Lukas 18:1-8

20 Oktober 2013 Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

 

Lees Lukas 18:1-8
Vs 1: ‘n moedeloosheid wat veroorsaak word deurdat God in sy genade sy wederkoms uitstel of vertraag.

 

Boodskap
Een van die grootste struikelblokke in ‘n gelowige se geloofslewe is waarskynlik gebed. Om die een of ander rede praat ons makliker oor God as met God. Want om te bid is in wese om te vra, en na vra kom die tyd van wag, en dikwels voel dit asof hierdie wagtydperk vir ewig duur, en dan gebeur dit ook dat ons ervaar dat God ons glad nie antwoord nie, dalk, wonder ons, omdat Hy ons in die eerste instansie nie gehoor het nie. Hoor hoe radeloos is Habakuk met God: “Hoe lank, o Here, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld! – maar U help nie?” (1:2); om nie eens van die Psalms te praat nie. Mense sukkel met gebed. Ook vandag. Soos in die OT tyd. Soos in Jesus se tyd. Daarom dat Jesus in Lukas 18 vir die dissipels hierdie gelykenis van die onregverdige regter en die weduwee vertel sodat hulle kan verstaan dat hulle moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. In die verloop van die gelykenis leer Jesus sy dissipels dat daar 3 aspekte is wat in plek moet wees vir gebed om ware gebed te wees. Die rede waarom mense so sukkel met gebed, is omdat hulle hierdie drie kernpunte nie reg verstaan nie.

 

In die gelykenis is daar twee karakters, naamlik die onregverdige regter (nou moet ons onthou dat ‘n regter ‘n man van hoë aansien en baie mag in die samelewing was) en die weduwee (as ‘n vrou wie se man oorlede is, het sy geen aansien gehad nie en daar was niemand om vir haar regte op te kom nie; sy was as randfiguur aangewese op die genade van ander mense). Hierdie vrou is te nagekom en sy het haar op die regverdige uitspraak van die regter beroep. Hy het hom egter nie aan God of mens gesteur nie en geweier om haar te help. Maar die weduwee het nie moed opgegee nie. Sy het weer en weer en weer teruggegaan na die regter toe totdat hy later so moedeloos was met haar knaende aanhoudende geneul in sy ore dat hy toegegee het aan haar versoek en haar gehelp het in haar regsaak. “Want,” sê hy,”anders kom klap sy my op die ou end ook nog!”
“Hoor wat sê die onregverdige regter,” sê Jesus vir sy dissipels. “Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie?”

 

1) In die verlede is daar soms oor hierdie teks gepreek asof God gelykgestel moet word aan die onregverdige regter. Soos die regter is God hardvogtig en onregverdig; Hy het ‘n ongevoelige hart. Hy gee nie graag nie en ook nie maklik nie. Slegs deur aanhoudende smeking, slegs as jy lank genoeg bid, nie nee vir ‘n antwoord vat nie, aggressief genoeg is (die weduwee wat dalk nog die regter sou klap ook), slegs dan kan jy God se hart sag maak en sal Hy ten einde laaste toegee aan jou versoek. Cicero was van mening dat gebed beteken dat ons die gode moet afmat – dat ons hulle so moeg moet smeek dat hulle nie anders kan as om ja te sê nie. Selfs God kan nie vir ewig uithou nie, selfs Hy moet iewers moeg en lam word van jou gesanik. En wanneer jy Hom eers by daai punt kan kry, dan verhoor Hy jou gebed. As ons eerlik is met onsself dan lyk God dalk soms ook vir ons soos hierdie onregverdige regter. Dit lyk asof Hy nie omgee nie, asof Hy nie hoor nie, asof Hy wil kyk hoe ver Hy ons kan druk voordat Hy bereid is om te gee waarvoor ons vra.

