Psalm 119:1-8 – 2014

16 Februarie 2014 Koninkrykstyd
Prediker: Dr JP Bosman

Lees Ps 119: 1-8
Die boodskap van Ps 119 kom baie duidelik deur. God se mense moet leef vanuit God se Woord. Dit is die langste hoofstuk in die Bybel en in elke vers (behalwe 3) word daar ’n woord gebruik wat Wet, onderwysing, Torah, Woord beteken. Die langste hoofstuk in die Bybel wys vir ons inderdaad waar die swaartepunt lê – God se Woord. Ons sal later terugkom na Ps 119 se ander geheimenisse. Vir nou is dit genoeg om te weet dat hierdie Psalm ons as mense en ons as gemeente lei op die pad van God se Woord.

In 2008 was daar ’n studie uit Japan gepubliseer wat tot die slotsom gekom het dat mense wat nie dink die lewe is die moeite werd om te lewe nie, ’n groter kans het om dood te gaan binne die daaropvolgende paar jaar. Elk van die 43000 mense was gevra “Het jy ‘ikigai’ (geluk/sin) in jou lewe?” Die navorsers het gevind dat dié sonder ikigai slegter gesondheid, meer stres en meer liggaamlike pyn ervaar het. Dié sonder ikigai se kans was 50% groter om in die opvolg-periode aan enige oorsaak dood te gaan as dié wat sin in die lewe ervaar.

Mens het waarskynlik nie ’n navorsingstudie nodig om vir ons te sê dat die lewe vir baie mense min sin/ geluk/ gevoel van geseëndheid/ ikigai inhou nie. Ons werksplekke, ons families, selfs net die alledaagse lewe in die winkels en op die strate het so kompleks en gejaagd en chaoties geword dat mens meeste dae later nie meer weet of jy nou al die 49ste epos van die oggend gestuur het, en of jy wel na die 10:00 vergadering behoort te gaan nie. Sielkundiges sê ook dat kinders die lewe baie meer chaoties en gedrewe ervaar as wat enige van ons dit as kinders ervaar het.

Geluk, sin, ikigai – “Dit gaan goed” – hiermee kan Psalm 119 ons help. Die eerste twee verse sê dit in soveel woorde. Die uitdrukking hier “Dit gaan goed of gelukkig” is die voorloper van die Bergrede se “Geseënd is dié” wat ’n paar Sondae terug oor ons pad gekom het. In Psalm 119 word die geluk/ seën direk gekoppel aan ’n lewe wat op die patroon van God se Woord gebou word.

Dit sal vir ons goed wees om te onthou dat die Geseënd van die Bergrede, nie net dui op hoe ons as individue moet leef nie, maar eerstens vir ons wys wat Christene se identiteit in Jesus se nuwe orde is. As ons dus nou luister na Psalm 119, moet ons luister op dié twee vlakke. Die een is wat Ek kan doen – die ander is wat ons as Gemeente van Jesus kan doen om geluk te ervaar, maar ook om geluk te kan skenk aan die wêreld wat dit soos brood nodig het.

Ps 119 gee ons leiding oor hoe ons die geluk en geseëndheid waarvan gepraat word kan ervaar, maar ook as getuienis in die wêreld kan uitleef. Ek wil fokus op drie maniere waarmee ons God se Woord prakties kan uitleef – ons kop, ons hart, en ons hande.

Kop

Vers 2 sê “Dit gaan goed met dié … wat met hulle hele hart sy wil doen”. In die antieke tyd was mens se hart nie soseer gesien as die setel van emosies en romantiese liefde soos vandag nie. Mens se hart was eerder gesien as die setel van mens se verstand. Mens se wil, oortuigings, motivering en intellek. Daarom dat vers 7 vir ons sê dat die “ter harte neem” van God se “bepalings”, ’n “opregte hart” kweek. ’n Reguit, onverdeelde verstand. As ons so ’n kop het, kan ons God se Woord helder en duidelik hoor, en toelaat dat daardie kennis ons besluite en aksies beïnbloed. Vers 2 herinner ons ook daaraan dat ons met ons “hele hart” sy wil doen – dit wil sê onverdeeld. As iemand ’n verdeelde verstand het dan sal so iemand se aandag en lewe altyd verdeel wees tussen God se Woord, en iets anders. Psalm 119 herinner ons dat ware geluk kom wanneer ons hele hart – met ander woorde ons hele verstand, ten volle toegewyd is aan die verstaan van God se woord.

