Matteus 4:18-22 – 2014

26 Januarie 2014 Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Vandag vertel ek twee verhale. Beide speel af langs die Meer van Galilea. Maar die een is reg aan die begin van Jesus se bediening, en die ander is aan die einde. By die eerste roep Jesus die eerste dissipels, by die laaste verskyn Hy vir oulaas aan hulle. Die eerste verhaal is deur die dissipel Matteus opgeteken. Die laaste een deur Johannes.

Die verhaal maak ‘n sirkel (full circle). Daar waar Jesus met die dissipels begin, daar eindig Hy weer. En presies dieselfde gebeur. Aangrypend.

Lees Matteus 4: 18-22
Die begin van vier vissermanne se pad saam met Jesus, die eerste vier mense wat as sy dissipels geroep is.

Binne die Rabbynse tradisie van Jesus se tyd het elke rabbi ‘n groep dissipels gehad, volgelinge wat by hom leer en wat hom ondersteun in sy bediening. Gewoonlik was die dissipels van rabbi’s manne wat van kleins af al in die wette van Moses en die geskrifte opgelei is. Hulle het nie net die eerste eksamen (resertasies) by die sinagoge geslaag nie, maar ook verder studeer in die wet en die geskrifte. Van alle Joodse seuntjies is verwag om aan die minimum vereistes van die torah te voldoen – dit wil sê om die mees basiese voorgeskrewe leringe onder die knie te kry. Maar die wat goed presteer het en potensiaal getoon het, het verder by die sinagoges studeer, en vir hulle het die moontlikheid al groter geword om eendag ‘n dissipel van ‘n rabbi te wees, of wie weet, dalk selfs ‘n rabbi in eie reg te word. Wanneer die tyd van voorbereiding agter die rug was kon hierdie studente die rabbi’s van hul keuse nader en hulself aanbied as dissipels. Soms het dit ook gebeur dat ‘n rabbi van sy kant af spesifieke manne uitgesonder het en hul as dissipels gekies het. Hoe dit ookal sy – die kompetisie was sterk en die gebruik onder die rabbi’s was om die beste presteerders, die wat die meeste potensiaal getoon het, onder jou eie vlerk te kry. Dis mos vandag ook so – tydens ‘n beroepingsproses na ‘n gemeente toe kyk die kerkraad baie noukeurig na die aspirant-predikante se CV’s, hul prestasies, en laat hulle selfs psigometriese toetse doen om te bepaal of die persoon se persoonlikheid geskik is vir die betrokke gemeente. Al hoe meer gemeentes vra deesdae dat die betrokke kandidate hul CV moet vergesel met ‘n foto van hulself! Aansien, akademiese status, ekstroversie en “face-value” raak bepalend vir of jy ‘n predikant mag wees al dan nie…

Stel julle die prentjie voor in Jesus se tyd. Die rabbi’s is vroegoggend al by die sinagoges doenig en vir jare kyk hulle die studente fyn deur. En die afgestudeerde studente, op hulle beurt, gaan hang weer by die sinagoges rond, sodat hulle in die regte groepe raakgesien kan word, sodat hulle takies kan verrig wat hulle kanse op dissipelskap verhoog, sodat hulle “kontakte” kan bou. En so vind die siftingsproses plaas en die goeie rabbi’s kry noodwendig die goeie studente, en omgekeerd. Beide se beeld word in die proses gepoets. ‘n Wen-wen situasie.

Maar dan is daar die manne wat die eerste eksamen by die sinagoge as kinders net-net geslaag het, vir wie daar gesê is dat hulle liewer maar moet halt roep en die ambag van hul pa moet gaan aanleer. Hulle sal verder net hulle tyd by die sinagoge se klasse mors, asook die rabbi’s se tyd. Almal is eenvoudig nie gemaak om rabbi’s of dissipels te word nie. Dis net ‘n klein elite-groepie beskore. Die res van julle, gaan terug huistoe, en gaan word skrynwerkers, of vissermanne, of doen maar wat jou hand vind om te doen. Gaan net liewer huistoe. Geen rabbi gaan julle eendag kies nie. So ‘n bediening is immers nie vir almal bedoel nie.

