Markus 1:9-11

5 Mei 2013 – Matthys Heyns se doopdiens
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond

Markus was nie een van Jesus se dissipels nie. Hy was maar bloot ‘n kind gewees toe Jesus gekruisig is. Ten spyte van die feit dat Markus aanvanklik toe hy aangesluit het by die Jesus-beweging ‘n vrot sendeling was, het hy later ‘n leerling van Petrus geword, in die tyd toe Petrus en Paulus die evangelie in Rome verkondig het. ‘n Geweldige brand het in die tyd die helfte van Rome vernietig en keiser Nero het die blaam van homself af gewend en die ongewilde christelike “sekte” die skuld gegee. Baie christene is wreed tereggestel, onder meer ook Petrus. Markus het teen die tyd al baie van Petrus se eerstehandse herinneringe aan Jesus versamel, en skielik was hy nou genoop om dit so vinnig as moontlik op skrif te stel, voordat dit te laat is en hy dalk ook gevang en tereggestel kon word.
Die gevolg hiervan is dat Markus se evangelie baie kort is (ook die eerste een), veel korter as die ander evangelies. Want Markus het inderhaas geskryf. Mens hoor hom amper hyg terwyl hy skryf. En hy het gefokus op die essensiële boodskap – op die gebeurtenisse in Jesus se lewe wat noodsaaklik is vir die vorming van dissipels en hulle geloof.
Met die dat Markus nie soos die ander evangelies begin met die geboorteverhaal van Jesus nie. Hy sny die eerste 30 jaar van Jesus se lewe heeltemal uit en plons sommer dadelik in Jesus se openbare bediening in. Dis interessant om te let op wáár presies alles dan vir Markus begin – vir hom begin die eintlike verhaal die dag toe Jesus gedoop is: Markus 1:1: “Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só: …”

Lees Markus 1: 9-11
Jesus word deur Johannes met die bekeringsdoop gedoop. Dit is ‘n doop wat vir sondaars bedoel was, of ten minste vir mense wat besef het dat hulle sondaars is. In die doop was hierdie mense, figuurlik gesproke, dan skoongewas van hulle sonde. Dat Jesus, van alle mense!, die énigste een sonder sonde, na Johannes toe kom om in hierdie doop onderdompel te word – dit is eintlik heeltemal ongehoord! Want in hierdie daad van Hom vereenselwig Jesus Hom so met sondaars dat Hy Homself hier in die openbaar tot sondaar verklaar. Want onthou – nét sondaars kan hierdie doop ondergaan. In Jesus se eerste openbare optrede, in sy doop, sê Hy dus reeds wat sy doel op aarde is – Hy kom, as sondelose, om die wêreld se sonde op Hom te neem, asof Hy dit sélf gepleeg het! Sodat Hy die prys daarvoor namens ons kan betaal. Die radikaliteit van Jesus se daad word nog duideliker wanneer ons let op God se reaksie: wanneer Jesus so van Homself afsien ter wille van ‘n sondige wêreld – dan kom God in beweging. Die hemel skeur oop! Die Gees daal soos ‘n duif na Jesus neer. En God self praat uit die oop hemel: “Jy wat sonder sonde is maar Jouself laat doop asof Jy ‘n sondaar is, Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My.”

So begin die verhaal vir Markus: by Jesus se doop. Maar waar eindig dit? Want enige goeie skrywer sal vir mens kan sê dat ‘n boek se inleiding en sy slot op mekaar inwerk – die een bepaal die ander. En die middel, die “lyf” van die boek sê vir ons hoe die inleiding by die slot uitkom. Markus se verhaal eindig by die kruis. Hy begin by die doop en eindig by die dood.

Hoekom so ‘n inleiding en so ‘n slot? Hoekom lyk dit asof alles staan of val by Jesus se doop en by sy dood? Wat eintlik maar een en dieselfde is, want onthou– Jesus is gedoop (die doop vir sondaars) met die oog op sy dood (die prys wat Hy vir die sonde gaan betaal). Sy doop lyf Hom as’t ware in sy dood in, dit berei Hom voor. Ons sou daarom kon sê dat Jesus se doop die begin van sy dood is.

Maar waarom? Sodat ons ook gedoop kan word. Nie met dieselfde doop as Jesus nie – juis nie!, want Hy het IN ONS PLEK Homself met die dood laat doop sodat ons die lewe kan hê. Soos wat Jesus se doop ‘n heenwysing was na sy dood, so is ons doop ‘n heenwysing na die lewe. Want op die ou-end spreek die dood nie die heel laaste woord in Markus nie, maar die opstanding! Jesus is gedoop met die oog op sy dood. Maar Hy het ook die dood oorwin! Hy het opgestaan. Wanneer ons dus, in die tyd na Jesus se opstanding, gedoop word, het die fokus van die doop verskuif. Jesus het met sy doop al ons sondes op Hom geneem en Hy het reeds die prys daarvoor betaal. Die skuld is klaar vereffen, dis afgehandel. Wanneer ons vandag gedoop word, maak nie saak hoe oud ons is nie, dan word ons gedoop in Jesus se dood – die dood wat Hy reeds namens ons gesterf het. Sodat ons nie meer daardie dood hoef te sterf nie. Maar ons word tegelykertyd gedoop in sy opstanding. Die opstanding wat Hy namens ons verwerf het. In ons doop word ons daaraan herinner dat God met ander oë na ons kyk. Hy kyk na ons deur die lewe en sterwe van Jesus. En dit maak dat nie net Jesus sy geliefde Seun is nie. Omdat Jesus Homself prysgegee het, het Hy dit moontlik gemaak dat elkeen van ons “geliefde kinders van God” genoem kan word. Jesus het versoening tussen ons en God gebring. Dit het begin by sy doop, dit het geëindig by sy dood, en die gebroke verhouding tussen ons en God is herskep in Jesus se opstanding. Hy het ons verhouding met God kom herstel.

