Johannes 4:1-30, 39-42 – 2014

23 Maart 2014 3e Sondag in Lydenstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Teks
Vs 6: Die fontein/put van Jakob was 1,5km buite die dorp. Daar was ‘n ander put wat nader aan die dorp geleë was.
Die sesde uur, dws 12hr die middag (hulle dag het begin met sonsopkoms – 6hr die oggend)
Die gebruik vir vrouens was om vroeg in die oggend of teen skemer in die aand te gaan water haal wanneer die dag koeler is. Maar hierdie vrou gaan in die middel van die dag – die warmste uur. Dit maak nie sin nie. Boonop stap sy verder as wat nodig is – sy gaan na die verste put toe.
Vs 9: Daar steek ‘n stuk verontwaardigheid in die vrou se opmerking.
Ja, Jode meng nie met Samaritane nie. Die Jode het neergesien op die Samaritane. Hulle het hulle as halfras beskou, want die Samaritane was Jode wat na die Assiriese ballingskap tussen die Assiriërs moes woon, met die gevolg dat ondertrouery plaasgevind het. Die Samaritane was dus nie meer volbloed Jode nie, en is derhalwe nie meer as volwaardige mense beskou nie. Om met hulle te meng, om ‘n kruik te gebruik waaraan ‘n Samaritaan gevat het en dan daaruit te drink, dit sou noodwendig veroorsaak dat jy onrein word.
Die skokkende in hierdie verhaal is natuurlik nie net dat Jesus as Jood met ‘n Samaritaan praat nie, maar ook, en dalk nog erger!, dat Hy in die openbaar met ‘n vróú praat. Vir ‘n man om met ‘n vreemde vrou in die openbaar te praat, was heeltemal ongehoord. Om die waarheid te sê – die Joodse wette was so streng dat ‘n rabbi nie eens met sy eie vrou, suster of dogter in die openbaar mag gepraat het nie, wat nog te sê ‘n vreemde vrou! (Vrouens was so laag op die sosiale leer dat die Joodse mans soms gebid het: “Ek loof U o God dat U my nie ‘n vrou gemaak het nie!”)
Vs 12: Let op: Jakob is beide Jesus en die Samartiaanse vrou se voorvader. Die Assiriese ballingskap het lank na Jakob se tyd eers plaasgevind. Die twee deel dus ‘n gemeenskaplike voorvader en oergeskiedenis.
Vs 15: Die vraag ontstaan natuurlik: Hoekom sou die vrou nie weer hier wou kom water haal nie? Net om haarself die 1,5 km se loop te spaar?
In vs 16 en verder steek ‘n moontlike rede sy kop uit. Hierdie vrou loop met ‘n geweldige verleentheid oor haar kop. Sy wil waarskynlik die daaglikse waterhaal gespaar word sodat sy nie in haar skaamte en skande in die openbaar hoef te verskyn nie…
In plaas daarvan om aan haar versoek te voldoen, lyk dit asof Jesus eerder sout in die wonde vryf deur juis met sy volgende vraag haar diepe verleentheid aan die kaak te stel…
Vs 19: Hierdie berg = Gerisim, die berg waarop die Samaritaanse tempel gestaan het.
Noudat die vrou besef dat Jesus ‘n profeet is, lyk dit asof sy Hom wil toets in sy Joodse standpunt rondom die regte plek van aanbidding.
Vs 22: Die Jode weet meer want hulle geskrifte is meer volledig. Die Samaritane het ‘n gewysigde weergawe van die Pentateug as hulle “Bybel” beskou, terwyl die Jode naas die Pentateug ook die Geskrifte en die Profete en Wysheidsliteratuur gehad het. En vanuit hierdie geskrifte word daar tog reeds voorspel dat die verlossing uit die Jode sal kom.
Vss 19-23: Die vrou is besorgd oor waar die mense moet bid, terwyl Jesus eerder besorgd is oor Wie die mense moet aanbid.
Vs 25: Die Samaritane het nie ‘n messiaanse koning uit die huis van Dawid verwag nie, maar ‘n profeet soos Moses (Deut 18:15). Die verwagting van die Samaritane word hier in Joodse terme uitgedruk. Die vrou het dus ‘n heel ander “tipe” messias in gedagte as wat die Jode verwag het. Maar Jesus se reaksie maak haar oë oop vir sy identiteit as die ware Messias.

Boodskap
Die vrou by die put. So verwys mense na hierdie verhaal. Want dit gaan immers oor ‘n vrou wat op ‘n dag, in die middel van die dag, soos waarskynlik op alle ander dae, by die put van Jakob aangekom het om water te skep.

Die vraag waar rondom hierdie verhaal gebou word, is waarskynlik vir meeste mense: Wie is hierdie vrou? En ons kom nogals baie te wete oor haar. In die eerste plek is sy ‘n vrou, en oor die sosiale status van vroue in die samelewing gaan ek vir eers nie meer sê nie. Sy is ook ‘n Samaritaan, dws nie ‘n volbloed Jood nie, maar eerder ‘n persoon van “gemengde ras”. Die Jode sou haar beskou as vuil. Sy is nie iemand aan wie hulle sal vat nie, wat nog sê praat met haar of drink uit haar kruik. Verder het hierdie vrou die vreemde gedrag (waarskynlik haar gewoonte) om nie op die normale tye van die dag (oggend en skemer) saam met al die ander vrouens van die omgewing te gaan water haal nie, maar om op die warmste tyd, 12hr die middag, te gaan, wanneer sy verseker is daarvan dat sy nie ander vrouens ook sal raakloop nie. Om die een of ander rede sonder sy haar dus af van ander mense.