Prakties: Prediking. Bybelstudies. Kinderkerk. Wyksbyeenkomste. Persoonlike Bybelstudie.

Hart

Ek het aan die begin gesê Psalm 119 het nog ander skatte/ geheimenisse. Nou is die kans om hulle aan julle bekend te stel! Psalm 119 is eerstens ’n lied. En verder is dit ’n lied wat as ’n woordkunswerk aanmekaar gedig is. Die psalm is ’n alfabetiese psalm wat beteken dat elke stel van ag verse van die psalm met die daaropvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin. In elke stel van 8 verse word elke vers dan met dieselfde letter van die alfabet begin. Dus begin elke vers van vers 1-8 met die letter “A” of Alef, elke vers van vers 9-16 met die letter B “Bet” ensovoorts tot Z (Taw in Hebreeus).

Hierdie manier van dig bring die skoonheid van die Woord aan die lig. Dit wys vir ons op die belangrikheid van kuns, woordkuns en musiek in die lewe voor God. Dit was ook ’n opvoedkundige hulpmiddel. Net soos die kinders van vandag die alfabet moet leer, moes die kinders van die Bybelse tyd ook die alfabet leer. Die Wet of Woord van God kom tot uitdrukking in woorde, dus is die aanleer van die alfabet krities belangrik vir die lees en verstaan en toepassing van die Wet.

Die hart as emosie, as gevoel, as uitdrukking van die skoonheid en ordelikheid van God se Woord kom hier ter sprake.

Elkeen van ons kan getuig van ons eie belewenis van spanning en chaos. Psalm 119 kom sê vir ons daar is orde. Soos die alfabet georden is bring God se Woord orde in die chaos. Net soos hy aan die begin die choaswaters georden het met sy Asem. Net soos Jesus die chaoswaters van die storm op die see stilgemaak het met sy woord. Net soos die musiek wat Dawid gemaak het om Saul se onrus te kalmeer.

Prakties: Betrokke by opvoeding en skoolkinders (Siyafunda beursfonds, Herfskonsert). Kuns en Musiek in die gemeente (orrel, klavier, viool, mannekoor) ook as getuienis.

Hande

Die laaste aspek is ons hande. As ons met die kop die patroon van God se Woord verstaan, dit met ons hart ervaar en vestig deur skoonheid, kuns, musiek en opvoeding, dan behoort dit ons te beweeg om iets te gaan doen.

Psalm 119 stel dit so in vers 1 “Dit gaan goed met dié … wat wandel volgens die woord van die Here”. In die Hebreeus staan dié wat “loop in die Wet”. Dit klink dalk snaaks vir ons ore. Mens sou verstaan as mens die wet moes lees, of gehoorsaam, maar die idee van loop/ wandel in die Wet/ Woord klink snaaks.
Regdeur die Psalms word die metafoor van loop gebruik om die totaliteit van mense se gedrag en aktiwiteite uit te druk. Om dus in die Woord te “loop” beskryf wat dit beteken om die Wet/ Woord in all opsigte te volg. (Joel Lemon)

Die ontdekking van Woordgeluk in ons Kop, lei na die ervaring van Woordgeluk in ons hart, en loop uit op die uitdeel van Woordgeluk deur ons hande/ lewe.

Prakties: Begin daar waar ons betrokke is. Kom ons kyk na die bulletin! Kom ons doen dit! Maitland, Elsiesrivier, Dandelion projek…

Ek wil afsluit met Sara Miles se verhaal. In Jesus Freak: feeding – healing- raising the dead beskryf sy haar ervaring in hulle gemeente se Food Pantry projek waar hulle tot 800 mense op ’n Vrydag van vars kos, brood en vrugte voorsien. Die wonderlike van die projek is dat dit bestaan uit vrywilligers uit die armes wat die armes bedien. Sara se verhaal van bekering tot Chirstus deur die eet van ’n stukkie brood is aangrypend. Haar verhaal is inspirerend. As sy oor haar verstaan van die vermeerdering van die brood reflekteer dan raak sy die kern van God se Woord – van God se Koninkryk aan:

“Jesus shows the disciples and the crowd that there is always enough to go around: God’s economy is one of abundance, not scarcity. By giving away the things God has given us, by giving as profigately and unconditionally as God does, we receive everything we need.” (Miles 2010)

Dit is my hoop as deel van hierdie deel van die aardse liggaam van Jesus, dat ek – dat ons as gemeente – sal voortgaan om nog meer Jesus se hande en voete te wees vir mekaar, vir dié wat dit nodig het, vir dié wat dit nie verdien nie.

