Lukas 10: 25-37

14 Julie 2013 Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Teks
Vs 30: 27 km deur woestyngebied en areas waar daar grotte was waarin rowers geskuil het.
Vs 31: Toevallig kom daar toe ‘n priester daarlangs…
Vs 33: Maar ‘n Samaritaan(!) – die vooropplassing dui op die verrassende, onverwagse OW en sy gevolglike optrede.
Vs 36: Wie van hierdie drie het ‘n naaste geword vir die man wat deur rowers oorval is.

Boodskap
Die gelykenisse van die barmhartige Samaritaan en die verlore seun is die twee gelykenisse wat ons seker die heel beste ken. Die gevaar is dat ons ‘n verhaal soms so goed ken dat ons nie meer nuwe dinge daarin kan raaksien nie, want weens die oorbekendheid hou ons op met soek. So het ek ook aan die begin van die week gevoel –wat nuuts sê ek nou Sondag vir die gemeente oor die barmhartige Samaritaan? En tog, as mens die gelykenis fyn gaan lees, soos ons vandag sal doen, is daar kernboodskappe daarin wat meeste van ons dalk nog nie voorheen raakgesien het nie.

Die gelykenis word gebore uit ‘n strikvraag wat ‘n wetgeleerde aan Jesus stel:
“Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”
“Wat staan in die wet? Wat lees jy daar?,” antwoord Jesus met ‘n teenvraag.
“Jy moet die Here en jou naaste liefhê,” sê die wetgeleerde.
“Nou daar het jy dit mos. Gaan doen dit en jy sal die lewe verkry.”

Uit hierdie gesprek is dit van meet af aan duidelik dat die wetgeleerde nie werklik ‘n antwoord op sy vraag soek nie. Hy het verskuilde motiewe, hy wou Jesus se vermoë toets om die skrif reg uit te lê. Wanneer Jesus dan die wetgeleerde se vraag met ‘n teenvraag antwoord hoor ons dat die wetgeleerde sy aanvanklike vraag aan Jesus se antwoord uit sy kop uit ken, hy kan dit woordeliks opsê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” Die liefdeswet is immers die hart van die Joodse godsdiens. Daarom Jesus se reaksie: “Volpunte vir jou teologie! Gaan doen dit nou en jy sal die lewe verkry.”

Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf, want dit lyk nou asof die bordjies verhang is en Jesus te maklik homself uit die strikvraag gekry het. Daarom die volgende vraag: “En wie is my naaste?” In hierdie vraag stel die wetgeleerde onmiddellik ‘n grens aan naasteliefde. Hy wil weet wie sy naaste is sodat hy daarmee saam ook kan weet wie nie sy naaste is nie. Teenoor wie het hy ‘n verpligting en teenoor wie nie. Hoe wyd moet die radius van sy naasteliefde strek.

Hierdie keer antwoord Jesus weer nie self die vraag nie. Hy vertel eerder ‘n gelykenis. Toe ‘n man eenmaal oppad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. Toevallig kom daar ‘n priester met daardie pad langs, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. Die priester gaan om die waarheid te sê letterlik uit sy pad uit om nie naby aan die ongelukstoneel te kom nie. Waarom? Die feit dat hy van Jerusalem af kom sê vir ons dat hy waarskynlik daar diens in die tempel gedoen het, wat sou beteken dat hy kulties rein is. Toe hy die man van ver af sien lê, kaal en gekneus en vir dood gelaat, het hy dalk gedink dat daar ‘n moontlikheid is dat hierdie man reeds dood is. En ‘n rein priester mag nie aan ‘n lyk raak nie. Dit sou veroorsaak het dat hy kulties onrein word – en dis ondenkbaar! Mens offer nie jou reinheid sommer so op nie. Om die priester se dilemma nog beter te verstaan: hy moes ‘n sekere afstand vanaf ‘n moontlik lyk af bly, ten minste 4 el. Hy kon dus nie die kans vat om naby genoeg te kom aan die man sodat hy kon sien of hy nog leef nie. Want sy reinheid was op die spel. Vir die priester was die wet om homself rein te hou onvoorwaardelik, terwyl die wet tot liefde voorwaardelik was – dit het afgehang van wie die persoon is en wat sy toestand is. Hoe beter dit met die persoon in nood gaan, hoe veiliger is dit vir die priester om hom lief te hê. Hierdie slagoffer het van ver af al te sleg gelyk.

