Lukas 18:9-14

27 Oktober 2013 Koninkrykstyd – Pinelands 70-jaar feesvieringe en Hervormingsdiens
Prediker: Dr Tiana Bosman

Ons vier vandag nie een nie, maar twee feeste! Saam met alle ander Protestantse kerke vier ons die hervorming van die kerk wat in die 16e eeu plaasgevind het. Daarnaas vier ons ook ons eie gemeente se 70e verjaarsdag. Ek het besluit om die Leesroosterteks vir vandag te lees – juis omdat dit deel is van ons tradisie dat ons nie tekste kies sodat ons Sondag na Sondag by die Here kan hoor wat ons graag wíl hoor nie, maar dat ons ons ore oopmaak vir watter teks ookal op ‘n Sondag voor ons gelê word. So het dit gekom dat ons vandag ‘n teks lees wat eintlik glad nie ‘n verjaarsdag- of ‘n feestelike gevoel het nie. En tog glo ek dat daar nie ‘n meer gepaste teks vir hierdie dag kan wees nie.

Lees Lukas 18: 9-14
Twee mense het kerk toe gegaan. Die een was ‘n Fariseër. Alhoewel ‘n politieke party, het die Fariseërs behoort tot een van die strengste godsdienstige bewegings onder die Jode. Hulle het nie net die wette gehoorsaam nie, hulle het dit selfs oortref. Josephus (37-100 nC), self ‘n Fariseër, het geskryf dat hierdie groep gewoonlik die steun van die nasie (the common people) gehad het, omdat hulle nie besonder ryk was soos die meer elite groep Saduseërs nie. Hulle was bv bereid om baie van hulle inkomste (meer as wat voorgeskryf was) weg te gee vir die werk van die Here.
Die ander kerkganger was ‘n tollenaar, ‘n insamelaar van die Romeinse belastinggelde, en deur sy eie mense, die Jode, as ‘n volksverraaier beskou. Die Jode het geen ooghare vir die tollenaars gehad nie, want hulle was ook dikwels skuldig aan korrupsie – hulle het meer belasting ingesamel as wat nodig was en so het hulle hul eie volksgenote se geld gesteel en in weelde geleef terwyl soveel ander mense arm was. Iets waarmee ons onsself goed kan vereenselwig hier in SA … kyk net watter elite lewens koop ons belastinggelde vir die regeringsamptenaars, en kyk net hoeveel (miljoene!) van ons belastinggeld word jaarliks met korrupsie verduister.
Ons kan dus met reg sê die Fariseër was ‘n goeie mens, iemand wat opofferings gemaak het vir sy geloof (hy het op Maandae en op Donderdae gevas ipv die gebruiklike een keer ‘n jaar op die groot Versoeningsdag), en hy was iemand wat homself ingedoen het om sodoende die lewe vir die armes meer draaglik te maak – ‘n goeie mens! Die tollenaar, daarenteen, was ‘n slegte mens. Hy het homself verryk deur van ander te steel. Hy het geweet hoe om die sisteem te misbruik vir eie gewin.

Twee mense het kerk toe gegaan. Die een was ‘n goeie mens, en die ander een ‘n slegte mens. Die goeie mens neem sy plek in binne die tempel en hy neem die normale gebedsposisie in: arms en gesig na bo gehef en hy bid. Ons kan die Grieks op twee maniere vertaal: die Fariseër bid tot homself – maar nie noodwendig saggies nie, of hy bid oor homself – in elk geval dan hardop sodat almal kan hoor: “O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ‘n tiende van my hele inkomste.” So baie om voor dankbaar te wees. Maar as ons mooi lees sien ons dat die Fariseër eintlik maar net dankbaar is vir homself, en vir die feit dat hy soveel beter as ander mense is. Kyk dan net die tollenaar daar by die deur! Die Fariseër sê sy CV op, vir God en waarskynlik ook vir almal anders om te hoor. En hy is opreg dankbaar teenoor God – maar nie vir wat God doen nie. Hy is dankbaar vir wie hyself is en vir wat hy alles doen en nie doen nie.

Die slegte mens het daar ver bly staan. Hy het nie verder as die voorportaal gekom nie. Hy het gestop daar waar die nie-Jode moes stop, want sy volksgenote het hom in elk geval nie meer as een van hulle beskou nie. Hy weet dat hy nie verdien om sy voete oor die drumpel van die kerk te sit nie. Hy weet hoe skuldig en hoe onwaardig hy is, so dat hy homself nie kon kry om na die hemel op te kyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: “O God, wees my, sondaar, genadig.”