Nog etikette wat mense graag oor die eeue, en ook vandag, aan die vrou by die put koppel, is die van prostituut en sondares. Want, en hierin lê ook die rede vir haar afsondering, sy het al vyf mans gehad en met die sesde een by wie sy tans woon is sy nie getroud nie. Maar oor ‘n paar dinge moet ons hier helderheid kry. Ons lees nêrens dat hierdie vrou ‘n prostituut was nie. Sy het nie haar liggaam vir geld verkoop nie. Sy het ook nie owerspel gepleeg nie. Nêrens is daar die insinuasie dat sy eintlik gestenig moet word soos wat in daardie tyd met sulke vrouens gedoen is nie.

En of sy in daardie kultuur meer van ‘n sondares was as ander mense net omdat sy al vyf mans gehad het en met die sesde een saamwoon… Hieroor moet ons ook nie te vining ‘n oordeel fel nie. Een van die Joodse wette het bepaal dat ‘n vrou nie meer as drie keer mag trou nie. Hierdie vrou was al vyf keer getroud, dws die wet is al 2 maal oortree, en nog ‘n keer sou omtrent die wenkbroue laat lig. Sy kón dus nie meer trou volgens die Joodse gebruik nie. MAAR ons moet ook onthou dat nét mans van hul vrouens kon skei. Vrouens kon nooit van hul mans skei nie. Vrouens het dus baie min sê gehad in hulle verbintenisse met mans. Dit beteken dat die man wat sy nou gehad het, die een met wie sy saamwoon, se wense waarskynlik die deurslag gegee het vir haar saambly-status. Verder was vrouens van mans afhanklik ter wille van ekonomiese oorlewing. Die vrouens het nie gewerk en ‘n salaris verdien nie – hul mans het vir hulle gesorg.

Oor die redes waarom hierdie vrou al deur vyf huwelike was en nou met ‘n sesde man saamwoon, daaroor kan ons net spekuleer. En daarom moet ons dalk nie te veel daaroor wonder nie. Miskien was sy temperamenteel. Miskien het sy nie goed genoeg na die huis omgesien nie. Miskien was sy onvrugbaar, en ‘n man se rykdom het in sy nageslag gelê. Geen man sou getroud wou wees met ‘n onvrugbare vrou nie. Ons weet eenvoudig nie. Wat ons wel weet is dat die feit dat sy met ‘n man saamgebly het op hierdie stadium verraai aan die een kant dat sy ‘n behoefte gehad het om te “behoort”, selfs al is dit nie (meer) in ‘n permanente verbintenis nie, en aan die ander kant dat sy nie ekonomies op haar eie voete kon staan nie. Sy leef van die genadebrood van ‘n man wat haar graag wil hê, maar nie bereid is om die wet nog verder te strek en met haar te trou nie.

Hierdie vrou se lewensverhaal getuig nie van losbandigheid en sonde nie. Dit getuig van pyn, herhaaldelike verwerping – eers deur elke man wat met haar getrou het en later ook deur die samelewing, en desperaatheid.

Nou ken ons die vrou by die put ‘n bietjie beter. Maar voordat sy daar aangekom het, was daar al ‘n man by die put. En ons fokus soms so op die vrou, dat die eintlike punt van die verhaal, naamlik die identiteit van die man by ons verbygaan. Dit was ‘n moeë man wat ver gereis het. Toe die vrou kom water haal, vra Hy haar om vir Hom ‘n bietjie te gee om te drink. Aan sy voorkoms kon sy agterkom dat hierdie man ‘n Jood is wat dus twee reëls oortree – Hy praat met ‘n vreemde vrou en dan is sy nog ‘n Samaritaan ook. Dit is total ongehoord! Hy moet darem sy grense ken. En neem verder in ag – sy het nie gekom om geselsies aan te knoop nie. Sy kom juis op ‘n vreemde tyd water haal by die verste put vanuit die dorp, sodat sy ten alle koste ander mense kan vermy.

Wanneer die vrou verontwaardig die man aan hul onderskeie sosiale statusse herinner, laat Hy Hom nie daardeur afsit nie. Hy gaan voort met praat met haar. En Hy begin praat van dinge waaroor sy niks verstaan nie – die gawe wat God gee en die lewende water wat Hy haar kan gee. Op hierdie punt tree die vrou in ‘n gesprek met die man. Eers het sy bloot na Hom verwys as ‘n Jood. Nou spreek sy Hom aan as “Meneer, jy het nie eens ‘n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry?” (11).

