Matteus 4:18-22 – 2014

26 Januarie 2014 Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Vandag vertel ek twee verhale. Beide speel af langs die Meer van Galilea. Maar die een is reg aan die begin van Jesus se bediening, en die ander is aan die einde. By die eerste roep Jesus die eerste dissipels, by die laaste verskyn Hy vir oulaas aan hulle. Die eerste verhaal is deur die dissipel Matteus opgeteken. Die laaste een deur Johannes.

Die verhaal maak ‘n sirkel (full circle). Daar waar Jesus met die dissipels begin, daar eindig Hy weer. En presies dieselfde gebeur. Aangrypend.

Lees Matteus 4: 18-22
Die begin van vier vissermanne se pad saam met Jesus, die eerste vier mense wat as sy dissipels geroep is.

Binne die Rabbynse tradisie van Jesus se tyd het elke rabbi ‘n groep dissipels gehad, volgelinge wat by hom leer en wat hom ondersteun in sy bediening. Gewoonlik was die dissipels van rabbi’s manne wat van kleins af al in die wette van Moses en die geskrifte opgelei is. Hulle het nie net die eerste eksamen (resertasies) by die sinagoge geslaag nie, maar ook verder studeer in die wet en die geskrifte. Van alle Joodse seuntjies is verwag om aan die minimum vereistes van die torah te voldoen – dit wil sê om die mees basiese voorgeskrewe leringe onder die knie te kry. Maar die wat goed presteer het en potensiaal getoon het, het verder by die sinagoges studeer, en vir hulle het die moontlikheid al groter geword om eendag ‘n dissipel van ‘n rabbi te wees, of wie weet, dalk selfs ‘n rabbi in eie reg te word. Wanneer die tyd van voorbereiding agter die rug was kon hierdie studente die rabbi’s van hul keuse nader en hulself aanbied as dissipels. Soms het dit ook gebeur dat ‘n rabbi van sy kant af spesifieke manne uitgesonder het en hul as dissipels gekies het. Hoe dit ookal sy – die kompetisie was sterk en die gebruik onder die rabbi’s was om die beste presteerders, die wat die meeste potensiaal getoon het, onder jou eie vlerk te kry. Dis mos vandag ook so – tydens ‘n beroepingsproses na ‘n gemeente toe kyk die kerkraad baie noukeurig na die aspirant-predikante se CV’s, hul prestasies, en laat hulle selfs psigometriese toetse doen om te bepaal of die persoon se persoonlikheid geskik is vir die betrokke gemeente. Al hoe meer gemeentes vra deesdae dat die betrokke kandidate hul CV moet vergesel met ‘n foto van hulself! Aansien, akademiese status, ekstroversie en “face-value” raak bepalend vir of jy ‘n predikant mag wees al dan nie…

Stel julle die prentjie voor in Jesus se tyd. Die rabbi’s is vroegoggend al by die sinagoges doenig en vir jare kyk hulle die studente fyn deur. En die afgestudeerde studente, op hulle beurt, gaan hang weer by die sinagoges rond, sodat hulle in die regte groepe raakgesien kan word, sodat hulle takies kan verrig wat hulle kanse op dissipelskap verhoog, sodat hulle “kontakte” kan bou. En so vind die siftingsproses plaas en die goeie rabbi’s kry noodwendig die goeie studente, en omgekeerd. Beide se beeld word in die proses gepoets. ‘n Wen-wen situasie.

Maar dan is daar die manne wat die eerste eksamen by die sinagoge as kinders net-net geslaag het, vir wie daar gesê is dat hulle liewer maar moet halt roep en die ambag van hul pa moet gaan aanleer. Hulle sal verder net hulle tyd by die sinagoge se klasse mors, asook die rabbi’s se tyd. Almal is eenvoudig nie gemaak om rabbi’s of dissipels te word nie. Dis net ‘n klein elite-groepie beskore. Die res van julle, gaan terug huistoe, en gaan word skrynwerkers, of vissermanne, of doen maar wat jou hand vind om te doen. Gaan net liewer huistoe. Geen rabbi gaan julle eendag kies nie. So ‘n bediening is immers nie vir almal bedoel nie.

En toe, net nadat sy bediening begin, gaan stap Rabbi Jesus, wat sélf nie formele opleiding ontvang het nie, eendag langs die Meer van Galilea, en Hy kyk die vissermanne so uit, die wat destyds nie veel sukses in hul studies by die sinagoge behaal het nie, die wat weggewys is vir verdere studie. “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak”, roep Jesus vir Simon Petrus en sy broer Andreas terwyl hull besig is om hulle werpnet in die see uit te gooi. ‘n Entjie daarvandaan sien hy nog twee broers, Jakobus en Johannes, wat in hulle skuit besig is om nette reg te maak. En Hy roep hulle ook. “Kom hier!” En hulle het almal dadelik hulle nette en hulle skuit gelos. Die laaste twee het nog hulle pa ook verlaat. (Ja, soms is dit nodig om mense agter te laat wanneer jy kies om die Here te volg. Onthou, jakkalse het gate en voëls neste, maar die Here het nie eens ‘n rusplek vir sy kop nie – Matt 8:20. Dit kán gebeur dat jy jou tuiste verloor as jy agter Hom aan gaan.)
Die vissermanne het vir Jesus gevolg, en hulle het sy dissipels geword.

