Johannes 21:1-19

14 April 2013 – 3de Sondag in Paastyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond
Die Sondagaand na Jesus se opstanding het Hy aan sy dissipels verskyn en nadat Hy vir hulle vrede toegewens het, het Hy ‘n opdrag aan hulle gegee: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” En Hy het die Heilige Gees oor hulle geblaas.
Ag dae later het Jesus vir ‘n tweede keer aan die dissipels verskyn. Die keer was Tomas by, en het hy sy geloof in die Here bely.
Nou verskyn Jesus vir ‘n derde keer aan die dissipels…

Lees Johannes 21: 1-19
3: “Ek gaan visvang.” Met hierdie aankondiging nooi Petrus moontlik die ander dissipels om saam met hom te gaan visvang OF hy verklaar hiermee dat hy terugkeer na sy ou beroep. Voordat hy vir Jesus begin volg het, was hy ‘n visserman, en hy reken dis tyd om weer hierdie nering op te neem.
5: “Mense > Kinders, het julle nie iets gevang om te eet nie?” Dit is belangrik dat ons bly by hierdie benaming wat Jesus vir hulle gee, want in die evangelie van Johannes word gelowiges herhaaldelik “kinders van God” genoem (1:12).
7: Ons kan aan die dissipels se reaksie sien dat hulle nie vir Jesus verwag het nie. Dat Hy daar op die strand is is vir hulle ‘n groot verrassing.
9: Jesus was besig om vis te braai.
12: Let op dat hulle nou die vis eet wat Jesus reeds gebraai het, nie die visse wat hulle sopas uitgetrek het nie. Jesus bedien dus vir hulle, en nie andersom nie.
15: “Het jy My baie lief, meer as hulle (ml mv) OF hierdie dinge (neutr mv)”.  Jesus kan dus hier verwys na die ander dissipels wat daar is, of na die ander dinge, naamlik die boot, die nette en die see.

Boodskap
‘n Week gelede het ek nog vakansie gehou. Dit was baie lekker gewees. Ek het uitgerus. Maar as julle my vandag daarna sou vra, voel dit asof my vakansie in ‘n vorige lewe plaasgevind het. Dit voel so ver weg, so lank terug. Vandat ek Maandag teruggekom het in die werklikheid van die elkedaagse lewe is my vakansie eintlik vergete. Want life goes on. Mens kan nie altyd binne die illusie van die vakansie leef nie. Iewers moet jy weer die realiteit van werk en skole en aktiwiteite in die gesig staar…

Twee weke gelede het ons die opstanding van Jesus gevier. Baie het blomme as simbool van lewe aan die kruis kom steek, nagmaal gebruik, vrolik gewees. Ons is gevoed en verkwik met goeie nuus en met die tekens daarvan – die brood en die wyn. Maar as ons onsself vandag daarna sou vra? Is die opstanding nog vir ons ‘n werklikheid soos twee weke gelede? Onthou ons nog die tekens van die nagmaal? Voel ons nog verkwik? Ervaar ons nog die hoop? Leef ons nog vanuit die krag van die opstanding soos toe ons twee weke terug daaraan herinner is? Of voel dit al klaar weer so ver weg, so lank terug. Paasnaweek. Wanneer was dit nou weer? O ja, twee weke terug. Dit voel eerder soos twee jaar. Want die Maandag na Paassondag moes ons alweer ophou droom en wakkerword in die werklikheid van ons elkedaagse lewe. ‘n Lewe gevul met pyn en hartseer, onsekerhede en swaarkry, agteruitgang en dood. Want life goes on. En die lewe waarbinne ons ons bevind het eintlik veel meer te doen met die dood as met die opstanding. Die droom van Paassondag is verby, en die werklikheid is weer met ons.

So was dit al destyds gewees met die dissipels. Jesus het opgestaan en een keer aan hulle verskyn: “Vrede vir julle!” En die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien. Daarna het Hy ‘n tweede keer aan hulle verskyn: “Vrede vir julle!” Na hierdie tweede verskyning van Jesus was die skrywer van die evangelie oortuig daarvan dat alles wat nodig is om gesê te word, nou gesê is. En hy het sy boek afgesluit met hoofstuk 20. Hoor net die mooi slot: vs 30-31. Maar dan, amper asof dit ‘n nagedagte is, word daar nog ‘n hoofstuk bygevoeg, hfts 21. Want kan julle nou meer, toe hulle almal gedink het dit is nou die laaste sien van Jesus, toe verskyn Hy sowaar nog ‘n keer! Teen almal se verwagting in. Hierdie keer is die dissipels so onvoorbereid op Jesus se verskyning, en so gereed om sy opstanding nou agter hulle te sit en voort te gaan met die werklikheid van hulle elkedaagse lewe, dat hulle terugkeer na hulle nering van drie jaar gelede, van voordat Jesus hulle geroep het om sy dissipels te wees, die tyd toe hulle nog vissermanne was. Petrus kondig eerste aan: “Ek gaan visvang.” “Ons gaan saam met jou”, sê die ses ander wat ook daar was. Dis tyd om die stukke van hulle lewens op te tel en om terug te keer na die lewe wat hulle gehad het voor Jesus. Want die hoofstuk in hulle lewens met Hom is verby. Dit was ‘n goeie tyd gewees, ‘n tyd van groei en leer, van tekens en wonderwerke, ‘n tyd van vooruitsigte en hoop. Maar die Here het gesterf, en Hy het, wonderbaarlik!, opgestaan en nie net een keer nie, maar twee keer aan hulle verskyn! Wat meer kan hulle dan nou vra. Die tyd saam met Hom was goed solank hulle dit gehad het. Maar life goes on. Natuurlik is hulle nie meer dieselfde mense as wat hul was voor hulle vir Jesus leer ken het nie – wie kan nou wees? Maar dis tyd om weer terug te keer na die realiteit van skuite in die water instoot en nette uitgooi in die hoop om genoeg vis te vang om ‘n bestaan van te kan maak.

