Lukas 18:9-14

27 Oktober 2013 Koninkrykstyd – Pinelands 70-jaar feesvieringe en Hervormingsdiens
Prediker: Dr Tiana Bosman

Ons vier vandag nie een nie, maar twee feeste! Saam met alle ander Protestantse kerke vier ons die hervorming van die kerk wat in die 16e eeu plaasgevind het. Daarnaas vier ons ook ons eie gemeente se 70e verjaarsdag. Ek het besluit om die Leesroosterteks vir vandag te lees – juis omdat dit deel is van ons tradisie dat ons nie tekste kies sodat ons Sondag na Sondag by die Here kan hoor wat ons graag wíl hoor nie, maar dat ons ons ore oopmaak vir watter teks ookal op ‘n Sondag voor ons gelê word. So het dit gekom dat ons vandag ‘n teks lees wat eintlik glad nie ‘n verjaarsdag- of ‘n feestelike gevoel het nie. En tog glo ek dat daar nie ‘n meer gepaste teks vir hierdie dag kan wees nie.

Lees Lukas 18: 9-14
Twee mense het kerk toe gegaan. Die een was ‘n Fariseër. Alhoewel ‘n politieke party, het die Fariseërs behoort tot een van die strengste godsdienstige bewegings onder die Jode. Hulle het nie net die wette gehoorsaam nie, hulle het dit selfs oortref. Josephus (37-100 nC), self ‘n Fariseër, het geskryf dat hierdie groep gewoonlik die steun van die nasie (the common people) gehad het, omdat hulle nie besonder ryk was soos die meer elite groep Saduseërs nie. Hulle was bv bereid om baie van hulle inkomste (meer as wat voorgeskryf was) weg te gee vir die werk van die Here.
Die ander kerkganger was ‘n tollenaar, ‘n insamelaar van die Romeinse belastinggelde, en deur sy eie mense, die Jode, as ‘n volksverraaier beskou. Die Jode het geen ooghare vir die tollenaars gehad nie, want hulle was ook dikwels skuldig aan korrupsie – hulle het meer belasting ingesamel as wat nodig was en so het hulle hul eie volksgenote se geld gesteel en in weelde geleef terwyl soveel ander mense arm was. Iets waarmee ons onsself goed kan vereenselwig hier in SA … kyk net watter elite lewens koop ons belastinggelde vir die regeringsamptenaars, en kyk net hoeveel (miljoene!) van ons belastinggeld word jaarliks met korrupsie verduister.
Ons kan dus met reg sê die Fariseër was ‘n goeie mens, iemand wat opofferings gemaak het vir sy geloof (hy het op Maandae en op Donderdae gevas ipv die gebruiklike een keer ‘n jaar op die groot Versoeningsdag), en hy was iemand wat homself ingedoen het om sodoende die lewe vir die armes meer draaglik te maak – ‘n goeie mens! Die tollenaar, daarenteen, was ‘n slegte mens. Hy het homself verryk deur van ander te steel. Hy het geweet hoe om die sisteem te misbruik vir eie gewin.

Twee mense het kerk toe gegaan. Die een was ‘n goeie mens, en die ander een ‘n slegte mens. Die goeie mens neem sy plek in binne die tempel en hy neem die normale gebedsposisie in: arms en gesig na bo gehef en hy bid. Ons kan die Grieks op twee maniere vertaal: die Fariseër bid tot homself – maar nie noodwendig saggies nie, of hy bid oor homself – in elk geval dan hardop sodat almal kan hoor: “O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ‘n tiende van my hele inkomste.” So baie om voor dankbaar te wees. Maar as ons mooi lees sien ons dat die Fariseër eintlik maar net dankbaar is vir homself, en vir die feit dat hy soveel beter as ander mense is. Kyk dan net die tollenaar daar by die deur! Die Fariseër sê sy CV op, vir God en waarskynlik ook vir almal anders om te hoor. En hy is opreg dankbaar teenoor God – maar nie vir wat God doen nie. Hy is dankbaar vir wie hyself is en vir wat hy alles doen en nie doen nie.

