Romeine 8:12-17

19 Mei 2013 – Pinksterfees en nagmaal
Prediker: Dr Tiana Bosman

Teks
Voorafgaande: Die Gees van God woon in julle.
12 Dáárom staan ons onder ‘n verpligting…
13 Verpligting teenoor die Gees wat in ons woon (maak dood die sondige praktyke en maak die inwoning van die Gees sigbaar in jou lewe)
14 In soverre as wat mense hulle deur die Gees van God laat lei, dáárdie mense is kinders van God.
15 Want julle het nie die gees van slawerny ontvang wat weer tot vrees lei nie, maar julle het die Gees van aanneming/kindskap (Eng adoption) ontvang deur wie ons uitroep: “Abba, Vader.”
16 Hierdie Gees getuig teenoor ons gees dat ons kinders van God is. (Ons eie gees het tog geen reg om te getuig dat ons kinders van God is nie. Ons versekering van ons verlossing lê nie in ons eie gees se sekerheid (verwaandheid!) nie, maar is gegrond op die innerlike getuienis van die Gees binne ons. Die Gees verseker ons daarvan dat ons kinders van God is. Dat ons Hom daarom Abba/Vader mag noem.)
17 Aangesien ons kinders is, is ons ook erfgename. Enersyds is ons erfgename van God; andersyds is ons mede-erfgename van Christus.
Aangesien ons deel het aan sy lyding (saam met Hom ly), sal ons ook saam met Hom verheerlik word.

Boodskap
Ons lees in die HK Sondag 13 dat “Jesus die enigste natuurlike kind van God is. Daar is geen ander nie.” Die vraag ontstaan dan onmiddellik: Waar laat dit ons? As ons formulier, wat gegrond is op die Bybel, so duidelik sê dat God maar net een kind het, waarom sê Paulus dan dat ook ons kinders van God is? En hoekom moedig Paulus ons dan aan om vir God “Vader” te noem? Omdat Jesus na die aarde toe gekom het om die huisgesin van God te vergroot. Omdat die enigste natuurlike Seun van God sy Gees aan ons gegee het – sy Gees in ons laat woon, die Gees wat nuwe lewe in ons skep, die Gees wat ons so verander en herskep dat ook ons kinders van God mag wees. Dan nie natuurlike kinders van God nie, maar aangenome kinders.

Dit is waaroor Rom 8: 12-17 dit het. “Die Gees van God woon in julle… Daarom staan ons onder ‘n verpligting om ons nie deur ons sondige natuur nie, maar deur hierdie Gees te laat lei. Sulke mense is kinders van God. Want julle het nie die gees van slawerny ontvang nie. Julle hoef daarom nie weer in vrees te lewe nie. Julle het die Gees van aanneming/kindskap ontvang. Die Gees wat julle ontvang het lyf julle in in die huisgesin van God. Deur hierdie Gees wat nou in julle is, mag julle vir God ‘Vader’ noem.”

Die HK is reg. Ons is nie van nature kinders van God nie. Maar deur die werke van sy Seun en deur die inwoning van sy Gees het Hy ons aangeneem om ook sy kinders te wees. Ons het dus ‘n nuwe status gekry. Kinders. Dit gebeur dikwels dat gelowiges hierdie status nie reg verstaan nie. Soos ook in Paulus se tyd. Dat gelowiges die wette en die voorskrifte van God onderhou omdat hulle bang is vir wat God hulle mag aandoen as hulle dit nie onderhou nie. Ons móét maar kerk toe gaan, ons móét maar betrokke wees, ons móét maar mense by die voordeur help, ons móét maar glo soos ons voorgesê word, ons moet maar want ons is bang vir God. Hierdie gelowiges, sê Paulus, leef in vrees vir God. Dis tipies aan die bekeringspreke wat so graag by skole of in jeugdienste of op kampe gebruik word om jongmense in die hemel in te skrik – preke met die tema “Turn or Burn”, of in Afr “Draai of Braai”. God wil ons nie in die hemel in skrik nie, Hy wil ons in nooi. Ons is nie sy slawe nie, maar sy kinders. Slawe dien God omdat hulle dit as hul plig beskou en hulle is bang vir Hom, kinders dien Hom omdat hulle Hom liefhet; slawe móét, kinders wíl. Ons is nie van nature kinders van God nie, maar Hy het ons dit gemaak; Hy het ons aangeneem. Ons is sy aanneemkinders.

Van ons sou nou seker kon dink dat aangenome kinders tweedeklas kinders is, eintlik nie volwaardig deel van die huisgesin of die familie nie. Die van julle wat aangenome kinders of kleinkinders het, sal weet dat die nie waar is nie. Daar is gewoonlik vir die ouers, en iedergeval vir God, geen onderskeid tussen natuurlike kinders en aangenome kinders nie. Inteendeel, die ouers het geen verpligting om ‘n kind aan te neem nie. ‘n Aangenome kind word in ‘n huisgesin en ‘n familie opgeneem alleen omdat die ouers die kind só graag wil hê, en glad nie omdat die kind dit op ‘n manier moes verdien het nie.