Heel nag was die dissipels / vissermanne (wat is hulle nou eintlik?) uit op die see, maar sonder enige sukses. Die oggend het al aangebreek toe Jesus vanaf die strand na hulle roep: “Kinders, het julle nie iets gevang om te eet nie?” “Kinders” – hierdie aanspreekvorm moes al iets in hulle wakkergemaak het. Maar dit het nie. “Nee,” antwoord hulle Hom niksvermoedend. “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.” Hulle doen dit toe en die net was so vol van visse (153!) dat hulle dit nie weer kon intrek nie. Nou gaan daar ‘n liggie aan by die dissipel vir wie Jesus baie lief was, en hy sê vir Petrus: “Dit is die Here!” Petrus trek sy hemp aan en spring in die water om so vinnig as moontlik by Jesus uit te kom. Hy wil nie nog sukkel met die klomp visse wat hulle nounet gevang het nie. Die ander kom agterna met die skuit en die volgelaaide net.

Op die strand aangekom, sien hulle daar is ‘n vuurtjie wat brand en vis op die kole. Jesus wil hê dat hulle eers hulle skuit en die visse wat hulle pas gevang het op die land moet trek. Dan bedien Hy hulle met brood en met vis: “Kom eet.” Nie een het op daardie stadium vir Hom gevra: “Wie is U?” nie. Hulle het gewéét.

Hierdie vuurtjie wat so knetter op die strand. Daar is net een ander plek in die NT waar ons van nog so ‘n vuurtjie lees. Dit is die een in die binnehof van die hoëpriester se woning, die een waarby Petrus sy hande warmgevryf het terwyl hy drie maal vir Jesus verloën het. Nou is daar weer so ‘n vuur. En nadat hulle geëet het is daar nogmaals ‘n drie-male geleentheid waartydens Petrus se gebroke verhouding met Jesus herstel word, waar Petrus weer ‘n kans kry:

“Simon, seun van Johannes, het jy My lief, meer as hulle hier? En meer as al hierdie dinge – die skuit en die see en die nette? Meer as jou nering?”
“Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.”
“Laat my lammers wei.”

“Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief?”
“Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.”
“Pas my skape op.”

“Simon, seun van Johannes, het jy My lief?”
En Petrus het hartseer geword. Na ‘n drie-male verloëning was die drie-male herstel te veel vir sy emosies om te hanteer. “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.”
“Laat my skape wei.”

Drie maal die vraag, drie maal die antwoord, en drie maal die hernude roeping: ‘n dialoog tussen Jesus en Petrus wat nie anders kan as om mens te raak nie. G’n wonder die skrywer het besluit om ook hierdie verhaal aan die einde van sy evangelie in te sluit nie. Die merkwaardige van die verhaal is nie net die gesprek tussen Jesus en Petrus nie, maar ook die omstandighede. Na die Paasfees, na Jesus se kruisiging, na sy opstanding, nadat Hy twee maal aan sy dissipels verskyn het – toe die tyd van sy lewe op aarde saam met hulle verby is en hulle, waarskynlik met ‘n tikkie neerslagtigheid, besef het dat die gewone lewe nou weer moet aangaan (ons kan amper sê Sondag is verby en Maandag het aangebreek) – tóé verras Jesus hulle almal met ‘n derde verskyning. Niks wonderbaarliks soos deur mure of deure loop nie. Net maar ‘n man wat vis braai op die strand. ‘n Man wat hulle kom ontmoet daar waar hulle met hulle gewone werk besig is, deurnag wakker was, moeg, vuil, moedeloos omdat hulle geen vis kon vang nie.