 

Hierdie verstaan van God asof Hy nes die onregverdige regter is is egter heeltemal verkeerd. Dit is hier waar ons die eerste kernpunt van gebed verkeerd verstaan – want ons verstaan nie wie en hoe God werklik is nie. Hy lyk soms vir ons so hard en so onregverdig. Maar Hy is dit juis nie. God is in sy aard nie soos die onregverdige regter nie, Hy is eerder die teenoorgestelde. God is liefdevol, simpatiek, genadig, regverdig. As die weduwee daarom die onregverdige regter so ver kon kry om haar in haar regsaak te help, hoeveel te meer sal God wat wat meet af aan goed is dan nie ook vir ons help nie. Om die waarheid te sê God is meer gewillig om te hoor as wat ons is om te praat, Hy is reg om te gee terwyl ons nog nie gereed is om te vra nie. Luther het gesê dat God so goed is dat, selfs al vra ons Hom nie meer nie (selfs al het ons opgehou bid), Hy nog steeds vir ons sorg en vir ons alles gee wat ons nodig het vir ons lewe. In ons toenadering tot God moet ons weet tot wie ons nader – nie tot ‘n onregverdige of ‘n tiran-agtige, harde, afsydige regter nie, maar tot ‘n Vader met ‘n liefdevolle, simpatieke, regverdige oor.

 

2) Die tweede kernpunt wat noodsaaklik is vir ‘n korrekte verstaan van gebed gaan om die doel van gebed. Ons wat van voorskool af al geleer is om ons handjies saam te vou en te bid, dis dekades later en steeds verstaan ons die doel van gebed nie. Die dat ons moedeloos raak met God wat dan nou oënskynlik nie ons gebede verhoor nie. Want ons dink, soos die dissipels, dat gebed oor óns gaan – oor óns behoeftes en óns nood en óns wil vir óns lewens, en oor ons eie klein koninkrykies: “Here, gee my asb gesondheid (sodat ek uit eie krag kan leef); ‘n vaste werk en genoeg geld in die bank (sodat ek nie so afhanklik hoef te wees van U vir elke liewe dag nie); Here, ek wil sooo graag employer-of-the-month wen sodat ek vlg maand met die firma se Mini-Cooper kan ry; gee my ‘n parkeerplek naby aan Howard Centre se deur en maak die ry in Pick-en-Pay kort want ek wil nie vir Sewende Laan mis nie; gee dat ek nie ure en ure hoef te soek voordat ek ‘n denim kry wat perfek pas en nog die regte skakering blou ook is nie; en ai, Here, daai banke by Cori Craft is darem maar mooi – moet asb nie dat iemand anders dit onder my uitkoop nie; oo en Here, gee asb tog net dat die tandarts ‘n wit stopsel sal insit en nie ‘n silwer een nie! Dis mos nie te veel gevra nie, Here?”
En as ons nou baie reguit kan praat – met al hierdie behoeftes wat ons so voor God kom lê dink ons eintlik dat Hy tot ons diens moet wees! Ons wil hê dat God ons moet bedien, dat Hy die kelner moet wees wat ons gerieflike lewens op ‘n skinkbord na ons toe dra sodra ons ons vingers klap…
Waarvan ons hier praat het absoluut niks met gebed uit te waai nie. Hierdie “gebedsversoeke” is die geneul van bederfde kinders wat dink dat spesiale voorregte hulle toekom. Gebed gaan egter nie om voorregte nie; dit gaan om regte en geregtigheid.

 

Die weduwee in die gelykenis staan nie vir die individu nie. Later, wanneer Jesus die gelykenis in vs 7 uitlê, hoor ons dat die weduwee ‘n hele groep mense verteenwoordig: die uitverkorenes, dws die kerk van Christus. Die weduwee is ‘n simbool van die kerk en die se nood, van die koms van koninkryk van God op aarde. Hoor hoe word die woordjie “reg” en “regsaak” en “regdoen” herhaaldelik in die gelykenis gebruik. Die weduwee vra/bid aanhoudend dat reg aan haar moet geskied. Jesus sê later dat God reg sal doen aan al sy uitverkorenes wat so dag en nag tot Hom roep.
Ware gebed is om aanhoudend te bid nie vir jouself en jou mense nie, maar vir die kerk van God, vir die nood van die kerk in die wêreld, vir die gebrek aan geregtigheid wat moet omswaai sodat die koninkryk van God op aarde sigbaar kan word. Gebed is om in Gods Naam te veg vir geregtigheid sodat die redding van God op aarde sigbaar kan word. Dit mag nooit gaan om ons eie klein koninkrykies nie, maar alleen om die koninkryk van God. Ons raak moedeloos omdat ons gebed tot ons eie voordeel wil gebruik. Wat gee ons die reg om so op onsself ingekeer te wees as ons sien watter ongeregtigheid rondom ons aan die gebeur is? Nee, gebed is ‘n uitnodiging om deel te neem aan die koms van die koninkryk van God op aarde.

