Lukas 19: 28-44

23 Maart 2013 – Lydenstyd – Palmsondag
Prediker: Dr Tiana Bosman

Dis Palmsondag vandag. Ons is al verlede week daaraan herinner toe die kinders met hulle palmtakke hier ingestap het en die Here geloof het met hul liedjies. Ons dink terug aan die Sondag waarop Jesus op ‘n donkie Jerusalem ingegaan het, omring deur sy dissipels en volgelinge, almal in ‘n feestelike luim. Johannes vertel hoedat mense vir Jesus met palmtakke tegemoet gaan. Hulle trek almal op na Jerusalem om die gebruiklike jaarlikse fees van hul voorvaders te gaan vier – die Paasfees.

Die Israeliete was nog ‘n onderdrukte volk in Egipte toe God die Paasfees ingestel het. Dit het saamgeval met die tiende plaag. In Eksodus 11-12 kondig die Here aan Moses aan dat Hy teen middernag deur Egipte sal gaan en dat elke eersgeborene in Egipte sal sterf, selfs die eerstelinge van die diere. Die Here sê verder vir Moses en Aäron dat daardie maand hul heel belangrikste maand moet word, want dit is die maand waarbinne Hy hulle uit Egipte sal bevry. Die tiende plaag val dus saam met die uiteindelike bevryding van die Israeliete. Elke Israelitiese huisgesin moes ‘n gesonde jaaroud lam slag en die bloed van die lam aan hul huise se deurkosyne smeer. Hulle moes die lamsvleis braai en dit eet. Hierdie lammers sou paaslammers genoem word, en hulle is as paasoffers aan die Here geoffer omdat Hy die mense in die huise van die Israeliete gespaar het. Daardie selfde nag het die Here toe deur Egipte beweeg en al die eerstelinge van die Egiptenaars getref, maar by die huise waarvan die deurkosyne met die bloed van die paaslammers geverf is, het Hy verbygehou.

In herinnering aan die Here se genade teenoor en bevryding van die Israeliete baie lank terug, het die volk nou weer in die belangrikste maand op hulle kalender opgetrek na Jerusalem om fees te vier en om hul verpligtinge van die paaslammers wat geoffer moet word, na te kom. Soos al sy ander volksgenote is Jesus ook oppad daarheen. Maar anders as hulle weet Hy dat die Paasfees hierdie jaar anders gaan wees, dat Hy nie soos die ander gaan om ‘n lam te offer nie, maar om as Lam geoffer te word. Hierdie omwenteling in die gebeure van daai week en die Vrydag wat voorlê – die dag waarop die Paaslammers geoffer moes word – was nog nie vir die ander mense duidelik nie. Daarom kan hulle nog so luidkeels liedere sing.

Iets wat wel hierdie jaar vir al Jesus se dissipels en ander volgelinge anders was, is dat hulle geglo het dat die Paasfees die keer sou saamval met hulle Koning, Jesus, se inname van die Romeinse Ryk, dat Hy die keiser gaan onttroon en self die troon sal bestyg. En so die volk in ere sal herstel. Inderdaad groot rede tot feesvieringe – die volk dink terug aan hul bevryding vanuit die Egiptiese mag eeue terug, en hulle staan op die vooraand van hul bevryding vanuit die Romeinse mag nou. Die geskiedenis word herhaal, en dinge lyk belowend. Heeltyd tydens sy openbare optredes het Jesus vir die mense gesê dat Hy oppad is na Jerusalem, oppad om die koninkryk van God op te rig, en hier is hulle nou uiteindelik. Daar voor lê Jerusalem.
Daarom sing die mense nie net hulle pelgrimspsalms tot God terwyl hulle optrek nie. Hulle besing ook vir Jesus op die donkie, hulle eer Hom deur ‘n tapyt van klere voor Hom in die pad te gooi en deur palmtakke in die lug te waai. Hierdie spesifieke lied wat die skare sing (uit Psalm 118:26) was tradisioneel die laaste Hallel/pryspsalm wat deur die pelgrims gesing is wanneer hulle na die tempel in Jerusalem gegaan het. Maar dit is ook ‘n koningspsalm. In woord en daad erken die skare rondom Jesus Hom as Koning. Die Koning wat na verwagting eintlik op ‘n wit hings moes ry, maar wat in sy andersoortigheid self eerder ‘n donkie verkies.

Die Fariseërs onder die skare was ontevrede daarmee dat Jesus se volgelinge lofliedere tot sy eer sing en hulle spreek Hom aan, letterlik: “Meneer, waarsku jou volgelinge!” Die Fariseërs se beswaar lê daarin dat die volgelinge se aansprake omtrent Jesus darem te dik vir ‘n daler is. Hulle skryf Hom té hoog aan. As Koning nogals, as die Een wat in die Naam van die Here kom. Wat wou! Dis darem te erg! Daarom: “Meneer, maak stil jou volgelinge! Hou hulle in toom!” Maar Jesus antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”

En toe hulle nog nader kom en Jesus die stad Jerusalem voor Hom sien, het Hy oor die stad en sy mense gehuil. Die skare is nog besig om Hom toe te juig en palmtakke rond te swaai, maar die trane drup van sy wange af. En, soos ons in die daaropvolgende verse lees, raak Jesus nie bewoë omdat die mense se lofprysinge sy hart roer nie. Hy stort nie trane van blydskap oor die naderende oorwinning wat uiteindelik voor die deur lê nie. Nee, Hy huil omdat Hy hartseer is, omdat die mense wat nou so sy lof besing nie weet waarvan hulle praat nie, na drie jaar se leringe steeds niks verstaan van wat Hy by hulle probeer tuisbring het nie, omdat hulle in hul smagting na die herstel van hulle volk se eer steeds vashou aan hul verwagting dat Jesus die nuwe regeerder van die land sal wees, dat Jesus, húlle man, eersdaags op die troon sal sit. Terwyl Hy nie kom om as koning gekroon te word nie, maar om, tydens die Paasfees, op die dag waarop die paaslammers geoffer gaan word, die grootste, feestelikste dag in die volk se jaar, self ook saam met die lammers geoffer te word.

