Romeine 5:1-5

26 Mei 2013 – Drie-Eenheid Sondag Feesdiens
Prediker: Bianca Botha

Hierdie Sondag was ‘n besondere dag in die kerklike jaar. Nadat ons in die eerste gedeelte van die kerkjaar (Vanaf Advent tot Lydenstyd en in Pase) gefokus het op die betekenis van die lewe en werk van Christus, en tydens Pinkster – wat pas verby is – op die werking van die Heilige Gees, word daar het ons op dié dag gefokus op die Drie-eenheid. Dit staan bekend as Trinitatis of Drie-Eenheid Sondag en dit is ‘n feesdiens; ‘n viering van die feit dat al die groot gebeurtenisse en verlossingsdade wat ons tot dusver gevier het, die werk van één Drie-enige God is.

Nie net dit nie. Dit was ook die eerste Sondag in Koninkrykstyd.
Die belydenis dat God drie-enig is en as Vader, Seun en Heilige Gees by die hele skepping – en meer spesifiek by mense – betrokke is, vorm die skarnier (die skakel) tussen die voorafgaande seisoene van die kerklike jaar, en Koninkrykstyd – waarin daar gefokus word op God drie-enig se voortdurende handeling in die lewe van gelowiges, van die kerk en in die wêreld; asook ons rol in die koninkryk, wat reeds aangebreek het, en nog tot vervulling moet kom.

Wanneer ons oor die Koninkryk begin nadink, en gevolglik ook oor die wêreld waarbinne ons leef, moet ons erken dat dit wat ons sien dikwels meer ontstellend is as enigiets anders. Daar is die verskriklike geweld en armoede, waarmee nie net ons as Suid-Afrikaners nie, maar die hele wêreld gekonfronteer word, en wat bly toeneem; werkloosheid; korrupsie; die toestand van die skeppping en ekologie. Ek is seker ek hoef niemand te herinner nie. Ons hoef maar net die koerant oop te maak, die nuus aan te sit, of oor die brug te ry na enige van die omliggende gebiede, miskien selfs net die voordeur oop te maak of die telefoon op te tel…
Swaarkry het baie verskillende gesigte en beteken dalk vir elkeen van ons iets anders, maar op een of ander manier word ons almal daarmee gekonfronteer. Uit my eie lewe kan ek getuig dat ek soms so oorweldig word, nie deur my eie swaarkry nie, maar deur die oneindige hoeveelheid mense aan wie se lyding ek niks kan doen nie – dat ek wil moedeloos raak. So het ek ook al vele mense hoor sê hulle wil nie meer die koerant lees of die nuus kyk nie, want dit maak hulle net hartseer of kwaad of depressief… hulle wil dalk eerder die lewe geniet en van die donkerder sy van die lewe vergeet en daarvan wegvlug – in ‘n bubble leef. Of daar is diegene wat afgestomp raak en pessimisties op alles antwoord: dis nou maar die lewe.

Wat maak ons met die swaarkry, en die leed en die pyn in hierdie wêreld? Hoe moet of kan ons dit enigsins hanteer?

Die gemeente in Romeine aan wie Paulus hierdie brief rig worstel met dieselfde vrae. Anders as in sy ander briewe skryf Paulus nie hier vir ‘n gemeente wat hy self gestig het of waarmee hy ‘n persoonlike verhouding gehad het nie. Die doel van die brief is eintlik om homself, en sy teologie, aan die gemeente bekend te stel (amper soos ‘n getuigskrif). Hy wil sterker bande met hulle vestig. In die eerste plek, sodat Rome as die basis kan dien vanwaar hy sy sending na die weste kan uitbrei. Maar in die tweede plek ook sodat hulle mekaar wedersyds kan bemoedig en versterk in die geloof – soos ons in die eerste hoofstuk van Romeine lees.

