Openbaring 7

21 April 2013 – Paastyd Goeie Herder Sondag
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond
Indien ons die bybelboeke moes kategoriseer soos wat ons met flieks maak dink ek dat die meeste mense, christene inkluis, Openbaring onder die boeg van rillers sou gooi. En waarskynlik ook wetenskapsfiksie. Die twee kategorieë by uitstek wat in meeste mense se smaak nie val nie. ‘n Kombinasie van die twee nog erger. G’n wonder dat mense, en dalk verál gelowiges, vanaf die vroegste tye hierdie boek aan die einde van die Bybel ignoreer nie. Hoe Openbaring die kanon (dit is die keuse van die 66 boeke wat in die Bybel opgeneem is) gehaal het, weet nugter alleen. Calvyn het oor elke boek in die Bybel ‘n kommentaar geskryf, behalwe oor Openbaring. En Luther het vir ‘n lang tyd nie Openbaring as deel van die Bybel aanvaar nie. Nog ‘n groot kerkvader van ons, Zwingli, het nooit aanvaar dat Openbaring ook in die Bybel hoort nie. Dis eintlik nogal snaaks – gelowiges lees enigiets in die Bybel, ja, selfs soms die OT!, behalwe Openbaring. Daarteenoor gebruik Hollywood díe bybelboek as hoofbron vir hul kreatiewe idees vir skrikwekkende flieks. Waar anders kom hulle aan die beelde wat gebruik word in flieks wat handel oor die einde van die wêreld? Een het nogals die naam “Apocalypse”. Lyk my die boek moet met ‘n ouderdomsbeperking kom – nie geskik vir lesers/hoorders tussen die ouderdom van 0 en 100 nie…

Dit terwyl Openbaring nooit uit ‘n nagmerrie gebore is nie, maar uit ‘n droom, ‘n visioen. En die bedoeling was juis nie om gelowiges die skrik op die lyf te jaag nie, maar om hulle te troos. Dis rondom die jaar 90 nC. Domitianus was die keiser aan bewind van die Romeinse Ryk. Alhoewel hy die christene nie goedgesind nie was nie, was daar nog nie grootskaalse vervolging van die christene nie. Hier en daar het gelowiges wel met hul lewe vir hulle geloof betaal, maar dit was nie so dat hulle voor die voet uitgeroei is en daarom konstant moes wegkruip nie. Tog wou die Romeinse regeerders keer dat meer mense na hierdie geloof oorgehaal word, aangesien die keiser alleen as “here en god” aanbid moes word. Openbare getuienisse en die bewustelike verkondiging van die evangelie was dus strafbaar. En indien die gelowiges nie bereid was om in die publiek voor die keiser te kniel en hom te aanbid as here en god nie, kon hulle ook straf te wagte wees. In hierdie tyd is Johannes verban na die eiland Patmos toe. Waarskynlik omdat hy nie opgehou het om die evangelie te verkonding nie. Die omstandighede op die eiland was nie haglik nie. Dit lyk ook nie asof Johannes in ‘n tronk toegesluit was nie. Maar hy is op die eiland afgesonder om te verhoed dat hy kon voortgaan met die verkondiging van die evangelie.

Op Patmos gee God aan Johannes ‘n droom of ‘n visioen wat hy in die vorm van ‘n lang brief moes gaan neerskryf en wat onder die gelowiges versprei moes word. In die visioen word Johannes blootgestel aan bonatuurlike dinge – die bonatuurlike koms van die koninkryk van God, die oorwinning oor die dood, ‘n nuwe aarde waarin daar nie meer onreg en smart is nie, vloeke wat neerslag vind in oorweldigende natuurskatastrofes, die vreesaanjaende diere met hulle baie koppe en baie horings, sterre wat op die aarde val, en die ewige verderf. Omdat hierdie bonatuurlike wêreld in Johannes se visioen so radikaal buite sy verwysingsraamwerk was, kon hy nie anders as om dit deur middel van beelde en simbole in sy brief te beskryf nie. Want dit was alles so onwerklik.

