Jeremia 8

15 September 2013 Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Jeremia 8: 4-8, 11-12, 8:18-9:1

4. Sê vir hulle: So sê die Here: Kan dit wees dat iemand val en nie weer opstaan nie, of wegdraai en nie weer terugdraai nie?

5. Waarom draai hierdie volk dan weg? Waarom is Jerusalem die hele tyd afvallig, sonder ophou? Hulle gryp na valshede (valse gode sowel as valse lojaliteit aan God); hulle weier om terug te draai.

6. Ek het baie aandagtig geluister en al wat Ek hoor is dat hulle nie die waarheid praat nie. Daar is nie eens een persoon wat berou het oor sy sonde nie. Niemand sê: “Wat het ek tog gedoen!” nie. Almal draai weg van My af; hulle jaag soos ‘n perd wat vervaard in die oorlog instorm.

7. Selfs die ooievaar in die lug ken haar tye vir migrasie, en die tortelduif, die swaeltjie en die kraanvoël hou die tyd dop wanneer hulle moet terugkom, maar my volk ken nie die vereistes van die Here nie! (iets wat so logies/inherent/natuurlik moet wees – hoe kan dit tog wees dat dit ontbreek by hulle?!)

8. Hoe op aarde kan julle sê: “Ons het wysheid en die wet van die Here is by ons”? Dit terwyl die waarheid eerder is dat julle skrywers met penne van leuens skryf sodat hulle kan lieg.

11. Hulle (die wat dink hulle het wysheid) genees die wond van my kosbare volk met oppervlakkige raat, so asof dit nie ernstig is nie. Hulle sê: “Alles is reg! Alles is reg!” Maar níks is reg nie!

12. Hulle word in die skande gesteek oor die afskuwelikhede wat hulle pleeg, maar bloos bloos hulle nie eens nie. Hulle weet nie hoe om skaam te wees nie. Daarom sal hulle val tussen die ander wat alreeds geval het …

18. [Jeremia:] My smart oorweldig my oor my hart wat siek is.

19. Hoor net die geluid van my kosbare volk se roepe om hulp vanaf-oor die uitspansel van die land: “Is die Here dan nie meer in Sion nie? Is haar Koning dan nie meer by haar nie?”

[Die Here antwoord:] Waarom maak hulle My so kwáád met hulle afgode, met die waardelose gode van die vreemde volke?

20. [Die volk roep:] Die oes is af, die somer is verby, maar ons is nog nie gered nie!

21. Oor die verpletterdheid van my kosbare volk is ek self ook verpletter. Ek het rouklere aangetrek. Die verskriklike gebeure het my aangegryp.

22. Kan dit wees dat daar geen salf in Gilead meer is nie, of dat daar geen dokter is nie? Maar waarom het daar dan nie genesing gekom vir my kosbare volk nie?

9:1 Ek wens my kop was vol water en my oë ‘n fontein van trane. Dan sou Ek dag en nag huil oor die gesneuweldes onder my kosbare volk.

Boodskap

Marie Louise Kaschnitz, ‘n Duitse skryfster wat in 1901 gebore is en een van die toonaangewende na-oorlogse digters geword het, het onder andere ‘n gediggie geskryf wat, vry vertaal, so klink:

Wees nie so seker

dat dit aand word nie,

nie so seker       

dat God jou liefhet nie.

Hierdie gediggie sê in vier frases wat Jeremia in twee boeke gesê het. Maar boeke is dalk veiliger as gedigte want dit laat minder ruimte vir misverstand. Ons sou hierdie gedig kon verstaan asof dit die punt by ons wil tuisbring dat God se liefde vir ons nie ‘n gegewe is nie. Maar na verlede week se boodskap weet ons dat dit nie die geval is nie, dat God ons wel innig liefhet en dat sy woede oor ons afvalligheid juis gebore word vanuit hierdie liefde wat Hy vir ons het. Die gedig trek dus nie God se liefde in twyfel nie; dit spreek eerder die mens se (amper arrogante) sekerheid van hierdie liefde aan. “God het ons lief, so alles is reg.” Jeremia het vir die volk gesê: “Julle is só séker van God.” En vir ons: “Julle is só séker van God.” Moenie té seker wees nie. Want, ja, dis baie onwaarskynlik dat God ons sal verlaat. Maar wat wel gebeur is dat ons vir Hom verlaat!

Die volk van God in die OT is die gelowiges, die kerk van vandag. Dit is nie so eenvoudig om aan die kerk te behoort nie. Aan die een kant wil ons almal graag christene wees. Ons kom kerk toe, ons staan tyd af vir Bybelstudiegroepe, ons bid, ons bedien ons gemeenskap, ons bring ons offers, ons beplan aan en vier ons verjaarsdag, en dit gaan eintlik baie lekker. Alles is reg. Niks is fout nie. Ja, daar is siekte en terugslae, maar dis deel van die lewe. En natuurlik lyk sake in die breër samelewing en die politiek en die ekonomie en die wêreld nie so rooskleurig nie, maar hier by óns, hier gaan dit in wese goed! Aan die ander kant, as ons met mekaar eerlik moet wees, is daar tog ook in ons die behoefte om weg te breek, al is dit net so af-en-toe, om selfstandig te wees, onafhanklik, partykeer net ons eie ding te doen, om soms van God te vergeet en saam met ander mense of gode te kuier waar ons die lewe so bietjie kan geniet. So ‘n wegbreek op die regte tyd is immers ‘n goeie ding, ons kan selfs sê dis goed vir die siel.

