1 Konings 21

16 Junie 2013 4de Sondag in Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Teks
Vs 1: Grondbeskouing in Israel gaan terug na die eeue-oue erftradisie toe. God gee die grond as geskenk/genadegawe aan die families. Grond moet nie verkoop word nie, maar moet in die familie bly. (Num 26:52-55; 27:8-10)
Vs 3: Nabot antwoord in oorleg met die gebruik.
Vs 4: Agab is soos ‘n kind wat nie sy sin gekry het nie. Duidelik het hy nie begrip vir Nabot se sosiaal-godsdienstige redes nie
Vs 7: Isebel toon ook geen begrip vir Nabot se rede nie. Sy was immers nie ‘n Israeliet nie, onthou koning Agab het met ‘n vrou van ‘n vreemde nasie getrou – daardie tyd teen die wet van die volk. Teen Isebel se Fenisiese agtergrond het alle grond aan die koning gehoort, en hy het oor die mag beskik om uit te deel en terug te vat net soos hy wou. Daarom: “Ruk jouself reg! Jy is mos die een wat regeer. Jy besluit mos oor grondbesit!”
Vs 9: ‘n Vasdag is gewoonlik uitgeroep ten tye van ‘n nasionale krisis. Isebel misbruik koning Agab se gierigheid en sy (en haar) mag om ‘n vasdag uit te roep. Agab se begeerte om Nabot se wingerd te besit was immers geen krisis nie.
Vs 10: “twee nikswerds / good-for-nothings” (manne wat tot niks goeds in staat is nie)
11: Skokkend: die oudstes en die ampsdraers (die mense wat in belang van die volk moes besluite neem en optree!) is in op die komplot! Hulle is deel van die sameswering want hulle gaan saam met wat Isebel namens Agab beveel. Dit alles sodat hulle vir Agab (en Isebel) gelukkig kan hou.

Boodskap
Hierdie is ‘n verhaal wat mens krapperig maak, onvergenoegd laat voel, selfs kwaad as gevolg van die onregverdigheid van wat hier voor ons oë afspeel.

Koning Agab het ‘n proposisie vir Nabot. Hy wil graag sy wingerd hê om ‘n kruietuin van te maak, omdat dit so gerieflik geleë is – dit grens aan sy paleis. Op die oog af is daar niks mee verkeerd nie. Dit is nie eens dat Agab ‘n slegte aanbod maak nie. Hy probeer op geen manier vir Nabot inloop nie. Tewens – hy bied vir hom ‘n beter wingerd in die plek daarvan aan, of, indien hy dit sou verkies, sal hy vir Nabot se wingerd betaal. As Nabot sy sommetjies mooi maak sal hy besef dat hy munt kan slaan uit hierdie ooreenkoms; wat rykdom betref kan hierdie transaksie vir hom net voorspoed inhou. Die probleem kom egter wanneer Nabot die aanbod van die hand wys. En dis tog enige persoon se reg – om ‘n aanbod of te aanvaar, of om daarvoor nee te sê. In geen onsekere terme nie antwoord Nabot nee op Agab se aanbod: Dankie maar nee dankie. Agab, u hoort van beter te weet as om my voor so ‘n keuse te stel. U ken immers die erftradisie wat die Here nog destyds op ons voorvaders gelê het. Mag die Here my daarvan bewaar dat ek die erfgrond van my voorouers aan u sou afstaan!

Maar Agab is ontevrede met die uitkoms en hy gaan bedruk huistoe en gaan lê dikmond op sy bed, nie eens lus om te eet nie. So tref sy vrou Isebel hom aan. Sy vererg haar vir sy papbroekigheid/lafhartigheid om daadwerklik op te tree, en sy neem die situasie onder hande. Naas Agab, wat op ‘n passiewe manier deel het aan die onreg wat dan gepleeg word, betrek Isebel ook die oudstes en die ampsdraers van Israel (juis diegene wat moes toesien dat reg en geregtigheid geskied!) en nog twee nikswerd manne – hulle almal smee saam aan Isebel se komplot om Nabot dood te maak. Dit alles sodat Agab sy selfsugtige sin kan kry oor ‘n stukkie wingerd wat aan sy paleis se gronde grens.