Hier is baie verbande met die verhaal van Nikodemus in sy gesprek met Jesus. Nikodemus het die geboorte “van bo af” konkreet as ‘n fisiese weer gebore word verstaan. Omdat hy nie besef het wie Jesus is nie, kon hy nie begryp dat Hy van ‘n geestelike geboorte vanuit God praat wat die ewige lewe moontlik maak nie. Net so verstaan die Samaritaanse vrou nou die water waaroor Hy praat ook as fisiese water en nie as iets geesteliks wat van God af kom om nuwe ewige lewe te gee nie. Maar die Man gee nie op nie – Hy gaan voort om te verduidelik van die water wat Hy gee, die water wat ‘n fontein sal wees wat in ‘n mens opborrel en die ewige lewe gee. Waarop die vrou sê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.”

Steeds verstaan sy nie… Sy sal maar net te dankbaar wees vir fisiese water wat haar dors so les dat sy nie weer in die openbaar hoef te verskyn en by ‘n put hoef te kom water skep nie. Maar op hierdie punt word haar skaamte en haar skande ontbloot. “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”
“Ek het nie ‘n man nie…”
“Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie ‘n man nie.’ Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.”

En die Jood wat in sy gesprek met die vrou haar respek verdien het en vir wie sy as “Meneer” begin aanspreek het, word nou in haar oë ‘n profeet, want sy besef Hy weet alles van haar af. Hierop trek sy liewer die aandag van haar eie lewe af en vat sy Hom aan op die belangrikste godsdienstige twispunt tussen die Jode en die Samaritane, naamlik waar God nou eintlik aanbid moet word. Die man lig die relatiwiteit (die onbelangrikheid) van hierdie twispunt vir haar uit, en sy woorde herinner haar aan die Messias, die Christus, wat nog moet kom, en wat, wanneer Hy kom, alles aan hulle bekend sal maak. Ons weet nou dat sy as Samaritaan ‘n ander messias as die Jode verwag het. Die Samaritane wag vir ‘n profeet soos Moses, terwyl die Jode wag vir ‘n verlosser vanuit die nageslag van Dawid.

Maar toe die vrou melding maak van die Messias, die Christus, wat nog kom, gryp die man die geleentheid aan en sê vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” Sy los haar waterkruik net daar, gaan na die dorp en sê vir die mense: “Kom kyk, hier is ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?” Deur die loop van sy gesprek met haar, word (vanuit haar perspektief) ‘n antagonistiese Joodse man met wie sy nie eens mag praat nie, iemand wat sy as Meneer begin aanspreek; hierdie Meneer word ‘n profeet, en die profeet word die Messias, Christus.

Die verstote Samaritaanse vrou, baster wat sy is, word die tweede getuie vir Jesus. Johannes die Doper was die eerste getuie. Sy dissipels kom uit die dorp teruggestap na Hom toe en al wat hulle met hulle saambring is kos om te eet – kos wat Hy nie eens wou eet nie. Maar die Samaritaanse vrou keer terug met omtrent ‘n dorp vol mense, Samaritáne op die koop toe, en hulle kom tot geloof in Hom.

Die eerste groot groep mense wat vlgs Johannes se evangelie tot geloof gekom het in Jesus, was ‘n groep Samaritane. En hulle kom tot geloof weens die getuienis van ‘n verstote vrou. Want sy het ‘n man leer ken by ‘n put. ‘n Man wat glad nie eens veronderstel was om selfs na haar te kyk nie, maar Hy het met haar begin praat, Hy het vir haar gevra om vir Hom water te skep met haar “vuil” hande en haar “vuil” skepding en Hy was bereid om uit haar “vuil” kruik te drink. Hierdie vrou is nie gewoond daaraan dat mense met haar praat nie, om nie eens te praat van ‘n rein Jood, die “goeie” ras nie. Sy is verstote, eensaam – so erg so dat sy op die stilste tyd van die dag gaan water skep. Sy is tot dusver vir geen man goed genoeg nie – niemand wil haar regtig hê as sy vrou nie. Sy woon tans saam met ‘n man, waarskynlik nie omdat sy wil nie, maar omdat sy nie anders kan nie.

Maar sy het ‘n man by ‘n put leer ken en sy bemoeienis met haar het nie net haar lewe verander nie, maar ‘n hele dorp vol van die “verkeerde” tipe mense. Jesus het alle grense kom oorsteek in sy uitreiking na die vrou – geslag, ras, reinheidsgrense, sosiale status, noem maar op. En deur hierdie oorsteek van grense het haar getuienis oor Hom die mure van die dorp vol Samaritane kom afbreek. Omdat Hy vir hulle ruimte gemaak het, kon hulle in hul lewens vir Hom ruimte maak. Kon hulle in Hom glo. Nie meer as net die Verlosser van die Jode nie (soos Johannes so raak getuig in 1:11: “Hy het na sy eiendom toe gekom [dws die Jode], en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.”), maar as die Verlosser van die wêreld. So het Jesus mos in Joh 3:16 al vir Nikodemus gesê (dat Hy vir die hele wêreld gekom het), en so getuig die Samaritane, wat in gasvryheid aangedring het daarop dat Jesus nog twee dae by hulle moet bly!), getuig hulle aan die einde teenoor die vrou (kyk – mense praat weer met haar!): “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”

Die verhaal van die moeë man by die put wat by vreemdelinge en verstotelinge water soek.
Maar op die ou-end is Hy die een wat nie net een eensame vrou nie, maar ‘n hele dorp se dors kom les met die water van die ewige lewe.