Die gevaar ontstaan nou as ons hierdie beelde en simbole en getalle letterlik wil opneem. Die veiligste manier om Johannes se visioen in Openbaring te interpreteer, is juis nie om toe te laat dat ons verbeelding met ons op hol gaan nie, maar om eerder te neig na meer gewone, aardse verduidelikings. Want wat help dit nou Johannes het hierdie bonatuurlike visioen vanaf God ontvang, maar dit is so kompleks en onsyferbaar dat dit op die ou-end net verwarring en vrees saai en vir niemand niks beteken nie?

Van julle sal onthou dat ons verlede jaar tydens Pinkster die eerste 3 hftse van Openbaring behandel het. Die opgestane Jesus wat in alle glorie aan Johannes verskyn het. Hy het tussen 7 lampe gestaan – verteenwoordigend van 7 gemeentes; en Hy het 7 sterre in sy regterhand (sy sterk hand!) vasgehou – verteenwoordigend van die predikante of die leiers van die gemeentes. Aan elk van hierdie 7 gemeentes moes Johannes ‘n brief skryf wat baie konkreet gehandel het oor die situasie waarbinne die gemeentes hulself bevind het: hulle verhouding met die vreemde kultuur waarin hulle geleef het, in watter mate kon hulle deel wees van hierdie samelewing sonder om hulle christelike getuienis te verloën, hoe het hulle kwessies soos armoede, afgode, onsedelikheid, ens hanteer, waar het hulle eerste liefde gelê – by die Here of by hulle besittings en hulle eer en aansien in die heidense gemeenskap? Sewe (soos 10 en 12) is een van die getalle van volmaaktheid in die Bybel – en dit sê dat hierdie sewe gemeentes en hul leiers alle gemeentes van alle tye verteenwoordig. Álle gemeentes word veilig vasgehou in die sterk regterhand van die opgestane Here, maar al hierdie gemeentes word opgeroep om hulself deurentyd te ondersoek en te kyk of hulle fokus nog reg is. Daarom sluit elke brief af met die waarskuwing: “Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê”. Ook ons kan onsself terugvind in die sewe gemeentes van 90vC , en die inhoud van die briewe is ook baie prakties gerig op ons lewens vandag.

Hierna volg Openbaring 4 en 5. Johannes sien vir God op sy troon in die troonkamer van die hemel, ‘n reënboog van kleure, weerlig en donderslae wat slaan, 4 lewende wesens wat Hom aanbid: “Heilig,heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom,” 24 ouderlinge wat kniel en vir God aanbid. En dan is die Lam ook die daar, die Leeu wat ‘n Lam is, die enigste een wat waardig is om die boek met die 7 seëls oop te maak omdat Hy die oorwinning behaal het. Ook Hy word deur die lewende wesens en die ouderlinge en dien engele aanbid. Blykbaar is Händel deur hierdie gedeelte in Openbaring (spesifiek hfst 4) geinspireer om sy musiekstuk Messias te komponeer.

In hfst 6 word die eerste 6 seëls deur die Lam (Christus) oopgemaak. Hier begin die gedeeltes wat nagmerries by ons veroorsaak. Oordeel op oordeel op oordeel word aangekondig. Met die oopmaak van elke daaropvolgende seël raak die beelde net verskrikliker. Aan die einde van hfst 6 kondig die Here aan dat die eindoordeel reeds aangebreek het, maar die einde daarvan word nog nie beskryf nie. Ons skryf maklik die smart en die pyn, die vreesaanjaende gebeure in die wêreld aan bose mense en die bose magte toe. En natuurlik is dit waar. Paulus vertel tog dat die duiwel besig is met sy laaste stuiptrekkings, en ons weet dat die laaste rukkings dikwels die grootste golwe kan veroorsaak. Maar in Openbaring sien ons dat hierdie gebeure nie net aan die bose toegeskryf kan word nie. God se oordeel oor die onreg en die ongeloof in die wêreld is ook ‘n realiteit. Ons kan nie alyd maar net praat van die liefde van God so asof sy oordeel sal weggaan as ons dit net ignoreer nie. In elk geval – wat beteken die verlossing uit sonde dan as daar nie die ander moontlikheid van oordeel is nie? Waaruit word ons dan nou eintlik verlos? God se oordeel is ‘n realiteit, en dis iets om mee rekening te hou. En soos die eerste kerk en Paulus en Johannes leef ons ook in die eindtyd. Die eindtyd is ingelei met Jesus se hemelvaart en eindig met sy wederkoms. Ons leef in die laaste dae, in die dae van oordeel.