Vanoggend se teksgedeelte val tussen die twee hoof dele van hierdie brief. Dit dien as tipe van ‘n brug tussen hoofstuk 1-4 – wat handel oor sonde en die verlossing daarvan vir alle gelowiges – en 5-8 wat gaan oor die implikasies van daardie verlossing. Dit is dus eendersyds ‘n samevatting van Paulus se argument tot dusver, en andersyds ‘n inleiding vir die gedeelte wat hierop volg.
Die eerste 4 hoofstukke het dan, soos reeds genoem, veral gefokus op die vryspraak, wat vir Paulus dien as die basis van die evangelie. Omdat Rome so ‘n diverse gemeenskap was en die gemeente dus uit ‘n mengelmoes van Joodse en nie-Joodse –Christene bestaan het, het daar (soos in baie van die ander gemeentes) ook hier vrae ontstaan rondom die wet, en die vereistes wat die Joodse Christene aan die nie-Jode gestel het. Gevolglik maak Paulus dit duidelik, in Rom 3 wat ons vroeër gelees het, dat niemand voor God regverdig kan staan nie en dat dit alleen deur geloof in God is dat mense vrygespreek word. Met verwysing na Abraham, verduidelik Paulus hoe die regverdiging van mense verstaan moet word. Abraham se geloof word beskryf as ‘n geloof in God se getrouheid aan sy beloftes, en dit is op grond van daardie geloof – nie die nakoming van tradisies of die wet nie – dat ons vrygespreek word. Paulus argumenteer dat die vryspraak nooit gegrond was op Israel se vermoë om korrek op te tree nie. Dit was altyd die uitvloeisel van die “goddelike aanvaarding van bevoorregte mense” – mense wat geglo het in God se optrede in hulle belang.

Die slotsom van die eerste 4 hoofstukke is dus dat alle gelowiges vrygespreek is, maar die verhaal eindig nie daar met die spreekwoordelike “happily ever after” nie. Vryspraak beteken nie dat die wêreld sonder sonde en pyn is nie, en daarom bespreek Paulus in die daaropvolgende hoofstukke (veral 7 en 8) die implikasie en omvang van hierdie vryspraak in te midde van swaarkry, pyn en verdrukking.
Paulus se antwoord op die vraag oor hoe ons as Christene situasies van lyding moet hanteer, lê vasgevang in die belydenis dat ons hoop in die drie-enige God gevestig is; en dat ons geanker word deur geloof, hoop en liefde, wat al drie pertinent voorkom in die gedeelte wat ons vanoggend gaan lees. Hierdie mag dalk na ‘n té maklike antwoord klink, maar kom ons kyk hoe presies Paulus dit benader…

Julle kan julle Bybels oopmaak by Rom 5: 1-5

As ‘n kort slotsom word hierdie hoofstuk ingelei met die woorde:
“Dus/daarom, omdat ons uit die geloof (dws die vertroue in en aanvaarding van God se beloftes) geregverdig is, is daar vrede tussen ons en God, deur ons Here Jesus Christus.”
Hy begin deur weer die uiteinde van sy voorafgaande argumente te bevestig – dat ons uit geloof geregverdig is. Die term “geregverdig” dra ‘n dubbele betekenis. In die regswêreld sal dit vertaal word met “vrygespreek/regverdig verklaar,” maar dit kan ook verwys daarna om in “die regte verhouding te wees.” Beide die betekenisse maak sin vir dit wat Paulus probeer oordra – dat ons deur daardie regverdiging nou vrylik voor God kan staan in die verbondsverhouding.

En die implikasie van hierdie regte verhouding waarbinne ons nou staan, is in die eerste plek dat daar vrede is tussen ons en God. Hierdie vrede word moontlik gemaak deur die feit dat die oordeel wat ons moes dra, oorgedra is na ‘n plaasvervanger, nl. Christus. Die tipe vrede waarvan hier gepraat word is egter nie bloot die afwesigheid van konflik, byna soos ‘n wapenstilstand of ‘n ooreenkoms waarvan albei partye met ‘n swaar hart wegstap nie. Die vrede waarvan hier gepraat word verwys na versoening; na die herstel van harmonie binne die verhouding.