Hoeveel grense is jy bereid om oor te steek?
Teenoor watter tipe mense is jy bereid om medemenslikheid te bewys?
Sal jy ooit met iemand vriendelik praat as jy weet dat daardie persoon so sleg is in ander se oë dat niemand meer met hom of haar wíl praat nie?
Vir wie sal jy water vra as jy dors is. Aan wie se huis en uit wie se beker is jy bereid om te drink?
Vir wie sal jy water gee as hulle vra?
Iemand het per geleentheid gesê die grootste verskil wat die evangelie maak, lê nie in wat ín mense gebeur wanneer hulle tot geloof kom nie, maar wat tússen mense gebeur nadat (ten minste een van) hulle tot geloof gekom het.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Johannes 3:1-17 – 2014

16 Maart 2014, 2e Sondag in Lydenstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Opmerkings

Vs 2 – in die nag – waarskynlik omdat hy skaam was om in die dag by Jesus gesien te word. Hy was immers self ‘n belangrike man, ‘n leier van die Jode, Fariseër, kenner van die wet, eintlik ‘n professor in die teologie. Hy was een van die groep mense wat skepties was oor Jesus, wat Hom wou vastrek oor sy leringe. Hy is nie veronderstel om na Jesus te gaan met sy twyfel en sy vrae sodat hy moontlik by Hom iets kan leer nie. Daarom gaan hy in die nag.
Ook opvallend dat Johannes heeltyd die donker en die Lig teenoor mekaar afspeel – deur die loop van sy evangelie. Hier gaan Nikodemus in die donker nag na die Lig toe, al weet hy dit self nog nie…

– ‘n leermeester is wat van God gekom het – “Ons weet dat U ‘n belangrike profeet van God af is”, daaroor is daar geen twyfel nie, die tekens wat Jesus doen getuig immers daarvan. Maar Nikodemus weet nog nie dat Jesus dié Profeet, die verwagte Messias is nie.

Vs 3 – Van bo weer gebore word (2 betekenisse in die een woord). Born from above OR born anew/again. Eerste betekenis is die sterkste: “VAN BO nuut/weer gebore word”. In daardie tyd het die mense verstaan dat God “bo in die hemel is”. Om dus te sê dat iemand “van bo” gebore moet word, is om te sê dat daardie persoon as ‘n nuwe mens uit God gebore moet word.

– koninkryk van God – koningskap en heerskappy van God, sy magsgebied. In Christus is die koninkryk reeds teenwoordig, maar egter nog slegs die begin.

Vs 4 – Omdat Nikodemus nie besef wie Jesus is nie, verstaan hy Jesus se verduideliking letterlik itv fisiese geboorte ipv geestelike geboorte. Nikodemus dink van onder (aards) en nie van bo (hemels, koninkryk) nie.

Vs 5 – water én Gees/wind. Water, wind en Gees word van bo af gestuur. Verder dui water en wind op die lewegewende werk van die g/Gees (krag) van God

Vs 8 – elkeen wat uit die Gees gebore is – jy sien nie sy geboorte nie, maar jy sien die effek van hierdie geboorte op daardie persoon se woorde en dade.

Vs 12 – aardse dinge vs hemelse dinge: Aardse dinge sluit in alles wat op die aarde gebeur, dws ook geboorte, wind en gees. Ook die vernuwende werk van die Gees is deel van die aardse dinge.

Vs 14 – Net soos Moses die slang hoog op ‘n paal gesit het sodat die volk Israel gesond kon word deur daarna te kyk, so moet die Seun van die Mens verhoog word aan die kruis sodat mense tot geestelike insig en verlossing kan kom (geestelik gesond kan word en met geestelike oë kan begin sien.)

Boodskap
Twee Sondae terug het ons die verhaal van Jesus se verheerliking op die berg gelees. Van hierdie verheerliking word in al die evangelies vertel, behalwe in Johannes. Bybelkenners meen dat die evangelie van Johannes in elk geval deurtrek is van getuienisse oor die heerlikheid van Jesus. En dat Johannes moontlik vertel van Nikodemus se gesprek met Jesus om hierdeur dieselfde punt by sy lesers tuis te bring as wat die ander evangeliste wou doen toe hulle oor sy verheerliking op die berg geskryf het.

Wat gebeur daar op die berg? Die dissipels sien Jesus vir wie Hy werklik is. Op ‘n tydstip van twyfel en onsekerheid (Jesus het pas vir die eerste keer sy naderende dood aangekondig) kom bevestig God aan die drie dissipels dat Jesus inderdaad sy Seun is, en dat hulle na Hom moet luister. Hulle gaan af van die berg af terug na die lewe toe, maar dinge is nou vir hulle anders. Later raak dit duidelik dat hulle steeds nie heeltemal verstaan nie, maar nietemin het hulle anders begin kyk na Jesus, hierdie gebeurtenis onthou, so dat hulle dit later kon oorvertel, kon neerskryf. So dat Petrus in een van sy briewe getuig hoedat God sy heerlikheid in hierdie moment op die berg in Jesus geopenbaar het.