Net so het daar ook ‘n Leviet by die plek gekom. Soos die priesters het die Leviete ook godsdienstige take verrig, maar hulle was nie soos die priesters gebonde aan die reinheidswette nie. Daarom kon die Leviet naderstaan, hy kon die 4 el grens oorsteek en tot by die plek kom waar die man lê, en hy hét ook. Hy kon hom help! Maar nadat hy gekyk het, het ook hy weggedraai en ver langs verbygegaan. Dalk was die Leviet bang dat die man ‘n heiden was, want volgens die Joodse tradisie moes heidene nie gehelp word nie. Of dalk het hy net nie die tyd of die lus gehad om ‘n vreemdeling te help wat duidelik baie aandag vereis nie. Sy dagboek is immers vol en daar is afsprake wat wag. Waar die rowers die slagoffer van sy klere en waarskynlik ook van sy geld beroof het, beroof die “dienaars van God” – die priester en die Leviet – hom dan van sy menswaardigheid. Hy is nie genoegsaam mens om werklik deur hulle raakgesien te word nie. Dalk is hy van ‘n ander land of geloof, of hy lyk te sleg, of hy is dalk al dood. Dus nie die moeite werd om gehelp te word.

Maar ‘n Samaritaan!, nou skok Jesus die wetgeleerde, ‘n Samaritaan van alle mense! wat op reis was, het op die slagoffer afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. En hy het hom gehelp. Nie net daar langs die pad nie. Hy het hom ook na ‘n herberg geneem en daar versorg, ‘n héle nag aan die vreemdeling afgestaan, en hy het gesorg dat hy verder versorg word, en die Samaritaan het die koste van die man se versorging uit sy eie beursie betaal.

Hoekom is die gedagte van die Samaritaan so skokkend? Omdat die Samaritane as basterjode beskou is. Die ras-egte Jode het op hulle neergesien. Die Samaritaan word as halfmens gesien deur die opregte Jode. Al het hulle dieselfde Bybel gehad en dieselfde God gedien, was die Jode vyandiggesind teenoor die Samaritane. Hier is ‘n Samaritaan in Judea, in die Jode se land. Hy kon veronderstel dat die slagoffer ‘n Jood was. Waarom dan betrokke raak? Dit kan immers net vir hom spot en veragting in die sak bring. Wie weet, dalk verset die slagoffer hom nog ook teen sy hulp as hy agterkom dis ‘n Samaritaan wat sy wonde behandel. Indien hy ‘n Jood was sou die slagoffer dalk die houding kon hê van eerder doodgaan as om deur ‘n Samaritaan gehelp te word.

Maar die Samaritaan het desondanks al hierdie moontlikhede hom innig jammer gekry. ‘n Goeie Afrikaanse woord is “medelye” (co[m]passion). Hy het medelye met die slagoffer gehad, mede-lye. Daarom vra hy nie wat is die veilige ding om te doen nie, hy vra wat is noodsaaklik. Hy maak nie eers teologiese of politieke berekeninge in sy kop nie. “Wie is nou eintlik my naaste en wie nie? Waar stop die grens? Ek bevind myself op vreemde terrein, daar is sekerlik geen verpligting op my om te stop en te help nie. Dit kan immers gevaarlik wees vir my!” Nee, hy rol bloot sy moue op en hy doen wat gedoen moet word. Hy doen wat die priester en die Leviet nie wou doen nie. Die baster-Samaritaan, die een waarop die Jode neersien, word God se dienaar, God se priester vir die man in nood.

Na die gelykenis gaan haal Jesus dan weer die tweede vraag van die wetgeleerde: “Wie is my naaste?” Maar Jesus wys dan vir die wetgeleerde dat hierdie vraag nie gevra moet word nie. Jesus draai die vraag om. Nie: “Wie is my naaste nie,” maar “So, watter een sê jy uit hierdie drie het as naaste opgetree teenoor hom wat onder rowers verval het?” Kyk mooi na wat Jesus met die wetgeleerde se vraag doen. Waar die wetgeleerde die fokus plaas op die persoon in nood en vir Jesus vra: “Watter mense wat in nood is is ék veronderstel om lief te hê en te help? Waar lê die grens? Wie van hulle is my naastes en waar mag ek maar halt roep?”, plaas Jesus die fokus op die een wat die hulp verleen: “Watter een van die drie karakters was bereid om ‘n naaste te wees vir die slagoffer?”