Die tweede implikasie van hierdie vryspraak is dat ons vrye toegang verkry tot die genade waarin ons vasstaan. Vir die Joodse-Christene in Romeine sou hierdie gedagte van vrye toegang herinner aan die voorhangsel wat geskeur het met Christus se kruisdood, en wat dit vir almal – nie net die heiliges nie – moontlik gemaak het om in die teenwoordigheid van God te mag leef. Vir die Romeine sou dit egter eerder die beeld oproep van die toegang tot die koninklike hof wat deur die hofdienaar verkry word. So ‘n beeld sou beide die erns en die byna vreesaanjaende voorreg daarvan om deur die hofknaap in die koning se teenwoordigheid ingelei te word, tuisbring.
Die werkwoorde wat hier gebruik word is dan ook in die perfekte tyd, wat aandui dat hierdie toegang, en die feit dat ons in die genade staan, iets is wat reeds plaasgevind het, en wat steeds en ewig geldig is. Belangrik, is dat dit nie op grond van ons eie toedoen of oulikgeit is dat ons in hierdie genade geanker staan nie, maar deur Christus se verlossingswerk en die gevolglike herstel van die verbondsverhouding.

Die derde implikasie is dat gelowiges, en dus geregverdigdes, hulself verheug in die hoop op die heerlikheid van God. Die woord wat hier as vreugde vertaal word kan ook beteken om te roem/te spog (in Engels: boasting). Dit is dieselfde taal wat vroeër in Romeine negatief gebruik word wanneer Paulus die Jode aankla daarvan dat hulle hulself roem in die wet en in hulle dade. Hierdie is egter ‘n ander tipe roem – ‘n roem wat nie in onself of in iets anders nie, maar in God se getrouheid en die vervulling van sy beloftes, gesetel is; roem as ‘n uitdrukking van ons ervaring van God se genade. Die heerlikheid van God, waarop hierdie hoop gerig is, verwys na die vervulling van die koninkryk wat reeds aangebreek het, maar nog nie tot sy volheid gekom het nie. Hierdie hoop is dus ‘n hoop gevestig op die toekoms.

Maar soos iemand uit ‘n laataand t.v advertensie, kondig Paulus dan aan: “But wait, there’s more.” Ons verheug ons nie net oor die toekoms nie, maar ook oor die hede.
Te midde van swaarkry, leed en pyn; te midde van verdrukkinge en ‘n hopelose situasie, roem ons ons steeds in die hoop.
Wat hy sê, is dat ons roem in die hoop, terwyl ons erken dat dit hand in hand gaan met die swaarkry. Want ook die swaarkry loop uiteindelik oor in hoop.
Die gebruik van die woord kweek/produseer dui daarop dat swaarkry en dit wat daar rondom gebeur ‘n lewendige proses is, dat daar groei plaasvind, soos ‘n saadjie wat vanuit die diep donkerte groei tot dit deubreek na die lig toe.
– swaarkry kweek volharding/geduld/uithouvermoë/standvastigheid
– dit op sy beurt kweek ‘n goeie karakter (beproefdheid; iets wat getoets en goedgekeur is)
– en daardie goeie karakter kweek hoop.

Vir Paulus is daar dus ‘n baie direkte verband tussen swaarkry – die versugtinge van hierdie wêreld – en hoop; en daarom is swaarkry dus nie iets waarvan gelowiges behoort weg te skram nie. Inteendeel, as gelowiges, dink ek soms, moet ons juis swaarkry. Dis soos Tiana altyd sê: “Gee tot dit seermaak. As dit nie seermaak nie, het jy nie werklik gegee nie.” As ons besig is met die dinge en die mense waarmee ons moet besig wees, gaan ons definitief swaarkry, gaan ons die swaarkry eintlik oor onsself bring. Want dit is tog wat Jesus gedoen het, en wat hy ons kom wys het om te doen. Swaarkry is nie iets waardeur ons verlam moet word nie, want deur swaarkry leer ons wat ware hoop is. Hoop wat gesetel is in ‘n regte en herstelde verhouding en in die genade waarin ons vasstaan.