Johannes verwys na die verheerliking of die verhoging van Jesus in 3:14-15: die Seun van die Mens moet verhoog (verheerlik) word aan die kruis sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê. Dit is verál na die kruisiging en die opstanding dat daar geen twyfel meer is oor wie Jesus is en wat Hy kom doen het nie.

Elkeen wat in Hom glo… Maar wat beteken geloof? Hier kom ons nou by die rede waarom Nikodemus na Jesus toe gegaan het in die middel van die nag. Sonder dat Nikodemus sy vraag gevra het, weet Jesus reeds wat op sy hart lê, en antwoord Hy hom: “Ek sê vir jou: As iemand nie VAN BO weer/nuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Hierdie stelling maak vir Nikodemus glad nie sin nie, want in die tradisie van die Judaïsme het die mense geglo dat mens self die oorgang vanuit die sondige bestaan na die nuwe lewe kan maak, natuurlik deur streng wetsonderhouding. Jesus weet egter dat dit onmoontlik is. Persoonlike prestasies en wetsonderhouding bring mens nie in die koninkryk van God in nie. Alleen maar deur VAN BO, vanuit God weer gebore te word.

Ons praat dikwels van bekering as wedergeboorte. Ons sê graag die een of daai een is ‘n wedergebore Christen. Om “wedergebore” te wees sê egter nie genoeg nie. Want wat beteken dit nou eintlik? Dit laat ruimte vir misverstand. Mens sou maklik soos Nikodemus die fout kon maak om te fisies hieroor te dink – so asof jy weer in jou moeder se baarmoeder moet terugkruip om opnuut in hierdie wêreld gebore te word. Iets wat immers onmoontlik is. Maar die Griekse woord hier se primêre betekenis is “om van bo af” gebore te word, dws van God af. Om deur God se Gees weer gebore te word. Nikodemus verstaan dit nie omdat hy te “aards” dink – hy besef nog nie wie Jesus werklik is nie.

Wat beteken dit om “van bo af” gebore te word? As ‘n baba gebore word, dan is dit dieselfde baba wat in die ma se baarmoeder was wat nou ‘n nuwe wêreld betree. En in hierdie wêreld sien die baba nuwe dinge, en leef die baba nuut, anders, leer nuwe vaardighede aan, soos om self te eet en te loop en te praat. Maar dis steeds dieselfde baba as wat in die baarmoeder was. Die baba het nie verander nie; die wêreld het verander. Dalk kan mens wedergeboorte, of om van bo af gebore te word, ook aan die hand van hierdie beeld verduidelik. Wanneer mens uit God as ‘n nuwe mens gebore word, dan is dit steeds jy. Eintlik het die mens nie verander nie. Maar die wêreld waarin jy jou na hierdie geboorte bevind is wel ‘n ander wêreld. ‘n Wêreld waar jy dinge nuut sien, dinge nuut beleef, en op ‘n nuwe manier leef omdat die ritme en die maatreëls in hierdie wêreld totaal anders is as die wêreld waaraan jy gewoond is.

Geloof is om Jesus te sien soos wat Hy werklik is. Dit is as jy in Hom meer sien as dit wat net met die blote oog sigbaar is. Om uit God gebore te word is om jou oë oop te maak vir ‘n Jesus wat nie maar net nog ‘n groot profeet is nie, maar die Messias wat gekom het om die wêreld te verlos; ‘n Jesus wat nie maar net as teleurstellende leier sy dood tegemoetstap nie, maar wat tydens sy doop en later weer op ‘n berg deur God self aangespreek word as sy “Geliefde Seun in Wie Hy Hom verheug”. Om uit God gebore te word is om te besef dat God se volle heerlikheid in Jesus aan die kruis sigbaar geword het. Dat hierdie selfopofferende daad vir ons genesing bring – dat ons gesond word wanneer ons na die kruis kyk, dat ons lewe omdat Hy uit die dood uit opgewek is en weer aan mense verskyn het, dat Hy saam met die Vader in beheer is van die ganse heelal. Dit is om jou oë oop te maak en die koninkryk van God rondom jou raak te sien. Al sien ander dit nie. Geloof, om van bo af gebore te wees, is om seker te wees van die dinge wat gehoop word; dit is om vas te hou aan die dinge wat nie gesien word nie (Hebr 11:1).

Anders as ons gewone aardse geboorte, is ons geboorte van bo af ‘n voortgaande proses. Omdat ons steeds met ons voete in dieselfde wêreld staan as voor hierdie geboorte, val ons terug en verloor ons soms ons visie op die Here en die koninkryk. Ons kan maar net om ons rondkyk en vind dat dit baie moeilik is om die dinge van hierdie wêreld te sien en om dan deur dit alles heen steeds vir God en sy heerskappy ook raak te sien. Hoop gaan verlore en geloof kan wankel. So was dit ook met die dissipels. Petrus het, nadat hy die verheerlikte Jesus op die berg gesien het en selfs drie hutte as gedenktekens daarvan wou bou, op ‘n latere stadium vir Jesus verloën toe die geloof van hom begin vra het om dinge te sien wat hy toe nog nie kon of wou sien nie. Maar die Here het hom nie gelos nie. Hy het weer aan hom verskyn – die keer veel heerliker nog as op die berg, want toe Jesus na sy kruisiging weer verskyn was dit as die opgestane Here. En Petrus het van daar af verder gestap op die pad van die geloof.