Soos ek hierdie deel van die preek geskryf het is dit asof die Gees my dadelik die geleentheid gegee het om te oefen. Die klokkie lui – “Meneer, ek is verskriklik honger – is daar nie iets om te eet nie?” … Wag net daar, ek maak gou iets – brood, kaas, ham, vrugte. Nagmaal op die stoep. Eenvoudig, doenbaar, prakties – Loop in die pad van die Woord.

Van Kop na Hart na Hande … Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die Woord van die Here.

Amen

Lemon, J Commentary on Psalm 119:1-8. Working Preacher. Beskikbaar aanlyn: http://www.workingpreacher.org/preaching.aspx?commentary_id=201
Miles, S 2010. Jesus freak: feeding, healing, raising the dead. San Francisco: Jossey-Bass

 

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr JP Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Matteus 5:13-20 – 2014

9 Februarie 2014 Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Die Bergrede. Ons het verlede week die inleiding daarvan gelees. In Matt 5: 1 toe Jesus die menigte sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, en Hy het hulle geleer… ‘n Klein groepie mense wat rondom Jesus vergader om te hoor wat Hy te sê het. Naas sy dissipels waarskynlik nog enkele ander mense ook, van die siekes, die versteurdes en die verlamdes wat Hy netnou nog genees het.

Die Bergrede strek in Matteus oor 3 hoofstukke heen, vanaf hfst 5 – 7. Die inhoud daarvan, soos ons verlede week gehoor het, draai die wêreld op sy kop. Met die aanbreek van die koninkryk van God is dit so: “Geseënd is die wat arm is van gees, … die wat treur, … die sagmoediges, …die wat honger en dors na wat reg is, … die wat barmhartig is, … die wat rein van hart is, … die vredemakers, … die wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, … die wat vervolg en uitgekryt word omdat hulle My volg. Júlle is die geseëndes. Eien dit toe. Ek het vir júlle gekom. Aan júlle behoort die koninkryk van die hemel.”

Dan volg daar verdere toeseggings aan hierdie geseëndes: Julle wat arm is van gees – julle wat weet dat julle God nie ken nie, julle wat treur oor verliese, julle wat nederig is, julle wat genade en medelye betoon aan ander mense, julle wat soek dat reg geskied, julle vredemakers en vervolgdes, julle wat deur die wêreld nie ernstig geneem word of selfs erken word nie, júlle is die sout vir die aarde, júlle is die lig vir hierdie wêreld wat hulle (nou nog) nie aan julle steur nie, julle is soos ‘n stad wat op ‘n berg lê en nie weggesteek kan word nie. NIE: julle moet dit word nie. Júlle is dit.

Daar is al so baie gesê oor die kwaliteite van sout en lig en wat dit nou in hierdie skrifgedeelte kan beteken. Die belangrikste is dalk om te sê dat die krag van sout en van lig daarin lê dat dit ‘n VERSKIL maak. En dan is dit ‘n positiewe verskil, ‘n noodsaaklike verskil. Want hoe proe kos wat sonder sout gemaak is? Laf. Wat gebeur as kos nie geperserveer word nie? Dit vrot. En as ‘n oop wond nie skoongemaak word nie – nog ‘n gebruik van sout in daardie dae… Dieselfde as met kos wat nie geperserveer word nie. Julle is die sout vir die aarde. Die aarde kan nie sonder julle nie… sê Jesus hier vir die eenvoudige vissermanne wat hy as dissipels geroep het.

Wat gebeur as alles om jou net stikdonker is en niemand kan iets sien nie? Absolute mayhem! Mense val, verdwaal, gaan verlore… Julle is die lig vir die wêreld. Mens steek nie ‘n lig weg nie, ‘n lig is immers nie gemaak om weggesteek te word nie. Nee, jy sit dit op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien, en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik. Wys vir die wêreld wat julle is. En wees dit. Dis tog waarvoor julle daar is. Hoe anders gemaak met sout, hoe anders gemaak met lig, as om dit te gebruik as sout en as lig.

So gepraat van goeie werke, moenie dink dat Ek gekom het om die wet en die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry… (tot by 5: 19).