Jesus kom nie om Israel se aardse ryk te herstel nie. Daarom sê Hy: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie.”

Die Deense kunstenaar, Peter Madsen, beeld in sy boek Menneske Sonnen (Seun van die Mens) Jesus se intog in Jerusalem aangrypend uit. In die eerste toneel sien ons die palmtakke, die opgewonde skare wat juigkrete skree, die Hosannas op hulle lippe, die Here Jesus in hulle midde. Hy ry op die jong donkie terwyl hulle hul klere voor Hom neerwerp en Hom met takke toejuig. Maar let op die kraaie in die takke van die boom. ‘n Teken van onheil. Let ook op die onweerswolke wat in die onderste skets in die verte saampak. En let op die skaduwee van die boom wat in die vorm van ‘n kruis op Jesus se rug val. Vooruitwysings na wat gaan kom, verduidelikings vir die trane op sy wange.

En dan die tweede toneel. Die mense gooi steeds hulle hande in die lug, gaan voort om Hosannas te sing. Maar die onweerswolke in die verte pak al digter saam en skep ‘n oorheersend somber atmosfeer. Die onweerswolke wat in die verte broei en die skadukruis op Jesus se rug, is ‘n vooruitwysing na dit wat Vrydag vir Hom voorlê… Die skare is blind vir hierdie tekens. Al wat hulle sien is die groot Profeet, die verwagte Messias, die nuwe Koning. Hulle prys Hom nie oor wat Hy gaan kom doen nie. Hulle prys Hom oor wat hulle dink Hy gaan kom doen. Misplaaste verwagtinge. Daarom is die inhoud van hul liedere leeg.

Wat word op die ou-end van misplaaste verwagtinge? Wat gebeur toe Jesus nie in sy weerstandsbeweging ‘n rewolusionêre opstand lei om die volk uit die greep van die Romeinse oorheersing te bevry nie? In hulle ontnugtering word die lofprysinge op hulle lippe stil. Of nee, hulle word nie stil nie, maar hulle begin om ‘n ander deuntjie te sing. Petrus, Jesus se dissipel en nabye vriend, se “Hosanna!” word vervang met ‘n desperate herhaling van “Ek ken Hom nie!” En die skare se “Hosanna!” verander ‘n paar dae later na “Kruisig Hom!,” en dan nog harder: Kruisig Hom!”

Aanbidding en lofliedere verander hier baie vinnig in verloëning en moord. Jesus se volgelinge draai hulle mantel na die wind. Wanneer dinge voorspoedig lyk en hulle veilig voel in die teenwoordigheid van hul Leier en saamgebind as ‘n groep – dan kom hul lofbetuigings en uitsprake maklik. Maar toe die omgewing vyandig word en hulle Leier nie ‘n opstand lei nie, maar gevang word, toe is daar niks meer oor van hulle lojaliteit nie. Ek wonder soms hoe dit is met ons? Gelowiges wat in ons veilige groepe en omgewings, in die eredienste en in die wyksbyeenkomste en Bybelstudies maklik die lof en die getuienisse oor ons lippe laat rol. Hoe “sing” ons wanneer ons nie in hierdie “veilige, almal-is-christene” omgewing is nie, maar elders, daar buite, in die samelewing of by ons werk of in ons families waar die ander mense nie die Here aanbid nie. Daar waar ons geloof nie so gemaklik aan ons lyf sit nie, daar waar dit skaaf. Wat doen ons dan?
En wanneer ons soms met skok besef dat Jesus anders is as hoe ons Hom voorgestel het, anders dalk as wat ons Hom wil hê? Wanneer ons in groepe of omgewings beweeg waar Hy ons nie trots maak nie, maar skaam, en bang… Watter deuntjie sing ons dan? Of bly ons liewer maar net heeltemal stil? In die hoop om nie raakgesien te word nie? In die hoop om nie uitgewys te word as ‘n volgeling van die Here nie? In die hoop om eerder te verdwyn as om te getuig?

Jesus se profesie teenoor die Fariseërs dat die klippe sal uitroep as die mense stil word, het toe waar geword. Want na hulle verloënings en verraad, na hulle krete van “Kruisig Hom!” hét almal toe later stil geword. Die Vrydag toe die paaslammers geslag is en Jesus gekruisig is. Om twaalfuur die middag het ‘n doodse stilte oor die koppie gedaal. Die son het verdwyn en die donker wolke van Sondag het heeltemal oorgeskuif en duisternis gebring. Die voorhangsel van die tempel het geskeur. En dan onthou Matteus hoedat die klippe begin skree het. “Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars!” (Matt 27:51). Toe die mense hulle stemme verloor het, het die natuur in beroering gekom.

Wie weet? Dalk is élke aardbewing en storm en veldbrand wat in die wêreld gebeur nie ‘n natuurramp nie? Dalk is sommige van hulle natuurwonders? Natuurliedere. Dalk bewe die aarde en skree die klippe en kolk die golwe en donder die hemel soms omdat die volgelinge van Jesus te stil geword het?