Twee mense gaan kerk toe. Die een is ‘n wonderlike Christen, formidabel. Die ander is ‘n verwese sondaar, misrabel. Die een bring sy CV, die ander sy sonde. Die een bring sy álles (meer as wat nodig is), die ander bring sy níks. Die een kom om te brag, die ander om te bid. “Ek sê vir julle,” sê Jesus dan: “Hierdie man, die sondaar, en nie die ander een nie, het huistoe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”

Tussen die Fariseër en die tollenaar is meeste of almal van ons eerder Fariseërs. Ons probeer ons bes om goeie christene te wees. Ons gee dalk nie almal ons tiende nie, maar ons gee darem wat ons dink ons kan. Ons steel nie. Ons reik uit na andere en ons help. Ons is betrokke by die gemeenskap. En die belangrikste “give-away” van alles: Nie een van ons het vanoggend geskroom om by die deur in te kom nie. Nie een het in die voorportaal bly staan nie, ons almal het genoeg vrymoedigheid gehad om ons geregmatige plekke in te neem. En die punt is: niemand hoef sleg te voel daaroor nie – God kies nie teen die Fariseër en vir die tollenaar nie. Daar is niks mee fout om vroom te wees of om te streef daarna om ‘n “goeie christen” te wees nie. Die Fariseër doen immers ‘n klomp wonderlike dinge en dis ook goed so! Die probleem kom egter wanneer hy begin dink dat sy goeie werke hom beter maak as ander mense, en wanneer sy goeie werke hom laat dink dat hy die reg het om oor ander (minder goeie?) mense te oordeel – baie fyn skimpe (dankie Here dat ek nie soos ander mense is nie, en ook nie soos die tollenaar wat daar staan nie!), maar tog in wese oordele… Doen ons dit nie ook soms wanneer ons verby mense op straat stap, of wanneer ons mense by ons deur (of selfs by die kerk!) wegwys nie? “Dankie Here dat ek nie só is nie.” Die probleem is wanneer ons heiligheid, ons holiness verander na holier-than-thou-ness.

Nou kan ons die ekstreem natuurlik ook na die ander kant toe misbruik sodat die tollenaar eintlik ‘n omgekeerde Fariseër word, en hierteen moet ons ook waak: “Ek dank U, o God, dat ek nie so hoogmoedig is soos daardie Fariseër nie. Ek is ‘n rower, ‘n deugniet, ‘n hond. Twee maal ‘n week gee ek my oor aan bedrog. En nege-tiendes van my bestaan gee ek aan die duiwel. Dankie God, dat my lewe my nederig hou.” Ons moenie begin roem op ons “doemwaardigheid” nie. Ons moenie hoogmoedig raak oor ons sonde nie. Ons moenie van ons sonde ons werk maak asof ons genoeg daarvan moet doen om ons nederig te hou nie. Die Here roep ons tog baie duidelik op om as nuwe mense te begin leef wanneer ons bewus raak van sy genade in ons lewens. Ons kan nie dan maar net aangaan soos voorheen, en selfs dan ons sondige dade op ons CV wil aandui as “prestasies vir die onwaardige en daarom die ware onvangs van die koninkryk van God nie”.

Die tollenaar in hierdie gelykenis roem juis nie in sy sonde nie. Dit is nie sy nederigheid wat sy saak by God reg maak nie. Hy besef dat hy niks het om voor God te bring nie, hy kom staan daar by met sy leegheid, en hy beroep hom alleen maar op die genade van God. Want die verskil lê by God, nie by die Fariseër of die tollenaar nie. Ons verdien nie God se vryspraak deur ons goeie of deur ons slegte werke nie. Dit is God alleen wat ons vryspreek. Hierdie tollenaar het besef dat hy op geen manier kan verdien om voor God te kom staan nie, en juis daarom mag hy daar staan (selfs al ontbreek die vrymoedigheid). As die Fariseër dit maar net ook kon besef.

Die tollenaar besef iets van wat dit beteken om voor God te staan sonder énige waarborge. Ons vier vandag die Protestantse Hervormingsfees. Die hervorming van die 16e eeu is gebou op die vier hoekstene van ons geloof:
Sola gratia – die genade alleen.
Sola fidei – die geloof alleen (dan nie ons geloof of die grootte of sterkte daarvan nie, maar die inhoud van ons geloof, nl Jesus Christus)
Sola Scriptura – die Skrif alleen, nie ditjies en datjies wat in die erediens die sentrale plek inneem nie, maar alleen maar die Woord van God.
Sola Deo gloria – aan God alleen die eer!

Ons vier ook as gemeente vandag ons 70e verjaarsdagfees. Ook vir ons geld die vier sola’s van die hervorming. Die van julle wat iets van die geskiedenis van die gemeente ken sal weet: Sola gratia: ons bestaan vandag nog weens die genade van God alleen.
Sola fidei: Ons hou vas nie aan ons geloof nie, want God weet dit is te wankelrig, maar ons hou vas aan die Een in wie ons glo, want, sê ons hoeksteen, Jesus Christus is die fondament van ons gemeente.
Sola Scriptura: Ons fokus as gemeente in Pinelands op die Woord van God alleen.
En dan die laaste: Sola Deo gloria: aan God alleen die eer! Vir ons bestaan, vir die verjaarsdag wat ons kan vier, vir die getuienis wat ons kan lewer, vir die hoop wat ons kan leef, vir die ruimte wat ons kan bied – nie vir mense wat op hul eie voete kan staan en op hul dade en prestasies kan roem nie, nie vir mense wat met hulle CV’s by ons kom aanklop nie, maar vir mense wat weet dat ons vir alles wat ons het, is en kan gee van God alleen afhanklik is.