Wie van julle bring nog offers aan die Here? Wie slag ‘n dier en brand nog die vleis op altare as versoening vir jul sondes?
Want dit is een van die wette in die OT…
Wie van julle is ten gunste van steniging as ‘n manier van doodstraf wanneer ‘n vrou ontrou was aan haar man?
Dit is een van die wette…
Hoekom is Nico dikwels Sondae nie in die kerk nie? Omdat hy ‘n dokter is en soms mense op Sondae gesond moet maak.
Maar die wet sê dat jy op die Sabbat geen werk mag doen nie…
Wie van julle sal daarop aandring dat ‘n kind wat deur haar pa gemolesteer word hom steeds moet eer sodat dit met haar goed kan gaan?
Dis een van die 10 Gebooie – eer jou vader en jou moeder sodat dit met jou goed kan gaan…

Sê Jesus dan nie hier dat daar nooit as te nimmer ‘n elkele jota of titteltjie van die wet mag wegval nie? Wie die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel.

Hoe is ons veronderstel om na te dink oor die wette van die OT, as ons voor ons siel weet dat ons baie van hulle in elk geval nie meer nakom nie? Wat bedoel Jesus wanneer Hy in vs 20 sê: “Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.” Want die skrifgeleerdes en die Fariseërs het selfs méér gedoen as om die voorgeskrewe wette te gehoorsaam. Hulle het hierdie wette oortréf! Hulle het die jota en titteltjie baie ernstig opgeneem. Hoe is dit dan moontlik dat die dissipels, skamele vissermanne van beroep, se getrouheid aan die wet méér moet inhou as die skrifgeleerdes en Fariseërs s’n? Hoe gemaak met hierdie uitsprake van Jesus?

Jesus bring nie ‘n ander evangelie as wat in die OT staan nie. Wat Hy gedoen het, was om mense te leer om te kan onderskei en in te sien waarom dit werklik alles gaan. Die wet geld nou meer as ooit, maar dit beteken nie dat Jesus die wet dieselfde verstaan het as die godsdientige leiers van die dag nie. Wanneer Hy sê “julle moet méér doen as die Fariseërs”, beteken dit nie “op die Fariseërs se manier maar net nog méér noukeurig nie”. Dit beteken eerder dat hulle op ‘n heel ander, nuwe manier getrouer aan die wet moet wees as die Fariseërs. Die Fariseërs het van God self vergeet en die voorskriftelike wet begin dien. Die wet het hulle god geword, en hulle het dit so ten alle koste nagekom dat hulle mense in die proses tenagekom het. Jesus wou hê dat die dissipels die manier waarop godsdiens deur die Fariseërs bedryf is, moes nalaat. Ons dien nie die wette nie; ons dien vir God. Godsdiens is nie ‘n bedryf nie, dis ‘n verhouding – met Gód, maar dan en daarom ook met onsself en met andere. Vir Jesus gaan dit om getrouheid aan die volle bedoeling van die wet, elke jota en titteltjie van die liefde…

Kom ons kyk gou weer na die struktuur van die Bergrede net om alles in perspektief te plaas. Jesus begin met die saligsprekinge as inleiding. Daarna noem Hy die aangesprokenes in die saligsprekinge, die armes van gees ens, Hy noem húlle die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld. En dan volg die hooftema van die Bergrede: Jesus het gekom om die wet en die profete te vervul (5:17). Duidelik op ‘n heel ander manier as wat die wet tot dusver verstaan is. Herhaaldelik hoor ons hierna die refrein: “Julle het gehoor dat daar gesê is (inhoud van die wet), … maar Ek sê vir julle…” En in hierdie leringe van Jesus vanaf hfst 5 -7 verduidelik Hy op verskeie maniere wat dit beteken dat Hy gekom het om die wet en die profete te vervul. En dan vat Hy dit saam in 7:12: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.” Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê – dis waaroor alles eintlik gaan. Dis wat dit beteken om sout en lig te wees.