Mag dit so wees dat, indien ons onsself volgelinge van die Here noem wanneer ons in geloofsbyeenkomste ontmoet, dat ons dit ook sal doen op enige ander plek. Dat ons nie net met Jesus sal saamstap wanneer die pad vir ons belowend lyk nie. Maar dat ons sal bly stap en sal bly getuig ook wanneer ons niks meer van die pad hou of van waarheen die pad ons neem nie. Dat ons fokus nooit in die eerste plek op die pad sal wees nie, maar op die Een saam met Wie ons loop, die Een op die donkie, met die skadu van die kruis op sy rug. Onthou ons loop nie voor Hom uit nie, ons loop agter Hom aan. Eendersyds beteken dit dat ons nêrens geneem sal word waar Hy nie ook was of saam met ons is nie. Andersyds beteken dit dat ons altyd, wanneer ons opkyk na Hom waar Hy voor ons op die donkie beweeg, die skadu van die kruis op sy rug sal raaksien. ‘n Skaduwee van die ware verwagtinge wat ons van hierdie andersoortige Koning moet hê. ‘n Herinnering dat die pad waarop ons Hom volg, nie maklik is nie. En mag dit so wees dat die ontnugteringe op die pad nie ons stemme stilmaak nie. En wanneer ons by tye stil raak, dat die klippe en die res van die natuur ons weereens met hulle stemme sal herinner aan die Koning wat Homself as Lam laat offer het.

 Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Filipense 3:1-14

17 Maart – 5de Sondag in Lydenstyd
Prediker: Bianca Botha

Gebed – (nav ‘n gebed van Anselmus, die Aartsbiskop van Kantelberg)
Here my God, skenk aan ons genade, om U te begeer met ons hele hart;
om te smag na u stem met alles wat in ons is.
O God van vreugde, ons bid dat U u lig in ons harte sal laat skyn.
Rig ons hart en ons gedagtes op die dinge wat U rééds gedoen het,
en op dit wat U belowe het om nog te doen,
sodat ons vreugde kan vind in U en in u beloftes.
Leef in ons en help ons om in U te lewe.
Here, ons kom by U tot stilte,
ons rus in U, o Gees. Ons soek u aangesig.
Praat vanoggend met ons deur u Woord. Amen.

Miskien net weer ‘n paar opmerkings oor die brief self:
In Handelinge 16 lees ons dat Paulus self verantwoordelik was vir die stigting van die gemeente in Filippi en regdeur die brief is dit duidelik dat hy ‘n baie goeie en nabye verhouding gehad het met die mense van dié gemeente. Dit staan dan ook bekend as die brief van blydskap of van vriendskap, en word agv die toon daarvan as een van Paulus se mees intieme briewe beskou.
Hy skryf dié brief vanuit die tronk… dws, vanuit sy eie lydingsituasie aan die gemeente wat self ly – aan die een kant agv vervolging wat hulle van buite ervaar en aan die ander kant agv interne spanning in die gemeente.
In hoofstuk 3, spreek hy veral die interne spanninge aan. Hy skryf hier in reaksie op mense wat valse leringe verkondig en sodoende verdeling binne die gemeente veroorsaak het.

Lees Fil 3:1-14

Paulus praat in hierdie gedeelte vanuit sy eie persoonlike ervaring. Hy skryf oor sy eie hede, verlede en toekoms – oor die dinge wat hom eers gemotiveer het en dit wat nou vir hom belangrik is. En hy doen dit met die oog daarop om die gemeente oor hul eie verlede, hede en toekoms te laat nadink. Dit gaan hier oor een ding alleen: oor die sin van sy bestaan en per implikasie dié van alle gelowiges (toe en nou).

Die vraag waarvoor ons in hierdie teksgedeelte te staan kom is: Waarna soek ons in die lewe? // Wat is vir ons die belangrikste ding in ons lewe? // Wat geniet die hoogste prioriteit? // en waaraan meet ons die sin en die geluk van ons lewens?

In die samelewing waarbinne ons leef, word geluk en betekenis in ons lewens dikwels gekoppel aan hoe die mense rondom ons, ons sien. Ons meet onsself aan ons besittings, die tipe werk wat ons doen, die tipe motor wat ons ry, die woonbuurt waarbinne ons bly, die mense met wie ons meng, die handelsmerke wat ons dra… ens… ens.
Op een of ander manier wil ons “iemand” wees; ‘n naam maak vir onsself.
Soos in die tyd van Paulus, leef ons eintlik nou nog in ‘n status-gedrewe samelewing. En so dikwels word ons status, soos in daardie tyd, gekoppel aan uiterlike/liggaamlike dinge – hoe ons voorkom en wat mense van ons dink.

Paulus gebruik homself en sy eie verlede om vir die gemeente te wys dat hulle, as navolgers van Christus, ‘n ander tipe uitkyk op die lewe behoort te hê. Hy doen dit deur aan hulle te bewys dat indien hy sou wou, hy ‘n man van hoë eer en status sou kon wees.
Hy is op die agtste dag besny: dws ‘n rasegte, gebore Jood.
Van geboorte af ‘n Israeliet: deel van ‘n volk met ‘n roemryke verlede, wat hulself beskou as die uitverkorenes.
Uit die stam Benjamin: ‘n klein, tog spesiale hoog aangesiene stam van Israel
‘n Egte Hebreër: maw in taal, identiteit en kultuur ‘n trotse Jood.
Hy was ook ‘n Fariseer: deel van die groep geleerdes in die Joodse tradisie wat erns maak met die wet, en onberispelik wat die onderhouding daarvan aanbetref.
En laastens ‘n vervolger van die kerk: dws iemand wat die Joodse godsdiens beskerm het.
Kyk, hy maak dit duidelik dat h‎‎ý, meer as baie ander, rede gehad het om sy kop hoog te hou en te roem op sy herkoms, sy prestasies en sy ywer. En indien hy sou kies om homself volgens daardie maatstawwe te beoordeel, sou hy steeds hoër op die sosiale leer pruik as meeste ander in sy portuurgroep.

