Kolossense 1:13-23

24 November 2013 Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

In die kerklike kalender is dit vandag Jesus is Koning Sondag. Dit is eintlik baie gepas, want verlede week het ons gelees vanuit Jesaja 11 oor die rol van die koning in die OT en hoe dit deurgetrek kan word na ons rol as koningskinders in die hede. Vandag lees ons baie spesifiek oor die koning van alle tye, die énigste ware koning, die Een wat oor alles en almal regeer, en waarom dit is dat Hy hierdie verhewe status beklee, en wat dit vir ons en ons manier van leef beteken.

Teks
13. Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.
14. Deur die Seun het ons die verlossing gekry, die vergewing van ons sondes.
15. Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste oor die hele skepping.
16. Want alles wat in die hemel en op die aarde is, is deur Hom geskep:
alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie,
of dit nou konings of heerskappye/regerings is,
of dit nou magte of owerhede is,
alles is deur Hom en vir Hom geskep.
17. En Hy is voor alles, en alles word deur Hom in stand gehou.
18. Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy heers daaroor (Hy regeer dit.)
Hy is die eerste een wat uit die dood gekom het, sodat Hy in alle dinge, Homself, eerste kan wees.
19. God het dit goedgevind om met sy volle wese in Hom te woon
20. en om deur Hom alles met Homself te versoen deur vrede te maak deur die bloed van Jesus se kruis – deur Hom – of dit nou dinge op die aarde of dinge in die hemel is.
21. Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse,
22. maar nou het Hy julle versoen deur sy fisiese liggaam deur die dood, om julle heilig te maak en vlekkeloos en sonder skuld voor Hom –
23. Daarom moet julle werklik bly volhard in geloof, die fondasie gelê, standvastig, en nie weg beweeg vanaf die hoop van die evangelie wat julle hoor nie. Hierdie evangelie is in die hele skepping onder die hemel verkondig, en ek, Paulus, is ‘n dienaar daarvan. ë

Boodskap
Wat ‘n ongelooflike stuk evangelie. Ek lees dit en voel: indien die Bybel gereduseer sou moes word tot net een gedeelte, indien jy iewers moet gaan en jy nie die hele boek met jou kan saamneem nie, maar net een bladsy, dan kan ek my moeilik ‘n ander gedeelte voorstel as Kol 1: 13-23. ‘n Ongelooflike stuk evangelie. Want wat hier verkondig word is eintlik te goed om waar te wees. En tóg is dit waar.

In die brief herinner Paulus vir die gemeente in Kolosse aan hulle wortels: Wie is hulle? Waar kom hulle vandaan? Wat beteken hulle naam, Christen? Na wie is hulle vernoem? Watter impak het hulle agtergrond, hulle verlede op hulle lewe nou en ook op hulle toekoms?

In ‘n brief wat so vol is van een kernboodskap, moet mens sommer met die deur in die huis val, want die kern van die brief word so baie keer herhaal dat dit ‘n refrein word wat deur die hele brief eggo. “Liewe gemeente, ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus (1:4). Laat ek, Paulus, julle bietjie vertel wie hierdie Christus is…,” en dan begin die refrein van begin tot einde:
Christus is ons Here (1:3).
Christus is die hoof oor alle dinge (1:16), oor al die bose magte (1:17; 2:11) en ook Hoof van die kerk (1:18).
Christus is die werklikheid (2:17).
Christus regeer aan die regterhand van God (3:1).
Christus is alles en in almal (3:11).
Christus is die Here (3:24).
Christus is.
Christus.

Julle geskiedenis, liewe gemeente, begin by die kruis. (Parafraseer ek nou Paulus se boodskap.) Daar lê julle wortels. Daar is julle gebore. Daar het God ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes (1:13-14). God het ons verlos, Christus is ons Heer. Dis om van te sing. En dan val Paulus sommer weg met die lied wat die gelowiges in daardie tyd oor Christus gesing het, ‘n lied wat as’t ware ‘n geloofsbelydenis is, in vss 15-20. Eers sing hy (in 15-17) van Christus se rol in die skepping:
15. Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste oor die hele skepping.
16. Want alles wat in die hemel en op die aarde is, is deur Hom geskep:
alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie,
of dit nou konings of heerskappye/regerings is,
of dit nou magte of owerhede is,
alles is deur Hom en vir Hom geskep.
17. En Hy is voor alles, en alles word deur Hom in stand gehou.

En dan sing Paulus in 18-20 van Christus se rol in die herskepping:
18. Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy heers daaroor (Hy regeer dit.)
Hy is die eerste een wat uit die dood gekom het, sodat Hy in alle dinge, Homself, eerste kan wees.
19. God het dit goedgevind om met sy volle wese in Hom te woon
20. en om deur Hom alles met Homself te versoen deur vrede te maak deur die bloed van Jesus se kruis – deur Hom – of dit nou dinge op die aarde of dinge in die hemel is.
Christus is die Heer. En wat vir die gemeente in Kolosse van kardinale belang was, dit wat Paulus veral by hulle wou inprent in hierdie brief, is dat Christus se heerskappy ook die owerhede en die magte onder Hom stel. Want daar was ander dinge wat ‘n bepalende invloed op die gemeente uitgeoefen het. Daar was sigbare en onsigbare dinge, konings en regerings, owerhede en magte – in 1:13 som Paulus hierdie dinge op onder die versamelnaam “die mag[te] van die duisternis”. Ook hierdie magte, soos alles, is in en deur Christus geskep. Maar met die sonde wat in die wêreld gekom het, het hulle hul grense begin oorsteek en hulle het verwronge geraak. Die punt is nou: Christus bring hulle terug waar hulle hoort – ondergeskik aan Hom. Hy tem hulle, sit hulle op hul plek.