Maar wag, daar is nog meer… “Hierdie hoop beskaam nie.”
In ‘n kultuur waar eer die hoogste prioriteit was en skaamte die mees ongewenste van alle dinge, is hierdie ‘n belangrike aanmerking. Om jou vertroue te plaas in iets, jou hoop daarop te vestig, en dit kom nie tot vervulling nie, sou skaamte tot gevolg hê. Dink maar bv aan rugby – wanneer jy heel naweek aan almal verkondig het jou span gaan wen…. en dan verloor hulle, en al jou vriende bel jou om dit in te vryf… Dis amper soos dit, net 100x erger.
Maar Paulus verseker hulle dat dit nie sal gebeur nie, want hierdie hoop is gebasseer op die feit dat die nuwe era reeds aangebreek het en dat die swaarkry van hierdie wêreld tydelik is. Die sekerheid lê daarin dat Jesus reeds die bose oorwin het en dat die koninkryk reeds aangebreek het. Dit is nie ‘n hoop in iets wat onseker is soos die uiteinde van ‘n rugbywedstryd nie, maar hoop in God se getrouheid aan sy beloftes. Dieselfde God wat sy beloftes aan Abraham tot vervulling gebring het, tenspyte van die feit dat dit onmoontlik gelyk het op daardie stadium. Dis ‘n hoop wat gebasseer is op dit wat ons reeds ervaar het; op dit alles wat ons reeds die afgelope jaar gevier en bely het.

En die gronde vir hierdie hoop, die rede waarom ons kan hoop, sê Paulus, lê daarin dat God se liefde – liefde vir God en liefde van God – deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort is. Soos ‘n wolk wat breek oor ‘n dorre landskap; dui die woord “uitstort” op die oorvloedigheid van hierdie liefde. Liefde wat weer lewe bring waar daar eers doodsheid was. Die Gees en die liefde is hier intrinsiek aan mekaar verbind en impliseer dat die liefde wat in ons harte gestort is, die werk van die Gees is en dat dit dus ook die Gees is wat dit vir ons moontlik maak om God se liefde uit te leef.
Dit is dan ook hierdie liefde wat die versekering is, die rede is, dat die hoop nie beskaam nie, want waar daar liefde is, is daar ook hoop en waar liefde geleef word, word die hoop sigbaar.
Vir Paulus is die uiteinde van die vryspraak, ‘n herstelde verhouding met God, wat uitloop in die hoop op die heerlikheid. Dit is agv hierdie hoop dat dit vir ons hoegenaamd moontlik is om die swaarkry in hierdie wêreld te hanteer. Die rede waarom ons kan hoop, lees ons in hierdie teks, is omdat die drie-enige God ons daarvoor toerus – omdat ons vrygespreek is deur Christus; omdat daar vrede is tussen ons en God; omdat ons vasstaan in die genade; en omdat die Gees van God sy liefde vir ons ‘n realiteit maak.

In Koninkrykstyd gaan dit nie bloot oor God wat sy koninkryk op aarde kom vestig nie, maar ook oor hoe ons, as gelowiges, daardie koninkryk sigbaar maak. Ons word toegerus deur die Vader wat sy liefde in ons harte kom uitstort het; deur die Seun wat vir ons kom wys het wat dit beteken om liefde te hê en deur die Gees wat dit vir ons moontlik maak om daardie liefde te leef. Daarom is ons nie bloot mense wat sit en wag, wat hoop op ‘n beter toekoms nie, maar is ons ook draers van hoop in hierdie wêreld.
Omdat ons vrygespreek is en daar vrede, ‘n herstelde verhouding, tussen ons en God is, kan ons hoop en kan ons nie net ons eie swaarkry nie, maar ook die van die mense rondom ons in die oë kyk. Daarom hoef ons nie verlam te word deur die gevoel van beperktheid nie, maar doen ons wat ons kan, waar ons kan, wanneer ons kan – sodat die hoop ook kan uitkring na die mense met wie ons in aanraking kom.

Die drie-enige God rus ons toe om draers van hoop te wees.

Mag ons rus vind in die feit dat ons vrygespreek is deur Christus;
Mag ons vrede vind in die feit dat ons met God versoen is;
En mag ons lewe in die liefde wat deur die Gees in ons harte uitgestort is.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Bianca Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.