“Maar,” lees ons in vers 7 – en met daardie “maar” vind ‘n totale ommeswaai plaas.  Maar wat eens vir hom bates was beskou hy nou as waardeloos (letterlik: verlies/skade). Nou beskou hy al daardie dinge as “verwerplik,” lees ons later (letterlik as vullis/ afwerpsel).
In en deur en agv Christus, het Paulus se hele uitkyk op die lewe radikaal verander. Daar het ‘n totale herwaardering van waardes plaasgevind. Dit wat eens sin gegee het aan sy lewe, is nou onsin en dit wat vroeër getel het, ag hy nou nie meer nie.
Christus het ‘n nuwe sin, ‘n nuwe waardestelsel en ‘n nuwe koers in sy lewe gebring. En die rede daarvoor is sy bewuswording van die feit dat hy nie self – deur die wet te onderhou – geregtigheid/vryspraak kan verwerf nie, maar dat hy dit deur Christus reeds ontvang het.

Ons moet egter die omvang van sy ommeswaai verstaan. Hy was nie nét ‘n vrome Jood nie, maar ‘n hooggeleerde en goed opgeleide teoloog, met ‘n uitstekende loopbaan voor hom. Hy was ‘n gerespekteerde volksfiguur en leier van sy mense – waarskynlik oppad om ‘n geërde leermeester en dalk selfs lid van die Hoë Raad te word.
Hy het vir homself ‘n naam gemaak en was volgens menslike standaarde duidelik ‘n “iemand.”
Maar nou besef hy dat alles wat voorheen sy lewe gevul het – wat daaraan sin gegee het – eintlik skadelik was; dat dit hom juis van die ware sin en vreugde van sy bestaan weerhou het. Dit gaan dus nie soseer oor daardie dinge self nie, maar die feit dat dit in die pad gestaan het van sy eintlike doel en strewe.

Vanuit sy hede getuig hy dan dat die belangrikste ding in sy lewe nou – dit wat aan sy lewe sin en betekenis gee – is om vir Christus te ken en te groei in daardie kennis. Wat nou vir hom waarde dra is nie sy status of dit wat vir die wêreld rondom hom belangrik is nie, maar die kennis van Christus.
Maar wat word bedoel met “kennis van Christus”? Die kennis waarvan hier gepraat word (Grieks: gnosis) is baie meer as bloot boekekennis of verstandelike kennis. Dit is eerder ‘n persoonlike en intieme kennis wat met ervaringe en verhoudings gepaard gaan.

Die bekende 17e eeuse Franse wiskundige, Pascal, het iets hiervan verstaan. Na ‘n radikale bekeringservaring skryf hy dat hy ontdek het dat “God nie die God van die filosowe is nie, maar van Abraham, Isak en Jakob.” En daarmee bedoel hy dat God persoonlik in mense se lewens betrokke is; dat Hy nie net in boeke en denke is nie, maar ook in die lewens en ervarings van mense. Dit gaan maw nie net oor kennis met die rede/die kop nie, maar ook met die hart. En vandaar Pascal se ander bekende stelling: “die hart het redes waarvan rede nie weet nie.”
Dit gaan dus nie net oor kennis van die Woord nie, maar oor kennis deur die Woord. Want dit is eerstens deur die Woord dat ons vir Christus leer ken, maar verder ook deur deel te wees van ‘n geloofsgemeenskap, bywoning van eredienste, naastediens, Bybelstudies, in die natuur, deur gebed of in stiltes.
Hierdie kennis gaan dus nie net oor wat ons weet nie, maar ook oor wat ons voel en ervaar.

“Kennis van Christus” gaan verder vir Paulus ook daaroor om deel te hê aan die lyding en sterwe van Christus.
Hierdie lyding en sterwe waaraan Paulus (en ons ook) moet deelkry, verwys egter nie na die alledaagse swaarkry en sukkel, die droefheid en dood waaraan alle mense deel het nie; dit gaan oor lyding “om Christus wil.” Oor die lyding wat ons deurgaan, spesifiek as Christene en in die naam van Christus.
Vir Paulus, was dit totaal en al ‘n praktiese saak: hy skryf vanuit die gevangenis. In daardie tyd was dit egter nie soos vandag wat die tronk jou straf is nie. Die tronk was bloot die plek waar jy aangehou is totdat daar besluit is hoe jy gestraf sal word. Paulus wag dus nog om te hoor wat sy uiteinde sou wees en of dit nie miskien die dood is nie. Ten spyte van hierdie onsekerheid en die moontlikheid dat hy ter dood veroordeel kan word, bemoedig hy die gemeente in Filippi deur hulle te verseker dat dit die moeite werd is om te ly vir die saak van die Evangelie. Hy verseker hulle dat hy (en hulle) deur daardie lyding nader aan Christus kom en dus ook groei in hul kennis van Christus.