‘n Verhaal van absolute magsmisbruik deur diegene in hogere posisies sodat die wat baie het nog meer kan kry en die wat min het die bietjie wat hulle het ook verloor. ‘n Verhaal wat skree van onregverdigheid. ‘n Verhaal wat vertel van ‘n godvresende man wat – weens die erns wat hy gemaak het met die stuk grond wat hy uit die hand van God ontvang het –onskuldig tereggestel is deur ‘n korrupte regeringstelsel en met klippe doodgegooi is. Dit is waarmee ‘n mens gekonfronteer word wanneer jy hierdie verhaal lees. En almal van ons, as ons ons gedagtes so bietjie laat gaan, kan aan soortgelyke situasies in die geskiedenis, en ook in óns geskiedenis, dink.

Die kernboodskap van hierdie verhaal is egter nie die van magsmisbruik en wat ons as gelowiges kan doen om dit teen te staan nie. Natuurlik is dit ook ‘n belangrike boodskap. Om die Agabs en die Isebels en die korrupte leiers en die skarmunkels in ons land en in die wêreld te identifiseer, om die ongeregtigheid in ons samelewing aan die kaak te stel en om op te staan vir dit wat reg en regverdig is. Maar die kernboodskap van die verhaal kom eers na vore as ons dit vanuit Nabot se perspektief lees. Nabot se naam word by verre die meeste genoem (17 keer net in die eerste 16 vss!). Dit is ook Nabot se lewe wat op die mees ingrypende manier geraak word deur die gevolge van die verhaal. Hy verloor immers nie net sy wingerd nie (die wingerd wat nou al vir geslagte in sy familie is); hy verloor ook sy lewe. (Volgens die een tekskenner is, volgens die gebruik van die tyd, nie net Nabot nie, maar ook sy seuns saam met hom gestenig. Wat sou beteken dat daar ook geen kans was dat sy nageslag iewers weer die grond in besit sou kon neem en dit verder kon bewerk vir toekomstige geslagte nie.) Tussen al die mense wat hier ‘n rol te speel het is Nabot die hoofkarakter, en sal dit ons daarom baat om dieper te gaan kyk na sy gedrag in hierdie hele gebeurtenis.

Soos alle ander Israelitiese families in die OT het Nabot se voorvaders ook ‘n stuk grond van die Here af ontvang. Hierdie grond is nou al vir geslagte in die familie. Hulle het dit bewerk en wingerd daarop aangeplant. Hierdie stuk grond het bygedra om hulle voortbestaan te verseker omdat hulle hul lewensonderhoud daardeur verdien het. Nabot het geweet dat die grond ‘n geskenk uit die hand van God is, ‘n gawe. Die grond is ‘n teken van God se sorg in sy en sy familie se lewe. Hy het geglo dat God hom om ‘n spesifieke rede juis dáár geplaas het, om dáár te arbei, en om vanuit daardie arbeid ook die Here te dien. En hy het geweet dat hy nie van hierdie grond mag afsien nie. Dit was immers nooit sy grond om mee te begin nie – dit het van die begin af aan die Here behoort. Die Here wat nie net die land aan die volk gegee het nie, maar wat ook beveel het dat die land tussen die families verdeel moes word. Die God wat self ‘n hand gehad het in die verdeling van die grond.

En toe groener weivelde wink en die koning self met Nabot kom praat en vir hom ‘n beter wingerd in ruil vir sy eie een aanbied, of andersins goeie geld? Toe sou die aangewese weg natuurlik wees om die aanbod met beide hande aan te gryp, want so ‘n winsgewende besigheidsproposisie kan mens mos nie van die hand wys nie! Meer nog nie as jy in ag neem dat jy in die koning se goeie boekies gaan wees nie, en dat jou status dus naas jou rykdom ook ‘n opwaartse kurwe sal toon.

Maar Nabot kies nie die groener weivelde wat die wêreld hom bied nie. Nabot kies eerder om vas te hou aan dit wat God aan hom gegee het. Hy kies om te bly en te werk daar waar God hom geplaas het. Ten spyte van die feit dat daar ‘n ent verder ‘n beter wingerd wink, of, indien hy sou verkies, baie geld. Nabot word deur wêreldse dinge versoek – geld en grond en aansien – maar hy laat nie toe dat hierdie dinge in die weg kom staan van dit wat God aan hom gegee het nie, en van waar God hom wil gebruik nie. “Mag die Here my daarvan behoed dat ek die erfgrond van my voorouers ooit aan u sou afstaan!”

