Lukas 1: 26-38 – 2014

25 December 2013 Kersdag
Prediker: Dr Tiana Bosman

Vs 31: Kyk!, jy sal swanger word…
Vs 38: Kyk!, ek is tot beskikking van die Here

Die aankondiging van díé geboorte van alle eeue. Meeste mense het dit nie in daardie tyd besef nie, maar vandag weet ons – niemand se geboorte sal ooit so ‘n effek op die ganse mensdom kan hê soos die geboorte van Jesus Christus 2000 jaar gelede nie. Hy is die Seun van die Allerhoogste, Koning, Heilige, Seun van God. En sy geboorte is enig in sy soort – ‘n daad van Goddelike inisiatief en mag alleen. Dit is hierdie Here wie se geboortedag ons vandag herdenk.

Die gebeurtenis klink so ver weg, so wonderlik, amper te goed om waar te wees, iets wat mos nou nooit in ons tyd sal gebeur nie. En iets wat nooit met onsself sal gebeur nie. Dis tog ondenkbaar, om onsself fisies in hierdie verhaal te probeer inplaas – moontlik as Maria … of Josef … of Elisabet, die ma van Johannes… Wat is dit in elk geval aan Maria wat haar so spesiaal gemaak het, dat juis sy die uitgekose moeder van God se seun word? Wat sonder haar uit, wat maak haar belangriker, verhewe bo ander vrouens van haar tyd? So spesiaal dat die Rooms-Katolieke gelowiges naas die Teologie (studie van God), en die Christologie (studie van Christus) en die Pneumatologie (studie van die Heilige Gees) hulself ook wy aan die Mariologie (studie van Maria)…

Wanneer ons die evangelie van Lukas lees, dan sien ons dat daar niks aan Maria se mens-wees self is wat haar belangriker of meer geskik maak as enige ander vrou om die moeder van Jesus te wees nie. Sy was om die waarheid te sê net so doodgewoon soos ek en jy. Ek is in die versoeking om te sê dat indien Jesus vandag gebore sou word, dan kon een van die vrouens hier dalk sy moeder gewees het.

Voordat Maria swanger was met Jesus was sy eintlik niemand gewees. Sy was ‘n gewone jongmeisie wat in die niksseggende dorpie Nasaret, naby Galilea, gewoon het. Die dinge wat gemaak het dat God haar kies was faktore wat heeltemal buite haar beheer was – naamlik dat sy verloof was aan ‘n man (Josef) uit die geslag van Dawid en dat sy ‘n familielid gehad het (Elisabet) wat oud en onvrugbaar was en wat toe op haar ou-dag swanger raak met Johannes die Doper. Naas hierdie faktore is daar niks anders wat haar meer geskik gemaak het nie. As dit nie hiervoor was nie kon enige ander vrou die moeder van Jesus wees. Selfs, indien Hy jare later sou kom, dalk iemand hier…

Dan die merkwaardige gewaarwording in Lukas – eintlik ís dit ons. Eintlik mág ons onsself sien soos die moeder van Jesus. Sheila Cussons het oor die parallel tussen Maria en ons ‘n aangrypende gedig geskryf, en ek moet myself onderbreek en dit eers voorlees:

Klein ballade (Sheila Cussons)
Ek soek die huis van ‘n timmerman,
ek soek die tafel, die eenvoudig gedekte,
en die bêreplek van die botterspaan
van Maria die Onbevlekte.

Ek soek die dinge van hulle elke-dag,
ek soek die praat en die maklike lag
in daardie gebenedyde huis:

Neem hierdie pad, klop aan dié deur,
na buite toe dwaal ‘n varsbroodgeur,
en sê nou hulle is tuis?

My moed begeef my en ek vlug,
maar iets sê in my gaan trug, gaan trug:
Sy staan reeds in die deurkosyn…

Toe draai ek om en ek vind verstom
ek het voor my eie deur gekom:
my huis is Hare, my huis is Syne!

Nou ken ek die huis van die timmerman,
ek ken die tafel, die eenvoudig gedekte,
en die bêreplek van die botterspaan
van Maria die Onbevlekte.

