1 Konings 21

16 Junie 2013 4de Sondag in Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Teks
Vs 1: Grondbeskouing in Israel gaan terug na die eeue-oue erftradisie toe. God gee die grond as geskenk/genadegawe aan die families. Grond moet nie verkoop word nie, maar moet in die familie bly. (Num 26:52-55; 27:8-10)
Vs 3: Nabot antwoord in oorleg met die gebruik.
Vs 4: Agab is soos ‘n kind wat nie sy sin gekry het nie. Duidelik het hy nie begrip vir Nabot se sosiaal-godsdienstige redes nie
Vs 7: Isebel toon ook geen begrip vir Nabot se rede nie. Sy was immers nie ‘n Israeliet nie, onthou koning Agab het met ‘n vrou van ‘n vreemde nasie getrou – daardie tyd teen die wet van die volk. Teen Isebel se Fenisiese agtergrond het alle grond aan die koning gehoort, en hy het oor die mag beskik om uit te deel en terug te vat net soos hy wou. Daarom: “Ruk jouself reg! Jy is mos die een wat regeer. Jy besluit mos oor grondbesit!”
Vs 9: ‘n Vasdag is gewoonlik uitgeroep ten tye van ‘n nasionale krisis. Isebel misbruik koning Agab se gierigheid en sy (en haar) mag om ‘n vasdag uit te roep. Agab se begeerte om Nabot se wingerd te besit was immers geen krisis nie.
Vs 10: “twee nikswerds / good-for-nothings” (manne wat tot niks goeds in staat is nie)
11: Skokkend: die oudstes en die ampsdraers (die mense wat in belang van die volk moes besluite neem en optree!) is in op die komplot! Hulle is deel van die sameswering want hulle gaan saam met wat Isebel namens Agab beveel. Dit alles sodat hulle vir Agab (en Isebel) gelukkig kan hou.

Boodskap
Hierdie is ‘n verhaal wat mens krapperig maak, onvergenoegd laat voel, selfs kwaad as gevolg van die onregverdigheid van wat hier voor ons oë afspeel.

Koning Agab het ‘n proposisie vir Nabot. Hy wil graag sy wingerd hê om ‘n kruietuin van te maak, omdat dit so gerieflik geleë is – dit grens aan sy paleis. Op die oog af is daar niks mee verkeerd nie. Dit is nie eens dat Agab ‘n slegte aanbod maak nie. Hy probeer op geen manier vir Nabot inloop nie. Tewens – hy bied vir hom ‘n beter wingerd in die plek daarvan aan, of, indien hy dit sou verkies, sal hy vir Nabot se wingerd betaal. As Nabot sy sommetjies mooi maak sal hy besef dat hy munt kan slaan uit hierdie ooreenkoms; wat rykdom betref kan hierdie transaksie vir hom net voorspoed inhou. Die probleem kom egter wanneer Nabot die aanbod van die hand wys. En dis tog enige persoon se reg – om ‘n aanbod of te aanvaar, of om daarvoor nee te sê. In geen onsekere terme nie antwoord Nabot nee op Agab se aanbod: Dankie maar nee dankie. Agab, u hoort van beter te weet as om my voor so ‘n keuse te stel. U ken immers die erftradisie wat die Here nog destyds op ons voorvaders gelê het. Mag die Here my daarvan bewaar dat ek die erfgrond van my voorouers aan u sou afstaan!

Maar Agab is ontevrede met die uitkoms en hy gaan bedruk huistoe en gaan lê dikmond op sy bed, nie eens lus om te eet nie. So tref sy vrou Isebel hom aan. Sy vererg haar vir sy papbroekigheid/lafhartigheid om daadwerklik op te tree, en sy neem die situasie onder hande. Naas Agab, wat op ‘n passiewe manier deel het aan die onreg wat dan gepleeg word, betrek Isebel ook die oudstes en die ampsdraers van Israel (juis diegene wat moes toesien dat reg en geregtigheid geskied!) en nog twee nikswerd manne – hulle almal smee saam aan Isebel se komplot om Nabot dood te maak. Dit alles sodat Agab sy selfsugtige sin kan kry oor ‘n stukkie wingerd wat aan sy paleis se gronde grens.