Dis mos maar wat die volk ook gedoen het in die OT. Hulle was vir die Here lief. Hy het hulle immers deur woestynsand en donker klowe laat trek, hulle veilig bewaar en vir hulle ‘n land gegee waarin Hy vir hulle net goed was. Die volk het die wette van Moses op skrif gehad, en waarskynlik ook die geskiedenis van Levitikus en Deuteronomium, met al die riglyne en voorskrifte vir hulle offers en maniere en tye van aanbidding en skuldbelydenis ens. Hulle het dus die regte rituele op die regte tye uitgevoer. Dit het met hulle goed gegaan en almal was gelukkig.

Namate hulle die volkere rondom hulle leer ken het, hulle gebruike waargeneem het en met hulle afgode vertroud geraak het, het die volk in hulle harte hulle so bietjie begin losmaak van God af en plek gemaak in hul lewens vir die vreemde volke se afgode. Hoe meer hulle dit gedoen het hoe makliker het dit geword. Later het hulle nie eens meer vir God, húlle God, geken nie. Hulle het van Hom afvallig geword, van Hom vergeet. En die wyses onder hulle – die priesters en profete en die konings – het die toon aangegee in die beweging weg van God af! Hulle was voor in die koor van die vreemde volke en die afgode gewees. Maar kom Sondag of enige ander religieuse feesdag van God, dan is almal weer mooi op hul plek, geklee in priesterlike gewaad, gewyd voor die Here, gereed om hulle voorgeskrewe offers te bring. Dis letterlik ‘n geval van bo blink en onder stink. Want hulle godsdienstige handelinge het dalk nog op die regte tye gespreek van ‘n verhouding met God, maar hierdie handelinge was leeg want hulle harte was swart.

Die feit dat die volk hul rug op God gedraai het was reeds erg genoeg, maar nog erger as dit is dat hulle so daarmee volhard het! (Dis waaroor Jeremia dit het in hfst 8.) Daar was net geen keer aan hulle afvalligheid nie. Hoor hoe ryg Jeremia dit in in vss 4-6: Hulle val en staan nie weer op nie, draai weg maar nie weer terug nie, draai weg!, volhard in hulle afvalligheid, weier om terug te draai, toon geen berou nie! “Selfs die voëls gehoorsaam die natuur se wette, maar my volk steur hulle nie aan my vereistes nie – hoe kan dit wees!? Hulle is eerder soos ‘n perd wat buite beheer geraak het. Hulle breek van My af weg en storm met vaart die moeilikheid tegemoet! Hulle is besig met selfmoord, maar steeds wil hulle nie tot inkeer kom nie.”

En midde hierdie konsternasie? Midde dit alles beroep die wyses hulle op hul kennis en op die feit dat hulle die wet van die Here besit. Dis tog al wat nodig is – ‘n bietjie verstand om die wêreld mee te verklaar, en ‘n boek in die hand… Maar, sê die Here, “hulle skryf met penne van leuens sodat hulle kan lieg! Hulle gee oppervlakkige raat vir die wonde van my volk. Hulle sê: ‘Alles is reg! Alles is reg! Moenie bekommerd wees nie. Geweld is normaal in hierdie tyd wat ons leef. Volkere is magsbehep en daar sal altyd maar oorlog wees. Moenie bekommerd wees nie, die hoogdrukstelsels is normaal. Dit sal weer skuif en die droogte sal plek maak vir reën. Die natuur werk maar so. Moenie bekommerd wees oor die swak ekonomie nie, ‘n resessie word altyd opgevolg deur ‘n opbloei. Daar sal iewers weer ‘n einde kom aan werkloosheid en hongersnood en natuurrampe. Die wêreld gaan deur sy siklusse en ons is daaraan onderhewig. Ons het wysheid en ons weet dit werk maar so. Maar eintlik is alles reg!’ So praat die wyse mense, die leiers, die priesters en die profete. Dit terwyl die gewone mense se grond aan ander gegee word (8:10), terwyl die gewone mense se vrouens verkrag word (8:10) en hulle kinders aan slangbyte sterf (8:17 want die slange vlug na die stede weens die droogte in die woestyn), terwyl die gewone mense in ‘n tyd van droogte vrot water moet drink en sterf daarvan (8;14). Ja, hulle sê ‘alles is reg,’ maar níks is reg nie! … Hulle bloos nie eens oor die leuens en die sonde wat hulle pleeg nie.”