Die slegte mens het daar ver bly staan. Hy het nie verder as die voorportaal gekom nie. Hy het gestop daar waar die nie-Jode moes stop, want sy volksgenote het hom in elk geval nie meer as een van hulle beskou nie. Hy weet dat hy nie verdien om sy voete oor die drumpel van die kerk te sit nie. Hy weet hoe skuldig en hoe onwaardig hy is, so dat hy homself nie kon kry om na die hemel op te kyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: “O God, wees my, sondaar, genadig.”

Twee mense gaan kerk toe. Die een is ‘n wonderlike Christen, formidabel. Die ander is ‘n verwese sondaar, misrabel. Die een bring sy CV, die ander sy sonde. Die een bring sy álles (meer as wat nodig is), die ander bring sy níks. Die een kom om te brag, die ander om te bid. “Ek sê vir julle,” sê Jesus dan: “Hierdie man, die sondaar, en nie die ander een nie, het huistoe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”

Tussen die Fariseër en die tollenaar is meeste of almal van ons eerder Fariseërs. Ons probeer ons bes om goeie christene te wees. Ons gee dalk nie almal ons tiende nie, maar ons gee darem wat ons dink ons kan. Ons steel nie. Ons reik uit na andere en ons help. Ons is betrokke by die gemeenskap. En die belangrikste “give-away” van alles: Nie een van ons het vanoggend geskroom om by die deur in te kom nie. Nie een het in die voorportaal bly staan nie, ons almal het genoeg vrymoedigheid gehad om ons geregmatige plekke in te neem. En die punt is: niemand hoef sleg te voel daaroor nie – God kies nie teen die Fariseër en vir die tollenaar nie. Daar is niks mee fout om vroom te wees of om te streef daarna om ‘n “goeie christen” te wees nie. Die Fariseër doen immers ‘n klomp wonderlike dinge en dis ook goed so! Die probleem kom egter wanneer hy begin dink dat sy goeie werke hom beter maak as ander mense, en wanneer sy goeie werke hom laat dink dat hy die reg het om oor ander (minder goeie?) mense te oordeel – baie fyn skimpe (dankie Here dat ek nie soos ander mense is nie, en ook nie soos die tollenaar wat daar staan nie!), maar tog in wese oordele… Doen ons dit nie ook soms wanneer ons verby mense op straat stap, of wanneer ons mense by ons deur (of selfs by die kerk!) wegwys nie? “Dankie Here dat ek nie só is nie.” Die probleem is wanneer ons heiligheid, ons holiness verander na holier-than-thou-ness.

Nou kan ons die ekstreem natuurlik ook na die ander kant toe misbruik sodat die tollenaar eintlik ‘n omgekeerde Fariseër word, en hierteen moet ons ook waak: “Ek dank U, o God, dat ek nie so hoogmoedig is soos daardie Fariseër nie. Ek is ‘n rower, ‘n deugniet, ‘n hond. Twee maal ‘n week gee ek my oor aan bedrog. En nege-tiendes van my bestaan gee ek aan die duiwel. Dankie God, dat my lewe my nederig hou.” Ons moenie begin roem op ons “doemwaardigheid” nie. Ons moenie hoogmoedig raak oor ons sonde nie. Ons moenie van ons sonde ons werk maak asof ons genoeg daarvan moet doen om ons nederig te hou nie. Die Here roep ons tog baie duidelik op om as nuwe mense te begin leef wanneer ons bewus raak van sy genade in ons lewens. Ons kan nie dan maar net aangaan soos voorheen, en selfs dan ons sondige dade op ons CV wil aandui as “prestasies vir die onwaardige en daarom die ware onvangs van die koninkryk van God nie”.