Nou moet ons onsself natuurlik afvra waarna hierdie magte verwys. Want hulle is nog steeds met ons, ons leef net in ‘n ander tyd en ons gebruik ander name daarvoor.
Die magte en owerhede wat ‘n gevaar vir die gemeente inhou is die dinge, sigbaar óf onsigbaar, wat die gemeentelede se lewens begin oorheers. Baie konkreet was daar in Kolosse die probleem van wat mense mag eet en wat nie. (Dat jou dieët nou so ‘n houas op mens kan kry… Baie van ons ken dit ook…) Hulle het verder gesukkel met onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, gierigheid, woede, haat, nyd, vuil taal, apartheid tussen die Grieke en die Jode, huweliks- en gesinsverhoudinge, en ook verhoudinge by die werk. Dit is die magte waarvan Paulus praat, die magte wat in Kolosse “in die lug gehang” het. Klink dit nie bekend nie?

Kom ons dink aan ons tyd. Dikwels sien ons nie die magte raak wat so groot effek op ons lewens het nie. Of is ons salig onbewus daarvan dat ons onder hulle beheer is. Want as hulle eers hul houvas het, dan doen almal so, dink almal so, is dit maar soos die lewe werk…  Dis die gevaar met strukture en ideologieë – mens kom eers agter jy is vasgevang in ‘n bepaalde denkraamwerk wanneer almal om jou ook al daarin vasgevang is. Bv die mag van die apartheidsregime. Almal het gesê dis hoe dit hoort, almal het gesê dis reg, almal, selfs die kerkleiers het saamgespeel, en so is álmal vir dekades (selfs langer!) deur hierdie vernietigende mag wat doelbewus skeiding propageer, meegesleur. Sonder om eers veel daaroor na te dink. En wat ‘n gesukkel om uit sy kloue te kom. Enkeles het die moed gehad om na vore te begin tree en te verklaar dat almal toe nou al die tyd verkeerd was en dat die bybelse manier van doen in die proses geweldige skade gely het.

Die verdere komplikasie van sulke bose magte is dat hulle kleintjies kry. Vanuit die mag van apartheid is onderdrukking gebore, en armoede, en swak skoling vir die meerderheid kinders in die land, gebrekkige gesondheidsdienste, werkloosheid, drankmisbruik, ‘n bevolkingsontploffing onder mense wat nie die middelle het om hul kinders op te voed nie, of ‘n dak oor hulle koppe te sit nie… Dan sê ons ons verstaan nie wat Paulus bedoel as hy van bose magte praat nie.

Daar is natuurlik soveel ander magte ook wat ons lewens oorheers en beïnvloed en bedreig. Dink maar aan die mag van ongesonde verhoudinge. In die huwelik. Onderling binne gesinne. By die werk. Dink daaraan om dag na dag na dag so ‘n persoon in die oë te moet kyk, en die verhouding te moet maak werk omdat jy bang is, of omdat jou huwelik of jou werk afhang daarvan. Dink aan die kleintjies wat so ‘n bose mag kan kry. Dink aan wat jy dalk al gedoen het, of miskien bereid sal wees om te doen om ten alle koste net nie jou werk te verloor nie, of jou kans op ‘n bevordering nie, of ‘n horlosie aan die einde van die jaar.

Dink aan die effek wat die bose mag van misdaad op elkeen van ons het. Want nie een van ons leef meer onbevange nie. Nie een van ons kyk nie by tye oor ons skouer nie. Vrydag het ek ‘n man ontmoet – besig om te vlug van sy vrou en 3 kinders af. Vier jaar terug is hy deur ‘n motor omgery. Sy werk verloor. Kon nog nie weer iets kry nie. Behalwe vir sy R1600 ongeskiktheidstoelaag wat hy elke maand ontvang. Sy vrou en seun was ook in die ongeluk. Die seun is nou in ‘n rystoel en sy vrou se pelvis is op 2 plekke gebreek. Die ander twee kinders is nog in die skool. Hy het nou die dag mank gestap, soos hy maar na die ongeluk loop, om sy toelaag van R1600 te gaan kry toe rowers hom oppad terug huistoe oorval, met ‘n mes steek en hierdie geld wat vir ‘n maand tussen 5 monde gedeel moes word steel. In hierdie geval het die mag van misdaad geboorte geskenk aan die mag van wanhoop en begeerte tot selfmoord, soveel so dat hy sy gesin wou versaak.

Ons praat so oor die mag van te min hê en te min geld, maar dink bietjie na oor die mag van te veel hê en te veel geld. Dink net hoe destruktief dit kan wees, en ís in ons samelewing. Dink aan die effek wat die mag van siekte en die mag van bekommernis oor ons kan hê. Uit hulle kom die magte van slapeloosheid en magteloosheid en ‘n gebrek aan vertroue in die God in wie se hand ons lewens is.