Martin Luther was een van die groot geeste van die Hervorming gewees. Twee dae voor sy dood het hy geskryf: “Dit is waar, ons is bedelaars.” Pinelands NGK is ‘n gemeente vir bedelaars. Flashy mense wat in selfvoldaanheid op ‘n Sondag met hulle hande en hul gesigte na bo wil kom dankie sê vir alles wat hulle is, en wat dankbaar is dat daar ‘n voorportaal is wat die sondaars van die vromes skei, hulle sal nie hier welkom voel nie. Mense wat nie kwalifiseer om by ander deure in te gaan nie, of dit nou is omdat hulle te arm is of te eenvoudig, te sondig, te lig of te donker, of te jonk of te oud, of te gay of te skaam, hoe ookal hulle is of nie is nie – hier is hulle welkom. Julle, ons, almal. Ons oordeel nie. Ons weeg mekaar nie op nie. Niemand word hier te lig gevind nie. Hier is plek vir almal.

Ek wil afsluit met ‘n gebed van Thomas Ken (17e eeu) vir ons gemeente wat ek vry vertaal en aangepas het:

O Here, maak die deur van hierdie huis wyd genoeg om almal te ontvang wat na liefde en samesyn smag; maak die deur smal genoeg om alle jaloesie, trots en twis uit te keer. Maak die drumpel glad genoeg sodat dit nie ‘n struikelblok sal wees vir ons kindertjies en oumense nie, en ook nie vir voete wat afgedwaal het nie; en maak die drumpel grof en sterk genoeg om die krag van die versoeker weg te keer. Here, maak van die deur van hierdie huis die ingang tot u ewige koninkryk. Amen.

 

 

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Lukas 17:11-19

20 Oktober 2013 – Koninkrykstyd
Prediker: Bianca Botha

Soos baie van u reeds weet was die Algemene Sinode van die NGK (die afgelope week) in sitting en reeds vooraf is die tema van menswaardigheid as een van die fokusareas van hierdie sinode aangekondig. Dit, tesame met ‘n aantal ander ervarings wat ek hierdie week gehad het, het my opnuut weer laat nadink oor hierdie woord “menswaardigheid” wat ons so maklik rondgooi en tog so dikwels ignoreer.

In die lig hiervan het ek Vrydag ‘n baie interessante ervaring gehad toe ek en Marguerite (stigter van die Dandelion projek wat ons as gemeente ondersteun) in Cavendish se Woolies, MySchool kaarte gaan bemark en mense probeer oorreed het om die projek as begunstigdes op hul kaarte aan te bring. Die grootste fout wat mens kan maak, lyk dit toe vir my, is om met enigiemand te probeer kommunikeer wanneer hulle besig is met Vrydag-middag-inkopies. Dit was die eerste keer in ‘n lang tyd dat ek so “onwaardig” gevoel het. Hoewel ‘n paar gawe dames gestop het, het meeste mense van ver af reeds hard gekonsentreer om oogkontak te vermy, so wyd as moontlik om ons gestap, gemaak asof hulle ons nie hoor nie, vir ons die baie gelaaide “hand in die lug” gegee, of in die helfte van my sin weggestap. Niemand het egter omgegee om vir ‘n oomblik by die parfuum-spuiter stil te staan nie, maar met ons was baie van hulle gewoon ongeskik gewees. Nou weet ek dat daardie klein bietjie vernedering nie eens amper opweeg teenoor dit wat baie mense daagliks beleef nie, maar in daardie paar uur het ek regtig iets beleef van hoe dit voel wanneer mense jou menswees (daar wees) ignoreer. En in vandag se teks sien ons juis ook iets daarvan raak – van mense wat na die kant toe geskuif en verwerp word en hoe Jesus dan daarop reageer…

Lees Luk 17:11-19

In hierdie verhaal word ons soos soveel keer in die Evangelies en veral in Lukas, attent gemaak op Jesus se vermoë en se fokus daarop om grense oor te steek. Hoewel daar nie ‘n fisiese grens bestaan het tussen Galilea en Samaria nie, gaan dit hier veral oor die teologiese en simboliese waarde daarvan – van hierdie grens wat oorgesteek word.
Almal van ons leef, tot ‘n groter of kleiner mate en om verskeie redes, binne sekere grense en gemaksones. Die fisiese grense van ons huise of woongebiede (wat ons veiligheid en sekuriteit verseker), sosiale grense (soos vriendekringe of taalgroepe), godsdienstige grense… ens ens.

‘n Groep wat in die Bybelse tyd fisies en sosiaal buite die grense geleef het en daarheen verstoot is, was melaatses. Hulle mag nie in aanraking gekom het met enigiemand wat nie die siekte gehad het nie en kon nie saam met hul families (of enigiemand anders in die gemeenskap) aanbid of eet of leef nie. Mense het hulle vermy soos die dood, en vir alle praktiese doeleindes was dit eintlik maar vir die mense in hulle gemeenskap asof hulle dood was. U sou dalk al gehoor het dat daar na hulle verwys word as die “untouchables.” Ons sien dit ook in die teksgedeeltes wanneer die 10 melaatse mense op ‘n afstand bly staan en van daar na Jesus roep. Hulle weet al dat hulle dit nie mag durf om tot enigiemand wat nie self melaats is te nader nie. Hoewel hulle dus van die res van die gemeenskap geskei word, bestaan daar binne hul eie groep – “die melaatses” – egter nie meer godsdientige of kulturele grense nie, en word Samaritane en Jode (en wie nog almal) saamgebind deur hulle siektetoestand en gedeelde ellende.