Vir die wetgeleerde moes dit verskriklik wees dat Jesus die priester en die Leviet en dan die Samaritaan! teenoor mekaar stel. Die wétgeleerde moet nou kies, hy word genoop om te sê. Die bordjies word dus verhang, want op die ou-end is dit nie Jesus wat voor ‘n strikvraag gestel word nie, maar die wetgeleerde. En hy weet hy gaan nie van sy eie antwoord hou nie. Hy hou so min van die antwoord dat hy die Samaritaan nie eens as “Samaritaan” wil identifiseer nie. Al wat hy uitkry is: “Die man wat aan hom medelye bewys het.”

En Jesus? “Gaan maak jy ook so.” Moenie maak soos die priester en die Leviet nie. Maak soos die Samaritaan, maak soos die een wie se naam jy nie eens oor jou lippe kan kry nie. Hy was bereid om ‘n naaste te wees vir iemand in nood. Sonder om vrae te vra het hy sy eie lewe vir die vreemde slagoffer op die spel geplaas. Gaan maak jy ook so. Is jý bereid om ‘n naaste te wees vir iemand anders? Moenie vir My vra: ‘Wie is my naaste,?’ Nie. Laat Ek eerder vir jou vra of jy ander mense se naaste is? En noudat ons so by vrae vashaak: Vir wie almal is jy bereid om ‘n naaste te wees? Is daar ‘n grens aan jou naasteliefde? Of is jy bereid om, ongeag wie die persoon in nood is, ‘n naaste te wees vir hom of haar? Maak nie saak of daardie persoon belangriker of minder belangrik as jy is nie. Maak nie saak of hy bekend of vreemd is aan jou nie. Maak nie saak of jy in jou bekende omgewing of in ‘n vreemde area is nie. Maak nie saak of mense vriendelik of vyandig na jou sal kyk nie. Ek vra weer: Is jy ‘n naaste vir ander mense.

Die wet van naasteliefde wat die wetgeleerde so mooi uit sy kop uit opsê is makliker gesê as gedaan. Die wetgeleerde ken die korrekte teologie op die punte van sy vingers, hy wil ewe vir Jesus vasvra daarmee, maar waar sy kennis in dade moet oorgaan weet hy nie eens watter vrae om te vra nie. Deur die gelykenis te vertel wys Jesus vir die wetgeleerde dat naasteliefde nie gaan oor die “regte geloof”nie. Naasteliefde is nie gelyk aan die vermoë om te filosofeer of te spekuleer oor die aard en die grense van liefde nie. Naasteliefde is om op te hou vrae vra oor wie dan nou gehelp moet word en wie nie, en wie verdien my hulp en wie nie, en wanneer is genoeg genoeg, en en en… Naasteliefde is doodeenvoudig om liefde “te doen” teenoor iemand in nood. Dit is om die nood van mense raak te sien, en wanneer jy hulle sien, om nie verby te hou om watter goeie rede ookal nie, maar om te stop en om te doen wat gedoen moet word om vir hierdie persoon sy menswees terug te gee. Waar daar liefde is en waar daardie liefde konkreet in dade uitgedruk word, daar is nuwe lewe. Die man sou waarskynlik doodgaan as die Samaritaan nie vir hom gestop het nie. Maar hy lewe. Want die Samaritaan het besluit om vir hom ‘n naaste te word in sy nood.

Die genadige en barmhartige God vra van ons om genadig en barmhartig te wees. Die God wat medelye het met alle mense vra dat ons met alle mense medelye sal hê, dat ons geraak sal word deur hulle nood, dat ons seer sal kry oor hulle swaarkry. God vra van ons om ander mense se naastes te wees – naby aan hulle in hulle nood. Dis wat dit beteken.
Jesus het vir ons kom wys wat mede-lye is. Terwyl Hy die gelykenis van die barmhartige Samaritaan vertel is Hy oppad na Jerusalem om daar ‘n medelyer te word vir elkeen van ons, omdat Hy met genadige oë na ons kyk. En in Jerusalem het Hy Homself aan rowers oorgegee, en hulle het Hom aangeval en kaal uitgetrek en geslaan. Hulle het Hom halfdood aan die kruis agtergelaat. Sy eie mense het ompaaie om die koppie gestap. Ander het nader gegaan om beter te kon sien en hulle het Hom gespot en daarna hulle rug op Hom gedraai. God self het uit sy pad uit gegaan om by Jesus verby te hou. Die barmhartige God was onbarmhartig en het gekies om anderpad te kyk. Maar sy onbarmhartigheid van daardie dag teenoor sy eie Seun is gebore vanuit sy barmhartigheid vir alle mense, ja ook vir sy vyande en die wat Hom spot en die wat nie in Hom glo nie en die wat nie weet wat hulle doen nie. Toe Hy by sy Seun verbygehou het het Hy nie vrae gevra oor die kwaliteit mense vir wie Hy die opoffering maak nie. Hy het nie gespekuleer oor wat of hoe ons eendag sou wees nie, nie gefilosofeer oor die aard van liefde nie. Hy het bloot ingespring waar niemand anders wou of kon nie, en die noodsaaklike gedoen. God is ons Naaste. Is ons mekaar se naastes? Is ons ander se naastes?

