Jeremia 2: 1-13

8 September 2013 Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

jeremia
Michelangelo, Sistynse Kapel se plafon, Jeremiah the weeping prophet

Agtergrond
Iemand het eenkeer vir my gesê dat ek elke diens met ‘n sug begin. Blykbaar doen ek dit nie meer nie. Maar om reg te laat geskied aan Jeremia se boodskap sal ek moet terugval in my ou gewoontes. Mens kan nie oor Jeremia praat sonder om diep te sug nie. Hy het self ook maar van die begin tot die einde van sy roeping as profeet gesug. Michelangelo het vir Jeremia teen die plafon van die Sistynse kapel geskilder. Dit is duidelik aan die lang wit baard dat hierdie skildery ‘n ouer Jeremia vertoon – waarskynlik die Jeremia wat aan die einde van sy beroep as profeet staan. Waar mens graag op daardie ouderdom sou wou terugkyk op jou lewe en kan sê “Dit was goed, ek het iewers gekom, iets bereik”, kan Jeremia net in algehele moedeloosheid sit en wanhopig wonder of enige van sy boodskappe die volk tot hul sinne sou bring. Was dit alles die moeite werd? Dit is daarom nie sonder rede dat Jeremia bekend staan as die “weeping prophet” nie.

Hy was die seun van ‘n priester gewees. Vroeg in sy lewe deur die Here geroep om ‘n doemprofeet te word wat die val van Jerusalem moes aankondig. Hy wou dit nie doen nie, maar die Here het nie nee vir ‘n antwoord gevat nie. En so het Jeremia, teen sy sin, die Here se draer van slegte nuus geword. En niemand het van hom gehou nie. Wie hou nou immers van iemand wat net onweerswolke voorspel?

Weens die donker inhoud van Jeremia se profesieë is dit vir meeste mense vandag ook nie ‘n lekker boek om te lees nie. Dit begin met die voorspelling van Jerusalem se ondergang en dit eindig daar waar die Jode deur Nebukadnesar weggevoer is. En nog is dit nie die einde nie. Want Jeremia was ook die skrywer van Klaagliedere. 5 Hoofstukke deurtrek met klagtes.

Vandag lees ons die eerste boodskap wat Jeremia van die Here af vir die volk moes bring. Ons sou kon sê dat dit is waar alles begin het. In Jeremia 2 sit die Here sy kaarte op die tafel:

Jeremia 2: 1-13  
1. Die Here het met my gepraat:
2. Gaan en roep dit uit in die ore van Jerusalem se mense:
So sê die Here: Ek onthou vir jou. Ek onthou jou trou en lojaliteit aan My in die tyd van jou jeug. Ek onthou jou liefde vir My toe jy my bruid geword het. Jy het My in die woestyn in gevolg, in die land waar daar niks geplant was nie (dws in die land waar daar geen lewe was nie).
3. Israel was heílig vir die Here, hulle was vir Hom die eerste vrug van die oes. Enigeen wat vir Israel wou skade aandoen het die prys daarvoor betaal; rampe het hulle getref.
[Ja, dit is wat die Here sê!]
4. Luister na wat die Here sê, mense van Jakob, al julle stamme van Israel.
5. So sê die Here: Watter fout het julle voorvaders in My gevind dat hulle My op ‘n afstand begin hou het (dat hulle My verwerp het)? Hulle het agter waardelose dinge aangegaan, en so het hulle self ook waardeloos geword.
6. Hulle het nie gevra:
“Waar is die Here wat ons uit Egipte uit gelei het?” nie,
“Hy wat ons deur die woestyn gelei het, deur ‘n land van woestynsand en klowe, deur ‘n land van droogte en donkerte, deur ‘n land waardeur niemand trek nie en waarin geen mens woon nie.”
7. Ek het julle in ‘n vrugbare land gebring om die vrugte daarvan en die goeie daarin te geniet, maar toe julle in my land gekom het, het julle dit verontreinig. Die land wat my eiendom is, is deur julle besoedel.
8. Die priesters het nie gevra: “Waar is die Here?” nie,
en die wat my wet moes aangryp het My nie geken nie (meer as blote kopkennis, hierdie is ‘n intieme kennis wat ‘n egte verhouding impliseer),
en die herders (dws die konings) het weggebreek van My af (hulle het in opstand gekom teen My),
en die profete het in die naam van Baäl opgetree.
Hulle almal het agter afgode aangegaan wat hulle nie kan help nie.
9. Daarom kla Ek jou weer aan,
[ja, dit is wat die Here sê!],
en Ek kla ook jou kinders en dié se kinders aan!
10. Want gaan wes oor die see na die Siprus eilande toe en kyk!
En stuur boodskappers oos na Arabië toe en laat hulle deeglik ondersoek instel en kyk. (Kyk orals – vanaf die Grieke in die weste tot by die Arabiere in die ooste, en dink goed na:)
Kyk of daar al so iets gebeur het!
11. Het ‘n nasie al ooit sy gode verruil? En húlle was nie eens regtig gode nie! Maar my volk het My, die Een waaraan hulle eer en hulle reputasie hang!, verruil vir afgode wat nie kan help nie.
12. Bewe hieroor, hemele, sidder en droog heeltemal op!
[Ja, dit is wat die Here sê!]
13. Want my volk het twee sondes begaan:
Vir M‎‎y het hulle verlaat, die bron wat lewende water gee, sodat hulle eerder vir hulle waterbakke uit klip kan kap, gebreekte waterbakke wat nie eens water kan hou nie.