‘n Verhaal van absolute magsmisbruik deur diegene in hogere posisies sodat die wat baie het nog meer kan kry en die wat min het die bietjie wat hulle het ook verloor. ‘n Verhaal wat skree van onregverdigheid. ‘n Verhaal wat vertel van ‘n godvresende man wat – weens die erns wat hy gemaak het met die stuk grond wat hy uit die hand van God ontvang het –onskuldig tereggestel is deur ‘n korrupte regeringstelsel en met klippe doodgegooi is. Dit is waarmee ‘n mens gekonfronteer word wanneer jy hierdie verhaal lees. En almal van ons, as ons ons gedagtes so bietjie laat gaan, kan aan soortgelyke situasies in die geskiedenis, en ook in óns geskiedenis, dink.

Die kernboodskap van hierdie verhaal is egter nie die van magsmisbruik en wat ons as gelowiges kan doen om dit teen te staan nie. Natuurlik is dit ook ‘n belangrike boodskap. Om die Agabs en die Isebels en die korrupte leiers en die skarmunkels in ons land en in die wêreld te identifiseer, om die ongeregtigheid in ons samelewing aan die kaak te stel en om op te staan vir dit wat reg en regverdig is. Maar die kernboodskap van die verhaal kom eers na vore as ons dit vanuit Nabot se perspektief lees. Nabot se naam word by verre die meeste genoem (17 keer net in die eerste 16 vss!). Dit is ook Nabot se lewe wat op die mees ingrypende manier geraak word deur die gevolge van die verhaal. Hy verloor immers nie net sy wingerd nie (die wingerd wat nou al vir geslagte in sy familie is); hy verloor ook sy lewe. (Volgens die een tekskenner is, volgens die gebruik van die tyd, nie net Nabot nie, maar ook sy seuns saam met hom gestenig. Wat sou beteken dat daar ook geen kans was dat sy nageslag iewers weer die grond in besit sou kon neem en dit verder kon bewerk vir toekomstige geslagte nie.) Tussen al die mense wat hier ‘n rol te speel het is Nabot die hoofkarakter, en sal dit ons daarom baat om dieper te gaan kyk na sy gedrag in hierdie hele gebeurtenis.

Soos alle ander Israelitiese families in die OT het Nabot se voorvaders ook ‘n stuk grond van die Here af ontvang. Hierdie grond is nou al vir geslagte in die familie. Hulle het dit bewerk en wingerd daarop aangeplant. Hierdie stuk grond het bygedra om hulle voortbestaan te verseker omdat hulle hul lewensonderhoud daardeur verdien het. Nabot het geweet dat die grond ‘n geskenk uit die hand van God is, ‘n gawe. Die grond is ‘n teken van God se sorg in sy en sy familie se lewe. Hy het geglo dat God hom om ‘n spesifieke rede juis dáár geplaas het, om dáár te arbei, en om vanuit daardie arbeid ook die Here te dien. En hy het geweet dat hy nie van hierdie grond mag afsien nie. Dit was immers nooit sy grond om mee te begin nie – dit het van die begin af aan die Here behoort. Die Here wat nie net die land aan die volk gegee het nie, maar wat ook beveel het dat die land tussen die families verdeel moes word. Die God wat self ‘n hand gehad het in die verdeling van die grond.

En toe groener weivelde wink en die koning self met Nabot kom praat en vir hom ‘n beter wingerd in ruil vir sy eie een aanbied, of andersins goeie geld? Toe sou die aangewese weg natuurlik wees om die aanbod met beide hande aan te gryp, want so ‘n winsgewende besigheidsproposisie kan mens mos nie van die hand wys nie! Meer nog nie as jy in ag neem dat jy in die koning se goeie boekies gaan wees nie, en dat jou status dus naas jou rykdom ook ‘n opwaartse kurwe sal toon.