Die punt van hierdie verrassend gewone omstandighede is: Jesus verskyn nie net aan ons tydens die hoogtepunte van sý bestaan nie – tydens Kersfees en Paasfees nie. Hy verskyn juis ook aan ons midde ons lewe van elke dag. Elke keer weer – ‘n tweede keer (wanneer ons bang is en wegkruip in die huis), ‘n derde keer (langs die strand as ons deurnag besig is met die sieldodende roetine van nette uitgooi en leeg intrek, of in die klaskamers waar ons vir kinders probeer leer wat net nie wíl aandag gee nie, of op kantoor waar die een sperdatum op die ander volg en niemand meer vir mekaar tyd het nie). Dis hier, in die naakte alledaagsheid van ons roetinebestaan, dat die Here na ons toe kom, hier waar Hy wonderwerke verrig (die visse in die net!), hier waar Hy ons nooi om asem te skep en saam met Hom om die vuur te kom sit waar Hy ons bedien, kom voed en verkwik met vis en met brood, hier – in die alledaagsheid – waar Hy sy roeping aan ons bevestig. Waar Hy ook bestekopname neem oor waar óns prioriteite lê. Hy vra nie vir Petrus, en daarmee saam die res van die dissipels, om hulle visnette te laat vaar nie. Hy maak juis die net vir hulle vol! Maar Hy wil weet of ons Hom liefhet – meer as wat ons die mense om ons het, en meer as wat ons die bote en die net en die see in ons eie lewens het. Is ons méér verknog aan Hom as aan ons werksukses of die uitkomste van ons alledaagse lewe. Waar lê ons hart se punt?

Life goes on. Natuurlik! Maar vir ons moet dit op ‘n ánder manier aangaan, met ‘n nuwe fokus, ‘n nuwe gerigtheid. En met die wete dat Jesus ons nie net kom ontmoet op sy groot dae nie – Hy nooi ons nie net in Desember na sy verjaarsdag en in Maart/April na sy begrafnis en sy opstanding toe nie. Ek wil amper sê Jesus steur Hom nie te veel aan hoeveel mense by sy verjaarsdag of sy begrafnis opdaag nie. Hy wil weet of daar mense is wat in die ander 360 dae van die jaar steeds met ‘n konstante bewustheid van Hom leef, in hulle lewens van elke dag, dag in en dag uit dieselfde. Mense wat nie net dissipels is op Jesus se groot dae nie, maar ook in hulle gewone dae. Mense wat weet dat Hy ook dan met hulle is, al is dit nie met ‘n vuurwerkvertoning nie, maar net ‘n gewone vuurtjie op die strand of op die stoep. Mense wat geraak word deur en tevrede is met iets so eenvoudigs soos ‘n vervulde dag op kantoor of by die skool – ‘n net vol visse waar daar dikwels dae is met geen visse nie. Mense wat hier hul oë oopmaak en vir Jesus kan raaksien, en kan ervaar hoedat Hy hulle bedien en voed, met gewone kos soos vis en brood, maar midde die realiteit van sy teenwoordigheid. Dis maklik om vir Jesus ja te sê wanneer ons meegevoer word deur sy geboortedag of sy opstanding. Maar dis nie wanneer Hy ons vra nie. Hy kom na ons toe nadat al die opwinding getaan het, nadat die stof gaan lê het, nadat die geselsies oor Hom opgehou het en mense begin vergeet en begin aangaan met hulle gewone lewe – dis dán dat Hy na ons toe kom met die vraag: “Het jy My lief?” Daar waar ons nie met emosie-belaaide harte gaan antwoord binne die opgesweeptheid van Kersfees en Paasfees nie, maar met moeë lywe wat deurnag geswoeg het in arbeid wat dikwels sieldodend is en nie vrugte lewer nie. Na so ‘n lang nag kom vra die Here vir ons.

En Hy belowe nie maanskyn en rose nie. Ja, ons kry van tyd tot tyd ‘n net wat tot barstens toe vol is met visse. Visse, let op, wat ons nie vir onsself moet hou nie, maar moet gaan uitdeel! Want direk nadat Jesus die dissipels / vissermanne (wat is hulle tog!?) se net laat volloop het, bedien Hy hulle met vis wat Hy self gevang en gebraai het. Hulle gebruik nie hier van hulle eie vis nie. En dan gee Hy aan Petrus die opdrag – gaan voed My lammers, gee kos vir My skape, pas hulle op, sorg vir hulle, soos Ek nounet weer vir julle gesorg het. Gaan deel uit die vis wat Ek in julle net laat swem het. En nadat julle dit gedoen het wag daar steeds nie hierdie wonderlike vooruitsig van ‘n gerieflike aftrede nie. Nee , Petrus, “wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.” Hiermee het Jesus aangedui deur watter soort dood Petrus vir God sou verheerlik. “Want onthou, Petrus, as jy sê dat jy My liefhet, maak Ek van jou ‘n herder. Jy moet omsien na my lammers en my skape. En Ék weet wat herder-wees beteken – vra My! Onthou toe Ek vir julle gesê het dat ‘n goeie herder sy lewe aflê vir sy skape. Ék weet! Jy ís ‘n visserman, maar as jy vir Mý ja sê – dan is jy in die éérste plek ‘n herder en daarna ‘n visserman. Jy is in die éérste plek ‘n dissipel en naas dit ook ‘n onderwyser of ‘n advokaat, of ‘n dokter of ‘n dominee. Dissipel-wees gaan jou bring waar jy nie wil wees nie. Nogtans bly my uitnodiging staan – nie na my verjaarsdag of my begrafnis toe nie, maar na die klippe kou-sessies van die daaglikse lewe. Hiernatoe nooi Ek jou uit: Volg My!

Wie van ons wil nou nog “ja”sê?

 Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.