Deurdat Nabot kies om eerder vas te hou aan die plek wat God vir hom bestem het as om verlei te word deur wêreldse dinge verloor hy dan nie net hierdie plek nie. Sy toewyding aan God veroorsaak dat hy ook sy lewe verloor.

Hoe toegewyd is jy aan dit wat God vir jou gegee het, daar waar Hy jou geplaas het? Sou jy bereid wees om daarvan af te sien wanneer die wêreldse rykdom en status wink? Of is dit wat God vir jou gegee het vir jou belangrik genoeg dat jy daaraan sal vashou, selfs al kos dit jou rykdom, of ‘n beter lewe tussen hogere mense, selfs al kos dit jou jou lewe? Nabot se keuse illustreer die prys van dissipelskap (Bonhoeffer). Waarvoor sal jy alles nee sê in jou besluit om vir God ja te sê.

Ons as NT gelowiges het ook vir Jesus as voorbeeld – God maak sy plek aan Hom bekend in sy openbare roeping. Direk daarna word Hy in die woestyn versoek deur die Satan met die rykdom en roem van die wêreld as prys. Maar Jesus sê nee daarvoor, omdat Hy reeds ja gesê het vir God. En sy nee vir die dinge van die wêreld lei ook op die ou-end, soos Nabot, tot die dood. Net dat Jesus géén skuld gehad het in sy dood nie, géén sonde in sy lewe gepleeg het nie, nóóit, nie eens in die kleinste besluitjie, vir God nee gesê of verloën het nie.

Die opoffering wat dissipelskap vra kos soms selfs meer as ons lewe. Nadat Nabot doodgegooi is en Elia God se oordeel oor Agab gaan aankondig het, het Agab berou getoon en God het aan hom genade betoon. Nabot het sy lewe verloor, en steeds kry Agab, die vyand, ‘n tweede kans. Net so was dit ook met Jesus. Dis immers die evangelie – Jesus het gesterf sodat sy moordenaars tweede kanse kon kry, sodat ons almal tweede kanse kan kry. En Jesus het geweet dat dit is waarom Hy sterf. Hy het gewéét dat God bereid sou wees om sy moordenaars te vergewe. Tewens – Hy bid daarvoor wanneer Hy aan die kruis hang: “Vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Is ons bereid om tot die dood toe dissipels van God te wees, om tot die dood toe vas te hou aan dit wat Hy vir ons gegee het en nie verlei te word deur die rykdom en prestige van die wêreld nie? Is ons daartoe bereid selfs al weet ons dat God bereid is om diegene wat ons indoen te vergewe, die wat ons kroek, die wat ons beroof van ons naam of ons plek in die samelewing? Dat ons weet dat God nie net bereid is daartoe nie, maar dat Hy begeer om hulle te vergewe. Of is ons so gefokus op reg en geregtigheid dat daar nie in ons dissipelskapsriglyne plek is vir vergifnis en kwytskelding nie?

Hierdie is nie ‘n maklike teks om te lees nie. Dis ‘n teks wat ons voor moeilike keuses stel. Keuses waaroor ons nie te vinnig moet antwoord nie. En as ons antwoord dan moet ons weet wat ons antwoorde ons in die sak gaan bring… óf wat dit ons gaan kos… Dissipelskap is nie ‘n maklike roeping nie. Dit kan beteken dat ons alles verloor. Dikwels ter wille van die mense wat ons te nakom. Sodat ons keuses vir hulle ‘n voorbeeld kan wees. Sodat hulle tot inkeer kan kom, selfs al het ons ons lewe in die proses verloor.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

1 Konings 18-19

2 Junie 2013
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond
Die bevolking van Israel in die tyd van Konings was vermeng gewees. Naas die Israeliete was daar ook nog ‘n groot groep Kanaäniete. Ons weet dat die Kanaäniete die oorspronklike inwoners van die land was en hulle het die Baälkultus aangehang. Die koning in daardie tyd, Agab, se lojaliteite het meer aan die kant van die Kanaäniete gelê as by die Israeliete, alhoewel hy in naam ‘n Jahwis was. Daarom was die aanbidding van Jahwe (God) as die enigste god nie vir hom van sentrale belang nie. Inteendeel, Agab het geweet dat godsdientige eksklusivisme gevaarlik was omdat dit die politieke stabiliteit van die land kon bedreig. Dis beter om almal gelukkig te hou en daarom die aanbidding van Jahwe sowel as Baäl toe te laat. Ons kan ook die godin Asjera hierby voeg – Agab se vrou, Isebel, het naas Baäl ook hierdie godin aangehang. Wat godsdiens betref was Agab dus ‘n baie verdraagsame man – heel strategies.