Ja, van bose magte en kragte en heersers oor ons lewens kan niemand ons iets vertel nie. Ons ken hulle maar almal te goed. Die probleem is dat ons onsself aan hulle begin oorgee, dat ons vir hulle meer mag gee as wat hulle toekom, dat ons in vrees begin leef, soos gevangenes in ons eie huise en motors, geheel en al afhanklik van die oorskot of gebrek in ons bankbalans, bedreig deur magte wat ons kan skade aandoen, magte waaraan ons uitgelewer is, magte waarvan ons nie kan ontsnap nie, magte wat ons daaglikse handel en wandel bepaal, magte wat ons lot bepaal. Want dit is soos die lewe is. Almal veg daarteen. En niemand kan wen nie. Elke dag is ons uitgelewer aan die magte waaroor ons geen beheer het nie.

Maar dan sê Paulus, nee!, hierdie magte ís wel ‘n werklikheid, maar hulle het níe die laaste sê oor ons lewens nie. Christus is ons Heer. Hy is ons hoof. Hy is ook die hoof oor al hierdie magte en kragte wat ons lewens so bedreig. Hy het hulle immers reeds aan die kruis oorwin. En daar het Hy ons uit die mag van die duisternis geruk. Alles is nou wel nie heeltemal oor en verby nie, maar die oorwinning is reeds behaal. Christus is nie net sterker as hierdie magte nie, Hy hou hulle ook in stand, Hy hou hulle op hul plek, Hy sal nie toelaat dat hulle handuit-ruk nie. Christus is Here oor alles. He’s got the whole world in his hands.

Ons hoef daarom die bose magte en kragte in ons lewens nie te vrees nie. Dis vir ons ‘n troosboodskap. Christus is in beheer. Iemand vra by geleentheid op ‘n konferensie vir die Sweedse toeloog Karl Barth wat hy van die duiwel dink. Hy dink toe so tydjie na en antwoord: “Christus het hom oorwin. Hy is die Heer, die enigste Heer! Ons hoef die duiwel nie te vrees nie.”

Kolossense gaan egter om meer as “hoef nie”, te wete ons mág die bose magte nie vrees nie. Daar is daarom naas die troos ook ‘n waarskuwing in die boodskap. Ons word opgeroep, aangepraat om Christus se alleenheerskappy te erken. Ons kan nie twee here tegelyk dien nie. Ons kan nie in vrees leef wat ons lamlê omdat ons die slegte magte rondom ons gewaar nie. Want as dit ons lamlê, dan beheer dit ons lewens. En dan is daar nie plek vir Christus nie. Dit terwyl Hy Here bo álle magte is. Ons moet dit erken, en ons moet dit vir mekaar sê. Ons moet mekaar ook voortdurend daaraan herinner. Christus alleen is Heer. Sola Christi. Wys dit in ons lewens? Deur ons die magte wat mense seermaak? Lê ons hulle bloot? Stel ons hulle aan die kaak? Kan ander sy heerskappy sien in die manier waarop ons mense wat benadeel is of steeds benadeel word hanteer? Kan mense dit sien in ons huweliks- en gesinsverhoudinge? Sit dit mense aan die wonder by ons werk? Word die dokter verras deur ons hantering van ons siektetoestand – omdat ons weet dat nie die siekte nie, maar Christus die laaste woord oor ons lewens spreek – en dit is nie ‘n doodswoord nie, maar ‘n belofte van nuwe lewe. Is sy heerskappy sigbaar in hoe ons met ons besittings omgaan, en met ons geld, en met ons moedeloosheid. Vir wie gee ons die mag in ons lewens – vir daai bose donker magte wat in elk geval niks goeds inhou nie, of gee ons onsself doelbewus oor in die hande waarin ons eintlik reeds geborge is. Ons is nie uitgelewer aan die magte van die noodlot nie. Ons is oorgelewer in die hande van die Redder en Koning Jesus Christus.

Ons moet vas en sterk bly staan, sê vs 23, op ons plekkie. Ons ís beskerm. Ons is versorg. Ons is veilig in die hande van die Heer. He’s got the whole world in his hands. Hy het ook vir jóú in sy hande. Ek sluit af met ‘n gedig van Sheila Cussons. Die naam van die gedig is Advent. Dit klink amper asof sy die lied in Kol 1: 15-20 net in ander taal verpak, en hoe gepas, want ons staan op die drumpel van adventstyd:
Advent
Dit wil Hom baar en aanbid tegelyk,
die hele natuur: gewortel
in die aarde of op vleuels gedra,
wat waai of spoel, elke kreatuur.

Deur alles wat lewe vaar ’n graagheid
en elke skepsel is bewus van sigself,
wil vir Hom aanneemlik wees,
vir Hom deur Wie alles gekom het:
soos dit was in die begin, nou is
en altyd sal wees tot in alle ewigheid:
Christus sonder einde, die ronding
onder haar voorskoot. Buig boom,
buig elke hoof: buig: Aanbid die Heer.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Jesaja 11:1-9

17 November 2013 Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond

Van die skepping af is die mens gemaak om koning te wees, om te heers oor die aarde. “God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep…en Hy het aan hulle die opdrag gegee om te heers.” (Gen 1:27-28).