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

2 Konings 5: 1-19a

7 Julie 2013 Pinelands Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond
Ons gaan nou die verhaal lees van Naäman, die bevelvoerder van Aram se weermag, en hoedat hy van sy melaatsheid genees is. Aram is die hedendaagse Sirië, en in die 9e eeu vC was die Aramese Israel se grootste vyand. Nou lees ons die skokkende verhaal van hoedat God vir die Aramese bevelvoerder help om vir Israel, sy uitverkore volk, te verslaan; maar meer as dit, God genees ook hierdie man wat ‘n vyand was van sy volk. En nog meer as dit: God gebruik ‘n klein slavinnetjie, ‘n Israelietiese meisietjie wat as buit gevange geneem is na Aram se oorwinning oor Israel, en hierdie slavin wat alles verloor het – haar gesin, haar volk, haar land – sit die bal aan die rol wat uiteindelik sou lei tot die vyand Naäman se genesing, en dit lyk nie eens asof sy self enige beloning kry vir haar rol in die verhaal nie.

Teks
Vs 1: ‘n oorwinning oor Israel
Naäman het nie geweet dat dit die Here was wat hom gehelp het nie.
Melaats: verskillende grade van velsiektes en melaatsheid. Naäman was nie so erg melaats dat hy uit die samelewing uitgeban was en in een van die dorpies vir melaatses moes gaan woon nie, maar sy melaatsheid kon vererger en veroorsaak dat hierdie ondenkbare uitsluiting sou gebeur.
Vs 2: “klein klein dogtertjie”
Hierdie dogtertjie was heel onder op die sosiale leer van die samelewing. In die eerstye plek is sy as buit ontvoer na Aram, en in die tweede plek het sy daar Naäman se vrou se slaaf / bediende geword.
Sy waag geweldig baie wanneer sy in vs 3 uit haar plek uit praat.
Naäman, duidelik moedeloos met sy toestand en baie desperaat, gryp tog na hierdie grashalmpie. En omdat hy so belangrik is wend hy hom direk tot sy koning. Vs 4…
Vs 5: Die brief vanaf koning tot koning en die buitensporige geskenk dui op hoe belangrike persoon Naäman werklik was. Dat hy genesing moes ontvang, was van groot belang – maak nie saak hoeveel dit kos in rand en sent nie.
Vs 6: Die Aramese koning wil nie daal tot die vlak om met ‘n profeet te korrespondeer nie, hy skryf net briewe aan mense wat dieselfde sosiale rang as hy beklee.
Vs 8: Israel is nou wel verslaan, maar hier het ons ‘n geleentheid om vir Naäman die Arameer te wys dat daar wel nog ‘n profeet, en deur hom ‘n God, in Israel is.
Vs 9: Die aankoms met wa en perde toon weereens aan net hoe belangrik hierdie Naäman werklik was. Wat is Elisa se reaksie teenoor hierdie belangrike man van hulle vyandige buurland? Vs 10…
Vs 11-12: Naäman het, weens sy hoë posisie, verwag dat die profeet darem self sou uitkom, hom ontmoet, en ‘n ritueel sou uitvoer wat pas by sy status – sodat hy in groot vertoon voor al sy bediendes en amptenare wonderbaarlik genees kon word. Maar nou stuur Elisa hom, via sy bediende, na die Jordaan om 7 maal te gaan bad. Hy is bitter verontwaardig want die Jordaan is bloot maar ‘n ou stroompie in vergelyking met die magtige riviere van Damaskus in Aram.
Vs 13: sy amptenare = letterlik sy “slawe/bediendes”
“iets moeiliks” = “’n groot ding”
Vs 14: letterlik “klein klein seuntjie”
Vs 16: Elisa wil geen geskenk ontvang nie, want hy weet dat dit nie hy is wat die genesing gebring het nie. Hy was bloot maar ‘n klein, tot op hede ONSIGBARE persoon wat in gehoorsaamheid aan God sy slaaf gestuur het om een sin te sê vir Naäman.
Vs 17: Die heidene, waarvan Naäman een was, het geglo dat gode gebiedsgebonde is. Daarom het hy gedink dat hy net vir God kan aanbid as hy van Israel se grond met hom kan saamneem na sy woonplek in Aram toe, en dat hy dan na daardie hoop grond toe sal gaan wanneer ookal hy wil aanbid.
Vs 19: lett: “En hy (Elisa) het vir hom gesê: ‘Gaan in vrede.’” (Hierin lê baie meer as om bloot afskeid te neem.)