Hierdie groep uitgeworpenes roep dan tot Jesus en vra (letterlik in die Grieks) dat Hy hulle barmhartig moet wees; dat Hy aan hulle barmhartigheid moet betoon – iets wat spesifiek in ander dele van Lukas as ‘n teken van die koninkryk van God beklemtoon word. En wanneer hulle dit vra spreek hulle Jesus aan as “Meester” – ‘n term wat andersins in Lukas slegs deur die dissipels gebruik word.

Vers 14: “Toe Hy hulle sien sê Hy: Gaan wys julle vir die Priesters.”
Hy sê nie vir hulle dat hulle genees gaan word of hoe nie, maar stuur hulle na die enigste mense wat hulle weer as rein kon verklaar en sodoende weer aan hulle toegang sal gee tot die gemeenskap – tot die samelewing. Hulle doen dit dan en word oppad daarheen gesond.
Jesus sien hulle lyding raak, Hy hoor hulle roepstem en hy reageer daarop, deur hulle te genees. Sy genade en genesing, sy betrokkenheid en ingrype, ken nie grense nie. Hy steur Hom nie aan die grense wat mense stel nie. Inteendeel, sien ons hier weer hoe Hy grense oorsteek en uitwis.

In die eerste deel van die verhaal sien ons dus hoe Jesus reageer wanneer die melaatses Hom aanroep.
En in reaksie op dit wat Jesus gedoen het, lees ons in vers 15, het “een van hulle (slegs een), toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God,” letterlik staan daar, “met ‘n groot stem verheerlik en op sy aangesig neergeval by (Jesus ) se voete en Hom gedank.”
Ons word dan ook attent gemaak op die feit dat die enigste een wat omdraai, wat dank betoon, boonop ‘n Samaritaan is – ‘n uitlander en ‘n vreemdeling.

Samaritane was, soos u moontlik weet, van die Jode se grootste vyande en daar het baie sterk spanning tussen hierdie twee groepe geheers. ‘n Spanning wat reeds in die tyd van Salomo ontstaan het toe die noordelike en die suidelike ryk geskeur het. Die Samaritane het hulle eie tempel gehad op die berg Gerísim in die noorde, met die Jode se tempel dan natuurlik op Sion in die suide, en hulle het hewig verskil oor watter een die ware aanbiddingsplek was. Daar was maw nie net religieuse en kulturele grense nie, maar ook fisiese grense wat hierdie twee groepe van mekaar geskei het.

Dat hierdie Samaritaan genees word herinner ons in die eerste plek daaraan dat elke persoon – hoe gering of vreemd of verkeerd ons hulle dalk mag ag – vir God waardig is; deel is van sy koninkryk.
En die enigste persoon wat dan op die gewenste wyse reageer op die wonderwerk wat Jesus verrig, is in werklikheid ‘n dubbele buitestander – ‘n melaatse én ‘n Samaritaan.
Hierdie vreemdeling word dan nie net genees nie, maar wys ook hoe ‘n getroue volgeling behoort te reageer – iets wat nie gebeur met diegene van wie mens dit eintlik sou verwag nie.
Dit is ironies dat dit juis iemand is wat as ‘n vreemdeling beskou en hanteer word – as een wat nie behoort nie – wat vir die “kerkmense” kom wys hoe afhanklik ons van God is, en wat vir hulle (en vir ons) wys van Wie ons hulp af kom; teenoor Wie ons moet dankbaar wees.

En vir hom sê Jesus: “Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.”
Hoewel al 10 genesing ervaar het, en al 10 dalk geglo het dat Jesus hul sou genees, is die Samaritaan nie net genees nie, maar heelgemaak. Sy dankbaarheid en die uitspreek daarvan bind hom meer persoonlik aan Jesus. En hy bind homself nie net aan Jesus omdat hy gesond geword het nie, maar ook omdat hy in Jesus iemand sien wat meer as ’n blote wonderdoener is. Soos die nege in hierdie verhaal was daar ook talle ander mense wat wel hulp van Jesus ontvang het sonder om ’n permanente band van dankbaarheid te vestig. Hoewel hulle almal se lewens drasties deur daardie genesing verander is, maak dit vir hulle geen impak op hoe hulle hulself in verhouding tot Jesus sien nie. Hulle besef nie die eintlike betekenis van daardie genesing nie. Vir hulle is daar geen dieper aanbiddingsbesef nie en daarom is die impak op hul geloofslewe nie so groot soos vir hierdie vreemdeling nie.

Hoekom?
Want hierdie vreemdeling sien, wat die ander nie sien nie.
Hierdie woord “sien” speel ‘n baie belangrike rol in hierdie verhaal. Eers sien Jesus die melaatses en Hy reageer op hulle noodkreet…
en daarna sien die Samaritaan dat hy genees is en hy reageer dan op die gepaste wyse – met lofprysing en danksegging.