Dit het egter baie gou duidelik geword dat die mens nie eens oor homself of haarself kan heers nie, wat nog te sê oor die natuur. Later het God spesifieke mense geroep en gesalf om as sy verteenwoordigers te heers oor sy volk. Hierdie mense, die konings van die OT, was geroep om aan God se orde gestalte te gee op aarde sodat God se vrede kon heers. Eerste was daar Saul, toe Dawid en na hom Salomo. Baie ander konings het gevolg, maar oor die algemeen het hulle almal in hul roeping as koninklike verteenwoordigers van God misluk. Dawid het wel nie sleg gedoen nie, en Koning Hiskia was die beste koning. Hy het goeie bloed in sy are gehad – Dawid was sy voorvader (2 Kon 18). Maar op die ou-end kon nie een van die konings in die OT die mas opkom nie. Nie een van hulle kon God so verteenwoordig dat daar vrede geheers het nie. Selfs die goeie koning Hiskia het kort voor sy dood nog gesmag dat daar tog net vrede en trou sal wees in sy tyd nog (2 Kon 20:19).

Jesaja 11 is juis geskryf in ‘n tyd toe die vrugtelose boom van Israel weer afgekap moes word. In die OT is die beeld van ‘n boom soms deur die profete gebruik om na die koning van die land te verwys. Soos hier. Ons weet nie presies wanneer hierdie gedeelte geskryf is nie, maar die argumente is sterk dat die gedeelte kort voor Hiskia se troonbestyging geskryf is, en dat Jesaja in hierdie droom van hom vir Hiskia in die oog het. Want Jesaja droom hier van ‘n nuwe koning wat beter sal regeer as die vorige een, dalk maar weer ‘n koning wat kom uit Dawid se nageslag (Hiskia!), want toe Dawid aan bewind was het dit nog die heel beste gegaan. Die koningshuis is tot niet, dis afgekap, maar, droom die profeet, ‘n nuwe takkie, ‘n nuwe koning, sal uitspruit uit die stomp van Isai (Isai was Dawid se pa).

Teks
1. ‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai,
‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra.
2. Die Gees van die Here sal op hom rus:
die Gees wat wysheid en insig gee,
die Gees wat raad en sterkte gee,
die Gees wat kennis gee en eerbied vir die Here.
3. Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here.
Hy sal nie regspreek / oordele vel volgens uiterlike skyn (wat hy met sy oë sien) nie
en nie oordeel / besluite neem / bemiddel op grond van hoorsê (wat sy ore hoor) nie.
4. Hy sal die armes regverdig hanteer,
hy sal die regte besluite neem/bemiddel vir die verdruktes (neergedruktes) van die land.
Hy sal die geweldenaar neerslaan met die staf van sy mond (met sy uitsprake)
en met die wind van sy lippe sal die goddelose om die lewe gebring word.
5. Geregtigheid en trou sal wees soos gordels om sy heupe (hy sal toegerus wees daarmee).

(Wanneer dit gebeur sal…)

6. Wolwe en skape sal saam bly,
luiperde sal tussen bokkies lê,
kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees
en klein seuntjies sal hulle lei.
7. Koeie en bere sal saam wei,
hulle kleintjies sal bymekaar lê,
leeus sal, soos beeste, gras eet.
8. ‘n Babatjie sal speel oor die gat van ‘n adder,
en ‘n kleuter sal sy hand oor die gat van ‘n gevaarlike slang sit.
9. Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is.

Boodskap
Ons stap by die winkelsentrums in en besef dis alweer die tyd van die jaar om in die gees van kersfees te kom. Herman is alreeds in die gees van kersfees. Hy het verlede week toe ek by die huis kom hierdie brief in my hand kom druk – ‘n briefie wat ek aan Kersvader moet besorg. En laat ek julle sê: hy droom gróót! My eerste reaksie toe ek die brief lees was “dream on!” Gelukkig het ek dit nie hard-op gesê nie. Want kinders moet kan droom. Volwassenes moet ook kan droom – ons doen dit deesdae te min. Gelowiges moet kan droom. In ‘n wêreld waar ons alte dikwels met die harde en wrede werklikheid gekonfronteer word, is dit verál nodig om te onthou om te droom. Want drome hou ons aan die gang, drome gee ons krag vir die volgende dag, en die volgende seisoen, en die volgende jaar; ook vir die volgende toets en die volgende operasie en die volgende behandelingsessie… Kersfees is ‘n tyd vir drome. As ons nie meer oor die kersseisoen kan droom nie, wanneer dan tog?

Die profeet Jesaja het niks van kersfees af geweet nie. Hy is profeet midde ‘n volk wat in groot moeilikheid is. Want weereens het die koning die volk diep teleurgestel. Meer nog – het die koning vir God teleurgestel. Want hy het nie sy werk gedoen nie. En die boom moes afgekap word. Die volk is ontwortel want hulle is leierloos. Maar nee, begin Jesaja droom – die boom is weer afgekap, maar die wortels is nog daar. En uit die stomp van Isai, die pa van Dawid, sal ‘n nuwe takkie spruit. ‘n Nuwe koning sal na vore kom. Nou het ons netnou al gehoor dat die kanse baie groot is dat Jesaja hier vir Hiskia in die oog het – die koning van alle konings in die OT.