Hfst 6 eindig met: “Wie sal staande kan bly?” Inderdaad, wie sal staande kan bly teen die eindoordeel van God as dít die beelde is wat God aan Johannes openbaar om vir hom ‘n gevoel te gee van wat gaan kom? En hierby toe: Wat word van die gelowiges wanneer die oordele van God in die 6 seëls uitgevoer word? Tussen die oopmaak van die 6e seël en die 7e seël is daar ‘n onderbreking – Openbaring 7. In die eerste helfte ‘n visoen oor die beskerming van die gelowiges ten tye van die oordeel, en in die tweede helfte ‘n visioen van die eindheerlikheid self.

Lees teks: Openb 7
Vs 1-8: speel op die aarde af.
Vs 3: die dienaars wat op hierdie stadium nog op die aarde is
Vs 4: 144 000: 12 (stamme vd OT) x 12 (stamme vd OT) x 10 tot die 3e mag (alles syfers van volmaaktheid/volledigheid) . Dit dui dus juis nie op ‘n beperkte getal nie, vs maar op ‘n veel groter groep. “Uit Israel” gee vir ons die gelowiges se agtergrond. Dit het begin by ons vader Abraham en die volk Israel. Die NT kerk en gelowiges is die nuwe Israel, ons is tog ingeënt op die volk van die OT (Rom 11), ons dien Israel se God en glo in Israel se Messias.

Vs 9-17: die groot menigte dui op die wat reeds dood is; daarom is hulle in die hemel.
Vs 9: Ontelbaar baie, en kyk net die verskeidenheid!
Wit klere as simbool van reinheid, hulle is voor God geregverdig
Palmtakke – simbool van vreugde: soos met Jesus se intog in Jerusalem roep die volk nou weer uit wie hulle gered het.
Vs 10 Redding (soteria) – omvattende term: genesing, redding uit sonde, beskerming, vrede
Vs 14: Die wat uit die groot verdrukking kom: nie ‘n spesifieke groepie martelare nie, maar die hele geloofsgemeenskap. Met die tyd van die NT het die eindtyd, die laaste dae reeds aangebreek. Die groot verdrukking gebeur sederdien herhaaldelik in die geskiedenis, net soos die antichris nie net een persoon is nie, maar al verskeie kere in die geskiedenis was daar vbe.
Gewaste klere, wit gemaak in die bloed vd Lam: wit as simbool van reinheid en oorwinning. Jesus se dood bring versoening, sy bloed maak wit. Hierdie mense beroep hulle voor God op Jesus se versoeningsdood.
Vss 15-17: Baie ooreenkomste met die eindheerlikheid in Openb 21.
“dag en nag” bestaan nie meer nie – beteken deurentyd, altyd.
“tempel” bestaan nie meer nie, want alles (die hele nuwe Jerusalem) is nou tempel, gevul met God se teenwoordigheid.
Vs 16: herinner aan die terugkeer van die Israeliete uit ballingskap (Jes 49:10)
Vs 17: Die Lam sal hulle herder wees wat hulle sal lei. Herinner aan Ps 23. Ook laasweek toe ons geroep is om herders te wees vir die Here se lammers en sy skape. Nou word die rolle omgekeer: Ons (wat op aarde ook herders was) word nou net skape; ons wat op aarde moes help versorg, word nou net versorg deur die Here. Hy word nou die enigste herder – die Een wat ons versorg en beskerm.

