Openbaring 22: 6-21

12 Mei 2013 – Paastyd
Prediker: Bianca Botha

Agtergrond: Johannes het op die eiland Patmos ‘n droom/visioen gehad en dit toe in ‘n brief neergeskryf wat hy rig aan die 7 gemeentes in Klein Asië; en eintlik indirek dan ook aan die kerk as ‘n geheel. Hoofstuk 22, wat ons vandag gaan lees, is deel van die afsluiting of epiloog van dié brief, wat in baie opsigte ooreenstem met die inleiding van die boek in hoofstuk 1. Dit dien dus as ‘n tipe samevatting van die sentrale boodskap van die hele boek nl. die vestiging en erkenning van God se alleenheerskappy op aarde. Openbaring se bedoeling (en maw ook dié van die teks) is om te bemoedig en versterk; om die lesers bewus te maak van God se koninkryk hier op aarde en Christus se oorwinning oor die magte wat hulle vervolg en verdruk. Die doel van die boek is in die eerste plek om die lesers te troos en tweedens om hulle aan te moedig om God se koninkryk – wat reeds aangebreek het, maar nog tot vervulling moet kom – op aarde sigbaar te maak.

Lees Openbaring 22: 6-21

In die tyd wat hierdie brief geskryf is ervaar die vroeë Christene verskriklike vervolging en onderdrukking. Hulle bevind hulleself in ‘n wanhopige situasie en hul enigste hoop lê daarin dat die wederkoms van Christus naby is; dat Hy gou sal kom. En in hierdie laaste hoofstuk van Openbaring verseker Johannes hulle dan juis daarvan.
“die Here… stuur sy engel… om te toon wat gou moet gebeur” – lees ons in vers 6
En in vers 7 – “Kyk, ek kom gou.”
“want die tyd is naby” – vers 10
“En kyk, ek kom gou” – vers 11 en dan weer in vers 20: “Ja, ek kom gou.”
Die boodskap van die brief is duidelik: Die Here, die Verlosser, kom om die aarde nuut te maak (soos ons lees in hoofstuk 21) en om die koninkryk van God tot vervulling te bring – en Hy kom gou.

Maar nou is dit reeds 2000 jaar later en ons vra onsself af: wat beteken “gou” nou regtig?
Interessant, is dat die woord wat gebruik word in die gedeelte – tachy, wat vertaal word as “gou” – nie noodwendig beteken dadelik of binnekort soos wat ons dit sou verstaan nie, maar eerder sonder versuim/sonder vertraging.

Tog, om die waarheid te sê, weet ek nie regtig meer of daardie woord “gou” nog vir ons saakmaak nie. Oor die afgelope 2000 jaar het ons so gemaklik geraak met ons omstandighede, dat ek nie weet of ons werklik meer leef met daardie verwagting nie. Veral ons wat relatief gemaklik lewe; wat nie onderdruk word of vervolging ervaar nie; wat nie angstig wag daarop dat dinge nuutgemaak moet word nie… Hoe maklik gebeur dit nie dat ons in ons lewens maar net deur die bewegings (die motions) gaan nie? Dat ons maar net lewe van dag tot dag en doen wat gedoen moet word nie. Dalk is ons nie heeltemal gelukkig met die situasie nie – ons sien tog die gebrokenheid van die wêreld raak – maar ons het geleer om daarmee saam te leef en dit te hanteer. MISKIEN lewe ons nog met ‘n tipe verwagting, maar ons wag op ander dinge as op God – op beter ekonomiese tye, of groter sekuriteit, miskien op die een of ander geluk of geleentheid wat ons kant toe kom.
Dis natuurlik menslik om op hierdie dinge te wag en ek probeer nie sê dat dit sleg is om met die alledaagse dinge besig te wees nie, maar dit is nie die tipe verwagting wat ons diepste dors – die dors waarvan ons in hierdie teks lees – kan les nie.

‘n Belangrike ding om in die teks te merk, is dat dit ook nie net gaan oor die nuwe tydperk wat gaan aanbreek of oor die situasie wat gaan verander nie… belangriker as wat en wanneer dit gaan kom, is WIE gaan kom. Ek dink soms wanneer ons oor die hemel of die wederkoms praat, raak ons so behep met hoe dit gaan wees en wie daar gaan wees en wie nie, dat ons heeltemal vergeet waarvoor ons eintlik wag – vir WIE ons eintlik wag. Die teks kom herinner ons vanoggend dat die mense van die vroeë kerk nie net op iets gewag het nie, maar op Iemand.