Op die manier konfronteer die teks ons eintlik met twee vrae:
1. In die 1e plek, wat sien ons as ons rondom ons kyk, en hoe reageer ons daarop?
Sien ons in die eerste plek ons verskille raak – hoe mense anders is as ons, verkeerd is, vreemd is? Of sien ons wat ons eenders maak – ons menslikheid, ons broosheid, dat ons almal God se skepsels is… Is ons in staat om soos Jesus na mense te kyk; en om die grense, wat ons so maklik rondom ons bou, oor te steek en af te breek?
En selfs meer as dit: Reageer ons op dit wat ons sien – op die noodkrete van mense binne EN buite ons grense, soos wat Jesus sou reageer? Daar waar mense se menswaardigheid regtigwaar in die gedrang is. (Nou nie op ‘n Vrydag-middag in ‘n inkopiesentrum nie…)
Of hou ons maar verby, kyk ander pad en maak asof hulle nie daar is nie?
En ons hoef nie ver te gaan om hierdie dinge te sien nie. Ek het die voorreg gehad om in die week saam met Ina Kayalitsha toe te gaan, en is opnuut gekonfronteer met wat mense daar in die gesig staar. Die week voor dit het die gebedsgroep ‘n besoek aan Blikkiesdorp afgelê. Dan is daar Elsiesrivier en Maitland… ‘n Gay vriend van my wat vir jare nie kerk gegaan het nie vra nou die dag vir my of ek dink die kerk (nou nie ons kerk nie, maar die kerk as ‘n groter liggaam) sal hom aanvaar, of hy sal welkom wees? Dat hy moet wonder daaroor breek my hart. Die voorbeelde is eindeloos.
Wat sien ons wanneer ons rondom ons kyk en hoe reageer ons daarop?

Die tweede vraag waarmee die teks ons konfronteer is:
2. Wat sien ons as ons na ons eie lewens kyk en hoe reageer ons daarop?
Sien ons, aan die ander kant van die muntstuk, nog die positiewe dinge in ons eie lewens raak? Sien ons nog God se werk en se teenwoordigheid in ons lewens raak? Hoe hy reageer op ons noodkrete? Is ons oë oop daarvoor?
En as ons dit dan sien. Hoe reageer ons daarop?
Aanvaar ons dit bloot as vanselfsprekend? As iets wat maar moet gebeur? Is ons dankies iets wat ons aframmel oppad “na die Priesters toe.” Of neem ons nog die tyd om voor God se voete te gaan neerval? Om Hom te loof en prys vir dit wat Hy doen EN vir dit wat Hy reeds gedoen het?
Wat sien ons wanneer ons na ons eie lewens kyk?

Die koninkryk van God is aan die werk in en deur en rondom ons. Ons moet net onsself so instel dat ons dit raaksien. Onsself daaraan herinner. Die geleenthede raaksien, daar waar God ons kan gebruik om ‘n verskil te maak – waar ons barmhartigheid kan bewys. En ook daar waar Hy in ons lewens ‘n verskil maak, waar daar aan ons barmhartigheid bewys word – sodat ons dit nie miskyk nie, maar die tyd en die energie kan neem om te reageer – om dankie te sê.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Bianca Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Lukas 18:1-8

20 Oktober 2013 Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

 

Lees Lukas 18:1-8
Vs 1: ‘n moedeloosheid wat veroorsaak word deurdat God in sy genade sy wederkoms uitstel of vertraag.

 

Boodskap
Een van die grootste struikelblokke in ‘n gelowige se geloofslewe is waarskynlik gebed. Om die een of ander rede praat ons makliker oor God as met God. Want om te bid is in wese om te vra, en na vra kom die tyd van wag, en dikwels voel dit asof hierdie wagtydperk vir ewig duur, en dan gebeur dit ook dat ons ervaar dat God ons glad nie antwoord nie, dalk, wonder ons, omdat Hy ons in die eerste instansie nie gehoor het nie. Hoor hoe radeloos is Habakuk met God: “Hoe lank, o Here, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld! – maar U help nie?” (1:2); om nie eens van die Psalms te praat nie. Mense sukkel met gebed. Ook vandag. Soos in die OT tyd. Soos in Jesus se tyd. Daarom dat Jesus in Lukas 18 vir die dissipels hierdie gelykenis van die onregverdige regter en die weduwee vertel sodat hulle kan verstaan dat hulle moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. In die verloop van die gelykenis leer Jesus sy dissipels dat daar 3 aspekte is wat in plek moet wees vir gebed om ware gebed te wees. Die rede waarom mense so sukkel met gebed, is omdat hulle hierdie drie kernpunte nie reg verstaan nie.

