Jeremia 32:1-15

29 September 2013 Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond
‘n Honderd jaar terug is die noordelike ryk, die volk in Israel, in ballingskap weggevoer. Op die oomblik is die suidelike ryk, Juda (met Jerusalem as hoofstad) ook in die moeilikheid. Nebukadnesar is die koning van Babilonië en sy weermag het reeds Jerusalem beleër. ‘n Klomp mense onder die Joodse volk wat in Juda gewoon het, is in ballingskap weggevoer. Daar het egter nog ‘n klomp agtergebly ook, waaronder Jeremia. Alhoewel Nebukadnesar in beheer was van Juda het hy vir Sedekia, ‘n Jood, as vasal koning aangestel om, onderhewig aan Babilonië se voorskrifte, in Juda te regeer.
Jeremia was in aanhouding in Jerusalem gewees, want koning Sedekia het hom van dislojaliteit verdink. Aanvanklik was hy in die tronk, maar nadat hy ge-appelleer het, het Sedekia hom na die binneplein van die paleis laat skuif – ‘n tipe huisarres. Daar was verskeie redes waarom Jeremia van dislojaliteit beskuldig is. In ‘n stadium waartydens die Babiloniese weermag so bietjie skiet gegee het met hul beleëring van die stad het Jeremia van die geleentheid gebruik gemaak om te probeer teruggaan na sy tuisdorp Anatot (so paar km vanaf Jerusalem) om sy erfgrond in ontvangs te neem. Sedekia het hom egter met hierdie daad van oorlopery verdink, omdat die Babiloniese weermag juis hulle kamp in Anatot opgeslaan het. Naas sy beskuldiging van oorlopery kon Sedekia ook nie verstaan waarom Jeremia heeltyd oordeelsboodskappe oor Jerusalem en oor homself, die vasal koning, profeteer nie. Die stad is nou wel beleër, het hy gereken, maar eintlik is die volk nie so sleg daaraan toe nie. Hulle het darem nog hulle “eie” koning en hulle kan darem nog in redelike vryheid en vrede voortgaan met hul lewens soos voorheen, elkeen op hul eie stukkie grond.

Teen hierdie agtergrond lees ons dan van ‘n baie vreemde transaksie in Jeremia 32:

Teks
32:1 Die Here het met Jeremia gepraat in die 10e regeringsjaar van koning Sedekia van Juda.
Dit was die 18e regeringsjaar van koning Nebukadnesar 2van Babel. Nebukadnesar se leër het op hierdie tydstip die stad Jerusalem beleër.
Die profeet Jeremia was ‘n gevangene in die binneplaas van die paleiswag van Juda (omdat hy van dislojaliteit verdink is).
3 Koning Sedekia van Juda het vir Jeremia daar gevange laat hou en hom aangespreek oor sy profesieë. Hy het vir Jeremia gevra:
“Waarom profeteer jy hierdie dinge? Jy hou aan om te sê dat die Here sê ‘Ek sal hierdie stad in die mag van die koning van Babel oorgee. Hy sal dit verower. 4 Koning Sedekia van Juda sal nie ontsnap uit die mag van die Babiloniërs nie. Hy sal beslis uitgelewer word aan die koning van Babel. Hy sal persoonlik verantwoording moet doen aan die koning van Babel en hy sal hom in die oë moet kyk. 5 Sedekia sal na Babel toe gevat word en daar sal hy bly totdat Ek klaar met hom afgereken het.’ Jy sê dit is wat die Here sê!”

(Ons moet nou in ag neem dat Sedekia wel besig was met ‘n onderduimse gekonkel wat sou lei tot die finale val van Jerusalem. Sedekia was in die geheim besig om met Egipte alliansies te smee. Hy het versoek dat Egipte Jerusalem moes binneval en die Jode moes bevry van die Babiloniese beleëring. Die weermag van Egipte het toe Jerusalem ingeval, maar die Babiloniërs het teruggeveg. Egipte het onttrek en Babilonië het geen rede meer gehad om genadig met Juda en sy mense om te gaan nie. Die stad is verslaan en Sedekia is gevange geneem en weggevoer na Babilon waar hy aan Nebukadnesar moes gaan verantwoording doen. En dan is hy nogals verontwaardig oor Jeremia se voorspellinge…)

