Eksodus 34:29-35

10 Februarie 2013 – Sondag van verheerliking
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond

Toe Moses vir die eerste keer tydens die volk se woestyntog die berg Sinai opgegaan het om die 10 Gebooie van God af te ontvang, het hy na die volk se mening te lank weggebly. Met sy terugkoms het Moses gesien dat die volk in hulle ongeduld ‘n goue kalf gebou het en hulle het die beeld aanbid. Moses was woedend en hy het die twee plat klippe met die 10 Gebooie daarop flenters gegooi. Ten spyte van sy woede het Moses vir die opstandige volk ingetree voor God en gevra dat Hy hulle sal vergewe. Moses het gevra dat God eerder sy lewe moes neem as die volk s’n. Maar God was baie kwaad. Aanvanklik het Hy gesê dat Hy die volk gaan uitwis. Daarna het Hy onderneem om tog maar vir die volk verder te laat trek, maar dat Hy nie self saam met hulle sal trek nie, want Hy sal hulle waarskynlik verdelg omdat hulle so moedswillig is. Hy sal eerder sy engel stuur om saam met die volk te trek. Steeds was Moses nie tevrede nie en bid hy nogmaals tot die Here. En hy vra vir die Here dat die Here hulle asseblief tog nie moet laat verder trek as Hy nie self met hulle saamgaan nie. Die Here het toe ingestem om weer vir die volk ‘n kans te gee en nuut te begin met hulle. In Eksodus 34 kry Moses opdrag om nogmaals twee plat klippe uit te kap en teen die berg op te neem, net hy alleen, want daar sal God weereens die 10 Gebooie opskryf wat Moses dan aan die volk moet gaan voorlê. En op die berg het God in ‘n wolk afgekom, by Moses kom staan en met hom gepraat. In die OT was dit bekend dat God Homself in ‘n wolk verberg het omdat niemand Hom met die blote oog kon sien en steeds bly lewe nie. In vers 29 kom Moses na sy ontmoeting met die Here met die nuwe stel klippe by die berg af…

Lees Eksodus 34: 29-35

Baie van julle sal weet van die bekende beeld van Moses met die horings wat Michelangelo vroeg in die 16e eeu uitgebeitel het, en wat in ‘n kerk in Rome besigtig kan word. Van julle het dit waarskynlik al met jul eie oë gesien. Hierdie beeld is gebaseer op die Vulgaat, dit is die Latynse vertaling van die Bybel wat in daardie tyd in omloop was. In die Vulgaat staan daar in Eksodus 34: 29 dat Moses horings gehad het toe hy van die berg afkom. Die Vulgaat het egter in hierdie gedeelte die oorspronklike Hebreeuse teks verkeerd vertaal. Die teks verwys letterlik na die vel van Moses se gesig wat geblink het toe hy van die berg afkom. Hierdie keer kom hy dus nie net met die Gebooie in sy hand nie, maar ook met ‘n fisiese teken as bewys daarvan dat hy in God se teenwoordigheid was. Moses self was salig onbewus van sy blink voorkoms. Maar toe Aäron en die res van die Israeliete Moses se blink gesig sien was hulle so bang dat hulle nie nader wou kom nie. Met die vorige opgaan en afkom van die berg af het die volk nie vir Moses ernstig genoeg opgeneem nie. Hierdie keer besef hulle dat hulle in werlikheid nie met Moses, die onaansienlike hakkelaar, te doen het nie, maar met God; en dat Moses nie homself verteenwoordig wanneer hy terugkom nie, maar vir God. Om dit te bekragtig het God sy stempel op Moses geplaas – Moses se gesig het die teenwoordigheid van God weerkaats. Die God wat nie met die blote oog gesien kan word nie, want dan sal mens sterf; hierdie God word so weerspieël op Moses se gesig dat die volk die glans met hul blote oog kon waarneem. En dit was genoeg om hulle broeke te laat bewe.

Maar Moses het die volk nadergeroep en vir hulle alles gesê wat die Here vir hom op Sinaiberg gesê het. En nadat hy met hulle gepraat het, het hy sy gesig met ‘n doek toegemaak. Elke keer wanneer hy na die Here toe gegaan het om met Hom te praat, het hy die doek van sy gesig afgehaal. En wanneer hy van die Here af terugkom het, het hy vir die volk alles gesê wat die Here hom beveel het. As die volk dan sien hoedat sy gesig blink, het Moses weer sy gesig met die doek bedek. Hoekom was die doek nodig gewees? Daar kan twee moontlike redes wees. Die eerste is dat die doek nodig was om die Israeliete veilig te laat voel of te beskerm wanneer Moses met sy glansgesig met hulle praat. Hulle het immers besef dat God goed is, barmhartig en vol liefde, maar dat Hy ook regverdig is en in staat daartoe om te straf. Hulle het besef dat om met God te speel is om met vuur te speel, en hulle mag daarom nie meer ligtelik met sy boodskap (of met sy boodskapper!) omgaan nie. Die tweede rede vir die doek kon wees om God se gloed van alledaagse kontak te beskerm, sodat die mense kon besef dat God anders is, heilig is, en dat toegang tot Hom nie sommer vir enige Jan Rap en sy maat beskore was nie. Moses was spesiaal gekies as middelaar tussen God en die volk, en nét Moses mag in God se teenwoordigheid verskyn het. Ander wat dit sou waag om te probeer was met die dood strafbaar.