Boodskap
Wie van julle kan onthou dat ek verlede jaar ook oor hierdie teks gepreek het? Toe het ons die verhaal net tot by vs 14 gelees, daar waar Naäman fisies genees is. Die verhaal bring egter ‘n baie belangrike dimensie by wanneer ons ook die afloop daarvan in vlg 5 vss lees – iets waarna ons vandag sal kyk.

In kort eers ‘n opsomming van die vorige preek. Die verhaal gaan in wese oor groot, belangrike mense teenoor klein, skynbaar onbelangrike mense, en ‘n universele God wat oor grense heen beweeg op verrassende maniere – ‘n God wat by Naäman is en hom lei en help selfs al was Naäman Israel se vyand, en selfs al het hy God nie geken het nie.

In die verhaal is daar drie geleenthede waar klein mense moes ingryp om die groot belangrike mense op koers te bring:
1) Eerste kry ons die hulpelose Israelitiese slavinnetjie in Naäman se huis. Ons weet nie eens wat haar naam is nie. Sy is ‘n teken van wat Naäman se militêre sukses vir Israel gekos het – vroue en kinders is as buit ontvoer en as slawe ingespan in ‘n vreemde, vyandige land vol heidene. Maar ironies genoeg is dit deur hierdie dogtertjie, die een wat haar wêreld deur Naäman se toedoen verloor het, dat daar weer hoop vir hom kom.
Die twee konings, van Aram en van Israel, kom op die toneel en hierdie belangrikste manne in hul onderskeie lande bring eintlik maar net verwarring.
2) Dan gryp ‘n tweede skynbaar onbelangrike persoon in om die gebeure weer op koers te kry. Die profeet Elisa laat weet die koning van Israel dat hy vir Naäman na hom toe moet stuur. Elisa is so op die agtergrond van hierdie verhaal dat hy nie eens uit sy huis uitkom nie. Hy stuur sy slaaf om vir Naäman die boodskap te gaan oordra. Maar Naäman jaag weg in woede, omdat Elisa hom nie met die gepaste respek ontvang en met groot vertoon hierdie belangrike man voor die oë van sy eie bediendes genees nie. Want so ‘n vername man soos Naäman verdien immers spesiale behandeling, nie net sommer gewone medisyne of die vuil water van die Jordaan stroompie waarin ander laëklas Israeliete hulle ook was nie. Naäman ervaar dat die onbelangrike Elisa besig is om ‘n bespotting van hom te maak, en dit sal hy nie duld nie.
3) En hier kom die derde groepie onbelangrikes dan op die toneel om die situasie te help red. Die heidense slawe van Naäman praat hom ‘n gat in die kop om tog maar te luister na wat wat Elisa deur sy slaaf aanbeveel het: “Meneer, as die profeet iets moeiliks (‘n groot ding) van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?” En met die aansporing van sy onbelangrike bediendes gaan hy toe af na die Jordaan (simbolies dui die “afgaan” daarop dat hy nederig word), en hy gaan bad hom 7 keer soos die man van God gesê het, “en sy vel het gesond geword soos dié van ‘n klein klein seuntjie en hy was weer rein.”