Adrio König vertel iewers die verhaal van twee boetjies wat in dieselfde klas by die skool is. Die juffrou skryf die dag almal se name en geboortedatums op. Die boeties kom aan die beurt. Jannie is 7 en hy verjaar op 1 Mei. Pieter is 7 en hy verjaar 1 Augustus. Die juffrou kyk verward op. “Twee boeties wat ewe oud is en drie maande ná mekaar verjaar?” “Ja, Juffrou,”antwoord Pieter, “dit is so. Een van ons is aangeneem. Maar, Juffrou, ongelukkig weet ek nie watter een nie.” Dit is die evangelie. Dit is genade. God het net een natuurlike Kind en dan ‘n klomp ander aangenome kinders, maar Hy maak geen onderskeid nie. En toe Hy die dag moes kies, toe kies Hy eerste vir die aangenome klomp. Maar sy eie Seun het Hy nie gespaar nie. Hy het sy eie Kind verstoot om plek te maak vir al die aanneemkinders wat Hy so graag wou hê.

Wanneer ‘n kind eers aangeneem is verval daardie etiket eintlik. ‘n Aangenome kind is ‘n kind en klaar. Alles wat vir die biologiese kind geld, geld outomaties dan ook vir die aangenome kind. Daarom is dit nie net Jesus nie, maar almal van ons wat vir God “Vader” mag noem. En as ons die dag weer begin twyfel aan ons kindskap? Dan getuig die Gees teenoor ons swak gees dat ons God se kinders is, die Gees verseker ons keer-op-keer van ons plek voor God.

Om deel te wees van die huisgesin van God vra iets van ons en dit gee ook iets aan ons. Dit vra van ons om te lewe soos die kinders wat ons is – soos God se kinders. Van nature weet ons dat ons dit nie kan doen nie. Die sonde het sy beeld in ons skeefgetrek. Ons het nie God se gene nie, maar ons het wel sy Gees. En al kom dit dan nie van nature nie, kan ons weer beelddraers van God wees, kan ons sy karakter weerspieël, is die vrugte van die Gees in ons teenwoordig, as ons net getrou wil bly oefen daaraan om dit uit te leef.

Maar om deel te wees van hierdie gesin, gee aan ons baie meer as wat dit vra. Dit maak van ons erfgename van God, mede-erfgename saam met Christus. Sy erfporsie word ook ons s’n.

En dan heel laaste: elke huis het sy kruis. Ook God se huis. Dws om deel te wees van die huisgesin van God, om sy kind te wees, vra opofferings. Dit vra dat ons sal deel in Christus se lyding. Nie net die lyding wat Hy destyds namens ons op Hom geneem het nie. Ook die voortgaande lyding wat op die skouers van God se kinders neerkom. As jy vir God as “Vader” aanspreek, dan vra dit dat jy jou plek as sy kind sal vol staan, en dit vra dat jy die kruis van Christus sal opneem en verder sal help dra. Dit is dus nie ‘n gemaklike familie om in te wees nie. Dis nie ‘n “cozy”plek nie, waar almal intiem en gemaklik rondom die kaggel deur ou foto-albums blaai en saam gesels oor die onthou-jy-nog-tye nie. Maar nietemin is dit ‘n plek waar die lede – veronderstel is om! – die lewe vir mekaar en vir ander leefbaar te maak. Dis ‘n plek waar die fokus nie soseer draai om wat binne-in die huis aangaan nie, maar om dit wat daar buite aangaan, en hoe ons daar ‘n verskil kan maak en ‘n bydrae kan lewer. Die Vader van hierdie gesin vra dat ons sal uitgaan na mense wat verlore is, eensames, verstotenes, gebrokenes, mense wat wees gelaat is; en dat ons vir hulle ons karaktereienskappe sal wys (die vrugte van die Gees), die eienskappe wat ons aangeleer het en inoefen omdat dit deel is van ons nuwe identiteit, en dat ons op so manier in die wêreld sal leef dat die mense wat nog nie tuisgekom het nie sal hoor dat daar vir hulle plek is om ook kinders van God te wees, wel nie natuurlike kinders nie, maar tog volwaardige kinders. En dat daar ‘n God is wat Homself hul Vader noem. En dat hierdie God hulle nooi om Hom ook so aan te spreek. Deur sy Gees wat in ons woon. En om dan te weet dat, omdat ons deel het aan die lyding van Christus, omdat ons dit ook aan ons eie lyf voel, daarom sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. En mag ons maar weet dat die lyding nie opweeg teen die heerlikheid wat wag nie.

Aan hierdie huisgesin, aan ons Kindskap, God se Vaderskap, Christus, die natuurlike Seun, se opofferende liefde, die samesyn onder gelowiges en die verwagting van wat voorlê – aan al hierdie dinge herinner die nagmaal ons. En in die nagmaal getuig die Gees teenoor ons gees dat ons hier hoort, verseker Hy ons daarvan. Laat dit sy stem wees waarna ons vanoggend luister as ons saam die nagmaal gebruik. Kinders van God die Vader.

Raak aan my met Waarheid wat brand soos Vuur (Ted Loder)
Here, stuur die gawe van u Gees
om hierdie plek te vul
en vir ons
en die wêreld

Raak aan ons met waarheid wat brand soos vuur,
met skoonheid wat ons beweeg soos die wind;
en bevry ons, Here,
vry om nuwe maniere van leef te probeer;
vry om onsself en ander te vergewe;
vry om lief te hê en te lag en te sing;
vry om ons las van sekuriteit af te lê;
vry om deel te neem aan die geveg om geregtigheid en vrede;
vry om te sien en te hoor en ons weereens te verwonder
aan die genadige misterie van dinge en mense;

Vry om te wees, te gee, te ontvang, te jubel as kinders van u Gees.

En , Here, leer ons hoe om te dans,
om om te draai en te kom waar ons wil wees,
in die arms en hart van u mense
en in U,
sodat ons u vir altyd mag prys en mag geniet.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.