Wanneer Jesaja dan die prentjie van die nuwe koning in sy geestesoog oproep, dan profeteer hy oor die beginsels wat die suksesvolle koning aan die dag sal lê. Profete was immers opgeroep om kritiek uit te spreek teenoor die regering van die tyd, maar ook om hoop te gee vir ‘n beter regering in die dae of tye wat kom. Hoe lyk hierdie nuwe bestel dan waarvan Jesaja droom? Die herstel van die volk sal begin in die sfeer van die godsdiens, want, begin Jesaja, “die Gees van die Here sal op [die nuwe koning] rus. Die koning sal hom dus deur God self laat lei en toerus. Die Gees sal die koning toerus met wysheid en insig, met raad en sterkte, met kennis van en eerbied vir die Here. In die OT het kennis van die Here om veel meer as blote inligting gegaan; dit het ‘n lewende verhouding met die Here veronderstel. Die koning sal vanuit sy verhouding met die Here en as sy verteenwoordiger oor die volk regeer. Hy sal weet dat hy nie moet heers met mag en aansien in die oog nie, maar met wysheid en insig, as raadgewer vir sy volk, vanuit sy verhouding met en eerbied vir die Here. In sy regering sal hy nie aan homself dink nie, maar aan die volk wat God aan sy leiding toevertrou het.

Hierdie toerusting van die Gees sal tot ‘n baie spesifieke regeringstyl lei. Die koning se fokus sal wees op geregtigheid en op trou. In verse 3-5 word verskeie woorde vir geregtigheid gebruik – so asof Jesaja hiermee die omvattende regverdige handelinge van die koning wil beskryf – woorde soos: hy sal “reg spreek, die regte besluite neem, bemiddel, regverdig optree”. Geregtigheid beteken verder om die waarheid te soek, om lojaal te wees aan die gemeenskap (geregtigheid in die OT was nooit ‘n persoonlike saak nie!), om ander mense se wel-wese in ag te neem. Die koning se besluite sal nie berus op wat sy oë sien of op wat sy ore hoor nie, maar dit sal gerig word deur die wysheid, insig en raad wat vanaf die Gees van die Here self kom. Hy sal hom dus nie deur menseprentjies en -praatjies laat lei nie, maar deur God.

Die belangrikste van alles is miskien die mense vir wie die koning in die bresse sal tree – nie vir sy eerste of tweede minister of vir die kabinet of die minister van finansies of gesondheid of daai een wat soveel geld steel om mee vakansie te hou of huise vir homself te bou nie. Hierdie koning gaan nie onreg onder die mat vee sodat die magtiges en rykes in die land se sondes en skandes geheim gehou kan word nie. Nee. Hy gaan na die armes toe gaan, na die verdruktes toe, na die wat gebukkend gaan onder die sosiale en ekonomiese sisteem van die dag. Hy sal die regsorde herstel en hy sal die nood van die mense wat hom BROODnodig het verlig. Dit is hoe die regeerder sal lyk wat in God se naam en deur God se Gees na die volk omsien. En in die proses sal hy die geweldenaars en die goddeloses nie met wapens en geweld ontmagtig nie, maar met sy woorde.

Naas geregtigheid wat hy soos ‘n gordel om sy lyf sal vasbind, sal hy trou om hom vasbind. Hierdie woord beteken dat hy betroubaar sal wees, hy sal lojaal wees aan sy mense, en eerlik. Hy sal iemand wees op wie die volk kan reken. Jy sal weet waar jy met hom staan, en die samelewing sal veilig voel onder sy bewind. Want die gevolg van hierdie manier van regeer, is niks anders as vrede en wel-wese vir die volk nie.

Stel julle dit net voor – hierdie styl van regering waarvan Jesaja praat. Verbeel jou dit net vir ‘n oomblik. Jesaja droom groot, nê, dalk hopeloos te groot. Nie eens Hiskia kon hierby uitkom nie. Hy het ook daaroor gedroom en hy het sy bes probeer, maar nie eens hy kon nie. Jesaja besef hoe onmoontlik hierdie ideale regering vir mense is om te bereik. Hy weet dat mense net deur die krag en die Gees van God so met geregtigheid en trou kan regeer. En wanneer so ‘n regeringstyl ‘n werklikheid word, dan word die onmoontlike moontlik. Jesaja raak skoon liries oor die omvang van die vrede wat sal heers! Dan, droom hy, sal wolwe en skape saam bly, luiperde sal tussen bokkies lê, koei en bere sal saam wei en klein seuntjies sal hulle lei, babas en kleuters sal by die gate van slange speel…want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here.

Ja, dan heers die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Nie ‘n geestelike vrede nie, maar ‘n aardse vrede tussen landsgenote, onderling, waar selfs die armes en verontregtes die vrugte van die regering en vrede pluk. Baie later sou daar nog ‘n lootjie uit die stomp van Isai voortspruit, en Hy sou die teelaarde gereed kom maak vir ‘n heerskappy wat Hiskia ook nie kon regkry kry. Hy sou kom wys hoe dit veronderstel is om te lyk. Die engele het nie verniet met die geboorte van hierdie Loot aan die laëklas herders aangekondig: Vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehaë het!” nie.

Ons weet nie wat vrede is nie. Nie een van ons weet nie. Ons het dit nog nie ervaar nie. Ons regeerders misluk nes die regeerders in die OT. Ons kan nie eens die vinger net na hulle wys nie want in die tyd van die NT het demokrasie ‘n werklikheid begin word. Daar hoor ons dat alle gelowiges koningskinders is. En as jy jouself ‘n koningskind wil noem, dan moet jy jou naam gestand doen. Elke gelowige is geroep om ‘n koning te wees. Weliswaar nie almal as president van die land nie, maar ons leef almal binne ons eie klein koninkrykies waar ons dag na dag moet besluit of die Gees van God deur ons gaan heers, en of ons self op die troon gaan sit. En ons het ‘n gemeenskaplike rol om as konings ons uit te spreek oor die onreg in die samelewing, om regverdig te luister en te bemiddel, om reg te doen aan andere – veral aan die armes en die onderdruktes.