Die profeet Elia se hervorming was teen hierdie godsdienspolitiek gemik. Elia het grootgeword in Gilead, ‘n omgewing op die rand van die woestyn – daar waar Jahwisme nog in ‘n suiwer vorm kon voortbestaan sonder veel Kanaänitiese invloed. Wat hom betref behoort Israel slegs aan een god, Jahwe, en daar is plek vir geen ander gode naas Hom nie. Gegewe ‘n koning wat eerder vir Baäl as Jahwe aangehang het, was Elia se hervorming teen die Kanaänisering van Israel gemik. Om die rede het Elia en Agab nie om dieselfde vuur gesit nie.

Omdat Agab die aanbidding van Baäl toegelaat het en nie bereid was om daarvan af te sien nie – aan die einde van hfst 16 lees ons hoedat hy ‘n altaar en ‘n heilige paal vir Baäl laat oprig het en dat hy meer gedoen het om die Here die God van Israel uit te tart as al die ander konings voor hom! – het God aan Elia die opdrag gegee om droogte oor die land aan te kondig wat ‘n paar jaar sou duur. Omdat dit Elia was wat die droogte aangekondig het (wel namens God, maar dit het nie vir Agab saak gemaak nie) het Agab hom verantwoordelik gehou vir die hongersnood in die land en God het vir Elia gesê om bietjie laag te lê vir ‘n paar jaar.

Nou moet ons raaksien hoedat God ook baie strategies gedink het deur juis droogte en hongersnood oor die land te bring. Die Kanaänitiese god Baäl was dié god van vrugbaarheid gewees. Daar is geglo dat Baäl die vrugbaarheid van mense maar ook van die natuur bepaal het. Daarom was Baäl ook die god wat die reën gegee het – want reën bring lewe en voedsel; reën sorg dat mens, dier en natuur kan voortbestaan. Omdat Baäl deur al meer Israeliete aangehang word, betree God nou die terrein wat volgens die mense deur Baäl beheer word en draai Hy die krane van die hemele toe sodat daar geen reën vir drie jaar val nie. God wys hiermee dat Hy net ‘n woord hoef te spreek en dan het die sogenaamde Baälgod geen seggenskap of krag meer nie.