Deur Moses se besoek aan God op die berg en sy terugkoms daarna het hy vir God van die berg afgebring tussen die mense in. Hy het Hom so afgebring dat God vanaf hfst 35 eers in die tent van ontmoeting en daarna in die tabernakel aan Moses begin verskyn het. Dit was dus nie meer nodig om elke keer die berg op te klim nie. En so word Moses die menslike agent wat dit moontlik maak dat God in sy heerlikheid tussen die volk kom woon het. En steeds was dit so dat Moses na elke ontmoeting weer die glans van die Here op sy gesig gehad het.

In Lukas 9: 28-36 vind ‘n soortgelyke gebeurtenis plaas as in Eksodus. Jesus gaan op met die berg en Hy neem vir Petrus, Johannes en Jakobus met Hom saam. Terwyl Hy daar bo bid het die voorkoms van sy gesig anders geword (Matteus vertel dat sy gesig soos die son begin straal het) en sy klere was skitterend wit. Moses en Elia het in ‘n hemelse glans verskyn en met Jesus gepraat. Dit is amper soos ‘n reunie! Ook hierdie keer verskyn God in ‘n wolk en kondig aan dat Jesus sy Seun is. Maar voordat God verskyn straal Jesus reeds die glans uit. Hierdie keer is dit dus wel anders – dit is nie God se heerlikheid wat op Jesus afvryf terwyl Hy op die berg verkeer nie. Jesus is self in besit van hierdie heerlikheid. Anders as Moses is Hy nie ‘n blote mens wat as God se boodskapper onder die mense ingestuur word om alles aan hulle mee te deel wat God vir Hom gesê het nie. Jesus is veel meer as net ‘n menslike agent van God. Hy is God self, Hy self is deurtrek van en omring deur goddelike lig. Hy is díe Lig vir die wêreld. En die punt van sy verheerliking bo-op die berg was dat die dissipels dit sou besef, dit was om vir hulle ‘n kykie te gee op die ware goddelike, Heerlike identiteit van hulle leermeester.

Ons stap aan. In 2 Kor 3:7-18 herinterpreteer Paulus die gebeure in Eksodus en die Evangelies vir sy eie gehoor – die gemeente in Korinte. ‘n Gemeente wat in vele opsigte soos ons is. Hulle leef met hul geloof in die God van die OT, maar ook met die wete dat dinge sederdien verander het. En dit maak dat hulle soms die Geskrifte (hulle Bybel, die OT) verwarrend vind. Hulle leef vanuit die kennis van die opstanding van Jesus en die uitstorting van die Gees. Lees 2 Kor 3:7-18; 4:6.

Enersyds sê Paulus dat Moses se gesig so geskitter het toe hy die wet, dws die 10 Gebooie, op die klippe afgebring het, dat die Israeliete nie na hom kon bly kyk nie. Andersyds sê hy dat Moses sy gesig met ‘n sluier moes toemaak sodat die volk nie kon sien dat die ligglans aan die verdwyn was nie. Hiermee sê hy dus dat Moses se gesig geweldig baie geskitter het direk na sy ontmoeting met God, maar dat hierdie glans vervaag het totdat hy weer “opgehelder is” tydens ‘n volgende ontmoetingsgeleentheid. Verder sê Paulus dat dit nie net Moses was wat ‘n sluier voor sy gesig gesit het nie, maar dat die volk self hulle verstand met ‘n sluier toegemaak het wanneer hulle die OT hoor of lees. Wat meer is, daar is vandag steeds Christene wat hul verstand met ‘n sluier toemaak as hulle die OT lees. Vir hierdie Christene is dit onmoontlik om die OT te ontvang en verstaan as die woorde van God, as ‘n boodskap met wette, maar wette wat op die ou-end nie ten doel het om mense gevange te hou nie, maar om hulle te bevry. Verder kan Paulus nie verstaan dat daar in sy tyd Christene was wat nie besef het dat daar ‘n radikale nuwe glans, of lig, of heerlikheid deur Jesus aangebreek het nie. Jesus wat self ook God is en mens geword het. Jesus wie se heerlikheid eens bo-op ‘n berg ten toon gestel is sodat die skille van drie dissipels se oë kon afval en hulle werklik kon sien wie Hy is. Paulus kan ook nie verstaan dat die gelowiges nie besef dat hulle nou met groot vrymoedigheid na God kan gaan nie. En dat sluiers of doeke nie meer vir sekere uitverkose boodskappers bedoel is nie. Dat sluiers, om die waarheid te sê, vir niemand meer bedoel is nie. Nie vir hul gesigte nie en ook nie vir hulle verstand nie. Want Jesus het vir God, wat eens net in ‘n wolkkolom kon verskyn ter wille van die mense se veiligheid, Jesus het Hom tasbaar naby gebring aan ieder en elk, verál aan die mense wat voorheen geen toegang tot Hom sou hê nie. Ons het nie meer ‘n Moses nodig om namens ons tot God te nader en vir ons by God in te tree nie. Ons mag almal in sy teenwoordigheid wees, sonder sluiers of watter vorm van maskers ookal voor ons gesigte.

