jou Skepper. Ek het jou tot my eer geskep. Dit is inderdaad so: Ek het jou gemaak!

Israel, wat geen aanspraak kan maak op die hulp, verlossing en beloftes van God nie, word deur God getroos. Die God wat hulle geskep het, troos hulle met die woorde “Moenie bang wees nie, want Ek verlos jou. Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur beproewinge gaan, is Ek by jou en bewaar Ek jou.” Heel eerste hoor die volk dat die God wat uit eie inisiatief na hulle toe kom, die Een is wat hulle geskep het. En as hulle hulle geskiedenis herroep en ook die psalms onthou wat hulle nog gesing het voordat hul moed heeltemal gebreek is, sou hulle onthou dat God nie net hulle Skepper is nie, maar dat hy die Skepper is van hemel en aarde, van alles wat bestaan, en dat Hy daarom oor die mag beskik om hulle situasie te verander. God het eenmaal vanuit niks die wêreld geskep, Hy kan weer vanuit niks ‘n nuwe toekoms vir sy mense skep. So lei Hy sy trooswoorde teenoor hulle in: “Dis die Skepper wat praat – Ek kán uitkoms bring. Moenie bang wees nie, want Ek verlos jou.”

Die woord wat hier vir “verlos” gebruik word verwys na Israel se gebruik binne familiekontekste waarvolgens die familie verplig was om iemand anders in die familie wat in die moeilik was, te help. Gewoonlik het dit gebeur wanneer iemand alles verloor het, dws wanneer iemand arm geword het. Maar dit kon ook verwys daarna dat ‘n familielid die verpligting het om jou uit die gevangenis vry te koop indien jy daar sou beland. Familielede was dus verantwoordelik vir mekaar. Hulle grondwet het hulle verplig daartoe en hulle kon voor die raad van oudstes, die hof van daai tyd, gedaag word indien hulle nie hul verpligting nakom nie. Met dit in gedagte moet ons onthou dat God ‘n verbond met Israel gesluit het, ‘n ooreenkoms, waarvolgens Hy beloof om Hom aan hulle te verbind as hulle God, en dat Hy hulle altyd sal beskou as sy volk. Met hierdie verbondsluiting het God Homself dus as hul Vader bekendgestel, en hulle is sy kinders. Soms praat Hy van Homself as die Bruidegom en van Israel as sy bruid – ook terme wat binne familiekontekste gebruik word. Die dat God dan verder gaan: “Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.” Dus: Ek het by name ‘n verbond met jou gesluit en Myself aan jou toevertrou. Jy behoort aan My.” (Wanneer ons vandag kinders of volwassenes doop word ons aan hierdie beloftes wat God ook oor ons uitspreek, herinner.) God het daarom ‘n verpligting om die volk in hulle nood te help, selfs al het hulle dit oor hulself gebring.

Eerste het ons gehoor dat God die volk kán help, omdat Hy die Skepper is van alle dinge. Tweedens het ons gehoor dat God hulle móét help, omdat Hy ‘n ooreenkoms met hulle gesluit het en Hy mag dit nie verbreek nie. Daarom sal Hy hulle bewaar deur water en riviere, vuur en vlamme. Hulle sal nie wegspoel nie, hulle sal nie brand nie, want juis daar sal hulle ontdek dat Hy by hulle is. Hier kom ons nou by die middelste gedeelte van die teks, die klimaks. Hoekom al hierdie woorde van troos, waarom sulke groot beloftes? “Omdat Ek die Here jou God is, die Heilige van Israel, jou Redder. Dis vanweë wie Ek is, dat Ek jou sal help! Maar ook omdat jy vir My kosbaar is, omdat jy swaar weeg (letterlik) en Ék, Ek is lief vir jou.”

Wat sien ons hier? Nie net dat God die volk kán help omdat Hy die magtige Skepper is nie. Ook nie net dat Hy hulle móét help omdat Hy daartoe verplig is nie. Maar ten diepste ook dat Hy hulle wíl help, omdat Hy hulle vir Hom kosbaar is, hulle weeg swaar by Hom, Hy het hulle lief. Die Een teenoor wie hulle so heeltyd ongehoorsaam was, Hý het hulle nog steeds lief. Ongeag wat hulle gedoen het, ongeag die feit dat al die angs wat hulle met hul saamdra, daar hoort.

Julle sien, waar ons as mense dikwels meer deur angs as deur liefde gedryf word, word God altyd deur liefde gedryf. Dit is die rede waarom Hy geskep het. Dit is die rede waarom Hy Homself aan ons toevertrou het en beloof het om áltyd by ons te wees en vir ons te sorg en te help. Daarom besweer God die volk se angs. Daarom besweer God ook ons angs. Daar is geen rede meer tot vrees nie. Die beloftes wat God in die teks gee het drie temas. Aanvanklik sê Hy dat Hy die volk sal bewaar as hulle deur beproewinge gaan. Aan die einde sê Hy dat hulle sal versamel van regoor die wêreld sodat hulle weer saam kan wees, sodat hulle weer familie kan wees (familie, wat ook vir mekaar sorg…). En in die middel, daar waar die hoogtepunt van sy boodskap lê, sê God dat Hy volke en mense as losprys sal gee in ruil vir sy volk se lewe. God gaan so ver as om ruiltransaksies aan te gaan omdat sy mense vir Hom kosbaar is, omdat Hy hulle so baie liefhet.

En toe die ruiltransaksies nie genoeg blyk te wees nie? Toe word God mens en in die liggaam van sy Seun wys Hy dat Hy konkreet bý ons is (Immanuel), soos Hy reeds in Jesaja en elders verseker het. Meer nog as dit – Hy gaan weer ‘n ruiltransaksie aan omdat Hy ons so liefhet. Die keer is ander volke nie die losprys nie. God, die groot Familieman wys tot die uiterste hoedat Hy kan, moet en wil ingryp in ons lewens, hoedat Hy erns maak met sy beloftes – en sy eie Seun word die losprys om ons vry te koop vanuit ons uitsiglose omstandighede en ons ewige vrese. Hy het ons gemaak. Ons is syne. Maak nie saak wat ons doen of waar ons ons bevind nie, Hy is by ons. Deur alles is ons vir Hom kosbaar, weeg ons so swaar op sy hart, het Hy ons so lief – dat Hy sy eie Seun nie spaar nie, dat Hy so ook Homself nie spaar nie, maar prysgee sodat ons vanuit sy liefde verlossing kan vind. God se liefde vir ons het Hom duur te staan gekom. Die losprys wat Hy betaal het vir hardkoppige kinders is groter as groot. As ons maar uit hierdie liefde van Hom kan leef. As ons kan toelaat dat nie ons vrese nie, maar sý liefde vir ons ons grootste dryfveer kan wees.

 Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.