Laastens beklemtoon Paulus dat hierdie “kennis” nie iets is wat hy al bereik het of wat hy self kan verkry nie. Dit is ‘n reis; ‘n wedloop; ‘n proses. Daarmeesaam hang sy prys ook nie af van hoe hy in die wedloop vaar nie. Ons lees: “ek span my in om dit alles syne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.” En verder: “sodat ek die prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus, Jesus.” Die prys is dus reeds syne, ongeag of hy die podium haal of nie.

Paulus skryf dus nie net vanuit die perspektief op sy verlede en hede nie, maar ook sy toekoms. Ten spyte van die feit dat hy in die tronk sit en wag om te hoor wat die aard van sy naderende straf sal wees, is hy vol blydskap en vreugde en dankbaarheid. Ons sien dit die hele Filippense brief deur. En die rede daarvoor is Christus. Christus het nie net sy hede, sy lewensin en perspektief, kom verander nie, maar het ook vir hom ‘n nuwe toekoms geskep. In Christus se lyding, sterwe en opstanding is daar vir Paulus en vir elkeen van ons, ‘n nuwe toekoms geskep. Een wat alle vrese en bekommernis uit die weg ruim. Hy getuig later in die hoofstuk dan ook dat ons reeds burgers van die hemel is en bevestig daarmee dat hy, op grond van Christus se opstanding, nie die toekoms hoef te vrees nie, maar in afwagting daarna uitstrek.

Lydenstyd is die tyd van die jaar, waarin daar veral sterk klem gelê word op selfondersoek en nadenke, op herinnering en herevaluering. Dis die tyd van die jaar waarin ons dink oor Christus se lyding vir en namens ons, maar ook oor dit wat kom na die lyding.

Ons almal het ‘n verlede, ‘n hede en ‘n toekoms. Ons almal het dinge/perspektiewe wat ons agter ons moet sit, dinge waarmee ons in die hede besig behoort te wees, en ‘n toekoms waarin ons hoop lê en waarvoor ons onsself uitstrek.
In Filippense 3 help Paulus die gemeente in Filippi (en ook vir ons) om te sien wat die dinge is wat ons agter ons moet sit, wat dit is waarmee ons besig moet wees en waarheen ons uiteindelik oppad is.

In Christus se lyding, kruisdood en opstanding is daar vir elkeen van ons ‘n nuwe lewe en ‘n nuwe toekoms geskep. Een wat nie ag slaan op ons status of op die uiterlike dinge nie, maar op ons strewe en soeke na die kennis van Christus.
Paulus het nie verander wie en wat hy was nie – hy was steeds ‘n Israeliet en ‘n Hebreër uit die stam Benjamin wat op sie agtste dag besny is – maar hy het sy fokus, en die standaard waarvolgens hy homself meet, verander. Hy het sy prioriteite verander.

Die teks dryf ons dan ook om dieselfde te doen. Om onsself te vra wat ons prioriteite is en wat dit behoort te wees; wat die dinge is wat betekenis gee aan ons lewe en wat dit behoort te wees. Is daar dalk iets wat ons weerhou van ons soeke na die “kennis van Christus.”
En wat is die dinge/perspektiewe waarvan ons moet afskeid neem;  wat ons agter ons moet sit; waarvan ons gestroop moet word?

NP van Wyk Louw het ‘n gedig geskryf oor dieselfde gedagte van afskud wat oortollig en oorbodig en onnodig is:
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rook-vaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sierraad was
of enkel jeug, en vér was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Bianca Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

1 Korintiërs 10: 1-13

3 Maart 2013 – Derde Sondag in Lydenstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond
Paulus het sy eerste brief aan die gelowiges in Korinte geskryf ongeveer 55 nC. Die Griekse invloede was sterk gewees en aangesien Korinte ‘n hawestad was, was die inwoners wêreldwys. Die mense daar, gelowiges sowel as heidene, het die nuus gereeld gehaal weens hulle onsedelike gedrag. Die gelowiges in Korinte het geglo dat hulle wye kulturele blootstelling ‘n aanwins is en dat dit hulle ‘n trappie bo ander gelowiges geplaas het. Hulle was immers in die geselskap van die Griekse filosowe en akademici. Daarom het hulle geroem op hulle meerdere kennis en hulle wysheid. Boonop het hulle nogals heel geestelik ook geraak. En beterweterig so. ‘n Groot groep gelowiges hier was vinnig om hulself as die “sterkes” te klassifiseer en die ander gelowiges as die “swakkes”. Die “swakkes” sou dan nou diegene wees wat nie tydens besigheidstransaksies met heidene hul monde aan offervleis wou sit nie, omdat die gevaar bestaan het dat hulle deelname hieraan ‘n struikelblok vir hul geloof kon word. Die “sterkes” het egter geredeneer dat “alles tog geoorloof is”, alles is toelaatbaar, ook die eet van offervleis aan afgode, want as jy ‘n gelowige is weet jy tog dat daar nie so iets is soos afgode nie, en dat hierdie vleis jou dus nie kan skade aandoen nie. En as dit dan nog tot voordeel is vir die transaksies – hoekom nie?! Alhoewel hierdie “sterkes” se denke korrek was, het hulle hul hoogmoedige kennis bo naasteliefde gestel, en was hulle nie bereid om twv hul medemense van sekere praktyke af te sien nie. En mettertyd het baie van hierdie praktyke, bv die eet van offervleis wat hulle so maklik met ‘n skouerophaal afgemaak het en dan heerlik saamgesmul het, het díe “skadelose” praktyke met die verkeerde gesindheid plaasgevind en verkeerde, sondige gedrag tot gevolg gehad.