Om die opsomming op te som, wat gebeur dus hier? Naäman is ‘n vername man van Aram met ‘n verskriklike probleem. Hy het melaatsheid. Dit raak duidelik dat hierdie probleem nie met sy rykdom en invloed en kontakte in koninklike kringe opgelos kan word nie. Sonder die eenvoudige betrokkenheid van sy vyande (die Israelitiese slavinnetjie wat hy ontvoer het!; en die profeet van die volk Israel wat hy verslaan het!) en sonder die aanpraat van sy eie naamlose bediendes, kan Naäman nie genesing ontvang nie. En wanneer ‘n eenvoudige oplossing vir hom gegee word, dan staan sy ego amper in die pad daarvan. Want party mense is sowaar te belangrik om deur minder belangrikes gehelp te word. Gelukkig het Naäman tot sy sinne gekom… Naäman moes self klein word, nederig, hy moes van sy belangrike Naam afstand doen voordat hy God se genesing kon ontvang. So is dit ook met ons – Ons moet dikwels maar van ons trone afklim en van ons statusse gestroop word en van ons kontakte vergeet, ons moet soms maar besef dat ons nie so belangrik is nie, dat ons in elk geval nooit te belangrik is om deur ongelangrikes op koers gebring te word nie. Die belangrikste gebeure in die lewe word dikwels deur naamlose mense aan die gang gesit. As ons onsself bo hierdie mense verhef, kan dit goed wees dat ons nie die genesing sal ontvang wat ons nodig het nie…

Dit is alles ou nuus vir julle, die goed waaroor ons laas in die teks gepraat het. Maar kom ons kyk nou vir wie spesifiek hierdie verhaal neergeskryf is. Die twee boeke van Konings is eers baie laat, ten tye van die ballingskap, op skrif gestel. Oor die ballingskap het ons nou al baie gepraat. Die volk Israel het alles verloor en hulle is weggevoer na ‘n vreemde, heidense land. Diegene wat agtergelaat is het hul eie land nie meer herken nie. Die land is ingeneem en die tempel is tot op die grond afgebreek. Niks was meer dieselfde nie. Almal is in sak en as. Heidense konings was nou in beheer van die volk se land en lewe. Herinner dit nie baie aan wat destyds met die Israelitiese dogtertjie gebeur het nie? Die Aramese het die Israeliete verslaan en hierdie dogtertjie is in ballingskap weggevoer na ‘n vreemde, vyandige, heidense land, daar waar sy as slavin moes werk in die man wat haar ontvoer het se huis… ‘n Kind wat niks meer gehad het om te verloor nie, ‘n kind wat alle reg gehad het om in sak en as te sit, of om die mense vir wie sy werk die slegste toe te wens – hierdie kind word geraak deur die siekte van haar vyandige baas, en sy help hom.

En dan die profeet, Elisa. Die Aramese het sy volk verslaan en almal sit met die vraag op hulle lippe: “Waar is God?!” ‘n Vraag waarop Elisa, die man van God, ook nie op die oomblik antwoorde het nie. Hy ervaar self die nadraai van ‘n verslane volk rondom hom. Maar dan kon hy te hore van Naäman, die magtige vyand, wat siek is en in Israel hulp kom soek. Hoe ironies! Maar Elisa reik ook soos die dogtertjie uit na Naäman, want hier is ‘n geleentheid dat Naäman kan besef dat daar nog ‘n profeet, en deur hom ‘n God, in Israel is. En soos met die dogtertjie val die fokus weereens glad nie op Elisa nie. Hy bly binne sy huis en stuur sy bediende met die opdrag aan Naäman om homself sewe keer in die Jordaan te gaan was.

Ten spyte van die ballingskap waarin hulle verkeer het, het die dogtertjie en Elisa se getuienis oor hulle God nie stil geword nie. Hulle het juis in die ballingskap teenoor hulle vyande getuig van hul God wat groter is as militêre mag, en status en rykdom. Dink net aan die krag van hierdie verhaal, wanneer dit vertel word aan ‘n volk in ballingskap wat in hulle ellende die lied van Psalm 137 geskryf het:

By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink. Aan die wilgerbome in daardie land het ons ons liere opgehang toe dié wat vir ons gevange weggevoer het, ons gevra het om ‘n lied te sing, toe dié wat vir ons leed aangedoen het, van ons vrolikheid wou hê: “Sing vir ons ‘n lied oor Sion!”

Hoe kan ons die lied van die Here sing in ‘n vreemde land?

Dink net wat in hulle moes gebeur toe hierdie volk wat opgegee het, die volk wat moed verloor het, die volk wat nie meer wou sing van hulle Here nie, dink net wat in hulle moes gebeur het toe hulle hoor van die klein klein dogtertjie, een van húlle, wat lank gelede in ballingskap weggevoer is, wees en op haar eie in ‘n vyandige huis, maar sy was nie bereid om haar “lier op te hang” en om op te hou praat van haar God nie. En omdat sy die moed gehad het om aan te hou praat, aan te hou getuig, het haar heidense, vyandige baas uiteindelik by die profeet Elisa uitgekom. En omdat Elisa ook nie bereid was om stil te word na die Aramese oorwinning nie, is Naäman op die pad van genesing gesit, en het God hom genees.

