Romeine 9:30 – 10:21

17 Februarie 2013 – Eerste Sondag in Lydenstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond

Toe Paulus sy brief aan die christene in Rome geskryf het, rondom 55 nC, was hy nog nie self in Rome nie. Sy sendingwerk in die ooste (oa Jerusalem en Masedonië) was amper voltooi, en hy het beplan om daarna in die weste (Spanje ens) die woord te gaan verkondig. Hiervoor wou hy graag Rome as sy basis gebruik, sy hoofkwartiere vanwaar hy na verskeie plekke in die weste sou uitreik en vanwaar hy ondersteuning kon kry. Befondsing was ook baie belangrik, want daarsonder sou hy nie kon voortgaan met die sendingwerk in die weste nie. Paulus het gehoop dat die christene in Rome die verantwoordelikheid hiervoor sou neem. Die brief aan die Romeine is dus in essensie ‘n getuigskrif wat Paulus oor homself skryf. Hy wil homself aan die gelowiges in Rome “verkoop” sodat hulle gewillig sal wees om as hoofkwartiere te dien vir hom en hom sal ondersteun in sy roeping. Voordat Paulus homself op hierdie ondersteuning kan beroep moet hy egter eers vir hulle sê presies wat hy wil gaan doen, waarvoor hy staan, en wat die inhoud van sy verkondiging sal wees. Dit alles moet hy baie deeglik begrond, in die hoop dat die Romeinse christene sal inkoop in sy beplanning. Want hy wil hulle so saamneem op sy sending roeping na die weste.
Die brief aan die Romeine word beskou as die mees sentrale geskrif van Paulus wat betref die onderwerpe wat aangespreek word, sowel as die lengte van die brief, die krag waarmee hy skryf en die helderheid van sy argumente. Dit is ‘n brief wat Paulus nie sommer op die ingewing van die oomblik geskryf het nie. Hy het die inhoud deeglik beplan en met sorg aanmekaargesit. Die toekoms van sy beroep (roeping?) het immers van hierdie brief afgehang. Alhoewel hy nie al die belangrike teologiese sake aanpak nie, skryf Paulus wel in diepte oor die wese en inhoud van geloof in sy brief. Hy skryf oor die spanning tussen die wet aan die een kant en geloof aan die ander kant. En hy skryf oor die spanning wat veroorsaak is weens die muur wat die Jode rondom hulself en hulle geloof gebou het, ‘n muur wat veroorsaak het dat niemand anders daar kon inkom nie, geen heiden nie; ook nie die verkeerde Jode nie, nie eens Jesus nie.
Paulus se argument in Romeine bou op tot ‘n klimaks wat aan die einde van hfst 9 bereik word en wat Paulus dan daar en in hfst 10 uitpak. Ons kry dus in vandag se teks met die hart van Paulus se toelogie te doen.

Lees Romeine 9:30 – 10:21

Die Jode in Paulus se tyd het baie spesifieke verwagtinge van God gehad. Hulle onthou die verbond wat God met hul voorvaders Abraham, Isak en Jakob gesluit het. Hulle hou vas aan die beloftes van redding en land en heerskappy. Ten spyte van die OT profetiese voorspellings van ‘n messias wat gaan kom kyk hulle vir Jesus mis en leef hulle steeds in die verwagting van die een wat moet kom. God het sy beloftes nagekom, maar aangesien Jesus nie gekom soos hulle wou hê bly hulle verwagtinge onvervuld. Hulle beskou hulself verder as die uitverkore volk van God, en in hulle verstaan is daar geen ruimte vir ander volke nie. Hulle raak daarom kwaad as heidene deur hulle God aangetrek word en aanspraak maak daarop dat hulle ook glo in dieselfde God. Hulle hou vas aan die eise van die wet soos dit in die OT vir hulle gegee is. Hulle beskou is as nét hulle wetboek en hulle glo dat hulle vrygespreek, gered kan word deur hulle onderhouding van die wet. Die diepste rede waarom die Jode so krampagtig aan die wette vashou, is dat dit uitsluitlik vir hulle gegee is. Dis deel van hulle volkstradisie. Dit maak hulle eksklusief, en sluit ander volke, die heidene, uit.

Die Jode verstaan dit egter heeltemal verkeerd en die hartseer en baie ironiese stand van sake is nou dat die heidene God se nuwe ingrype aanvaar en gered word deur hulle geloof in Christus. Dit terwyl die Jode wat steeds alles in hulle vermoë doen om die wet te onderhou en deur eie prestasie gered te word, dit nie kan regkry nie (want as hierdie vereistes vir jou geld moet jy ál die wette áltyd nakom – iets wat hulle deur die eeue nie kon regkry nie. Met hulle eie voorwaardes (van wetsonderhouding wat volgens hulle dan nou net vir hulle kan geld) skiet hulle hulself dus in die voet. Want nou kwalifiseer niemand meer nie. Die die heidene nie, want hulle het nie die wetboek ontvang nie, en ook nie die Jode nie, want hulle kan nie die wette onderhou nie.

