Jeremia 18

22 September 2013 – Tiende Sondag in Koninkrykstyd
Prediker: Bianca Botha

Hierdie teks en die beeld van  die Pottebakker en die klei, is een waarmee meeste van ons waarskynlik goed bekend is en waarmee u miskien, soos ek, grootgeword het. Ironies genoeg is dit vir my dikwels hierdie tipe beelde en gedeeltes – die bekende en byna “voor die hand liggende” tekste – wat my die meeste uitdaag.

As profeet was een van Jeremia se belangrikste take om met ander oë (miskien met helderder oë, of met ander lense) na die wêreld en die dinge rondom hom te kyk. So stuur God hom na die pottebakker se huis… ‘n plek waar hy waarskynlik al 100x vantevore was, om daar met nuwe oë te kyk na wat die pottebakker besig is om te doen en God se boodskap daarin raak te sien.
Dis byna soos om iemand in ons moderne tyd na ‘n winkelsentrum te stuur. Elke dorp het ’n pottebakker gehad, en anders as vandag was pottebakkery nie net ‘n kuns nie, maar ‘n uiters noodsaaklike deel van die mense se alledaagse bestaan. Voordat mense potte gehad het om meel, olie en ander kos te stoor, moes hulle rondtrek van plek tot plek na waar daar kos is, want niks kon gestoor word nie. Dit was dus ‘n belangrike, maar ook ‘n baie algemene produk. Water, kos, wyn, alles is in potte gestoor en alle soorte houers is van klei gemaak – olielampe, wynkanne, alles.
Jeremia gaan dan na die pottebakker se huis en deur met ander oë te kyk na hierdie baie bekende en alledaagse toneel wat voor hom afspeel, hoor hy (oftewel sien hy) wat God vir hom en vir die volk wil sê.

En so dink ek lê die uitdaging vir ons ook daarin om nie net nuut, en met ander oë, te kyk na die wêreld rondom ons nie, maar ook na beelde en tekste in die Bybel wat vir ons so bekend geraak het. Ek wil u dus uitnooi om saam met my vanoggend nuut na hierdie gedeelte te kyk en miskien selfs verras te word deur wat die Here vanoggend vir u daardeur wil sê…

Wanneer God Jeremia na die pottebakker se huis stuur, sien Jeremia nie net ‘n iemand wat besig is met sy daaglikse take nie, maar besef hy dat dit ‘n analogie is van hoe God werk met sy mense – soos ‘n pottebakker met sy klei. Hy sien hoe die pottebakker se eerste poging om iets te maak van die klei heeltemal flop, maar dat hy dan met daardie selfde klei oor begin en iets anders maak – soos hy dit wil hê. En in daardie proses sien Jeremia iets van die verhouding tussen God en Israel.

Nou, op hierdie punt in die geskiedenis is Jerusalem nog nie verwoes nie, maar die volk het afvallig geword. Vers 15 van hierdie hoofstuk stel dit duidelik:
“Tog het my volk My vergeet en wierookoffers gebring vir gode wat nie bestaan nie, gode wat my volk laat struikel het op sy pad.”

In reaksie op die toestand waarin die volk verkeer,  gee God vir Jeremia hierdie beeld van die pottebakker, waardeur Hy nie nét sê dat Hy die mag het om hulle te vorm of te vernietig nie, maar ook dat Hy hulle kan hervorm en weer kan opbou, selfs al is hulle op daardie stadium so ‘n mislukking; selfs al is hulle op daardie stadium nie wat God van hulle wou maak nie…
Hierdie tema van afbreek en opbou; van vernietig en herstel is een wat baie sterk voorkom in die hele Jeremia. Die beeld van die pottebakker beklemtoon dan net weereens die volk se posisie op die grens tussen vernietiging aan die een kant en heropbou/herstel aan die ander. Daarmeesaam word ook gewys op die volk se eie invloed op watter kant toe die pendulum gaan swaai en dan ook die baie belangrike feit dat dit altyd weer na die anderkant toe kan terug swaai (Lees vers 7-10).

Die eerste en waarskynlik belangrikste boodskap wat hierdie teks (hierdie beeld) aan ons oordra is dan dat God ‘n God is van 2e kanse (en 3e, 4e, 10e kanse). Dat Hy nie die klei weggooi wanneer die eerste poging misluk het nie, maar dat Hy altyd weer iets anders daaruit kan maak. Gegewe, dit is nie altyd ‘n maklike of eenvoudige proses nie. Soms kan die mislukte poging bloot op ‘n ander manier gebruik word en ander kere moet die klei heeltemal van voor af bymekaargedruk en geknie en op die wiel gegooi word.
Maar hoewel hierdie vorming en hervorming soms ‘n pynvolle proses kan wees, word dit altyd gemotifeer/gedryf deur God se liefde en sorg vir ons. So lees ons ook later in Jeremia 29 die bekende vers:
“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here, voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.”