En toe, net nadat sy bediening begin, gaan stap Rabbi Jesus, wat sélf nie formele opleiding ontvang het nie, eendag langs die Meer van Galilea, en Hy kyk die vissermanne so uit, die wat destyds nie veel sukses in hul studies by die sinagoge behaal het nie, die wat weggewys is vir verdere studie. “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak”, roep Jesus vir Simon Petrus en sy broer Andreas terwyl hull besig is om hulle werpnet in die see uit te gooi. ‘n Entjie daarvandaan sien hy nog twee broers, Jakobus en Johannes, wat in hulle skuit besig is om nette reg te maak. En Hy roep hulle ook. “Kom hier!” En hulle het almal dadelik hulle nette en hulle skuit gelos. Die laaste twee het nog hulle pa ook verlaat. (Ja, soms is dit nodig om mense agter te laat wanneer jy kies om die Here te volg. Onthou, jakkalse het gate en voëls neste, maar die Here het nie eens ‘n rusplek vir sy kop nie – Matt 8:20. Dit kán gebeur dat jy jou tuiste verloor as jy agter Hom aan gaan.)
Die vissermanne het vir Jesus gevolg, en hulle het sy dissipels geword.

Nog ag ander het metteryd ook by die groep aangesluit. Onder meer die tollenaar Matteus, wat hierdie evangelie later sou neerskryf. Ook hy was nie ‘n modelstudent by die sinagoge nie. Inteendeel, hy het vir die korrupte Romeinse regering gewerk en belasting ingesamel. In die proses het hy dikwels sy mede-volksgenote, die Jode, verloën deurdat hy maksimum voordeel uit sy beroep wou trek en in wese van hulle begin steel het. Wanneer die Fariseërs dit sien en daarna vra, dan antwoord Jesus: “Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag liefde/barmhartigheid /genade (hesed) en nie godsdienstigheid nie.’ Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.” (Matt 9:13 > Hos 6:6). Jesus roep nie die wat goed genoeg is nie, Hy roep juis die wat weet dat hulle nie goed genoeg is nie. Hy roep nie die wat potensiaal toon in die godsdiens nie, maar die wat weet wat ware menswees beteken…

En so stap Jesus vir drie jaar ‘n pad met sy dissipels. Hy leer en onderrig hulle in wat, vir Hom, die kern van die wet is – naamlik die wet van liefde, en nie die wette van die tradisionele godsdiens nie. Hy leef dit sodat hulle kan sien hoe hierdie liefde prakties lyk. Hy vat aan sondaars en siekes en Hy maak weer vir hulle plek in die samelewing. Hy gee hulle menswaardigheid aan hulle terug.

Jesus is totaal anders as die ander rabbi’s, en sy dissipels het soms gewonder wat hulle besiel het om uit die skuit te klim en hulle nette en mense te los en Hom te volg. Petrus het eendag ontsteld vir Jesus gevra: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?” (19:27). ‘n Maklike pad was dit nie. Een vol misverstand, en moedeloosheid en teleurstelling na beide kante toe. ‘n Pad wat sou uitloop op verraad deur die een dissipel. En verloëning deur die ander – die einste Petrus wat so sterk vir Jesus daaraan herinner dat hy alles vir Hom gelos het, en kyk waar bring dit hom… Dit bring hom by die punt waar hy sy Rabbi verloën… Want dit wat die rabbi Jesus verkondig en doen, dit wat Hy van sy dissipels verwag, dit is nie waarvoor hulle “opgesign” het nie. “Jammer, Leermeester, tot hiertoe het ons u gevolg, maar nie verder nie.”

En dan stap hierdie andersoortige Rabbi met die vreemde leringe wat plek maak vir sondaars en siekes, vir liefde en vergifnis, dan stap Hy die res van sy pad alleen. En word Hy gekruisig vir dit wat Hy verkondig het, dit waarvoor Hy gestaan het, die mense vir wie Hy gestaan het… Eers verraai, dan verloën en dan gekruisig. Omdat mense net nie kon vat kry aan Hom en die liefde wat Hy versprei nie.