Onder die Joodse teoloë van Jesus se tyd was daar twee groepe: die skole van rabbi Shammai en van rabbi Hillel. Shammai se groep was die peroesjiem, die “reines”, wat geglo het die Messias sou kom sodra die hele Israel die hele wet vir een enkele dag kon nakom. Hillel se skool het geglo jy moenie ‘n las op ander gelowiges laai wat jy self nie kan dra nie.
In die Talmoed word vertel van ‘n man wat die Joodse geloof wou aanneem en toe na rabbi Shammai gegaan het. “Ek wil graag ‘n Jood word,” het hy gesê, “maar op voorwaarde dat u my die hele Tora (die Wet) leer terwyl ek op een been staan.” Die rabbi het hom egter met ‘n bouersliniaal weggejaag. (Hy kan self gaan meet en pas hoe goed hy die gebooie nakom.) Toe is die man met sy versoek na rabbi Hillel. Hillel het hom op sy een been laat staan en gesê: “Wat jy nie wil hê ander mense moet aan jou doen nie, moet jy ook nie aan hulle doen nie. Dit is die hele Tora. Die res is kommentaar daarop. Gaan oefen dit.” (Uit Deist)

Jesus begin die Bergrede op ‘n bult met enkelinge wat rondom Hom kom sit en luister. Maar dit eindig heel anders. Die laaste vers in hfst 7: “Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.” Hoe verder Jesus gepraat het oor die koninkryk van die hemel en oor ‘n nuwe interpretasie en beoefening van die wet, hoe vreemder het dit geklink, en hoe meer mense het nadergestaan om te kom luister. Hulle hoor dat wat Hy sê nie sin maak nie, maar tog kan hulle nie anders as om te luister nie. Hy het met hulle gepraat soos ‘n man met gesag.

Dis ingrypend om die ontwikkeling van Jesus se leringe in die Bergrede en sy lewe te volg. Want die boodskap van vrede bring toe juis nie vrede nie! Hy het weer eendag 3 jaar later ‘n skare getrek op en rondom ‘n bult. Die Een wat destyds met soveel gesag gepraat het oor die koninkryk van Gods vrede, en van mense en verhoudinge wat belangriker is as wette, en dat die hele bedoeling van die wet in net één wet opgesom kan word – doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê, moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie – Hy het soveel onvrede met sy leringe veroorsaak. … “Uiteindelik het die peroesjiem – die reines van God – daarin geslaag om vir Jesus, met die beste bedoelinge en ter wille van die suiwer leer, tereg te stel”…

Op ‘n bult ja. Soos ‘n lamp op ‘n lampstaander. Soos ‘n stad op ‘n berg. Hy word die sout vir die aarde – dis sy bloed wat die aarde, die wêreld kom skoonmaak, kom reinig van alle sonde. Praat van practice what you preach. Die ironie is skreiend. Dat die peroesjiem, in al hulle wanopvattings en heeltemal onwetend, van Hom kom maak presies dit wat Hy gekom het om te wees…

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Matteus 5:1-12 – 2014

2 Februarie 2014 Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Die verkiesing lê alweer om die draai… So in die gees van die verkiesing, kom ons dink ‘n bietjie. Wat verwag ons van ‘n leier? Iemand wat die murg het om ‘n nasie te lei, ‘n land te regeer. Wat is die beste strategie wat so ‘n persoon aan die dag moet lê ten einde ‘n suksesvolle loopbaan in die kollig te verseker?
Ons sou dadelik kon sê dat so iemand baie mooi te werk moet gaan om die regte kandidate vir sy party te werf. ‘n Goeddeurdagte werwingsveldtog is dus van kardinale belang. Want ‘n goeie leier soek sterk navolgers, goeie orators, mense wat reeds self naam gemaak het in die omgewing waarin hulle beweeg.
Jy trek ook nie jou mense sommer so van die straat af nie. Nee, jy kies elkeen individueel, en voordat jy kies doen jy ‘n deeglike “background check”.
‘n Leier is immers op die ou-end net so sterk soos die groep wat hom volg. Dis dus uiters belangrik om jou navolgers, jou na-praters versigtig te kies…

Dan kom ons by die openingstoespraak van ‘n goeie leier. Hoe sal hy begin, wat sal hy sê om sy mense se guns te wen? Om hulle veilig te laat voel? Om vir hulle sekuriteit te gee? Om vir hulle te laat weet hulle lewens, hul belange en hul toekoms is in goeie hande as hy aan bewind is. Met watter woorde sal hy hulle opsweep tot juigkrete en daadwerklike aksie?
‘n Voorbeeld van ‘n toespraak wat goed sal afgaan, is dalk iets soos die volgende:

“Onder my bewind wil ek julle van die volgende verseker:

Dit sal goed gaan met die wat op hul eie voete kan staan en vir hulleself kan sorg, want hulle sal hul eie huise besit. (Hoor hoor!)
Dit sal goed gaan met die wat altyd lag en vrolik is, want hulle het nie troos nodig nie. Vir hulle sal ek ‘n stérk leier wees. In my kabinet is daar nie plek vir sissies nie. (Hoor hoor!)
Dit sal goed gaan met diegene wat hulself kan handhaaf en hul plek vol kan staan, want die wêreld behoort aan hulle. Ek waarborg julle, ons sal die hele wêreld aan ons voete hê! (Hoor hoor!)
Dit sal goed gaan met die wat op die regte tye ‘n blinde oog kan gooi as dinge nie so regverdig verloop vir mense wat nie ons saak versterk nie, want die wat weet wanneer wegkyk meer lonend is as raaksien, sal genoeg geld hê en nooit honger gaan slaap nie. (Hoor hoor!)
Dit sal goed gaan met die wat weet dat ongenaakbaarheid ‘n integrale deel van die lewe is, want swakheid sal nie geduld word nie. Onder my regering leef ons met die beginsel van ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand – en julle sal sien, niémand sal met my skoor soek nie! (Hoor hoor!)
Dit sal goed gaan met die wat weet dat ‘n leuen op sy tyd noodsaaklik is vir oorlewing, want hulle is slim, kom weg met dinge, en kom so voor in die lewe. Hulle sal hul eie suksesse beleef.
Dit sal goed gaan met die wat kan oorlog voer, want hulle sal soldate in my weermag wees. Hulle sal grens toe gaan en die geleentheid hê om met die trek van ‘n sneller of die gooi van ‘n granaat te besluit oor die lewe van ‘n ander persoon. Ek sal aan hulle mag gee. (Hoor hoor!)
Dit sal goed gaan met die onder julle wat my vyande kan vervolg, want so sal ons meer en meer grond wen, en op die ou-end behoort die hele wêreld aan ons! (Hoor hoor!)
Laaste maar nie die minste nie: Dit sal goed gaan met julle wanneer die mense julle prys en agter julle aanloop en altyd goeie dinge van julle sê omdat julle m‎y volg, want julle loon op die aarde is groot: soveel pryswoorde om op te roem! Julle name sal op my ereskild in die presidensiële voorportaal verskyn. (Hoor hoor!)

Hoor julle die wonderlike toespraak? Yes, you can!… En die skare antwoord met dawerende applous: Hoor hoor!

Jesus van Nasaret is gebore. En van vóór sy geboorte af al ge-etiketteer as die nuwe opkomende leier, die een wat die Jode uit die greep van die Romeinse heerskappy sal verlos, die een wat met militêre strategie en geweld sy pad sal ooploop totdat hy op die troon van die land sit. Niks sal hom kan keer nie, want God is aan sy kant. Die koninkryk van die Romeine is aan die begin van sy einde, want met die geboorte van Jesus het die koninkryk van God (die koninkryk van die Jode!) aangebreek. Hoor hoor!

Vir die eerste 30 jaar van sy lewe handhaaf Jesus ‘n laë profiel. Sy agtergrond en familiegeskiedenis is nie te waffers nie, buite-egtelike kind, word groot aan die verkeerde kant van die spoorlyn. Maar hy word groot, en iewers raak dit tyd om sy eie naam te maak, los van sy familie, en om die mense te oortuig van wie hy werklik is. Hier is sy kans nou – as hy net mooi strategies te werk gaan, dan kan mense hom dalk sy agtergrond vergewe en die potensiaal van ‘n nuwe regeerder in hom raaksien. (Daar is immers ook al ander leiers wat bo hul omstandighede uitgestyg het en die onmoontlike reggekry nie … onder meer ook ons eie Nelson Mandela.)

