Jesaja 62:1-12

20 Januarie 2013 – 3de Sondag na Epifanie
Prediker: Bianca Botha

Jesaja het in Juda opgetree in die tyd voor die ballingskap. In dié tyd was die Assiriërs as wêreldmoondheid ‘n baie groot bedreiging vir die verbondsvolk. Jesaja waarsku die volk en sê dat hulle op die Here moet vertrou, maar hulle plaas hul vertroue eerder in Egipte en vorm ‘n koalisie in die hoop dat Egipte hulle sal beskerm. Jesaja se groot boodskap aan die volk was dat hulle hulself van hul sondes moet bekeer en op die Here vertrou, anders gaan hulle in ballingskap weggevoer word. Juda het egter nie gehoor gegee hieraan nie en is toe vasgevang in ‘n magstryd tussen Egipte, die Assiriërs en die Babeloniërs. In ±586 vC is hulle deur Babelonië verower en is al die vernaamste mense in die gemeenskap (dws die rykes, adelikes en almal wat opgelei en vaardig was) in ballingskap weggevoer. Jerusalem en die tempel is verwoes en daarmeesaam alles waarin hulle hul sekuriteit gevind het. Dit was maw ‘n baie donker en bedrukte tydperk vir die volk, heel moontlik dié donkerste tydperk in hul geskiedenis.

Jesaja het egter reeds voor die ballingskap verkondig dat God die volk uit hierdie ballingskap waarin Hý hulle gedompel het, sal verlos en byna 70 jaar later word hulle uiteindelik toegelaat om na Jerusalem terug te keer en die tempel te herbou. Met die terugkeer het hulle groot verwagtings gehad van ‘n nuwe, geseënde lewe wat hulle in Jerusalem sou voortsit. Uiteindelik is hulle verlos uit die jare lange marteling waardeur hulle moes gaan. Uiteindelik kan hulle terugkeer na hul geliefde stad, weg van die ellende en vernedering in Babelonië.
Maar met hul terugkeer was die land deurmekaar en alles totaal verwoes. Hulle vind dat dinge in hul afwesigheid drasties verander het en dat ander mense hulle tuisgemaak het op die grond wat eens hulle s’n was. Van die herbou van die tempel was daar ook nog geen sprake nie. Na al die jare se wag en hoop en droom keer hulle eindelik terug en al wat op hulle wag is een groot teleurstelling. Soos mens kan verwag het hulle hierdie situasie een kyk gegee en onmiddelik tot die gevolgtrekking gekom dat die Here hulle in die steek gelaat het.
En dit is op hierdie punt waar Jesaja 62 inkom.

Jesaja 62 is die antwoord op die klag van die volk dat God hulle in die steek gelaat het. Dis ‘n reaksie op hul gevoel van moedeloosheid, onsekerheid en teleurstelling. Met hierdie gevoel kan ten minste twee derdes van mense op aarde identifiseer. En ons as Suid-Afrikaners moet ten volle empatie kan hê met die gemeenskap vir wie Jesaja preek en profeteer. Ons hoef net die koerant oop te maak, die nuus aan te sit of die geskiedenisboeke nader te trek, en sommer vinnig word ons deur hierdie selfde gevoel van angs en moedeloosheid oorval. Stakings in de Doorns, grusame en geweldadige moorde, korrupsie, werkloosheid en armoede. Selfs die rykes en die maghebbers is benoud vir 2013… want die wêreld se ekonomiese sisteem stuur in ‘n gevaarlike rigting. Die feestyd is verby, die nuwe jaar is goed op dreef en skielik word ons weer gekonfronteer met gevoelens van vrees, wanhoop en moedeloosheid.

Soos die volk vra ons dalk ook: “IS daar hoop?”

En dit is juis op hierdie wanhopige gevoel, wat onder die volk heers, dat die profeet dan reageer, deur hulle te verseker, dat hy nie sal ophou bid – nie sal stilbly – totdat daar vir Jerusalem hoop en redding deurgebreek het, soos ‘n nuwe dag, of die lig van ‘n fakkel in die nag nie. Nie net sal hy vir hulle bid nie, maar hy moedig hulle aan om dieselfde te doen.
In vers 6 lees ons:
“Ek het wagte op jou mure gesit Jerusalem, hulle sal dag en nag roep. Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner , julle moenie stilbly nie.”
Die Hebreeuse woord vir wagte wat hier gebruik word beteken letterlik “hulle wat in herinnering roep.” Hierdie mense/wagte was koninklike amptenare wat oa rekord van die hofgebeure moes hou. Hulle taak was om inligting aan die koning te verskaf; om hom in ‘n bepaalde situasie te herinner aan vorige besluite, tersaaklike feite, probleme ens.

Beteken dit dan dat God sy beloftes vergeet? Dat ons Hom kan/moet oorreed om dinge te doen wat Hy eintlik nie wil nie? Of is dit so dat sy beloftes nie noodwendig gaan realiseer nie? Hoekom sou dit nodig wees vir hulle om God aan te vuur tot dade van liefde en ontferming?
Die res van die teksgedeelte maak dit duidelik dat God ook die herstel van Jerusalem WIL hê en verseker die volk dat Hy wel sy beloftes gaan nakom. God het reeds besluit en nog meer as dit ‘n eed afgelê – lees ons in vers 8 – dat Hy sy belofte van herstel sal volbring.
Ons/die volk hoef God nie te paai en te oorreed om tot genade en liefde oor te beweeg nie. Die teks is vol bewyse van sy liefde en sy verlossingsplan. Dit gaan dus nie daaroor dat die volk/die kerk God tot aksie probeer beweeg nie, maar dat God die moedelose en wanhopige volk tot aksie beweeg. Die vraag is dus nie of God genoeg omgee om ons gebede te verhoor nie, maar of ons genoeg omgee om Hom daarvoor te vra. Is dinge vir ons belangrik genoeg dat ons dit in gebed na Hom toe bring; dat ons nie sal stilbly nie?