Lukas leer vir ons dat die buitengewone van Maria nie lê daarin dat sy die Seun van God in haar baarmoeder gedra het en hom grootgemaak het nie. Dit lê wel daarin dat sy haarself tot die beskikking van God gestel het. Vs 38: “Kyk!, ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Die vorm van die werkwoord hier druk ‘n intense begeerte, eintlik ‘n verlange uit, wat gevul is met vreugde. Daarom vertaal sommige met reg die sin as ‘n uitroep: “Laat tog met my gebeur wat u gesê het!” En hieruit vloei dan ook die loflied van Maria ‘n paar verse verder.

Lukas verwys op ander plekke ook na Maria. In hfst 8: 19-21 soek Jesus se broers en sy moeder na Hom terwyl Hy die skare leer. Wanneer die mense vir Hom daarvan sê antwoord Hy dan: “My moeder en my broers is dié wat die woord van God hoor en dit doen.” Doelbewus korrigeer Hy die skare. Nie om vir Maria en sy broers seer te maak nie. Hy is nie afwysend teenoor Maria en sy bloedbroers (sy familie) nie, maar Hy sluit hulle eerder in by sy eintlike familie, nl almal wat die woord van God hoor en dit doen. Weereens: die belangrike in die lewe van Maria is nie dat sy fisies die moeder van Jesus was nie, maar dat sy as gelowige onder die dissipels behoort, onder diegene wat die woord hoor en doen.

Lukas 11:27-28: Terwyl Jesus nog besig was om die skare te leer, roep ‘n vrou uit die bondel harop uit en sê: “Hoe bevoorreg (lett “salig”) is die vrou wat U in haar liggaam gedra en aan haar bors gevoed het!” En wat antwoord Jesus? “Ja, maar salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar.” Dieselfde kwalifikasie as in hfst 8. Maria se saligheid lê nie daarin dat sy die fisiese moeder van Jesus is nie, maar dat sy die woord van God hoor en, die keer, bewaar, wat beteken dat sy dit in haar hart bêre en oordink.

Ook in Lukas 2:19: “Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink,” en in 2:51 “sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar”. Maria is ‘n dissipel, ‘n gelowige. Haar heel belangrikste eienskap is dat sy God se woord hoor, bewaar en doen.

Terwyl Maria haarself so tot beskikking van God gestel het, terwyl sy sy woord gehoor, in haar hart bewaar en gedoen het, het sy nie alles van Hom geweet nie. Sy het nie al die antwoorde omtrent hierdie God en Here gehad nie. Met Jesus se geboorte lees ons in Lukas 2:18 dat Maria alles onthou en daaroor bly nadink en wonder het. Wanneer Simeon die baba Jesus in die tempel prys staan Josef en Maria verwonderd (2:33). Later is hulle verslae van onbegrip toe Jesus as seun die geleerdes uitvra (2:47-50). Sy sou al hierdie dinge in haar hart bewaar (2:52). Maria het dus gewonder, gedink, onthou, bepeins, telkens weer verwonderd gestaan… Dit alles nádat sy haarself tot beskikking van die Here gestel het. Sy was tot sy beskikking ten spyte van haar vrae. Sy was bereid om met die misterie van God saam te leef en Hom stééds te volg.

Dít is wat saak maak. Maria se fisiese verbintenis aan Jesus as sy moeder gee geen waarde aan wie sy was nie, slegs haar geloof. Sy is soos óns, een van óns. Sy is ‘n dissipel, ‘n gelowige. Sy is ‘n voorbeeld vir ons. Sy is wat elkeen van ons kan en moet wees. Ten spyte van ons onbeantwoorde vrae. Ten spyte van die misterie.

Wanneer Maria haarself tot besikking van die Here stel, stel sy haarself tot diens bereid, al sal dit met ‘n prys kom. Ons lees nie veel van Maria se swaarkry in die Bybel nie, maar ons kan ons indink dat haar hele ervaring saam met Josef en die Kindjie nie maklik sou wees nie – die geboorte in ‘n stal, die vervolging en vrees dat ook haar seuntjie vermoor sou word, die vlug. Daar was niks romanties aan nie, dit was swaarkrytye gewees. Wat ons wél in die Woord lees is dat die gryse ou Simeon in sy profesie in 2:35 voorspel dat daar ‘n swaard deur haar siel sal gaan.

