Lukas 17:11-19

20 Oktober 2013 – Koninkrykstyd
Prediker: Bianca Botha

Soos baie van u reeds weet was die Algemene Sinode van die NGK (die afgelope week) in sitting en reeds vooraf is die tema van menswaardigheid as een van die fokusareas van hierdie sinode aangekondig. Dit, tesame met ‘n aantal ander ervarings wat ek hierdie week gehad het, het my opnuut weer laat nadink oor hierdie woord “menswaardigheid” wat ons so maklik rondgooi en tog so dikwels ignoreer.

In die lig hiervan het ek Vrydag ‘n baie interessante ervaring gehad toe ek en Marguerite (stigter van die Dandelion projek wat ons as gemeente ondersteun) in Cavendish se Woolies, MySchool kaarte gaan bemark en mense probeer oorreed het om die projek as begunstigdes op hul kaarte aan te bring. Die grootste fout wat mens kan maak, lyk dit toe vir my, is om met enigiemand te probeer kommunikeer wanneer hulle besig is met Vrydag-middag-inkopies. Dit was die eerste keer in ‘n lang tyd dat ek so “onwaardig” gevoel het. Hoewel ‘n paar gawe dames gestop het, het meeste mense van ver af reeds hard gekonsentreer om oogkontak te vermy, so wyd as moontlik om ons gestap, gemaak asof hulle ons nie hoor nie, vir ons die baie gelaaide “hand in die lug” gegee, of in die helfte van my sin weggestap. Niemand het egter omgegee om vir ‘n oomblik by die parfuum-spuiter stil te staan nie, maar met ons was baie van hulle gewoon ongeskik gewees. Nou weet ek dat daardie klein bietjie vernedering nie eens amper opweeg teenoor dit wat baie mense daagliks beleef nie, maar in daardie paar uur het ek regtig iets beleef van hoe dit voel wanneer mense jou menswees (daar wees) ignoreer. En in vandag se teks sien ons juis ook iets daarvan raak – van mense wat na die kant toe geskuif en verwerp word en hoe Jesus dan daarop reageer…

Lees Luk 17:11-19

In hierdie verhaal word ons soos soveel keer in die Evangelies en veral in Lukas, attent gemaak op Jesus se vermoë en se fokus daarop om grense oor te steek. Hoewel daar nie ‘n fisiese grens bestaan het tussen Galilea en Samaria nie, gaan dit hier veral oor die teologiese en simboliese waarde daarvan – van hierdie grens wat oorgesteek word.
Almal van ons leef, tot ‘n groter of kleiner mate en om verskeie redes, binne sekere grense en gemaksones. Die fisiese grense van ons huise of woongebiede (wat ons veiligheid en sekuriteit verseker), sosiale grense (soos vriendekringe of taalgroepe), godsdienstige grense… ens ens.

‘n Groep wat in die Bybelse tyd fisies en sosiaal buite die grense geleef het en daarheen verstoot is, was melaatses. Hulle mag nie in aanraking gekom het met enigiemand wat nie die siekte gehad het nie en kon nie saam met hul families (of enigiemand anders in die gemeenskap) aanbid of eet of leef nie. Mense het hulle vermy soos die dood, en vir alle praktiese doeleindes was dit eintlik maar vir die mense in hulle gemeenskap asof hulle dood was. U sou dalk al gehoor het dat daar na hulle verwys word as die “untouchables.” Ons sien dit ook in die teksgedeeltes wanneer die 10 melaatse mense op ‘n afstand bly staan en van daar na Jesus roep. Hulle weet al dat hulle dit nie mag durf om tot enigiemand wat nie self melaats is te nader nie. Hoewel hulle dus van die res van die gemeenskap geskei word, bestaan daar binne hul eie groep – “die melaatses” – egter nie meer godsdientige of kulturele grense nie, en word Samaritane en Jode (en wie nog almal) saamgebind deur hulle siektetoestand en gedeelde ellende.