Dit het my laat dink…

Ek bevind myself nou op daardie stadium van my lewe waar baie van my vriende en vriendinne die huwelikslewe betree en ek word dikwels self meegesleur deur al die troureëlings en voorbereidings, wat maande vooraf reeds begin. En dan is daar natuurlik die troudag self: grimering en hare word gedoen, die trourok aangetrek, dalk selfs spesiale parfuum aangespuit – alles met die grootste opwinding en afwagting. Die fotograwe neem foto’s van alles wat gebeur met die oploop tot die huweliksbevestiging, want ‘n groot deel van wat die dag so spesiaal maak lê in daardie tyd van afwagting. AL die voorbereidings word deur die bruid gedoen in afwagting op die bruidegom en op haar toekomstige lewe met hom.

Op dieselfde wyse word die voorkoms en optrede van die kerk (wat in die teks as die bruid beskryf word) bepaal deur die Iemand op wie hulle wag, die Bruidegom.
Wat ‘n moeisame las sal al hierdie voorbereidings nie word wanneer die bruid vergeet waarom en vir wie die voorbereidings gedoen word nie; as die sy nie meer verlang na die bruidegom en hul lewe saam nie? En op dieselfde wyse kan alle voorbereidings of kerklike take vir ons ook ‘n las word as ons nie meer met verlange wag, of onthou op Wie ons wag nie.

In die teks beskryf Christus self Wie hierdie Bruidegom is (oa aan die hand van ‘n aantal “Ek is” uitsprake)
Hy omvat alles – Hy is die Alfa en die Omega (die eerste en laaste letters van die Griekse alfabet); die begin en die einde; die eerste en die laaste.
Hy is die Wortel en die geslag van Dawid – dws Hy vervul die belofte dat die Messias uit die nageslag van Dawid sal kom.
En Hy is die blink môrester – wat daarna verwys dat Christus die waarborg/teken is van God se nuwe môre, wat sal aanbreek in die volmaakte nuwe bedeling. Hy is dus die ligpunt in die donker, wat die nuwe dag aankondig.

Ons lees egter nie net oor Wie Christus is nie maar ook wat die gevolge daarvan is om in die geloof aan Hom vas te hou of teen Hom te kies:
In die eerste plek vind ons in hierdie gedeelte 2 van die 7 saligsprekinge/seënspreke wat in Openbaring voorkom nl. “Geseënd is die wat die woorde van hierdie profetiese boek ter harte neem” – dws dit lees en daarop reageer en dan ook: “Geseënd is dié wat hul klere was” – dws wat rein/gereinig word – “sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe” – dws die ewige lewe – “en deur die poorte van die stad (waarvan in Openb 21 gepraat word) kan ingaan.” Vanuit ons perspektief op die Kruis weet ons dan ook dat ons reiniging deur die kruisdood en opstanding van Jesus plaasgevind het.

Verdere implikasies daarvan om aan Jesus vas te hou, al dan nie, is dat elkeen beloon sal word volgens hul optrede/wat hulle gedoen het, en dat die honde (‘n metafoor vir boosheid), towenaars, hoereerders, moordenaars, afgodsdienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen buite die poorte sal bly. Daarmeesaam lees ons vers 11: “Wie onreg doen, (eintlik staan daar) laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom vuil wees; en wie regverdig is, laat hom steeds regverdig wees en wie heilig is, laat hom steeds heilig wees…”
Op die oog af laat hierdie verse dit lyk asof daar mense is wat uitgesluit word en asof die koms van Christus daartoe gaan lei dat sekere mense buite moet bly, maar ons kan nie dan ophou lees nie, want in vers 17 word die hekke weer oopgegooi as ons lees: “…En laat hom wat dors het kom; en laat hom wat wil (WAT WIL), die water van die lewe neem, verniet.”