Boodskap
In die lig van alles wat nou alreeds vanoggend gesê is, wat kan ons uit Openbaring 7 met ons saamneem? Die beste is miskien om af te sluit met 3 punte wat verband hou met ons verlede, ons hede en ons toekoms.

Almal het ‘n verlede. Ons as gelowiges se verlede het iets in gemeen – ons almal se eintlike voorvader is Abraham. Die NT gelowiges, waarvan die meeste heidene was, is ingeënt op die 12 stamme van Israel. Die kerk word so die nuwe Israel. Ons aanbid Israel se God en ons is deur Israel se Messias gered. Ons vergeet soms hierdie verlede en ons kyk, dalk heel onbewustelik, so bietjie neer op die Jode. Daar is die Jode en die christene, en die christene is beslis ‘n paar trappe hoër as die Jode. Maar ons moet onthou dat die Jode eerste daar was, dat ons eers later ingetrek is. Ons is die heidene. Die Jode is die eerste gekose burgers van die hemel, ons is die medeburgers. Is dit nie daarom so hartseer dat ons in die kerk sit en die Jode buite bly nie? En dat die Jode wat tot bekering kom hulself “Messiaanse Jode” noem, eerder as Christene. Waarom doen hulle dit? Omdat die chistene so ‘n slegte geskiedenis met die Jode het. En omdat die christene die Jode uitgemoor het tydens die kruistogte. Omdat ons vir die wat éérste plek gehad het by God, nie meer wil ruimte maak nie. Ons wat veronderstel is om deur ons lewens en ons geloof vir die Jode jalóérs te maak en aan te trek na hulle Messias toe; ons skrik hulle eerder af.
As ons ons verlede onthou, die 12 stamme van Israel, en dat ons alleen deur God se genade daar ingesluit is, dan kan dit ons dalk net help om vandag anders teenoor die Jode, en ook mense van ander gelowe, op te tree as wat ons dikwels doen.

Dit sluit eintlik aan by ons hede. Vanaf vs 9 lees ons van die groot menigte wat voor die troon sal verskyn. Mense uit elke nasie, stam, volk en taal. ‘n Groot verskeidenheid mense voor die één troon, almal met dieselfde kleur klere (wit), almal gerig op die Lam, almal met dieselfde belydenis, almal met dieselfde toekoms saam met Hom. Sien ons al genoeg van hierdie verskeidenheid van mense wat daar in die hemel gaan wees, in ons kerke vandag? Indien nie, gaan ons maar swaar kry in die hemel. Die hemel bestaan uit ‘n reënboognasie, almal is daar welkom. Raak nou al gewoond daaraan en leef dit nou al uit.

En laaste ons toekoms. Ons is deel van die gelowiges wat deur die groot verdrukking gaan. Ons ervaar siekte en lyding, die gevolge van sonde en rampe. Die lewe op aarde is moeilik. Maar ons kan nou al weet dat die Here, die Lam, ons hierdeur sal dra. Aan die begin van Openbaring lees ons hoedat Hy ons in sy regterhand vashou. Ons lees in hfst 7 dat Hy ons versorg en beskerm, dat Hy ons veilig sal bring na waar ons moet wees. Ons sal nie meer honger en dors kry nie; die son sal ons nie brand nie en die hittebloed ook nie. Die Herder sal ons lei na fonteine met water van die lewe, en God sal al die trane van ons oë afdroog. Daar gaan dus ‘n einde aan alle swaarkry kom. En die heerlikeheid wat op ons wag gaan alle verwagtinge oortref. Daarvan kry ons ‘n voorsmakie in Openbaring 7, en die volle heerlikeheid word in hfste 21-22 beskryf. Dit is ons toekoms, hierheen is ons oppad.

Vir gelowiges is Openbaring dus nie ‘n riller of ‘n nagmerrie nie. Dis ‘n boek vol belofte en troos.

 

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.