Midde hierdie droewige situasie wil Paulus so graag hê dat die Jode se oë sal oopgaan vir die éíntlike weg tot redding wat nie deur hulself en hul eie verdienste en prestasies behaal kan word nie, maar wat reeds verkry is in Jesus Christus. Hy is die vervulling, die volvoering van die wet. Nie die einde van die wet (Nuwe vertaling), asof die wette nie meer belangrik is nie, maar in Hom bereik die wette hul klimaks omdat Hy die énigste persoon was wat die wette kon gehoorsaam, die enigste persoon sonder sonde. En omdat Hy kom wys het watter wette in ‘n lewe voor God werklik belangrik is, en watter wette volks-eie was en nou moet wegval. Dit gaan nie meer om die honderde wette wat Israel eiesoortig gemaak het nie – van hoeveel treë jy in watter rigting gee, wie in die tempel mag ingaan en wie tot buite die stadspoorte verban word, op watter dag jy mense mag genees en watter dae nie, watter volk gehelp mag word en by watter volk jy liewer moet verbyhou, saam met wie jy gesien mag word en wie jy moet vermy, wat jy mag eet en waaraan jy nie mag raak nie, wanneer jy are mag pluk en wanneer jy moet verbyhou nie. Jesus kom keer hierdie wette alles op hulle kop, Hy oortree om die waarheid te sê hulle almal, sodat Hy kan kom wys waarop ‘n lewe voor God werklik aankom. Jesus kom gehoorsaam die wette wat gerig is op gesonde menslike verhoudinge, ‘n veilige samelewing, ruimtes waar mense mekaar en vir God respekteer, plekke waar menslikheid tot sy reg kom en waar almal menswaardig en met liefde hanteer word – die wette wat deur God self op die kliptablette geskryf is, die tien gebooie. En ook met die tien gebooie is Jesus die enigste persoon wat nie struikel nie.

Omdat wetsonderhouding vir die volk onmoontlik was, het dinge nou verander. Dit is nie meer die wette wat naby aan jou moet wees, soos Moses destyds nog verkondig het in Deut 30 nie, nie eens die tien gebooie nie. Dit is nou Christus – die een in wie hierdie wette tot vervulling gekom het. En dis ook nie dat Hy naby jou móét wees so asof jy Hom moet gaan soek in die hemel of oorkant die see of onder die aarde nie. Dit is wel dat Hy reeds naby jou ís – as jy dit maar net kan glo met die hart en met die mond kan bely – dat hierdie Here wat gekruisig was en uit die dood opgestaan het, dit gedoen het om die wet van die OT tot vervulling te bring, en om die mure van skeiding af te breek sodat, van nou af, álmal wat in Hom glo (dus nie net meer die Jode nie) gered kan word. Dit is nie eens asof die daad in Christus gedoen is en al wat jy van jou kant af moet doen is om maar net te glo nie – so asof geloof self nou weer die “goeie werk” word waardeur jy gered word nie. Geloof is nie iets wat uit jouself kan kom nie. Dit is ‘n gawe, ‘n geskenk van God wat Hy deur die Heilige Gees in jou plaas. Om te glo is ‘n stuk genade wat alleen van God af kom. Ons hoef dus nie geloof binne onsself te be-werk nie. God gee dit. Ons word slegs geroep om te getuig van dit wat God reeds gegee het, om te bely dat Jesus die Here is en dat Hy uit die dood opgewek is. Dit is tog die kern van ons geloof. Dit is waarby alles staan of val. Nie by óns nie. Maar by Jesus. En Hy het nie geval nie, Hy het opgestaan. Hy het rééds oorwin.

Hoe kan dit wees dat die heidene die evangelie snap, maar nie Jode vir wie dit in die eerste plek bedoel was nie? Want die Jode wil spesiaal bly, uitgesonder, die enigste volk belangrik vir God. Maar omdat hulle so graag uitgesonder wil wees word hulle uitgesluit, sluit hulle hulself uit uit die vryspraak wat deur Christus vir almal bewerkstellig is. Baie Jode asook baie ander godsdienstige mense wat hul eie prestasies die maak-of-breek van hul “suksesvolle” verhouding met God wil maak, leef met ‘n stuk onvergenoegdheid, ‘n krapperigheid in hierdie verhouding tot God, omdat hulle steeds vashou aan onvervulde verwagtinge. Hulle éie selfsugtige onvervulde verwagtinge. Dit terwyl God in Christus reeds hul wildste verwagtinge oortref het – as hulle oë maar net daarvoor kon oopgaan… en hulle harte…en hulle monde…en hulle arms, sodat hulle ander mense ook in die binnekring kan ontvang, sodat daar ruimte kan wees vir alle mense en die hele idee van ‘n unieke, spesiale kringetjie of groepie kan verdwyn.