Maar van die begin van Jesus se veldtog af loop dinge lelik skeef. Vir sy inwydingseremonie laat hy homself met die doop van sondaars doop. Hierdie leier wat mense aan sy kant moet kry, verklaar homself in die openbaar as sondaar. Oeps…
Daarna word hy in die woestyn 3 keer rykdom en mag en status aangebied – asof op ‘n goue skinkbord aangedra. Wat ‘n goeie begin sou dit nie vir hom wees nie. Maar hy wys dit alles van die hand…
Toe breek die tyd aan om sy kabinet bymekaar te maak. Hy moet goeie manne kies, sterk manne, slim manne, politici en leiers en skrifgeleerdes en priesters en leermeesters, manne wat sy saak sal versterk. Maar in plaas daarvan om by die parlement en die hof en die sinagoge te gaan soek, gaan stap hy langs die see. En hy roep eenvoudige vissermanne en nooi hulle om op sy kabinet te dien.
En toe dit tyd raak om bande te bou met ander maghebbers, tyd om vergaderinge agter toe deure by te woon en sake te bespreek? Toe is hy te besig om siek mense gesond te maak, om duiwels uit te dryf, om aandag te gee aan geestelik versteurdes en verlamdes, en om met hierdie veragtelike mense geselsies aan te knoop.

Maar al sy kanse is nog nie verspeel nie, want die groot dag breek aan en Jesus gaan sy openingstoespraak lewer. As hy nou sy woorde reg kies en met sy argumente kan oortuig, dan kan daar net miskien dalk wel ‘n positiewe wending kom vir sy beoogde pad na die troon…

Lees Matteus 5: 1-12
En die skare is stil… Geen applous nie, geen “Hoor hoor!” nie. Want niemand kan glo wat hulle hoor nie.
Hier is hierdie groepie mense rondom Jesus. Die wie se lewens al deur Hom geraak is. Die dissipels wat nou-die-dag nog vissermanne was. Saam met hulle ook die siekes en die versteurdes wat netnou nog deur Jesus gesond gemaak is. Die armes wat niks beter het om met hulle tyd te doen as om op straat rond te loop en te sien wat Jesus doen en dan ook maar agter Hom aan te loop en te luister wat Hy te sê het nie. Wie weet, Hy laat hulle glad nie dink aan ‘n opkomende politieke leier en regeerder nie, maar dalk verras Hy hulle nog. Dis immers reeds ‘n verrassing dat Hy hulle nie verwilder nie. Dis reeds opvallend dat Hy vir hulle tyd maak, met hulle bemoeienis maak, terwyl die ander leiers beter en belangriker dinge het om te doen.

Maar wanneer Jesus dan begin praat, al is dit met die armes en die veragtelikes, maak Hy ‘n toespraak wat glad nie sin maak nie. Dit begin sommer in die eerste sin met ‘n skokgolf: “Geseënd is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” Dws: Geseënd is die wat geestelik bankrot is. Geseënd is die wat geen godsdienstige bekwaamhede of potensiaal toon nie – die wat dit nie gemaak het in hul studies van die torah en die geskrifte nie. Die wat niks weet van God nie. Geseënd is die wat weet dat hulle God nie het nie … want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

En onthou verlede week se boodskap: Met wie praat Jesus nou weer hier? Met die wat geen godsdienstige potensiaal getoon het nie. Met die wat weet dat hulle niks van God weet nie. Met die wat daarom ook weet wat hierdie leemte in hul lewens beteken, met die wat net maar met hulle niks en hulle verwardheid na Jesus se toespraak kan kom luister. Geseënd is julle wat arm is van gees, want aan júlle behoort die koninkryk waarvoor Ek gebore is, aan júlle behoort die koninkryk wat Ek hier vestig. Hierdie koninkryk hét nou aangebreek, en dis vir júlle, julle wat dink dat julle dit nie werd is nie, julle wat weet dat julle dit nie verdien nie.

So kan ek elke uitspraak van Jesus so bietjie lyf gee en uitbou, maar dit is nie die punt van vanoggend se boodskap nie. Dit is elk geval ook nie so moeilik om hierdie uitsprake te verstaan nie. Die punt van die boodskap, en van Jesus se inleiding van sy intreerede, is om vir die mense wat daarna kom luister het, te oortuig dat s‎y boodskap, dat sy koninkryk vir húlle bedoel is. Hy praat hier met die swakkes, die gebrokenes, die wat nie kan aandring op ‘n geregmatige plek in die samelewing nie, die wat swaarkry, die wat arm is van gees.
“Ek wil vandag vir julle kom sê dat júlle die gelukkiges is. Die koninkryk wat Ek kom vestig is vir júlle bedoel. Ek soek nie die sterkes en die slimmes en die hardvogtiges en die magsbeheptes nie. Hulle kan hulleself maar help. Die verskil tussen my koninkryk en die koninkryke wat julle tot dusver ken, is dat my koninkryk bedoel is vir die mense wat hulself nie kan help en beskerm en verdedig en emansipeer nie.