 

In die gelykenis is daar twee karakters, naamlik die onregverdige regter (nou moet ons onthou dat ‘n regter ‘n man van hoë aansien en baie mag in die samelewing was) en die weduwee (as ‘n vrou wie se man oorlede is, het sy geen aansien gehad nie en daar was niemand om vir haar regte op te kom nie; sy was as randfiguur aangewese op die genade van ander mense). Hierdie vrou is te nagekom en sy het haar op die regverdige uitspraak van die regter beroep. Hy het hom egter nie aan God of mens gesteur nie en geweier om haar te help. Maar die weduwee het nie moed opgegee nie. Sy het weer en weer en weer teruggegaan na die regter toe totdat hy later so moedeloos was met haar knaende aanhoudende geneul in sy ore dat hy toegegee het aan haar versoek en haar gehelp het in haar regsaak. “Want,” sê hy,”anders kom klap sy my op die ou end ook nog!”
“Hoor wat sê die onregverdige regter,” sê Jesus vir sy dissipels. “Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie?”

 

1) In die verlede is daar soms oor hierdie teks gepreek asof God gelykgestel moet word aan die onregverdige regter. Soos die regter is God hardvogtig en onregverdig; Hy het ‘n ongevoelige hart. Hy gee nie graag nie en ook nie maklik nie. Slegs deur aanhoudende smeking, slegs as jy lank genoeg bid, nie nee vir ‘n antwoord vat nie, aggressief genoeg is (die weduwee wat dalk nog die regter sou klap ook), slegs dan kan jy God se hart sag maak en sal Hy ten einde laaste toegee aan jou versoek. Cicero was van mening dat gebed beteken dat ons die gode moet afmat – dat ons hulle so moeg moet smeek dat hulle nie anders kan as om ja te sê nie. Selfs God kan nie vir ewig uithou nie, selfs Hy moet iewers moeg en lam word van jou gesanik. En wanneer jy Hom eers by daai punt kan kry, dan verhoor Hy jou gebed. As ons eerlik is met onsself dan lyk God dalk soms ook vir ons soos hierdie onregverdige regter. Dit lyk asof Hy nie omgee nie, asof Hy nie hoor nie, asof Hy wil kyk hoe ver Hy ons kan druk voordat Hy bereid is om te gee waarvoor ons vra.

 

Hierdie verstaan van God asof Hy nes die onregverdige regter is is egter heeltemal verkeerd. Dit is hier waar ons die eerste kernpunt van gebed verkeerd verstaan – want ons verstaan nie wie en hoe God werklik is nie. Hy lyk soms vir ons so hard en so onregverdig. Maar Hy is dit juis nie. God is in sy aard nie soos die onregverdige regter nie, Hy is eerder die teenoorgestelde. God is liefdevol, simpatiek, genadig, regverdig. As die weduwee daarom die onregverdige regter so ver kon kry om haar in haar regsaak te help, hoeveel te meer sal God wat wat meet af aan goed is dan nie ook vir ons help nie. Om die waarheid te sê God is meer gewillig om te hoor as wat ons is om te praat, Hy is reg om te gee terwyl ons nog nie gereed is om te vra nie. Luther het gesê dat God so goed is dat, selfs al vra ons Hom nie meer nie (selfs al het ons opgehou bid), Hy nog steeds vir ons sorg en vir ons alles gee wat ons nodig het vir ons lewe. In ons toenadering tot God moet ons weet tot wie ons nader – nie tot ‘n onregverdige of ‘n tiran-agtige, harde, afsydige regter nie, maar tot ‘n Vader met ‘n liefdevolle, simpatieke, regverdige oor.

 

2) Die tweede kernpunt wat noodsaaklik is vir ‘n korrekte verstaan van gebed gaan om die doel van gebed. Ons wat van voorskool af al geleer is om ons handjies saam te vou en te bid, dis dekades later en steeds verstaan ons die doel van gebed nie. Die dat ons moedeloos raak met God wat dan nou oënskynlik nie ons gebede verhoor nie. Want ons dink, soos die dissipels, dat gebed oor óns gaan – oor óns behoeftes en óns nood en óns wil vir óns lewens, en oor ons eie klein koninkrykies: “Here, gee my asb gesondheid (sodat ek uit eie krag kan leef); ‘n vaste werk en genoeg geld in die bank (sodat ek nie so afhanklik hoef te wees van U vir elke liewe dag nie); Here, ek wil sooo graag employer-of-the-month wen sodat ek vlg maand met die firma se Mini-Cooper kan ry; gee my ‘n parkeerplek naby aan Howard Centre se deur en maak die ry in Pick-en-Pay kort want ek wil nie vir Sewende Laan mis nie; gee dat ek nie ure en ure hoef te soek voordat ek ‘n denim kry wat perfek pas en nog die regte skakering blou ook is nie; en ai, Here, daai banke by Cori Craft is darem maar mooi – moet asb nie dat iemand anders dit onder my uitkoop nie; oo en Here, gee asb tog net dat die tandarts ‘n wit stopsel sal insit en nie ‘n silwer een nie! Dis mos nie te veel gevra nie, Here?”
En as ons nou baie reguit kan praat – met al hierdie behoeftes wat ons so voor God kom lê dink ons eintlik dat Hy tot ons diens moet wees! Ons wil hê dat God ons moet bedien, dat Hy die kelner moet wees wat ons gerieflike lewens op ‘n skinkbord na ons toe dra sodra ons ons vingers klap…
Waarvan ons hier praat het absoluut niks met gebed uit te waai nie. Hierdie “gebedsversoeke” is die geneul van bederfde kinders wat dink dat spesiale voorregte hulle toekom. Gebed gaan egter nie om voorregte nie; dit gaan om regte en geregtigheid.