Maar Hy staan op uit die dood!, en, soos aan die begin met die roeping van die eerste dissipels, gaan stap Hy weer op ‘n dag by die Meer van Galilea (Joh 21). Hy maak ‘n vuurtjie en Hy braai vis. En wie sal Hy daar ontmoet?… Die dissipels het teruggegaan na die werk wat hulle gedoen het voordat Jesus hulle drie jaar terug by dieselfde meer kom roep het om Hom te volg. Hy vind hulle op die meer, in hulle skuit, vuil en moeg na ‘n deurnag van nette werp sonder enige vangs. Maar Hy maak hulle nette vol, en Hy nooi hulle om te kom eet van die vis wat Hy gebraai het. En nie een waag dit om te vra wie Hy is nie, want hulle het gewéét.

Nadat hulle geëet het begin Jesus met Simon Petrus praat, die een wat so kwáád was oordat hy alles gelos het om vir Jesus te volg, die een wat Hom verloën het toe Jesus hom die nodigste gehad het. Die een wat netnou eerste gesien het dis die Hére wat daar staan…
“Simon seun van Johannes, het jy My baie lief? Meer as hulle almal hier? Meer as al hierdie dinge – die boot en die nette?”
“Ja, Here, U weet dat ek liefhet.”
“Laat my lammers wei.”

“Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?”
“Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.”
“Pas my skape op.”

“Simon seun van Johannes, het jy My lief?”
En hier begin Petrus huil: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.”
“Laat my skape wei.
Ek verseker jou dit gaan nie maklik wees nie, en jy gaan gebring word waar jy nie wil wees nie. Maar nietemin: Soos wat Ek jou aan die begin hier by die meer geroep het, roep Ek jou nou weer. Volg My!”

En dan volg die tipiese omkyk na die ander.
“Here, wat van hulle? Wat van hom/haar?”
“Dit het niks met jou te doen nie,” sê Jesus. “Dis nie jou saak hoe en wat Ek met ander maak nie, volg jy My net.”
En, herinner ‘n vriend my die week, ook in hierdie tweede “Volg my!” is daar geen duidelike plan en sekerheid nie. Dis net ‘n “kom, gee My jou hand dat ons loop, en nie nog oor ander en ander dinge wonder nie”.

Aan die einde word Petrus weer uitgestuur met absolute onvoorwaardelike verbintenis. Dit was toe juis “die ander een” wat die Evangelie later neergeskryf het.

Stop jou vrae. Die ander rondom jou het niks met jou te doen nie. Dis nie jou saak hoe en wat Ek met ander maak nie. Volg jy My net. Kom, gee My jou hand dat ons loop…”

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Matteus 3: 13-17 – 2014

12 Januarie 2014 Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond
So aan die begin van die nuwe jaar is dit altyd ‘n geleentheid vir bestekopname – om terug te kyk nie net oor ons eie lewens nie, maar ook oor die geskiedenis, en dan natuurlik om vorentoe te kyk en bepaalde besluite te neem aangaande die jaar en jare wat voorlê. Januarie is dus ‘n tyd vir onthou. As gelowiges wil ek julle vanoggend terugneem na ‘n onthou van baie lank gelede…