Dit is teen hierdie agtergrond van “anything goes” solank jy slim genoeg is om daaroor te kan redeneer, dat Paulus dan die eerste brief aan die gelowiges in Korinte skryf – as waarskuwing dat hulle nie hulle kennis en hul wysheid te hoog moet opgee nie. Alles staan of val nie by kennis of by die wysheid van die wêreld nie.

In hfst 10 trek Paulus dan, by wyse van spreke, die foto-album van hulle voorvaders nader, sodat hierdie voorgangers se lewens as voorbeeld en as waarskuwing kan dien vir die gemeente in Korinte.

Lees 1 Kor 10: 1-13
1-4: Mooi fotos van die goeie ou dae toe die volk uit Egipte bevry is en álmal in die woestyn deur God self beskerm en versorg is. Maar in vs 5 pak die donker wolke saam…
5: Die verlossing en die voorregte wat die volk in die woestyn geniet het, het nie verhinder dat meeste van hulle deur God neergeslaan is nie.
Waarom sê Paulus dit vir die gemeente: vs 6-11 – want die gebeurtenisse in die woestyn is opgeteken as waarskuwende voorbeelde vir hulle. (tupoi/voorbeelde vs 6 en vs 11).
En hoekom het die gemeente in Korinte hierdie waarskuwings nodig? Want, en dan vind ons die klimaks in vs 12: “wie meen dat hy staan moet oppas dat hy nie val nie.” Die wat so seker is van hulleself in die gemeente, moet pasop. Hulle staan dalk net op die randjie van die afgrond, maar hulle is so op hulself gefokus dat hulle nie die gat voor hulle raaksien nie.
Die gedeelte eindig dan met ‘n stuk troos en belofte in vs 13…

Boodskap
Paulus trek amper ‘n direkte lyn tussen die volk se tog deur die woestyn in die OT en die situasie van die NT gemeente in Korinte. Hiermee wys hy vir hulle dat die tye wel verander, dat eeue kan verloop, maar dat mense dikwels nie verander nie. En dat dit tragies is, want die wat in die latere tye leef het die vroeëres as voorbeelde, maar steeds leer mense nie die lesse wat die geskiedenis vir ons gee nie. Daarom het Paulus die brief aan die Korinte geskryf. En daarom is hierdie brief opgeneem in die kanon van die Bybel, sodat ons dit ook weer, eeue later, kan lees – en hopelik daaruit kan leer.

Paulus begin deur vir die gemeente te herinner hoe God vir die volk in die woestyn gesorg het. En hy doen dit deur God se sorg daar in verband te bring met die doop en die nagmaal hier in die gemeente. Die volk is almal in die wolk en in die see gedoop. Daar het God hulle geroep, hulle sy eie volk gemaak, Homself tot hulle verbind en beloof om saam met hulle te trek. Hulle het almal dieselfde geestelike voedsel geëet, en dieselfde geestelike drank gedrink. Hulle het immers gedrink uit ‘n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Met terugskoue interpreteer Paulus dan die manna- en kwarteltafel en die rots met water as die “nagmaal van die OT”, die tasbare tekens van God se verlossing en sy sorg.

Paulus wil hê dat die”sterk”, hoogmoedige en oorgeruste gelowiges van Korinte hulself moet herken in die prentjie van die bevoorregte voorvaders wat hy in vss 1-4 vir hulle voorhou. Maar dan kom die skok in vs 5 dat God desondanks alles met die meeste van hulle nie tevrede was nie, en dat hulle daarom neergeslaan is in die woestyn. Die uitverkore volk, gedoop in die see en die wolk van God se teenwoordigheid, deur God self bedien met manna en kwartels uit die hemel en water uit ‘n rots – hierdie bevoorregte groep met die tekens op hul voorkop en die kos in hul mond, is nie die toorn van God gespaar nie.

Waar het dit alles skeefgeloop? Daar waar die volk nie van hulle sondige begeertes kon afsien nie. En is Korintiërs dan nie nou die gemeente wat heeltyd ook die koerantberigte haal agv hulle sondige praktyke nie? Paulus gaan voort om die volk (en die gemeente) se sondige begeertes in 4 konkrete voorbeelde te illustreer:

1. Julle moenie afgodsdienaars word nie. Die gevaar is dat die Korintiërs se manier van eet en drink, selfs in die nagmaal!, ongemerk kan oorgaan na ‘n afgodiese manier van eet en drink; ‘n eet en drink wat vir hulle plesier verskaf, maar waar Christus nie meer die middelpunt daarvan is nie. Paulus hou die foto van Eks 32 as voorbeeld vir hulle op – daar waar die volk, kort nadat hulle uit God se hand geët en gedrink het, vir Hom in ‘n handgemaakte goue kalf wou vasvang en daarrondom gesing en gedans het. In hoe ‘n mate is dit nie ook waar van ons nie – dat ons so graag vir God wil síén dat ons ons eie sigbare beelde van Hom maak, beelde waarmee ons vir God kan manipuleer, beelde wat vir God van sy misterieuse karakter beroof.
2. Paulus hou die foto omhoog van die keer toe die volk hulle skuldig gemaak het aan seksuele losbandigheid in Numeri 25. As gevolg van hulle onsedelike gedrag het daar op hierdie een dag 23 000 Israeliete gesterf. Oor onsedelikheid in vandag se samelewing, ook onder die gedooptes en die nagmaalgebruikers, hoef ek nie veel te sê nie. Dit spreek vanself.
3. Hierna wys Paulus vir die gemeente die foto van Numeri 21 – daar waar die volk in hulle ontevredenheid met God en hulle ongeduld vir Hom uitgetart het en toe deur giftige slange doodgepik is. Hulle het nie vir God vertrou nie, ten spyte van wat Hy al alles tot dusver vir hulle gedoen het en ook beloof het om in die toekoms te doen. Hulle wou dit nie glo nie. En hulle is deur slange doodgepik.
4. Die laaste foto wat Paulus voorhou: Numeri 16. Die volk word opstandig, rebels. Letterlik staan daar hulle “murmereer” onder mekaar. Iets broei. Partyskappe ontstaan en daar is diesulkes wat hulle teen die leiers verset. En die engel van die dood het vir hulle kom kuier. Hoe lyk dit vandag in ons gemeentes? Elke gemeente met hul eie interne politiek en partye en murmereringe…