 

Ons kry nie omdat ons nog nooit geleer het wat dit is wat ons mag vra nie. Nie dat Jesus nie probeer het nie.

Hoe het Jesus ons leer bid?
Ons Vader wat in die hemel is
Laat u Naam geheilig word (God se naam word geheilig waar reg en geregtigheid geskied)
Laat u koninkryk kom
Laat u wil geskied op die aarde net soos in die hemel
Gee ons vandag ons daaglikse brood (net wat ons vandag nodig het en niks meer nie)
Vergewe ons soos ons vergewe
Laat kom ons nie in die versoeking nie maar verlos van die bose.

 

En dan wonder ons waarom God nie ons gebede verhoor nie…

 

3.) Dus: Ons word moedeloos in ons gebede omdat (1) ons nie weet hoe God is nie en (2) ons nie weet wat gebed is nie. Dit bring ons by die derde kernpunt van gebed. Die gelykenis begin by ‘n storie wat demonstreer hoedat die kerk moedeloos word, hoedat die kerk vrae vra aangaande God se wil en sy vermoë om sy koninkryk te laat kom. Die gelykenis eindig met ‘n omgekeerde situasie waar God in 8b die een is wat vrae vra rondom die geloof van sy kerk. Op ‘n baie slim manier verhang Jesus die bordjies aan die einde. Ons het dalk altyd gedink dat God met sy hardvogtigheid die swak skakel in die gebedsproses is. Maar Jesus sê dat ons die swak skakels is wat die gebedsketting laat breek. Want ons geloof is so gebrekkig, ons geloof ken nie van aanhou en uithou nie. Ons het gedink die probleem is dat ons sit met ‘n God wat nie wil gee nie. Maar Jesus sê die probleem is dat sy kerk nie meer wil vra nie. Sal Hy nog ‘n kerk vind wat vra en soek en veg vir geregtigheid wanneer Hy na die aarde toe kom? Dalk is dit die rede waarom die wederkoms nie so op hande is soos wat almal van die NT tyd af dink nie – ons dink God kom nie sy beloftes na nie want waarom kom Hy dan nie net nie. Intussen is dit die ons, die kerk, wat nie haar beloftes nakom deur volhardend te bid en glo en aktief daaraan mee te werk dat die speelgrond (die wêreld) vir die koms van die koninkryk voorberei kan word nie. God stel die wederkoms uit want die kerk doen nie wat sy geroep is om te doen nie. Want ons is so besig met ons eie selfsugtige wêreldjies dat ons al heeltemal vergeet het van God se wêreld. Ons het nie tyd vir sy wêreld nie…

 

Om af te sluit: Die Here leer vir die dissipels dat hulle moet aanhou bid en nie moedeloos moet word nie. Om dit te kan doen moet hulle gebed reg verstaan. Gebed het 3 kernpunte:
– Weet wie God is: die liefdevolle Vader wat wíl gee
– Weet wat gebed is: die kerk se soeke en smeking en meewerk aan geregtigheid sodat God se koninkryk op aarde sigbaar kan word
– Gebed en geloof gaan hand-aan-hand. Ons moet volhardend bid, nie omdat God net sal antwoord as ons nie ophou nie. Ons hoef nie vir God in ‘n antwoord in te bid nie. Maar ons moet aanhou bid ter wille van ons geloof. Ons gebed het dus nie ten doel om vir God oor te haal nie, maar om ons eie geloof lewend te hou.

 

Aan die een kant die troos: God is nie soos die onregverdige regter nie. Ons moenie twyfel aan sy goeie wil en sy vermoë om die koninkryk te laat kom nie. Selfs al wag ons so lank daarvoor, moet ons steeds nie twyfel nie. Dalk lyk God soms soos die onregverdige regter, maar wéét dat Hy heeltemal anders is.
Aan die ander kant die vermaning: As kerk van Christus moet ons volhard in gebed, moet ons daagliks in geloof en in afwagting bid om geregtigheid en die koms van die koninkryk. Sonder om op te gee moet ons stry en veg vir God en sy reg hier op aarde – selfs al sien ons niks daarvan nie mag ons as kerk nie ophou bid, werk en glo daarin nie.

 

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.