Kortliks: 4 000 jaar gelede is Abraham uit Ur geroep en belowe God vir hom ‘n groot nageslag en baie seëninge. Ons kan sê dat God se geskiedenis met Israel daar begin het. Die gebeure in die OT vanaf Abraham se roeping speel dan af oor ‘n verloop van ongeveer 2 000 jaar. Die volk Israel is keer-op-keer onttrou aan God, ten spyte van sy sorg en sy seëninge. God roep profete om die volk tot insig te bring, maar die volk bly ongehoorsaam. Later waarsku die profete vir die volk dat hulle alles gaan verloor as hulle nie terugkeer na God toe nie. Hierdie waarskuwings val egter op dowe ore, en die volk verloor uiteindelik hulle land, hul identiteit en selfs hul godsdienstige vastigheid en word as gevangenes na Babilonië weggevoer.
Baie jare later kan die volksgenote wat die ballingskap oorleef het terugtrek na Israel toe, maar alles is vervalle – nie eens die paleis en die tempel het staande gebly nie. Alles moes van voor af herbou word. Daar heers ‘n depressiewe gevoel onder die mense en die profete sukkel om hulle moed in te praat. Ten spyte van die nuwe verbouings kon hulle nooit weer terugkeer na waar hulle was voor die neerslaë en die wegvoer in ballingskap nie. In hierdie tyd onthou die volk nog die beloftes wat die profete vanaf God ontvang het – dat daar vir hulle verlossing sal kom, want uit die nageslag van Dawid sal die Messias gebore word, die Gesalfde, die Een wat die volk sal bevry en heling en herstel sal bring. Maar jare en jare gaan verby en niks noemenswaardig positiefs gebeur nie. En die ergste van alles dalk – die profete se stemme het stil geword. Tussen die laaste profesieë in die OT (profesieë wat die profete van God self af ontvang het) en die aankondiging van Jesus se geboorte in die NT het 400 jaar verloop – 400 jaar waartydens God nie gepraat het nie…
En toe skielik kondig ‘n engel eerste aan Sagaria aan dat Johannes gebore sal word, en daarna engel Gabriël aan Maria dat sy ‘n seuntjie sal hê en sy moet hom Jesus noem, want hy sal die seun van die Allerhoogste genoem word, en God sal aan hom die troon van sy voorvader Dawid gee. En die kindjie word gebore en ‘n hele engelekoor sing daarvan vir die herders in die veld. Na 400 jaar van stilte word God weer via die monde van engele gehoor met die geboorte van Jesus!
Dws 4000 jaar gelede is Abraham uit Ur geroep. Na God se geskiedenis met die volk in die OT het Hy vir 400 stil geword. En toe word Jesus gebore – 2000 jaar gelede. Van sy eerste 30 jaar lees ons nie veel nie. Ons weet hoedat sy ouers vir sy lewe gevlug het na sy geboorte, ons lees later hoedat hy as opgeskote seun die geleerdes in die tempel uitvra. En dis al wat ons in die evangelies oor Jesus se eerste 30 jaar lees. Hy het eintlik ‘n redelike privaat lewe in Nasaret gelei. Jare van grootword en van voorbereiding … vir wat?, sou ons kon vra. Totdat hy as 30-jarige na sy neef Johannes toe kom om in die Jordaanrivier gedoop te word…

Teks lees…
Vs 14: Johannes het grootgeword met die profesieë van die engele wat aan sy ouers en aan Maria en Josef gegee is in sy ore. Van kleins af het hy gehoor dat hy die profeet is wat die pad vir die Here gereed moet maak, en dat sy neef Jesus daardie Here is wat uiteindelik gekom het om aan sy volk bevryding te gee. Daarom dat hy hier so huiwer.

Boodskap
God het by monde van die engele gepraat voor en tydens Johannes en Jesus se geboorte, maar hier – vir die eerste keer na ongeveer 400 jaar – gaan die hemel oop (Markus – skeur die hemel oop) en word God se eie stem weer deur die mense gehoor. Die vraag is nou: Wat is dit wat vir God na soveel eeue weer aan die praat kry? En die antwoord? Jesus word gedoop, en met hierdie doop word sy roeping bevestig. Deur hom dus te laat doop stel hy hom tot beskikking van die wil van God vir sy lewe, wy hy homself toe tot hierdie roeping. Wanneer Jesus dit doen, dan gaan (skeur!) die hemel oop en daal die Gees neer soos ‘n duif en praat God vanuit die ope hemel: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” Die Een erken die Ander, en in die daad is Vader, Seun en Gees betrokke.