Ons doop – Matthys se doop – wys dus na ‘n nuwe lewe. Daarom word die doop dikwels in die NT die wedergeboorte genoem – wanneer ons gedoop word is dit ‘n teken daarvan dat ons “weer gebore word” in ‘n nuwe lewe. Nie sommer enige lewe nie, maar ‘n lewe voor God; ‘n lewe in erkenning van God; ‘n lewe in afhanklikheid van God; ‘n lewe in gemeenskap met God; ‘n lewe in verhouding met God.

Bygesê, ‘n verhouding kom nie net van een kant af nie. God is wel die Inisieerder in sy verhouding met ons. Nog voordat ons kan antwoord, noem Hy Homself reeds in die openbaar(!) ons Vader, en noem ons sy kinders. By die doopvont doen Hy dit baie persoonlik – by name. Matthys Lourens Heyns, Ek doop jou. Jý is myne. Jý is my geliefde seun. Oor jou verheug Ek My. Nog voordat jy vir My kan aanvaar, het Ek jou reeds aanvaar. By My sal jy altyd welkom wees. My deur staan altyd vir jou oop. Ek sal jou nóóit verwerp nie, nóóit in die steek laat nie. Mag dit so wees dat, wanneer jou ouers wat weet dat hulle my kinders is en wat jou daarom met hulle saambring na My toe, mag dit so wees dat jy eendag as jy self moet besluit waarheen jy wil gaan, dat jy dan steeds na My toe sal kom. Mag dit wees dat jy nie teenoor My opstandig word nie, maar dat jy bereid sal wees om die liefde wat Ek vir jou gee, te ontvang. Mag dit so wees dat jou sitplek aan my tafel nooit sal leeg staan nie, dat jou kamer in my huis nooit sal leeg wees nie, want Ek krap nie name uit en vervang dit met ander nie. By My is daar baie plek, baie kamers, genoeg vir álmal. As jy nie jou plek gebruik nie, dan sal dit altyd oopstaan, gereserveer, vir jóú, omdat Ék hoop dat jy sal terugkom – want Ek sal jou mis, jy is vir My belangrik. Ek sal nóóit jou plek vir iemand anders weggee nie. In kort: Bly by my Matthys, ook wanneer jy ouer en eie-wys word, want Ek het jou lief. Ek wil jou versorg en lei. Bly by My, soos wat Ek nou al reeds by jou bly.

Die doop is geen waarborg van ‘n gesonde verhouding met God of ‘n plek in sy huis nie. Soos ons gehoor het – ‘n verhouding kom van twee kante af. God kan Homself aanbied as Vader – en doen dit ook – maar dit gebeur dat kinders hulle rug op hul vader draai. Dit gebeur dat kinders wegloop. Al is hulle plek in die ouerhuis altyd daar. Dit gebeur dat kinders nie wil terugkom nie. Dis hartverskeurend, verál vir die ouers, maar dit gebeur. Ons kan, ten spyte van ons doop, besluit dat ons nie ons verhouding met God wil koester nie. Dit klink nie moontlik nie, maar tog gebeur dit.

Verder is dit ook so dat dit nie nét gedooptes is wat ‘n plek het by God nie. Asof ongedoopte mense dan nou kwansuis verlore is nie. God se beloftes geld vir almal. Vir gedooptes en vir ongedooptes. Dis net dat ons as mense so sukkel om te glo as ons nie sien nie. En die gedooptes word gehelp daarin dat hulle ‘n sigbare teken, ‘n simbool, ontvang het om aan vas te hou. ‘n Daad wat as herinnering dien. Veral wanneer dit die dag nie so maklik is om te glo nie. Die doop is die teken, die seël, dat ek ‘n kind van God die Vader mag wees. Martin Luther wat gesukkel het met depressie en dit as die aanvegtinge van die duiwel beskou het, het in sy donkerste ure as troos op sy lessenaar uitgekrap: “Ek is gedoop!” Dít het hom deurgedra. Ons sou kon sê die doop is soos ‘n trouring. Die ring aan my vinger maak nie dat ek getroud of ongetroud is nie. Ek is ewe veel getroud al dra ek nie ‘n ring nie. Maar die ring dien as teken, as herinnering, as openbare getuienis, van my huweliksverhouding. Die ring dien natuurlik ook as ‘n oproep – dit gee aan my ‘n sekere verantwoordelikheid. As jy ‘n ring aan jou vinger dra, dan moet jy leef soos een wat getroud is. As jy gedoop is, het jy die verantwoordelikheid om te leef soos ‘n gedoopte – soos iemand wat weet dat hy/sy aan God behoort.

Ons word gedoop met die oog op die lewe. Die nuwe lewe, ‘n herskepte lewe wat getuig van ‘n herstelde verhouding tussen ons en God. Lasarus se verhaal is ‘n voortuitwysing daarheen. Hy was dood, maar Jesus het hom letterlik uit sy graf uit geroep, sodat hy weer kon lewe.

IL de Villiers dig aangrypend hieroor:

“Jy kou nog aan jou vuisies
skop met die voete.
Die formulier sê plegtig
jy’s geroepe
‘om in ‘n nuwe lewe op te staan’ –
klein Lasarus in doeke.”

Of julle nou gedoop is of nie: Julle is God se geliefde kinders. Dit is so omdat Jesus in sy doop, en sy dood en sy opstanding dit moontlik gemaak het. Mag julle dit weet, en mag julle daaruit leef. Sodat God Hom kan verheug oor julle. Mag Matthys se doop vanoggend vir elkeen van ons ‘n teken of herinnering wees daaraan.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.