 

Die weduwee in die gelykenis staan nie vir die individu nie. Later, wanneer Jesus die gelykenis in vs 7 uitlê, hoor ons dat die weduwee ‘n hele groep mense verteenwoordig: die uitverkorenes, dws die kerk van Christus. Die weduwee is ‘n simbool van die kerk en die se nood, van die koms van koninkryk van God op aarde. Hoor hoe word die woordjie “reg” en “regsaak” en “regdoen” herhaaldelik in die gelykenis gebruik. Die weduwee vra/bid aanhoudend dat reg aan haar moet geskied. Jesus sê later dat God reg sal doen aan al sy uitverkorenes wat so dag en nag tot Hom roep.
Ware gebed is om aanhoudend te bid nie vir jouself en jou mense nie, maar vir die kerk van God, vir die nood van die kerk in die wêreld, vir die gebrek aan geregtigheid wat moet omswaai sodat die koninkryk van God op aarde sigbaar kan word. Gebed is om in Gods Naam te veg vir geregtigheid sodat die redding van God op aarde sigbaar kan word. Dit mag nooit gaan om ons eie klein koninkrykies nie, maar alleen om die koninkryk van God. Ons raak moedeloos omdat ons gebed tot ons eie voordeel wil gebruik. Wat gee ons die reg om so op onsself ingekeer te wees as ons sien watter ongeregtigheid rondom ons aan die gebeur is? Nee, gebed is ‘n uitnodiging om deel te neem aan die koms van die koninkryk van God op aarde.

 

Ons kry nie omdat ons nog nooit geleer het wat dit is wat ons mag vra nie. Nie dat Jesus nie probeer het nie.

Hoe het Jesus ons leer bid?
Ons Vader wat in die hemel is
Laat u Naam geheilig word (God se naam word geheilig waar reg en geregtigheid geskied)
Laat u koninkryk kom
Laat u wil geskied op die aarde net soos in die hemel
Gee ons vandag ons daaglikse brood (net wat ons vandag nodig het en niks meer nie)
Vergewe ons soos ons vergewe
Laat kom ons nie in die versoeking nie maar verlos van die bose.

 

En dan wonder ons waarom God nie ons gebede verhoor nie…

 

3.) Dus: Ons word moedeloos in ons gebede omdat (1) ons nie weet hoe God is nie en (2) ons nie weet wat gebed is nie. Dit bring ons by die derde kernpunt van gebed. Die gelykenis begin by ‘n storie wat demonstreer hoedat die kerk moedeloos word, hoedat die kerk vrae vra aangaande God se wil en sy vermoë om sy koninkryk te laat kom. Die gelykenis eindig met ‘n omgekeerde situasie waar God in 8b die een is wat vrae vra rondom die geloof van sy kerk. Op ‘n baie slim manier verhang Jesus die bordjies aan die einde. Ons het dalk altyd gedink dat God met sy hardvogtigheid die swak skakel in die gebedsproses is. Maar Jesus sê dat ons die swak skakels is wat die gebedsketting laat breek. Want ons geloof is so gebrekkig, ons geloof ken nie van aanhou en uithou nie. Ons het gedink die probleem is dat ons sit met ‘n God wat nie wil gee nie. Maar Jesus sê die probleem is dat sy kerk nie meer wil vra nie. Sal Hy nog ‘n kerk vind wat vra en soek en veg vir geregtigheid wanneer Hy na die aarde toe kom? Dalk is dit die rede waarom die wederkoms nie so op hande is soos wat almal van die NT tyd af dink nie – ons dink God kom nie sy beloftes na nie want waarom kom Hy dan nie net nie. Intussen is dit die ons, die kerk, wat nie haar beloftes nakom deur volhardend te bid en glo en aktief daaraan mee te werk dat die speelgrond (die wêreld) vir die koms van die koninkryk voorberei kan word nie. God stel die wederkoms uit want die kerk doen nie wat sy geroep is om te doen nie. Want ons is so besig met ons eie selfsugtige wêreldjies dat ons al heeltemal vergeet het van God se wêreld. Ons het nie tyd vir sy wêreld nie…

 

Om af te sluit: Die Here leer vir die dissipels dat hulle moet aanhou bid en nie moedeloos moet word nie. Om dit te kan doen moet hulle gebed reg verstaan. Gebed het 3 kernpunte:
– Weet wie God is: die liefdevolle Vader wat wíl gee
– Weet wat gebed is: die kerk se soeke en smeking en meewerk aan geregtigheid sodat God se koninkryk op aarde sigbaar kan word
– Gebed en geloof gaan hand-aan-hand. Ons moet volhardend bid, nie omdat God net sal antwoord as ons nie ophou nie. Ons hoef nie vir God in ‘n antwoord in te bid nie. Maar ons moet aanhou bid ter wille van ons geloof. Ons gebed het dus nie ten doel om vir God oor te haal nie, maar om ons eie geloof lewend te hou.