Boodskap
Gelowiges praat so maklik van die woede van God wat seevier in die OT terwyl sy liefde uiteindelik die oorhand kry in die NT. Hierdie siening is natuurlik heeltemal skeefgetrek. Die liefdesverklaringe van God teenoor sy volk wat ons in die OT prosa en poësie vind, is ongeëwenaar en vol van emosie. Jer 2 is soos ‘n brief van die Here af aan die volk vir wie Hy baie lief was.

Dit klink dalk vreemd om te hoor dat Jeremia een van die mees morbiede boeke in die Bybel is – ‘n boek vol oordeel – maar om dan ook te hoor dat dele daarvan vergelyk kan word met ‘n liefdesbrief van God af aan sy volk. Hoe kan ons terselfdertyd van God se oordeel én van sy liefde lees, so dat beide hierdie kontrasterende temas die hooftema van Jeremia is? Want Jer 2 is maar een van verskeie tekste wat vir ons wys dat God se woede en sy oordeel in die OT juis gebore word vanuit sy liefde vir die volk. Hy is so lief vir sy volk dat Hy sy verhouding met hulle vergelyk met ‘n huweliksverhouding. Israel was sy bruid. Hulle was lief vir mekaar. Aan die begin van die verhouding het sy vir God met haar lewe vertrou, sy het orals agter Hom aangegaan. Die Here het haar (die volk) as sy heilige eiendom beskou, die eerste vrug van sy oes. Niemand moes dit waag om ‘n vinger op haar te lê nie! Só lief was Hy vir haar.

Maar toe kry God seer in die verhouding. Want sy bruid het Hom verneuk. Sy het Hom verwerp en agter ander gode aangeloop. Eers soek Hy die fout by Homself, maar hoe meer Hy onthou hoe meer besef Hy dat Hy vir Israel nét goed was. Hy het die volk in onbewoonbare gebiede beskerm en in ’n vrugbare land ingebring waar Hy hulle oorlaai het met goedheid. Dit hét goed gegaan met die volk. Maar terwyl dit so goed gaan het hulle begin rondkyk, en die gode van die nasies rondom hulle raakgesien. Hulle wou ook sulke gode hê. Almal, ook die leiers, het vir God begin vergeet en hulle het agter die ander volke se afgode aangeloop. Hulle het die Here nie eens meer geken nie – die intieme verhouding het vervlak en mettertyd verdwyn. Nie omdat God sy rug op die volk gedraai het nie, maar omdat die volk hul rug op God gedraai het.

Die volk het gedoen wat géén ander volk nog óóit gedoen het nie – hulle het hul God, die enigste ware lewende God, vir afgode verruil wat hulle nie kon help nie. Hoe ondenkbaar: Die ander volke het getrou gebly aan hulle nikswerd afgode, maar die volk van God het nie aan Hom getrou gebly nie! G’n wonder dat God so kwaad is vir die volk in die boek Jeremia nie! Hy praat met ‘n verskeurde hart. Hulle was sy hart se punt, maar hulle het gekies om liewer hul harte aan die afgodsaltare te gaan ophang. Sonder énige goeie rede. Want God was vir hulle nog nét goed gewees. En die afgode kon op geen manier vir hulle help of hulle lewensgehalte verbeter nie. Hulle het nie net teen God gekies nie. Hulle het vir níks gekies. Hulle het die lewende God weggestoot, en in sy plek het hulle ‘n hand vol niks begin dien. Hulle het hulle rug gedraai op die Bron van lewende water, en hulle het gekies om eerder hul eie gekraakte waterbakke uit klip te kap (want die afgode kon dit immers nie vir hulle doen nie…) – waterbakke wat nie eens water kon hou nie. G’n wonder dat God selfs die hemele oproep om te bewe en te sidder en op te droog nie! Want waarom dan nog water vanuit die hemele stuur as die volk nie meer die Bron van die water wil ken nie?

Ja, God was woedend gewees vir sy volk. Omdat Hy vir hulle so lief was, het hulle verwerping van Hom Hom so kwaad gemaak. Is dit nie so dat ons dikwels die kwaadste raak vir die mense wat die naaste aan ons is nie? Die wortel van woede lê baie keer in gekweste liefde. Want God het sy alles gegee, Hy het getrou gebly aan die volk.