Die volgende vraag is nou: Waarom het Jesus hom laat doop? Waarom het hy sy roeping aanvaar? As ons hier na die gang van die geskiedenis kyk, die voorspellinge van eeue gelede al, dan die aankondiginge van die engele voor, tydens en na Jesus se geboorte, kan ons sien hoedat God en sy planne agter die lewe van Jesus steek. Ons sien hoedat God hierdie kind se lewe beskerm toe soveel seuntjies rondom hom doodgemaak is. Ons sien hoedat Jesus eintlik eenvoudig grootword, die kind van doodgewone mense, mense oor wie daar agter die hande geskinder word, sodat diesulkes eendag met vrymoedigheid na hom sou kon kom. Ons sien hoedat Jesus ‘n aanvoeling kry vir die gesprekke in die tempel en hoe hy as jongeling daaraan gaan deelneem, heeltemal buite die gebruike van die tyd om en tot almal se verbasing. Ons kan ons indink dat sy ouers Josef en Maria asook sy oom en tannie, Sagaria en Elisabet, van kleintyd af met hom sou gesels, en vir hom vertel het van die buitengewone omstandighede rondom sy geboorte en die boodskappe van die engele. En naas al hierdie redes, was dit tog seker so dat Jesus in elk geval van jongs af binne Homself gewéét het wie hy was, en wat God se plan vir sy lewe was. Daarom, toe die dag aanbreek dat hy sy openbare bediening moes begin, het hy homself laat doop.

En dan: Wat was die wil van God vir Jesus se lewe? Waaraan het hy onderneem om gehoorsaam te wees, waartoe het hy homself verbind tydens die doop? Vir Jésus se lewe lê die antwoord in die gebeurtenis van die doop self. Want Jesus is nie met dieselfde doop as ons gedoop nie. Hy is met die bekeringsdoop gedoop – dit is die doop wat berouvolle sondaars ondergaan het omdat hulle deur die doop vir God wou sê dat hulle weet hulle het verkeerd opgetree en hulle is opreg jammer oor hul sondes. Vir ons vandag is dit belangrik om te weet dat hierdie doop ‘n voorlopige doop was – ’n doop wat vandag nie meer nodig is nie omdat Jesus reeds vir al ons sondes betaal het. Want nou kom Jesus na die Jordaan toe aangestap, die énigste mens wat géén sonde gedoen het nie, die enigste een wat nie in daardie kultuur hierdie doop hoef te ondergaan nie, en hy laat hom nogtans doop. Omdat hy, die een sonder sonde, deur hierdie doop homself so met sondaars vereenselwig dat hy hom met hulle doop laat doop, en dat hy deur dit te doen, alle sondaars se sonde op sy eie skouers neem. Met sy doop het hy ons eie kruise van ons skouers kom afneem en op sy skouers getel. As hy in die Jordaan afgaan in die water in, dan kom hy daaruit op met die wêreld se sondes op sy skouers. En eers dan het hy sy roeping opgeneem. Want sy Godgegewe roeping was om met al hierdie sondes na die kruis toe te stap, en daar die prys namens sondaars te gaan betaal. Jesus is gebore en geroep om die wêreld los te koop uit die mag van die sonde. Hy aanvaar sy roeping sodat die wil van God gedoen kan word, en so neem Hy die eerste tree in wat op die ou-end die verlossing van die wêreld sal beteken.

Ons leef vandag anders, want ons leef nie meer in die voorgeskiedenis van Jesus nie, ook nie in die 400 jaar se stilswye na die profetiese stemme van die OT nie. Ons leef in die tyd nadat God weer in beweging gekom het, en sedertdien die verlossing gebring het. Ons leef nie met wanhoop omdat alles geëinding het nie, ons leef met die hoop vanuit ‘n nuwe begin. Omdat één mens sy roeping gehoorsaam het, ten spyte van wat dit hom gekos het, ongeag die feit dat dit hom spot en verwerping op die lyf gehaal en sy lewe gekos het. Hy sou kon terugdraai, maar hy het nie. Pas nadat hy sy roeping aanvaar het is hy 3 maal in die woestyn voor die versoeking gestel om dit te laat vaar en eerder ‘n makliker lewe, ‘n gerieflike lewe vir homself te kies. Maar hy doen dit nie. Hy dink nie aan homself nie, maar aan die mense vir wie God hom geroep het. Hy dink aan elkeen van ons. Hy kies teen homself sodat hy vir ons kan kies. Ons leef vandag as vry mense omdat Jesus in gehoorsaamheid aan God sy roeping nagekom het, al het dit hom bloedsweet en die dood gekos.