“Hoe hard moet hulle dan val voordat hulle opstaan! Hoe ver moet hulle afdwaal voordat hulle terugkom! Hoekom kom hulle nie tot inkeer nie! Ek kan dit nie begryp nie!,” sê God. Hy is totaal uit die veld geslaan. “Want hulle mag hulle dalk net doodval, hulle mag dalk so verdwaal dat hulle nooit weer hul pad terugvind nie…”

“My smart oorweldig my, my hart is siek,” treur Jeremia. “Hoor net die verskriklike geskree van die mense, hulle skree die hele land oor: ‘Is die Here dan nie meer in Sion nie?’ Hierdie volk van my wat steeds nie hulle afgode wil laat vaar nie, hulle wonder waar die Here dan is. Hoe kan dit wees? Hoe kan dit wees dat hulle die fout vir hulle swaarkry by God gaan soek? Daar is nog salf in Gilead. Daar is nog ‘n dokter of twee. Ek, Jeremia, is een van hulle. Ek profeteer die waarheid, en nog ‘n paar ander gehoorsames soos ek. Maar die volk wil nie luister nie, hulle lag my uit. Hulle wil nie die genesing ontvang wat God stuur nie. Want hulle wil nie erken dat hulle genesing nodig het nie. Hulle weet nie eens meer hóé siek hulle is nie.”

En dan hoor ons hoedat die gebroke, verpletterde God in Jeremia se woorde inklim: “Ek wens my kop was vol water en my oë ‘n fontein van trane. Dan sou Ek dag en nag huil oor die ondergang van die mense vir wie Ek so lief is.”

Om blind te wees vir ons eie sonde, dít is opsigself sonde. Om ons afvalligheid van God met godsdienstige gebruike toe te smeer is aan die een kant slim gedink, maar eintlik is dit so dom, want dit is ‘n sonde waarmee ons onsself flous en waarmee ons daarom vir ewig kan voortgaan. Om nie ware berou te hê nie, dit is sonde. Om ons sondes te bely maar dan daarna daarin te volhard, dit is sonde! Want skuldbelydenis wat nie gepaardgaan met ‘n aflê van daardie sonde nie, dis nie ware belydenis nie, dis bloot ‘n leë religieuse handeling. Ons kan nie maar dink dat ‘n gebed in die oggend of aand – “Vergewe my asb my sondes” – God se vergifnis sal waarborg nie. As hierdie gebede, as ons kerkbywoning, as ons offers bloot maar rituele is om ons gewetens te paai, sodat ons die volgende dag maar net weer met dieselfde sondes kan voortgaan – dan kan ons mos nie reken op God se vergifnis nie. Dan speel ons met Hom. Want ons mag nie in ons sondes volhard nie. Ons moet dit aflê. Ons lewens moet anders geleef word nadat ons om vergifnis gebid het.

Die volk se skuldbelydenis was blote rituele. Soos hulle verhouding met God blote skyn geraak het. Hulle wou nie raaksien dat daar iets diepers agter die rampe en die nood en dood gelê het nie. Die leiers wou alles wegverklaar met die gang en die ritmes van die lewe. Hulle het dom-astrant geweier om te hoor dat hulle afvalligheid die grootste rede agter die rampe is. Jeremia het sy asem op gepraat om die volk tot inkeer te bring. Sonder enige sukses. Nog in Jeremia se leeftyd sou die volk in ballingskap weggevoer word. God se hart is gebroke, maar dit neem nie die straf van die volk weg nie. Vir 70 jaar sou hulle in ‘n ander vyandige land moes oorleef voordat van hulle kon terugkeer en van voor af kon begin. Almal het gely! Jeremia, een van die min wat getrou God se boodskap verkondig het, is ook weggevoer in ballingskap. Ook hy, die onskuldige, moes die prys vir die volk se hardkoppigheid betaal. Die mense het hulle nie aan hom gesteur nie. Hy was seker te jonk… Of hy het te sleg gepraat… Of sy boodskap het nie goed op die oor geval nie…

Jeremia was ‘n groot profeet, al hét sy volk hom nie geag nie. Na hom sou daar ‘n groter profeet kom. Sy eie mense het Hom ook nie geag nie, nie gehou van wat Hy verkondig nie, Hom gespot en gekruisig vir die boodskap wat Hy bring en die mense met wie Hy uithang. Hulle het hulle nie te veel aan Hom gesteur nie. In elk geval nie toe Hy nog gelewe het nie. Die vraag is – sal ons ons steur aan sy boodskap? Solank ons leef het ons tyd nog nie uitgeloop nie, is ons somer nog nie verby nie. Sal ons luister? Of sal God na ons kyk en wens dat sy kop in ‘n waterbak kan verander, en sy oë in ‘n fontein van trane? Laat ons God glimlag omdat ons Hom liefhet, of bars Hy uit in trane wanneer Hy na ons kyk?

Wees nie so seker

dat dit aand word nie,

nie so seker       

dat God jou liefhet nie.

Ons kan immers nie aanspraak maak op iets wat ons nie wérklik, met ons hele hart, wil hê nie. Ons moenie aanspraak maak op God se liefde as ons dit nie regtig wil hê en bereid is om bewustelik daaruit te leef nie. Maar ás ons dit wil hê, dan het Hy dit 2000 jaar gelede al vir ons gegee. 

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.