Teks en Boodskap (1 Kon 18; aanvullend 19:1-19)
18:1 Die droogte duur nou al drie jaar
“Gaan verskyn voor Agab en Ek sal dit weer in die land laat reën.”
18:3 Dws Obadja was ‘n toegewyde Jahwis. Anders as koning Agab, onder wie hy gewerk het, het hy hom nie met Baäl opgehou nie.
18:5 In ‘n tyd van hongersnood en droogte, terwyl mense skaars genoeg het om aan die lewe te bly, is Agab begaan oor sy perde en sy muile.
18:7 “Is dit regtig u, my heer, Elia?”
18:12 “Maar wanneer ek nou van u af weggaan, sal die Gees van die Here u wegneem na iewers waar ek nie van weet nie…
18:17 “Is dit sowaar jý, jy wat die dood (disaster) oor Israel bring?!”
18:19 Onthou Isebel is Agab se vrou.
18:21 “Hoe lank gaan julle nog hink/mank loop op twee krukke?” Die een kruk is God en die ander een is Baäl. Elia konfronteer die volk omdat hulle nie tussen die twee gode kan kies nie. Dis mos ook die rede hoekom hulle nou al vir drie jaar in hierdie droogte-verknorsing sit.
Waarom antwoord die volk hom nie? Verkeie moontlike redes:
– Hulle het ‘n skuldige gewete en antwoord nie omdat hulle skaam is.
– Hulle is onseker – weet nie wie om te kies nie.
– Hulle verkies ‘n godsdienstige kompromis – kies dus doelbewus om nie te kies nie.
– Hulle verstaan miskien nie hoekom hulle moet kies nie. Hoekom mag hulle nie beide vir God en vir Baäl dien nie?
– Hulle wil hê dat beide die aanbidding van God en van Baäl naas mekaar moet staan, sodat almal se godsdientige belange geakkommodeer word. Is verdraagsaamheid dan nie beter as onverdraagsaamheid nie?
Hoe dit ookal sy, die volk kies nie want hulle is bang dat hul keuse hulle dalk in dieper moeilikheid gaan laat beland. Iewers in hulle afgodsmentaliteit steek dit nog by hulle vas dat Baäl die eintlike god is wat die reën sal terugbring (dis dan sy forte!). Indien hulle nou net vir Jahwe as God gaan dien, sal Baäl dalk kwaad word en nooit weer reën bring nie. Maar sê nou maar net dit is inderdaad nie Baäl nie, maar God self wat die reën sal bring. Hy is immers die god wat die reën terughou. Is Hy nie miskien dan ook, eerder as Baäl, die een wat die reën weer sal gee nie?
18:22 Het Elia dan vergeet van wat Obadja vroeër vir hom gesê het? Dat hy self ‘n 100 profete van die Here in grotte weggesteek en versorg het.
18:26 “Hulle het gehink/mank geloop (dieselfde woord as vs 21) rondom die altaar wat hulle gemaak het.”
18:27 “Roep harder! (Asof hulle nie al klaar hard roep nie.) Hy is mos ‘n god! Miskien is hy diep in gedagte of dalk het hy ‘n draai gaan loop (toilet toe gegaan) of op ‘n reis gegaan! Of dalk slaap hy en moet hy eers wakkerword!?”
18:28 Soos dit hulle gewoonte was mutileer hulle hulself… (‘n rou ritueel om vir Baäl te oortuig om terug te keer vanuit die onderwêreld). Die heidense afgode was gesien as baie wispelturig en selfgesentreerd. Die mense moes hulle dikwels soebat en smeek in hulle hoop om te kon kry waarvoor hulle vra.
18:36 “dat Ú God is in Israel (en nie Baäl nie)”
18:37 Let op die kontras tussen hoe Elia sy versoek tot God rig en hoe die Baälprofete half waansinnig raak wanneer hulle tot Baäl probeer deurdring. Elia se versoek is gegrond in die geskiedenis waarin God sy trou deur geslagte al bewys het – die God van Abraham, Isak, en ook Israel.
“…dat U God is en dat Ú hulle harte terugkeer”. Dis nie die volk wat uit hul eie kon kies vir God nie. Hulle het nie geweet wat om te antwoord nie! Maar dit is God, wat deur sy kragtige daad die volk tot inkeer bring sodat hulle nie anders kan as om te bely dat Hy die Here God is nie.

Hierdie verhaal stel ‘n paar vrae aan ons:

1. Wie is jou god? Of dalk eerder: Watter god dien jy? Ons kan waarskynlik met redelike sekerheid sê dat nie een van ons gelukkig meer vir Baäl dien nie. Maar hierdie sekerheid waarborg nie ons veiligheid nie. Baäl mag dalk ou nuus wees vir ons – ons Westerlinge is immers meer “verlig” as om te glo in gode wat reën voorsien as jy net op die regte manier om ‘n altaar hink en lank genoeg weeklaag en genoeg meshale oor jou lyf trek ten einde die (af)god te oorreed om tog maar gehoor te gee…en dan steeds nie ‘n antwoord te kry nie. Ons weet darem van beter as dit.
Dalk weet ons van beter, dis nou as ons vir Baäl as voorbeeld wil gebruik. Maar ons leef in ‘n ander era. En as ons eerlik is, het ons nie van die Kanaänitiese afgode ontslae geraak nie. Ons het hulle bloot vervang. In die NT praat Jesus van Mammon. “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie… Julle kan nie God én Mammon dien nie” (Matt 6:24). So watter god dien jy? Na wie toe hardloop jy as jy in die knyp is? Hardloop jy na jou bankbestuurder toe, of na God? Of besoek jy die een in die week en die ander Een op Sondae, om sodoende beide tevrede te hou, om aan die veilige kant te bly… God werk nie so nie. Hy wil nie gedeel word met ‘n ander god of gode of eerder afgode nie. Daar is net Een ware God. En Hy is jaloers. By Hom is dit alles of niks.
2. Hieruit kom die vraag dan: As God so álles gegee het – en alles stop nie vir Hom by die reën in 1 Kon 18 nie, dit stop by die kruis – as Hy so alles gegee het vir ons, hoekom sukkel ons dan so om onsself geheel en al aan Hom te gee, en om alleen maar op Hom te vertrou, alleen maar vir Hom te aanbid? So asof Hy Homself nie al genoeg in die geskiedenis bewys het nie?