Die Lootjie in die krip het gegroei ‘n waardige Boom geword. Hy het hom nie uitgerus met duur klere nie, Hy het nie in ‘n paleis gaan woon nie, Hy het nie met die VIP’s geëet nie. Hy het ‘n klompie vissermanne gaan roep om op sy “kabinet” te dien. Hy het na die armes en die onderdruktes en die sondaars toe gegaan, na hulle stories geluister, hulle siektes gesond gemaak, Hy het vir hulle vrygespreek en tweede kanse op die lewe gegee, Hy het hulle status in die samelewing herstel. Hy het soveel omgegee vir die armes en die swakkes en die wat hulself nie uit die modder kon optel nie, dat Hy Homself later oorgegee het aan ‘n korrupte regeringstelsel, dat Hy, ironies, aan ‘n boom gekruisig is, en bo-aan die boom het daar nogals gestaan “Koning van die Jode”.

Hierdie Koning, het deur sy styl van onvoorwaardelike, opofferende liefde vir ons kom wys hoe ‘n regeerder, ‘n koning, hom- of haarself vir die mense gee. Sonder om een oomblik aan Homself te dink. Alleen maar gerig op die welwese van die samelewing, en op die droom van vrede op aarde.

Dis amper kersfeestyd. Dream big. Ons moet groot droom oor die vrede van God op aarde. Droom daarom die onmoontlike. Droom van ‘n vrede wat so omvattend sal wees dat selfs die skape en die wolwe saam sal bly.
Dream on. Droom werklik aan. Moenie mekaar se drome blus nie. Moenie ophou om van God se vrede op aarde te droom net omdat jy dit nog nie sien nie. Gelowiges word geroep om die droom, die visie, die hoop lewendig te hou.
En laaste: live your dream, of eerder as koningskinders wat deur die Gees van God toegerus word – leef God se droom. Onthou dis tyd om in die gees van kersfees te kom, dis tyd om in die Gees van God te kom. Mag die Gees in hierdie kersfeestyd vir elke koningskind toerus met wysheid en insig, met raad en krag, met kennis van en eerbied vir die Here. Mag julle dit gebruik om die lewe vir ander wat swaarkry makliker te maak. Mag julle hierdie kersseisoen fokus daarop om reg te doen aan mense, om uit te reik, te help, lojaal te wees, betroubaar, opreg, nie aan jouself te dink nie, maar aan die mense wat swaarkry aan die lyf voel. Mag julle die geweldenaars en die goddeloses met julle woorde tot inkeer bring. Mag julle as verteenwoordigers van God op aarde hierdie kersfeestyd so leef dat die minstes onder ons nie net van geregtigheid en trou en vrede sal droom nie, maar, omdat óns droom, dat hulle dit uit ons hande en ons monde sal beleef. Dit ís tyd vir ons om in die Gees van kersfees te kom.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

2 Tessalonisense: 2:1-5; 13-17

10 November 2013 – Koninkrykstyd
Prediker: Bianca Botha

Een van die konsepte/tema’s in die Bybel waaroor daar sekerlik oor die afgelope +/- 2000 jaar die meeste bespiegel en gewonder, geprofeteer, geworstel en geredeneer is, is die wederkoms. Dink maar net hoeveel dae en datums daar is wat oor die afgelope 3 jaar as “die einde” voorspel is. Ek onthou ook goed hoe sommige mense met die aanbreek van die nuwe millenium verwoed kerse en blikkieskos bymekaar gemaak het. En ons kan miskien lag daaroor of dit dalk as “belaglik” begin bestempel, maar die feit bly staan dat die gedagte van die eindtyd – van die wederkoms – by meeste mense gevoelens van angs en onsekerheid na vore bring. Daarom probeer mense van die vroegste tye af reeds vasstel hoe en wat en waar dit gaan plaasvind. Dit is dan ook die rede waarom Paulus die brief aan die gemeente in Tessalonika skryf waaruit ons vanoggend gaan lees.

Die gemeente in Tessalonika was een van die heel eerste gemeentes wat Paulus help stig het en die 2 briewe aan dié gemeente staan dan ook algemeen bekend as die eerste van sy briewe. Die eerste brief (1 Tessalonisense) het hy juis geskryf om sekere wanopvattings en oortuigings wat rondom die wederkoms ontstaan het aan te spreek. Daar het egter toe ‘n paar misverstande ontstaan oor dié brief en daarom volg hy dit toe op met ‘n tweede, waaruit ons dan vandag sal lees.

Kom ons kyk nou wat dit is wat hy toe vir hulle skryf – 2 Tess 2:1-5; 13-17

Na die baie mooi groet in die eerste hoofstuk van hierdie brief, waaroor Tiana verlede week gepreek het, kom Paulus in hoostuk 2 by die kruks van die brief uit. In sy vorige brief het hy aan die gemeente geskryf dat die wederkoms skielik gaan aanbreek en dít het – met behulp van verwarrende profesieë, misleidende predikers en vals briewe – die idee laat posvat dat die wederkoms reeds plaasgevind het. Gevolglik het die gelowiges óf baie bekommerd geraak oor die feit dat hulle nie deel was daarvan nie, óf bloot opgehou om hul Christelike identiteit uit te leef, want wat maak dit dan nou saak. En daarom skryf hy dan hierdie tweede brief om hulle te verseker: Die wederkoms het definitief nog nie plaasgevind nie, en dit sal ook nie gebeur voordat daar nie sekere ander dinge gebeur het nie.