Nie deur wetsonderhouding nie, nie deur goeie werke nie, maar deur jou geloof in Jesus Christus word jy gered. Nét deur jou geloof. En hierdie geloof word nie deur onsself binne onsself gekweek nie. Dit word gegee deur God. Net uit genade. Daarmee gooi ons nie die wet weg nie. Maar die wet is nie daar sodat God mense daagliks kan toets en kan bepunt op grond van hoe gehoorsaam hulle is al dan nie. Die wet is daar om mense te help sodat hulle veilig en gelukkig kan leef. Juis omdat hulle reeds bevry is, reeds gered is. (God het immers ook nie eerste die tien gebooie gegee en toe gekyk of die Israeliete dit in Egipte kan gehoorsaam of nie voordat Hy hulle bevry het nie. Hy het hulle eers bevry en daarna die tien gebooie gegee as maatstaf waarvolgens hulle moes leef om te sorg dat hulle nie weer as slawe in die mag van ‘n ander volk beland nie.)

Wanneer Christus naby aan jou is, in jou hart en in jou mond, dan kan dit nie anders dat die wette ook naby aan jou is nie. Maar die volgorde is altyd: Eerste Christus en daarom die wet. En die fokus is altyd: ‘n wet gerig op liefde. Daarom kan Jesus in die evangelies die hele wet, die tien gebooie, opsom met net twee frases – liefde vir God en liefde vir jou naaste. Wanneer Christus in ons harte en ons monde is, is wetsonderhouding iets wat ons bevry om gelukkig te leef, en dit is iets wat spontaan kom. Omdat jy in hierdie verhouding is kan jy nie anders as om op ‘n spesifieke manier op te tree nie. En natuurlik gaan jy soms ‘n fout maak, maar dit gebeur in verhoudinge, en ook vir die foute is jy alreeds vergewe. Die spanning tussen geloof en wet kan dalk as volg verduidelik word: Dit hang alles af van hoe ons onsself in verhouding tot God beskou. Sien ons onsself in die eerste plek as kind of as kneg? Want indien ons glo dat ons God se knegte, sy dienaars, is, dan kom geloof in sy vryspraak deur Jesus Christus nie alte maklik nie. Al word geloof vir ons gegee, kan ons nie glo dat ons dit net maar kan ontvang nie. Knegte voel altyd dat hulle iets moet dóén om die guns van hul meester of baas te verdien. Knegte moet werk vir hulle bed en hulle kos, hulle moet hul plek in die meester se huis verdien. Daarom plaas wette en reëls spanning op ‘n kneg – dit bevry jou nie; inteendeel, dit hou jou eerder gevange, dit versmoor jou selfs. Gedrag wat andersins moontlik spontaan sou kom, raak nou werk, en dit maak die lewe vir ‘n kneg by tye ondraaglik.

Aan die ander kant: As jy jouself as God se kind sien – en dit is moontlik gemaak deur Jesus se koms – dan is die dinamika in die verhouding radikaal anders. Dan is jy in sy sorg en is daar vir jou plek in sy huis omdat jy eenvoudig van die begin af daar hoort, nie omdat jy jou plekkie losgewerk het nie. En indien jy ‘n fout sou maak leef jy nie in angs en bewing nie, want jy is sy kind en ouers is lief vir en vergewe hul kinders, ongeag wat hulle doen. En indien jy jou verhouding met God so ervaar, dan kom die gehoorsaamheid en die goeie werke later heel spontaan. Nie omdat jy so hard daaraan werk nie, maar omdat jy nie anders kan nie, omdat die verhouding alleen jou dryf tot ‘n dankbare en ‘n gelukkige lewe waar jy plek kan maak vir ander mense en in liefde wil en kan saamleef met God en met jou naaste. Dan gee jy ook nie meer om hoeveel kamers daar in die huis is nie, want jy weet dat jou eie plek nie bedreig word nie. Jy weet dat daar plek is vir almal. Ook vir mense wat baie anders is as jy.

Paulus het nie moed opgegee met die Jode nie. Hy verklaar tog dat hy immers self ‘n Jood is en dat hy ingesluit is in die vryspraak van God deur Christus. Daar is dus hoop en redding vir die Jode. As hulle, en baie van ons?, dit maar net sal aanvaar, sonder om dit te probeer verdien. As ons maar net met die mond kan bely en met die hart kan glo dit wat reeds baie naby aan ons is, dit wat reeds in ons mond en in ons hart is, naamlik Jesus Christus die Here, die Een wat uit die dood opgewek is. Geen ander verwagting kan tog hierteen opweeg nie.

 Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.