Hoe raak die hele storie ons? Die kerk vandag, in die 21e eeu, is in ballingskap. Regoor die wêreld heen verloor kerke lidmate. Godsdiens is nie meer wat dit was nie. Vandat mense nie meer hulle kerkraadlidmaatskap op hul CV kan aandui in die hoop dat dit ‘n positiewe verskil sal maak nie, beteken die kerk nie meer vir hulle iets nie, dit baat hulle nie meer om lidmate te wees nie. Kerke het finansieël arm geword. Baie kerke maak hulle deure toe weens ‘n gebrek aan geld. Kerkleiers het hulle stem in die openbare lewe verloor, hier en elders. Toe die kerk nog ‘n stem gehad het, toe was daar nog hoop. Maar nou het die kerk se stem stil geword, of daar waar daar nog ‘n stem is steur die samelewing hulle eenvoudig net nie meer daaraan nie. In Europa staan baie kerke op Sondae so leeg dat die geestelike leiers al meer poog om e-kerke te stig, sodat hulle mense kan bereik daar waar hulle hulself die meeste bevind – op die internet.

Ek weet nie. Miskien is dit nie so slegte ding nie, hierdie krimpende getalle onder ons. Miskien het dit juis in die verlede op samelewingsvlak so goed gegaan met die kerk omdat die kerk die stem van die samelewing so mooi nagepraat het en nie andersom nie. Dalk het die kerk se stem in daardie jare te veel soos die skares se stemme geklink. Die kerk was miskien te sekulêr. Dalk loop die kerk nou leeg omdat gelowiges nie meer die skares napraat nie, maar meer ernstig probeer luister na wat die Here sê. Sodra die kerk (of kerke oor die wêreld) te “groot” geword het, te veel mag gekry het in die sake van die wêreld, ‘n te sterk stem gehad het, toe het dinge sleg skeefgeloop. Die tyd vir ballingskap het nodig geraak, en dit het aangebreek. Die vraag is wat doen ons nou daarmee. Hang ons ons liere op en weier om verder te sing en te getuig van die God in wie ons glo? Of gebruik ons juis ons ballingskapsposisie om te getuig – nie oor onsself en ons eie krag en gesag en Naam en belangrike posisies in die samelewing en die land en die wêreld nie – want ons as gelowiges het niks daarvan meer nie! – maar om te bly getuig van ‘n God wat aan die werk is, al weet ons nie altyd hoe nie, ‘n God wat nie net met en ter wille van ons werk nie, maar wat juis grense oorsteek en werk ter wille van mense wat Hom nog nie ken nie. En is ons bereid om naamloos, onbelangrik te blý, ten spyte van ons getuienis, en om die fokus doelbewus weg van onsself af en op God te hou (soos Elisa). Is ons bereid om oor Hom te praat selfs al word ons nie daarvoor vergoed of beloon nie, selfs al kry ons nie geskenke nie. En is ons bereid om, indien dit oor ons pad kom, die geskenke van die hand te wys in die nederige erkenning dat die werk van God onder mense juis dít is – werke van God en nie van ons nie. Ons is bloot maar naamlose skakels in ‘n veel groter ketting waarvan ons meestal nie eens weet waarheen dit loop nie.

En dan laaste: Is ons bereid om, midde ons ballingskap, in nederigheid en met verdraagsaamheid ons getuienis te lewer? Is ons bereid om ruimte te maak vir mense wat deur God self aangeraak en genees is, mense wat wel wil glo en gló, maar dit nie presies soos óns kan doen nie. Het ons ruimte vir sulke mense. Want op hierdie punt het ons ons geloof in die verlede al alte dikwels in die voet geskiet. Kyk wat gebeur in die laaste 5 vss van die verhaal (15-19). Naäman word nie net fisies genees nie, maar ook geestelik – hierdie heiden kom tot bekering. En omdat hy sy bekering so ernstig neem, doen hy iets wat eintlik ongehoord is binne die gebruiklike godsdiens van die Israeliete. Tipies aan sy heidense geloof wil hy ‘n hoop Israelitiese grond saamneem huistoe, sodat hy daarop vir God kan aanbid. Dis natuurlik nie nodig nie, hy kan sonder die grond ook vir God aanbid, maar teen sy heidense agtergrond maak dit vir hom sin en het hy dit nodig, en sal dit sy geloof in God en aanbidding van God vir hom persoonlik makliker maak. En naas dit vra hy by voorbaat al teenoor Elisa om vergifnis omdat hy, weens sy pos aan die koninklike hof in Aram, sy heidense koning sal moet vergesel na die tempel van Rimmon om daar te gaan aanbid. Hy wil nie, maar sy lewensomstandighede vra dit van hom. Hy het hierdie toegewing nodig. Sal die Here hom asseblief hiervoor vergewe?