God se genade, beloftes en ingrype in ons lewens en in hierdie wêreld roep ons op tot aksie. Ook wanneer ons lees in vers 2 “Jy sal ‘n nuwe naam kry, ‘n naam wat die Here self vir jou gekies het…” en later “Jy sal genoem word ‘die een wat die Here liefhet’… jou land: die een wat aan die Here behoort,” ook daardie naamsverandering vra van ons iets. Ons weet dat name in die Bybelse tyd baie sterker betekenis gedra het as vandag. Dit het jou karakter beskryf. Wie jy is, hoe jy is, wat jou lot (oftewel jou toekoms) en jou identiteit is. Soos in die vehale van Sara en Abraham, of van Paulus word die volk deur hierdie naamsverandering opnuut bewus gemaak van God se plan vir hulle lewe; van die beloftes wat Hy gemaak het en wat Hy tot vervulling sal bring; van hul identiteit. En dit vra dan van hulle om volgens daardie identiteit te leef – soos mense vir wie die Here lief is; soos mense wat aan God behoort; soos ‘n bruid wat net oë het vir haar Bruidegom.

Die vraag is dus nie of God sy beloftes gaan nakom nie, maar of ons lewe asof Hy sy beloftes gaan nakom. Dis nie of daar hoop is nie, maar of ons die hoop kan raaksien te midde van ‘n wanhopige situasie en of ons lewe vanuit daardie hoop.

Want ware hoop dryf mens tot aksie.
Ek is Vrydagaand by ‘n vriend van my se huis vir ete en toe ons aansit sien ek daar is poeding lepels gedek. Wanneer daar ‘n mes en vurk langs jou bord lê weet jy daar gaan die gewone wees: vleis en slaai of groente, miskien stysel… maar daar is niks wat mens so kinderlik opgewonde kan maak soos wanneer jy sien dat daar ‘n poedinglepel gedek is nie. Dis dan wat jy weet die gasheer of gasvrou het ekstra moeite gedoen vir jou besoek. Ek verneem toe dat daar pavlova in die oond is en raak selfs meer opgewonde as te vore. Met ete merk ek dat niemand te veel kos skep nie. Nie een van ons eet ons borde leeg nie, want ons weet wat kom…

Hoop is om die groter prentjie van God se plan te sien. Met Jesaja se antwoord op die klagtes van die volk probeer hy hulle help om verby hulle onmiddelike probleme te kyk; om hulle te verseker dat die terugkeer uit ballingskap nie die eindpunt is nie, maar dat dit bloot die begin van die herstel en van God se verlossende handelinge beteken. Hy wil weer die hoop in hulle wakker maak; daai gevoel van afwagting.

“Gaan uit, gaan uit by die poorte, maak gereed vir die volk! Vul die grootpad op, vul dit op!” sê Hy vir hulle “Hy wat jou red, kom!”

En vandag weet ons dat dit presies is wat gebeur het. In Jesus Christus het God sy beloftes aan die volk nagekom deur ‘n nuwe geskiedenis te begin waarlik vir hulle en vir ons ‘n nuwe naam te gee. In die tyd voor Christus het die mensdom oor en oor gefaal daaraan om hulself aan God te verbind – so lees ons in die Ou Testament – maar deur Christus verbind God Homself aan ons. En daardeur word vir ons ‘n nuwe toekoms geskep en ‘n nuwe naam gegee; nuwe hoop; ‘n verwagting.

Soos die ballinge se terugkeer na Jerusalem bloot die begin van God se verlossingsplan met hulle was, so was Jesus se lewe en sterwe bloot die begin van sy verlossingsplan met ons en met hierdie wêreld. Ons weet dat die Koninkryk van God met die koms van Christus reeds aangebreek het; maar ons leef steeds in die verwagting, in die hoop dat dit met sy wederkoms tot vervulling gebring sal word.
Daarom behoort ons nou te leef volgens daardie hoop, die verwagting.
Soos wat ons in voorbereiding op die pavlova wat in die oond wag, op ‘n sekere manier geeet het, so behoort ons volgens die hoop en die verwagting, volgens God se beloftes aan ons, ook op ‘n ander manier te leef; volgens ons nuwe naam – Christen; Mense wat aan Hom behoort; Gewyde mense; Geliefdes.
Want waar gelowiges in die Koninkryk volgens daardie identiteit leef; waar hulle God se waardes volg; waar mense en gemeentes weier om stil te bly en dag en nag tot die Here roep, daar verander alles. Daar breek die hoop deur soos ‘n nuwe dag en word die duisternis weggedryf deur die lig.

Ek bid dat hierdie jaar vir ons gekenmerk sal word deur hoop en verwagting eerder as deur moedeloosheid en vrees.

Mag ons, in ons eie lewens, in ons gesinne en in ons gemeente op so ‘n wyse leef en optree dat die hoop al verder en verder rondom ons sal uitkring.

Notas
Poeding voorbeeld aangepas uit “Lepel” – Cumminitas E-videos

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Bianca Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.