Die feit is dat onsself nie altyd weet of kan sien wat die beste vir ons sal wees of miskien wat ons kan wees nie. In sy boek “Mere Christianity” skryf C.S die volgende:
“Verbeel jou jy is ‘n lewende huis. God kom om die huis te herbou. Aanvanklik doen Hy die     take wat jy wil hê gedoen moet word. Daklekke en stukkende vloerplanke word bv     reggemaak… Maar dan begin hy met verbrekings aan die huis wat nie vir jou sin maak en     wat jy dalk nie in gedagte gehad het nie. Wat is Hy besig om te doen? Hy is besig om ‘n     totaal ander huis te bou as die een wat jy ingedagte gehad het – ‘n beter, ruimer en meer     funksionele huis…”

Tog is die gedagte nie, soos wat ons dalk sou dink, om willoos deur die lewe gaan nie, maar eerder dat ons wil (ons planne en vooruitsigte) in lyn kom met God se wil – en dit is soms ‘n moeilike proses vol groeipyne. Ons moet besef dat ons idees rondom wat (of wie) ‘n sukses en wie ‘n mislukking is, nie altyd dieselfde is as God sn nie. Die wêreld kan dalk dink dat iemand se lewe ’n groot sukses is. Mens voel dalk dat jy iets bereik het en miskien is daar mense wat jou bewonder om verskeie redes. Maar selfs die mens met die grootstee prestasies, die meeste mag of geld, die mooiste huis, of hoogste posisie by die werk, kan ‘n mislukte kleipot wees. Ons kan alles besit en bereik wat ons aan ‘n suksesvolle lewe koppel en steeds eintlik besig wees om te misluk.
En die ander kant geld ook – jy kan dalk voel soos ‘n mislukking of dink iemand anders het misluk, maar vanuit God se perspektief is dit dalk juis die teenoorgestelde.

In Jeremia 7 sien ons iets van wat God se droom vir die volk (en ook vir ons) is…
“Maak  liewers julle lewe en julle dade reg. Doen aan mekaar wat reg is, moenie     vreemdelinge, weeskinders en weduwees onreg aandoen nie. Moenie mense onskuldig     om die lewe bring nie… moenie ander gode dien nie (lees: geld, mag, welvaart…). As julle     aan my gehoorsaam bly, sal ek julle in hierdie plek laat bly.”

In die dag en tyd waarbinne ons woon is die uitdaging om nie net vir onsself en die vervulling van ons eie drome en behoeftes te leef nie; om nie net op onsself ingestel te wees nie, maar juis op God en die mense rondom ons. En ons weet dit dalk selfs, maar ek dink ons raak soms so vasgevang in ons eie strewe om ons doelstellings te bereik, dat ons uitsig kan verloor op wat God se wil is en wat ons eie is. Die Here vra nie net van die volk nie, maar ook van ons om ‘n lewe te kies wat gekenmerk word deur gehoorsaamheid aan Hom en liefde vir ons naaste. Dit is egter nie ‘n keuse wat namens ons gemaak word nie, maar een waaroor ons byna op ‘n daaglikse basis self moet besluit en waarop ons self moet reageer.

Ek dink baie van ons staan die gevaar, wanneer ons hierdie gedeelte lees, om die klei (en dit wil sê onsself) te beskou as magteloos in die hand van die Pottebakker. So asof die klei geen aandeel het in dit wat daarvan gemaak word nie. Ons eerste gedagte is dat ons moet oorgee sodat God ons kan vorm en al die werk kan doen.

Tot ‘n sekere mate is dit waar, maar wanneer God met die volk praat in hierdie teks, bring Hy hulle voor ‘n keuse te staan. Hy lê vir hulle die gevolge op die tafel en dan laat Hy die keuse aan hulle oor. Die volk is nie bloot ‘n passiewe toeskouer in die saak nie, maar word die kans gegee om of vir of teen God te kies en sodoende aktief deel te neem aan hulle eie vorming. Daar is maw  ’n verhouding van samewerking tussen die Pottebakker en die klei. Die klei bly in die Pottebakker se hande en Hy kan beheer uitoefen, dalk selfs kies om dit bymekaar te druk en weer oor te begin, maar Hy neem ook die klei se grein en besondere eienskappe in ag wanneer hy besluit wat om daarmee te maak. Ons het dus ‘n keuse of ons wil lewe soos God wil of eerder soos ons wil – en of ons wil gaan inskakel by God se wil. God neem leiding en gee vorm – maar Hy vat nie die wil weg nie.

Die volk het egter verkeerd gekies. Hulle het gekies om direk teen God se wil en waarskuwings in te gaan. Hulle het willens en wetens teen God gekies – en ons  weet wat die gevolge daarvan was. Hulle is uiteindelik vernietig en Jerusalem is verwoes.
Tog weet ons dat dit ook nie die einde van hulle storie was nie; dat hulle (en ons eie) belangrikste hervorming en heropbou plaasgevind het deur die kruisdood en opstanding van Jesus Christus. En wat Jesus aan die kruis vir ons kom doen het, is absoluut in lyn met hierdie beeld van die pottebakker wat aanhoudend besig is om ons te vorm en te herskep. In 2 Kor 5 lees ons:
“Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.  Die oue is verby, die nuwe het     gekom.  Dit alles is die werk van God.  Hy het ons deur Christus met Homself versoen en     aan ons die bediening van versoening toevertrou.  Die boodskap van versoening bestaan     daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle     oortredinge nie meer toereken nie.  Die boodskap van versoening het Hy aan ons     toevertrou.”

Soos die pottebakker die mislukte klei herwin en dit omskep in iets uniek, kunstig, pragtig en bruikbaar, so herwin God ook ons lewens.  Maar ons staan elkeen daagliks voor die keuse of ons gaan word wat hy van ons wil maak, en of ons ons eie kop en ons eie wil gaan volg. En dit is nie altyd maklik of altyd moontlik om God se wil vir ons te onderskei nie, maar miskien kan ons begin deur soos Jeremia ons oë oop te hou en so in te stel dat ons God nie net sien in die groot gebeurtenisse nie, maar ook in die doodgewone, alledaagse dinge, want dit is so dikwels daardeur wat God besig is om ons te vorm en om ons te leer. Al wat ons moet doen is kies om te luister.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Bianca Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.