Paulus hou hierdie fotos vir die Korinte op as voorbeelde. Waarom? Sodat die een wat meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie (12). Die “sterk” christene in Korinte is besig om hulle vryheid te misbruik. Hulle speel met hulle magdom van kennis, wêreldse wysheid en ervaring en hulle beredeneer dinge so dat alles later werklik, in hulle oë, geoorloof raak. Anything goes, jy moet net weet hoe om daarrondom te praat. En so, in hulle selfversekerdheid en hoogmoedigheid, stel hulle hul eie strikke en trap self daarin. Omdat hulle op grond van hulle deelname aan die doop en die nagmaal glo dat hulle heil, hulle verlossing in Christus, vas en onaantasbaar is. Hulle dink dat hulle blote opname in die doop en deelname aan die nagmaal outomaties, amper op ‘n magiese wyse, vir hulle ‘n verlossingskaartjie verseker en hulle vrywaar van die oordeel van God. Die volk van ouds het ook so gedink. Hulle is gedoop in die see en die wolk van God se teenwoordigheid, en hulle is bedien met goddelike spyse in die woestyn. En tóg het die mééste van hulle omgekom.

Ons moet die sakramente baie mooi verstaan. Dit ís tekens van die heil, en die stérkste tekens daarby toe, maar die waarborg van die heil lê nie in die tekens op sigself nie. Wanneer christene die sakramente van verlossing ontvang, maar nie vanuit hierdie verlossing leef nie, dan loop jy op gevaarlike terrein. Natuurlik mag ons as sondaars gedoop word en die nagmaal gebruik. Dit is juis daar vir mense wat weet dat hulle sondaars is, en daarom nie die tekens waardig is nie. Net wanneer jy dit weet, ontvang jy dit in die regte gees. ‘n Gees van ootmoed en nederigheid. Maar wanneer jy die nagmaal so ontvang, dan staan jy anders op by die tafel as wat jy kom sit het. Wanneer jy die tekens so ontvang, dan kan jy nie anders as om uit te gaan en vanuit hierdie tekens, en die betekenis daaragter, te gaan leef nie. Die lewe van ‘n gelowige wat nie verander word deur die doop of die deelname aan die nagmaal nie, is ‘n lewe wat nog nie besef waarom dit gaan nie, en wat dit vra nie – nie net van Christus nie, maar ook van die ontvanger, die gebruiker daarvan.

Die “sterk” christene in Korinte het nie deelgeneem aan die doop en die nagmaal in ‘n gees van ootmoed en nederigheid nie, maar in ‘n gees van oormoed en selfversekerdheid. Hulle het hulself gereeld op die skouer geklop en op ander mense neergesien. Hulle het onverskillig opgetree. In die proses het hulle hul skuldig gemaak aan afgodery en hoereerdery, hulle het Christus uitgetart en teen God in verset gekom. Die skaduwee van hul eie ego het so groot geword dat hulle nie meer die afgrond reg voor hulle kon raaksien nie. Hulle het hulself en hul kinders laat doop en die nagmaal gebruik met hulle neuse in die lug, omdat hulle geglo het dit kom hulle toe, en nie omdat hulle besef het dat hulle dit juis nie werd is nie.

Die waarborg van ons verlossing lê nie in die blote gebruik van die tekens van doop en nagmaal nie. Die blote gebruik daarvan sonder om daaruit te gaan leef plaas ons juis op gevaarlike terrein voor God. Die waarborg lê ook nie in die een wat die tekens ontvang of gebruik nie. Dit lê nie in ons nie. Goddank. Want uit onsself sal ons dit nooit regkry om so te leef dat ons aan die tekens reg kan laat geskied nie. Maar die waarborg van ons verlossing lê wel in die Een wat die tekens uitdeel. Daarom kan Paulus in vers 13 afsluit met: “Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie.” Nie omdat julle so sterk en so slim en so waardig en tot soveel in staat is nie, maar omdat “God getrou is. Hý sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.” Vandag gee God vir ons die uitkoms in die fotos wat Hy voor ons ophou. Hy gee vir ons herinneringe aan die geskiedenis, en aan bevoorregte gelowiges wat hul posisie voor Hom nie ernstig genoeg geneem het nie. Hy waarsku ons wat kan gebeur as ons leef vanuit oormoed en selfversekerdheid en nie vanuit ootmoed en nederigheid nie. Laat ons mooi na hierdie fotos kyk. Dalk herken ons in hulle wat ons ook al geword het? Dalk herken ons in hulle wat ons nog kan word? Mag dit wees dat hierdie fotos ons sal laat terugdeins, sodat ons nooit sover sal gaan om te word wat die meerderheid van ons voorgangers in die woestyn geword het nie. Mag ons afsien van ons eie selfversekerdheid, en alleen maar berus op die sekerheid van God se trou in ons lewens, sy beloftes wat ons staande sal hou, sy sakramente wat dien as herinneringstekens aan die Gewer van die verlossing self, tekens wat vir elkeen van ons wat daaraan deelneem, lewensveranderend behoort te wees.