Elisa sou nou natuurlik sy voet kon neersit en vir Naäman die liviete voorlees: “Nee man, Naäman, nou gaan jy darem te ver! Watter nonsens is dit van grond saamneem om daarop vir God te gaan aanbid. Ons Israeliete, ons ware, egte dienaars van God, weet dat dit nie nodig is nie. Laat staan die grond waar dit is en gaan aanbid vir God sonder voorbehoud in Aram, al is dit dan op heidense grond waar jy voorheen jou heidense gode aanbid het! En by ons is dit alles of niks. Moenie dink jy kan vir God op jou stukkie grond aanbid en dan jou koning se hand vashou wanneer hy vir Rimmon in die heidense tempel gaan aanbid nie. So werk dit nie!” Elisa het nie vir Naäman probeer katkiseer in die presiese voorskrifte van elke wet voordat hulle paaie geskei het nie. Indien wel sou hy waarskynlik vir Naäman verloor het, en sou Naäman dalk besluit het dat hy tog toe nou nie goed genoeg is om voortaan die God van die Israeliete te dien wat aan hom genesing geskenk het nie. Nee, Elisa het aanvaar dat Naäman anders is, en dat sy omstandighede in Aram anders is, en dat hy vir God na die beste van sý vermoë sou dien, al is dit dan nou nie presies soos wat die wette en die voorskrifte van Israel stipuleer nie. Daarom antwoord Elisa gunstig teenoor beide versoeke van Naäman: “Shaloom, Gaan in vrede.” Hy seën hom met hierdie woorde. Aan die een kant verseker hy vir Naäman dat dit wat hy ter wille van sy amp aan die koninklike hof moet doen, nie teen hom gehou sal word nie. Maar vrede in die OT hou ook direk verband met heelheid en gesondheid. Daarom: “Gaan terug as ‘n gesonde, heel mens – fisies en geestelik gesond. Shaloom.”

Om dus nou vir ‘n laaste keer op te som: Kan ons aanvaar dat God groter en ruimer is as wat ons ooit sal kan dink. Kan ons aanvaar dat Hy vir enige ander mense kan help en genees en kan intrek – selfs al is hulle hoe anders as ons … selfs al ken hulle God nog nie en al dien hulle dalk ‘n ander god, al hoort hulle tot ‘n ander geloof; en selfs al kom hulle tot bekering en al dien hulle dieselfde God as ons maar op ‘n ander manier? Na die beste van húlle vermoë? Is ons bereid om tydens ons ballingskap as kerk in die wêreld te leer wat dit beteken om klein te wees? En dat klein wees beter is as groot wees? Dat dit nooit gaan oor ons naam en ons winste nie, maar oor die Here se Naam alleen. Immers, met die vroeë kerk het dit ook moeilik gegaan – hulle het ballingskap goed geken. Maar ten spyte daarvan was die vroeë kerk besonder effektief in hulle getuienis gewees. Daar is ‘n spreekwoord wat sê: “Christene met hulle rug teen die muur is klaar nader aan die kruis (en dus die kroon) as Christene wat uitgevreet hulle gesag laat geld.” Is ons bereid om in vandag se tyd, sonder enige mag en gesag, steeds te bely: Christus is die Here, die Christus wat as 12-jarige kind ook in die tempel uit sy plek gepraat het (Luk 4: 41-49), die Christus wat later vir Naäman as voorbeeld sou gebruik om van God se universele genade te getuig; en sy eie mense het hierdie storie so aanstootlik gevind dat hulle hom uit die dorp uitgejaag het en van die krans af wou gooi (Luk 4:27-30). Is ons bereid om in vandag se tyd van ballingskap steeds hierdie Here se naam uit te spreek, met die hoop dat mense wat heeltemal anders is as ons deur Hom genesing sal vind en Hom sal begin dien?

 

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.