Hierdie groep uitgeworpenes roep dan tot Jesus en vra (letterlik in die Grieks) dat Hy hulle barmhartig moet wees; dat Hy aan hulle barmhartigheid moet betoon – iets wat spesifiek in ander dele van Lukas as ‘n teken van die koninkryk van God beklemtoon word. En wanneer hulle dit vra spreek hulle Jesus aan as “Meester” – ‘n term wat andersins in Lukas slegs deur die dissipels gebruik word.

Vers 14: “Toe Hy hulle sien sê Hy: Gaan wys julle vir die Priesters.”
Hy sê nie vir hulle dat hulle genees gaan word of hoe nie, maar stuur hulle na die enigste mense wat hulle weer as rein kon verklaar en sodoende weer aan hulle toegang sal gee tot die gemeenskap – tot die samelewing. Hulle doen dit dan en word oppad daarheen gesond.
Jesus sien hulle lyding raak, Hy hoor hulle roepstem en hy reageer daarop, deur hulle te genees. Sy genade en genesing, sy betrokkenheid en ingrype, ken nie grense nie. Hy steur Hom nie aan die grense wat mense stel nie. Inteendeel, sien ons hier weer hoe Hy grense oorsteek en uitwis.

In die eerste deel van die verhaal sien ons dus hoe Jesus reageer wanneer die melaatses Hom aanroep.
En in reaksie op dit wat Jesus gedoen het, lees ons in vers 15, het “een van hulle (slegs een), toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God,” letterlik staan daar, “met ‘n groot stem verheerlik en op sy aangesig neergeval by (Jesus ) se voete en Hom gedank.”
Ons word dan ook attent gemaak op die feit dat die enigste een wat omdraai, wat dank betoon, boonop ‘n Samaritaan is – ‘n uitlander en ‘n vreemdeling.

Samaritane was, soos u moontlik weet, van die Jode se grootste vyande en daar het baie sterk spanning tussen hierdie twee groepe geheers. ‘n Spanning wat reeds in die tyd van Salomo ontstaan het toe die noordelike en die suidelike ryk geskeur het. Die Samaritane het hulle eie tempel gehad op die berg Gerísim in die noorde, met die Jode se tempel dan natuurlik op Sion in die suide, en hulle het hewig verskil oor watter een die ware aanbiddingsplek was. Daar was maw nie net religieuse en kulturele grense nie, maar ook fisiese grense wat hierdie twee groepe van mekaar geskei het.

Dat hierdie Samaritaan genees word herinner ons in die eerste plek daaraan dat elke persoon – hoe gering of vreemd of verkeerd ons hulle dalk mag ag – vir God waardig is; deel is van sy koninkryk.
En die enigste persoon wat dan op die gewenste wyse reageer op die wonderwerk wat Jesus verrig, is in werklikheid ‘n dubbele buitestander – ‘n melaatse én ‘n Samaritaan.
Hierdie vreemdeling word dan nie net genees nie, maar wys ook hoe ‘n getroue volgeling behoort te reageer – iets wat nie gebeur met diegene van wie mens dit eintlik sou verwag nie.
Dit is ironies dat dit juis iemand is wat as ‘n vreemdeling beskou en hanteer word – as een wat nie behoort nie – wat vir die “kerkmense” kom wys hoe afhanklik ons van God is, en wat vir hulle (en vir ons) wys van Wie ons hulp af kom; teenoor Wie ons moet dankbaar wees.

En vir hom sê Jesus: “Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.”
Hoewel al 10 genesing ervaar het, en al 10 dalk geglo het dat Jesus hul sou genees, is die Samaritaan nie net genees nie, maar heelgemaak. Sy dankbaarheid en die uitspreek daarvan bind hom meer persoonlik aan Jesus. En hy bind homself nie net aan Jesus omdat hy gesond geword het nie, maar ook omdat hy in Jesus iemand sien wat meer as ’n blote wonderdoener is. Soos die nege in hierdie verhaal was daar ook talle ander mense wat wel hulp van Jesus ontvang het sonder om ’n permanente band van dankbaarheid te vestig. Hoewel hulle almal se lewens drasties deur daardie genesing verander is, maak dit vir hulle geen impak op hoe hulle hulself in verhouding tot Jesus sien nie. Hulle besef nie die eintlike betekenis van daardie genesing nie. Vir hulle is daar geen dieper aanbiddingsbesef nie en daarom is die impak op hul geloofslewe nie so groot soos vir hierdie vreemdeling nie.