Tussen God se oordeelsboodskappe deur pleit Jeremia vir die volk. Sy Klaagliedere eindig aangrypend met: “Waarom sou U ons dan bly vergeet, ons vir altyd verlaat? Bekeer U ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees (Hoor julle dit – nie ‘Kom terug na ons toe nie Here,’ maar ‘Help ons om terug te kom na U toe’). Maak ons lewens nuut, soos in die ou dae (die dae toe ons nog soos ‘n bruid agter U aangeloop het). Of het U ons dan heeltemal verwerp? Is U dalk net té kwaad vir ons?” … (Klaagl 5:21-22). So eindig Jeremia se boodskap.

Die Here was “só kwaad” gewees vir sy volk. Wie sou nie wees nie? Hulle het Hom prysgegee en daarom wou Hy hulle ook prysgee. Hy wou hulle uitwis, van die aarde afvee. In Jer 4 sê die Here dat Hy een kyk gee, en daar sal niks van die land en sy mense meer oor wees nie! In 4:27: “Die hele land sal verwoes wees”, maar dan nét daarna “maar Ek sal dit nie totaal vernietig nie.” In dieselfde asem as wat God sy vernietigende woede uitspreek, kom sy genade alreeds na vore. Hy wil graag alles en almal vernietig, maar Hy kan nie. In Hosea 11 verwoord Hy iets van die stryd binne Hom: “Hoe kan Ek jou prysgee? Hoe kan Ek jou vernietig? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ‘n mens nie. Ek sal nie met woede ingryp nie.” God bedwing Homself. Want, ten spyte van sy volk se ontrou, is Hy tot die dood toe getrou. Hy weier om ons te verwerp. Dit terwyl Hy in sy menslike gestalte sterf onder ons verwerping. Hy rig eerder sy woede teen Homself, Hy beskerm ons daarteen met sy eie lewe, omdat Hy ons so liefhet.

Gepraat van God se liefde vir ons, hoe lyk ons liefde vir Hom? Vandag?
Kan dit wees dat ons Hom ook vergeet het?
Kan dit wees dat ons ons verlede vergeet het? Die dae toe ons nog getrou was aan die Here, toe ons Hom nog liefgehad het, nog agter Hom aangeloop het?
Kan dit wees dat ons vergeet het hoe lief God ons het? En dat ons nie meer sy liefdesdade in ons lewens raaksien nie?
Kan dit wees dat ons vergeet het hoedat God ons in die verlede beskerm het, ook in ons eie verledes? Hoe Hy ons versorg het en bewaar het? Dalk aan die lewe gehou het daar waar lewe nie meer moontlik gelyk het nie?
Kan dit wees dat ons die fout vir ons vergeetagtigheid, ons afvalligheid by God wil vind? Asof Hy gefaal het, asof Hy ontrou was, asof Hy nie meer die moeite werd is om te volg nie?
Kan dit wees dat ons leiers – ons priesters en profete en presidente – vir God vergeet het? Dat die wat ons op die pad moet hou meedoen daaraan om ons van die pad af te lei? Dat hulle boodskappe en besluite en dade nie meer getuig van mense wat vir God ken nie?
Kan dit wees dat ons nie net vir God vergeet het nie, maar dat ons Hom verruil het? Vir ander dooie afgode? Wat op die ou-end niks vir ons beteken nie? Afgode soos geld, of sukses, of ander mense na wie ons eerder opkyk – soos rykes en magtiges en bekendes, of afgode van vrees en bekommernis wat ons dryf om ons eie plannetjies te beraam, so asof ‘n mensgemaakte vangnet meer betroubaar is as die hand van God? Asof ons handgemaakte gekraakte waterbakke meer bied as die Bron van lewende water?

Ons moenie te vinnig hierop antwoord asof die vrae nie op ons van toepassing is nie. Want hierdie losmaak van ‘n opregte intieme verhouding met God is iets wat so ongemerk kan gebeur. Ons verf soms ons gebroke verhouding toe met al die regte godsdienstige gebruike. Kan dit wees dat ons Sondae kerk toe kom (so ‘n edele gebruik), maar dat dit ten diepste nie meer ons liefde vir God is wat ons hierheen trek nie. Maar diensbeurte, of plig, of skuld, of gewoonte, of ander lidmate… Is daar dalk van ons wat vanoggend met ‘n sug opgestaan het toe ons besef het dis kerk vandag, en ons sal maar moet regmaak en gaan… In Jeremia 2 wys God sy hart vir ons. Hy wys ons wat in Hom gebeur, hoe Hy voel, hoe hartseer dit Hom maak, hoe kwaad Hy word wanneer Hy agterkom dat ons Hom vergeet het, en dat ons Hom in ons harte gelos het en agter ander dinge begin aanloop het.

G’n wonder Jeremia wou heeltyd net huil toe hy hoor wat God te sê het nie.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.