Hy noem dan ook, soos ons gelees het, ‘n paar spesifieke dinge wat die wederkoms moet voorafgaan.
1. Die eerste hiervan is afvalligheid. Mense sal hul rûe op God draai; verlei word deur valse leerstellings; hulle sal die leuen glo en hulle sal ongeregtigheid kies.
2. Daarmeesaam sal die wettelose mens verskyn – die Antichris – die finale verpersoonliking van alles en almal wat hulle teen God verset. En dan moet wie/wat ook al hierdie wettelose figuur teëhou eers uit die weg wees.

Op hierdie punt wil ek noem dat toe Augustinus, wat beskou word as een van die belangrikste kerkvaders, in sy boek The City of God gekryf het oor hierdie gedeelte en spesifiek oor wie/wat dit is wat hierdie “wettelose mens” teëhou, was sy woorde: “I admit, that the meaning of this, completely, escapes me.” En vir dié van u wat gehoop het dat ek hierdie dinge gaan openbaar, vir die van u wat dalk hierdie preek lees in die hoop dat ek vir julle gaan sê wie hierdie mense is, moet ek ongelukkig nou verskoning vra, want ek stem heelhartig met Augustinus saam. Ek en Augustinus en almal anders wat ek gelees het die week, of met wie ek gepraat het oor die teks, is onseker oor wie presies die “wettelose mens” (die Antichris) en die een wat hom teëhou is. Daar is wel baie teorieë, maar geen sekerheid hieroor nie. Kommentatore stem almal ooreen dat enige poging om vas te stel wie hierdie figure is, bloot ‘n raaiskoot sal wees. Vanuit die teks kan ons wel sien dat die gemeente waarskynlik geweet het waarvan hy praat – dat hulle iets geweet het wat ons nie weet nie, en waarskynlik nooit sal weet nie – maar dit is hoe ver ons kom.

Die goeie nuus is egter, dat ek regtig ook nie dink ons hoef dit te weet nie. Die rede waarom Paulus hierdie dinge vir die gemeente skryf, is hoofsaaklik om hulle te verseker dat hulle nie die wederkoms gemis het nie; dat hulle nie moet toelaat dat ander mense hulle verwar nie en dat hulle nie sommer alles moet glo wat hulle hoor nie. Wat hy eintlik vir hulle sê is: “Glo my, julle sal nie hoef te wonder nie, julle sal weet as die wederkoms plaasvind.”
Hy beklemtoon, dat hoewel hulle nou reeds vervolging ervaar, dinge nog baie erger gaan raak voor die wederkoms finaal plaasvind – voordat die koninkryk tot vervulling kom. Ongeregtigheid en goddeloosheid sal hooggety vier, dit sal ‘n tyd wees van totale anargie en die verval van reg en orde. Soos een van my gunsteling spreekwoorde in Engels lui: “It’s always darkest before the dawn,” kom sê hy vir hulle ook dat hulle eers in duisternis gedompel sal word voor die nuwe dag uiteindelik aanbreek.

MAAR dan kom ons by die tweede deel van hierdie hoofstuk en die belangrikste deel van die hele brief; dan kom ons by dit wat ons (en hulle) móét weet. In die Grieks word hierdie tweede gedeelte ingelei met die woordjie “δε” wat “MAAR” beteken en hoewel dit nie in ons Bybels so vertaal is nie, speel daardie woordjie “maar” ‘n baie belangrike rol. Die Griekse “de” is, soos “maar” in die Afr, gebruik om `n teenstelling of kontras te vorm met wat ook al dit voorafgaan. Sommige van die Bybelstudie-dames is nou al goed bekend met die storie van my pa, wat altyd vir my gesê het as jy “maar” sê kan jy net sowel alles wat jy voor dit gesê het uitvee.
Nou, gaan ek regtig nie so ver gaan om te sê dat ons die eerste deel van die hoofstuk moet uitvee of dat dit onbelangrik is nie… Tog, wanneer Paulus dié gedeelte so inlui, plaas hy defnitiewe klem op dit wat volg.

“MAAR… luister nou hier… dit is belangrik…”
Julle is anders, sê Paulus dan vir hulle, want julle behoort aan die Here. Julle hoef nie die wederkoms te vrees nie, maar kan daarna uitsien. Julle gaan nie deur die dwalinge en misleidinge meegesleur word nie. Vir hulle is die hoop op die heerlikheid van Christus verseker. En daarvoor kan hy God altyd vir hulle dank!

Maar, hoe is dit moontlik? Hoe kan gelowiges hierdie sekerheid en waarborg hê? Hoe weet ek dat ek nie dalk ook naderhand van die geloof sal verval nie? Hoe gaan ek weet dat ek veilig sal wees wanneer die Antichris kom en soveel mense verlei en van die waarheid afvallig maak?