Nie net Openbaring nie, maar ook die Bybel as geheel word afgesluit met hierdie uitnodiging: “Kom!” Almal wat dors het, almal wat wil: “Kom!”
Die hekke staan oop. Hulle word nie toegemaak nie. Die Here sê: “Kom!”
Maar dis asof God ook sê: As jy na dit alles nog wil onreg doen of wil vuil bly, dan kan ek jou nie dwing nie. Ek kan roep en roep, maar jy moet daardie tree gee… Amper soos ‘n ouer wat uit moedeloosheid vir ‘n kind sê: “As jy dit dan wil doen, doen dit,” maar tog steeds nie wil hê hulle moet dit doen nie.
Want aan die einde van die dag is dit tog ons wat besluit hoe ons ons lewens wil leef of, as ek die metafoor kan gebruik, hoe ons onsself wil voorberei vir die huweliksdag.
En die teks vra van ons om mense in te nooi: “Laat hom wat hoor sê: Kom!” maar ook ons kan nie mense dwing om van die water te drink as hulle nie wil nie.

Ons sien Openbaring dikwels as die boek van finale oordeel en per implikasie vir Christus, die Een op wie ons wag, as die Een wat die finale oordeel kom fel. Tot ‘n mate is dit waar, maar die teks is nie in die eerste instansie ‘n teks wat wil uitsluit nie. Openbaring 22 beklemtoon eerder dat almal wat wil, almal wat dors het en wil drink, ingelaat sal word.
Terloops, kom die woord “genade” net twee maal in Openbaring voor – aan die begin en die einde. Die hele boek word as’t ware omraam deur die genade. Die Christus op wie ons wag is die Verlosser wat mense innooi.

Die hele wêreld word dus uitgenooi om deel te hê aan die koninkryk van God en die koms van Christus. En dit is die Gees en die bruid (dws die kerk) wat daardie uitnodiging uitreik. Die kerk roep egter nie net na die wêreld nie, maar ook na Christus. Wanneer Christus vir die derde keer in vers 20 bevestig: “Ja, ek kom gou!” antwoord die gemeente: “Maranatha” – “Kom, Here Jesus!” Met opwinding en in afwagting roep hulle tot die Een wat kom – tot die Iemand wat kom – en as mens in ag neem hoe die eerste gelowiges in Klein-Asië vervolg is, kan ons verstaan hoe hulle gesmag het na die koms van die Here.

Wanneer ons begin praat oor Christus se koms, is daar egter ‘n hele aantal opinies oor wat en hoe dit gaan wees en wat dit alles behels. Die uiteinde daarvan is altyd dat niemand werklik weet nie. Niemand kan met sekerheid sê wat dit is waarvoor ons wag nie, maar wat vandag se teks vir ons wil sê, is dat ons weet vir Wie ons wag, en dit maak die wag die moeite werd. Dit maak dat die voleinding van die nuwe aarde iets is waarna ons met verwagting kan uitsien. Dit maak dat ons ook kan roep: “Maranatha – Kom, Here Jesus!”
En die versoeking is groot om eerder op ander dinge te begin wag of om na enigiets te begin gryp wat lyk asof dit vir ons die toekoms gaan verlig – amper soos wanneer Johannes die engel wil begin aanbid.
Die engel maak dit egter duidelik: Aanbid God! Hou jou oë gerig op Christus.

En as ons, soos die teks van ons vra, ons oë gerig hou op die Een vir wie ons wag – op Christus – as Hy ons fokus bly, dan kan ons ook nie anders as om die wêreld raak te sien waarvoor Hy gekom het nie. Dan moet ons in die selfde asem waarin ons roep: “Kom, Here Jesus!” ook roep “Kom, almal wat dors is.”
Dis byna asof Openbaring 22 ‘n venster oopmaak waardeur ons kan kyk, sodat ons ons oë na bo kan rig en die hemele kan sien. En tog, kan mens nie deur die venster na die hemele kyk, sonder om die aarde onder ook raak te sien nie.

Die verwagting en verlange na die koms van Christus, waartoe hierdie teks ons aanspoor, hang ten nouste saam met die nuwe wêreld wat Christus kom instel het, en tot voleinding sal bring. Daarom moet ons nou reeds werk om Sy koninkryk hier sigbaar te maak; en moet ons nou reeds in hierdie wêreld leef soos mense wat vol hoop en verwagting uitsien, nie net na dit wat kom nie, maar na die Een wat kom.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Bianca Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.