6. Jeremia het vir Sedekia geantwoord …
Die uitgebreide familie se grond was gewoonlik langs of naby mekaar, so Ganamel se erfgrond was ook in Anatot, nes Jeremia s’n.
8. lossingsreg: Die gebruik was dat familiegrond ten alle koste binne ‘n familie moes bly. Dus, wanneer iemand, soos Ganamel hier, in ‘n finansiële verknorsing beland en die kans gestaan het om sy eiendom te verloor, dan was die naaste manlike familielid vriendelik verplig om die grond by sy broer of neef of oom oor te koop, sodat die grond darem binne die familie kon bly en nie deur eiendomsmagnate opgekoop sou word nie. Alles het nie gestaan of val by die verpligting nie, ‘n familielid sou kon weier om sy verantwoordelikheid na te kom (soos in die verhaal van Rut en Boas), maar dit sou skande bring oor die familie en verhoudinge sou versuur.
12. vir my sekretaris Baruk …
16-25: Nadat Jeremia die Here se opdrag uitgevoer het (en hy weet die opdrag maak eintlik nie sin binne die benarde situasie van die land nie), bid hy daaroor. Hy dra dit alles aan die Here op.
26… Die Here antwoord: “… 37-38 Ek sal my volk terugbring hierheen en hulle sal hier in veiligheid woon. Hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees … 41 Ek sal juig oor hulle, Ek sal goed doen aan hulle, in my trou sal Ek hulle plant in hierdie land, met my hele hart en met my hele siel… 44 Ek sal hulle lot verander.” Dit is wat die Here sê!

Boodskap
Jeremia 32 vorm deel van ‘n groter geheel, 30-33, wat onder bybelkenners bekendstaan as die “klein troosboek” in Jeremia. Vanuit die afgelope 3 weke se tekste weet ons dat Jeremia ‘n doemsprofeet was, teen sy sin geroep om die oordeel van die Here oor sy volk aan te kondig. Vanweë die donker inhoud van sy boodskappe het Jeremia se volksgenote niks van hom gehou nie. Hy het hulle namens God aangekla omdat hulle vir God verwerp het en die ander nasies se afgode begin dien het. In Jer 32:33 treur God aangrypend: “Hulle het hulle rug na My toe gedraai en nie hulle gesigte nie.” Die volk het vir Jeremia gespot, verwerp en van valse profesieë beskuldig. Aan die einde van die boek was die profeet nog steeds nie klaar gekla oor die volk se verharde harte nie en het hy ook Klaagliedere gedikteer sodat sy sekretaris Baruk dit ook kon neerskryf.

Midde hierdie oordeelsboodskappe en klagtes vind ons dan Jeremia 30-33 (ons sou die Here se brief aan die ballinge in hfst 29 ook dalk hier kon byvoeg) – die klein troosboekie wat amper wegraak in die middel van ‘n see van oordele. Maar om dan te besef dat dit juis hierdie enkele hfste van hoop was wat vir Jeremia self staande gehou het midde al die donker oordele wat hy moes aankondig, en wat vir Jeremia nie net laat voortgaan het met profeteer nie, maar ook met daad by woord voeg, dan is dit net reg om nie vir Jeremia toe te maak voordat ons nie self ook na hierdie boodskap geluister het nie.

Die verhaal in Jeremia 32 begin somber – Jerusalem is deur die Babiloniërs beleër en Jeremia is in die tronk (huisarres). Die koning van Juda, koning Sedekia, vat vir Jeremia aan omdat hy dislojaal is teenoor die volk in sy optrede en in sy profesieë. Jeremia hou voet by stuk, hy is nie bereid om sy boodskap terug te trek net omdat Sedekia dit van hom vra nie. Hy weet immers dat hy God se boodskap verkondig en dat alles wat hy sê daarom wel waar sal word, al glo die mense rondom hom hom steeds nie. In plaas daarvan om vir koning Sedekia gelyk te gee, vertel Jeremia hom dan eerder van nog ‘n boodskap wat die Here vir hom gegee het. Onthou nou – die stad is beleër en Jeremia is in huisarres. Die Egiptenare het probeer help maar alles eintlik net vererger en Jerusalem is letterlik op die vooraand van haar finale nederlaag. Die Babiloniese weermag is orals, die wat nog van die volk oor is (mans, vrouens en kinders) word tans in hulle eie stad aangehou, dis nie meer veilig nie, huise word afgebrand, wingerde word vernietig, die ekonomie is teen die grond. Die land is besig om te sink.

In hierdie omstandighede sou mens kon dink dat die Here vir Jeremia sal kwytskeld van sy roeping: “Jeremia, genoeg is genoeg. Jy het werklik jou bes gedoen, maar die volk wil eenvoudig net nie hoor nie. Hulle het jou verwerp net soos wat hulle My verwerp het. Vergeet van hulle, hou op om my boodskap te verkondig, was jou hande in onskuld, en vlug, vlug! Ek sal jou help, Ek sal ‘n pad vir jou baan, Ek sal sorg dat jy veilig kom in ‘n land waar jy oor kan begin. Goeie en getroue profeet, Ek hef jou roeping op. Gaan in vrede en rus.”