Die tollenaar in hierdie gelykenis roem juis nie in sy sonde nie. Dit is nie sy nederigheid wat sy saak by God reg maak nie. Hy besef dat hy niks het om voor God te bring nie, hy kom staan daar by met sy leegheid, en hy beroep hom alleen maar op die genade van God. Want die verskil lê by God, nie by die Fariseër of die tollenaar nie. Ons verdien nie God se vryspraak deur ons goeie of deur ons slegte werke nie. Dit is God alleen wat ons vryspreek. Hierdie tollenaar het besef dat hy op geen manier kan verdien om voor God te kom staan nie, en juis daarom mag hy daar staan (selfs al ontbreek die vrymoedigheid). As die Fariseër dit maar net ook kon besef.

Die tollenaar besef iets van wat dit beteken om voor God te staan sonder énige waarborge. Ons vier vandag die Protestantse Hervormingsfees. Die hervorming van die 16e eeu is gebou op die vier hoekstene van ons geloof:
Sola gratia – die genade alleen.
Sola fidei – die geloof alleen (dan nie ons geloof of die grootte of sterkte daarvan nie, maar die inhoud van ons geloof, nl Jesus Christus)
Sola Scriptura – die Skrif alleen, nie ditjies en datjies wat in die erediens die sentrale plek inneem nie, maar alleen maar die Woord van God.
Sola Deo gloria – aan God alleen die eer!

Ons vier ook as gemeente vandag ons 70e verjaarsdagfees. Ook vir ons geld die vier sola’s van die hervorming. Die van julle wat iets van die geskiedenis van die gemeente ken sal weet: Sola gratia: ons bestaan vandag nog weens die genade van God alleen.
Sola fidei: Ons hou vas nie aan ons geloof nie, want God weet dit is te wankelrig, maar ons hou vas aan die Een in wie ons glo, want, sê ons hoeksteen, Jesus Christus is die fondament van ons gemeente.
Sola Scriptura: Ons fokus as gemeente in Pinelands op die Woord van God alleen.
En dan die laaste: Sola Deo gloria: aan God alleen die eer! Vir ons bestaan, vir die verjaarsdag wat ons kan vier, vir die getuienis wat ons kan lewer, vir die hoop wat ons kan leef, vir die ruimte wat ons kan bied – nie vir mense wat op hul eie voete kan staan en op hul dade en prestasies kan roem nie, nie vir mense wat met hulle CV’s by ons kom aanklop nie, maar vir mense wat weet dat ons vir alles wat ons het, is en kan gee van God alleen afhanklik is.

Martin Luther was een van die groot geeste van die Hervorming gewees. Twee dae voor sy dood het hy geskryf: “Dit is waar, ons is bedelaars.” Pinelands NGK is ‘n gemeente vir bedelaars. Flashy mense wat in selfvoldaanheid op ‘n Sondag met hulle hande en hul gesigte na bo wil kom dankie sê vir alles wat hulle is, en wat dankbaar is dat daar ‘n voorportaal is wat die sondaars van die vromes skei, hulle sal nie hier welkom voel nie. Mense wat nie kwalifiseer om by ander deure in te gaan nie, of dit nou is omdat hulle te arm is of te eenvoudig, te sondig, te lig of te donker, of te jonk of te oud, of te gay of te skaam, hoe ookal hulle is of nie is nie – hier is hulle welkom. Julle, ons, almal. Ons oordeel nie. Ons weeg mekaar nie op nie. Niemand word hier te lig gevind nie. Hier is plek vir almal.

Ek wil afsluit met ‘n gebed van Thomas Ken (17e eeu) vir ons gemeente wat ek vry vertaal en aangepas het:

O Here, maak die deur van hierdie huis wyd genoeg om almal te ontvang wat na liefde en samesyn smag; maak die deur smal genoeg om alle jaloesie, trots en twis uit te keer. Maak die drumpel glad genoeg sodat dit nie ‘n struikelblok sal wees vir ons kindertjies en oumense nie, en ook nie vir voete wat afgedwaal het nie; en maak die drumpel grof en sterk genoeg om die krag van die versoeker weg te keer. Here, maak van die deur van hierdie huis die ingang tot u ewige koninkryk. Amen.

 

 

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.