Op kleiner skaal en met baie minder radikale uitkomste as die roeping waaraan Jesus gehoor gegee het, en waarvoor hy homself gegee het, word ons ook vandag geroep deur God, elkeen op ons eie manier om aan Hom gehoorsaam te wees, om sy wil te doen, om ja te sê vir sy plan aangaande ons lewens, of sy plan met ons aangaande ander mense se lewens… Sowaar nie ‘n roeping wat die wêreld gaan verlos nie, maar roepinge wat dalk in enkele mense se lewens liefde en verligting kan bring, en wie weet, dalk selfs genesing of hoop of die kans op ‘n nuwe begin? Ons is gebore en vanaf geboorte word ons voorberei, soms op onverklaarbare maniere, maar tog – aktief voorberei vir dit waartoe God ons roep. En dan word ons voor die keuse gestel of ons gehoorsaam wil wees aan God en hierdie roeping wil opneem, en of ons eerder aan onsself en ons eie gerief en veiligheid in die toekoms wil dink, en self ons paadjie wil rig.

Ek praat nie hier van ons beroepe, sodat die van julle wat reeds afgetree is nou kan terugsit en dink dis ‘n preek vir die jongeres nie. Roeping en beroep is nie dieselfde ding nie. Dit is wel moontlik om die twee met mekaar te “trou”, maar ‘n goeie rekenmeester of onderwyser is nie sonder meer iemand wat sy of haar roeping uitleef nie. Mens kan selfs ‘n goeie predikant wees maar steeds nie besig wees om God se wil vir jou lewe uit te leef nie. Roeping lê op ‘n ander vlak as beroep. Mens kan nog aftree en jou beroep vaarwel roep, maar jou roeping stop eers die dag as jy jou kop neerlê. Jesus is geskool in die beroepe (die ambagte) van skrynwerker en dalk ook as visserman, maar sy roeping was om ander se laste op homself te neem. Soms begin jou roeping dalk eers wanneer jy namiddag van die werk af kom, of wanneer jy oor naweke tyd op hande het om op ‘n manier vir ander (minderes) tot diens en seën te wees.

Omdat Jesus Homself prysgegee het, het Hy dit moontlik gemaak dat elkeen van ons “geliefde kinders van God” genoem kan word. Hy het versoening tussen ons en God gebring. Dit het begin by sy doop, dit het geëindig by sy dood, en die gebroke verhouding tussen ons en God is herskep in sy opstanding. Met Jesus se doop het die hemel oopgegaan en God self het na eeue van stilswye weer sy eie stem laat hoor: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” Martin Luther sou sê dat die hemel so oopgegaan het op die dag van Jesus se doop, dat dit nooit weer kon toegaan nie, dat ons sedertdien altyd nog onder ‘n oop hemel leef. Maar is daar nie dalk iets in om te dink dat die hemel steeds vandag by tye oper en oper skuif – elke keer ‘n bietjie oper wanneer ‘n kind van God “ja” sê vir sy of haar roeping, en hulself beskikbaar stel om in gehoorsaamheid aan Hom te leef, maak nie saak wat dit hulle sal kos nie. Ons word immers geroep om die werk van die Here voort te sit… Om te volg in sy voetspore, en ons weet waarheen sy voetspore gegaan het.

Wie van ons is bereid om onsself aan die begin van 2014 opnuut toe te wy aan die besondere roeping van God vir ons lewens? Wie van ons is bereid om hierdie jaar alles te gee om in gehoorsaamheid aan Hom te leef, te dien, en wie weet, dalk selfs te sterf…? Julle is die geliefde kinders van God. Mag sy stem aangaande julle vanuit ‘n oop hemel gehoor word: “Oor hierdie kinders verheug Ek My.”

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.