Ek weet nie wie van julle vertroud is met die Deense filosoof en teoloog Sören Kierkegaard se bekende verhaal oor die ganse nie? Hierdie storietjie kom uit sy dagboek:

Stel julleself vir ‘n oomblik voor dat ganse kon praat – dat hulle dinge so gereël het dat ook hulle kerkgangers was en deelgeneem het aanbiddingsgeleenthede tot God.
Elke Sondag sou hulle mekaar ontmoet en ‘n mannetjiegans sou preek. Sondag na Sondag het die diens in wese dieselfde verloop gehad – daar is vertel van die glorieryke bestemming van ganse, die waardige einde waarvoor hulle maker hulle geskep het – en elke keer as sy naam genoem was, het al die wyfieganse ‘n kniebuiging gemaak en al die mannetjieganse het hul koppe gebuig. Hulle is opgeroep om hulle vlerke te gebruik om na verafgeleë weivelde te vlieg, daar waar hulle eintlik hoort; want hulle was slegs pelgrims op hierdie aarde.
Dieselfde ding het elke Sondag gebeur. Na die boodskap het die vergadering tot ‘n einde gekom en al die ganse het huistoe gewaggel, net om weer die volgende Sondag te ontmoet vir ‘n aanbiddingsdiens en dan weer huistoe te waggel – maar dit was so ver soos wat hulle ooit gekom het. Hulle het floreer en spekvet geword, dik en smaaklik – en tydens die fees van St Michiel is hulle geëet – en dit was so ver soos wat hulle ooit gekom het. Niks meer het ooit daarvan gekom nie. Want, alhoewel hul gesprekke op Sondae oor hogere dinge gegaan het, sou hulle op Maandae aan mekaar vertel wat gebeur het met die gans wat die doel wat voor hulle gestel is te ernstig geneem het, en wat ten spyte van baie beproewinge probeer het om die vlerke wat sy skepper vir hom geskenk het, te gebruik. Dit was alles algemene kennis onder die ganse, maar natuurlik sou niemand melding maak van die onderwerp op Sondae nie, want, het hulle besef, dit sou dan duidelik wees dat, om die diens by te woon eintlik beteken dat hulle vir hulself en vir God om die bos lei.
Onder die ganse was daar ‘n klompie wat siek en bleek gelyk het, en al die ander ganse het gekekkel – ‘Kyk nou net, dit is wat kom daarvan as jy vlieg ernstig opneem. Dit is net omdat hulle heeltyd mediteer rondom die kuns om te vlieg dat hulle maer word, en bleek, en dat hulle nie geseën word deur die genade van God soos ons nie; want dit is waarom ons vet word, dik, en smaaklik.’
En die volgende Sondag het hulle weereens soos altyd na die diens gegaan en die ou mannetjiegans het gepreek oor die glorieryke einde waarvoor hulle Maker (en hier het die wyfies ‘n kniebuiging gemaak en die mannetjies hulle koppe gebuig) hulle geskep het, en oor waarom hulle vlerke gekry het.
En dieselfde is waar van die aanbiddingsdienste binne die Christelike geloof.

Laat ons onsself nie flous wanneer ons kerk toe gaan en aan die sakramente deelneem nie. Laat ons nie met ons hogere kennis dink dat dit moontlik is om God te flous deur van sy sakramente gewoontehandelinge te maak, goedkoop genade wat ons vanselfsprekend loskoop uit die sonde nie en wat die verlossing vanselfsprekend aan ons skenk bloot deur ons deelname en ongeag hoe ons lewens lyk nie. God speel nie wanneer Hy sy verbintenis aan mense toesê in die doop nie. God het ook nie gespeel toe Christus gekruisig is en sy bloed vergiet is vir almal nie. Die nagmaal, as herinnering aan hierdie ernstige daad, die grootste moontlike daad in die geskiedenis van God met die mensdom, is nie ‘n speletjie nie. En deelname aan hierdie sakramente waarborg nie ‘n toegangskaartjie tot die verlossing nie. As ons deur die sakramente gevoed word om ons vlerke te gebruik vir waarvoor hulle gemaak is – naamlik om te vlieg – en ons gebruik dit nie, dan flous ons eintlik nie eens iemand nie. Ons lieg eenvoudig net. En ons word vet. En ons val al meer vas op ‘n plek waarvoor ons nie bestem is nie. En ons maak onsself later wys dat ons inder waarheid gemaak is om leë rituele uit te voer en vet te word en geslag te word. En ons begin neersien op ander wat hulle vlerke inoefen.

God is getrou. Hy sal ons nie laat vlieg na plekke waar ons nie bo kan bly nie. Hy sal nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie. En as die versoeking kom, sal Hy self die uitkoms gee. Intussen lyf Hy ons in in die doop as kinders van Hom, en Hy voed ons op ons reis met brood en wyn – as herinnering daaraan dat Hy ons versorg, en dat Hy saam gaan op ons reis. Op die ou-end leef ons nie van die brood en die wyn alleen nie, maar van die Een wat met ons saamgaan. Ons word nie verlos deur die brood en die wyn nie, maar deur die Een wat dit aan ons bedien.

 Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.