Nog ag ander het metteryd ook by die groep aangesluit. Onder meer die tollenaar Matteus, wat hierdie evangelie later sou neerskryf. Ook hy was nie ‘n modelstudent by die sinagoge nie. Inteendeel, hy het vir die korrupte Romeinse regering gewerk en belasting ingesamel. In die proses het hy dikwels sy mede-volksgenote, die Jode, verloën deurdat hy maksimum voordeel uit sy beroep wou trek en in wese van hulle begin steel het. Wanneer die Fariseërs dit sien en daarna vra, dan antwoord Jesus: “Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag liefde/barmhartigheid /genade (hesed) en nie godsdienstigheid nie.’ Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.” (Matt 9:13 > Hos 6:6). Jesus roep nie die wat goed genoeg is nie, Hy roep juis die wat weet dat hulle nie goed genoeg is nie. Hy roep nie die wat potensiaal toon in die godsdiens nie, maar die wat weet wat ware menswees beteken…

En so stap Jesus vir drie jaar ‘n pad met sy dissipels. Hy leer en onderrig hulle in wat, vir Hom, die kern van die wet is – naamlik die wet van liefde, en nie die wette van die tradisionele godsdiens nie. Hy leef dit sodat hulle kan sien hoe hierdie liefde prakties lyk. Hy vat aan sondaars en siekes en Hy maak weer vir hulle plek in die samelewing. Hy gee hulle menswaardigheid aan hulle terug.

Jesus is totaal anders as die ander rabbi’s, en sy dissipels het soms gewonder wat hulle besiel het om uit die skuit te klim en hulle nette en mense te los en Hom te volg. Petrus het eendag ontsteld vir Jesus gevra: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?” (19:27). ‘n Maklike pad was dit nie. Een vol misverstand, en moedeloosheid en teleurstelling na beide kante toe. ‘n Pad wat sou uitloop op verraad deur die een dissipel. En verloëning deur die ander – die einste Petrus wat so sterk vir Jesus daaraan herinner dat hy alles vir Hom gelos het, en kyk waar bring dit hom… Dit bring hom by die punt waar hy sy Rabbi verloën… Want dit wat die rabbi Jesus verkondig en doen, dit wat Hy van sy dissipels verwag, dit is nie waarvoor hulle “opgesign” het nie. “Jammer, Leermeester, tot hiertoe het ons u gevolg, maar nie verder nie.”

En dan stap hierdie andersoortige Rabbi met die vreemde leringe wat plek maak vir sondaars en siekes, vir liefde en vergifnis, dan stap Hy die res van sy pad alleen. En word Hy gekruisig vir dit wat Hy verkondig het, dit waarvoor Hy gestaan het, die mense vir wie Hy gestaan het… Eers verraai, dan verloën en dan gekruisig. Omdat mense net nie kon vat kry aan Hom en die liefde wat Hy versprei nie.

Maar Hy staan op uit die dood!, en, soos aan die begin met die roeping van die eerste dissipels, gaan stap Hy weer op ‘n dag by die Meer van Galilea (Joh 21). Hy maak ‘n vuurtjie en Hy braai vis. En wie sal Hy daar ontmoet?… Die dissipels het teruggegaan na die werk wat hulle gedoen het voordat Jesus hulle drie jaar terug by dieselfde meer kom roep het om Hom te volg. Hy vind hulle op die meer, in hulle skuit, vuil en moeg na ‘n deurnag van nette werp sonder enige vangs. Maar Hy maak hulle nette vol, en Hy nooi hulle om te kom eet van die vis wat Hy gebraai het. En nie een waag dit om te vra wie Hy is nie, want hulle het gewéét.

Nadat hulle geëet het begin Jesus met Simon Petrus praat, die een wat so kwáád was oordat hy alles gelos het om vir Jesus te volg, die een wat Hom verloën het toe Jesus hom die nodigste gehad het. Die een wat netnou eerste gesien het dis die Hére wat daar staan…
“Simon seun van Johannes, het jy My baie lief? Meer as hulle almal hier? Meer as al hierdie dinge – die boot en die nette?”
“Ja, Here, U weet dat ek liefhet.”
“Laat my lammers wei.”

“Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?”
“Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.”
“Pas my skape op.”

“Simon seun van Johannes, het jy My lief?”
En hier begin Petrus huil: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.”
“Laat my skape wei.
Ek verseker jou dit gaan nie maklik wees nie, en jy gaan gebring word waar jy nie wil wees nie. Maar nietemin: Soos wat Ek jou aan die begin hier by die meer geroep het, roep Ek jou nou weer. Volg My!”

En dan volg die tipiese omkyk na die ander.
“Here, wat van hulle? Wat van hom/haar?”
“Dit het niks met jou te doen nie,” sê Jesus. “Dis nie jou saak hoe en wat Ek met ander maak nie, volg jy My net.”
En, herinner ‘n vriend my die week, ook in hierdie tweede “Volg my!” is daar geen duidelike plan en sekerheid nie. Dis net ‘n “kom, gee My jou hand dat ons loop, en nie nog oor ander en ander dinge wonder nie”.

Aan die einde word Petrus weer uitgestuur met absolute onvoorwaardelike verbintenis. Dit was toe juis “die ander een” wat die Evangelie later neergeskryf het.

Stop jou vrae. Die ander rondom jou het niks met jou te doen nie. Dis nie jou saak hoe en wat Ek met ander maak nie. Volg jy My net. Kom, gee My jou hand dat ons loop…”

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.