Kom ons gebruik ‘n baie meer onindrukwekkende voorbeeld as Petrus. Ons vat vir Nikodemus self. Hy was nie een van die twaalf dissipels nie. Hy was een van die Joodse godsdienstige leiers. Wat eintlik maar as ‘n lafaard in die middel van die nag na Jesus toe sluip met sy vrae, want hy is bang om in die openbaar by Hom gesien te word. Mense praat graag negatief oor Nikodemus – die man wat te skaam was om voor ander oor geloof te praat. Verder ‘n man van wie daar net nog twee ander kere in die evangelie melding gemaak word. Geen lang stories oor die pad wat hy saam met Jesus gestap het nie. Geen briewe uit sy pen nie.

MAAR as dit nie vir Nikodemus se naggesprek met Jesus was nie, dan het ons nooit Johannes 3:16 gehad nie. En die ander twee kere wanneer ons van hom hoor? Aan die einde van hfst 7 praat die leierpriesters en die Fariseërs sleg van Jesus en beraam hulle planne om Hom gevange te neem. Maar dit is Nikodemus, die een wat voorheen in die nag met Jesus gaan praat het, wat Hom in sy afwesigheid verdedig… En in hfst 19 nadat Jesus gesterf het en al wat dissipel is gaan wegkruip het, dan is dit Nikodemus en saam met hom Josef van Arimatea (wat uit vrees vir die Jode in die geheim ‘n dissipel van Jesus was), wat sy liggaam gaan haal, dit balsem, in doeke toedraai en begrawe. Dit is hierdie twee dissipels van die nag wat die laaste eer betoon wanneer almal anders die Here en sy liggaam versaak het. Dit is hierdie twee wat vir Hom ‘n begrafnis hou.

Is dit nie dalk die sterkste dade van geloof, van wedergeboorte van bo af nie? Nie om te getuig en te praat wanneer dit maklik is en mens veilig voel nie, maar om die Here te verdedig wanneer ander beplan om Hom leed aan te doen, ongeag die feit dat dit vir jou spot op die lyf kan jaag en selfs gevaarlik kan wees. En is dit nie ook ‘n daad van geloof nie – om, wanneer almal anders wegkruip want die Here is dood en daar is geen hoop meer oor nie, om dan sy liggaam te gaan haal en te versorg, en vir Hom ‘n ordentlike begrafnis te gee, om Hom op dié manier te eer wanneer eer aan Hom geensins sin maak nie… Is dit nie miskien die diepste vorm van geloof nie? Om binne die speelveld van die koninkryk te leef, die oog gevestig op Jesus, selfs as dit lyk of Hy dood is, selfs midde ‘n wêreld waar al meer mense glo dat God dood is.

“Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan nie. So is dit ook met elkeen wat uit die Gees gebore is.” Hierdie geboorte is geestelik van aard, nie fisies nie. Daarom nie ‘n “sigbare” geboorte nie. Maar jy hoor die geluid daarvan – mense se manier van kyk in die wêreld, hul woorde en hul dade getuig van hul nuwe geboorte van bo af. “Die Seun van die Mens moes verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.” Hierdie Seun is nie dood nie. Hy is opgewek. Hy lewe. Sien julle Hom? Teen alle bewyse in sien julle Hom steeds? Glo julle dit?

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Matteus 17:1-8 – 2014

2 Maart 2014 Sondag van Verheerliking
Prediker: Dr Tiana Bosman

Boodskap

Daar is veral 5 gebeurtenisse in Jesus se leeftyd op aarde wat uitstaan: sy doop, verheerliking, kruisiging, opstanding en hemelvaart. Nie te lank terug nie het ons oor sy doop gepraat. Vandag is dit in die kerklike jaar die Sondag van Verheerliking, en daarom juis hierdie teks. Jesus vat drie van sy dissipels – Petrus, Jakobus en Johannes – bergop en daar verander sy voorkoms voor hulle oë, en word daar sedertdien na hierdie moment verwys as die verheerliking van Jesus op die berg (in Engels die “transfiguration of Jesus)…

Teen my gewoonte in, het ek vandag ‘n 3-punt preek! In die eerste plek wil ek met julle praat oor die gebeurtenis wat afspeel op die berg. Daarna kyk ons na vraag waarom dit juis hier in Jesus se lewe en bediening gebeur. En heel laaste moet ons vir mekaar sê “Hoe nou verder…” Wat moes die dissipels hiervan maak? En wat kan ons vandag daarvan maak.

1. Jesus en drie van sy dissipels is alleen bo-op die berg. Sy voorkoms verander daar voor hulle oë, sy gesig begin straal soos die son, en sy klere word so wit soos lig. Skielik verskyn Moses en Elia aan hulle en hierdie twee manne wat lank terug geleef het begin met Jesus praat.