Maar Nabot kies nie die groener weivelde wat die wêreld hom bied nie. Nabot kies eerder om vas te hou aan dit wat God aan hom gegee het. Hy kies om te bly en te werk daar waar God hom geplaas het. Ten spyte van die feit dat daar ‘n ent verder ‘n beter wingerd wink, of, indien hy sou verkies, baie geld. Nabot word deur wêreldse dinge versoek – geld en grond en aansien – maar hy laat nie toe dat hierdie dinge in die weg kom staan van dit wat God aan hom gegee het nie, en van waar God hom wil gebruik nie. “Mag die Here my daarvan behoed dat ek die erfgrond van my voorouers ooit aan u sou afstaan!”

Deurdat Nabot kies om eerder vas te hou aan die plek wat God vir hom bestem het as om verlei te word deur wêreldse dinge verloor hy dan nie net hierdie plek nie. Sy toewyding aan God veroorsaak dat hy ook sy lewe verloor.

Hoe toegewyd is jy aan dit wat God vir jou gegee het, daar waar Hy jou geplaas het? Sou jy bereid wees om daarvan af te sien wanneer die wêreldse rykdom en status wink? Of is dit wat God vir jou gegee het vir jou belangrik genoeg dat jy daaraan sal vashou, selfs al kos dit jou rykdom, of ‘n beter lewe tussen hogere mense, selfs al kos dit jou jou lewe? Nabot se keuse illustreer die prys van dissipelskap (Bonhoeffer). Waarvoor sal jy alles nee sê in jou besluit om vir God ja te sê.

Ons as NT gelowiges het ook vir Jesus as voorbeeld – God maak sy plek aan Hom bekend in sy openbare roeping. Direk daarna word Hy in die woestyn versoek deur die Satan met die rykdom en roem van die wêreld as prys. Maar Jesus sê nee daarvoor, omdat Hy reeds ja gesê het vir God. En sy nee vir die dinge van die wêreld lei ook op die ou-end, soos Nabot, tot die dood. Net dat Jesus géén skuld gehad het in sy dood nie, géén sonde in sy lewe gepleeg het nie, nóóit, nie eens in die kleinste besluitjie, vir God nee gesê of verloën het nie.

Die opoffering wat dissipelskap vra kos soms selfs meer as ons lewe. Nadat Nabot doodgegooi is en Elia God se oordeel oor Agab gaan aankondig het, het Agab berou getoon en God het aan hom genade betoon. Nabot het sy lewe verloor, en steeds kry Agab, die vyand, ‘n tweede kans. Net so was dit ook met Jesus. Dis immers die evangelie – Jesus het gesterf sodat sy moordenaars tweede kanse kon kry, sodat ons almal tweede kanse kan kry. En Jesus het geweet dat dit is waarom Hy sterf. Hy het gewéét dat God bereid sou wees om sy moordenaars te vergewe. Tewens – Hy bid daarvoor wanneer Hy aan die kruis hang: “Vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Is ons bereid om tot die dood toe dissipels van God te wees, om tot die dood toe vas te hou aan dit wat Hy vir ons gegee het en nie verlei te word deur die rykdom en prestige van die wêreld nie? Is ons daartoe bereid selfs al weet ons dat God bereid is om diegene wat ons indoen te vergewe, die wat ons kroek, die wat ons beroof van ons naam of ons plek in die samelewing? Dat ons weet dat God nie net bereid is daartoe nie, maar dat Hy begeer om hulle te vergewe. Of is ons so gefokus op reg en geregtigheid dat daar nie in ons dissipelskapsriglyne plek is vir vergifnis en kwytskelding nie?

Hierdie is nie ‘n maklike teks om te lees nie. Dis ‘n teks wat ons voor moeilike keuses stel. Keuses waaroor ons nie te vinnig moet antwoord nie. En as ons antwoord dan moet ons weet wat ons antwoorde ons in die sak gaan bring… óf wat dit ons gaan kos… Dissipelskap is nie ‘n maklike roeping nie. Dit kan beteken dat ons alles verloor. Dikwels ter wille van die mense wat ons te nakom. Sodat ons keuses vir hulle ‘n voorbeeld kan wees. Sodat hulle tot inkeer kan kom, selfs al het ons ons lewe in die proses verloor.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.