Hoekom?
Want hierdie vreemdeling sien, wat die ander nie sien nie.
Hierdie woord “sien” speel ‘n baie belangrike rol in hierdie verhaal. Eers sien Jesus die melaatses en Hy reageer op hulle noodkreet…
en daarna sien die Samaritaan dat hy genees is en hy reageer dan op die gepaste wyse – met lofprysing en danksegging.

Op die manier konfronteer die teks ons eintlik met twee vrae:
1. In die 1e plek, wat sien ons as ons rondom ons kyk, en hoe reageer ons daarop?
Sien ons in die eerste plek ons verskille raak – hoe mense anders is as ons, verkeerd is, vreemd is? Of sien ons wat ons eenders maak – ons menslikheid, ons broosheid, dat ons almal God se skepsels is… Is ons in staat om soos Jesus na mense te kyk; en om die grense, wat ons so maklik rondom ons bou, oor te steek en af te breek?
En selfs meer as dit: Reageer ons op dit wat ons sien – op die noodkrete van mense binne EN buite ons grense, soos wat Jesus sou reageer? Daar waar mense se menswaardigheid regtigwaar in die gedrang is. (Nou nie op ‘n Vrydag-middag in ‘n inkopiesentrum nie…)
Of hou ons maar verby, kyk ander pad en maak asof hulle nie daar is nie?
En ons hoef nie ver te gaan om hierdie dinge te sien nie. Ek het die voorreg gehad om in die week saam met Ina Kayalitsha toe te gaan, en is opnuut gekonfronteer met wat mense daar in die gesig staar. Die week voor dit het die gebedsgroep ‘n besoek aan Blikkiesdorp afgelê. Dan is daar Elsiesrivier en Maitland… ‘n Gay vriend van my wat vir jare nie kerk gegaan het nie vra nou die dag vir my of ek dink die kerk (nou nie ons kerk nie, maar die kerk as ‘n groter liggaam) sal hom aanvaar, of hy sal welkom wees? Dat hy moet wonder daaroor breek my hart. Die voorbeelde is eindeloos.
Wat sien ons wanneer ons rondom ons kyk en hoe reageer ons daarop?

Die tweede vraag waarmee die teks ons konfronteer is:
2. Wat sien ons as ons na ons eie lewens kyk en hoe reageer ons daarop?
Sien ons, aan die ander kant van die muntstuk, nog die positiewe dinge in ons eie lewens raak? Sien ons nog God se werk en se teenwoordigheid in ons lewens raak? Hoe hy reageer op ons noodkrete? Is ons oë oop daarvoor?
En as ons dit dan sien. Hoe reageer ons daarop?
Aanvaar ons dit bloot as vanselfsprekend? As iets wat maar moet gebeur? Is ons dankies iets wat ons aframmel oppad “na die Priesters toe.” Of neem ons nog die tyd om voor God se voete te gaan neerval? Om Hom te loof en prys vir dit wat Hy doen EN vir dit wat Hy reeds gedoen het?
Wat sien ons wanneer ons na ons eie lewens kyk?

Die koninkryk van God is aan die werk in en deur en rondom ons. Ons moet net onsself so instel dat ons dit raaksien. Onsself daaraan herinner. Die geleenthede raaksien, daar waar God ons kan gebruik om ‘n verskil te maak – waar ons barmhartigheid kan bewys. En ook daar waar Hy in ons lewens ‘n verskil maak, waar daar aan ons barmhartigheid bewys word – sodat ons dit nie miskyk nie, maar die tyd en die energie kan neem om te reageer – om dankie te sê.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Bianca Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.