 

Aan die een kant die troos: God is nie soos die onregverdige regter nie. Ons moenie twyfel aan sy goeie wil en sy vermoë om die koninkryk te laat kom nie. Selfs al wag ons so lank daarvoor, moet ons steeds nie twyfel nie. Dalk lyk God soms soos die onregverdige regter, maar wéét dat Hy heeltemal anders is.
Aan die ander kant die vermaning: As kerk van Christus moet ons volhard in gebed, moet ons daagliks in geloof en in afwagting bid om geregtigheid en die koms van die koninkryk. Sonder om op te gee moet ons stry en veg vir God en sy reg hier op aarde – selfs al sien ons niks daarvan nie mag ons as kerk nie ophou bid, werk en glo daarin nie.

 

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Lukas 17:1-10

6 Oktober 2013 Koninkrykstyd
Prediker: Theunis Botha

Teks: Luk 17:1-10

‘n Teks wat deur die eeue uit konteks gepreek word
Die perikoop indeling volgens die leesrooster vir vandag is vanaf vers 5-10. Ek dink dit is belangrik om die hele perikoop te lees dws vanaf vers 1.

Dit gaan hoegenaamd in hierdie gedeelte daaroor dat as jy glo…hoe klein jou geloof ookal is, sal jy instaat wees tot ‘wonderwerke’ Die vergelyking word dan gemaak deur te sê – kyk na die mosterdsaadjie…die kleinste van alle saad maar in die kleinheid lê reeds opgesluit die ‘dna’ van ‘n plant wat groot kan word en in rotse kan groei en mure kan laat kraak. Jy moet dus net ‘n ‘mosterdsaadgeloof’ hê.

Daar is baie eksegete wat reken dat hierdie perikoop ‘n saambundeling is van ‘n aantal losstaande leerstellinge van Jesus wat niks met mekaar in verband het nie. Ek verskil egter.

Vir die verstaan van hierdie vers is die eerste 4 verse juis belangrik. Jesus onderig hulle oor hulle optrede in die openbaar en hulle styl van doen en hulle gedrag en getuienis. Dan leer hy hulle hoe belangrik hul weë is sodat hulle nie brose mense langs die pad laat struikel nie. In dieselfde asem leer Hy hulle ook hoe blangrik vergifnis is teen jou broer wat sy skuld bely…as hy dit velemale doen….vergewe jy hom, vergewe jy hom, vergewe jy hom, vergewe jy hom…..

En dan reageer sy dissipels met die versoek: gee ons meer geloof!…wat gelees moet word as ‘n belydenis…’n erkenning….Here ons kan nie…ons is nie daartoe instaat nie…ons kry dit nie reg nie!….ons misluk daarin! Help ons!

…en dan kom sy antwoord….’as julle maar geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie gehad het sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê:’ Trek jou met wortels en al uit die grond en plant jouself in die see’ en hy sou julle gehoorsaam.’

Gaan dit oor een of ander toorkuns/mag opgesluit in geloof?

Nee. Lukas wil met hierdie verhaal net dit: die dissipels roep in pynlike vernedering…ons kan nie. En Jesus se antwoord sê – hulle kan nie vergewe nie omdat daar tussen hulle en die oortreders ‘n boom/berg staan, en as ons dit wil verdoesel met allerlei verskonings, loer ons net deur die takke en om die takke na mekaar…nee, die boom moet uit!!…die ‘ek’ moet afgelê word…jy moet jouself verloën…jy moet glo. En die Nederlandse Geloofsbelydenis leer ons dat geloof is om God op Sy Woord te neem…om Jesus te omhels…hy wat na die wêreld gekom het om ons God se vryspraak/vergifnis toe te sê.

As jy bely dat jy glo…hoe klein en gering en broos jy dit mag reken…as jy jou self verloën…jouself ontken en aflê, kan jy nie anders as om in oorgawe te doen wat God vra nie. Dit is al wat God vra. As jy dit egter nie verstaan nie, staan vergifnis en ‘n keuse vir die regte weg soos ‘n moerbeiboom of ‘n berg in jou pad.
Lees Miga 6:6…waarmee sal ek die Here tegemoet-gaan?

Hy het jou beknd gemaak, o mens, wat goed is…om reg te doen, om lief te hê en trou te bewys en dat jy bedagsaam sal lewe voor God. Dit is al wat God vra…maar dit is alles.

Ons het geen aanspraak dat God aan ons moet gee omdat ons gee nie. God het reeds alles gegee. Hy het Homself gegee in Sy Seun. Hy vra nie een of ander gespierde geloof waarin ons ons kan beroep en aanspraak maak op ereposisies nie (v7-10)…al wat Hy vra is geloof..klein, maar wel geloof in Hom, wat ons sonder aansiens van persoon aanvaar en vrygespreek het. As ons dit doen en van daaruit uit dankbaarheid in die erediens van die lewe ingaan en ‘n lewe leef van diens aan ander en vergifnis teenoor ander, doen ons wat ons verplig is om te doen (v10)…en so alleen kom God se Koninkryk.

Amen.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Theunis Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.