Want as jy jouself tot beskikking van God en sy Woord stel, dan is jy nie meer jou eie baas nie. Dan raak jy ‘n dissipel wat jou lewe rig volgens die wil van God en diensbaar en bereidwillig, met óórgawe, jou alles gee om sy Woord te hoor, te bewaar en te doen. Selfs al verstaan jy dit nie aldag nie. Niemand wat hierdie weg kies kom ongeskonde daarvan af nie.

In sy eie verhaal was Jesus ook nie in watte toegedraai nie. Toe Hy ‘n baba was moes sy ouers vlug vir sy lewe. Sy openbare bediening het begin met die versoeking in die woestyn. En keer op keer het Hy sy dissipels probeer leer dat die belangrikste in dissipelskap is om die wil van die Vader te doen, en dit beteken om jou kruis op te tel en Hom te volg. En as hulle nie so seker is waarheen Hy oppad is nie (hulle dink nog Hy gaan om die Romeinse Ryk te onttroon), dan tel Hy sy eie kruis op en stap die pad voor hulle uit na Golgota toe.

Om deel te wees van hierdie groep is nie op die oog af goeie nuus nie. Daarom beskou die wêreld ons as dwaas. Daar sal swaarde deur ons siele gaan, as ons in sy familiekring wil wees. Met dit in gedagte – is ons steeds bereid om ons tot sy beskikking te stel? Tot beskikking van die seun wat vanaf sy geboorte moes vlug vir sy lewe, versoekings moes weerstaan, verwerping (ook deur van sy familielede en sy beste vriende) moes verwerk, sy kruis moes dra en later daaraan moes sterf. Of eintlik nie sy kruis nie, maar óns kruise, en almal anders se kruise… Dis juis waarom Hy mens geword het. As ons dit alles weet, is ons steeds bereid om vandag sy geboorte te vier? Is ons dan steeds bereid om soos Maria lofliedere daaroor te sing? Om willens en wetens, met die waarskuwing van ‘n swaard deur ons siel onsself nietemin met oorgawe tot sy beskikking te stel? En om dan selfs vreugde daarin te vind?

Ons weet wat die geboorte van Jesus op die ou-end van hom gevra het. Maria, doodgewone meisie wat sy was, het vinnig geleer wat sy geboorte van haar sou vra. Maar sy het vasgebyt. Is ons bereid om ook werklik déél te wees van hierdie kind se geboorte? Want as ons sy geboorte wil vier, dan moet ons ook daar wees vir sy verjaarsdae, ook wanneer hy die dag 30 jaar oud word en ons aktief roep om sy volgelinge, sy dissipels te wees. En dan moet ons steeds daar wees wanneer hy 33 jaar oud word en vir oulaas verjaar. En ons moet wees by sy kruis, en by sy graf, en by sy opstanding. En ons wat nog ons verjaarsdae vier moet weet dat ons hom nie mag vergeet nie. Ons moet ter nagedagtenis van sy geboorte en sy lewe en sy sterwe en sy opstanding, hom steeds volg, met ons en dalk ander se kruise op ons rug, en wie weet, vir die wat régtig deel van sy gesin wil wees – dalk ‘n ma of ‘n broer of ‘n suster wil wees –nog met ‘n swaard deur ons siel ook… Dis gevaarlik om die geboorte van die Here te vier. Dit kos nie net geld en geskenke nie. Dit kos onsself. Dit vra dat onsself tot sy beskikking sal stel, dat ons onsself sal gee… Sodat Hy ons kan gebruik op aarde, sodat sy wil kan geskied, sodat sy koninkryk sigbaar kan word.

Mag ons vandag met hierdie wete, en daarom ook met diepe erns, dit steeds regkry om as sy familie sy geboorte te vier. Sy lewe, dit waarvoor hy gestaan en gesterf het, en mag ons dit eer met ons eie lewens. Lank lewe hierdie Here.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.