Ons sou nou seker kon sê: Ja, máár God doen nie meer vir ons wat Hy vir die volk gedoen het nie. Hy steek nie vir ons ‘n sopnat vuur aan die brand nie. Hy doen nie meer grootse werke om so ons harte na Hom toe terug te draai nie. Maar kyk bietjie wat gebeur in die vlg hfst met Elia. In hfst 18 is hy vol brawade en baie selfversekerd en ook seker van sy God wat ‘n kragte daad gaan verrig. God het hom immers self gestuur om die einde van die droogte aan te kondig. Watter lekker boodskap om te gaan uitbasuin, verál na drie jaar se droogte. Die ding is: Elia se lewe was nie in hfst 18 op die spel nie. Om die waarheid te sê, Agab het hom nog nooit direk met die dood gedreig nie. En met hierdie wonderbaarlike boodskap wat hy bring sou niemand dit waag om sy lewe te neem nie. Maar toe laat maak hy al 450 Baälprofete dood. (In lyn met Eksodus se voorskrifte.) En Agab gaan vertel dit vir sy vrou Isebel. En Isebel dreig vir Elia direk met die dood. Skielik raak hierdie brawe, groot profeet weer aan die hardloop. Maar die keer hardloop hy nie vooruit in sy oorwinning nie; hy hardloop weg, vanaf ‘n vrou nogals. Hy is banger vir die koningin (Isebel) as vir koning Agab. Hy weet seker sy bedoel wat sy sê. Eers raak Elia baie moeg onder ‘n besembos in die woestyn aan die slaap. Daar kom skud ‘n engel van die Here hom wakker en gee vir hom kos om te eet. Daarna gaan kruip hy weg in ‘n grot. Wanneer God vir hom vra wat hy daar doen, dan bekla hy sy lot: “Ek het my met hart en siel gewy aan U saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Van die profete het net ek alleen oorgebly, en nou soek hulle my om my ook om die lewe te bring.” Dan roep die Here hom uit: “Kom, staan op die berg voor My. Ek wil verbygaan.” In die baie sterk wind is die Here dan nie. In die aardbewing is Hy ook nie. Ook nie in die vuur soos met die wonderdaad by Karmel nie. Maar na die vuur was daar ‘n “kalm, sagte stem”. Niks asemrowends nie. Toe Elia se eie lewe werklik in gevaar is, toe kom God nie soos Elia Hom wou hê nie – in groot mag en vertoon – maar Hy kom in ‘n “kalm, sagte stem”: “Wat maak jy hier, Elia?” Maar hierdie stem val op dowe ore – Elia slaan nie ag op God se sagte, kalm stem nie. Hy bekla eerder weer sy lot. Want hy soek ‘n God wat hom nou met magtige dade sal red, dieselfde kaliber dade as wat Hy voor die volk en die Baälprofete getoon het. “Nie die keer nie, Elia. Nie elke keer vuurwerke nie. Soms moet my kalm, sagte stem vir jou genoeg wees om vertroue in te boesem. Gaan terug na die beskawing toe. Jou werk is nog nie klaar nie. Maar alles hang ook nie van jou af nie, Elia. Moenie my ondersteuners onderskat nie. Jy moet vir Gasael gaan salf, en vir Jehu, en vir Elisa. Want jy is verkeerd, jy is níe die enigste profeet wat oorgebly het nie. Jy is nie alleen nie. Daar is nog mense wat net vir My dien, mense wat van Baäl en van Mammon af weggedraai het. Gaan soek hulle op, gaan seën hulle, gaan sê vir hulle dat Ek in jou grootste beproewing nie met blitse en vuur ingegryp het nie, maar met roosterkoek en water en met my kalm, sagte stem. Ek is nie net in die dade wat aandag trek nie, Ek is ook in die stilte van die grot.”

So, God doen nie vir ons wat Hy vir die volk op berg Karmel gedoen het nie? Hy doen dit vir ons. Hy doen dit net nie elke keer op dieselfde manier nie. Meestal doen Hy dit nie met sulke groot vertoon nie. God het nie nodig om Homself te bewys nie. Hy het dit al genoeg kere in die geskiedenis gedoen. Daarvoor het ons die Bybel. Naas dit, hoort sy kalm, sagte stem meer as genoeg te wees om ons veilig te laat voel, en om ons te oorreed, te dryf om Hom alléén te dien.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.