Waarom juis Moses en Elia? Ons kry nie ‘n verduideliking daarvoor in die teks nie. Maar wat ons wel weet is dat Jesus in die bergrede vir die mense kom leer het dat Hy gekom het om aan die geskrifte van die wet en die profete hul ware en volle betekenis te gee. Nou in die Bybelse tyd het Moses die wet verteenwoordig en Elia het die profete verteenwoordig. Dit maak dus heeltemal sin dat dit hierdie twee manne is wat aan Jesus verskyn.
Om dit nog verder te vat: Aan die einde van sy lewe het Moses die Moabvlakte opgeklim. Daar het die Here vir hom die beloofte land gewys en met hom gepraat en toe het hy gesterf. Die storie loop dat die Here hom self daar iewers begrawe het, maar niemand kon ooit Moses se graf vind nie (Deut 34:6)! Geen mens het dus vir Moses sien sterf of daarna bewyse gevind dat hy dood is nie.
Elia, weer, het nie gesterf nie. Sy leerling Elisa het gesien hoedat ‘n wa van vuur met perde van vuur aan die einde van sy lewe vir Elia in ‘n stormwind in die hemel opneem (2 Kon 2).
Die man van die wet en die verteenwoordiger van die profete, van wie niemand gesien het dat hulle sterf soos ander mense nie, verskyn nou tydens Jesus se lewe aan Hom op die berg. Die hele OT getuienis tree hier in gesprek met Jesus, die Een om wie die hele NT getuienis draai.

Daar is ook baie ooreenkomste met God se verskyning aan Moses in Eksodus 34. Drie manne klim saam met Moses op teen die berg, ‘n wolk oordek hulle, Moses se gesig straal, en God oorhandig die wet aan Moses. Dit is waarskynlik hierom dat Petrus drie hutte wil bou – een vir Jesus, een vir Moses en een vir Elia. In ‘n gebaar van eerbied wil hy monumente vir die drie “groot geeste” in hul geskiedenis bou, een van wie hy nogals die voorreg het om persoonlik te ken. Wat nog nie so lekker tot Petrus deurdring nie, is dat Jesus op geen manier aan Moses en Elia, hoe groot figure hulle ookal was, gelykgestel kan word nie. Moses en Elia kan nie in dieselfde asem as Jesus genoem word nie. Hy is heel anders en veel groter as hulle.

Terwyl Petrus nog so praat, het ‘n helderligte wolk sy skaduwee oor hulle gegooi en ‘n stem het uit die wolk gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” Presies dieselfde aankondiging as met Jesus se doop. Hierdie keer gaan God net nog verder: “Luister na Hom.”

Die dissipels het baie bang geword en op die grond neergeval. Maar Jesus het na hulle toe gekom, aan hulle gevat, en gesê: Staan op en moenie bang wees nie.” En toe hulle opkyk het hulle niemand gesien nie, net Jesus alleen.

Dis punt 1 – die gebeurtenis wat op die berg afspeel.

2. Nou vir die tweede punt: Waarom gebeur hierdie bonatuurlike verskynsel juis hier? Want die dissipels het nodig om gerusgestel te word rondom Jesus se identiteit. Enkele dae tevore het Hy heeltemal onverwags die ontstellende nuus aangaande sy eie naderende dood aan hulle meegedeel. Dit was die eerste keer dat Hy sy dood aangekondig het. Tot hiertoe het die dissipels nog geglo dat hulle saamstap met die man wat ‘n rebellie-beweging op die been bring en wat die Romeine van die troon gaan afveg en wat dan die nuwe koning van die Joodse volk sal wees. Hy wat alle mag en glorie vir die volk sal herstel. Petrus was so ontsteld toe Jesus oor sy dood praat dat hy Hom eenkant geneem en berispe het: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.” En Jesus dan ewe sterk aan Petrus: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”

Die dissipels is tot in hulle wese geskok in die anti-klimaks van die dood wat Jesus oor Homself aankondig. En met die verheerliking van Jesus op die berg, sy voorkoms wat begin skyn, en God wat oor Hom praat soos met sy doop as sy “geliefde Seun,” herbevestig God aan die dissipels Jesus se eiesoortige en goddelike identiteit. “Julle dink dalk julle het julle misgis met hierdie man wat sy dood tegemoet stap, maar moenie ‘n fout maak nie. Ek sê wéér: ‘Hy is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” En dan verder: “As julle dalk gedink het om Hom nie meer so ernstig te neem na nou-die-dag se aankondiging oor sy dood nie, moenie daai fout maak nie. LUISTER (STEEDS) NA HOM.”

Dus: na die dissipels se vrees en onsekerheid oor Jesus, help die verheerliking op die berg vir hulle om te onthou dat Hy meer is as wat hulle besef, dat daar iets van God aan Hom is, al verstaan hulle al minder en minder daarvan.

3. Hoe nou verder?
Nadat die dissipels weer op die berg bewus gemaak word van Jesus se andersoortigheid, en nadat God hulle dan ook herinner dat Jesus selfs meer is as Moses en as Elia, want Hy is sy geliefde Seun, wat word nou van hier af vorentoe van die dissipels verwag? Hieroor is daar nie onsekerheid in die teks nie. “Luister na Hom,” sê God vir die dissipels. Waarop hulle in vrees reageer en op die grond neerval. Maar Jesus kom na hulle toe, vat aan hulle en sê: “Staan op en moenie bang wees nie.” En toe hulle opkyk het hulle niemand gesien nie, net Jesus alleen. Alles is weer soos dit was toe hulle pas daar bo aangekom het.