En dis waar Paulus se trooswoord aan die Tessalonisense ook ons trooswoord word: Die waarborg van hulle redding, lê nie in hulleself of in húlle geloofsvolharding nie. Dit lê primêr by God. Hulle verlossing, en hulle volharding en hulle hoop, kom van God af.
Paulus bevestig dit met `n hele reeks stellings (13, 14):
God het julle lief;
God het julle uitverkies as die eerstes van baie wat gelowig gaan word;
God het julle gered deurdat sy Gees julle geheilig het om die waarheid te kan glo.
God het julle geroep deur die boodskap van die evangelie en
God sal julle uiteindelik laat deel in die heerlikheid van Christus, al verduur julle nou hoeveel spot en vervolging. Hy bewys aan julle sy liefde (17) en Hy gee deur sy genade vir julle hoop.
Die wederkoms hoef dus nie by hulle (of ons) angs of onsekerheid te wek nie, want hulle (en ons) is almal reeds gered.

Dit stop egter nie daar nie. Paulus gaan verder: Uit God se inisiatief en genade volg die Christen se gelowige respons/reaksie. “Wees dan standvastig” sê hy vir hulle, “En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word.”

Hierdie teks vat die evangelie so mooi saam. Soos die Tessalonisense is almal van ons gered. Ons gaan nie gered word wanneer die wederkoms aanbreek nie, ons is nou reeds gered deurdat ons die Evangelie ken; deurdat God ons lief het en ons gekies het lank voordat ons self kon kies. En omdat ons gered is (nie sodat nie, omdat) beywer ons onsself vir sy koninkryk – leef ons soos mense wat aan Hom behoort.

Wat Paulus in hierdie gedeelte van die gelowiges in Tessalonika en per implikasie ook van ons vra, is bloot om vas te hou aan God se beloftes. Om nie verward te raak nie, maar standvastig te wees in dit wat ons glo – nl. dat Christus die Here is en dat ons sy kinders is. En hierdie standvastigheid in geloof verwys nie na ‘n passiewe wag-aksie terwyl hierdie lewe nou maar net verby gaan nie, want as ons waarlik glo in Christus en sy Evangelie dan kan ons nie terugsit en toekyk terwyl daar teen sy wil en teen sy koninkryk opgetree word nie. As ons waarlik glo in die boodskap van die Bybel dan moet dit ons beweeg, ons dryf om God se koninkryk te wil sigbaar maak; dan moet die onreg en geweld en seer in hierdie wêreld ons ongemaklik maak en dan moet ons daarteen optree. Nie omdat ons ons plekkie in die hemel wil verseker nie – want dit het ons reeds – maar omdat ons sien en hoor wat die wêreld veronderstel is om te wees.
____________

Met eerste oogopslag is hierdie ‘n vreesaanjaende teks, maar soos mens kou en herkou daaraan word dit ‘n teks vol hoop; ‘n teks vol beloftes. En ek wil julle uitnooi om hierdie week dalk self weer ‘n paar keer daarnatoe terug te gaan…
Want aan die einde van die dag gaan dit nie oor wanneer die wederkoms gaan plaasvind, of hoe dit gaan lyk, wat gaan gebeur en wie is die Antichris nie. Dit gaan daaroor dat ons weet aan wie ons behoort; dat ons weet ons is gered om die blote rede dat God ons lief het en dat sy Gees by ons is. Dit gaan daaroor dat ons nie die wederkoms hoef te vrees nie, maar dat dit iets is waarna ons kan uitsien, en waarna ons behoort uit te sien.

Midde my eie worstelinge met hierdie teks hierdie week het ek baie toevallig (of miskien nie so toevallig nie) op ‘n ou Laurika Rauch cd afgekom – wat vir baie lank weg was – en ek is toe opnuut weer getref deur haar liedjie “Hot Gates.” In die lied noem sy stad na stad wat op een of ander tyd deur oorlog/onheil geraak is. En terwyl ek na die lied luister besef ek opnuut dat die bose en die wettelose, die ongeregtigheid en die lyding reeds deel is van hierdie wêreld. Oorloë en armoede; korrupsie en magsmisbruik; haat en geweld… Ons lewe reeds in die eindtyd; in die tyd voor Christus se wederkoms; in ‘n tyd waar die bose nog ‘n sterk houvas het op die wêreld. En dalk wil Paulus ons ook waarsku dat dit eers erger gaan raak voor dit beter raak, maar wat hy ook kom sê is dat die nuwe dag weer sal aanbreek – dat daar te midde van al die donker in die wêreld steeds hoop is.
Soos ook in die laaste verse van die lied, wanneer die fokus verskuif na die nuwe Jerusalem en die somber klokkespel aan die begin, verander in vreugdevolle klokgelui .

Ons almal (en ook meeste geleerdes) het verskillende idees en oortuigings en teorieë oor die wederkoms en die hemel, maar as Christene is dit vir almal van ons waar ons hoop lê – in die feit dat daar iets beter oppad is; in ons oortuiging dat Christus met die wederkoms finaal die bose sal oorwin en sy koninkryk tot vervulling sal bring. Ons weet dat die bose in hierdie wêreld nie die laaste sê sal hê nie – dat daar ‘n nuwe stad is wat op ons wag.

Ek wil u uitnooi om hierdie week self na “Hot Gates” te gaan luister en miskien kan dit by u dieselfde gevoel wek wat dit onlangs weer by my het. ‘n Gevoel van ongemak met die onreg en die bose in hierdie wêreld, en terselfde tyd ‘n gevoel hoop in God se beloftes en vir dit wat nog kom.

Luister na die lied hier:
http://www.youtube.com/watch?v=cD_pZmTAXZo

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Bianca Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.