Maar nee. “Jeremia, jou neef Ganamel gaan jou hier in die tronk kom besoek. Hy gaan vra dat jy sy erfgrond by hom moet oorkoop. Die land is verwoes, die ekononie is in duie, en sy skuldeisers se asems blaas in sy nek. Hy soek geld, hy het elke bietjie wat hy kan kry nodig om te kyk of hy nie vir hom en sy familie midde hierdie duistere situasie darem ‘n effense toekoms kan loskoop nie. Hy gaan jou aan jou lossingsreg herinner wanneer hy kom.”
En dit gebeur toe nes die Here vir Jeremia gesê het. Jeremia vertel vir Sedekia dat hy toe geweet het dat dit ‘n woord van die Here af is, en hy doen wat binne die reëls van die Joodse samelewing van hom verwag word. Hy koop Ganamel se grond. Hy kom die wettige aspekte van die transaksie tot op die letter na, kompleet met ‘n seël en getuies en ‘n afskrif van die oorspronklike dokument. Hy doen wat enige goeie Joodse man vir ‘n familielid sou doen. Of hoe?

Nee. Wat Jeremia hier doen is totaal onlogies. Natuurlik was daar so iets soos die lossingsreg en was dit wenslik dat die volksgenote erns sou maak met hierdie reg indien die verantwoordelikheid na jou kant toe val. Maar geen mens sou vir Jeremia kon kwalik neem indien hy nie die grond gekoop het nie. Nie eens Ganamel nie. Nie in hierdie omstandighede nie. Rondom Jeremia en Ganamel is alles besig om plat te val en nou kom vra Ganamel dat Jeremia sy stuk grond moet koop! Die grond wat langs Jeremia se plot lê in Anatot, die grond waarop die Babiloniese soldate intussen begin uitkamp het, die grond waarop Jeremia waarskynlik nooit eens ‘n boom sal kan plant nie, wat nog te sê van ‘n huis, die grond wat Jeremia nie eens met sy eie oë gaan sien nie, want ook hy is oppad om weggeneem te word uit Juda. Dit is nie net nie wys om Ganamel se grond te koop nie, dis om die waarheid te sê baie dwaas. Dit is soos om aandele te koop by die World Trade Centre net nadat die Twin Towers geval het. Of soos om te belê in ‘n plaas in Zimbabwe terwyl die proses van grondonteiening aan die gang is en boere en hul families vermoor word. Dit is soos om nou in Sirië of Nairobi, Kaïro te gaan vakansie hou. Jeremia, die een wat beter as enigiemand anders weet en glo dat die land besig is om tot ‘n finale val te kom, en dat die res van die inwoners in ballingskap weggevoer gaan word, hierdie man koop grond wat hy voor sy siel weet hy nooit sal bewoon of bewerk nie. Nee wat Jeremia, jy weet darem van beter as dit…

Maar kom ons gaan terug na hoekom Jeremia die grond gekoop het. Hoekom, teen alles in die samelewing, die ekonomie en die politiek wat teen sy besluit inskree, koop hy grond wanneer almal anders wil verkoop en wil oppak en probeer wegkom? Want die Here het met hom gepraat, die Here het so gesê. En Jeremia het gevra dat Baruk die kontrak en die afskrif daarvan in ‘n kleipot moet verseël sodat die dokumente lank kan hou. Want die Here die Almagtige, die God van Israel sê: “Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.” Die omstandighede sê wel alles gaan onder, maar die Hére sê daar sal ‘n nuwe begin wees.
Ook maar goed dat Jeremia aan die berging in die kleipot gedink het, want dit sou 70 jaar neem voordat hierdie kontrak enigiets werd was. Vir 70 jaar was die volk verlore voordat hulle weer van vooraf kon begin met bou en plant en lewe in hul eie land. Want die Here se belofte het nie ‘n streep deur die realiteit getrek nie. Die oordeel, die ballingskap het gekom om te bly, vir 70 jaar lank te bly. Baie Jode sou in die ballingskap sterf en nooit die nuwe begin met hulle eie oë sien nie (soos Moses wat nooit self die Beloofde Land ingegaan het nie)’ ander sou daar in ballingskap gebore word, in ‘n vreemde land. Die Here het nie die swaarkry weggevat nie. Nie eens vir sy getroue profeet Jeremia nie. Maar nog voordat die heel ergste jare van die ballingskap aangebreek het, het die Here reeds belowe dat Hy in die toekoms vir die volk ‘n nuwe begin sal gee. Hierdie belofte van Hom is so seker dat Hy vir Jeremia die opdrag gegee het om nou al solank ‘n stuk land te koop – nie sommer enige stuk land nie, maar die stuk waarop die vyand uitgekamp het. Jeremia se kooptransaksie moes in die publiek voltrek word, voor getuies, sodat dit vir die hele volk ‘n simbool, ‘n teken kon wees van God se belofte van ‘n nuwe begin.