Die fokus van die saligsprekinge is nie die skare nie. Die fokus is nie die armes van gees en die wat treur en die sagmoediges en die barmhartiges nie. Dit gaan nie hier om verdienstelikheid nie – bv “sorg dat julle arm is van gees, want dat sal julle die koninkryk ontvang; sorg dat julle treur, want dan sal julle vertroos word; sorg dat julle vervolg word, want dan het julle ‘n plek by My” nie. Nee, hierdie seëninge word nie verdien deur die regte, nederige lewenshouding en gedrag nie. Die seëninge is ‘n gegewe, dit word toegesê, en die verrassende lê daarin dat Jesus dit toesê aan die tipe mense van wie ons dit die minste sou verwag. Dit is baie belangrik dat ons dit sal verstaan. Die teks, die inhoud van wat Jesus sê, gaan primêr oor wie Gód is, en nie oor wie ons is nie. Dit gaan oor wie hierdie nuwe leier is. Dit wil juis vir ons sê, ongeag wie en wat ons is – daar hét nou in Jesus van Nasaret se koms ‘n koninkryk vir ons aangebreek, daar ís vir ons plek in hierdie koninkryk – selfs al weet ons dat daar nêrens anders vir ons ‘n plek in hierdie wêreld is nie. Juis dan…

Jesus sê: dís soos dit is in die koninkryk van die hemel. Glo dit maar, maak dit julle eie. Dit is reeds julle s’n – julle almal wat nie goed genoeg is vir die standaarde en vereistes van die samelewing nie, julle almal wat dink dat julle nie goed genoeg is nie, wat dink dat julle nie ‘n plek het nie – julle hét nie ‘n plek nie ja, nie hier op die aarde nie, want julle plek is reeds in die koninkryk van die hemel. Julle mag dit dalk nie sien nie, maar dit is so. Dit is die heerskappy, die tipe regering wat Ek met my saambring. Dit is die boodskap wat Ek verkondig. Dit is die boodskap wat Ek leef. Hierby wil Ek hê dat julle moet inkoop. Glo dit, eien dit toe vir julleself – want hierdie koninkryk is juis vir mense soos julle! Júlle is die geseëndes, nie hulle nie, nie die sterkes en die onafhanklikes en die eiewyses en die met al die antwoorde en diegene wat weet hoe om ander uit te buit nie. Hulle dink hulle het die wêreld aan hulle voete. Maar julle, julle staan met julle voete in die koninkryk. Ek wil van júlle my volgelinge maak. Ek kies júlle. (Dis daarom dalk juis nie ‘n Yes You Can-toespraak nie, maar ‘n Ek Kies Julle-toespraak.)

Ek moet sê, dit ís nogals ‘n treffende openingstoespraak. Dit is tog een om te onthou. Maar nie omdat dit, na wêreldse standaarde, so goed is nie. Dalk eerder omdat dit so sleg klink, so verkeerd, so onmoontlik. Maar vir die groep wat hier deur Jesus toegespreek word, so bevrydend.
Die saligsprekinge is eintlik ‘n baie mooi naam, want Jesus bring hier ‘n absolute HEILsame boodskap aan die minderbevoorregtes: “Julle weet dat daar nog nooit vir julle ‘n plek was nie. Julle weet dat julle nog nooit behoort het nie. Julle weet dat julle nog nooit gehoor is nie. Dat julle vir elke regering ‘n las is. Maar Ek sê vir julle: In my regering is daar plek vir julle. Julle is vir My belangrik. Ek bring vir julle hoop. Van nou af sal julle raakgesien word. Want in My regering soek Ek nie in die eerste plek om deur my volgelinge gedien te word nie. Ek soek om te dien. Ek is hier vir julle, en nie julle vir My nie. Daar is vir julle hoop.”

Geseënd is julle wat weet hoe afhanklik julle van God is,
Geseënd is julle wat oor verliese treur,
Geseënd is julle wat nederig (sagmoedig) is,
Geseënd is julle wat honger is en dors is vir geregtigheid,
Geseënd is julle wat genade en medelye betoon (barmhartig is),
Geseënd is julle wat ‘n skoon, rein hart het,
Geseënd is die vredemakers,
Geseënd is dit wat vervolg en uitgekryt word omdat hulle doen wat reg is,
Want aan julle behoort die koninkryk van die hemel. Ek het vir júlle gekom.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.