En, soos met Moses, vryf God se glans, sy heerlikheid ook op ons af. En onthou, Moses het nie eens geweet dat sy gesig blink nie. Dit het onbewustelik met hom gebeur. Is dit nie miskien juis wat egte heiligheid is nie? Jy probeer jouself nie heilig of indrukkendwekkend voorstel nie – maar ander sien dit spontaan in jou raak, juis omdat hulle dan nie vir jou sien nie, maar vir God. Paulus sê in vers 18 dat die sluiers van ons almal se gesigte weggeneem is, en dat ons die heerlikheid van Christus kan aanskou asof in ‘n spieël (letterlik). Ons is spieëls wat die heerlikheid van Christus weerkaats! ‘n Spieël het geen heerlikheid in homself nie. Dit is bloot ‘n weerkaatsing van ‘n ander heerlikheid. Ons word geroep om die Here te weerkaats! Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Dit is dus ‘n voortgaande proses. En hoe meer ons bewustelik in sy teenwoordigheid verkeer, hoe helderder sal ons weerkaatsing van Hom wees.

Die NT gaan natuurlik nog ‘n stappie verder. In die OT was dit so dat Moses se uiterlike verander het in die teenwoordigheid van God – sy gesig het geskyn. Maar Jesus het vir ons sy Gees gegee – die Gees wat ons vry maak van wettisme, en vry maak om vrymoedig tot God te nader, die Gees wat van ons besit neem en wat nie net ons uiterlike verander nie, maar juis ook ons innerlike. Anders as Moses leef ons dus nie net meer voor God se aangesig nie, ons ís sy aangesig (vs 2 Kor 3:18). Die vraag is of ander mense dit kan sien. Hoe kry ons ons gesigte in die oggend gereed vir die dag wat voorlê? Poets en vryf ons dit blink voor die badkamerspieël, waar ons dit ook met sluiers van allerhande soorte kan bedek of toeverf? Of spandeer ons tyd saam met God, tyd waarin Hy so op ons afvryf dat ons gesigte eintlik heeltemal verdwyn en ander mense net vir Hom kan sien wanneer hulle na ons kyk?

Naas sy beeld van Moses met die horings en die baie bekende Dawidbeeld het Michelangelo ook engele uit marmer gekap. God is soos ‘n beeldhouer wat werk met die marmerblokke. Hoe meer tyd Hy aan ‘n spesifieke blok kan spandeer, hoe beter die eindproduk. Aan die een kant kleiner, want hoe langer gewerk hoe meer marmer word afgekap. Aan die ander kant beter, want hoe langer gewerk hoe meer tyd om alles wat oorbodig is weg te neem. Van sy een engelbeeld het Michelangelo gesê: “Ek het die engel in die marmer gesien en ek het gebeitel totdat ek hom vrygelaat het”. So werk God aan ons, maar sy eindproduk is veel meer skitterend as ‘n engel, dit is die beeld van Christus.

Not merely by the words you say,
Not only in your deeds confessed
But in the most unconscious way
Is Christ expressed.

Is it a beautific smile?
A holy light upon your brow?
Oh no – I felt His presence while
You laughed just now.

For me ‘twas not the truth you taught,
To you so clear, to me still dim,
But when you came to me you brought
A sense of Him.

And from your eyes He beckons me
And from your heart His love is shed,
Till I lose sight of you, and see
The Christ instead.

(Beatrice Cleland)

Ons deelname aan die nagmaal is deel van ons voortgaande transformasie om al meer aan die heerlikheid van Christus gelykvormig te word. Sy heerlikheid word weerspieël deur sy liggaam op die tafel (nagmaal) en sy liggaam om die tafel (die gemeente). Nie een van ons is “waardige” beelddraers nie. Juis daarom bedien die Here aan ons die nagmaal as teken van vergifnis, lewe, troos en hoop.

 Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.