Jeremia doen wat die Engelse spreekwoord sê: Put your money where your mouth is. Hy sê vir die volk: “Ons is besig om alles te verloor en die einde is nog lank nie hier nie, maar daar is inderDAAD lewe na Babilon. Ek is bereid om my geld daarop te sit. Ek is bereid om deur hierdie daad te wys hoe vas ek glo in God se toekoms vir sy mense. Al gaan ek waarskynlik nie meer hier wees om dit self te beleef nie. Ek belê daarom nie in die eerste plek in my eie persoonlike gemaklike toekoms nie, want my eie toekoms in hierdie wêreld is dalk nie so blink soos wat ek dit graag sou wou hê nie. Maar ek belê in God se toekoms.”

Waar sit ons ons geld, as ons nou maar hierdie baie konkrete voorbeeld van Jeremia kan gebruik? Werk ons heel eerste altyd ons begroting uit voordat ons kyk of daar iets vir die Here se opdragte oor is, kyk ons eerste na die opbrengste van die verskillende beleggings, maak seker dat ons self darem op ons oudag maksimale voordeel sal trek daaruit, dat daar altyd ‘n neseier sal wees sodat ons met die nodige gemoedsrus kan leef en nooit bekommerd hoef te wees oor ons toekoms nie (want sê nou maar ons geld raak op en die Here sorg nie soos wat Hy belowe het nie, wat dan?…).
Watter gesprekke is vir ons die heel belangrikste? Na wie luister ons die fynste? Na ons finansiële adviseur? Of na God? Wie van die twee weet die beste wat die beste is vir ons? Want die finansiële adviseur werk met wêreldse wysheid en onthou: wat God kan vra mag soos dwaasheid lyk! Vir die wêreld natuurlik. Vir mense wat nie weet dat God in beheer is nie, dat God ‘n groter plan het nie, dat God wel iewers nuut sal begin nie…
Word ons besluite gedryf deur selfsug (ons eie gemak) of deur die nood van die wêreld, Gód se wêreld?
Is ons bereid om in ander mense te belê, selfs al sal ons geen voordeel daaruit trek nie, selfs al lyk dit nie of hulle enige potensiaal toon nie, enige bydrae kan lewer nie? Selfs al sê almal rondom ons, ook die gelowiges!, dat ons besig is om ons geld te mors as ons daardie persoon of persone help? (Want hulle is net ‘n toekomstige las?)
Gebruik ons nou al die natuurlike bronne oo? Die suurstof en die vis in die see en die bome in die woude en die water vanuit die hemel? Want die verre toekoms gaan ons nie aan nie? Of dink ons daaraan dat daar nog geslagte na ons kan wees, mense wat die aarde nodig het om te leef, mense (kinders, kleinkinders, agterkleinkinders) wat nodig het dat ons, as gelowiges, sal belê in ‘n toekoms vir húlle. Omdat God hierdie wêreld ook vir húlle geskep het. Omdat God vir húlle ‘n nuwe begin gun.
Leef ons met genoeg hoop, genoeg geloof in God se beloftes, dat ons bereid is om ons geld en ons bronne te sit waar ons monde is?

Hoe leef ons? Hoe is ons? Is ons realiste wat die huidige onstabiele omstandighede heel pragmaties opweeg en daarvolgens baie goed-berekende besluite neem itv ons toekoms en die toekoms van ons kinders? Of is ons idealiste wat nie gedryf word deur ons eie drome nie, maar deur God se droom, God se toekomsvisie, gegrond op God se beloftes. Hy was bereid om sy lewe op die spel te plaas, om Homself as waarborg te gee, met sy eie bloed die koopkontrak te teken – so séker is Hy van die toekoms wat Hy in die oog het. So seker is God self van die nuwe beginne wat Hy beloof.

Só seker dat Hy ‘n reënboog in die hemel hang as belofte van ‘n nuwe begin na die storm.
Só seker as wat die somer na die winter kom.
Só seker as wat daar ‘n kruis op die Vrydag was maar ‘n leë graf op die Sondag.
Hoe seker is ons van sy beloftes?
Seker genoeg om ons eie gemak op sy te skuif twv sy planne?
En sien ander mense in ons dade raak dat ons hoop het vir Gód se toekoms?

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.