Dis asof Jesus hulle uit hierdie transendente ervaring wil terugroep aarde toe. Asof Hy vir hulle ‘n “reality-check” wil gee. Want die laaste ding wat hulle nou moet doen is om so opgesweep te word deur hierdie bonatuurlik ervaring dat hulle nie weer wil teruggaan nie die lewe toe nie. Die laaste ding wat hulle nou moet doen is om monumente te bou. Nee. Hulle verkeer nog in ‘n toestand van oorweldiging oor die goddelike openbaring wat hulle ontvang het, toe kom vat Jesus aan hulle, en mens hoor in sy daad van aanraking en sy woorde iets van: “Word wakker en moenie bang wees nie. Julle het nou gesien, maar ons moet aanbeweeg. Staan op, dis tyd om terug te gaan na die lewe toe. Daar is ‘n pad wat gestap moet word, ‘n oorgang wat nog gemaak moet word…”

Om saam te vat:
1. Jesus neem die drie dissipels op teen die berg en daar bo sien en hoor hulle iets van sy goddelikheid as die ware Seun van God. Hulle word daardeur meegevoer – Petrus wil selfs monumente bou. En hulle val neer op die grond.
2. Die rede waarom Jesus hulle opneem en hulle sy verheerliking sien, is waarskynlik omdat hulle dit op die stadium so nodig gehad het. Jesus het pas vir die eerste keer vir hulle vertel dat Hy sy dood tegemoet stap en nie die troon nie. Hulle twyfel aan Hom, hulle is onseker, hulle is bang. Hulle het nodig om gerusgestel te word. Hier benadruk God dan weer aan hulle dat Jesus inderdaad sy Seun is.
3. Die openbaring op die berg beteken nie dat die dissipels (en Jesus) hulself nou van die wêreld mag onttrek en net op God se bonatuurlik openbaring fokus nie. Die dissipels het vir ‘n oomblik ‘n glimps gekry van wie Jesus is sodat hulle weer kan terugkeer na die realiteit, maar die keer met meer vertroue in Jesus as voordat hulle teen die berg opgegaan nie, en die keer met ‘n baie duidelike opdrag van God af dat hulle na Jesus moet luister.

Ons wonder nou dalk waarom ons nie almal hierdie openbarings van God af ontvang nie. As geloofsversterkings wanneer ons die dag ‘n bietjie af voel of sukkel om te glo. Maar ons moet onthou dat ons in ‘n ander tyd leef as die dissipels. Hulle leef voor Jesus se kruisiging, opstanding en hemelvaart. Hulle weet op hierdie stadium al dat Hy gaan sterf, maar hulle verstaan nog nie dat Hy ook werklik gaan opstaan nie. Dis vir hulle ‘n heeltemal vreemde gedagte! Hulle het nodig om op ‘n “bonatuurlike” manier deur God verseker te word

Maar ons leef nou, en ons het veel meer as wat die dissipels gehad het. Ons het nie net die wet en die profete, wat in elk geval so dikwels gemisinterpreteer was nie. Ons het ook die evangelies en die briewe van die NT. Ons hét, in die Bybel, die bonatuurlike openbarings van God en sy woorde vanuit die hemel. Dis ons Bybel. Dis daarom ook ons verhale. Ons het verder die ooggetuienisse van mense wat vir Jesus gesien het na sy opstanding. Ons hoef nie meer daaroor te vrees of te wonder soos die dissipels nie. (Onthou: ook net drie dissipels het gesien en moes later gaan vertel daarvan – nie almal nie.) Ons wéét Hy het opgestaan. Ons wéét Hy lewe weer. Ons moet ophou soek na God in die bonatuurlike, en eerder fokus daarop om te voel hoedat Jesus ons aanraak. Sy hand op ons skouer, sy “staan op en moenie bang wees nie. Stap saam met My die pad van die lewe.” En hoe verder ons met Hom saamstap, hoe meer sal ons ontdek dat God juis nie net in die bonatuurlike verskynings is nie, maar integraal deel van die lewe van elke dag.

Verheerliking
En toe ons wakker word sien ons ‘n man gemaak van son
en twee wat skynend is by Hom: ou vaders van ons ras:
ons drie het toe verstom gaan deurmekaar praat, iets
van hutte bou – ag, enigiets om hierdie dag te onthou,
ons drie bewus van ons vuil voor sy verblindende wit –
Selfs H‎y het Hom grys gehou met ‘n wolk vermom
en vir Moses en Elia koesterend gevou in Hom, en met ‘n stem
gespreek ín in ons bot begrip – en vir niemand
het óns weer terug in die dorp kon sê dat ons vir een korte uur
gesien het hoe hierdie Jesus lyk vir God …
Nou loop hy weer argloos langs ons, bruin soos ons aarde bruin
en skraal van ons karig eet en sweet ons sweet
in die kleed wat Nikodemus hom gegee het, maar nou
wanneer hy praat weet ons sonder nate is sy woord
en dat hy self ‘n wit vuur naatloos een is met sy heelal.

– Sheila Cussons

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.